Hou die huwelik heilig

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 41 H.K.

LITURGIE:
Ps. 139: 1, 2, 12
L. 1 Thess. 4: 1-7 & Maleagi 2: 10-16 & Matth. 19: 9-12
Ps. 119: 2, 52
Ps. 119: 39
Ps. 25: 3, 4, 5, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

As daar een gebod in die Wet van God is wat ons ons ellende leer, is dit wel die Sewende gebod.

Hierdie een sinnetjie: "Nie egbreek nie" roep 'n lewe van stryd, spanning en komplikasies vir ons almal op. 'n Stryd waarin ons dikwels struikel en val. 'n Stryd waarin ons ander mense seermaak en self seerkry.

Want nie net die wêreld vertrap die Sewende gebod onder die voete nie.

Ook in die kerk leef ons stuk vir stuk op gespanne voet met God se hoë norme ten aansien van huwelik en seksualiteit.

Ons almal weet waarvan ons praat as ons in die Kategismus lees van "die bose luste van die vlees".

Dit begin alreeds by ons seuns en dogters wanneer hul liggame begin ontwikkel en ryp, as daardie geheimsinnige vuur skielik jou liggaam aan die brand steek, as daardie onweerstaanbare drang na die ander geslag jou tot in jou drome toe agtervolg.

En as jy dan ouer word, en die HERE laat jou nie die geskikte lewensmaat vind nie....

Ons jongmense wat verloof geraak het, weet hoe moeilik dit is om enersyds al hoe meer na mekaar toe te mag groei -ook liggaamlik- en om nogtans 'n duidelike grens te bly inagneem.

En die worsteling met ons ligaamlike verlangens bly, selfs in die huwelik- Ook in die kerk word ons reëlmatig met owerspel, egskeiding of incest gekonfronteer.

Hoe moeilik is dit om ons liggaam as 'n tempel van die Heilige Gees rein en heilig te bewaar.

Selfs manne en vroue in 'n huwelik wat wel goed en gelukkig is, kan daarmee nog worstel. Soms selfs in so'n mate dat hulle dié so intieme stryd nie eens vir mekaar durf te beken nie. Ons praat in so'n geval dan ook van "boesemsondes".

God stel sy eie ook so hoog: álle onkuise dade, maar ook gebare, woorde, gedagtes en luste, én wat die mens daartoe kan verlei, is deur God vervloek. Elkeen wat maar net na 'n ander vrou of 'n ander man kyk om haar of hom te begeer, het in sy hart reeds egbreuk gepleeg.

Dit is heeltemal verstaanbaar dat Christus se dissipels in reaksie op hierdie hoë norme versug het: "As dit alles so is, dan kan jy maar beter glad nie trou nie". Dan sou jy jou as man amper laat ontman!

Maar weet u wat ons Heiland daarop geantwoord het, broeders en susters? Hy het nie gesê: "Inderdaad, dit sou dalk die beste wees" nie. Hy het nie toegestem dat ons huwelik en seksualiteit maar liewer uit ons lewe moet probeer uitban nie.

Hy het wel toegestem dat God se heilige norme vir 'n sóndige mens gans te hoog is. Net dié aan wie dit gegee is, sal weer voor God se hoë eise leer buig. Mens benodig genade om God se oorspronklike bedoeling met huwelik en seksualiteit weer te eerbiedig.

Maar die genade het Hy vir ons kóm gee! Vandag in dié diens blyk dit weer. Ons Here Jesus Christus verkondig ons vandag weer die Evangelie dat Hy ons met siel, maar ook met ons liggaam, uit die slawerny van die duiwel, ook die slawerny van ons seksuele hartstogte vrygekoop het. En deur sy Heilige Gees leer Hy ons om weer van harte volgens die goeie Wet van onse God, met daarin ook die hoë eis van die Sewende gebod, te lewe.

Dit is God se genade dat vanaand tot ons die oproep kom:

HOU DIE HUWELIK HEILIG

Wanneer ek namens die Gees van Christus dié oproep aan u voorhou wys ek vir u 3 dinge:

  1. HOEDAT GOD 'N HEILIGE HUWELIK BEGEER
  2. HOEDAT ONS 'N HEILIGE HUWELIK MOET BEGIN
  3. HOEDAT ONS 'N HEILIGE HUWELIK KAN BEHOU.

1. Daar is in ons lewe oomblikke waarop ons geen getuies kan gebruik nie. Met name oomblikke waarin die seksualiteit, ons belewing van ons man- en vrou-wees 'n groot rol speel. In die mees intieme oomblikke wil ons alleen wees.

