Jesus was 'n dominee.
Kan jy jou dit indink. Kan jy dink hoe dit moes wees om Hom te hoor preek.
Dink net: Jesus se woorde was die volmaakte waarheid, Jesus se liefde was volmaakte liefde. Die manier waarop Jesus sy hoorders volmaak liefgehad het was … met volmaakte waarheid.
Jesus was volmaak liefdevol. Hy het met volmaakte gesag gepraat, en met volmaakte sagmoedigheid.
Soveel so dat die mense verslae was.
Wat was Hy besig om te doen (en wat is ek besig om nou te doen)? Hy het saad gesaai. En as daardie saad in goeie grond val, dan verander dit lewens!
Die Saaier is besig om te saai, val dit in goeie grond?
1. Almal, oral
2. Harde grond
3. Klippe
4. Onkruid
5. Goeie grond
6. Wat is anders tussen die soorte grond
1. Oral, en almal
Die goeie nuus van die evangelie bereik elke gelowige, oral. Kyk maar, v1: "Kort daarna het Jesus deur die een stad en dorp na die ander gereis om te preek en die evangelie van die •koninkryk van God te verkondig".
Ja, Jesus was 'n dominee, 'n prediker, en Hy het in groot stede en in klein dorpies gepreek (soos vandag Kaapstad en Robertson). En Hy saai die saad van die evangelie – ver en wyd, oral waar Hy ook al gaan. Die woord "verkondig", dit beteken om dit aan te kondig (so te sê) sodat almal dit hoor. Dit is wat ons besig is om nou te doen. Ons kondig goeie nuus aan. En as jy besig is om dit aan te kondig, dan bring jy dit na mense toe. Dan kondig jy aan: "Bekeer jou en glo - God is koning! Hy vergewe sonde, Hy genees siekes, Hy dryf bose geeste uit, sy koninkryk is besig om te kom!"
En nou ontmoet ons in ons teks 'n aantal mense wat Jesus gehoor het, Hom geglo het, en Hom gevolg het. Hierdie is mense van die goeie grond, Christene, mense eat nie net hoor nie, wat nie net glo nie, maar wat hoor, glo en volg.
v2 en 3: "Die twaalf het saam met Hom gereis, 2 en ook 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees is, naamlik Maria, wat bekend was as Magdalena, uit wie sewe demone uitgegaan het, en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna, en baie ander wat uit hulle eie bronne vir Jesus en die twaalf gesorg het".
Jy sien uit hierdie lys mense dat Jesus nie net in stede en dorpe gepreek het nie, maar dat hy rerig onder alle mense gepreek het, oral, en vir almal, nie net 'n sekere soort of groep mense nie. Jesus het met armes en rykes gewerk. In die lys het ons arm vissermanne en vooraanstaande vroue. Johanna was die vrou van Gusa, 'n bestuurder in Herodes se huishouding.
Menslik gesproke sou ons nie verwag dat al sulke mense die evangelie hoor nie. Hierdie is nie jou normale groep kerkgangers nie.
Maar, lyk die prentjie hierdie vandag nie net so nie? Ja seker, niemand van ons werk in Ramaphosa se kantoor nie, en niemand hier het bose geeste uitgedryf gehad nie. Maar nie almal het grootgeword in die kerk nie, sommige se paadjie loop heel anders. Die evangelie moet nie net gehoor word daar waar ons dink dit die beste pas nie, daar waar dit vir ons gevoel die beste gehoor sal word nie. Nee, die evangelie is vir almal en oral.
v4: "Uit die een dorp ná die ander het mense na Jesus gestroom; en toe 'n groot skare van hulle bymekaar was, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel".
In hierdie groot skare is daar vier soorte grond, vier soorte mense, vier soorte harte. Elke dominee preek vir hierdie vier. Jy is een van hierdie vier. Die vraag vanoggend is, watter een van die vier is jy?
2. Harde grond:
v5: "'n Saaier het uitgegaan om saad te saai."
Dit is presies wat Jesus besig is om te doen in ons teks as hy met die skare mense praat, Hy saai die saad van die evangelie. En onthou: hierdie saad is die woord van Christus, of (v11) die woord van God.
"Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval; dit is vertrap en die voëls van die hemel het dit kom oppik".
