Die HERE is tussen my en jou vir altyd

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-11-30
Teks: 
1 Samuel 20:42
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Samuel 20:42

 

Ons het die afgelope weke gekyk na gesinne in die Bybel.

Dit in verband met ons jaartema: Die gesin as bousteen van die gemeente.

Vandag kyk ons nie na ‘n gesin nie.

Daar is naamlik nog ‘n ander band wat in die gemeente belangrik is, en dit is vriendskap.

Al was Jonatan en Dawid tegnies familie – twee hoofstukke eerder word daar vertel dat Dawid met sy sussie Migal getrou het – tog gaan dit in vandag se hoofstuk en teks oor ‘n vriendskap.

Die vriendskap tussen Dawid en Jonatan.

 

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: Agter elke suksesvolle man is 'n vrou.

‘n Vrou wat hom op die hande dra.

Dit is dubbel en dwars die waarheid.

Maar geld dit nie ook vir vriendskap nie?

Wat sal van ons word sonder vriende, mense wat ons op die hande dra?

Mense wat ons deur moeilike tye heendra?

Mense wat die moed het om ons aan te spreek, as ons oë vir gevare oopgemaak moet word.

In hierdie hoofstuk lees ons oor ‘n indrukwekkende vrienskap.

Hoekom staan dit eintlik in die Bybel?

Wat wil die HERE vir ons daarmee leer?

 

Tema: Die HERE is tussen my en jou vir altyd

1 Jonatan se belofte aan Dawid

2 Dawid se belofte aan Jonatan

 

1 Jonatan se belofte aan Dawid

Inderdaad, die vriendskap tussen Jonatan en Dawid was ‘n hegte vriendskap.

Nadat Dawid die reus Goliat verslaan het, het Dawid beroemd geraak onder die volk.

Dit het daartoe gelei dat koning Saul hom begin haat het, veral toe die vroue begin sing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende!” (1 Sam 18:7)

Dit was moeilik vir die selfvoldane koning Saul om te sluk.

Hy het begin besef dat hierdie jongman 'n bedreiging vir sy troon is.

Want hy het goed geweet dat die koningskap van hom weggeneem sou word.

Samuel het dit reeds aan hom bekend gemaak:

“Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme ... Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” (1 Sam 15:22-23)
Saul het baie agterdogtig geraak.

Die Gees van God het van hom gewyk.

En hierdie twee eienskappe, sy hoogmoed en nou sy agterdog, het ‘n wrok in sy hart teen sy skoonseun laat groei.

 

Maar by Jonatan was dit presies die teenoorgestelde.

Jonatan was ook aanwesig tydens die veldslag teen Goliat en die Filistyne.

As die leier van sy pa se leër het hy sy pa se taktieke goed geken.

Hy het geweet dat sy pa dikwels God se bevele geïgnoreer het.

Hy het gesien hoe sy pa magteloos staan teenoor die reus wat die heilige God dag na dag gelaster het.

Jonatan het ook Dawid se optrede gesien.

Hy het gesien hoe Dawid op die Here vertrou.

Hy het gesien hoe Dawid vir Goliat, daardie Godslasteraar, neervel.

Dit was genoeg vir Jonatan om te weet: Hierdie jongman is God se gesalfde!

Waar Saul sy hart teen die jong gesalfde verhard, kies Jonatan juis vir hom.

Van daardie dag af het hy Dawid se kant gekies.

Hy het Dawid liefgekry en 'n verbond met hom gesluit.

Hierdie opmerking moet nie net emosioneel opgeneem word nie.

Natuurlik was daar ‘n emosionele band.

Maar dit het baie dieper gegaan, in die sin dat hierdie vriendskap ‘n geloofskeuse was.

Jonatan, aanvoerder van die leër, het in Dawid die man raakgesien wat hy in die geveg nodig gehad het.

'n Leier wat net op God vertrou.

Daarom het Jonatan sy klere, sy mantel, sy wapenrusting en selfs sy swaard, boog en gordel uitgetrek.

Hy het dit aan Dawid gegee.

Jonatan se klere het sy rang, sy posisie in die leër verteenwoordig.

Hy was die bevelvoerder.

Maar deur sy klere en uitrusting aan Dawid te oorhandig, het hy sy rang, sy posisie aan hom oorgedra.

Hy was bereid om terug te staan vir Dawid.

 

Jonatan het goed geweet wat met sy pa besig was om te gebeur.

