Vertel vir almal van die sprinkaanplaag

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-05-11
Teks: 
Exodus 10:1-20
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 10:1-20

 

Soms sien mens ‘n sprinkaan in die tuin.

Dit laat mens nie direk aan ‘n ramp dink nie.

Bruines, of groenes, soms helderkleuriges.

Maar dis maar soos met die ander insekte –vlieë, vlinders, krieke, miere, termiete ...

As dit goed is, is dinge in balans.

Maar as een soort te veel word, kan mens gaan gif koop om hulle te bestry.

Want inderdaad, een spesie moet nie hand uitruk nie.

En dat dit kan gebeur, bevestig die verhale oor sprinkaanplae uit die verlede.

Al kom dit vandag nog steeds voor, en word sommige Afrikalande waar daar nie sprinkaanplaagbeheer toegepas word nie, nog steeds so erg geteister dat dit kan lei tot hongersnood.

Vandag kyk ons na die sprinkaanplaag wat Egipte getref het, die agtste plaag.

 

Tema: Vertel vir almal van die sprinkaanplaag

- ‘n Onheilsboodskap vir Farao

- ‘n Bevrydingsboodskap vir Israel en sy nageslag

- ‘n Onheils- en bevrydingsboodskap vir die hede

 

- ‘n Onheilsboodskap vir Farao

Hoekom het die HERE Farao en sy dienaars se harte verhard?

Sy doel was, sê vers 1, sodat Hy al hierdie tekens kon verrig.

Die HERE is besig om ‘n mylpaal in die geskiedenis in te slaan wat nie gou vergeet sal word nie.

Die kombinasie van al tien plae sal so indrukwekkend wees, dat die Israeliete dit altyd sal onthou.

Hulle sal dit vir hulle kinders en kleinkinders vertel – vers 2 – sodat hulle ook kan weet dat Hy die HERE is.

 

Maar eers moet Moses en Aäron weer na Farao gaan om hom te waarsku.

Hulle konfronteer hom met sy onwilligheid.

En dan kom die aankondiging van die agtste plaag: sprinkane.

‘n Magdom aan sprinkane, donker wolke wat aangewaai kom.

En as hulle neersak, sal jy nie eers die grond kan sien nie.

Selfs al die bome sal gestroop word.

‘n Sprinkaanplaag was ‘n boer se grootste vrees.

Hulle het jou oes ‘toetentaal’ gestroop.

Een sprinkaan sal jy nie eers hoor vreet nie, maar as almal tegelyk knaag, klink dit soos ‘n simfonie-orkes.

Volgens bioloë eet ‘n sprinkaan per dag dieselfde hoeveelheid as sy liggaamsgewig.

Ongeveer 2 gram, wat nie baie is nie.

Maar as jy besef dat ‘n sprinkaanplaag bestaan uit miljoene der miljoene sprinkane, dan praat mens oor tonne en tonne voedsel wat hulle verslind.

Dit kan ‘n land in ‘n ommesien in hongersnood dompel.

Dit was die voorland vir Egipte, mog hierdie plaag hulle tref – ‘n hongersnood net om die draai.

 

Die Egiptenaars het ook van sprinkaanplae geweet.

Maar hierdie een gaan die moeder van alle sprinkaanplae wees.

Soos jou vaders en die vaders van jou vaders nog nie gesien het nie.

So kondig Moses en Aäron aan.

Selfs Farao en sy dienaars se huise sal vol van die ongediertes wees.

Die een ramp na die ander tref vir Egipte.

Die vorige plaag, die haelstorm, het alles afgeslaan.

Na ‘n haelbui, soos ons weet, is die grond bedek met ‘n tapyt van groen blare, wat van die bome afgeslaan is.

En nou kom die sprinkane om dit alles op te vreet, tot die laaste flentertjies.

Nog voor die boere die laaste bietjies van die gars en koring wat aan flarde geslaan is in veiligheid kon bring, sal die sprinkane daarop toesak.

 

Nadat Moses by Farao weg is, gebeur daar iets opmerkliks.

Ons het dit nog nie eerder gesien nie.

Die dienaars begin met Farao te redeneer, al doen hulle dit heel diplomaties.

