Deur die skrywe van Lukas aan Theófilus gee God ons sekerheid in Jesus Christus.

Predikant: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2025-01-19
Teks: 
Lukas 1:1-4
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.

Is u bekend met onsekerheid?

Het u al ooit getwyfel of God regtig bestaan, dat Hy regtig die Bybel geïnspireer het, of dat alles wat daarin staan regtig waar is?

Miskien het u al met iemand gesels wat nie glo nie, en dit het u laat twyfel.

Dalk het u dinge gehoor soos -

  • Daar is geen bewyse dat God bestaan nie
  • Daar is geen bewyse dat daar al ooit ‘n wonder gebeur het nie
  • Alles wat bestaan kan op ‘n naturalistiese manier verduidelik word
  • Geloof is net iets wat mense uitgedink het om ander mense te beheer, en hulle geld te steel.
  • Of: mense glo maar net omdat hulle nie die harde realiteite van die wêreld, soos die dood, in die gesig kan staar nie.

In ‘n wêreld waar so ‘n uitgangspunt normaal geword het, is dit maklik om self te begin twyfel.

  • Ja, is dit werklik rasioneel om in God te glo?
  • Is dit regtig rasioneel om te glo in wonderwerke? In ‘n maagd wat swanger word, dat Christus opgestaan het uit die dode?
  • Wat as dit waar is dat ons hier net besig is om onsself te flous? Is ons eintlik net besig om ‘n show op te sit?

Twyfel is ‘n nare ding. Dis soos onkruid.

  • Hierdie jaar sukkel ek verskriklik om my groenteplantjies aan die lewe te hou, maar my onkruid - sjoe, dit floreer!
    • Die ding van onkruid is, dat dit maklik groei. Jy plant dit nie eens nie, en dit kom orals op.
      • en as jy dit los, dan neem dit oor en verdring alles anders.
    • Daarom mens aktief veg teen jou onkruid - dit uitrek sodra dit opkom.

Dieselfde geld vir twyfel. Mens moet dit nie los tot dit alles anders verstrengel het nie.

Maar hoe trek mens twyfel uit? Wat is die teenmiddel?

As dit waar was dat geloof irrasioneel is, dan sou die antwoord teen twyfel miskien kon wees om net so hard as moontlik te probeer om alle feite te ignoreer, en net blindelings te glo, al sê jou kop iets anders.

Maar die Bybel leer ons - en dis ook wat ons vanoggend in ons teks sien - dat geloof nie irrasioneel is nie. Geloof is nie die aksie om sonder enige feite, of selfs teen die feite in, aan ‘n idee vas te klou vir al wat jy werd is nie.

Nee, geloof is juis ‘n vaste vertroue wat gebaseer is op feite.

Toe ek en Dominee Bruintjes gesels het oor waar ons ons reeks uit Lukas wil begin, het ons die moontlikheid oorweeg om te begin ná Lukas se Kersfees verslag - - ons het immers sopas Kersfees gevier.

Maar as ons dít sou doen, dan sou ons die hele doelstelling van Lukas se evangelie mis.

Lukas begin immers, anders as die ander evangelies, met ‘n voorrede waarin hy self uitspel wat sy doel met sy skrywe is.

Hy sê: (ek het dit goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek alles noukeurig ondersoek het wat onder ons al vervul is, om dit in volgorde te skrywe (parafrase)), “sodat (vers 4) u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.

Dit is Lukas se doel wanneer hy die evangelie skryf. Om vir Theophilus, en indirek vir ons, sekerheid te gee in die dinge wat God in Jesus Christus tot vervulling gebring het.

En daarom begin ons ons series in Lukas 1:1-4, onder die tema:

 

Deur die skrywe van Lukas aan Theófilus gee God ons sekerheid in Jesus Christus.

  1. ons gaan eers bietjie kyk na die agtergrond van die evangelie
  2. en dan wil ek ‘n paar aspekte van ons teks uitlig.

 

Die evangelie volgens Lukas is ‘n unieke dokument.

