Die profesie as kompas na die heerlike toekoms

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-08-24
Teks: 
Daniël 11:36-12:3
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 11.36-12.3

 

Deesdae, as mens na ‘n onbekende plek moet ry, is dit maklik om Google Maps aan te sit.

Daar is ook ander navigasiesisteme, Garmin, ensovoorts.

Meestal stem hulle ooreen, maar nie altyd nie.

Soms maak hulle foute, wat kan sorg dat jy te laat by jou bestemming kom, of dalk opeindig in ‘n gevaarlike area.

In hierdie lewe is die Bybel ons Kompas.

En meer spesifiek, die verskillende Bybelboeke is elkeen ‘n unieke kompas, maar wat tog saam elkeen op eie manier, na die toekoms wys – dieselfde toekoms.

 

In vandag se preek gaan ons veral sien dat ‘n profesie verskillende lae het.

Ek bedoel dit: Die profesie wat Daniël ontvang het was bedoel om God se volk te troos en rigting te gee in die intertestamentêre periode – dus nou tussen Ou en Nuwe Testament.

Tog gaan die profesie oor meer as dit.

Dit wys ook op dae wat selfs vir ons nog toekoms is.

Ons, oor wie die einde van die dae gekom het.

Die feit dat ‘n profesie verskillende lae kan hê, het daarmee te make dat die bron van elke Bybelse profesie God self is.

Hy ken die toekoms, Hy vorm die toekoms.

Daarom moet dit ons nie verbaas dat die profesieë handel oor dinge wat ons nog nie weet nie.

As Jesaja profeteer dat ‘n maagd (Jes 7:14) sal swanger word en ‘n seun baar, dan profeteer hy oor iets wat in sy tyd – ek bedoel in die Outestamentiese jare – sou gebeur.

Maar terselfdertyd profeteer hy ook oor die koms van die Messias, gebore uit die maagd Maria.

Nog veel grootser is daardie profesie vervul in Christus.

 

Met hierdie besef lees ons ook Daniël.

Om dit goed te kan verstaan, fokus ons eers op die historiese omstandighede van die destydse intertestamentêre periode.

Ons kan dit nie net ignoreer en direk spring na die toekoms nie.

In daardie historiese konteks soek ons na die betekenis en verstaan ons die details van elke vers.

En as ons dit uitgedelf het, kan ons des te beter die betekenis verstaan vir die tye wat nou nog toekoms is.

 

Tema: Die profesie as kompas na die heerlike toekoms

1 Antiochus se laaste stuiptrekkings

2 Migael se finale deurbraak

 

1 Antiochus se laaste stuiptrekkings

 

Gemeente, ek wil eers net bietjie agtergrond gee oor Daniël, spesifiek vir die jongmense van Jakaranda Kinderhuis, wat ons gaste is.

Moontlik het julle al van die profeet Daniël gehoor.

Die verhale wat in die Bybel staan, oor wat met hom gebeur het.

Soos Daniël in die leeukuil.

Dat die koning hom in ‘n ondergrondse gat vol leeus gegooi het, maar dat die HERE die bekke van die leeus toegemaak het en Daniël het niks oorgekom.

En byvoorbeeld die verhaal van Daniël se vriende, wat geweier het om vir koning Nebukadnesar se goue beeld te kniel.

Die koning het hulle toe in ‘n brandende vuuroond gegooi.

Maar hulle klere het nie eers geskroei nie.

Daar was ‘n engel saam met hulle in die vuur wat hulle beskerm het.

Nou hierdie profeet Daniël het ook van die HERE visioene ontvang.

Ons noem dit profesieë.

Daarin het die HERE vir hom vertel wat daar gaan gebeur.

Hy moes dit vir die HERE se kinders gaan vertel, om hulle te troos.

Dat hulle kan weet, dat al kom daar swaar tye, dat die HERE tog vir hulle sal sorg en hulle sal beskerm.

 

Ons is nou besig met die laaste visioen wat die HERE aan Daniël openbaar het.

In die vorige preek oor hierdie visioen het ons gekyk na ‘n koning met die naam Antiochus.

Hy het homself Epifanes genoem – die verhewende, die goddelike verskyning.

Hy het geen ontsag vir tempels gehad nie, maar hulle leeggeroof.

So het hy ook gedoen met die ware God se tempel in Jerusalem.

Hy het selfs ‘n altaar vir die afgod Zeus bo-op die brandofferaltaar van die HERE gebou.

 

In vandag se teks sien ons hoe hy verder voortboender.

Hy verag die gode van sy voorouders, ook die liefling van die vroue, sê vers sê vers 37, dit wys op die afgod Tammaüs, die god van vrugbaarheid.