Hulle maak asof Moses die probleem is, al is dit tussen die lyne duidelik dat Farao die probleem is.

Daar kom al hoe meer krake in die verset.

Selfs hulle smeek nou vir Farao om die volk te laat trek.

Farao moet sy beleid hersien.

Sy hardkoppigheid begin nou te veel te kos.

Ook vandag is politici soms so hardkoppig dat hulle hulle land in ‘n resessie kan dompel.

Farao se dienaars sien duidelik dit gaan nou die verkeerde kant op.

Besef u nie dat Egipte ten gronde gaan nie? sê hulle vir Farao.

Daar ontstaan verwarring aan die hof.

Farao besef die sentiment is besig om teen hom te draai.

 

Dus word Moses en Aäron weer teruggeroep.

Baie opmerklik, dit het ook nog nie eerder gebeur nie.

Die publieke opinie is besig om teen Farao te draai.

 

Daar vind ‘n redenasie plaas.

Dit loop daarop uit dat die vraag gevra word:

Wie is dit wat die HERE wil gaan dien in die woestyn?

Moses antwoord sonder omhaal van woorde:

Ons almal, van die jongmense tot die bejaardes.

Seuns en dogters, kleinvee en grootvee.

Die opsie dat net die mans tydelik die woestyn ingaan, dis uitgeslote.

Daar’s geen plek vir onderhandelinge op hierdie punt nie.

Ons almal moet gaan!

 

Gemeente, ‘n land wat vir mense verbied om sy landsgrense te verlaat, daar is iets fout met so ‘n land.

Dis vandag nog net so.

Daar is vandag ook lande wat sy mense verbied om die land te verlaat.

Dink aan Noord-Korea, dink aan Rusland.

Die ystergordyn is in die vorige eeu gebou sodat die mense nie vanuit Oos-Europa na die vrye Weste kon ontsnap nie.

As iemand dit gewaag het om oor die muur te klim, is hy daar en dan doodgeskiet.

Voor die afskaffing van slawerny is slawe verbied om te gaan en staan waar hulle self wou.

En so was dit dus ook in Egipte.

Farao dink steeds aan sy eie belang.

Hy vervies hom weer.

Dit sal nie so wees nie! skreeu hy.

Slegs die manne mag gaan, dis al.

Basies het dit beteken dat die vroue en kinders as gyselaars agter moes bly.

Sodat hy seker kon wees dat die mans na hulle vroue en kinders sou terugkeer.

Maar Moses en Aäron hou voet by stuk.

En toe word hulle weer weggejaag.

Farao en sy dienaars vervies hulle.

Moses en Aäron moes dankbaar gewees het met die toegewing.

 

Gemeente, het Farao werklik gedink hierdie eis van hom sou slaag?

Hy het in elk geval ‘n denkfout begaan.

Dalk was dit in die heidendom so, dat die mans verantwoordelik was vir die godsdienstige pligte.

Dat dit voldoende was as hulle die woestyn intrek om hulle godsdienstige pligte na te kom teenoor hulle God, ook namens die vroue en kinders.

Maar by die HERE, die lewende God, het dit nie so gewerk nie.

Elkeen in sy verbond – mans en vroue, ook die kinders, ja oud en jonk – almal is ewe belangrik.

En almal moet voor God verskyn.

Dit was toe net soos dit vandag is.

Die hele gesin gaan kerk toe.

Dis nie net pa wat gaan, of ma, terwyl die kinders tuisbly nie.

Die HERE wil sy hele verbondsvolk voor sy aangesig sien.

As die gemeente sing, wil Hy elke stem hoor.

Die kinderstemmetjies is vir Hom net so mooi en waardevol as die van die grootmense.

Daarom het Farao se voorstel nie indruk gemaak nie.

 

Genoeg rede vir die HERE om die volgende plaag te laat deurgaan.

Moses strek weer sy staf oor Egipte uit.

‘n Oostewind steek op, ‘n hele dag en nag waai dit.

Sprinkane is nie soos voëls wat teen die wind kan invlieg nie.

Hulle word veral saamgewaai met die wind.

Die windrigting bepaal waarheen hulle gaan, watter gebiede hulle gaan verwoes.