  • Dit is die langste van die vier evangelies,
  • dit bevat baie materiaal wat slegs in hierdie evangelie gevind kan word,
  • en dit is ook die enigste een wat ‘n tweede volume het.

Lukas is volume 1, en die boek Handelinge is volume 2. (In ons Bybel word die twee onderbreek deur die evangelie van Johannes,) maar is Lukas en Handelinge een verhaal, geskryf deur dieselfde hand, gerig aan dieselfde ontvanger, Theófilus.

Nou die vraag is: hoe kan ek glo wat hierin staan?

En die hoofrede is natuurlik dat die Heilige Gees dit geïnspireer het.

Petrus sê in 2 Petrus 1:21: geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

NGB Art 5 sê verder oor die boeke van die Bybel: Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, … veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

Dit is sonder twyfel en onvoorwaardelik ons uitgangspunt. Die Heilige Gees het elke boek van die Bybel geïnspireer.

Maar dit ondermyn nie die feit dat die dokumente in die Bybel ook historiese dokumente is nie. Elke boek van die Bybel is ‘n dokument wat sy ontstaan in geskiedenis het, deur die hand van ‘n mens wat regtig geleef het, en wie sy eie karakter gehad het.

Salomo was iemand anders as Samuel, Mattheus skryf anders as Markus, Paulus lê ‘n ander klem as Petrus.

Terwyl elke persoon die onfeilbare en geïnspireerde woorde van God neergeskryf het, gebruik God daardie spesifieke individu se omstandighede, sy opvoeding, sy karakter om ‘n unieke dokument aan sy kerk te gee.

Een van die doele van hierdie preek, is om ons opgewonde te maak vir die reeks preke uit Lukas, en om gedagtes te prikkel - wie was hierdie skrywer, wat was sy omstandighede, hoekom het hy hierdie dokument opgestel, wat sou dit alles behels, en hoekom het God hom daartoe gelei?

En ek hoop dat u tot só ‘n mate opgewonde sal wees dat u hierdie week tyd sal neem om Lukas en Handelinge deur te lees. Indien moontlik - ononderbroke.

Ek weet dit sal baie tyd vat, maar u sal baie daardeur verryk word. Miskien kan u daarna luister op die Bible app soos u elke dag werk toe ry of voor u gaan slaap.

 

‘n Baie interessante eienskap wat u sal raaksien in die boeke Lukas-en-Handelinge, is dat die menslike auteur self nie ‘n ooggetuie van Jesus was nie.

  • Dit sien ons al in ons teks - die outeur probeer nie voorgee dat hy van die begin af daar was nie.

Maar hy kom later self wel in die verhaal. As iemand wat baie nou verbind aan die apostel Paulus was - ‘n getroue metgesel van Paulus op sy reise.

Deur die loop van die evangelie en Handelinge skryf hy heeltyd oor die gebeure in die derde persoon, maar dan, vanaf Handelinge 16 waar Paulus in Troas is, begin hy aan-en-af in die eerste persoon skryf. Ons het so-en-so gemaak. Ons was versekerd hieroor, ons het afgevaar daarheen, ons het by die plek oorgebly, ens.

Dit alles kulmineer in daardie boeiende laaste hoofstukke van Handelinge waar die skrywer saam met Paulus na Rome vaar om oor die Keiser te staan. Hulle kom in ‘n verskriklike storm en moet met hulle eie hande skeepsgereedskap oorboord gooi, die ankers word afgesny en hulle lei skipbreuk. Uiteindelik kom die skrywer saam met Paulus in Rome aan, waar Paulus onder huisarres in sy eie huis woon vir twee jaar en die evangelie van Christus met vrymoedigheid en sonder verhindering preek. Die skrywer was daar saam met hom.

So wie was die skrywer van Lukas en Handelinge?

Die eenparige tradisie van die kerk, vanaf die vroegste tye, is dat Lukas die geneesheer die outeur van beide volumes is (En dis ook hoekom ons dit die evangelie volgens Lukas noem).

