Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.
Ons teks vanoggend is ‘n baie bekende verhaal.
Die liefde wat die groepe mans vir hul verlamde vriend het.
Hulle geloof dat Jesus hulle vriend kan genees.
Die uiterstes waartoe hulle gaan om hom te help..
Die verlamde man wat by die dak afsak.
En hoe Jesus, nie eers die man genees nie, maar tot almal se skok eers sy sondes vergewe.
Dit alles maak hierdie pragtige verhaal ‘n onvergeetlike verhaal.
En die punt van die verhaal is ook baie duidelik:
Jesus, die Seun van die Mens, het gesag om sondes te vergewe.
Dit is dan ook die tema vir vanoggend se preek -
Die Seun van die Mens het gesag het om sondes te vergewe. x2
Soos ek voor die Skriflesing uitgewys het, was Jesus se reputasie oor die afgelope paar tekste besig om te groei.
Hierdie groeiende reputasie, het hand-aan-hand gegaan met die gesag wat Jesus besig was om te beoefen.
Hy preek met gesag.
Hy dryf duiwels uit met gesag.
Hy genees siektes en kwale met gesag.
En die woord versprei. Dit bereik selfs Jerusalem.
Lukas sê nie vir ons in watse dorp Jesus hier was nie, maar van Markus 2 weet ons dat die verhaal in Kapernaum afspeel. Sowat 150 km weg van Jerusalem - klein bietjie verder as van hier tot Robertson.
As iemand van Jerusalem regtig graag vir Jesus wou sien, sou hulle amper ‘n week moes loop.
Maar dis presies wat sommige Fariseërs en wetgeleerdes gedoen het. Vers 17 sê hulle het gekom uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem.
So wie is hierdie mense wat uit hulle pad uit gaan om na Jesus te kom?
Dit is die eerste keer wat Lukas hulle noem.
Die Fariseërs was die mees invloedryke godsdienstige stemme van Jesus se tyd. Daar was ongeveer 6000 van hulle in die land, en hulle was ywerige aanhangers van die OT-se wette. Hulle het ook allerhande ekstra, mensgemaakte wette streng geïmplementeer om te verhoed dat hulle dalk God se wet sou oortree.
Die wetgeleerdes (of skrifgeleerdes) was ‘n oorvleuelende groep (sommige wetgeleerdes was byvoorbeeld fariseërs); maar hulle was veral spesialiste in die interpretasie en onderrig van God se wet aan ander.
So vanoggend se teks is regtig ‘n sleutelmoment in Lukas se evangelie.
Die deskundiges het van heide en verre gekom om ondersoek in te stel.
Om hulle gedagtes te vorm oor wie hierdie Jesus is, en hoe hulle Hom moet sien.
Werk hy saam met ons, of teen ons? Is Hy van God, of is Hy bloot ‘n bedrieër?
As u saam met my in u Bybels kyk, dan wil ek net gou vir u wys hoe ons teks deel vorm van hierdie nuwe tema wat Lukas nou op ‘n ordelike manier gaan oop pluis.
(U sal onthou dat Lukas self gesê het dat sy evangelie ordelik uiteengesit is)
So ons teks is die eerste van 5 voorbeelde van groeiende weerstand - veral deur die godsdienstige leiers.
So, as u gou saam met my kyk -
● In ons teks (hoofstuk 5:21) - En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?
● In die volgende teks eet Jesus saam met tollenaars (hoofstuk 5:30) - En hulle skrifgeleerdes en die Fariseërs het by sy dissipels gemurmureer en gesê: Waarom eet en drink julle saam met die tollenaars en sondaars?
● In 5:33 word Jesus gevra hoekom sy dissipels nie vas nie
● In hoofstuk 6 pluk Jesus are. op die Sabbat, dan vra die fariseërs vir hom in vers 2 - Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die Sabbat te doen nie?
● En dan in vers 7 is daar ‘n man met ‘n verdorde hand in die sinagoge “en die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Hom in die oog gehou, of Hy op die sabbat gesond maak, sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon vind.”
● En dit alles kulmineer in in vers 11 - “hulle is met uitsinnigheid vervul (of sinnelose woede) en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen.”
