Kinders van God is lief vir hulle vyande

Predikant: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2025-08-24
Teks: 
Lukas 6:27-36
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Wat is die moeilikste ding wat u al ooit moes doen?

Miskien dink u aan ‘n moeilike eksamen waar die werkslas onmoontlik gelyk het.
Dalk dink u iets aan soos om sondes te bely. Om te erken dat jy verkeerd opgetree het - selfs teenoor iemand vir wie mens bitter lief is - is seker een van die moeilikste dinge wat mens kan doen.
Dink maar hoe moeilik dit is vir kinders om mekaar in die oë te kyk en vergewing te vra.

Maar wat Jesus in vanoggend se teks van sy dissipels vra, is nog baie moeiliker as dit. 
Want hy vra nie net om iets moeilik te doen wat onsself gaan bevoordeel nie (soos ‘n eksamen) 
of iets moeilik te doen vir iemand vir wie ons lief is nie (soos om skuld te bely) ; 
dit is al moeilik genoeg - 
maar hy vra van ons om lief te wees vir ons vyande.

Dit is iets wat menslik gesproke, heeltemal onmoontlik is.

Maar dis wat Hy vanoggend van ons vra, omdat dit presies is wat kinders van God doen.

Soos mens dikwels in kinders kan sien wie hulle ouers is
-    Hulle het dalk dieselfde gelaatstrekke
-    Of dieselfde maniere
So kan mens in kinders van God sien wie hulle hemelse Vader is.
-    Hulle weerspieël Sy liefde
-    En hulle is lief vir hulle vyande.

Dus ons tema vanoggend is:

Kinders van God is lief vir hulle vyande.

In ons teks, vers 31, sê Jesus: soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.

Dalk het u al gehoor dat mense van hierdie woorde praat as “die Goue Reël.”
En dis ook elke nie-Christen se tweede gunsteling teks vers. 
    Die gunsteling vers is natuurlik - “moenie oordeel nie.”

In ‘n debat op YouTube of so sou u al dalk iets gehoor het soos: “ek stem nie saam met alles wat Jesus gesê het nie, maar ek hou wel hiervan. 
Behandel ander mense soos wat jy graag behandel wil word.”

En dis natuurlik ‘n goeie reël - 
-    Vir kinders om volg wanneer hulle speel
-    Om nie gemors rond te gooi nie
-    Wanneer ons plek maak vir iemand in die verkeer
-    Ens. -
Dis ‘n goeie riglyn om te volg - behandel ander soos wat jy behandel wil word.

Maar as ons na die konteks kyk waarin Jesus hierdie woorde sê, dan sien ons dat dit nie bedoel is as ‘n aanbeveling wat mense kan aanvaar as ‘n oulike lewens-motto nie.

Dis regtig iets wat sinneloos, en selfs ‘n veroordeling is vir iemand wat nie ‘n kind van God is nie,
En wat onmoontlik is as mens nie deur Sy Gees vernuwe word nie.

Want die “mense” van wie Jesus praat - is almal. Insluitend ons vyande.

So wie is ons vyande? Wie is u vyande?

As u vir ‘n oomblik terugdink aan ons preek van laasweek, sal u onthou dat Jesus reeds oor vervolging gepraat het. 
Hy het so pas vir Homself twaalf apostels gekies het, saam met hulle by die berg afgeklim, ‘n klomp mense genees, en toe begin preek vir al sy volgelinge:
Salig is julle as julle gehaat, verstoot, en beledig word ter wille van die Seun van die mens.

Dus uit die konteks blyk dit dat die vyande in die eerste plek die is wat God haat, en Sy werk teëstaan.

Miskien kan ons vandag dink aan situasies in die werkplek, universiteit, of by die skool waar mense teëgestaan of gespot word vir hulle geloofsoortuiging. Oor dinge soos wat God sê oor
seksualiteit, die huwelik, aborsie.
Of dat hulle op een of ander manier geteiken word (en dalk nie ‘n promosie ontvang nie) - oor iets soos dat hulle nie op Sondae wil werk nie. 