  • Dit is slegs in die afgelope 200 jaar of so dat mense dit onder twyfel bring.

Maar vanaf die vroegste jare was daar geheel en al geen dispuut nie.

Net binne die eerste 150 jaar ná Lukas het ons onder andere die oudste kopie van Lukas, Justin Martyr, Irenaeus, Tertullianus, en Clement van Alexandria wat almal getuig dat Lukas die skrywer is. En daar is geen getuienis wat anders beweer nie.

Dis nie super belangrik om te weet nie, (want ons glo in die eerste plek dat die Heilige Gees die woord geïnspireer het,) maar dis wel lekker om te weet wie die menslike outeur is, en dat hy betroubaar is.

 

So, wat weet ons van Lukas?

Ons het reeds gesien dat ons van Handelinge weet dat Lukas nou verbind was aan Paulus.

En in die briewe van Paulus kry ons nog brokkies informasie van Lukas se persoon en karakter.

Ons het die 3 skrifgedeeltes wat Lukas by naam noem, voor die preek gelees.

Ek het genoem dat Kolosense en Filémon ongeveer in dieselfde tyd geskryf is deur Paulus in daardie tyd toe hy in Rome onder huisarres gehou is - die tydperk waarmee Handelinge eindig.

In die twee briewe is dit duidelik dat Lukas ‘n mede-arbeider van Paulus was, dat hy ‘n dokter was - (die geliefde geneesheer,) en dat hy waarskynlik ‘n Christen uit die heidendom was.

In 2 Timoteus, die laaste brief wat Paulus geskryf het vlak voor sy dood, het ons iets van Lukas se getrouheid en liefde gesien. Waar almal anders Paulus verlaat het, en sommige selfs afvallig geword het, het Lukas alleen by Paulus gebly. Tot die einde toe.

In die kerkvaders is daar nog meer informasie oor hom, maar vir hierdie preek kan ons dit hier laat.

Dit is dan die agtergrond van die evangelie van Lukas.

---------------

En met hierdie agtergrond in gedagte, kom ons kyk nou na die teks self - die woorde waarmee Lukas sy evangelie open. Ek wil u aanmoedig om in u Bybels hierheen te blaai.

Hier wil ek net kortliks drie aspekte van ons teks uitlig:

  1. Waaroor Lukas wil skryf
  2. Die metode waarop hy te werk gaan
  3. En die rede hoekom hy dit alles wil doen.

In vers 1 sê Lukas dat baie onderneem het om 'n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is.

Let op dat die sinsnede in lydende vorm is. Dinge is onder ons vervul.

Hiermee gee Lukas erkenning aan die feit dat die dinge waaroor hy wil skryf nie iets is wat deur mensehande in beweging gebring is nie.

In sy tyd het God kragtig opgetree om die dinge wat in die OT geprofeteer is, in vervulling te bring. Dit was ‘n enorme moment in die geskiedenis.

 

Israel was onder die juk van die Romeinse ryk, en boonop was God al vir die afgelope 400 jaar stil. As daar al ooit ‘n tyd was wat mense kon twyfel sou dit so ‘n tyd gewees het. Het God van ons vergeet? Wat van al sy beloftes van vroeër? Sal dit nog ooit in vervulling kom?

Maar dan, na ‘n lang tydperk van afwagting, tree God op. En die lang tyd van stilte word onderbreek deur God se kragtigste daad in die hele geskiedenis van die mensdom. Kragtiger as die groot vloed. Kragtiger as Sy verskyning in vuur en bliksemstrale op die berg Sinai, kragtiger selfs as die skeiding van die Rooisee en die terugdraai van die son.

God self het mens geword in die persoon van Jesus Christus, om die verlossing van die mens te bewerk.

Waaroor wil Lukas skryf in sy evangelie? Dit.
Met die risiko van oorvereenvoudiging, dink ek dat daar ‘n mooi sin in Lukas 19 is wat die hele inhoud van die evangelie saamvat.
Daar sê Jesus: die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.

