Preek: Exodus 9:8-12
Chemiese oorlogsvoering ...
‘n Aanval deur jou vyand te besmet met ‘n virus, of swere.
Daar is laboratoria in die wêreld waar die pokke-virus nog steeds bewaar word.
Vir wetenskaplike navorsing ... maar sê nou maar dit beland in verkeerde hande ...
In ‘n laboratorium in China word daar navorsing gedoen op Corona-virusse.
Ons almal weet wat in 2019 gebeur het.
Alles wys daarop dat deur nalatigheid een van daardie Corona-virusse uit die laboratorium ontsnap het.
Covid-19 was die gevolg.
Miljoene mense wêreldwyd is daaraan oorlede.
Al met al, die wêreld van virusse, bakteries en ander onsigbare organismes is ‘n gevreesde wêreld.
As hulle toeslaan, val daar baie slagoffers onder mens en dier.
Ook in Egipte.
En, so bely ons in Sondag 10, gesondheid en siekte is in God se hand.
Soms laat God toe dat ‘n uitbraak plaasvind, wat ‘n epidemie of selfs ‘n pandemie tot gevolg het.
En soms selfs, soos hier in Egipte, span Hy hulle aktief in.
Want Hy het hulle geskape, al daardie vir ons onsigbare organismes.
En hulle is deel van sy weermag, as Hy hulle wil inspan.
Sy weermag bestaan ook uit sulke divisies – bakterieel, en viraal.
En hulle is niks minder gevaarlik as die grootste diere op aarde nie.
Tema: Daar is slegs Eén in wie se hand siekte én genesing is
1 Die aard van die aanval
2 Die slagoffers van die aanval
3 Die boodskap van die aanval
1 Die aard van die aanval
Daar is al vyf plae agter die rug.
Wat gaan ‘n sesde nog aan die situasie verander?
Gemeente, ons weet dat daar tien plae is.
Dit het Farao en die Egiptenaars nog nie geweet nie.
Die HERE het aangehou totdat hulle ingegee het.
Tydens hierdie preekserie kyk ons in diepte na die plae.
Soos u al gehoor het – en dit gaan hier by die sesde plaag weer die geval wees – teiken God met elke plaag die afgode van Egipte.
Hy voltrek strafgerigte aan hulle gode, soos daar in Numeri staan (Num 33:4).
Argeologiese ondersoek het ons meer insig gegee in hierdie afgode en hoe hulle gelyk het.
Dit het net weer bevestig dat daardie gode werklik bestaan het.
En dat hierdie plae nie ‘n toevallig keuse van God was nie.
In die Skrif staan daar in 2 Petrus 1:16: “ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit.”
Petrus skryf dit omdat sommige mense die Evangelie afgemaak het as ’n fabel.
’n Mooi storie dat Christus uit die graf opgestaan en dat Hy na die hemel opgevaar het.
Maar Petrus benadruk hulle was ooggetuies.
Wat betref die geskiedenis van die tien plae het ons met dieselfde te make.
Daar is mense wat dit kunstig verdigte fabels noem.
Dit kan mos nie waar wees nie ...
Die skrywer – wie dit ook was – het ’n mooi literêre verhaal daarvan gemaak.
Maar gemeente, as ons bely dat al hierdie wondertekens werklik gebeur het, dan moet ons ook moeite doen om te leer hoekom die HERE dit gedoen het.
Net soos Petrus by Jesus, was Moses – die auteur van Exodus – ooggetuie van wat gebeur het.
En die Israeliete wat in Egipte opgegroei het, het presies geweet waaroor dit gegaan het.
En Moses, wat in die paleis van Egipte opgegroei het, het nog beter besef hoekom God doen wat Hy doen.
Naamlik, soos Moses skryf, dat Hy strafgerigte aan die gode van Egipte voltrek het.
Dat elke wonder – of dit paddas was, muskiete, steekvlieë, of swere – die afgode geteiken het.
Dit is nie kunstig verdigte fabels nie, dit is wat God gedoen het en elke keer met ’n baie spesifieke doel.
En so delf ons in hierdie preekserie in die Skrif om dit agter te kom, en om daaruit te leer.
Vandag dus die sesde plaag.
Wat by hierdie plaag veral erg is, is dat die liggaam self aangetas het, en dit van elke Egiptenaar, ook van die towenaars, noem ons teks.
