Vader, Seun en Heilige Gees is betrokke by die nagmaal.
Ons Here Jesus Christus staan natuurlik in die kollig, want die nagmaal gaan oor wat Hy gedoen het.
Die brood en wyn wys direk terug na sy kruisoffer.
Tog is aldrie Persone van God Drie-enig betrokke.
Dink maar aan die nagmaalsformulier wat ons gelees het.
God die Vader neem ons sekerlik in genade aan danksy Christus se middelaarskap.
Hy spreek ons vry omdat sy Seun onskuldig tot die dood veroordeel is, omdat Hy aan die kruis geroep het: Dit is volbring!
God die Vader maak ons waardig om te gaan sit aan die tafel van sy Seun.
En dit is deur sy Gees wat Christus aanwesig is in hierdie kerkgebou, aan die nagmaalstafel.
Sy Heilige Gees bring in ons harte die vreugde en genot van die samesyn met Christus.
Die Heilige Gees sorg dat Christus se rykdom in ons lewens ‘n plek kry.
Geskenke soos vergifnis van sondes, die kerk, die ewige lewe.
Alles rykdomme wat die Gees van Christus deel van ons lewens maak.
Alles frases uit die nagmaalsformulier, wat op sy beurt teruggaan op die Bybel.
So ontmoet ons Vader, Seun en Gees aan die nagmaal.
Na aanleiding van die Nederlandse Geloofsbelydenis fokus ons vanaand op die Bybel ons leer oor God Drie-enig.
Tema: Aanbid die Vader, Seun en Heilige Gees!
- Danksy Hulle bestaan die gemeente
- Danksy Hulle sal die gemeente voortbestaan
- Danksy Hulle bestaan die gemeente
Net soos vandag, was daar mense in die tyd toe die NGB geskryf is, wat die leer van die Drie-eenheid verwerp het.
Dis iets van alle tye dat mense, dikwels beïnvloed deur die manier van denke in hulle eie tyd, skepties raak oor die Drie-eenheid van God.
In die vroeë kerk was daar nog meer wat die Drie-eenheid verdraai het – die NGB gee ‘n lysie van name: Marcion, Mani , Prexeas, Sabellius, Samosatenus, Arius.
Dis nie dat al hierdie persone bondgenote was en saamgestem het nie.
Elkeen het volgens sy eie wysheid met eiesoortige idees gekom.
Maar wat hulle in gemeen het, is dat al hulle uiteenlopende idees die Bybelse openbaring van die Drie-eenheid verdraai het.
Ken jy iemand vandag wat die Drie-eenheid verwerp?
As jy, luister dan goed na hierdie preek, sodat jy weerbaar kan wees.
As jy nie so iemand ken nie, luister ook goed, dat jy toegerus gaan wees die dag as jy so iemand ontmoet.
In Artikel 8 en 9 verwoord die NGB kortliks die leer van die Drie-eenheid soos dit in die Skrif tot ons kom.
Dit moet veral duidelik wees dat die skrywer hier nie sy eie teologie opdring nie, maar dat hy die boodskap naspreek wat uit die Bybel tot ons kom.
‘n Aantal Skrifgedeeltes word genoem, waaronder ook die teks wat ons vanaand gelees het, 2 Korinthiërs 13:13.
Hierdie teks, met die vir ons so bekende trinitariese seën, wat tot vandag nog elke Sondag klink, vorm die afsluiting van Paulus se brief aan die Korinthiërs.
Soos ons weet, was Paulus ‘n laatlammetjie onder die apostels.
Waar die meeste ander apostels al veel vroeër deur Jesus geroep is, is Paulus eers geroep na hemelvaart en Pinkster, toe Christus persoonlik vanuit die hemel aan hom verskyn het.
Sedertdien het Paulus se lewe in diens gestaan van die uitbreiding van die Evangelie.
Op een van sy sendingsreise het hy in Korinthe aangekom.
Daar was mense wat gehoor gegee aan sy prediking van Christus.
Paulus het daar aan die wieg gestaan van die gemeente.
In die jare daarna het die kontak tussen hierdie gemeente en Paulus voortgeduur, al was Paulus nie steeds daar nie.
Daar is oor en weer briewe geskryf.
En uit hierdie briewe kom ons meer te wete oor die verhouding tussen Paulus en hierdie gemeente.
In die Bybel het ons byvoorbeeld die eerste brief aan die Korinthiërs.
Uit daardie brief is duidelik dat daar daarvoor ook al korrespondensie was.
1 Korinthiërs is naamlik ‘n antwoord van Paulus op ‘n brief wat hy van hierdie gemeente ontvang het.
Tussen 1 en 2 Korinthiërs was daar ook nog korrespondensie.
Plus daar was ook opvolgbesoeke wat Paulus aan hierdie gemeente gebring het.
