Die stryd van twee vroue om die harte van jongmense!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-01-16
Teks: 
Spreuke 9:1-6, 13-18
Verwysing: 
Leer en laat leer 2
Preek Inhoud: 

Jongmense,

Soos wat ek verlede week al gesê het, is die Spreukeboek in die eerste plek vir julle bedoel; Spreuke is ‘n onderrigboek vir jongmense. Dit kom natuurlik uit, soos wat ons verlede week gesien het, in hoofstuk 1:4 (“om aan die jongeling kennis en oorleg te gee”), maar dit kom ook uit in die herhaaldelike gebruik van die direkte aanspraak “my seun” – meer as 15 keer in hoofstukke 1-9. “My seun” (en dan moet ons “my dogter” nie uitsluit nie) – hierin hoor ons ‘n vader, of dalk ‘n leraar wat soos ‘n vader-figuur optree (of dalk beide), aan die woord om die jongmens te onderrig.

Nou weet ek dat julle oor die algemeen nie van hierdie onderrig hou nie. Niemand van julle hou daarvan wanneer pa of ma jou op ‘n tekortkoming wys of vir jou die regte lewensrigting probeer aandui nie. “My kind, jy moet bietjie harder werk by die skool”, of “Ruim bietjie jou kamer op, in so ‘n chaos kan ‘n mens mos nie lewe nie”, of “versigtig, seun, hoe jy met die meisies praat”, of “trek bietjie iets anders aan, meisies loop nie so in die openbaar nie” – dit is nie die tipe opmerkings wat ons van ons ouers wil hoor nie. En ook wanneer dit van ‘n onderwyser (‘n meneer of juffrou by die skool) of van ‘n ouderling of van ‘n predikant af kom, dan is daar in ons harte ‘n natuurlike verset hierteen. Toegegee, die manier hoe hierdie soort teregwysings of rigtingwysers oorgedra word, is nie altyd ewe wys nie. Die toon van ‘n pa of ‘n ma se teregwysing aan die einde van ‘n lang dag, die manier waarop juffrou ‘n kind teregwys wanneer sy dit nou al vir die 3de keer moet doen, of die vermaning van ‘n predikant wanneer hy sukkel om die aandag te behou, klink dikwels baie anders as die rustige, vertroulike toon van die boek Spreuke.

 

Maar – en dit is baie belangrik wanneer ons Spreuke ons eie wil maak – ons moet leer om verby dit te kyk! Verby die vader of die leraar van Spreuke, verby my pa of my ma, en verby my onderwyser. Want daar is ‘n stem in Spreuke wat in die stem van die vader en in die stem van die leraar deurklink – en dit ook ver te bowe gaan. En dit is die stem van Mevrou Wysheid. Ja, wysheid word in hoofstukke 1-9 as ‘n persoon aan ons voorgehou – as ‘n vrou. En dit is hierdie vrou (Mevrou Wysheid) wat – ook deur die vader en deur die leraar, ook deur pa en ma en juffrou en meneer – met ons praat. En sy doen dit met groot erns en met groot dringendheid, want sy weet dat daar ‘n ander vrou is wat net so hard om ons aandag meeding: Mevrou Dwaasheid. Mevrou Wysheid en Mevrou Dwaasheid – dit is die twee vroue wat meeding om die hart van elke jongmens. Ja, jou pa en ma, en jou onderwysers en die ampsdraers is nie volmaak in hoe hulle jou begelei nie, maar (só pleit die Spreukeboek) “luister [asseblief] na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spr. 1:8). Want agter daardie tug en agter daardie onderwysing is daar ‘n geweldige stryd aan die gang om jóú hart – ‘n stryd tussen Mevrou Wysheid en Mevrou Dwaasheid, tussen die pad van die wysheid en die pad van die dwaasheid, tussen die maaltyd wat lewe gee en die maaltyd wat eindig in die dood.

Tema: Die stryd van twee vroue om die harte van jongmense!

  1. Mevrou Wysheid
  2. Mevrou Dwaasheid
  3. Van personifikasie na Persoon

 

1. Voordat ons verder gaan om die twee dames van nader te bekyk, is dit goed om (t.w.v. die reeks wat voorlê) eers ‘n bietjie konteks te skep. Ons het verlede week baie oorhoofs na die dimensies van wysheid gekyk (transendent, transkultureel en transformerend), maar nou moet ons darem ook ‘n bietjie kyk hoe die boek Spreuke inmekaar sit. Vir die meeste mense is daar op die oog af weinig struktuur in hierdie boek – net ‘n klomp spreuke wat aanmekaar geryg is, dikwels sonder enige verband. Maar as ons bietjie noukeuriger kyk, dan ontdek ons tog ‘n soort struktuur.