Maar dit is ook meer as dit. Baie van die voorbeelde van vyandskap wat Jesus in ons teks noem, lyk of dit gewoon, vir watse rede ook al op ons gerig is. 
Dis mense wat ons vervloek, ons op die wang slaan, iets van ons vat sonder om dit terug te gee - mense wat nie vir ons lief is nie.

En as ons so daarna kyk, dan raak dit ook baie persoonlik.
Want dan is ons vyande nie vêr weg, (soos dit dikwels vir ons kan lyk as ons ‘n Christelike werk- of skool omgewing het nie,) maar dan raak die vyande baie naby.

Die buurman wat tot vroegoggend harde musiek maak - nie ‘n saak het met wie langs hom bly nie;
Sodat jy nie kan slaap nie
Die kollega wat altyd agter jou rug praat, en jou probeer slegmaak by die baas.
Sodat jy nie meer jou werk met vreugde tot eer van God kan doen nie.
Die persoon wat by elke familiebyeenkoms iemand afkraak, of onenigheid saai.
Sodat dit nie eens meer lekker is om ‘n verjaarsdag te vier nie.
Die persoon wat altyd iets leen, (soos jou gereedskap,) met mooi beloftes - ek sal dit volgende week teruggee - 
maar as jy oor ‘n tydjie dit terug soek, dan beweer hulle hoog en laag dat dit nog altyd hulle s'n was.
Die die groep skoolkinders wat jou altyd opsetlik van alles uitsluit.
Sodat elke oggend se rit skool toe opnuut soos ‘n dal van doodskaduwee voel.
Of selfs - al behoort dit heeltemal ondenkbaar te wees - die broer of suster in die gemeente wat so van u geskinder het, dat u hom of haar nie meer in die oë kan kyk nie, of nie eens in dieselfde kerkbank wil sit nie.

Jesus sê, hierdie vyande van julle, ja hulle behandel julle dalk sleg, maar, wees lief vir hulle. 

Van nature rebelleer ons harte teen hierdie opdrag.
Wat van geregtigheid?
As mense my kwaad aandoen dan wil ek dit hulle vergeld.
Hulle moet betaal vir die pyn wat hulle veroorsaak het.
En hoe kan ek dan my hart forseer om te doen wat dit nie kan doen nie? Hoe kan ek warm en snoesige gevoelens hê vir iemand wat my so behandel?

Maar laat ons hierop let, geliefde broers en susters.

Dat ware Bybelse liefde, in die eerste plek, nie ‘n warm en snoesige gevoel is nie. En; al is ware, Bybelse liefde iets wat heeltemal teen ons natuur is, is dit iets wat slegs die Heilige Gees in ons harte kan werk.

Ons kultuur het iets van liefde gemaak wat dit glad nie is nie - soos ons dikwels in die media sien. “Ek is lief vir jou” beteken iets soos “jy laat my goed voel, of jy maak my gelukkig.” 

En ek wil nou glad nie beweer dat liefde heeltemal geen gevoel inhou nie. 
Daar is verskillende maniere hoe ons vir verskillende mense kan lief wees.

Dalk het u al gehoor dat daar in Grieks 4 verskillende woorde vir “liefde” is, en 4 kategorieë van liefde wat rofweg met hierdie 4 woorde ooreenstem.
Sommige teoloë gaan ‘n stappie te vêr (in my opinie) deur die kategorieë baie rigied te maak - sodat as jy hierdie Griekse woord sien beteken dit altyd hierdie tiepe liefde.
Dis nie waar nie, daar is oorvleueling in hoe die woorde gebruik word - 
- Maar dit is so dat daardie kategorie in die Bybel wel rofweg bestaan.

Daar is bv. die broederlike tiepe liefde tussen twee vriende, (dink aan David en Jonathan)
En die natuurlike liefde in ‘n gesin, bv. tussen ‘n ma en ‘n kind, (dink aan die hoer wat by Salomo gepleit het vir haar baba seun)
en daar is selfs ‘n romantiese tiepe liefde wat gepaard gaan met seksuele aangetrokkenheid tussen ‘n man en ‘n vrou, (hooglied)

Duidelik is liefde nie gevoelloos nie.