Hierdie eenheid van paragrawe vorm dan die basis van die bespotting, lokvalle, en verwerping wat gaan volg.
Ek sê dit alles, nie net as ‘n interessantheid nie,
Maar sodat ons noukeurig sal oplet dat ons teks die begin is van ‘n hewige botsing tussen Jesus en die deskundiges.
Hulle wil graag sin maak van Hom, en Jesus laat hulle nie in die duister nie.
Hy sê vir hulle presies Wie Hy is, en wat Hy kom doen het, en Hy bewys dit vir hulle onbetwisbaar.
-------
So die verhaal begin met Jesus in ‘n huis in Kapernaum, besig om te leer. Die huis is gepak met mense, wie vir verskeie redes aan Sy lippe hang. En vers 17 sê dat daar krag van die Here was om te genees.
Êrens naby was daar ‘n groepie mans wat ‘n verlamde vriend gehad het.
Ons weet nie hoe lank hierdie man al verlam was nie, of hoe dit gebeur het dat hy verlam geraak het nie, maar ons weet dat hy vriende gehad het wat baie lief was vir hom.
Hulle het vantevore al die gerugte gehoor van wat Jesus in die gebied gedoen het, dus toe hulle nou die boodskap hoor dat die bekende Rabbi terug is in Kapernaum, besig om te leer, het hulle dadelik in aksie gespring.
Haastig gaan haal hulle hul vriend en dra hom sommer bed en al deur die strate tot by die huis waar Jesus was.
Maar daar wag ‘n groot verassing vir hulle.
Mens kan mens self voorstel hoe hulle moed in hulle skoene wou sak soos hulle sien dat die huis omsingel is deur mense. Mense peul by die deure uit, hulle drom saam om die vensters, en daar is geen kans vir hulle om nader te kom nie.
In vers 18 probeer hulle die verlamde man in die huis inbring, maar vanweë die skare kon hulle nie. Vers 19 sê dat hulle “geen kans gesien het nie,” wat dit amper laat klink of hulle nie wou nie, maar soos die 2020 vertaling beter vertaal: hulle “kon … geen manier vind om hom in te dra nie.”
Daar was dood eenvoudig te veel mense.
So wat gaan hulle maak? Ek stel myself voor hoe hulle rond trippel en hulle opsies oorweeg.
Dalk sou die verlamde man, omdat hy die frustrasie by sy vriende kon aanvoel, vir hulle sê: dis regtig okay julle. Ek is al vir so lank verlam. Een dag gaan nie verskil maak nie. Kom ons probeer ‘n ander keer weer.”
Maar die mans gee nie so maklik moed op nie.
Hulle sou hulle geliefde vriend by Jesus uitkry al beteken dit hulle moet die huis afbreek.
“Hay, dis ‘n goeie idee!” sê een van hulle. “Kom ons gaan deur die dak!”
Nou, in daardie tyd was die huise so gebou dat dit plat dakke gehad het wat as ‘n ekstra vertrek gedien het, ‘n tiepe ontspannings area veral vir die warm somers aande. En die toegang trap was gewoonlik aan die buitekant van die huis.
So daar gaan hulle, verlamde vriend op sy bed en al by die trap op en begin die dak oopbreek.
Nou moet u dink hoe dit van onder gelyk het. Terwyl Jesus besig is om te leer hoor die mense skielik ‘n geskarrel op die dak. Soos die geluid harder en harder word, begin daar stukkies dak op die mense val.
Almal se aandag is sommer van Jesus se woorde af.
Sommige mense kyk verontwaardig rond; Ander wys met hul vinger;
Skielik kom daar ‘n ligstraal deur die dak; ‘n gat vorm en word al groter en groter.
Wat gaan nou aan? Moet ons pad gee? Dit lyk of die hele huis uit mekaar getrek word.
En net toe dit lyk of alles rustig raak daarbo en die mense klaar is met hierdie vandalisme, dan kom daar ‘n skaduwee, en ‘n bed sak na benede. Tussen die mense in, en reg voor Jesus.
Dink uself in hoe daardie verlamde man moes gevoel het op daardie moment.
Oorweldig deur die intensiteit van die oomblik.