Dat hy altyd God se besluit effens anders uitgevoer het as die bedoeling was.

Dat Samuel aangekondig het dat sy pa se koningskap weggeneem sou word.

Al hierdie dinge het deur sy gedagtes gegaan terwyl hy sien hoe Dawid die volk uit Goliat en die Filistyne se hand red.

 

Nou, in hoofstuk 20 sien ons ‘n voortsetting van hierdie unieke vriendskap, hierdie verbond tussen Jonatan en Dawid.

Dawid vlug na Jonatan, omdat koning Saul hom reeds agtervolg.

Dawid is desperaat.

Wat het ek gedoen? vra hy wanhopig.

Dawid is nie net bang vir koning Saul nie, hy vrees ook dat iets tussen hul vriendskap gekom het.

Want Jonatan het altyd alle nuus met Dawid gedeel, maar hoekom nie nou nie?

Jonatan het onlangs nog geprobeer om versoening tussen Dawid en sy pa te bewerkstellig.

En hy het geslaag, want Saul het gesweer: Ek sal Dawid nie doodmaak nie.

 

Maar nou probeer Saul hom skielik wel weer doodmaak!

Dawid het begin twyfel aan hul vriendskap.

Daar was iets wat Jonatan vir hom weggesteek het.

Hoe anders kon dit gebeur?

Dawid is verskrik.

Hy sê vir Jonatan: Toon lojaliteit aan u dienaar, want u het ‘n verbond met u dienaar voor die HERE gesluit!

 

Op hierdie oomblik twyfel Dawid dus ook aan die kroonprins se integriteit.

Hy sê vir Jonatan:

As daar enigiets tussen my en u is, as ek iets verkeerd gedoen het, sê dit asseblief!

As u tog besluit het om u vader se kant te kies, sê dit!

Sê dit vir my as u iets teen my het!

In daardie geval kan u my liewerste nou dadelik doodmaak.

Dit sal baie beter wees as dat ek die hele tyd vir jou pa moet vlug.

 

Dan sien ons hoe Jonatan Dawid gerusstel.

Maar Dawid is nie tevrede hiermee nie.

Hy verstaan die situasie beter ​​as Jonatan.

Jonatan is te naïef teenoor sy pa, hy het gehoop dat alles dalk nog goed sou kom.

Ja, hy het geweet dat Dawid die nuwe troonopvolger is, en hy is self bereid om daarvoor opsy te tree, maar hy het gehoop dat sy pa uiteindelik ook vir Dawid sal aanvaar.

Jonatan wou nie met sy pa baklei nie.

 

Maar Dawid het dinge skerper gesien.

Dat Saul ten alle koste van alles en almal aan die troon vasklou.

Dawid besef dat Saul toenemend teen God se besluit in opstand kom.

En Dawid het ook besef dat nie net hy nie, maar selfs Jonatan nou gevaar loop, sou Jonatan nog langer vriende met hom bly.

Want Jonatan was reg in die middel.

Hy wou vriendskap met Dawid hê, maar hy wou ook nie 'n bakleiery met sy pa hê nie.

Maar dit kon nie vir altyd so aangaan nie.

Daarom vra Dawid vir Jonatan ‘n guns.

‘n Baie moeilike guns.

Hy moes presies gaan uitvind wat Saul se opinie regtig teenoor Dawid is.

En Dawid het presies vooraf beplan hoe dit moes gebeur.

Ons lees oor daardie plan in hierdie hoofstuk.

Hoe Dawid tydens die nuwemaansfees sou wegbly.

Jonatan willig in om te wys dat daar werklik niks tussen hul vriendskap is nie.

Hy sou vir Dawid by Saul in die brès tree.

En so het dit gebeur, ons het dit gelees.

Toe Saul op die tweede dag van die fees oor Dawid navraag doen, het Jonatan gepraat.

Hy het aan sy pa verduidelik waarheen Dawid is.

En die volgende opmerking laat veral sy gesindheid sien:

“Dawid het my dringend verlof gevra na Betlehem toe.” (1 Sam 20:28)

Hy implisser dus: Ek het vir Dawid toestemming gegee.

Ek het gedink hy het 'n goeie rede gehad.

Hy tree dus vir Dawid in die brès.

 

En dit was te veel vir Saul.

In sy woede het hy, benewens baie vuil taal wat mens normaalweg net in ‘n kroeg sal hoor, die werklike rede vir sy haat uitgespoeg.