Wanneer u Lukas lees, kyk of u dit kan raaksien. Die hele evangelie volg ast’ ware hierdie patroon. Die Seun van die mens het gekom (dit is die eerste 3 hoofstukke), om te soek (dis die middel hoofstukke) en te red wat verlore was (die laaste 3 hoofstukke).

Dit is waaroor Lukas wil skryf - Jesus Christus as ‘n vervulling van God se beloftes - die Seun van die Mens wat gekom het om te soek en te red wat verlore was.

Kom kyk nou na sy metode waarop hy te werk gaan.

Vers 1 begin met die woord “aangesien.”

Dis ‘n snaakse manier om die teks te begin. “Aangesien” baie mense al iets geskryf het, gaan ek dit ook nou doen? Dis snaaks?

Maar ons moenie vassteek teen hierdie woord nie. Die Griekse woord agter “aangesien” is ‘n akademiese woord - ‘n professionele manier om ‘n skryfstuk te begin. Die woord getuig eintlik van Lukas se bekwaamheid as ‘n skrywer. Hy is ‘n akademiese man, en hy skryf soos een. (nie in 2020)

In elk geval is dit duidelik dat teen die tyd wat Lukas skryf, daar al baie mense was wat hulle ooggetuie-verslae van Jesus neergeskryf het. Die feit dat Lukas die woord “baie” gebruik, kan daarop dui dat daar heelwat sulke ooggetuie-verslae was. Maar hy kan ook verwys na die ander evangelies wat reeds in sirkulasie was.

Maar dit is belangrik dat wanneer Lukas skryf, hy nie die ander evangelies wil ondermyn, asof hulle iets kortkom of nie die Woord van God is nie. Inteendeel, hy noem hierdie ooggetuies “dienaars van die Woord.”

Maar Lukas voel gedrewe om iets uniek na die tafel te bring.

Elke evangelie is geskryf met ‘n spesifieke gehoor in gedagte met ‘n spesifieke invalshoek en doel - en so het Lukas ook sy eie invalshoek en doel.

Wat hy graag wil doen, vanuit ‘n wetenskaplike benadering, is om alles self, soos ‘n goeie speurder of joernalis, noukeurig te gaan ondersoek by almal wat ooggetuies van die lewe en dade van Jesus was, om hulle getuienisse eerstehands te hoor, en om dit dan alles in volgorde te skrywe - vers 3.

‘n Enorme taak.

U kan uself indink hoe hy by die apostels een vir een gaan aanklop het, hulle neergesit het en hulle geprobe het met vrae.

Die herders wat die engele gesien het, Maria, Jesus se ma. Sagaria en Elisabet, die ouers van Johannes, Saggeus, die Emmaus gangers, Maria en Martha, die hoofman van Kapérnaüm, die weduwee van Nain en haar seun wat uit die dode opgewek is, Josef van Arimathéa, sommige die 500 broers van wie Paulus in 1 Korintiers 15 skryf dat Jesus tegelyk aan hulle verskyn het.

Nie eens om te praat van die menigte mense wie Jesus van allerlei siektes en kwale genees het nie.

Dit is almal mense wie, as hulle nog geleef het, toeganklik was tot Lukas.

Dink net aan die enorme groot taak. En dit was slegs die helfte van die werk, want nadat hy al sy inligting bymekaar gekry het moes hy nog deur al die materiaal te gaan, dit sorteer, en toe nog saam stel in een koherente dokument.

Want dit is sy wat hy vir Theofilus sê: ek het alles in volgorde aan u geskrywe. As ons dink aan iets wat in volgorde is, dan dink ons aan iets wat chronologies is.

Maar die Griekse woord wat Lukas gebruik beteken nie noodwendig dat alles in die presiese chronologiese volgorde is waarin dit plaasgevind het nie. Die punt is liewers dat dit ordelik is. (Lukas volg hoofsaaklik chronologiese orde,) maar daar is definitief gedeeltes wat meer tematiese orde het. U sal dit agterkom wanneer u die evangelie lees.