Toe dit die volgende dag lig word, was daar net sprinkane waar jy kyk.

So ‘n groot swerm was daar nog nooit nie.

Psalm 105 sê hulle was sonder getal – ontelbaar dus (Ps 105:34).

Die land het swart gelyk soos hulle alles bedek het.

En alles wat na die hael oorgebly het, tot die laaste groenigheid, is deur hulle verslind.

 

Ons ken inmiddels die patroon, dit word amper komies.

Farao, wat eergister hulle weggejaag het, ontbied radeloos weer vir Moses en Aäron.

Hy erken weer dat hy gesondig het.

Hy vra vergewing, hy vra dat hulle vir hom tot die HERE hulle God bid.

Farao is soos ‘n deursnee politikus.

Soms vra hulle vergewing, soms erken hulle dat hulle verkeerd was, maar dan is dit met ‘n verskuilde agenda.

En so is elke mens uit homself.

Die mens het God nodig as hy in ‘n krisis is.

Maar sodra die krisis verby is, moet God hom weer uitlos.

 

Moses het maar weer vir Farao ingetree, en die HERE was voorlopig nog genadig.

Hy het die wind laat draai.

Ja die winde luister na sy stem.

Dit het die sprinkane opgetel en in die Skelfsee ingedryf.

 

En dan weer die konklusie vir die soveelste keer.

Toe die nood verby was, besluit Farao tog weer om die volk nie te laat trek nie.

Weer het die HERE sy hart verhard.

Soos ek reeds genoem het, dit was onderdeel van God se strategie.

Al het Farao dit toe nog nie geweet nie, God het maar liefs tien plae in sy koker gehad.

Farao het elke keer sy kans gevat.

Dalk was hierdie die laaste plaag ...

Dalk sou die God van die Hebreërs nou moed opgee ...

Maar nee, dit hou net nie op nie.

Hierdie geskiedenis lig ‘n klein bietjie die sluier oor die verhouding tussen God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid.

Maar dit bly ‘n geheimenis.

God werk na tien plae toe, daarom verhard Hy Farao se hart.

Terselfdertyd bly Farao honderd persent verantwoordelik vir sy eie dade.

En, dit het Farao toe nie besef nie, met elke keer wat hy halstarrig is, het hy die HERE sy eie roem vermeerder.

Want alle toekomstige generasies sou verwonderd staan oor die tien plae.

Soveel te meer rede vir Israel om hierdie verhaal oor en oor te vertel, tot in die verre toekoms.

Tot in die verre nageslagte.

 

(Tema: Vertel vir almal van die sprinkaanplaag

- ‘n Onheilsboodskap vir Farao)

 

- ‘n Bevrydingsboodskap vir Israel en sy nageslag

Moses self sou hiermee begin, om hierdie bevrydingsboodskap oor en oor te vertel.

Reeds in Exodus 18 lees ons dit die eerste keer.

Daar vertel Moses dit aan sy skoonpa, Jetro, hoe die HERE hulle verlos het.

Daar staan:

“En Jetro het hom verheug oor al die goeie wat die HERE aan Israel gedoen het, dat Hy hulle uit die hand van die Egiptenaars verlos het. Daarop sê Jetro: Geseënd is die HERE wat julle verlos het uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van Farao ... Nou weet ek dat die HERE groter is as al die gode, naamlik in die saak waarin hulle vermetel was teen hulle.” (Ex 18:9-11)

Inderdaad, Jetro het ook geweet van die gode Egipte.

Maar ook by hierdie plaag het Egipte se gode magteloos gestaan.

Omdat die HERE groter is as Egipte se gode, bely Jetro.

 

Soos ek al in ‘n eerdere preek genoem het, in hierdie laaste plae word die gode van die lug geteiken.

Daar was byvoorbeeld ‘n god met die naam Seth.

Hy was die god van wind en storm.

Dis nou behalwe vir die gode wat veronderstel was om die oeste op die land te beskerm, soos Nepri, die god van die graan, of Anubis, die beskermer van die boere se velde.

Waar was hulle toe die sprinkane op die lande toegesak het?

Maar spesifiek die god Seth was die god van wind en storm.

