Die eerste bede in die Onse Vader

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 47
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 47 H. K.

Die eerste bede: Heilig U Naam....

Lees: Psalm 8
Teks: Sondag 47 H. K.
Sing: Ps. 9: 1, 8, 12, 15
na wet Ps 5: 5 en 10
na belydenis Sb 8: 5
Ps. 8: 1, 2, 3, 4, 6
Ps 145: 6 en 7
Sb. 28: 1 en 4

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Een van die mees indrukwekkendste gedeeltes van die Ou-Testament is die visioen waarin vir ons die roeping van Jesaja vertel word. In Jesaja ses lees ons daarvan: " In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n baie hoe troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Die serafs het mekaar telkens toegeroep: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teennwoordigheid. " Die liturgiese geeste van God het diep onder die indruk van die heiligheid en majesteit van God, verkeer.

Jesaja egter het uitgeroep: "Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder 'n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige. " In die konfrontasie met God het Jesaja sy eie onreinheid en onheiligheid besef. Wie kan voor die aangesig van die heilige God bestaan?

Een van die serafs het toe 'n gloeiende kool met 'n tang van die altaar af gevat en na Jesaja toegevlieg. Hy het die mond van Jesaja met die kool aangeraak en gese: "Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen. " Die vuur van die altaar het Jesaja geheilig. Nou kan hy as profeet optree. Jesaja ontvang die opdrag om met die boodskap van God na die volk toe te gaan.

Gemeente, hierdie gesig mag ons as agtergrond van die eerste bede sien, wat ons nou wil oorweeg. Dis nie gering wat ons Heiland ons in hierdie bede leer om van ons Vader te vra nie. Deur Hom word ons die bede: laat u Naam geheilig word op die lippe gele. Kan dit deur sondige mense gedoen word? Jesaja het intens besef dat hy 'n man met onrein lippe is. Sonder die ontsondiging deur die gloeiende kool van die altaar sou hy nie as profeet van God kan optree nie.

Hoe sal ons dan die Naam van God in ons lewe, ons woorde en dade kan heilig? Dis alleen moontlik omdat hierdie bede op die aanspraak van die volmaakte gebed volg. Dit gaan om die heiliging van die Naam van Hom wat deur die versoeningswerk van Christus ons Vader geword het. Ons kan en mag die Naam van onse Vader heilig uit die krag van die werk wat Christus volbring het.

Dit gaan om die eer en heerlikheid van ons Vader. Vanuit daardie gesigspunt wil ons nou oor die eerste bede nadink. Ons spreek oor:

DIE EERSTE BEDE IN DIE ONSE VADER

  1. Le ons die eer van God aan ons hart;
  2. Motiveer ons om die eer van God te verkondig;
  3. Stimuleer ons om ons lewe daarvolgens te rig.

I In sondag 46 het ons oor die aanspraak 'Onse Vader' gespreek. Christus het ons geleer om God as onse Vader wat in die hemele is, aan te spreek. In die volgende sondae word die ses afsonderlike bedes van die volmaakte gebed verklaar. Die woord bede beteken gewoon dringende vraag, plegtig versoek, wat tot die Here gerig word.

Laat u Naam geheilig word bid ons in die eerste bede. Die Heiland het Hom in die formulering nou by die Joodse gebedsgewoonte aangesluit. Die sogenaamde agtien-gebed wat die Jode in die sinagoge bid het as derde bede: heilig is u Naam en heilig is U, o God en heiliges loof U elke dag. Verkort neem ons Heiland dit oor in: laat u Naam geheilig word. Die disspels moet die gebed egter tot sy en hulle Vader rig. Hierdie innige aanspraak word in die sinagoge nie geken nie.

Gemeente, ons Heiland het die volmaakte gebed met sorg opgebou. Hierdie eerste bede begin met 'laat u' Daarmee word ook die volgend twee bedes begin; laat u koninkryk kom en laat u wil geskied. Daarin het ons Heiland, God self voor ons aandag geplaas. Dit gaan om sy Naam, sy ryk en sy wil. In die eerste deel van die volmaakte gebed staan God sentraal. Daarin leer Christus ons, om die saak van God tot ons saak te maak.

Ons smeek om die heiliging van sy Naam, die koms van sy ryk en die geskied van sy wil. Vergelyk nou daarmee die tweede drietal gebede van die volmaakte gebed. Daarin word deur ons ons saak voor die Here gele. Dit gaan om ons brood, ons skuld en ons versoeking. Deur so, in ons gebed, ons nood voor God te bring, maak ons in hierdie drietal bedes ons saak tot die saak van God. Die saak van God gaan voorop, dan volg ons nood.