Uit al hierdie interaksie is duidelik dat die verhouding tussen Paulus en hierdie gemeente van tyd tot tyd moeisaam was.
Dit het sy oorsaak veral daarin gehad dat daar bepaalde gemeentelede was wat nie bereid was om hulle ou mens te kruisig, wat hulleself gehandhaaf het, wat sondige gewoontes in hulle lewens toegelaat het, en wat die man pleks van die bal gespeel het.
Paulus moes self deurloop.
Toe Paulus die vinger by die sondes lê, het hulle Paulus se persoon begin aanval.
Eerstens het hulle hom afgekraak, in die sin dat hulle gesê het hy is nie so ‘n begaafde en begeesterde prediker nie, hulle ken beter predikers ...
Hulle ken predikers wat meer oortuigend en emosioneel kan praat ...
Tweedens het hulle een van Paulus se aksies ook begin verdag maak.
Paulus het naamlik ‘n geldinsameling gehou.
Hy het al die deur hom gestigte gemeentes opgeroep om ‘n kollekte vir Jerusalem te hou.
As gevolg van die teenstand en vervolgings deur die Jode het die gemeente in Jerusalem al hoe meer hulpbehoewend geword.
Paulus het ook reëlings getref dat hy persoonlik die kollektes na Jerusalem sou bring.
Sommige Korinthiërs het Paulus egter begin verdag maak.
Hulle het gesê: Aan die een kant beweer daardie Paulus dat hy geen geld soek nie, dat hy ‘n ‘tentmaker’ is, maar aan die ander kant vra hy baie geld vir hierdie insamelingsaksie, net om dit in sy eie sak te steek.
Hierdie onwaarhede het Paulus baie gekwets, en mens kom dit agter as jy deur hierdie tweede Korinthebrief lees.
Gemeente, dis baie maklik om die goeie naam van ‘n ampsdraer verdag te maak.
En vir ‘n ampsdraer help dit nie om op alle skinderpraatjies in te gaan nie.
Maar in hierdie geval het Paulus gevoel dat sy naam gesuiwer moes word, juis in die groter belang van die voortgang van die Evangelie.
Dit doen hy dan ook in hierdie brief.
Nou is dit nie bedoeling van hierdie preek om op al die details van die beskadigde verhouding tussen Paulus en die Korinthiërs in te gaan nie.
Ek wil vanaand veral aandag skenk aan hoe Paulus sy brief afsluit.
Hoofstuk 13 bestaan uit ‘n aantal indringende oproepe aan die Korinthiërs:
- Ondersoek julleself of julle in die geloof is.
- Stel julleself op die proef.
- Is julle seker dat Jesus Christus in julle is?
- Wees bly!
- Werk aan julle volmaking!
- Laat julle vermaan!
- Wees eensgesind!
- Hou vrede!
Hierdie oproepe het alles te make met die konkrete toestand wat daar in die gemeente geheers het: verdeeldheid, wanorde, opgeblasenheid, verdagmakery.
Maar dan aan die einde van die brief sluit Paulus af met ‘n seën, net soos hy die brief begin het.
En alle harde woorde wat daar tussenin staan, is ingebed in hierdie seënbedes.
Juis omdat Christus daardie gemeente vir Homself gekoop het, juis daarom doen Paulus so baie moeite, spandeer hy so baie tyd aan hierdie gemeente, al sou hy dalk hulle, wat hom so gekwets het, liewers geïgnoreer het.
Maar nee, hy hou aan, tydig en ontydig, want, soos hy skryf in 2 Korinthiërs 5:14: “Want die liefde van Christus dring ons”.
In die seënbede hier aan die einde van die brief, vat Paulus in een sin saam wat die fondament is vir hierdie gemeente se bestaan.
Dit is die genade van die Here Jesus Christus.
Die woord genade verwys hier na die totale Middelaarswerk wat Christus hier op aarde kom doen het, en wat Hy nou nog steeds in die hemel doen.
Dit is dus die eerste deel van hierdie trinitariese seën waarmee Paulus sy bief afsluit:
Die genade van die Here Jesus Christus ...
En, gaan hy verder, daardie genade het voortgekom uit die liefde van God.
Omdat God die wêreld so lief gehad het, het Hy sy eie eniggebore Seun gestuur, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie (Joh 3:16).
Dit was die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God wat daarvoor gesorg het dat die gemeente in Korinthe ontstaan het.
Maar dan is daar ook nog die gemeenskap van die Heilige Gees, die derde Persoon in God drie-enig.
Paulus bedoel dit hier tweërlei.
Eerstens is daar die verbondenheid met die Gees.
Dit is deur die Gees se krag wat daar eenheid ontstaan, waardeur die geloof tot lewe kom, waardeur vrede neerdaal.
Tweedens is hierdie gawe ook ‘n opdrag.