Hoofstuk 1:1 begin met: “Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid...” Nou, hoewel die oorgrote meerderheid van die spreuke in die Spreukeboek inderdaad van Salomo is, is daar ook spreuke van ander wyse manne. Kyk byvoorbeeld na hoofstuk 22:17: “Gee gehoor en luister na die woorde van die wyse manne...” En in hoofstuk 30:1 lees ons van die woorde van Agur, die seun van Jake; en kort daarna, in hoofstuk 31:1, van die woorde van Lemuel, die koning van Massa. Dus, Salomo se stempel op hierdie boek is onmiskenbaar, maar dit is nie nét Salomo nie. Verder is die boek ook nie deur Salomo saamgestel nie. Ons lees in hoofstuk 25:1: “Dit is ook spreuke van Salomo, wat die manne van Hiskia, die koning van Juda, versamel het.” Dus, meer as 200 jaar ná Salomo (in die tyd van koning Hiskia) het ander mense nog van Salomo se spreuke bymekaar gemaak. Dalk was dit hierdie einste manne van Hiskia wat die hele boek saamgestel het, wie weet? En dan ‘n laaste punt: die egte, kort en kragtige spreuke – soos wat ons hulle ken – begin eers vanaf hoofstuk 10. Dit beteken dat hoofstukke 1-9 eintlik een lang inleiding tot die boek vorm.

Nou, as ons al hierdie inligting bymekaar sit, dan kry ons die volgende prentjie (sien die uitdeelstuk): 1) hoofstuk 1-9 vorm die inleiding, 2) hoofstuk 10:1 begin met “die spreuke van Salomo”, en dit gaan deur tot by hoofstuk 22:16 (dit is die hoof-versameling van Salomo se spreuke), 3) in hoofstuk 22:17 begin die woorde van die wyse manne, en dit gaan aan tot by die einde van hoofstuk 24, 4) in hoofstuk 25:1 begin ‘n tweede versameling van Salomo se spreuke, en dit gaan aan tot by die einde van hoofstuk 29, 5) in hoofstuk 30 vind ons die woorde van Agur, 6) in hoofstuk 31:1-9 vind ons die woorde van Lemuel, en 7) hoofstuk 31:10-31 vorm die slot – die akrostiese gedig (elke vers begin met ‘n volgende letter van die Hebreeuse alfabet) wat gaan oor die deugsame vrou. Dis die struktuur.

 

Nou, nadat ons verlede week na die begin van die inleiding gekyk het (hoofstuk 1:1-7), kyk ons vandag na die einde van die inleiding (hoofstuk 9). Maar met hierdie hoofstuk vat ons eintlik een van die sentrale temas van die hele inleiding vas. Want regdeur hoofstukke 1-9 kom ons Mevrou Wysheid en Mevrou Dwaasheid teë (kyk maar op die uitdeelstuk na die tekste waar ons hulle teëkom) – en elkeen van hierdie dames probeer regdeur hoofstukke 1-9 die jongmens oorreed (in die geval van Mevrou Dwaasheid sou ons selfs kon sê: verlei) om op háár pad / háár weg te gaan (jy sal die woord pad of weg daarom ook baie gereeld in hoofstukke 1-9 raaklees). Dit gaan hier dus in feite oor die keuse tussen twee weë – die twee weë wat vanaf die moederbelofte alreeds in die wêreld bestaan (die vrouesaad en die slangesaad), en waarvan ons in Psalm 1 gesing het (die weg van die goddelose en die weg van die regverdige). En Mevrou Wysheid wil natuurlik hê dat ons die pad van die wysheid moet bewandel – dít is die pad waarop ons veral die regverdiges, die skranderes, die wyse sal vind. En Mevrou Dwaasheid wil hê dat ons háár pad – die pad van die dwaasheid – moet bewandel. En op hierdie pad vind ons tipies die goddelose, die spotters, die dwase. En die kernvraag is: watter pad gaan jy kies?