Die resultaat van al Lukas se moeite en noukeurige werk, die vrug daarvan, het u nou in u Bybel. ‘n Noukeurig nagevorsde dokument wat met sorg saamgestel is.

 

U kan gaan lees presies wat sy noukeurige ondersoek opgelewer het. Wat Maria gesing het toe die engel aan haar verskyn het, hoe Saggeus homself bekeer het - - gaan maar by die lys af.
Maar die toppunt van alles: u kan met sekerheid lees wat die ooggetuies self meegemaak en gesien het daardie Paasnaweek toe Jesus gekruisig is.

Lees dit gerus, aan die einde van die kruisigings verhaal in Lukas 23: En al sy bekendes het ver weg gestaan. Ook die vroue wat Hom van Galiléa gevolg het, het hierdie dinge gesien.

En wanneer hulle hom in die graf neerlê: die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was.

Dit is hierdie vroue wat in die volgende hoofstuk, op die opstanding Sondag, voor die graf staan en sien dat dit leeg is.

En hoe eindig vir evangelie van Lukas?

Net voor die hemelvaart verskyn Jesus aan die apostels en hy sê: Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.

En julle is getuies van hierdie dinge.

 

Dit bring ons dan, heel laaste, by: die rede hoekom Lukas dit alles wou doen.

En dit is ook die hele punt van die preek.

Lukas het deur al hierdie noukeurige werk gegaan, sodat Theófilus volle sekerheid kan hê van die feite waarin hy onderrig is - vers 4. Sodat hy met volle sekerheid Jesus Christus as sy verlosser mag ken.

In die afgelope 200 jaar het die historiese akkuraatheid van Lukas onder hewige skeptiese aanval gekom. Hierdie en daardie plek het nooit bestaan nie, leiers is nooit met hierdie en daardie titels geïdentifiseer nie, ens.

Maar soos argeologie gevorder het, is die akkuraatheid van Lukas tot in die fynste details oor en oor bevestig, sodat selfs sekulêre-historici-vandag erken dat Lukas ‘n uitstekende historikus was.

(u kan gerus ook gaan oplees oor William Ramsay, ‘n Britse argeoloog wat as ‘n ateïs in Klein-Asië gaan werk het om Handelinge verkeerd te bewys. Maar hy het tot die konklusie gekom dat Lukas ‘n historikus van die hoogste kaliber was - uitmuntend in sy akkuraatheid.

Maar as jy dit aanvaar, dan moet jy ook die volle implikasies aanvaar van wat Lukas geskrywe het. En dus het hy uiteindelik ‘n Christen geword, omdat hy oortuig geword het van die feite.)

Dit was Lukas se doel met sy skrywe aan Theófilus. Lees, Theófilus. Lees my noukeurige werk en weet verseker dat dit wat u lees betroubaar is.

En dit geld vir ons vandag ook.

------------

(Ons kan nie seker wees wie presies Theófilus was nie.)

Sommige verklaarders meen dat hy Lukas se sponser was om die evangelie en Handelinge te skryf.

Maar dis in elk geval duidelik dat Theófilus ‘n belangrike en invloedryke persoon was. Die feit dat Lukas hom aanspreek as “hooggeagte” Theófilus dui daarop. Dit is dieselfde woord wat Lukas in Handelinge vir die goewerneurs Felix en Festus gebruik.

Dalk was Theófilus self ‘n Romeinse goewerneur wat tot geloof gekom het.

Die punt is: hy het tot geloof gekom, hy het onderrig ontvang, maar hy het volle sekerheid te kortgekom.

Die naam Theófilus beteken “liefhebber van God” of “geliefde van God.”

Is dit nie pragtig nie?

Want dis presies waar vir ons vandag ook. Ons is ook liefhebbers van God; of geliefdes van God; en net soos Theófilus sukkel ons ook dikwels met kleingeloof.

