Ons skenk vanaand aandag aan ‘n onderwerp wat dalk nie so relevant lyk nie, naamlik die apokriewe boeke.
In artikel 6 van die NGB staan ‘n lys van apokriewe boeke.
Vir my as dominee die skynbaar ondankbare taak om dit te verduidelik.
Want wie is lus om na ‘n preek hieroor te luister?
Kan ons hierdie artikels van die NGB nie maar oorslaan, omdat dit nie Christosentries is nie?
Die naam van Christus word nie een keer in hierdie twee artikels genoem nie.
Hoe kan dit dan met die kern van die geloof te make hê?
Wie is nou lus om vanaand hierna te luister?
Dalk het u ‘n middagslapie gehad, en vanmiddag gebraai.
Wie is nou lus vir ‘n leerpreek hieroor?
Vir die meeste van ons is die apokriewe boeke heeltemal onbekend.
Ek dink die meeste van ons hier in die kerk het nog nooit daarin geles nie.
Maar gemeente, tog is die onderwerp nie so irrelevant, as ons veral let op die beginsels wat in die NGB verwoord word nie.
Dit is juis hierdie beginsels wat ons baie kan help, nie net as dit oor die apokriewe boeke gaan nie, maar ook in die beoordeling van dit wat ons vandag lees, of dit nou boeke is of tydskrifte of op ons selfone.
Bybelse beginsels word in hierdie artikels saamgevat, wat ons sal help met onderskeidingsvermoë, by alles wat op ons afkom.
Bybelse beginsels wat ons juis by Christus en sy Woord sal bewaar.
Tema: Die Heilige Skrif is volmaak
- Omdat dit volmaak is, kan ons in die lig daarvan ander geskrifte beoordeel
- Omdat dit volmaak is, raak dit nie ouderwets nie
- Omdat dit volmaak is, kan ons in die lig daarvan ander geskrifte beoordeel
In artikel 6 skenk die Nederlandse Geloofsbelydenis aandag aan die apokriewe boeke.
Hierdie boeke is vir ons grootliks onbekend.
Dit was egter nie die geval in die 16de eeu, toe die NGB geskryf is nie.
Vir eeue lank is hierdie apokriewe boeke naamlik as deel van die Bybel beskou deur die Roomse Kerk.
Die Roomse Kerk het self ook reeds besef dat hulle van laer kwaliteit as die ander Bybelboeke is.
Tog het hulle dit ‘n plek in die Bybel gegee.
In die tyd van die Reformasie was dit daarom ‘n lewendige diskussie of hierdie boeke ‘n plek in die Bybel verdien.
Die reformatore het teruggegaan na voor die Middeleeue, en weer aangesluit by die kanon van die vroeë kerk.
Dit is die lys van kanonieke boeke soos wat hulle in artikel 4 gelys is.
Die apokriewe boeke het hulle uit die Bybel verwyder.
Soos ons in verlede week se preek gehoor het, is dit nie die kerk of ‘n sinode wat bepaal watter boeke in die Bybel hoort nie.
Elke boek se inhoud getuig self.
As mens elke Bybelboek lees, dring die besef in ons op dat dit nie net menseboeke kan wees nie.
As mens ‘n apokriewe boek lees, is daardie besef egter nie daar nie.
Nou is daar tussen die verskillende apokriewe boeke ook die nodige verskille.
Nie elke apokriewe boeke is dieselfde nie.
Daar is geskiedenisboeke, daar is kortverhale, daar is wysheidsliteratuur.
By sommiges van hulle sal mens, as jy dit lees, soms die gevoel kry jy is besig om in die Huisgenoot te lees.
By ander, soos byvoorbeeld die boeke van die Makkabeërs, kry mens te make met deeglike geskiedskrywing.
Daar staan leersame dinge in, dit is goeie geskiedenisboeke, maar dit op sig maak hulle nog nie Bybelboeke nie.
Soos ek genoem het, het die apokriewe boeke ‘n veel groter rol in die samelewing gespeel in die tyd van die Reformasie.
Hoewel die Reformasie hulle uit die Bybel verwyder het, was die populêre aandrang egter so groot, dat toe die Statevertaling gedruk is, die uitgewers tog maar weer die apokriewe boeke opgeneem het.
Wel heeltemal aan die einde na Openbaring, en ook met ‘n waarskuwende artikel ter inleiding.
Dit is in ‘n soortgelyke klimaat wat Guido de Brès artikel 6 geskryf het.