Maar daar is Een wat ook daarvan wél Getuie is: God, die HERE. Die profeet Maleagi wys daarop in hoofstuk 2 van sy profesie.

Hy is Getuie van die eerste ontmoeting tussen twee jongmense, hul eerste omhelsing, hul groeiende verlange na mekaar.. En Hy bly Getuie op hul troudag, in hul eerste huweliksnag en die totale huweliksverkeer met mekaar daarna; ook van hul rusies, hul geheime vir mekaar. Selfs van hul diepste gedagtes. Hy is Getuie van die verbode ontmoeting tussen twee mense wat aan 'n ánder trou beloof het......

Die HERE is daarvan nie net Getuíe nie. Hy vra van dit alles ook rekenskap. Want die wyse waarop ons met die ander geslag omgaan, het direkte implikasie vir ons omgang met Hom. Ook dit kom ons agter uit Maleagi se profesie. Maar ook die apostel Petrus wys daarop in sy eerste brief, hoofstuk 3: die HERE luister nie meer na ons gebede nie, en Hy aanvaar nie meer ons offers nie, as ons terselfdertyd mekaar bedrieg, seermaak of ignoreer.

Daar kan van 'n erediens vir Hom geen sprake meer wees nie, as ons in ons seksuele lewe geen eerbied vir die ander geslag betoon nie.

Want die HERE het ons seksuele lewe is 'n baie belangrike plek gegee in ons erediens aan Hom. Toe Hy die een mens in twee geslagte geskep het, manlik en vroulik, was dit nie maar net 'n ekstra variasie in sy skeppingswerk vol verskeidenheid nie. Dit was ook nie om die mens 'n speelkameraad en 'n bedmaat te verskaf nie.

Die man het in mannin 'n hulp ontvang wat in sy ampsdiens presies by hom pas. Die HERE het man en vrou aan mekaar gegee om, soos ons huweliksformulier dit bondig uitdruk: "getrou te help enb by te staan in alle sake wat tot die tydelike en ewige lewe behoort"

Man en vrou ontvang verskillende liggame. Met verskillende gawes en moontlikhede. En daarom ook met verskillende take. Maar die verskille is daar om tot een vlees saamgevoeg te word en om so die een ampsdiens van die mens te versterk. In 'n totale wesenseenheid, geestelik en liggaamlik.

Maar as 'n man en vrou in liefde vir hul God en Skepper hul lewens saamvoeg, mag hulle ook volop van die liefde vir mekaar geniet. 'n Man en vrou wat hulle saam tot die HERE aangetrokke voel, mag ook die wonderlike aantrekkingskrag tot mekaar ondergaan. Noudat hulle bereid was om voortaan die lewe te deel, mag hulle ook die bed en mekaar se liggame deel. In 'n opwindende liefdesspel. En jy mag liries daaroor raak. Die Bybel maak ook so. Wat van die boek Hooglied?

Ook daardie liefdesspel bly egter 'n wesenlike bestanddeel van die liefdediens aan God. Ook die geslagsgemeenskap met mekaar maak deel uit van die gemeenskaplike erediens aan God.

Man en vrou moet bewus wees daarvan dat die wonderlike verlange na mekaar sy hoogtepunt vind in 'n saaduitstorting waaraan die HERE die verwekking van nuwe menselewe kan verbind.

Want Hy begeer dat daar telkens nuwe mense verwek en gebore word.

Die profeet Maleagi het dit so uitgedruk: " Hy het 'n geslag van God gesoek". Feitlik staan daar: "'n saad van God".

God het al hoe meer mense, al hoe meer manne en vroue in sy wêreldhuis. Al hoe meer kinders wat Hom sou liefhê en dien. Sy eerste opdrag aan die mens was: "Wees vrugbaar en vermeerder en vervul die aarde; en onderwerp dit... ". Daar lê 'n ontsaglike taak in die skepping. Om dit te onderhou en te ontwikkel tot God se eer. En die skepping is so ryk dat die mens nog in g'n 60 eeue daarin klaar gewerk is nie. Die wêreldhuis is so groot dat mens daarin sommer verdwaal en dit nog altyd nie kan oorsien nie. Dus soek God werkers, kinders wat saam met Hom die skatte van die skepping wil ooplê. Werkers op die land en in die laboratorium, mynwerkers diep onder die grond en ruimtevaarders hoog in die heelal.

Die begeerte van man en vrou na mekaar moet aan dié begeerte van God ondergeskik bly.