Nou, ons moet sommer dadelik by sê dat die twee dames, veral Mevrou Dwaasheid, regdeur hierdie inleiding in baie sensuele en seksuele beelde aan ons voorgehou word. En daar is in hierdie hoofstukke vir seker ook ‘n letterlike betekenis: die gevare van verleiding deur verkeerde vroue, die oproep om die regte lewensmaat te kies, die oproep om trou te wees aan jou lewensmaat, die waarskuwing teen ‘n skeefgegroeide seksualiteit. En ek wil volgende keer al ons aandag dáárop rig. Maar vandag fokus ons veral op die simboliese betekenis van die twee dames en die twee paaie wat hulle verteenwoordig. Kom ons kyk nou eers na Mevrou Wysheid – Spreuke 9:1-6...

---------------

“Die Wysheid het haar huis gebou, haar sewe pilare uitgekap” – só begin hoofstuk 9 die beskrywing van Mevrou Wysheid. Dit is opmerklik dat, ten spyte van al die ooreenkomste tussen die beskrywing van Mevroue Wysheid en Dwaasheid, dít nie van laasgenoemde gesê word nie. Mevrou Dwaasheid bou nie ‘n huis nie – sy gebruik net (of dalk eerder: sy misbruik net) die huis wat daar alreeds is. Maar Mevrou Wysheid – sy bou ‘n huis! Dit vat ons terug na hoofstuk 8, waar die Wysheid vir ons beskryf hoe sy tydens die skepping alreeds bestaan het. Sy was dáár toe God die aarde gemaak het. Meer nog: sy was ‘n kunstenaar, ‘n argitek, naas God (Spr. 8:30). Dus, die huis wat Mevrou Wysheid gebou het, is die huis van hierdie wêreld; en die sewe pilare wat sy uitgekap het, is die pilare waarop die wêreld gegrond is (soos wat blyk uit o.a. Job 9:6, 26:11, Ps. 75:4). Dít is waarheen Mevrou Wysheid ons uitnooi – sy nooi ons uit om te lewe in hierdie wêreld, God se wêreld, wat vol is van die spore van sy wysheid. En daarom is dit nie vreemd dat ons Mevrou Wysheid op die mees publieke plekke teëkom nie: op die pleine, op die hoek van die rumoerige strate, by die ingange van die poorte, in die stad (Spr. 1:20-21); op die top van die hoogte langs die weg, op die kruispunt van die paaie, aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure (Spr. 8:1-3). In die antieke wêreld was hierdie die sentrums van handel en nywerheid, van die regspraak, van die sosiale lewe, van die intellektuele debatte, van die politiek, van die kunste. Op al hierdie plekke vind ons die wysheid, en in al hierdie plekke nooi sy ons om na haar te luister! Want hierdie wêreld is haar huis, en oral (oral!) mag en moet haar wysheid skitter.

Moet daarom nie dink dat gelowiges aan sekere sfere van die lewe nie mag deelneem nie, broers en susters: die politiek – o, daarvan moet ‘n Christen maar wegbly; kuns of drama ‘swot’ – nee, dis nie waar ‘n Christen hoort nie; professionele sport – dit kan ‘n Christen maar vergeet. Nee, dis alles deel van die huis van Mevrou Wysheid, sy nooi ons na al hierdie plekke toe – maar doen dit dan ook met die wysheid en die insig en die skranderheid wat Mevrou Wysheid vir ons gee. Sy nooi jou om in haar huis te lewe (Spr. 9:3); sy wil hê dat jy in haar huis – in hierdie wêreld! – moet woon. Volg haar stem!

En geniet dan ook van haar huis, geniet van alles wat sy aanbied: sy het haar slagvee geslag, haar wyn gemeng, haar tafel gedek (Spr. 9:2). Dis ‘n weelderige maaltyd wat hier vir ons beskryf word. Die lewe in hierdie wêreld – mits jy dit aan die hand van Mevrou Wysheid doen – is ‘n ware fees, op alle terreine van die lewe. Ek sê nie dis altyd maklik of pynloos nie, maar dit is só goed leefbaar wanneer jy die wysheid soos ‘n string pêrels om jou hals hang, en dit op die tafel van jou hart skryf (Spr. 3:3, 6:21, 7:3). In hierdie wêreld – die huis van die wysheid – mag ons werklik lewe: “laat staan [daarom] die weg van eenvoudigheid, dan sal julle lewe, en betree die weg van verstand” (Spr. 9:6). En die beloning van hierdie keuse word op talle maniere in Spreuke 1-9 vir ons beskryf: kies die weg van wysheid, dan sal jy veilig wees, dan sal jy gerus wees teen die skrik vir die onheil (1:33); kies wysheid, dan sal daar vir jou lengte van dae en jare van lewe en vrede wees (3:2); kies wysheid, dan sal daar genesing vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente wees (3:8); kies wysheid, dan sal jy verhoog word en eer ontvang (4:8-9). Voorwaar, “as jy wys is, is jy wys tot jou eie voordeel” (9:12).