Op baie mense se lippe was dit ‘n brandende vraag:
Is die apokriewe boeke wel deel van die Bybel?
En so nie: Mag ons die apokriewe boeke lees?
In artikel 6 gee die Guido de Brès hierop antwoord.
Vir ons gevoel is sy antwoord dalk bietjie te sag, as hy opmerk: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek”.
Moes hy nie sterker standpunt ingeneem het nie?
Gemeente, nie net by hierdie artikel nie, maar by elke artikel van die NGB, het Guido de Brès hom deur veral twee beginsels laat lei: Tota Scriptura, en Sola Scriptura.
Tota Scriptura: heel die Skrif.
As Christen mag jy nie self kies watter bevele uit die Skrif jy in jou lewe nakom, en watter nie.
Nee, die hele Skrif moet ons handhaaf.
En dan is daar ook: Sola Scriptura: Alleen die Skrif.
As Christen, as kerk, mag jy ook nie bevele byvoeg, wat nie in die Skrif staan nie.
Dan bind jy, soos ons dit noem, bo die Skrif uit.
‘n Bekende voorbeeld is hoe die Fariseërs allerlei reëls en regulasies aan die Skrif toegevoeg het.
En ook vandag kan daar voorbeelde genoem word hoe kerkmense ander kerkmense laste oplê wat bo die Skrif bind.
Kriteria wat skynbaar van jou ‘n goeie kerkmens, ‘n goeie Christen maak.
Nou by die beantwoording van die mense se vraag: Mag ons die apokriewe boeke lees, het Guido de Brès hom dus ook laat lei deur hierdie beginsels.
Die twee, naamlik Sola Scriptura en Tota Scriptura.
Dit het hom duidelik laat standpunt inneem, naamlik: Die apokriewe boeke hoort nie in die Skrif nie.
Maar om die mense te verbied om dit te lees, sou te ver gaan.
Dan sou hy bo die Skrif gebind het.
Daarom verwoord hy dit genuanseerd: Die kerk mag hierdie boeke wel lees.
Die kerk mag daaruit lering trek.
MAAR, net vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.
Gemeente, Guido de Brès verwoord hier die beginsel wat ons op enige ander boek ook moet toepas.
Ons mag ook ander boeke as die Bybel lees.
Dit is selfs goed om ook ander boeke te lees.
Maar, alles wat ons lees, moet ons beoordeel in die lig van die Skrif.
As in ‘n ander boek iets staan wat verskil met die Bybel, dan moet ons dit afkeur.
Of dit oor die beoordeling van die verlede gaan, of riglyne hoe ons vandag moet lewe, wat ook al.
Ons moet ander boeke met onderskeidingsvermoë lees.
En ons onderskeidingsvermoë moet gevorm wees deur die Skrif self.
Noudat ons so baie oor boeke praat, moet ons nie ander literêre genres vergeet nie.
Wat ek hierbo gesê het oor boeke, geld net so veel vir toneel, of vir die kyk van films, televisie, Tiktok, watter medium ook al.
Ons samelewing beweeg steeds verder van ‘n leeskultuur af weg.
Ons as gemeentelede is onderdeel van die samelewing, en ons sien dieselfde tendens in die kerk.
Mense lees al hoe minder, mense kyk al hoe meer na beeldmateriaal.
Dit is geweldig belangrik dat ons as Christene dit met die nodige onderskeiding doen.
Daar is so baie beeldmateriaal wat afbreuk doen aan die gesag van God se Woord.
Ons kan nie sulke beeldmateriaal, wat op gespanne voet staan met ‘n gebod van God, vir ons ontspanning gebruik nie.
Dit gaan ons gewoond maak aan die sonde.
Laat ons daarom ons siel suiwer hou.
Jy kan nie op Saterdagaand ‘n film kyk waarin moord en doodslag plaasvind, of waarin seks plaasvind, en dan Sondagoggend aan die nagmaal sit nie.
Ja, ons lewe in ‘n gevaarlike land, maar besef jy dat gesinne die grootste gevare self in hulle huise inbring?
Dit sal nog veel beter wees, as mens wil vergelyk, dat daar ‘n apokriewe boek op die koffietafel lê, as ‘n groot televisie teen die muur.
Met ons DSTV spoel die sondige wêreld ongeremd ons huis binne.
As Christus langs jou op die bank sou sit, sou jy ongemaklik voel by dit wat jy kyk?