Oorweldig deur wat hy so pas sy vriende sien doen het. Hulle liefde wat hulle gedryf het om tot hierdie uiterste te gaan. Vir hom.
Trane wat by sy wange afrol
Oorweldig deur die aanwesigheid Jesus wat reg langs hom staan.
Die deernis in Jesus se oë, soos hy hom in die oë kyk.
Die verlange daarna, die vooruitsig - dis tasbaar naby - om binne enkele oomblikke weer op sy eie twee voete te kan loop.
“En toe [Jesus] hulle geloof sien, (Vers 20) sê Hy vir hom: Mens,
jou sondes is jou vergewe.”
----------------------------
Ek het nie ‘n idee wat die man sou dink toe hy hierdie skokkende woorde gehoor het nie.
- Here, ek is hier omdat ek nie kan loop nie
- Of - vir dieselfde geld - wow die Here kan tot reg in my hart kyk.
Ons weet nie.
Maar ongeag wat die man self op hierdie oomblik dink - dis duidelik wat Jesus sê.
Vir almal om te hoor (en onthou die deskundiges sit daar) sê Jesus dat hierdie man wat voor Hom op die bed lê, se diepste nood nie die feit is dat hy nie kan loop nie. Sy diepste nood is sy sonde.
En Hy wat Jesus is, het gesag om sy sonde te vergewe.
Die eksperte verstaan ook presies wat Hy sê.
Onmiddellik begin in hulle harte te redeneer: Wie dink hierdie mens is Hy? Dis godslasterlik! Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?
In ‘n sekere sin is dit wat die fariseërs en die skrifgeleerdes dink heeltemal waar. Dit wil sê die grond van hulle argument is reg. Dis waarvan ons vanoggend ook na die wet gesing het. Alle sonde is uiteindelik teen God. Dus God alleen het gesag om sondes te vergewe.
Hulle uitgangspunt is Bybels. Maar hulle konklusie is nie.
Hulle spring tot die konklusie dat Jesus laster.
Maar die alternatief is dat Hy beweer om iets te doen wat slegs God kan doen, omdat Hy self God is.
En Jesus weet bitterlik goed dat hulle verstaan wat Hy sopas beweer het.
En dan trek Hy nog twee strepe daaronder:
- Hy lees hulle harte (vers 22). Ook iets wat God alleen kan doen.
- En Hy noem Homself, vir die eerste keer in Lukas, "Die Seun van die mens" in vers 24. Die messiaanse titel wat verwys na die geheimsinnige, God-mens figuur van Dan. 7 aan wie ewige heerskappy en eer en koningskap gegee is wat nie vernietig sal word nie - wie al die volke en nasies en tale vereer.
So Sy bewering tot Godheid is glashelder.
Maar die fariseërs en skrifgeleerdes dink natuurlik - praatjies maak is goedkoop. Enigiemand kan sê jou sondes is vergewe. Enige iemand kan sê hy is God. Dit maak dit nie waar nie.
So Jesus dan sê in vers 23: “Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop?”
Wat Jesus hier sê is eintlik bietjie van ‘n raaisel. Want daar is verskillende vlakke van diepte in die vraag.
In die mees basiese sin is altwee dinge presies ewe maklik om te sê.
Die woorde het nou net ewe maklik uit my mond gekom.
Maar dis natuurlik nie wat Jesus bedoel nie.
Die fariseërs en skrifgeleerdes sou dink - dis baie makliker om te sê: “jou sondes is jou vergewe” want niemand kan nagaan of dit gerealiseer het nie. Maar dis moeilik om te sê “staan op en loop” want as dit nie realiseer nie, dan weet ons direk jy’s ‘n leuenaar.
Maar as ons in gedagte hou Wie hierdie woorde sê, dan weet ons dat die eerste sin eintlik veel moeiliker is om te sê as die tweede sin.
Want as dit waar is dat Jesus die Almagtige God is,
- Hy deur Wie die Hemel en aarde geskape is;
- Hy wie die fonteine van die aarde en die sluise van die hemel beveel, en hulle bedek die aarde met ‘n watervloed.
- Hy wie die see in twee kan kloof
- Die son kan laat stilstaan, en selfs terugdraai
As dit Hy is - dan is die genesing van ‘n verlamde man niks.