Nie net ‘n muskiet of steekvlieg wat pynlik is of verskriklik jeuk maar na ‘n rukkie weer oorgaan nie.
Nee, swere wat nie wil weggaan nie.
Die woord wat hier vir swere gebruik word, kom ‘n paar keer in die Hebreeuse Bybel voor.
Dit word gebruik vir verskillende velsiektes.
In Levitikus 13 verwys dit byvoorbeeld na melaatsheid.
Dit kan ook die geval wees in Exodus 9, dat melaatsheid die Egiptenaars getref het.
Ander meen dat dit ‘n pokke-epidemie was.
Ander meen nog ‘n ander soort swere.
Later in die Bybel word hierdie swere nader beskryf.
Want in Deuteronomium waarsku Moses die Israeliete dat hulle dieselfde swere sal kry as hulle nie gehoorsaam is aan God se gebooie nie:
“Die HERE sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene – waarvan jy nie gesond kan word nie – van jou voetsool tot jou skedel.” (Deut 28:35)
So was die Egiptenaars bedek met swere van kop tot tone.
Hierdie plaag tref direk hulle liggame.
Kom ons kyk nou na die slagoffers van hierdie plaag.
(Tema: Daar is slegs Eén in wie se hand siekte én genesing is
1 Die aard van die aanval)
2 Die slagoffers van die aanval
Net soos die ander plae, was hierdie een ook ‘n wonder.
Die swere was nie die natuurlike gevolg van iets anders nie.
Uit die bloute het hulle gekom.
Ook die metode wat God volg om die swere te laat uitbreek was ‘n wonder.
Moses en Aäron moes roet uit die oond skep en dit in die lug opgooi.
Dit het fyn stof geword oor die hele Egipteland wat aan mens en dier swere veroorsaak het wat in blare uitbreek.
Ook dit was ‘n wonder, dat roet swere veroorsaak.
En ook dat dit elke Egiptenaar getref het, maar nie vir die Israeliete nie.
Weer was daar ‘n muur van genade tussen Gosen en die res van Egipte.
‘n Hele rits faktore wat onderstreep dat dit ‘n wonder was, ‘n verskriklike wonder, wat God se ontsaglike mag getoon het oor sy skepping.
Dit in teenstelling tot die afgode van Egipte.
Hulle priesters, die towenaars, was magteloos.
Want hulle was ook onder die swere.
Hulle kon dit nie wegneem nie.
Die gode, wat veronderstel was om die Egiptenare te beskerm, staan magteloos.
Hulle bied geen beskerming teen hierdie epidemie nie.
Egipte het verskillende afgode gehad wat op die gesondheid gekonsentreer het.
Die bekendste was waarskynlik ‘n godin met die naam Sekhmet.
Sy is normaalweg afgebeeld met die kop van ‘n leeu.
As u wil weet hoe sy gelyk het, kan u weer eens op internet gaan kyk.
Daar is voorbeelde van beelde wat van haar opgegrawe is.
Sy sou die mag hê oor die ontstaan van siektes en epidemies, maaar ook om hulle weer weg te neem.
So verneder die HERE vir Egipte se gode en godinne waarop die Egiptenaars vertrou het in tye van siekte.
Hulle staan magteloos voor hierdie verskriklike uitbraak van swere.
Ook hulle is slagoffers van hierdie wonderdaad.
Vandag ken ons nie meer gode soos hierdie godin Sekhmet nie.
Dit wil egter nie sê dat daar ook vandag nog afgodery en bygeloof bestaan as dit by siekte en gesondheid kom nie.
As gevolg van die geweldige toename in kennis by die mediese wetenskap, is die mensheid vandag gou geneig om hulle vertroue daarop te stel.
Mense gaan hospitaal toe en hulle vertrou dat die hospitaal dit sal regkry om hulle gesond te maak.
Mense besoek dokters en spesialiste met die verwagting dat hulle die fout sal vind en ook ‘n medikasie het of ‘n operasie om dit te herstel.
En as dit nie moontlik blyk nie, is mense verontwaardig.
Hulle het meer van die dokters verwag.
Die vertroue op die mediese wêreld dreig om onbeperk te word.
Maar feit bly dat daar geen genesing vir die dood is nie.