Ek was onlangs by Johannes Calvynskool, en dit het my opgeval dat daar geen fietse meer in die fietsloods staan nie.
Skynbaar beskou ouers die paaie as te gevaarlik vir hulle kinders om met die fiets skooltoe te ry.
Maar in ons motors lê die selfone wel rond.
‘n Polisievrou het ‘n keer die risiko’s vir kinders verduilik deur ‘n pistool en ‘n selfoon langs mekaar op die tafel neer te lê.
Watter een is vir ‘n kind gevaarliker?
Die polisie se statistieke gee ‘n duidelike antwoord.
Paulus skryf dat die Evangelie ons verstand moet vernuwe - Romene 12.
Ons het dit gelees vanaand.
Die Evangelie – dit is Christus se koms na die aarde, sy heilswerk, dit plaas ‘n totaal nuwe perspektief op alles.
Ons ou verstand het die neiging om heeltyd aan sondige dinge te dink, en van die sonde te geniet.
Christus, deur sy Gees, herskep egter ons verstand en wil.
Hy vernuwe ons verstand.
Nou begin ons anders te dink, positiewe dinge te begeer, wat in lyn met God se wil is.
Deur die krag van Christus se Gees in ons, hunker ons nie meer na dit waarna die wêreld hunker nie.
Ons skep nie meer plesier in owerspel, moord, skinder, intriges en wat ook al nie.
En as sulke dinge aan ons opgedring word deur middel van films, televisie, selfone, boeke of op watter manier ook, dan geniet ons nie meer daarvan nie, want Christus se Gees vernuwe ons denke, leer ons om anders te dink, en anders na hierdie wêreld te kyk.
Hy leer ons om te geniet van wat werklik mooi en suiwer is.
Daar is hoop vir my en jou, daar is hoop vir hierdie wêreld.
Maar daardie hoop in Christus sluit nie meer die sonde in nie.
En so beoordeel jou nuwe denke alle dinge in die lig van God se wil in die Skrif.
Broer, suster, hoe ver is die vernuwing van jou denke?
Is Christus se werk deur sy Gees sigbaar in jou lewensstyl, in dit waaroor jy praat, in dit waarvan jy geniet?
Om weer terug te kom by die apokriewe boeke, so, sê die NGB, moet ons ook met hulle te werk gaan.
Lees hulle krities.
Moenie dink jy kan jou geloof op hulle bou nie.
As daar dinge in staan wat ooreenstem met die Bybel, mooi.
Jy kan dit waardeer.
Maar moenie verwag hulle is op dieselfde vlak as die Bybelboeke nie.
Ons lewe vandag in ‘n heel ander tyd.
Mede danksy die standpunt wat die Reformasie oor die apokriewe boeke ingeneem het, speel daardie boeke nie werklik meer ‘n rol in ons samelewing nie.
Ek neem aan daar is weinig persone onder ons wat vir hulle plesier ‘n apokriewe boek gaan oopmaak om te lees as ontspanning.
Deesdae se mense sal vir ontspanning eerder ‘n rugbywedstryd kyk, of ons sal ‘n tydskrif by die winkel gaan koop om te lees en deur te blaai.
Die Skriftuurlike beginsels wat art. 6 van die NGB saamvat, bly egter volledig relevant, al is daar geen apokriewe boek meer in ons huis nie.
As die kanonieke boeke van die Bybel die krag en gesag het om ons geloof te bou, te versterk, te bevestig, neem hulle dan ook ‘n sentrale plek in ons daaglikse lewe in?
Lewe ons elke dag vanuit die Woord?
Die daaglikse tyd wat ons aan God se Woord bestee, die lees daaruit, die oordink daarvan, die toepassing daarvan, word dit afgeskeep omdat ons so baie tyd spandeer aan sport, tydskrifte, elektroniese media, filmpies op ons fone, ensovoorts?
Verstaan my goed, met hierdie vraag wil ek nie bo die Skrif bind nie.
Ek sê nie dis verkeerd om sport te kyk, soos op ‘n Saterdag nie.
Ek sê nie dis verkeerd om tydskrifte te lees, Facebook te volg, Youtube of Instagram te kyk nie.
Al hierdie dinge kan juis ook positief gebruik word.
Maar laat hierdie dinge nie die lewende verhouding met die Here Christus, wat juis gevoed word deur besig te wees met sy Woord, verdring nie.
Laat ons, soos die Christene in Berea destyds, die Woord ondersoek op daaglikse basis.