Terwyl Jesus besig is om te saai, val sommige saad op die pad. Hierdie is die mense in die skare wat daar was, maar niks saad kry nie.
Ons kan seker wees dat daar onder skare mense was wat maar net deel van die skare wou wees. Hulle het Jesus gevolg, was deel van die skare, want dalk wou hulle 'n wonderwerk sien. Miskien was hulle nie lus vir werk nie, wou nie skool toe gaan nie. Hulle was nie daar omdat hulle desperaat was nie, soos iemand wat deur 'n bose gees besete is nie, nee, hulle was maar net daar...
Terwyl Jesus preek, is sy woorde soos water op 'n eend se rug. Dit gaan nie in nie, dit loop met net af.
CS Lewis skryf in sy boek, "The Screwtape letters", 'n storie van twee bose geeste wat 'n mens probeer verlei. Die een bose gees (Screwtape) is al ouer en het meer ervaring, en hy leer die jonger een (Wormwood). Hy sê vir Wormwood: "Dis snaaks hoe mense altyd dink dat ons goed in hulle gedagtes wil insit. In werklikheid doen ons die beste as ons net goed uit hulle gedagtes uithou".
Sien, die duiwel is altyd daar, sy mond wawyd oop, gereed om al die saad te verorber voordat dit in jou gedagtes kan ingaan. Hy probeer jou gedgates na ander plekke te stuur. Miskien het jy dit al gehad dat jy in jou gedagtes diep nadink oor die Here, oor jou geloof, of jy is besig om te lees en skielik is jou aandag afgelei, skielik is die gedagte weg.
Die mense by wie die saad langs die pad val, dis hulle wat die woord hoor, en onmiddelik is die duiwel daar om dit weg te neem, om te keer dat in die hart ingaan, om te keer dat hulle glo en gered word.
Dit wys jou: altyd wanneer die evangelie verkondig word, dan woed daar onmiddelik 'n geestelike oorlog, die duiwel probeer soveel as moontlik mense beroof van die saad. Onmiddelik as die Woord gehoor word, is die duiwel by om dit weg te neem, is die wêreld besig om dit dood te druk, en my eie sondige menswees verhard my hart, sodat die saad nie ingaan en wortel skiet nie.
3. Klippe
Iemand skryf eens: "'n Hart van klip is soos die 'follower' op Twitter, dit sien Jesus is gewild (Jesus 'trend') en dit 'follow'. Dit hou van die wonderwerke maar moenie iets van dit vra nie. Die oomblik wat dit 'n bietjie ongemaklik raak, 'n bietjie ongerieflik raak om Jesus te 'follow', dan 'unfollow' dit."
v6: "'n Ander deel het op 'n klipbank geval; en toe dit opkom, het dit verdor, omdat daar geen vogtigheid was nie."
Die klipbank in die gelykenis is 'n rots met 'n dun lagie sand oor. Die saadjie ontkiem, dit groei 'n klein bietjie maar daar is nie plek vir die wortel om te groei nie. Sodar die son opkopm, dan droog die lagie sand uit, en die plantjie gaan dood.
Jy hoor die evangelie en dit klink so mooi aan die begin. Jy word meegevoer in die oomblik, miskien gaan jy deur 'n moeilike tyd in jou lewe, maar as die oomblik verby is, dan is die woord weer vergete. Miskien hoor jy die evangelie in 'n tyd wat als goed gaan, maar sodra die son begin bak, sodra dinge moeiliker word, dan is dit weg. Dan was dit al die tyd net 'n oomblik in jou lewe, nie 'n oomblik wat jou lewe verander het nie.
Wat maak jou bly? Is dit jou omstandighede? As jy bly is terwyl dit goed gaan, kan jy ook bly wees as dit moeiliker gaan? Want die lewe is maar op en af, en blydskap – dis 'n emosie, maar dis ook 'n karakter eienskap. En tye waneer dit moeilik gaan, tye van onsekerheid, tye van stress, dis wanneer blydskap in jou lewe rerig vorm kry.
Die mens is maar broos, een oomblik is jy opgewonde en vrolik, en die volgende oomblik is die rede vir jou opgewondenheid en vrolikheid verby, en dan is dit so maklik om nie meer om te gee nie.