Maar juis ook daarom mag man en vrou die liefdesspel nie speel in 'n los verhouding, in 'n vlugtige ontmoeting met telkens wisselende partners, soos by die meeste diere nie. Die liefdesspel is geen spel sonder grense nie. Want die kinders wat God uit die liefdesgemeenskap begeer, moet nie net verwek en gebaar word nie. Hulle moet vervolgens ook as sy kinders onder die veilige dak van een huis en in die verband van een gesin grootgemaak word. Deur een pa en een ma wat dit in hulle gemeenskaplike liefdesdiens aan die HERE aan hulle kinders voorleef hoe ryk dit is om Hom te dien. Wat hul kinders met raad en daad begelei totdat hulle vader en moeder verlaat en self 'n huweliksverbond sluit om self pa en ma te kan word.

En selfs op daardie dag kan die huwelik nie ontbind word nie. Die gemeenskaplike taak is nie klaar so gou as wat die kinders die huis verlaat het nie. Man en vrou hou 'n taak ten aansien van hul kindskinders, hulle hou ook 'n taak ten opsigte van mekaar. 'n Gemeenskaplike taak in die diens van die HERE. Hulle lewens het tot een vlees vergroei en slegs die dood kan hulle nog skei.

Het u gesien, broeders en susters, dat Maleagi praat van 'n verbond i. v. m. die huwelik? 2: 14: die vrou word die man se "metgesel, die vrou van sy verbond" genoem. Praat Maleagi van "jou" verbond, in die boek Spreuke (2: 15) lees ons van 'n vrou wat "die vriend van haar jeug verlaat en die verbond van haar Gód vergeet". Die huwelik is g'n vryblywende tydelike ooreenkoms tussen twee mense nie, maar 'n onverbreeklike verbond wat deur God se eie hand tussen daardie een man en vrou gesmee is. 'n Verbond wat hulle voortaan aan mekaar verbind terwille van die verbond wat hulle saam aan God verbind. Daarom haat die HERE ontrou en egskeiding!

So het die HERE vanaf die paradys die huwelik en die seksualiteit 'n plek gegee in die erediens aan Hom.

Ons leef inmiddels lankal nie meer in die paradys nie. Die sonde het die lewe op aarde, ook die huwelikslewe en die seksuele lewe verwoes.

Maar God het darem die seksualiteit en die huwelik nie afgeskaf nie. Want Hy het sy skepping nie afgeskaf nie. Inteendeel, Hy het dadelik aan die wederopbou, die herskepping begin.

Ook na die sondeval het Hy "'n geslag van God" bly begeer. Mannin, wat die dood in die wêreld ingebring het, mog nogtans "Eva", Moeder van lewendes, word. En die huwelik is van toe af ingeskakel om dié "saad van God" voort te bring: God se eie ewige Seun wat mens onder die mense wou word om God se skeppingdoel te red.

So groot is God se genade! Die huwelikverkeer het na die sondeval 'n wonder van God geword. Daaraan het die HERE vanaf Abraham dan ook elke egpaar in Israel herinner so dikwels as wat hulle die liefdesspel gespeel het: deur die sprekende teken van die besnede manlike geslagsorgaan.

Daardie teken is vandag nie meer nodig nie. Daar hoef vir ons lewe en huwelikslewe geen bloed meer te vloei nie. Die bloed hét klaar gevloei. Die bloed van God se eie Seun tot 'n volkome versoening van al ons sondes. Vandag word ons daaraan herinner deur doop en nagmaal.

Maar die wonder van God se genade het dieselfde gebly. Elke seun en dogter wat mekaar begin liefkry, elke verloofde paartjie wat hul op die huwelik voorberei, elke egpaar wat daagliks in liefde mag saamlewe, moet daarom bewus wees daarvan dat hul liefde vir mekaar slegs moontlik geword het danksy God se genadige liefde vir ons. Maar dan moet hulle hul saamgaan as man en vrou ook weer heeltemal diensbaar maak aan God se oorspronklike plan daarmee. Dit moet weer ten volle erediens wees. God soek vandag nie meer uit ons huwelike die Christus nie. Maar Hy soek vandag christene, 'n ontelbare menigte wat Hom eendag weer volmaak sal dien op 'n vernude aarde.

Ek weet, nie elke man en vrou trou nie. Daar is wat sonder lewensmaat bly. Nie altyd omdat hulle nie die behoefte voel om te trou nie. Dalk is daar juis 'n sterk begeerte, maar kan hulle maar nie die hulp wat by hulle pas, vind nie. Of hulle worstel met verlangens wat nie op die ander geslag nie, maar op die eie geslag gerig is en dus onvervul moet bly.