Laat ons alles wat met ons en om ons gebeur, evalueer in die lig van God se Woord.
Laat ons oppas dat al hierdie ander dinge, soos die NGB skryf, nie afbreuk doen aan die gesag van God se Woord in ons lewe nie.
Want, en daarna gaan ons nou in die tweede plek kyk:
Die Woord bevat ook in ons tyd, ook in die 21ste eeu, nog steeds alles wat ons vir ons saligheid moet glo.
(Tema: Die Heilige Skrif is volmaak
- Omdat dit volmaak is, kan ons in die lig daarvan ander geskrifte beoordeel)
- Omdat dit volmaak is, raak dit nie ouderwets nie
Artikel 7 skryf oor die volkomenheid van die Woord.
Die Woord is volmaak geskik vir sy doel, ook vandag nog.
Soms kan die gevoel jou bekruip dat die Bybel, vir alle praktiese doeleindes, ouderwets geword het.
Ons lewe in ‘n samelewing waarin so baie dinge besig is om te verander.
Ons lewe in ‘n wêreld wat so anders lyk as die tyd van die Bybel.
In die Bybelse tyd was iets soos vliegtuie ondenkbaar.
Vandag is dit deel van die daaglikse lewe dat mense in die lug kan opstyg.
In die Bybelse tyd was daar, vergeleke by vandag, nog maar beperkte kennis van die menslike liggaam.
Ons lewe vandag in ‘n tyd waarin mense hartoorplantings ondergaan, en dan met die hart van ‘n ander nog jare kan voortleef.
Ons lewe vandag in ’n tyd waarin die ontstaan van lewe in die baarmoeder gefilm kan word, iets wat in die verlede ‘n geheimenis was (Ps 139:15).
Ons lewe in ‘n tyd waarin die ontstaan van lewe, die bevrugting, selfs buite die liggaam in ‘n proefbuis kan plaasvind.
‘n Tyd waarin die begin van ‘n mens se lewe, of embryo’s soos dit teenswoordig genoem word, ingevries kan word, en jare later eers in die baarmoeder geplaas kan word.
Ons lewe vandag in ‘n tyd waar die eindes van die aarde nie meer onbekend is nie.
Die aardbol het soos ‘n ‘global village’ geword.
Ons lewe vandag in ‘n tyd waarin die wêreldbevolking eksponensieel gegroei het vergeleke met die tyd van die Bybel.
Al hierdie realiteite, wat ‘n gevolg is van die toename van menselike kennis en vaardighede deur die eeue, al hierdie realiteite het ‘n invloed op ons denke, op ons wêreldbeeld.
Voor ons dit werklik besef, kan dit die Bybel na die kantlyn van ons bestaan druk.
Dit is in elk geval wat gebeur in die samelewing om ons heen.
Al hierdie realiteite kan, haas onbewus, ook ons vertroue op dit wat in die Woord staan, laat erodeer.
Is die Skrif werklik volmaak?
Is die Skrif vandag werklik nog van toepassing?
Het dinge nie te veel verander nie?
Gemeente, in artikel 7 bely ons die volkomenheid van die Skrif.
Maar, ervaar jy dit werklik nog as ‘n feit?
Kom ons luister na wat hier bely word.
Die NGB sê:
Die Heilige Skrif is volmaak, in die sin dat dit alles bevat wat die mens vir sy saligheid moet glo.
Die Heilige Skrif is volmaak, in die sin dat dit breedvoerig aan ons beskryf hoe God deur ons gedien moet word.
Dit is dus wat die NGB met die volkomenheid van die Skrif bedoel.
Die Skrif was nie bedoel om ons alles te vertel wat in die toekoms gaan gebeur nie.
Die feit dat die Skrif skryf oor ‘n wêreld van twee duisend jaar en meer gelede, maak dit daarom nog nie beperk en tydgebonde nie.
Die feit dat daar in die Bybelse tyd nog nie vliegtuige was, en ook nie hartoorplantings gedoen kon word nie, dit maak die Bybel self nog nie minder volmaak nie.
Die Bybel was nie bedoel gewees as ‘n handboek wat ons alle natuurwetenskaplike, mediese, geografiese kennis van alle tye moes openbaar nie.
Die Bybel is bedoel om, soos die NGB dit verwoord, aan die mens duidelik te maak hoe God gedien moet word, en hoe die mens salig kan word.