Laat die gemeenskap van die Heilige Gees ook hande en voete kry in die gemeente in onderlinge vrede en liefde.
So sluit die brief dus af.
Dit is God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat die gemeentelewe laat ontstaan het, en wat dit moontlik maak dat hulle bly bestaan.
Gemeente, dit het natuurlik ‘n direkte boodskap vir vandag.
Wie die Drie-eenheid loën, hou nie ‘n kerk oor nie.
Sonder al drie Persone van die drie-enige God, kan ‘n kerk nie bestaan nie.
In hoofstuk 1 kom hierdie trinitariese fondament ook pragtig uit, as Paulus skryf: God het ons in Christus gesalf, bevestig, verseël, en Hy het die Gees as onderpand in ons harte gegee (2 Kor 1:21-22).
Hoor u, ook hier ontmoet ons al drie Persone – God die Vader, Christus en die Gees.
En dit wat Hy gegee het, dit vra Hy vervolgens nou ook.
Die onderlinge eenheid word moontlik gemaak omdat die eenheid met die Heilige Gees aan hulle geskenk word, omdat hulle die Gees ontvang het.
En so vorm die laaste vers, om daarby terug te kom, hierdie trinitariese seën, ‘n baie passende afsluiting van 2 Korinthiërs.
Die voortbestaan van hierdie gemeente is slegs moontlik deur die seënende nabyheid van Vader, Seun en Heilige Gees.
Broers en susters, as gemeente van Maranata is ons maar basies dieselfde as die destydse gemeente in Korinthe.
Die gebreke, die struwelinge, die onenighede, die sondes wat daar in Korinthe was, kom dit nie maar ook by ons voor nie?
Maar met dankbaarheid mag ons ook ervaar: God Drie-enig laat ook vir ons nie los nie.
Laat ons daarom by Hom skuil, en dat Vader, Seun en Gees se werk kragtig sal voortgaan, in jou eie lewe, en in ons gemeentelewe.
(Tema: Aanbid die Vader, Seun en Heilige Gees!
- Danksy Hulle bestaan die gemeente)
- Danksy Hulle sal die gemeente voortbestaan
Soos ek genoem het, die Bybelse leer van God Drie-enig word ongelukkig ook aangeval.
Paulus het hierdie brief in die vyftigerjare van die eerste eeu geskryf.
Ek noem dit, omdat daar mense was en is wat beweer dat die leer van die Drie-eenheid eers later ontstaan het.
Dat eers in latere eeue, toe mense soos Athanasius en Augustinus geleef het, die leer van die Drie-eenheid uitgedink is.
Dat sinodes, soos die van Nicea en Konstantinopel, die leer van die Drieënheid bepaal het.
Sommiges beweer selfs – vroeër en vandag nog steeds – dat kerkleiers die Bybel verander het, die Drie-eenheid daarin gesit het, terwyl dit oorspronklik nie daarin was nie.
Dit is egter ‘n drogredenasie.
Teoloë soos Athanasius en Augustinus het slegs dit wat in die Bybel staan, verdedig teen dwalings wat die kop opgesteek het.
In die Bybel, vanaf die vroegste geskrifte van die Nuwe Testament, vind ons elke detail terug wat later onder woorde gebring is met die leer van die Drie-eenheid.
NGB Artikel 9 verwys onder andere na Mattheüs, wat Christus se eie woorde aanhaal vlak voor sy hemelvaart: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” (Matt 28:19)
Aldrie word op een lyn gestel, aldrie kry ‘n Naam as synde ‘n afsonderlike Persoon.
Dit is die getuienis wat tot ons kom uit die Nuwe Testament.
So ook in hierdie brief van Paulus, 2 Korinthiërs.
Die seën waarmee hierdie brief afsluit maak enkele dinge baie duidelik.
Eerstens is dit ‘n Goddelike werk, ‘n Goddelike aksie om te seën.
Om in die naam van ‘n mens geseën te word, is niksseggend.
Vader, Seun en Heilige Gees word in 2 Korinthiërs 13:13 op een lyn gestel, hulle is aldrie Persone wat seën, aldrie as synde God.
Tweedens, om te seën is ‘n eer wat slegs toekom aan iemand wat God is.
En derdens is dit so dat iemand wat ‘n seën oplê, die toekoms moet ken, die toekoms moet kan beïnvloed.
Anders het daardie seën niks om die lyf nie.
Wie kan nou seën, wat nie die toekoms ken nie?
Dis niks werd nie.
Ja dis uit en uit ‘n Goddelike eienskap om die toekoms te ken, om alwetend te wees.
Meer nog, om die toekoms te vorm volgens sy plan.
Dit is slegs ‘n Goddelike Persoon wat hiertoe in staat is, wat ‘n seën kan gee.