En dit was die wind wat die sprinkane oor die land ingewaai het.

Waar was hy, hierdie afgod, toe die lewende God ‘n oostewind laat opsteek het?

Waar was hy toe wolke sprinkane sover die oog kon sien uit die rigting van die Skelfsee oor die land begin inbeweeg het?

Seth was veronderstel om Egipte se lugruim te beskerm.

Net soos vandag die regering sy lugruim moet beskerm, so moes Farao dit destyds doen.

Sy gode het hom daarby gehelp.

Deesdae, as daar vreemde vliegtuie of hommeltuie ‘n land se lugruim binnedring, word daar alarm geslaan.

Die lugmag is veronderstel om dan in te gryp.

Destyds in Egipte was die god Seth veronderstel om in beheer te wees van die winde en die weer.

Maar hy kon nie keer dat die wind skielik uit ‘n onverwagse rigting begin waai nie.

Hy was magteloos toe saam met daardie wind, uit die ooste, ontelbare sprinkane oor die land soos donker wolke toegesak het.

Die god Seth het gefaal.

Teen God se leërskare, teen sy oormag, was hy nie opgewasse nie.

God se leërskare, sy weermag, bestaan ook uit ‘n divisie van sprinkane.

Miljarde sprinkane.

 

Die dienaars van Farao was reg.

Weer eens was dit nie net ‘n dreigement, ‘n vals alarm nie.

Maar weer eens was dit te laat.

Dus smeek Farao: “bid tot die HERE julle God, dat Hy net hierdie dood van my af wegneem.” (vers 17)

Dit spreek boekdele oor hoe erg hierdie plaag was – Farao noem dit ’n dood.

Egipte leer op die harde manier dat hulle vir hulle daaglikse brood nie op Farao en sy gode kan vertrou nie.

Ja Egipte is in paniek, maar God is nog op koers.

Hy wat die tye oorsien, weet wat Hy doen.

Hy is besig met Farao en die Egiptenaars, maar terselfdertyd praat Hy – in dit wat Hy nou doen – ook met die wordende geslagte – mense wat nog gebore moet word.

Hy maak nou vir Homself ‘n Naam, sodat hulle dan – in die toekoms – Hom sal eer en vir Hom sal luister.

Dit is wat Moses besef, as hy aan die einde van sy lewe vir die Israeliete sê:

“As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het? dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur 'n sterke hand uit Egipte uitgelei. En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen. En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met 'n eed beloof het. En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.” (Deut 6:20-24)

So is die doel van die plae ook om toekomstige geslagte te oortuig.

As die HERE sulke wondertekens kon verrig, dan sal Hy ook in staat wees om ons te red, en dan sal sy wil vir ons lewe goed wees, dan doen ek goed as ek my lewe daarvolgens inrig.

 

Gemeente, net soos die Israeliete destyds het ons ook ‘n verhaal om te vertel.

Vir ons kinders en kleinkinders.

Dit is die verhaal van Jesus Christus.

Asemrowende wondertekens het in sy tyd gebeur.

Hy is gebore uit ‘n maagd, Hy was sonder sonde, Hy het ontelbare wonders verrig, Hy is gekruisig, het gesterf, maar het na drie dae weer opgestaan.

Met ‘n verheerlikte liggaam het Hy aan talle mense verskyn.

Hy het toe na die hemel opgevaar.

Hy regeer nou vanuit die hemel.

Al hierdie feite is absoluut relevant, vir jou en jou kinders en kindskinders.

Want so het Hy ons uit die slawehuis van die sonde uitgelei.

Daarom maak dit sin om naby aan Hom te lewe, om volgens sy wil te lewe.

Gemeente, so is die exodus van die Ou Testament ‘n voorbode, ‘n voorafskaduwing, van die nog veel groter exodus van die Nuwe Testament.

Dit is Christus se exodus, wat met sy kruisdood ons bevry het uit die slawerny van Satan, sonde en dood.

 

(Tema: Vertel vir almal van die sprinkaanplaag

- ‘n Onheilsboodskap vir Farao

- ‘n Bevrydingsboodskap vir Israel en sy nageslag)

 

- ‘n Onheils- en bevrydingsboodskap vir die hede

Die sprinkaanplaag is ook ‘n voorbode, ‘n voorafskuwing, van ‘n nog veel groter sprinkaanplaag wat die wêreld te wagte staan.