Al god wat hy vereer, was die Griekse god Zeus.

Maar hy verhef homself ook as god, omdat hy homself as ‘n verskyning van Zeus op aarde beskou het.

Is daar nie vandag ook konings en presidente op aarde wat die houding het asof hulle goddelik is nie?

Niemand met hulle teenspreek nie, hulle aanvaar nie kritiek nie ...

So kan hulle hulle eie land en selfs die wêreld in ellende dompel.

 

In die vorige preek het ons ook gehoor dat Antiochus baie slinks was.

Dieselfde sien ons weer in ons teks: Wie aan hom erkenning gee – dit wil sê wie hom vereer as god – sal hy oorlaai met eerbewyse (vers 39).

Hy sal aan hulle grond uitdeel as beloning (vers 39).

 

Maar, en dit is bemoedigend, sy einde is besig om nader te kom.

Daniël beskryf nog een episode – as ‘t ware sy laaste stuiptrekkings.

Die koning van die Suide – Egipte – ruk op teen die koning van die Noorde – dis nou hyself.

Antiochus monster sy weermag – strydwaens, perde, selfs skepe.

Hulle kies rigting suidwaarts.

Hulle kom deur Israel – die Pragtige Land – vers 41.

Soos wat hy daardeur kom, val daar baie slagoffers.

Maar hy is haastig om by Egipte uit te kom – dus ontspring Edom, Moab en Ammon die dans, sê vers 41.

In Egipte behaal hy ‘n klinkende oorwinning.

Hy raap al die skatte van goud en silwer op.

Hy dring ver deur na die suide en weste van Afrika – vers 43 noem die Libiërs en Kusiete.

Ja hy is op die toppunt van sy mag.

 

Maar dan kom die wending.

Vers 44 begin met die woordjie maar.

Maar daar is opstande in die ooste en noorde van sy ryk.

En omdat sy hele weermag nou in Egipte is, kan hy daardie opstande nie vinnig genoeg die kop in druk nie.

Hy is genoodsaak om terug te keer.

En op die terugpad kom hy weer deur Israel.

Hy slaan sy tente op tussen die see en die berg van die heilige Prag.

Laasgenoemde verwys na die berg Sion, waar die tempel was.

Maar tog het dinge nou teen hom gedraai.

Hoofstuk 11 sluit af met: “maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.”

Volgens die geskiedenisbronne het hy, juis toe hy daar in Israel was, siek geraak.

En met baie pyn en lyding kom hy aan die einde van sy lewe.

Is dit nie ‘n teken uit die hemel nie?

Die man wat hom tot god verhef het, word nou gefel in die land van die lewende God.

En dit terwyl sy hele weermag om hom was, maar die kon niks vir hom doen nie.

Niemand kan hom genees nie.

Niemand kan God se oordeel afwend nie.

Hy kom aan sy einde, en daar was vir hom geen helper nie.

Ook vandag kom daar ‘n dag wat elke president en koning sterf.

Hulle belangrik hulle ook oor hulleself dink, hulle bly sterflik.

 

So nader ons die einde van hierdie visioen.

Al duur dit lank, al is daar tye van wanhoop, die HERE stry vir sy volk.

Hy red hulle uit die wrede hande van Antiochus.

Want in die tyd word Migael opgeroep om op te tree.

Michael is ‘n engel, een van die hoofgeneraals van God se engeleleër.

Ja daar vind ‘n onsigbare stryd plaas wat elke oorlog op aarde se uitkoms bepaal.

Migael is die aanvoerder van God se leërskare.

Hy stry teen die duiwel en sy demoniese onderdane.

 

Gemeente, moenie dit vergeet nie:

Daar is ‘n onsigbare stryd wat elke oorlog op aarde se uitkoms bepaal.

Oorloë op grootskaal, soos tussen wêreldmagte.

Maar ook oorloë op klein skaal – dalk in jou eie lewe.

Die duiwel en sy magte is slinks, skelm, hulle probeer jou lewe inpalm met swaarkry of dalk juis met lekkerkry.

Moenie naïef wees nie.

Bly bewus van die onsigbare stryd.

Daar word gestry oor wie invloed het op lande en regeringshuise.

Daar word ook gestry oor wie invloed het op jou liggaam, en op jou siel.

Bly dapper, bly nugter.

Migael en sy magte is ook daar.

En bo hulle staan Christus, die hoogste Aanvoerder in die stryd.

Ons sien Antiochus kry sy laaste stuiptrekkings.

En is dit nie ook wat besig is om te begin gebeur met die duiwel en sy magte  nie?

Gelukkig maar!

Want onthou, Migael, die groot vors, is nog steeds daar.

Geslagte kom, geslagte gaan.