Maar die liefde waarvan Jesus praat is nie ‘n algemene en natuurlike tipe liefde wat selfs goddelose mense, in ‘n sekere mate, ook besit nie. 
Hulle is ook lief vir hulle kinders. 
Hulle is ook lief vir hulle vriende. 
Hulle is ook seksueel aangetrokke tot mekaar.

En ook hulle doen, in ‘n sekere sin, goed teenoor mekaar. Dis wat Jesus sê in die verse 32 - 34.
Hy wys na die - kom ons sê - praktiese benadering tot liefde wat baie mense het, liefde omdat daar voordeel is vir hulself. 
Ook die goddelose mense is lief vir dié wat lief is vir hulle. 
Ook hulle doen goed aan dié wat goed is vir hulle. 
Ook hulle leen graag hulle goedere uit as hulle hoop dat dit hulle êrens in die toekoms gaan bevoordeel.

Maar as Christene, dissipels van Jesus, net hierdie tipe liefde het, dan is ons niks anders as die wêreld nie.

Inteendeel - die liefde waartoe Christus ons oproep is ‘n Goddelike tipe liefde, wat slegs die Heilige Gees in ‘n mens kan werk. 
En dis nie nie gevoelloos nie, maar baie meer fundamenteel as gevoel, is dat hierdie liefde ‘n daad is - ‘n self-opofferende daad. En dit is ‘n opdrag, ongeag hoe jy vandag voel.

Een teoloog het ‘n storie vertel om hierdie tipe liefde te verduidelik.
Dis nie my eie storie nie, so ek kan nie krediet vat hiervoor nie;
Maar dit gaan so:

Daar was ‘n keer ‘n man wat na ‘n Christen-berader gegaan het vir hulp.
Hy wou van sy vrou skei, en die rede wat hy gegee het was:
“My vrou was nie ontrou nie. Sy het my nie verlaat of enigiets soos dit nie, maar ek is net nie meer lief vir haar nie.”

Toe sê die berader vir hom:
“Wel, die Bybel sê: ‘Mans, wees lief vir julle vroue.’ So dis eintlik baie eenvoudig. Jy het nie ’n keuse nie. Dit is die bevel van die God self. Jy móét jou vrou lief hê.”

“Maar jy verstaan nie,” sê die man, “Ek wil nie eens naby haar wees nie. Ek wil nie eers in dieselfde huis as sy wees nie.”

Die berader antwoord toe:
“Wel, hoekom probeer jy dit nie: trek vir ’n paar weke uit die huis uit, en gaan woon in die huis langsaan.”

“Maar wat gaan dit help?”

“Wel, die Bybel sê: ‘Jy moet jou buurman liefhê’ (love your neighbour). En so sal sy jou buurvrou wees.”

Die man raak toe geïrriteerd met die berader en sê:
“Jy verstaan nog steeds nie. Dis nie net dat ek nie naby haar wil wees nie. Ek kan haar nie eens in die oë kyk nie. Ek het niks behalwe haat in my hart vir haar nie.”

“O,” sê die berader, “so sy’s jou vyand?”
“Ja!”
“Wel, die Bybel sê: ‘Wees lief vir jou vyande.’”

U sien, die liefde waartoe Jesus ons oproep is ‘n liefde wat heeltemal teen ons menslike natuur ingaan - en teen ons geneigdheid om ons eie voordeel te soek. 

Dit gaan selfs teen ons geneigdheid om wraak te neem teen die wat ons verontreg.

Dit sien ons in die eerste verse van ons teks.
In plaas daarvan om die persoon wat ons vloek en skel en beledig 
- en ‘n klap deur die gesig is seker die hoogste form van ‘n belediging -  in plaas daarvan om wraak te neem, word ons gevra om onsself oop te stel vir verdere belediging, en selfs terug te seën. Om God se guns vir daardie persoon te soek.

Soek ons God se guns vir ons vyande? 
Hoe meet mens dit ooit?
Jesus sê - bid vir hulle. Tree vir hulle in by die troon van genade.
Dis moeilik. Ons sondige natuur wil nie hê dat God hulle seën nie, ons wil hê dat God hulle moet straf!
Maar dit is waarlik liefde - dat ons hulle in gebed aan die Here opdra.