Hy het hierdie seun van Isaï gewantrou!

En met ‘n groot kabaal maak hy vir sy seun duidelik dat sy koningskap ook op die spel staan as hy aanhou om met hierdie Dawid vriende te wees.

Saul se haat teenoor Dawid het nou oopgebars.

En hy kon dit nie verkrop dat sy seun, die troonopvolger, vriend met hierdie Dawid wil wees nie.

En toe Jonatan dit waag om nog ‘n woord in te kry, toe gryp Saul sy spies en slinger dit na sy seun!

 

Gemeente, Jonatan se geaardheid is ook duidelik in die manier hoe hy toe die berig aan Dawid oordra.

Hulle het vooraf ooreengekom dat dit so anoniem as moontlik sou wees.

Hulle sou geen persoonlike kontak hê nie.

Want dit sou uiters gevaarlik wees, nie net vir Dawid nie, maar ook vir Jonatan.

So daardie ooreenkoms was in plek.

Hy sou die pyl skiet volgens afspraak.

Maar wat lees ons nou?

Nadat Jonatan die boodskap op die afgesproke manier oorgebring het, het hy sy wapendraer huis toe gestuur.

En hy waag dit tog om persoonlik tot siens vir Dawid te gaan sê.

 

Hoekom doen hy dit?

Hoekom is die afgesproke teken nie genoeg nie?

Die rede is dat Jonatan sy gesindheid vir Dawid wil wys.

En dit kon hy nie met die pyle doen nie.

Hy wou vir Dawid duidelik maak dat hy nie bitter is nie.

Dat hy self ook vir die gesalfde van die Here gekies het.

Dat hy selfs bereid is om sy vader en moeder hiervoor te verlaat.

 

Gemeente, is dit nie die kern van ‘n ware vriendskap nie?

Dat die waarheid altyd seëvier.

Jonatan erken dat nie hy nie, maar Dawid, die gesalfde is, die volgende koning.

En hy het vrede daarmee, hy ondersteun dit van harte!

En hy sê vir Dawid: Gaan in vrede, want ons het albei vir mekaar gesweer: Die HERE sal tussen my en jou wees.

 

Jonatan se vriendskap met Dawid is inderdaad nie gewoon nie.

Sy hele vriendskap is bedoel om Dawid se salwing te eer.

Trouens, hierdie hele geskiedenis draai om die troonopvolging.

Jonatan wil nie God se ware gesalfde in die weg staan nie.

Hy eerbiedig God se keuse.

Dit is eerbaar!

Jonatan, wat deur almal as die kroonprins beskou is, stel homself tot Dawid se diens.

Want Dawid is die ware kroonprins!

Danksy hierdie houding weet Dawid nou presies wat in sy vriend se hart is.

Daar’s geen rede meer om Jonatan te wantrou nie.

 

Ware vriendskap ...

Dit is nie net lojaliteit teenoor mekaar nie.

Maar ook teenoor die HERE, want Hy is die oorsprong, die Gewer, van elke vriendskap.

Hy gee dit nie net vir eie genot nie, maar om sy plan te dien.

Is die HERE en sy diens in jou vriendskappe ook ‘n faktor?

 

Maar nou die volgende vraag:

Weet Jonatan dit ook van Dawid?

Want Dawid weet nou wat Jonatan se belofte aan hom is.

Maar beloof Dawid ook lojaliteit aan Jonatan?

Dis waarna ons in die tweede punt gaan kyk.

Want ‘n vriendskap is nie net eenrigtingverkeer nie.

In ‘n positiewe sin is daar gee en neem.

Die bereidheid om op te offer.

Maar ook die gewilligheid om hulp te vra as dit nodig is.

‘n Vriendskap wat net gee-gee-gee is, is nie ‘n ware vriendskap.

En so ook nie ‘n vriendskap wat net neem-neem-neem is nie.

 

Dawid weet nou dat Jonatan lojaal aan hom is.

Maar Jonatan wil ook sekerheid hê dat Dawid in die toekoms aan hom en sy nageslag lojaal sal bly.

 

(Tema: Die HERE is tussen my en jou vir altyd

1 Jonatan se belofte aan Dawid)

 

 

2 Dawid se belofte aan Jonatan

 

Dis vir hierdie rede wat Jonatan weer met Dawid ‘n verbond sluit.