Konings en presidente staan op, konings en presidente gaan ten onder.

Maar deur al die eeue bly Migael stry.

En so sal dit deurgaan tot in die verre toekoms, tot aan die einde van die tyd.

 

Daniël se profesie beskryf koning Antiochus as die een wat homself verhef en groot hou bo enige god, en teen die God van die gode verstommende dinge kwytraak.

Antiochus is wat dit betref ‘n prototipe vir die antichris.

Paulus voorspel oor die antichris in 2 Thessalonisense: “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” (2 Thess 2:3-4)

Paulus se woorde sluit nou aan by die woorde van Daniël se visioen.

Laat ons wel besef, gemeente, dis nie net verre toekoms nie, dis ook hede.

Soos die apostel Johannes waarsku: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.” (1 Joh 2:18)

Antichris beteken letterlik: teen-Christus.

Mense of bose magte wat teen Christus en sy volgelinge stry.

 

En soos daar in die verlede ’n deel uit God se volk was wat sterkgestaan het, wat dapper was, so is dit ook in die hede en sal dit in die toekoms wees.

God sal sy getroues bewaar.

Die profesie wys daarop dat Migael, Christus se hoofaanvoerder, steeds daar sal wees.

Al sal dit ‘n tyd wees van benoudheid, soos daar nog nie was nie, tog sal hulle gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.

 

Dis opvallend dat ons Here Jesus Christus tydens sy lewe op aarde juis na die tyd van Antiochus Epifanes verwys – daardie tyd toe die Jode deur groot benoudheid gegaan het – as Jesus profeteer oor die toekoms.

Hy sê in Mattheüs 24: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet” (vers 15).

En dan kyk Christus na die toekoms as Hy sê:

“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! --moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” (Matt 24:21-24)

Hierdie profetiese rede van Christus het ook verskillende lae.

Dit beweeg van ‘n voorspelling van die verwoesting van Jerusalem – stad en tempel – verder na die tye van die einde.

Dink aan die volgende woorde: “dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.” (vers 30)

 

So stem Christus se profetiese rede, vlak voor sy kruisiging, ooreen met Daniël se profesie.

Dit bou daarop voort.

En dis nie verwonderlik nie, want Christus was self die Man wat destyds aan Daniël verskyn het en die visioen aan hom openbaar het

En daarom is die Bybelboek Daniël vandag nog steeds vir gelowiges ‘n kompas.

Ons bestudeer Daniël, ons delf in die historiese omstandighede wat daar geskets word, en daar word gepreek uit Daniël, en dit word toegepas.

Want dis nie net Daniël se menslike mening, dis nie sy persoonlik visioene nie.

So wys Daniël se profesie uiteinlik op die oordeelsdag, oftewel die bevrydingsdag.

Die voortgaande stryd van Migael tot op daardie dag – ja sy finale deurbraak.

 

(Tema: Die profesie as kompas na die heerlike toekoms

1 Antiochus se laaste stuiptrekkings)

 

2 Migael se finale deurbraak

 

Ja die engel Migael se aktiwiteit word ook beskryf in die Nuwe Testament, net soos in Daniël.

Dink aan die Bybelboek Openbaring:

“En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus” (Openb 12:7-10).

Dink ook aan 1 Thessalonisense 4:16: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel [dink aan Migael wat ’n aartsengel is] en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.”

 

Ons hoor hier soortgelyke woorde as in ons teks:

“baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak.” (vers 2)

Ook hoor ons van ‘n onderskeid: die wat in Christus gesterf het, word onderskei van die ander.

Soos ons teks sê: “sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (vers 2)

Dit word bepaal op grond van die boek van die waarheid.

Elkeen wat in daardie boek opgeskrywe staan, sal gered word.

Ons lees weer oor hierdie boek in die Nuwe Testament.

Die boek van die waarheid is die boek van die Lam – die “boek van die lewe van die Lam”, soos daar in Openbaring staan (Open 21:27; 13:8).

Wat ‘n voorreg as jou naam staan in die boek van die waarheid!

 

Die profesie in ons teks eindig met hierdie vooruitsigte.

En soos ek genoem het, dit het verskillende lae.

Daar was die dag toe die verdrukking onder Antiochus Epifanes tot ‘n einde gekom het.

Maar hierdie visioen wys nog verder.

Dit eindig met ‘n asemrowende vergesig, wat raak aan die einde van die tye!

 

So kyk ons met afwagting na die toekoms, net soos Daniël.

Die oorloë op aarde, en die stryd daaragter – tussen die bose geeste en Christus se leërmagte – sal voortduur, maar net tot op ‘n vasgestelde tyd.

En dan gaan daar groot dinge gebeur.