Mag dit ons vandag almal uitdaag, geliefde gemeente. 
Dink na oor wie u vyande is, en maak ‘n punt daarvan om daagliks, in alle opregtheid, vir hulle te bid. God sal of hulle verander, of ons gevoel teenoor hulle. Maar die situasie kan onmoontlik dieselfde bly.

En laat ons liberaal wees in ons liefde vir hulle. In plaas daarvan dat ons bitterheid in ons harte kweek, moet ons oorvloedig gee, sonder om ‘n rekening te hou. (vers 29 en 30)

Ek hoop dat u oortuig is daarvan, dat so ‘n liefde, heeltemal onmoontlik is sonder die krag van die Gees.
En dit is ook die punt waarby Jesus uitkom in die laaste verse.
Doen al hierdie dinge, “en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.”

U sien, al hierdie dinge wat Christus van ons vra, is moontlik omdat ons kinders van God is, deur die Gees verenig met die Een wat ons in al hierdie dinge voorgegaan het. Ons is verenig met die onuitputlike bron van alle liefde en barmhartigheid.

Want wie is dit, wat die mees afgryslike vloek en belediging van mense verduur het?

Is dit nie die Allerhoogste self wat die regverdige oordeel wat Sy vyande verdien, nie ongestraf laat bly het nie, maar Homself verneder het om barmhartig te wees. En hulle straf op Homself te neem.

Sodat Sy vyande (u en ek!), God se kinders kan wees.

Is dit nie die Allerhoogste self wat verneder, bespot, en in Johannes 18 selfs deur die gesig geslaan is nie? En soos Petrus sê
toe Hy uitgeskel is, [het Hy] nie terug uitgeskel … nie; toe Hy gely het, nie gedreig … nie

Is dit nie die Allerhoogste self Wie so arm geword het, dat Hy selfs die klere aan sy lyf, selfs sy onderkleed, gewilliglik prysgegee het en naak aan die kruishout gehang het nie?

En wat het Hy van sy vyande geëis in ruil hiervoor? Niks behalwe die geleentheid om sy lewe vir hulle sondes te gee nie.

Soos 2 Kor 8:9 sê: julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

Is dit nie Hy wat die skande van die kruis verduur het, met Sy oog op die vreugde wat Hom voorgehou is nie? - die siele van sy vyande.

Is dit nie Hy wat selfs daar aan die kruishout vir hulle gebid het nie? Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Dit is die liefde en barmhartigheid wat die Allerhoogste Self aan ons bewys het. 

Soos ons voor die preek uit Romeine 5 gelees het:
God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 
ja
terwyl ons nog vyande was, [is ons met God versoen] deur die dood van sy Seun.

God se kinders is barmhartig, soos Hy is. 
Paulus sê in Efesiërs 5: Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.

Slegs God se hart-veranderende genade kan Sy kinders gewillig maak om so ‘n radikale, onderstebo, selfopofferende liefde vir hulle vyande te beoefen.

Soos die diaken Stéfanus in Handelinge 7 - wat die Here aanroep terwyl Hy gestenig word: Here Jesus, ontvang my gees!
En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.

Christus se volgelinge, van die vroeë kerk en deur die eeue heen, het geleer om hierdie tipe liefde te bewys, by dieselfde plek waar ons dit kan leer. By die kruis van Christus.

Die Verlosser wat vir Sy vyande gesterf het, roep ons nou op om dieselfde liefde aan ons vyande te bewys.

Geliefde Gemeente,
Wie is die vyande wat God u vandag oproep om lief te hê? 
Doen goed aan hulle. 
Seën hulle en bid vir hulle. 
Wys vir hulle die liefde van God in Christus.

Amen

Liturgie: 

Lees: Romeine 5 : 1 – 11
Teks: Lukas 6 : 27 – 36
Sing: Psalm 145 : 1, 5
Psalm 103 : 1, 2, 6
Skrifberyming 6 : 1, 6
Skrifberyming 21:1,4,5,6
Skrifberyming 50:1,5,6,7