Dis wat dit beteken: "daar was geen vogtigheid nie". Sonder vogtigheid, sonder water kan niks groei nie. Dis nie net dat jy die geloof het nie, die geloof moet lewe en dit moet groei. Dit word sterker en as die storm kom, dan is jy gereed. As dit nie groei en wortel skiet nie, dan as jou geloof getoets word, as jy op die proef gestel word dan sak jy uit.
v13: "Die saad wat op die klipbank val, is daardie mense wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar hulle het nie wortel geskiet nie. Hulle glo net 'n rukkie, en wanneer hulle op die proef gestel word, sak hulle uit."
4. Onkruid
v7: "Nog 'n deel het tussen die dorings geval, en die dorings het saam met die saad gegroei en dit verstik."
Hierdie is goeie grond, maar dis vol dorings. Mens hoor die evangelie, kom kerk toe, word gedoop, gaan aan die nagmaal, en dan... stadig maar seker word Jesus net nog iemand naas jou werk, familie, geld, studies... al hierdie ding trek die lewe uit jou uit, slurp jou uiteindelik heeltemal op. Jesus is nie meer eerste in jou lewe nie, die evangelie was eens alles gewees, nou is dit net nog iets, minder en minder belangrik. En uiteindelik verlep die plantjie en gaan die saadjie dood.
Hierdie is die gevaar van welvaart, besittings en luukse. Angstigheid oor jou veiligheid, sekerheid oor jou aftrede, kommer oor jou gesondheid. Hierdie is wanneer jy jou loopbaan kies bo jou geestelike gesondheid of jou gesin se geestelike gesondheid. As jy leef vir die naweek, vir die vakansie, vir sport. As jy jou stokperdjie oor jou hart laat heers. As jy aardse dinge nodig het om glukkig en vervuld te wees.
As jou lewe vol is van hierdie dinge, dan bly daar min plek oor tyd en aandag en liefde vir die Here. Dan word jou lewe beheers deur jou angstigheid, en nie meer deur die Heilige Gees nie.
En ja, dorings is nie altyd lelik nie. Hierdie "ander" dinge is nie noodwendig sonde nie, daar hoef niks verkeerd mee te wees nie, maar as dit bo die Here gaan staan, dan verstik dit die plantjie en die saadjie gaan dood.
En dit gebeur altyd heel geleidelik, jy kom amper nie agter nie. Jy groei selfs in jou geloof, dis net dat die onkruid nog vinniger groei.
Jesus sê dit, v14: "Die saad wat tussen die dorings val, is diegene wat die woord hoor; maar hulle word deur bekommernisse en rykdom en die plesiere van hierdie lewe verstik, en lewer geen oes nie."
Daar is baie wat hoor... maar nie almal aanvaar die ewige lewe nie. Hulle wat hoor en verstaan, hulle het die ewige lewe.
5. Goeie grond
v8: "En nog 'n deel het in vrugbare grond geval, en dit het gegroei en 'n honderdvoudige opbrengs gelewer"
Die saad van die evangelie kan net rerig wortel skiet in 'n hart wat gereedgemaak is. Dit is die Heilige Gees wat moet kom ploeg, Hy moet jou hart oopbreek sodat die evangelie daar in kan kom.
Dis hoekom die OT profete so dikwels daarvan praat. - Jer 4:3: "so sê die Here vir die manne van Juda en Jerusalem: “Breek vir julle nuwe grond oop. Moenie tussen die dorings saai nie".
- Hos 10:12: "Saai vir julleself geregtigheid, oes troue liefde in oorvloed; breek vir julle nuwe grond oop. Dit is die aangewese tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid vir julle laat neerreën".
Breek vir julle nuwe grond oop. Hoe sou dit lyk vir jou en vir my? Hoe sou dit lyk as jou hart geploeg word, opgebreek word, as die klippe weggehaal word, die onkruid uitgetrek word.
Die saad van die evangelie word gesaai in die hart van sondaars, van gebrokenes, van armes, van armes van gees, van hulle wat treur... dit is die mense by wie die saad van die koninkryk van die hemel wortel skiet en groei.