Christus sê in Johannes 5: “daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” (vers 28-29)

 

Dan kom ‘n pragtige tyd.

Daniël skryf: Die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel.

Hulle wat baie tot regverdigheid gelei het, soos die sterre vir ewig en altyd.

Met hierdie laaste opmerking kan mens dink aan iemand soos Judas Makkabeüs, wat dapper die leiding geneem het teen die afgodery van Antiochus.

Hy het baie mense ‘tot regverdigheid gelei’, tot regverdige en dapper optrede, in die sin dat hy goeie leiding gegee het.

Laat ons die Here bid dat Hy ook vandag sulke leiers aan die sy kerk skenk, wat dapper is, wat leiding gee in die regte rigting.

Maar gemeente, by hierdie woorde kan ons nog veel meer dink aan ons Here Jesus Christus.

Want as daar Iemand is wat baie tot regverdigheid lei, is dit Hy.

En daarom: Hy sal skyn soos die sterre vir ewig en altyd!

En Jesus sê oor die wat Hy regverdig gemaak het: “Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.” (Matt 13:43)

 

Ons teks gaan dus deels oor die tyd van Anitochus Epifanes en die jare wat daarop sou volg, maar terselfdertyd kom daar ook vergesigte op ‘n verre toekoms.

Sommige dinge is nog wasig, sommige uitsprake hier in Daniël se profesie, en net so in Openbaring, maar dit sal in die toekoms begin sin maak, soos wat dinge gebeur.

As jy gaan reis na ‘n verre land waar jy nog nooit was nie, berei jy jouself voor deur byvoorbeeld meer inligting in te samel oor daardie land.

Iets te lees oor daardie land – sy natuur, sy mense, sy stede, ensovoorts.

Tog sal alles eers sin maak, soos ‘n legkaart inmekaar pas, as jy self daar is.

Al die los stukkies inligting sal dan inmekaar pas.

So het ons vandag ook brokkies inligting oor wat ons te wagte staan.

Ons sien uit na die dag as ons daar aankom, en as die wat reeds ontslaap het, sal opstaan.

Dan sal alles sin maak, al die brokstukkies inligting sal dan in plek val.

 

Laat ons in die tussentyd lewe met die profesieë as ons rigtingaanwyser, kompas in die lewe.

Net soos die vromes destyds.

Dink aan Simeon, wat regverdig en vroom was en die vertroosting van Israel verwag het – soos die profesie voorspel het – Lukas 2:25.

Dink aan Josef van Arimathea, wat – ooreenkomstig die profesie – ook die koninkryk van God verwag het – Markus 15:43.

Leef saam met die Bybelse profesieë, laat hulle jou lewensrigting bepaal.

Bly gefokus, die oë gerig op die horison, op die terugkeer van ons Here Jesus Christus.

Baie keer leef ons veels te min met daardie verwagting.

Veels te min laat ons daardie toekomstige werklikheid ons doen en late in die hede bepaal.

Maar dis die moeite werd, ook as dit swaarkry in die hede inhou.

Soos Jesus aan ons voorhou:

“elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.” (Matt 19:29)

 

Die dag het gekom waarop Judas Makkabeüs die tempel bevry het, dit was ‘n dag van gejuig.

Judas Makkabeüs kon dit regkry, omdat agter die skerms Migael ‘n deurbraak gemaak het.

Maar dit was nog nie sy finale deurbraak nie.

Want daar kom nog ‘n groter dag, waarop Christus sal skyn soos die sterre vir ewig!

En elke aardbewoner sal dit sien en sy heerskappy moet erken.

En saam met Hom sal sy regverdiges ook skyn soos die son.

En dit in die heerlike koninkryk van die Vader.

Geliefde broer, suster, onthou, Migael, die groot vors, staan julle by.

Christus het hom aangestel om oor julle te waak.

Hy gee nie die stryd op nie, die dag van die finale beslissende bevryding kom vinnig nader.

Hou moed, gee julle ook nie die stryd op nie!

Hou jou kompas, jou lewensrigting, op hierdie einddoel!

Saam wys die Bybelboeke – die profesieë van Daniël, en Mattheüs, en Openbaring – as rigtingaanwysers na hierdie toekoms.

Aan die hand van hierdie Kompas – God se Woord – mag ons verder lewe rigting hierdie toekoms.

Ons sien baie uit na die finale deurbraak, die finale oorwinning.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 24:4,5

Wet

Ps 119:53,58

Gebed

Skriflesing: Daniël 11:36-12:3

Ps 110:1-5

Skriflesing: Mattheüs 24:15-31

Ps 110:6-8

Teks: Daniël 11:36-12:3

Preek

Sb 12:1-4

Gebed

Kollekte

Ps 138:2,4

Seën