Ook wat dit betref word Vader, Seun en Heilige Gees in 2 Korinthiërs 13:13 op een lyn gestel.
Kortom dus, hulle verrig aldrie Goddelike werke – hulle aldrie ken die toekoms.
Aldrie ontvang Goddelike Name.
Aldrie het Goddelike eienskappe.
Aldrie ontvang Goddelike eer;
Nie dat hulle identies is nie.
Nie dat hulle presies dieselfde doen nie.
Aan die Here Jesus Christus se naam word die eienskap van genade verbind.
Dis wat Hy aan die gemeente bied.
Aan die Vader se naam word die eienskap van liefde verbind.
Dis wat Hy aan die gemeente bied.
Aan die Heilige Gees se naam word die eienskap van gemeenskap oftewel eenheid verbind.
Dis wat Hy in die gemeente werk.
Dis hoekom die gemeente kan bly voortbestaan.
Dus ‘n onafskeidelike eenheid, maar terselfdertyd is elke Persoon uniek en doen unieke dinge.
Die Vader het nie mens geword nie, die Vader is nie gekruisig nie.
Die Seun wel.
Tog is die Seun net so ewig as die Vader.
Die Heilige Gees het nie opgevaar na die hemel nie, die Seun wel.
Die Heilige Gees is deur die Seun uitgestort uit die hemel.
Die Heilige Gees sal nie terugkom op die wolke nie, Hy is reeds by ons.
Die Seun sal wel terugkeer op die wolke, as Regter van hemel en aarde.
Ek noem hierdie dinge, deur eenvoudig, net soos die NGB, die Skrif na te spreek.
Die NGB roep ons op om te let op die besondere ampte en werkinge van die drie Persone, soos dit in die Skrif tot ons kom.
Dit het ‘n besondere betekenis vir jou en my, hoe elke Persoon van die Drie-eenheid is, en wat Hy vir ons doen.
Broer en suster, dink jy daaroor na, staan jy daarby stil, byvoorbeeld as jy bid?
Dat jy spesifiek dank vir Vader, Seun en Gees se werk in jou lewe?
Geliefde gemeente, ons staan hier in ‘n lang tradisie, die tradisie van die ortodoksie, van die regte leer oor die Drie-eenheid, vanaf die apostels, deur die eeue van die kerkvaders, die tye waarin die geloofsbelydenisse van Nicea en Athanasius tot stand gekom het, deur die tyd van die Reformasie, deur die tyd van die Modernisme heen, toe daar stromings in die kerk gekom het soos die Vrymesselaars wat die Drie-eenheid begin verwerp het, tot en met vandag met al sy winde van dwalinge.
As ons as gemeente wil voortbestaan, sal ons moet bly by die Bybelse leer van die Drie-eenheid.
Al verstaan ons dit wat die Skrif oor Vader, Seun en Gees openbaar, nie met ons verstand nie, aanvaar ons dit gelowig, ja dankbaar, want dit het ‘n direkte konneksie met ons saligheid.
Ja dit leer die Skrif veral: Jou en my ewige saligheid sou nie tot stand gekom het, as nie al drie Persone, Vader, Seun en Heilige Gees, intensief daarby betrokke was, en is, en sal wees nie.
Drie-eenheid
Daarom is dit gepas om Hulle elke dag van ons lewens die verskuldigde Goddelike eer te bewys.
Wat ‘n voorreg as jy jou Skepper, Verlosser en Heiligmaker persoonlik mag ken, en in hierdie lewe ‘n band met elkeen van Hulle mag opbou.
Hulle is die alfa en omega in jou lewe.
Hulle staan aan die begin van jou lewe, hulle staan aan die begin van jou redding.
En Hulle dra jou deur die lewe.
En aan die einde van jou lewe sal jy Hulle van aangesig tot aangesig ontmoet.
Skuil by God Drie-enig.
Vind jou troos by God Drie-enig.
Prys jou God Drie-enig.
Aanbid die Vader, Seun en Heilige Gees!
Nou en vir altyd.
Kom ons sing nou Sb 50 as ons amenlied.
Hierdie is een van die oudste gesange, dit kom al uit die vroeë kerk.
Hulle het ons voorgegaan in die aanbidding van Vader, Seun en Heilige Gees:
“O Vader laat u liefd’ ons blyk;
o Seun maak ons u beeld gelyk;
o Gees send u vertroosting neer;
Drie-eenge God! U sy al d’ eer!”
(Sb 50:7)
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 118:12
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed
Sb 24:1
1e Tafel: Skriflesing: 2 Korinthiërs 1 & 13; Sing: Sb 24:6,7
Lofverheffing & Gebed
Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 8-9
Preek
Sb 50:7
Gebed
Geloofsbelydenis van Athanasius
Sb 27:1,4
Kollekte
Ps 118:13,14
Seën
Amen