"En nog 'n deel het in vrugbare grond geval, en dit het gegroei en 'n honderdvoudige opbrengs gelewer". Honderdvoudig, dit is 100 keer so baie. Net om die getal bietjie te verstaan, vir 'n boer in daardie tyd sou 'n opbrengs van 5 maal of 10 maal heel goed wees. 30 maal is uitstekend. 100 maal is uit die hemel!
Hoe lyk 100 maal? Ek sal jou sê, want ek sien dit. Ek sien lidmate in ons gemeente wat hulle hele lewe instort in die lewe van ander, soos die Here hulle lewens vol maak met sy lewe.
Jy sien dit baie keer in die klein eenvoudige dinge, dinge wat jy doen nie omdat jy gesien wil word nie, nie omdat jy iets daaruit kry nie. Nee, jy doen dit omdat die saad van die evangelie wortel geskiet het, en dit raak die lewens van mense rondom jou, vriende, familie, bure, kollegas.
Jy sien dit in die mense wat dien, geduldig, eerlik, met 'n goeie en opregte hart.
v15: "Die saad wat in die vrugbare grond val, is daardie mense wat die woord met 'n goeie en opregte hart aanhoor, daaraan vashou en met volharding vrug dra"
'n Hart wat die Woord hoor, vashou daaraan, en vrug dra.
'n Hart wat vashou aan die Word, wat vashou aan Jesus, die Woord van die lewe. En as hierdie geloof wortel skiet, dan dra dit vrug, 100 maal.
Dit word nie moeg nie, dit is geduldig. As die tye moeilik word dan verlep dit nie. In goeie tye en in slegte tyd, in voorspoed en in teëspoed, altyd hou dit vas aan Jesus.
6. Hoor en verstaan [Wat is anders tussen die soorte grond]
v8: "Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, roep Hy uit: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!”"
Het ons ore om te hoor? Wanneer het mens ore om te hoor? Wel, dit kom van bo af. Net die wat aan die Here behoort hoor, en verstaan. Want dit is hulle wat die Gees ontvang sodat hulle kan verstaan.
Jy sien, baie word geroep. Die roepstem vandie evangelie is vir alle mense. Sommige sal luister, sommige sal nie. Die verskil ... is pure genade. Niks meer en niks minder, net genade.
En dit, broers en susters, is hoekom Jesus, in die middel van hierdie gelykenis, vir ons die rede gee vir gelykenisse.
v9: "Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken. 10Hy het geantwoord: “Aan julle is gegee om die geheimenisse van die koninkryk van God te verstaan, maar vir ander bly dit bloot gelykenisse, sodat hulle “ ‘selfs al kyk hulle, nie sal sien nie, en selfs al hoor hulle, nie sal verstaan nie.’ ”".
Aan julle is gegee om die geheimenisse van die koninkryk van God te verstaan. Aan julle, gemeente.
Aan julle is die gegee om die geheimenisse van die koninkryk van God te verstaan. Die geheimenisse, hulle is gegee vir die kerk, vir julle wat nie net hoor nie, maar hoor en glo, julle wat nie hoor nie maar hoor en doen.
Aan julle is die gegee om die geheimenisse van die koninkryk van God te verstaan. Dis 'n gedeelte wat mens baie goed kan gebruik as jy selfondersoek doen voor nagmaal. Is my hart hard? Is dit klipperig? Is my lewe vol onkruid? Is dit goeie grond?
En dit mag jy in gebed doen. Here, help my asseblief, ploeg my hart om, breek my hart oop, maak my vol met u Gees sodat ek kan sien en hoor, en verstaan, en glo, en doen.
Dis 'n gedeelte wat jy ook baie goed kan gebruik voor Bybel lees. Om die Bybel te kan lees en verstaan, om die Here Jesus daarin te sien, dis nie iets wat mens regkry met jou eie slimmigheid of intuïsie nie, dis iets wat jou gegee word.
Bid dan dat die geheimenisse van die koninkryk van God aan jou gegee word om te verstaan. Bid dat die die geheimenisse van die koninkryk van God aan jou dominee gegee word sodat ek dit kan verstaan en dit mag preek en dit aan jou mag verkondig. Bid dan vir die Heilige Gees sodat jy kan sien en hoor, en verstaan, en glo, en doen.
Amen