Dokters en medisyne het hulle grense – alle medisyne, gewone of sogenaamde alternatiewe medisyne.
Dokters en spesialiste is ook sterflik net soos elke ander mens.
Die towenaars destyds was ook onder die swere, en hulle kon niks daaraan doen nie.
Dit herinner ons net weer dat alle genesing slegs van God kom.
Dat daar slegs een is wat die toestand van ons liggaam volledig ken, van kop tot tone – ons Skepper.
Nog ‘n detail wat ons teks noem is dat die HERE vir Moses en Aäron beveel om die roet in die lug op te gooi.
Dis nie toevallig nie.
Dit sluit aan by ‘n tradisie in Egipte.
Die priesters van Farao het dit naamlik ook gedoen as hulle geoffer het.
Die as van die offer het hulle in die lug opgestrooi, dit was ‘n seremonie.
Daarmee is die seën oor die mense uitgestrooi.
Hierdie ritueel wat veronderstel was om die seën te versprei, gebruik God nou om sy vloek te versprei.
En uiteraard kom hierdie as nie van ‘n offer aan die afgode nie.
Ons kan daarvan uitgaan dat Moses en Aäron hierdie as geskep het uit die oonde waarin die Israeliete bakstene moes bak.
Oonde wat simbool was vir die onderdrukking van die Hebreërs.
Oonde wat vir die Egiptenaars voorspoed gebring het, bring nou vloek.
Nou kom daar nie bakstene uit die oond waarmee hulle nog spoggeboue kan bou nie.
Nou versprei dit swere.
Swere wat in blare uitbreek, dit wil sê, wat in oop sere uitbars.
Wonde wat etter.
Nog ‘n detail wat ons teks noem is dat die towenaars nie voor Moses kon staan vanweë die swere nie – vers 11.
Die uitdrukking om te staan dui in die oudheid dikwels op die uitoefening van godsdienstige pligte.
Aäron het later as hoëpriester voor die aangesig van die HERE gestaan – daarmee word bedoel dat hy sy amp uitgeoefen het.
Farao so towenaars was bedek onder die swere.
Hulle wat die gode verteenwoordig het wat moes genees, was self ongeneeslik siek.
So spot die HERE met Egipte se afgodery.
Moses het staande gebly voor Farao – vers 10.
Maar die towenaars kon nie voor Moses, God se profeet, staande bly nie.
Dis opvallend dat ons hier vir die laaste keer in Exodus oor die towenaars lees.
Die oordeel tref hulle, soos Psalm 1 sê: Die goddelose sal nie staande bly in die oordeel nie (vers 5).
Ons kom nou by die derde punt.
In die tweede punt het ons gesien wie die slagoffers van die aanval was:
Die Egiptenare en hulle diere, maar ook die afgode, en ook die afgode se profete – die towenaars is onder die swere.
(Tema: Daar is slegs Eén in wie se hand siekte én genesing is
1 Die aard van die aanval
2 Die slagoffers van die aanval)
3 Die boodskap van die aanval
Die oordeel het vir die towenaars getref.
Maar dit is ook ‘n waarskuwing vir almal wat nie berou het en God se profeet erken nie nie.
God se hoogste Profeet, Jesus Christus.
Wie nie op sy regverdigheid vertrou nie, sal nie kan staande bly voor God in die oordeel nie.
Hierdie sesde plaag is nog steeds relevant, gemeente.
Dit het nog steeds ‘n boodskap.
Want die swere is nog nie iets van die verlede nie.
In die toekoms sal hulle terugkom.
Ja, in die laaste oordeel sal die plaag van swere weer uitbreek.
Die apostel Johannes skryf oor wat in die toekoms gaan gebeur, oor die sewe engele wat die skale van God se toorn oor die aarde uitgooi:
Die eerste engel, skryf hy in Openbaring, “gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.” (Openb 16:2).
Die swere is nie verlede tyd nie.
‘n Dag gaan kom waarop elkeen wat homself teen God se Profeet verhard, met swere getref sal word, soseer dat hulle nie staande sal bly nie.
Elkeen wat homself verhard ...
Farao het homself weer verhard, nou al vir die soveelste keer.
Dit is die mededeling waarmee ons teks eindig.
Tog staan dit bietjie anders in die teks.
Want nou staan daar dat die HERE vir Farao se hart verhard het.