Op hierdie oomblik is Jonatan magtig.

Hy is die erfgenaam van die troon, en Dawid is sy dienaar.

Dawid is selfs op hierdie oomblik 'n voortvlugtige.

As Jonatan wil, kan hy net daar en dan vir Dawid verraai.

Hy kan hom nou dadelik doodmaak.

Dawid is heeltemal in Jonatan se hande.

Jonatan neem steeds die leiding in hierdie hoofstuk.

Dis hy wat die verbond tussen hulle weer wil vasmaak, selfs met die sweer van ‘n eed.

Jonatan tree met gesag op, nie Dawid nie.

Dawid kan hoogstens ‘n guns van hom vra.

Dit is nou die situasie.

 

Maar Jonatan besef goed dat die rolle binnekort gaan omkeer, al is dit tans nog nie sigbaar nie.

Nie hy nie, maar Dawid word die koning.

Met hierdie besef kyk hy na die toekoms.

En hy is veral bekommerd oor die volgende:

Waar Dawid nou in lewensgevaar verkeer, voorsien Jonatan dat hy self in die toekoms in lewensgevaar sal wees.

Hy en al sy kinders.

Sy hele nageslag.

Want so het troonopvolging in die antieke Nabye Ooste altyd gegaan.

As die troon oorgeneem word, rol daar baie koppe.

Alle kans op 'n staatsgreep moes uitgewis word.

En daarom is dikwels die hele voormalige koningshuis uitgewis.

Maar met hierdie eed bind Jonatan vir Dawid nou aan die HERE.

As hy God se gesalfde is, dan sal hy volgens God se wil moet regeer.

Nie soos die heidene, en ook nie soos sy pa koning Saul nie.

 

In Saul se paleis was God se wil nie heilig nie.

Saul, net soos soveel regeerders vandag, het dronk geword van die mag.

Jonatan het reeds die verskriklike gevolge hiervan ervaar, en hy wil nie dat Dawid ook so sal word nie.

Dawid, as jy koning word, wee jou as jy Hom vergeet wat jou die troon gegee het.

Jonatan bind Dawid aan die HERE.

En deur dit te doen, verseker hy ook sy eie lewe vir die toekoms, en dié van sy kinders.

As Dawid koning word, moet sy troon vrede en geregtigheid uitstraal.

Vir Jonatan en sy kinders beteken dit dat hulle lewens gespaar sal word.

Want as Dawid bely dat alle heerskappy van God alleen kom, dan hoef hy nie vir Jonatan se nageslag te vrees nie.

So sluit die twee vriende ‘n verbond – Dawid sal niks aan Jonatan se nageslag doen nie.

Ons weet dat Dawid hierdie belofte gehou het.

Jonatan se seun Mefiboset is toegelaat om vir die res van sy lewe in Dawid se paleis te woon.

 

Vriende kan op mekaar staatmaak.

Vriendskap is blywend as dit op die regte fondament gebou word.

So is Jonatan en Dawid se vriendskap gefundeer in die HERE se Naam.

Waar beide die HERE vrees, daar sal ‘n vriendskap standhou.

Daar sal ‘n vriendskap ook vrugdra.

As dit op die waarheid gebou is, sal vriende mekaar nie in die afgrond inhelp nie, maar opbou.

Selfs mekaar se kinders en kleinkinders sal hulle bystaan.

Saam het Jonatan en Dawid mekaar aan die HERE verbind.

Die HERE het tussen hulle gestaan.

Die HERE was die vaste fondament onder hulle vriendskap.

Die HERE is vir ewig tussen my en jou!

 

Wat 'n pragtige uitspraak, gemeente!

By Dawid en Jonatan het ons werklik te make met 'n uitsonderlike vriendskap!

Twee mense wat mekaar waarskynlik vir die laaste keer gesien het.

Maar hulle vriendskap het sy doel gedien.

Jonatan het 'n verbond met Dawid gesluit omdat hy in hom God se gesalfde gesien het.

Jonatan het dit besef en hom aan God se besluit onderwerp.

Vrees vir die mens, vir sy eie vader en koning, was vir hom nie belangriker as die vrees vir God nie.

Met geloofsoë het hy, die aanvanklike troonopvolger, gesien dat dit nie hy sou wees nie, maar Dawid.

Die hele vriendskap wat hy met Dawid gehad het, het hierdie doel gedien.

Geen eiebelang nie.

Geen oneerlike motiewe nie.