Daar is nog iets waarop ons by die opbou van die 'Onse Vader' moet let. Dit raak die volgorde van die eerste drie gebede. Christus het daarin die heiliging van die Naam van God voorop geplaas. Hoe sou dit ook anders moontlik wees? Ons kan tog nie om die koms van die ryk van Vader bid, as op aarde sy Naam nie geheilig word nie?

Daar waar die Naam van God geheilig word, daar kom ook sy ryk. Die ryk kan mos nie deurbreek daar waar die Naam van God gelaster en bespot word nie? So is dit ook met die derde bede. Die wil van Vader kan op aarde net daar volbring word, waar sy ryk kom en sy Naam geheilig word. Waar die Naam van Vader geheilig word en sy ryk kom, gaan die burgers van daardie ryk vaardig en vrolik sy wil doen.

Daar is nog 'n punt waarop ons moet let as dit oor die volgorde van die bedes van die volmaakte gebed gaan. Christus het 'n noue samehang tussen gebed en gebod daar gestel. Soos in die eerste drie bedes van die 'Onse Vader' God sentraal staan. So is dit ook in die eerste tafel van die wet van die Here. Geen ander gode, geen beeld van God maak nie. Die Naam van God nie ydellik gebruik nie en heilig die dag van die Here.

In die eerste drie bedes gaan dit om die Naam van God, die ryk van God en die wil van God. So het Christus Hom in die opbou van die 'Onse Vader' nou by die wet van die Here aangesluit. Nou ons die heilige orde en die sorgvuldige opbou van die volmaakte gebed raakgesien het, kan ons ons aandag op die eerste bede vestig.

Wat bedoel Christus as Hy ons leer bid: Laat u Naam geheilig word? Die Naam is mos heilig? God is tog heilig, kan die heiligheid dan nog vermeerder word? Laat ek met 'n voorbeeld duidelik maak wat Christus hier bedoel. Die son is deur God, saam met die lig wat sy uitstraal, geskep. Daardie lig wat uitstraal word nie meer of minder nie, altyd straal die son haar lig oor die wereld uit. Maar tussen ons en die son kan daar bewolking kom. Newelbanke kan ons die uitsig op die son ontneem en haar gloed verminder. So is dit ook met die heilige Naam van God. Die Naam is heilig want God is heilig. Mense kan egter die stralende heilige Naam van God besoedel en skend. Anti goddelike kragte wat uit die hel opkom, het die heerlikheid van die Naam van God in hierdie wereld verduister.

Daar teenin bid ons nou met hierdie eerste bede. Ons smeek dat die heiligheid en heerlikheid van die Naam van God weer onbelemmerd in hierdie wereld mag straal. Dat die verminking en besoedeling van die Heilige Naam end kry. Ons Heiland het, met hierdie bede, die heiliging van die Naam van God na aan ons hart gele. Voor alles moet die Naam ons ter harte gaan. Dis waarom die Heiland ons leer bid! Ken ons die betekenis van die heiliging soos dit in die Skrif gebruik word? Dis nie maklik om dit onder woorde te bring nie.

Tog moet ons die betekenis leer raaksien want Christus het die gebed met die heiliging van die Naam van God laat begin. Heiliging het in die Skrif altyd die grond-betekenis van: apart stel. Van die boosheid en goddeloosheid van hierdie wereld afsonder. Tegelyk is daar die positiewe betekenis van: aan God toegewy wees. Totaal op God gerig wees.

Die dubbele betekenis van hierdie woord kom veral in de Ou Testament vorentoe. Soos die ark van God en die reukaltaar heilige voorwerpe is, waarop God vir sy diens beslag gele het. Ook die priesters en leviete is heilige persone wat God van die volk afgesonder en aan sy diens gewy het. Hulle staan onder die beslag van die heiligheid van God. So wil die Here deur mense in sy diens geheilig word. Deur hulle wil God in sy eie heiligheid en majesteit erken word.