Tot dusver was dit elke keer:
Farao se hart is verhard – na die eerste plaag (Ex 7:22).
Farao het sy hart verhard – na die tweede plaag (Ex 8:15).
Maar Farao se hart was verhard – na die derde plaag (Ex 8:19).
Maar Farao het sy hart ook hierdie keer verhard – na die vierde plaag (Ex 8:32).
En by die vyfde plaag: Maar die hart van Farao was verhard (Ex 9:7).
Maar hier by die sesde plaag is die HERE dus die onderwerp van die sin.
Die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy nie na Moses en Aäron geluister het nie.
Ek het al in ‘n eerdere preek hierdie onderwerp aangesny.
Die feit dat ons in die boek Exodus beide vind: enersyds Farao wat sy eie hart verhard, en andersyds die HERE wat vir Farao se hart verhard.
En soos ek ook al verduidelik het, die woord hart gaan nie eerstens oor gevoel nie, maar oor die neem van besluite.
Farao volstaan by sy besluit om die volk nie te laat trek nie.
Maar die vraag is in hoeverre is Farao self verantwoordelik, of is hy net ‘n speelbal in God se hand, wat eintlik niks anders kon uitrig omdat die HERE sy hart verhard het nie?
Ons het gesien dat God se soewereiniteit die mens se verantwoordelikheid nie uitsluit nie.
Farao was heeltemal toerekeningsvatbaar, al het die HERE sy hart verhard.
God het dit so gelei dat Farao tot tien keer toe geweier het, sodat Hy sy almag kon toon.
Met tien plae straf Hy Egipte en sy afgode.
Die HERE het ‘n strategie gehad, en vir daardie rede sorg Hy dat Farao hardkoppig bly.
Dit is iets wat die HERE vandag nog steeds kan doen.
En ons verstaan nie altyd sy dryfveer nie.
Ook vandag gee Hy despote en watter goddeloses ook soms ruimte om aan te gaan met hulle hardkoppigheid, net om nog duideliker te laat blyk hoe regverdig sy oordeel is, as sy oordeel uiteindelik losbars.
En, laat ons nie vergeet nie, Hy gee ook uitstel omdat Hy genadig is.
Net soos by die bevryding van Israel, stel Hy die finale bevryding van die aarde uit, tot die dag as Christus sal terugkom.
Daarmee gee Hy die kans aan die mensheid om tog tot inkeer te kom.
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Petrus 3:9)
So het God met alles ‘n doel, ‘n boodskap.
Hy het sy almal en regverdigheid in Egipte sigbaar gemaak, deurdat Hy vir tyd en wyl Farao se hart verhard het, sodat die plae kon vermeerder.
So het Hy geskiedenis gemaak, as gevolg van die tien plae het sy gedugte Naam oor die hele aarde bekend geword.
Farao was hierin nie ‘n slagoffer nie.
Hy kon anders gekies het.
Dit is ook waar.
Weer eens, God se soewereiniteit neem die mens se verantwoordelikheid, sy toerekeningsvatbaarheid, nie weg nie.
Farao, wat ook onder die swere was, kon hom daar en dan bekeer het, hy kon ingegee het.
Daar is ook voorbeelde in die Bybel waar ernstige siekte mense juis tot inkeer gebring het.
Dink aan Dawid.
In Psalm 38 bely hy:
“Ja, my sondeskuld oorweldig my, soos ‘n swaar las is dit ondraaglik vir my.
My wonde stink, dit sweer vanweë my dwaasheid.” (Psalm 38:5-6 – 2020-Vertaling)
Die HERE het Dawid ook met swere gestraf.
Maar Dawid smeek die HERE:
“Bestraf my nie in u grimmigheid nie, HERE, kasty my nie in u woede nie” (Psalm 38:1 – 2020-Vertaling).
Sulke taal van verootmoediging hoor ons egter nie by Farao nie.
Nog ‘n voorbeeld uit die Bybel is Naäman.
Naäman was ‘n heiden, net soos Farao.
Hy het ook swere gekry, hy was melaats.
Die profeet van die HERE het hom ‘n opdrag gegee om uit te voer.
Nadat hy eers geweier het, was hy uiteindelik wel gehoorsaam.
Hy het homself – soos Elisa beveel het – sewe keer in die Jordaan gaan was.
Toe is hy genees.
Die HERE was hom genadig.