Is dit regtig waar dat God mens geword het? Is daar regtig ‘n leë graf buite Jerusalem? Dit is moeilik om te glo. Nie net in ons tyd nie. 2000 jaar gelede het hulle ook geweet dat iemand wat gekruisig is, en ‘n spies in sy sy gekry het, nie veronderstel is om op te staan en later aan mense te verskyn nie.

Meeste van ons het ‘n uitstekende christelike opvoeding ontvang. Ons was in ‘n Gereformeerde laerskool, dalk selfs ook hoërskool (as ons van Pretoria af kom); ons het jare lank deeglike katkisasie onderrig gehad; --  en nogtans is daar oomblikke van twyfel. Oomblikke wat ons voel soos daai man in Markus 9 wat met trane uitroep: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!

God sê vanoggend vir ons in ons teks: my liewe kind - geliefde van God - ek is met jou swakhede goed bekend. Ek weet dat jy soms sukkel. Ek weet dat jy soos Thomas soms net met jou vingers wil voel dat dit alles waar is.

Daarom gee ek ook vir jou hierdie evangelie, geskryf deur my getroue dienskneg Lukas, wie selfs die blinde wêreld erken as betroubaar, sodat jy volle sekerdheid mag hê van die dinge waarin jy onderrig is.

Geliefde gemeente. Lees Lukas. Proe vir uself dat alles wat daarin staan waar is. God het dit vir u gegee sodat u Hom met volle sekerheid kan ken in Sy Seun Jesus Christus - Hy wie gekom het om die wat verlore is, te soek en te red.

Amen

Liturgie: 
  • Lees:
    • Filémon 22-25
    • Kolossense 4:7-18
    • 2 Timótheus 4:6-22
  • Teks:
    • Lukas 1:1-4
  • Sing:
    • Ps 145: 1, 2, 3, 5
    • Ps 119: 6, 7, 33
    • Psalm 12:6
    • Gesang 79:1, 2, 3, 5
    • Lied 435

Highlight die volgende aspekte soos die skrifgedeeltes gelees word:

Filémon en Kolossense is albei

  • ongeveer dieselfde tyd geskryf, gedurende Paulus se huisarres in Rome, Hand 28
  • deur Tíchikus en Onésimus na hul bestemmings gestuur;
  • Paulus verwag het, of tenminste gehoop het om vrygelaat te word;
  • daar is gelowiges saam met hom wat groete stuur,
    • Lig uit - Demas
    • en onder hulle is ook Lukas,

In die Filémon word hy geïdentifiseer as ‘n mede-arbeider,

Kolossense

  • word hy geïdentifiseer as die geliefde geneesheer.
  • Lukas is waarskynlik ‘n gelowige uit die heidendom (nie net het hy ‘n Griekse naam nie, maar hy word ook onderskei van díe wat uit die besnydenis is).

2 Timoteus.

  • Dit is die laaste brief wat Paulus geskryf, meer as 2 jaar na die ander twee briewe.
    • Dit is dus êrens na die einde van Handelinge.
  • Op hierdie woon Paulus nie meer in sy eie huis nie, maar is êrens in ‘n sel, en hy verwag hy dat hy doodgemaak sal word.

In hierdie gedeelte veral, sien mens die rou werklikheid van sy omstandighede.

  • lig uit - die egtheid van die geskiedenis. Probeer uself vir Paulus voorstel wat daar in ‘n koue, klam sel sit en skryf.
  • Timótheus, kom tog gou. (9) Kom voor die winter wanneer dit baie koud gaan word. (21)
  • bring my warm jas wat ek in Troas gelos het
  • Bring die boeke en die perkamente want die werk moet verder gaan (13)

En voel sy droefheid aan soos hy skryf

  • in (v16) dat almal hom in die steek gelaat het by sy eerste verhoor
  • Hoe Demas, wie in die ander twee briewe groete gestuur het, hom nou verlaat het “omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (10)

Maar, sê hy in (11), Lukas is alleen by my.

Lukas. Paulus se mede-arbeider, die geliefde geneesheer, sy getroue metgesel - hy het hom nog bygestaan terwyl alle ander hom verlaat het.