Daarvan vind ons sprekende voorbeelde in die geskiedenis van Israel. Dink maar aan dit wat tydens die woestynreis by Kades gebeur het. Toe die volk daar gebrek aan water gekry het. Het die Here vir Moses en Aaron opgedra om die rots aan te spreek, dan sal hy water gee. Moses het egter nie die rots aangespreek nie, maar tweemaal daarop geslaan. Die rots het toe tog baie water gegee, maar God het teen Moses en Aaron opgetree en gese: "Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oe van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie. " (Num. 20: 12) Hier staan ons by die hart van dit wat die woord heiliging beteken, Moses het God voor die oe van die volk nie God laat wees nie. Hy het God nie geheilig, nie in sy goddelike heiligheid erken nie. Hy het homself nie ten volle in die uitvoering van sy opdrag aan God gewy nie.

Dieselfde vind ons in die geskiedenis van Nadab en Abihu, die seuns van Aaron. (Lev. 10) Hulle het vreemd vuur op die altaar van God gebring. Daarop het vuur van die aangesig van die Here uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die Here. Hoor nou wat God deur Moses vir Aaron gese het: "Dit is wat die Here gespreek het deur te se: In die wat naby My is, wil Ek My as die heilige laat ken, en voor die oe van die hele volk wil Ek My verheerlik. " (vers 3)

God wil in sy goddelike hoogheid en heiligheid eerbiedig erken word. Pas dit alles nou op die eerste bede toe. Gemeente, daarin bid ons: Laat u Naam geheilig word. Ons Heiland plaas die Vadernaam wat Hy ons in die aanspraak van die 'Onse Vader' geleer het, in 'n groots perspektief. Dit is 'n innige naam, die Vadernaam. Daarin roep ons Hom as sy kinders aan. Dis 'n noue band van vertroue wat Hy tussen Hom en ons le. Daarby mag ons egter nooit vergeet nie dat Hy, ons Vader wat in die hemele is, 'n hoe en heilige Vader is.

Die luister van die intieme Naam moet oor die hele wereld uitgeroep word. Toe die Here die intieme en liefdevolle naam deur die woord 'Jaweh' vir die eerste keer aan Moses geopenbaar het, moes Moses eers sy skoene van sy voete aftrek. Want, se die Here, die plek waar jy op staan is heilige grond. Waar God sy Naam openbaar, pas vir Moses en ons eerbied en aanbidding van die Naam. Ons Heiland wil ons met die eerste bede leer, dat ons hemelse Vader tegelyk die hoe en heilige God is. Aan Hom kom lof en aanbidding toe. Daarom laat Christus direk op die aanspraak 'Onse Vader' die gebed om die heiliging van die Naam volg. Dit beteken dat ons die heilige Naam van God orals in die wereld sal ophef.

Die Naam is bo alle name hoog verhewe, daarom moet ons die grootheid en majesteit verkondig. Ons weet hoe die Islam die naam van Allah bo alles hoog hou. Ons, as christene kan daarvan nog leer. Terwyl die Naam van ons Here oneindig heerliker is as Allah van die islamiete wat star en onbeweeglik is. Deur die eeue is daar name van mense hoog gehef. Dink maar aan Nebukadnesar, Augustus, Napoleon Bonaparte, Hitler of Lenin. Wat het daar van die mense wat so verheerlik is oorgebly? 'n Naam in die geskiedenisboek en verder het hulle in die stof van die aarde vergaan. Hoog bo al die name mag ons die Naam van onse God en Koning verhef. Om dit vrymoedig en kragtig te kan doen, bid ons: Laat U Naam geheilig word.

Die kategismus le die eerste bede, soos ook die volgende bedes, op 'n baie mooie manier uit. Elke bede word in enkele aparte bedes opgesplit. Daardeur kan gesien word watter diep inhoud elk van die gebede van die 'Onse Vader' het. By die eerste al direk met 'gee' wat vir al drie dele in antwoord 122 geld. Gee dat ons U reg ken, gee dat ons U in al u werke mag heilig, roem en prys, gee dat ons ons lewe op U eer en lof mag rig.

Ons doen 'n dringend beroep op ons Here, as ons in die eerste plek vra: Gee dat ons U reg ken. Gemeente as bidders staan ons voor die troon van God. Ons het Hom as Onse Vader aangespreek. Nou vra on as eerste: skenk ons tog die genade dat ons voor alle dinge U as ons Vader leer ken. Ken ons nie vir God nie? Het ons Hom nie net nou met sy Vadernaam aangeroep nie? Dis mos geen vreemde, 'n vir ons onbekende, God wat ons aanroep nie? Waarom moet ons bid om Hom te leer ken?