Dus, uiteindelik het Farao sy ondergang aan homself te wyte gehad.
Vandag kom die HERE ook na elke mens, met sy Woord.
Hy beveel gehoorsaamheid daaraan, soos destyds Moses vir Farao beveel het.
Vandag is daar enersyds ook mense wat hulle daarteen verhard, maar andersyds hulle wat gewillig luister.
Dit is enersyds deur God self so bepaal.
Hy verhard wie Hy wil, maar Hy maak ook harte sag by wie Hy wil.
Terselfdertyd stel Hy elke mens voor die keuse.
Niemand kan redeneer – die HERE het my nie uitverkies, en dus kan ek nie gered word nie.
Dit is iets wat ons nie verstaan nie.
Maar ons dank Hom vir die feit dat Hy elke mens op aarde wel ‘n regverdige kans gee.
Christus se kruis staan uitnodigend op Golgota.
Sy kruisoffer is kragtig genoeg om al die sonde van die hele mensheid te versoen.
Gaan na Hom toe, klink die oproep, nou dat dit nog kan, voor dit te laat is.
Daar is soveel mooi voorbeelde in die Bybel hoe mense by Hom gekom het.
Ja soms het die HERE ook swere en siektes gebruik, soos die voorbeeld van Naäman wat ek genoem het.
Hy is die een in wie se hand siekte en genesing is.
Dink ook aan die melaatses wat Jesus genees het tydens sy lewe op aarde.
Of dink aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (Mark 5:25v.)
Dink aan Jaïrus en sy dogtertjie (Mark 5:21v.)
En daar is nog soveel voorbeelde.
Nie net uit die Bybelse tye nie.
Ek het ‘n keer die verhaal gelees van ‘n vrou wat deur ‘n slang gepik is.
Dit was so twee honderd jaar gelede hier in Suid-Afrika.
Baie van die boere het op afgeleë plase gebly en het as gevolg daarvan nooit kerk toe kon gaan nie.
Baie van hulle het dit ook nie as ‘n gemis ervaar nie.
Hierdie een vrou, wat nie ‘n opregte gelowige was nie, is toe ‘n keer op haar plaas deur ‘n slang gepik.
Na ‘n paar dae het dit duidelik geword dat sy dit nie sou oorleef nie.
Angstig wat sy was, het sy toe een van haar slawe beveel om die sendeling te gaan haal, vanaf die sendingstasie ‘n dagreis daarvandaan.
Toe die sendeling daar aankom, het sy op haar sterfbed gelê.
Hy kon die Evangelie nog met haar deel, wat sy toe dankbaar aangeneem het.
Sy het toe ook gesê: Dis nie vir u, die sendeling, wat die HERE gebruik het om my siel te red nie.
Maar die HERE het ‘n adder gestuur, aan daardie dier het ek my ewige saligheid te danke.
Niks gebeur per toeval nie.
Dit is die troos waarmee ons deur die lewe mag gaan.
Selfs die onheil sal Hy laat meewerk ten goede vir die wat Hom liefhet.
Ja God se strawwe is regverdig, aan die een kant, maar ook genadig.
Israel het nie die versekering gekry dat die swere – al is dit hulle toe bespaar – hulle nooit in die toekoms sou tref nie.
Moses het hulle gewaarsku: Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God ... dan sal al hierdie vloeke jou ook inhaal (Matt 28:15).
“Die HERE sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene – waarvan jy nie gesond kan word nie – van jou voetsool tot jou skedel.” (Deut 28:35)
Hierdie bedreiging was om sy volk wakker te skud, terug te bring na Hom toe.
Ook ons as gelowiges word nie by voorbaat vrygeskeld van siektes en epidemies nie.
Maar ons weet waarheen om dan te gaan, by wie om genesing te kry.
Ons weet wie al ons siektes en krankhede op Hom geneem het, om in ruil vir ons ewige gesondheid te skenk.
Amen.
Votum
Seën
Ps 113:1,2
Wet
Ps 38:5,6,8,15,17
Gebed
Skriflesing: Exodus 9:8-12
Ps 78:18
Skriflesing: 2 Petrus 1:10-21
Sb 46:1-5
Teks: Exodus 9:8-12
Preek
Ps 1:1,3,4
Gebed
Kollekte
Ps 145:2,5
Seën