Maar wat het dit Hom gekos om “jou sondes is jou vergewe” waar te maak?
Hy, die allerheiligste God moes absolute vernedering ondergaan.
Hy moes mens word.
Hy is verwerp en bespot;
Gespoeg en gegesel;
Hy is gekruisig en deur Sy hemelse Vader verlaat.
Hy moes die angste van die hel deurgaan.
Dit is wat dit Hom gekos het.
En daarom het Hy volmag om sondes te vergewe.
Nie net die sondes van die verlamde man nie, elkeen wat in Hom glo.
Glo u dit, geliefde gemeente? Glo u dat Christus nie net u sondes kan vergewe nie, maar dat Hy dit ook graag wil doen?
As u twyfel - onthou die onbeskryflike duur prys waarmee Christus u losgekoop het. Dis ‘n prys wat Hy reeds, gewilliglik vir Sy geliefde vriende betaal het.
Hoe sal Hy dan iemand wegwys wat swak en gebrekkig, in geloof na Hom toe kom?
Paulus (wie terloops ook op ‘n stadium een van die fariseërs was); hy bemoedig ons so in Romeine 8:
[As God] selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
33Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
35Wie sal ons skei van die liefde van Christus?
Ons sou die preek hier kon eindig.
- Maar die verlamde man en die deskundiges hang nog aan ‘n lyntjie.
Sal Jesus Sy Goddelike gesag om sondes te vergewe, voor sy kruisdood vir hulle bewys? Sal Hy die man genees?
Jesus sê vir hulle in vers 24:
(En dit moes die spyker in die kis vir hulle wees)
Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.
25Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waar hy op gelê het, en gaan na sy huis, terwyl hy God verheerlik.
26En verbasing het almal aangegryp (hierdie “almal” verwys na die skare as ‘n geheel, en nie na die fariseërs en skrifgeleerdes spesifiek nie - in die volgende paar preke sal ons sien hoe hulle harte net harder word.), en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.
Is dit nie wonderlik nie? Met ‘n enkele daad van genesing, bevestig Jesus alles wat Hy gesê het, en Hy gee vir die gelowige man ‘n voorsmakie van die wonderlike werklikheid wat hom te wagte is.
Ek sê voorsmakie, want twee merkwaardige dinge het hierdie dag met hom gebeur.
Christus het van sy diepste nood gered
sy sondes is vergewe; en dis ‘n realiteit wat vir altyd by hom sal bly.
En hy is ook van sy lamheid genees.
Maar dit was ‘n realiteit wat kortstondig was. Want as die man nog ‘n hoë ouderdom sou bereik, dan sou hy weer die aftakeling van die liggaam wat Jesus genees het, ervaar.
Op ‘n stadium sou hy moeiliker begin loop, later sou hy slegs kort afstande kon doen, en uiteindelik dalk weer net tot sy bed beperk wees.
Maar selfs in daardie tyd sou hierdie man mog bly vashou aan die feit dat God sy sondes vergewe het. Want hierdie werklikheid bring hoop wat bo ons verganklike lewe uitstyg.
Omdat God ons sondes vergewe het, deur die geloof, sê Filippense 3 -
is ons burgerskap in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
21wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.
Dit is die belofte wat God aan elkeen van ons gee.
In hierdie lewe mag ons liggame dalk gebuk gaan onder die las van gebreekte bene en arms. Siekte en lamheid en pyn.
Maar wanneer ons aardse stryd verby is.
Verwag ons die ewige lewe op die nuwe aarde,
in ons vernuwe, onsterflike, en onverganklike liggame, nie net finaal vry van enige kwaal nie, maar finaal vry van sonde.
Geliefde Gemeente - vir hierdie ongelooflike dinge is daar net een gepaste reaksie (soos ons sien by die man in ons teks) - en dit is om God te verheerlik.
Amen
Lees: Daniël 7 : 9 – 14
Teks: Lukas 5 : 17 – 26
Sing: Psalm 99 : 1, 2, 5
Psalm 51 : 1, 2
Skrifberyming 2 : 1, 3
Lied 239 : 1 – 4. (Jesus, Rots vir my geslaan)
Psalm 103 : 1, 2, 6