En wat dit betref is die Bybel vandag nog steeds net so volmaak en effektief as twee duisend jaar gelede.
Die Bybel openbaar aan ons die heilsfeite wat met Christus gebeur het.
God se heilsplan, wat Hy in die volheid van die tyd geopenbaar het, deur sy eie geliefde Seun na die aarde te stuur, om die Satan te verslaan, die dood te oorwin, en vrede te herstel tussen die mens en sy Skepper.
Daardie boodskap van heil is vandag nog net so kragtig en relevant as twee duisend jaar gelede, en dit sal so bly tot die dag waarop Christus terugkom!
En hoe die mens en sy lewensstyl ook verander het as gevolg van tegnologie, die mens self het nie verander nie.
Alle mense is nog steeds uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self.
Die NGB haal hier Psalm 62 aan.
Die mense van die 21e eeu is wat dit betref presies dieselfde as die mense uit die tyd toe Dawid hierdie Psalm geskryf het.
En gemeente, laat ons onsself nie verblind deur die tegnologiese vooruitgang wat ons in ons tyd beleef nie.
Want waartoe die mens ook al in staat is deesdae, die kern van alle probleme op aarde, naamlik die sonde en die dood as straf daarop, daaraan kan die mens vandag nog steeds net so min doen as duisende jare gelede.
Daarom bly die boodskap van die Evangelie onverminderd aktueel.
Die boodskap dat Christus vir die sonde betaal het.
Die boodskap dat Christus die dood oorwin het.
Die boodskap dat Christus uit die graf opgestaan het met ‘n verheerlikte liggaam, wat nie weer sal sterf nie.
Nie tegnologie, of wetenskap, of wat ook al, gaan jou regtig bly kan maak nie, net hierdie blye nuus oor Jesus Christus!
Broer, suster, is jy elke dag bly in Christus?
Ja, ook vandag is die Skrif volmaak!
Ook in die 21e eeu bring die Skrif ‘n boodskap wat geen mens, geen wetenskap, geen tegnologie my kan bied nie.
Moet dus nie toelaat dat daar ‘n skeptiese houding oor die Bybel in jou lewe nesskop nie.
Moenie toelaat dat iemand, wie dit ook al mag wees, jou iets anders probeer wysmaak nie.
Al was dit ook ‘n engel uit die hemel – Galasiërs 1:8.
Die NGB haal hierdie baie kragtige Bybelvers aan.
Moenie toelaat dat ander geskrifte, of dit ou geskrifte is of dalk die nuutste wetenskaplike insigte, dat hulle op een lyn met die Bybel gestel word nie.
Vernuwe vanaand weer jou vertroue op God se Woord.
Sy Woord is volmaak.
Sy Woord leer jou hoe jy jou God ook vandag in jou lewe moet dien.
Sy Woord leer jou hoe jy ewig kan lewe.
Sy Woord bring jou by Christus, jou enigste hoop vir die toekoms.
En daarom, laat ons ook vandag saam met die NGB bely:
Ons verwerp met ons hele hart alles wat nie met God se onfeilbare Woord ooreenkom nie.
Sy Woord sal die rigsnoer vir my lewe bly.
My lewenskoers sal bepaal word deur sy Woord.
Sy Woord raak nie ouderwets nie, want Christus lewe!
Hy regeer!
As ek hierdie week selfondersoek doen vir volgende week se nagmaal, sal ek dit doen op grond van sy Woord.
En ek sal voortgaan om die geeste op die proef te stel, ook die tydsgees van die tyd waarin ons leef.
En as iemand na ons kom met ‘n mening wat nie strook met God se onfeilbare Woord nie, sal ons hom nie as vriend in ons huis ontvang nie.
Nog so ‘n kragtige uitspraak uit die Woord – 2 Johannes 1:10.
Ons sal hom nie groet as ‘n geesgenoot nie.
Ons sal nie vriende wees asof niks aan die hand is nie.
Maar ons sal bly vashou aan Christus, soos Hy tot ons kom in sy onfeilbare en volmaakte Woord.
Broer, suster, is dit jou voorneme, is dit jou belofte aan Christus?
Amen.
Votum
Seën
Ps 139:1,6,7
Gebed
Skriflesing: Romeine 12:1-8; Galasiërs 1:1-12; 2 Johannes 1
Ps 40:4,8
Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 6-7
Preek
Ps 62:1,5,6,8
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 111:1,2
Kollekte
Ps 111:4,5
Seën