Gemeente, dit gaan hier om die aard van ons kennis van onse Vader. Nie 'n ken wat ons nuuskierigheid bevredig nie. Nie om met ons verstand tot in die dieptes van God deur te dring nie. Dit gaan hier om die geloofskennis. Ons bid hier vir onse Vader om Hom, in my lewe van elke dag te leer ken. Hom te ken in die hoogtepunte en dieptepunte van ons lewe. Dit gaan om bevindelike kennis. Ons bid hier om God in sy genade en barmhartigheid oor ons te leer ken.

'n Mens kan baie van iemand gehoor en oor hom gelees het, maar wanneer daar 'n persoonlike ontmoeting plaasvind, word die persoon in 'n heel ander lig gesien. Nou bid ons: Gee dat ons U reg ken, in dae van blydskap, maar ook in dae van verdriet. In dae van gesondheid en in tye van siekte en sorg. Laat ons in al die situasies U as ons Vader in U verbond leer ken.

Gemeente, wat beheers ons lewe? Waarna jaag ons? Word ons lewe deur die materiele beheers? Soek ons die guns van mense? Waarom gaan ons kerk toe en wat beoog ons met boekevat? Wie en wat staan in ons lewe sentraal? As ons bid: Gee dat ons U reg ken. Vra ons dat ons God onse Vader bo alle ander dinge ken. As dit ons begeerte is word ons steeds begeriger om onse Vader van naby te leer ken. Leer ken uit sy Woord, en in sy beloftes. Uit sy leiding in ons lewe. In sy liefde en in sy trou. In ons wandel met Hom in die verbond. In wat Hy in ons lewe beteken.

Daarom gemeente laat hierdie bede in ons hart lewe. Gee onse Vader dat ons U in die skatte van die verbond leer ken. Dan is ons kerkgang geen sleur nie en die nagmaal is dan 'n regte ontmoeting met ons God!

Kerk toe gaan en sakraments bediening word dan hoogte punte in ons lewe. God is dan vir ons die lewende God, onse Vader in Jesus Christus. Die eerste bede dryf ons daartoe dat ons ons lewe aan Hom oorgee. So le die kategismus in hierdie eerste bede die eer van Vader en sy liefde ons aan die hart.

II Dan kan ons dit nie nalaat om die eer en hoogheid van onse Vader na buite uit te dra en te verkondig nie. Dis die tweede wat antwoord 122 voor ons aandag plaas. Die woord 'gee' geld ook hier. Gee dat ons U in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartiheid en waarheid helder skyn, mag heilig, roem en prys.

Ons kategismus is so van die heerlikheid van God vervul, dat amper oor die woorde gestruikel word. Dis om ons maar te laat sien hoe groot en heerlik ons Vader in sy deugde en werke is. Ons leer Hom mos nie alleen uit sy Woord ken nie maar ook in sy werke van skepping en herskepping.

Sien ons die duidelike ordening wat die kategismus in die opsomming van die werke en deugde van God aangebring het? Die Almag, wysheid en goedheid as eerste drie het duidelik op die magtige skeppingswerk van God betrekking. Hoe heerlik kom dit daarin uit, neem byvoorbeeld die atoom. Onmeetlike krag het God daarin opgesluit. Kyk na die web van 'n spinnekop of na die groot diere soos die olifant en kameelperd. Dis almal werke van sy almag wysheid en goedheid. Sien op na die sterre in die nag, die geweldige ruimte waarin die hemelliggame beweeg. Dis alles die magtige werk van ons God.

Saam het ons Psalm 8 gelees. het ons gehoor hoe die digter God loof en prys vanwee die grootheid van sy werke? By die opsomming daarvan het Dawid skoon in vervoering geraak. Hoor maar: "Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat u in die hemelruim geplaas het!" Daarlangs word dan baie mooi die heerlikheid in die skepping van ons mensekinders verkondig. Ja selfs kinders en suigelinge besing die magtige werk. 'n Heerlike Psalm waarin Dawid met die lof van God begin en daarmee ook eindig: Here, o Here, hoe Wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Gemeente, Juis in ons dae, waarin die skatkamers van die skepping ontsluit word, kom die almag wysheid en goedheid besonder goed uit. Die wetenskap is besig om tot die dieptes van die skepping van God deur te dring. Ons het die atoom al genoem. Dink ook aan die prille begin van die menselewe, waarin die wetenskaplikes al ver deurgedring het.