Jongmense, julle wil die lewe geniet – en wie sou dit nie vir julle gun nie!? Prediker sê nie verniet vir julle nie: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid” (Pred. 12:9). Julle mag die lewe geniet! Maar ... híér lê die geheim: luister na Mevrou Wysheid se uitnodiging en betree haar weg. Ware genieting lê nie, soos wat ons dikwels dink, in die feit dat ons kan doen wat ons wil, sonder dat iemand ons vermaan, en sonder dat ons oor die konsekwensies van ons optrede hoef na te dink nie. Ware genieting is nie uitspattigheid en bandeloosheid nie. Nee, ware genieting lê binne die grense van die wysheid. Egte vryheid en geluk – dit is die vooruitsig vir elkeen wat op die Here vertrou en die weg van wysheid betree. Dis ‘n ‘n lewe binne die grense wat die Here stel. En die persoon wat waarlik wys is, aanvaar daarom geredelik die beperkings wat daar op sy lewe gelê word – of dit nou kom in die vorm van vermanings deur pa en ma, in die vorm van aanwysings van die juffrou of die meneer, in die vorm van goddelike gebooie, of in die vorm van beperkings as gevolg van ander mense of as gevolg van omstandighede. Sulke beperkings hou jou veilig binne die huis van die wysheid, en laat jou geniet van haar feesmaal!

 

2. Maar oppas, broers en susters, jongmense...

Want daar is nog ‘n ander uitnodiging. Mevrou Dwaasheid (Spr. 9:13-18)! Soos ek reeds gesê het, bou sy nie ‘n huis nie – sy was nie daar toe God die wêreld gemaak het nie. Sy misbruik net die huis van hierdie wêreld vir haar eie doeleindes: sy sit net daar op haar stoel en probeer mense verlei (Spr. 9:14). En kyk bietjie na haar karakter wat in vers 13 vir ons beskryf word: 1) sy is luidrugtig, sy is ‘n raserige vrou; sy mis die rustigheid van Mevrou Wysheid; 2) sy is ongedissiplineerd – daar is geen kuur vir haar eenvoudigheid nie; 3) en sy weet niks nie – mens sou selfs kon vertaal: sy gee nie ‘n flenter om nie. ‘n Totaal ander karakter, dus, as Mevrou Wysheid; die teenpool van Mevrou Wysheid.

Máár ... net soos Mevrou Wysheid nooi sy mense binne (Spr. 9:15-16): “Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen! En die verstandelose, aan hom sê sy...” Hoor jy dit? Dit is letterlik dieselfde bewoording as wat vir die Wysheid in vers 4 gebruik word. Dis so tipies, nie waar nie? Is dit nie maar wat die slang in die tuin ook gedoen het nie? ‘n Regte na-aper! Baie subtiel probeer Mevrou Dwaasheid die verbygangers oorhaal met woorde wat presies dieselfde klink as dié van Mevrou Wysheid. Maar wanneer die eerste subtiliteit verby is, dan kom die aap uit die mou van hierdie na-aper, dan wys sy haar ware kleure met die inhoud van haar uitnodiging: “Gesteelde waters is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker” (Spr. 9:17). Hierdie verleidelike aanbod is gebaseer op die insinuasie dat wat verbode of verborge is, baie beter is as om die reguit pad te bewandel. En hoewel dit hier veral ‘n seksuele konnotasie het, gaan dit uiteindelik oor alle sonde – dít is waarheen Mevrou Wysheid ons wil verlei. En dit is vir ons swaar om hierdie verleidelike uitnodigings van Mevrou Wysheid te weerstaan, nie waar nie? O, die sonde is so aanloklik! Ag, is dit nie lekker om te doen wat ons nie mag doen nie!? Vanaf ons kinderdae alreeds het ons hierdie onblusbare drang om te doen waarvan pappa of mamma sê “moet dit nie doen nie”. En ongelukkig ontgroei ons dit nooit heeltemal nie...

