Die Apostoliese Geloofsbelydenis

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is nie deur die apostels geskryf nie maar het sy ontstaan gehad in die 2de eeu en het verder ontwikkel totdat dit in die 4e eeu gefinaliseer is. Dit word ook die Twaalf Artikels van die algemene, ongetwyfelde, Christelike Geloof of verkort net Die Twaalf Artikels genoem.

  1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  2. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  3. wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
  4. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;
  5. wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood;
  6. opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
  7. waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
  8. Ek glo in die Heilige Gees.
  9. Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  10. die vergewing van sondes;
  11. die opstanding van die liggaam
  12. en 'n ewige lewe.