Daaroor profeteer die Bybelboek Openbaring.

Die vyfde engel het die put van die afgrond oopgemaak.

Daar het rook uitgekom, so baie dat die son en die lug verduister is.

Toe kom daar sprinkane uit die rook.

Maar dit was nie gewone sprinkane nie.

Dit was baie ‘scary’ sprinkane, angsaanjaend.

Johannes beskryf hulle:

Hulle het gelyk soos oorlogsperde.

Hulle het gesigte van ’n mens gehad, met ’n kroon op hulle kop.

Hulle het hare soos van vroue gehad, en tande van leeus.

En dan het hulle die sterte van skerpioene gehad.

Inderdaad ‘scary’, baie angsaanjaend!

En wat ook ongewoon aan hierdie sprinkane is, is die opdrag wat hulle kry.

Hulle mog nie – soos sprinkane gewoonlik doen – al die groen gras en blare van die bome beskadig nie.

Hulle moes net die mense teiken wat nie die seël van God op hulle voorhoofde gehad het nie.

Oftewel – hulle wat aan Christus behoort, wat in sy Naam gedoop is – moes die sprinkane uitlos, net soos die gras en die blare.

Maar al die ongelowiges, op hulle moes hulle toesak.

Al met al, ’n skrikbarende visioen oor wat die opstandige anti-Christelike mensdom te wagte staan.

Maar terselfdertyd ’n vertroosting vir hulle wat by Jesus Christus skuil.

Net soos die land Gosen destyds nie deur die sprinkane geteiken is nie, so ontvang hierdie apokaliptiese sprinkane die opdrag om die gelowiges uit te los.

’n Groot oplugting!

 

As jy dit so hoor – die beskrywing van hierdie ‘aliens’ – want dis soos hierdie tipe sprinkane klink – dan is mens se eerste reaksie dat dit nie waar kan wees nie.

Dit moet oordrewe wees.

Nou maak Christus in Openbaring van beeldspraak gebruik, maar dit neem nie weg dat dit ’n werklikheid is nie.

Ons moenie soos Farao destyds die fout maak deur te dink dit kan nie waar wees nie.

Dat, wanneer Moses dreig, dat dit oordrewe is nie.

Want keer op keer het sy woorde uitgekom.

En net so moet ons, en die hele wêreld, maar gereedmaak vir hierdie plaag wat Openbaring beskryf.

Die moderne mensheid mag dink hy kan alle plae beheer.

Maar moenie ’n fout maak nie.

Hierdie apokaliptiese sprinkane met hulle skerpioensterte – geen bestrydingsmiddel gaan daarteen opgewasse wees nie.

Die Here draai nie doekies om nie.

Wat Hy sê, sal gebeur.

Wees voorbereid.

 

Maar gemeente, hierdie plaag het nog nie gekom nie.

Net die waarskuwing is al daar.

Dus, daar is nog die kans vir enigiemand om onder die plaag uit te kom.

Vertel vir almal van die sprinkaanplaag!

Vertel hulle nie net van die agtste plaag in Egipte nie, maar ook die een wat voor die deur staan, waaroor Openbaring profeteer.

Waarsku die wêreld dat die sprinkaanplaag op koms is.

Wie tot Christus kom, in sy Naam vergewing vra, by Hom skuil, sal veilig wees!

Dit is die genadeboodskap wat vandag nog mag uitgaan oor die lengte en breedte van die aarde, ook vanuit ons kerkgebou.

God skenk vandag nog steeds sy genadeseël op mense se voorkoppe.

Kom kry dit, hier in sy huis, vir jou, vir jou kinders en kindskinders.

En roep die wêreld op om dit ook te kom kry.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 91:5

Gebed

Skriflesing: Exodus 10:1-20

Ps 78:16

Skriflesing: Openbaring 9:3-10

Ps 105:19

Teks: Exodus 10:1-20

Preek

Ps 135:3-6

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 43:4-6

Kollekte

Sb 45:10-12

Seën