Maar ons vergeet al te dikwels dat Mevrou Dwaasheid se huis op die ou end ‘n spookhuis is: “Maar hy weet nie dat dáár skimme is, dat haar genooides in die dieptes van die doderyk is nie” (Spr. 9:18). Dit is die werklikheid ágter die plesier wat Mevrou Dwaasheid aanbied. Uiteindelik eindig jy met al die pyn en vrees van lewe in ‘n spookhuis. Die skimme is die getuies van wat sal gebeur wanneer jy aan haar verleidings toegee – totale vernietiging in die dood, en ja, uiteindelik in die hel.

 

3. Broers en susters, dit is die twee vroue (en saam met hulle die twee weë én die twee maaltye) wat aan ons voorgehou word. En hierdie twee word teenoor mekaar gestel (gekontrasteer) sodat ons moet kies! ‘n Keuse nie net vir eendag nie, sodat wanneer ons sterf ons hemel toe kan gaan nie. Nee, dis ‘n keuse vir nou! Dis ‘n keuse om goed te kan léwe (en daarmee saam: salig te kan sterwe). Kom ons maak dit ten slotte nog effens meer persoonlik. Mevrou Wysheid [en Mevrou Dwaasheid] is immers personifikasie – dit beteken dat een of ander eienskap in ‘n menslike vorm (as ‘n persoon) aan ons voorgehou word. Maar kom ons beweeg van personifikasie na Persoon. Want Mevrou Wysheid (personifikasie) word uiteindelik ‘n Persoon. Goddelike wysheid word uiteindelik beliggaam in die Persoon van ons Here Jesus Christus. Paulus praat daaroor in 1 Korinthiërs 1, wanneer hy van Christus praat as die krag van God en die wysheid van God (1 Kor. 1:24), en wanneer hy in vers 30 sê: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” En in Kolossense 2:3 vind ons iets soortgelyk wanneer van Christus gesê word: “in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” En hierdie Christus het die lengte en breedte van Israel deurgereis, op hulle hoogtes, by hulle stadspoorte, op hulle pleine – en uitgeroep: “Kom na My toe!” Hier het ons die wysheid in eie Persoon voor ons, gemeente. Hy roep ons, Hy nooi ons. Want by Hom is daar die lewe: Hy is immers die weg, die waarheid en die lewe. En dit is nie ‘n lewe vir Sondae en Bybelstudie en stiltetye nie. Dit is ‘n lewe van wysheid – ‘n fees van insig! – by die kantoor, in die parlement, in die kunste, by die filosofiese debatte van ons tyd, in die paleise van konings en koninginne, op die middelkolletjie van Loftus Versfeld, in die lesinglokale van Tukkies of Akademia. Maar ook in jou slaapkamer waar niemand anders sien nie, in jou kombuis waar jy speserye meng en disse voorberei, in jou tuin waar jy die regte plante wil plant, in jou motorhuis waar jy die mooiste voorwerpe met hout maak, by jou lessenaar waar jy wiskunde en biologie onder die knie probeer kry...

Christus is die wysheid! En daarom is die oproep uiteindelik om Hom te kies en Hom te volg – jongmense, ook vir julle! Christus volg – dit doen ons nie eers wanneer ons ouer geword het, sodat ons eendag hemel toe kan gaan nie. Christus volg – dit doen ons sodat ons wys kan lewe, sodat ons die goeie lewe kan smaak, sodat ons met insig in die woning van sy wêreld kan wandel. Maak hierdie keuse – hang die wysheid om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart. Want, sê Spr. 9:11, deur my (deur wysheid = deur Christus!) word jou dae meer en word jare van lewe vir jou toegevoeg.

Liturgie: 

Votum: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 146:1, 3 en 4

Wet

Sing Ps. 6:1, 2 en 7

Gebed

Lees:   Spreuke 1:20-33

            Spreuke 7:1-5

            Spreuke 8:1-5, 22-36

Sing Ps. 1

Teks: Spreuke 9:1-6, 13-18

Preek

Amenlied Ps. 25:2-4

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 25:5 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.