Die mense wat met die skeppingswerk van God eksperimenteer, dra 'n hoe verantwoordelikheid. Ons as christene moet groot sorg dra vir die skepping van God ook in die omgewings-bewaring. Die slordige en vernietigende omgaan met ons omgewing is die teendeel van: God in sy skepping roem en prys. In hierdie tweede 'gee' het God sy skepping vir ons op die hart gebind.

Die laaste drie eienskappe, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid het veral op die werk van God in die geskiedenis van hierdie wereld betrekking. Christene hou noukeurig die wereldgebeure by. As dit goed is word dit deur die nuusmedia in die lig van die Woord van God beskryf.

In die eerste bede vra ons ook: Here laat u Naam geheilig word in die besturing van die volke en nasies in hierdie wereld. Lei die wereld na die groot einde die nuwe hemel en aarde. Na die oorwinning oor alle goddelose en demoniese magte in hierdie wereld. Here so bid ons, dis tog U wat die wereld regeer? Dis tog U geregtigheid waardeur die tiranne wat die mensheid geteister het, verdwyn het? Gemeente waar is hulle die Farao van Egipte, Goliat die Filistyn, Napoleon en Hitler?

Here dis tog U barmhartigheid waardeur u volk Israel telkens weer gered is? Ja deur die eeue heen het U in u grote barmhartigheid die kerk te midde van vervolgings, onderdrukking en dwaalleer instand gehou. U het u waarheid oor alle leuenleer van mense laat triomfeer. Daar le in hierdie bede 'n kragtige eskatologiese tendens. Daarin bid ons hierdie wereld na haar einde toe. Na die nuwe Jerusalem met strate van goud en perels as poorte.

Dink aan Openbaring 6 waarin die boekrol met die sewe seels oopgemaak word. As ons bid: Laat u Naam geheilig word, vra ons ook dat die seels van die boek oopgemaak word. Ons bid dat die perde van die verbondsgerig sal uitgaan, maar tegelyk dat die ruiter op die wit perd voorop gaan. Hy wat in oorwinning uitry om te oorwin, ons Heiland.

Dis ons Heiland wat ons hierdie bede op die lippe le, Hy lei hierdie wereld na die voleinding Daarby is ons geen toeskouers wat op 'n afstand sake waarneem nie, maar deur hierdie eerste bede word ons met krag daarby betrek. In die rypmaak van hierdie wereld vir die voleinding is ons die medewerkers van God!

III Tenslotte kom sondag 47 tot die laaste 'gee' wat in die eerste bede opgesluit is. As laaste bid ons ook: Gee dan ook dat ons ons hele lewe, ons gedagtes, woorde en werke so skik en rig dat u Naam om ons ontwil nie gelaster word nie, maar geeer en geprys word. Ja, dit kan dat die heilige Naam van God, vanwee ons sondige handelinge, gelaster word. Maak dit ons nie skaam nie? Die kategismus het hier aan die sonde van Dawid met Batseba en die moord op Uria gedink. Die profeet Natan se dan vir Dawid dat hy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om God te laster!

Gemeente, ons lewe in 'n huis van glas. Deur ons bure, ons naaste by die werk, die mense om ons, word skerp op ons ag gegee. Is daar nie alle rede toe om met hierdie bede te bid: Gee dat ons ons lewe so rig dat om ons u Naam geprys word. Dis die beeld van 'n pyl op die boog wat sorgvuldig reggeskik en gerig word. So moet ons ons lewe skik en rig tot die eer van God. Dis waarom ons bid. Here gee dat deur my, swak en sondig kind van U, tog u Naam geeer en geprys mag word.

Wanneer ons dit met die hart bid, sal God ook verhoring van daardie bede gee, dan gaan daar van ons, as gemeente van Christus, grote krag in hierdie wereld uit. Ons het aandag gevra vir die sewe seels uit Openbaring 6. Daar is ses genoem. Eers in Openbaring 8 word die sewende seel oopgemaak. Toe het daar 'n half uur stilte in die hemel gekom. Die Serafs het hul geroep: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid, gestop. Want 'n engel kom nou die vuur van die reukaltaar op die aarde werp.

Dis die vuur van die gebede van die kerk van God. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en 'n aardbewing gekom. Die gerig van God gaan begin, die dood van die siele onder die altaar gaan gewreek word. Dis die verhoring van die eerste bede wat hier begin. Wat op die dag van die wederkoms van Christus volkome vervul sal word. Dan is dit nie net die serafs wat roep maar ook die gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is sal saamroep: Heilig, heilig, Heilig is die Here die Almagtige. Volkome verhoring van die gebed: Laat u Naam geheilig word!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)