En Jonatan was nie bitter hieroor nie.

 

Agter elke suksesvolle man is 'n vrou, wat hom op haar hande dra.

Agter Dawid was Jonatan.

Deur die verbond wat hy met Dawid gesluit het, het hy die weg gebaan vir die gesalfde koning, en het hy sy lewe gered.

 

Gemeente, as ons enigiets uit hierdie hoofstuk kan leer, is dit veral uit Jonatan se houding.

'n Gees van opoffering.

Hy het sy vriend op sy hande gedra.

Selfs al beteken dit om 'n tree terug te gee in die oë van hierdie wêreld!

Trou bly aan jou vriendskap, ook as dit ‘n prys kos, maar nooit ten koste van die waarheid nie.

 

Mens kan Jonatan met Johannes die Doper in die Nuwe Testament vergelyk.

Hy het ook daardie houding teenoor God se Gesalfde gehad:

Hy het gesê: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome. Hy moet meer word, maar ek minder.” (Joh 3:29-30)

Johannes was ‘n groot Profeet, hoogs gerespekteerd.

Maar dit het nie kop toe gegaan nie.

Hy het diensbaar gebly.

En toe die Gesalfde se tyd kom, het hy teruggestaan – soos Jonatan.

Ook Johannes het God se Gesalfde erken, en sy eie lewe ingerig om Hom meer te laat word.

Wetende, dat juis dit vir homself ook die beste sal uitwerk.

As jy jou aan Christus oorgee, aan die ware Gesalfde van God, sal jy vir jou lewe veilig wees!

En ook jou kinders en kleinkinders sal veilig wees!

In die verbond mag jy dit selfs van Hom eis!

In Dawid het Jonatan 'n ware bondgenoot van God ontvang.

'n Vriend wat hy, in die oë van die wêreld, aanvanklik nie nodig gehad het nie.

Maar later het dit geblyk dat Jonatan die regte keuse gemaak het.

Hy en sy nageslag het Dawid juis baie nodig gehad!

In Jesus het ons ook 'n ware bondgenoot van God ontvang.

'n Vriend in die diepste sin van die woord.

Vir die wêreld kan dit soms heeltemal onnodig lyk.

Wat kan Jesus vir jou beteken?

Wat baat dit jou om elke Sondag na sy huis te gaan?

Dit kos jou net.

Maar die toekoms sal jou keuse reg bewys.

Jy kies reg vandag, en hierdie Vriend, hierdie troue Bondgenoot, sal by jou staan, tot in ewigheid.

Die toekoms sal dit uitwys.

 

En ‘n ware vriend gee selfs om vir jou kinders en kindskinders, as jy nie meer daar is nie.

Christus se belofte staan vas, vir jou en jou kinders na jou.

Bly Hom daarom trou van dag tot dag.

 

Ek sluit af.

Dawid en Jonatan se vriendskap ...

Johannes die Doper en Christus se vriendskap ...

Christus en ons vriendskap ...

Wat kan ons daaruit leer?

Ons kan leer uit die gesindheid.

Die gesindheid teenoor mekaar.

Die gesindheid teenoor die waarheid.

Die lojaliteit.

Geseënd is ‘n kerk as daar hegte vriendskappe gevorm word.

Dit is ook boustene vir die gemeente.

Eie aan ons tyd is verbruikersvriendskappe.

Jy haal daaruit wat jy kan kry, en dan beeïndig jy dit.

Dan ‘unfriend’ jy iemand, soos dit in die digitale wêreld heet.

Daai woord kom nie in God se verbond voor nie.

Van sy kant bly Hy altyd trou.

Geseënd is die gemeente waar mense ook so met mekaar omgaan.

Ons ‘drop’ nie vir mekaar, as dinge anders gaan as wat ons beplan het nie.

Ons ‘drop’ nie net die gemeente as dit ons beter pas nie.

Toegewydheid, getrouheid deur dik en dun, dis ook ‘n vrug van die Heilige Gees (Gal 5:22).

Mag daardie vrug – trou, toegewydheid, lojaliteit – bloei in ons gemeente, en in al ons vriendskappe.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 84:1,5

Wet

Ps 142:1,5,6

Gebed

Skriflesing: 1 Samuel 20

Ps 57:1

Teks: 1 Samuel 20:42

Preek

Ps 56:2-4

Gebed

Kollekte

Ps 89:17,18

Seën