Om alleen te moet bly kan baie, baie moeilik wees. Maar dan is dit nie goed om jou blind te staar op dit wat jy nie ontvang nie. Dit is nie goed om dan 'n ander uitweg vir jou ligaamlike verlangens te soek nie. En dit is baie kortsigtig en gevaarlik om dan tot elke prys 'n huwelik te wil forseer. Die apostel Paulus leer ons om te aanvaar dat God aan elkeen sy eie "gawe" gee. God gee dit vandag nie meer vir elkeen om te trou nie. Hy gee dit aan party van ons om ongetroud te bly, of om na 'n korte huwelk weer alleen te bly. Maar ook dit is 'n goeie gawe uit sy hand.

Daar is meer weë om as man of as vrou vrugbaar te wees in sy diens. Want ookal word die twee-eenheid van die huwelik aan jou nie gegee nie, die rigting waarin jy moet beweeg, is dieselfde soos by getroude mans en vrouwens: nie die bevrediging van jou eie begeertes soek nie, maar diensbaar wil wees aan die begeerte van God.

2. Dié rigting moet ouers van kleins af vir hul kinders leer. Daar kom 'n leeftyd dat reguit en openlik oor die seksualiteit gepraat moet word. En ons kan daarmee nooit vroeg genoeg begin nie. Want kinders sién die onderskeid tussen seun en dogter. Hulle hoor en sien dikwels meer as wat u dink. Dan is dit nodig dat hulle uit die staanspoor God se bedoeling met die onderskeid tussen, en die saamgaan van man en vrou leer verstaan.

Hulle moet leer dat geslagsverkeer nie iets viesliks is wat twee mense skelmpies doen nie, maar dat die die wonderlike hoogtepunt is 'n liefdeslewe van twee kinders van die HERE mag wees.

Hulle moet leer, wanneer die verlange na die ander geslag begin ontwaak, dat dié verlange ondergeskik moet bly aan die verlange om met siel en liggaam die HERE te dien, sodat dit alleen vervul kan word in 'n huwelikslewe tot eer van die HERE. Selfbevrediging is die teenoorgestelde van erediens vir die HERE.

Ja, julle, jongmense, moet leer om nie met jou manlikheid of jou vroulikheid te koop te loop nie. As jul liggame volwasse begin word en julle bewus word van jul aantrekkingskrag op die ander geslag- moenie daarmee 'n gevaarlike spel speel nie. Dan speel jy met vuur! Moenie 'n seun of dogter uitdaag, nie by hom of haar verlangens wakker roep, as jy dit nie regtig met hom of haar meen nie; as jy in hom of haar nie 'n lewenslange bondgenoot om die HERE te dien soek nie.

Dogters, moenie die aandag van die ander geslag probeer trek met jou liggáámlike bates nie: deur uitdagende kleding, grimering en so meer. Laat hulle jou ander bates, jou innerlike aantrekkingskrag maar agterkom: jou geloof, jou beskeidenheid, jou sagmoedigheid, jou wysheid. Die man wat daarop afkom is ongetwyfeld 'n beter lewensmaat as die wat hulle maar net aan jou liggaam verkyk.

Die Skrif leer jongmense om nie kortsigtig te wees as hulle 'n lewensmaat soek nie. Uiterlike aantrekkingskrag speel onteenseglik 'n rol. Maar uiterlike aantrekkingskrag kan ook baie bedrieglik wees! In 'n aantreklike liggaam kan 'n afstootlike karakter skuilgaan. En 'n pragtige gesiggie kan 'n leë kop verberg. Al baie mense het dit moet agterkom, dikwels te laat.

Terwyl 'n uiterlik onopvallende seun, of 'n meisie wat liggaamlik bepaald geen skoonheid is nie, innerlik so gaaf kan wees dat jy 'n baie ryke lewe met hom of haar mag hê. Boonop: hoe sal iemand wat vandag baie aantreklik is, oor 30 jaar lyk? Die eerste en belangrikste voorwaarde vir 'n heilige, en dus: gelukkige, huwelik is nie dat twee mense vuur en vlam vir mekáár raak nie. Die belangrikste fondament onder 'n ryke huwelik is dat hulle saam vuur en vlam vir die HERE en sy diens is. "Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word"- sê die wyse Spreukedigter vir ons.

Soek dus 'n lewensmaat wat saam met jou die HERE vrees.

Een wat bereid en in staat is om saam met jou jul lewe aan die HERE te wy. Wat saam met jou kinders vir die HERE kan en wil grootmaak.

Dan word jou keuse wel baie beperk. Dan kan jy selfs nie met elke seun of dogter in die kerk trou nie. Daar is leeftydsgenote saam met jou in die kerk met wie jy tog nie sommer 'n heilige huwelik kan begin nie. Omdat jy agtergekom het, uit hul houding tydens die verenigingsaand, uit dit wat hulle lees, uit die t. v. -programme wat hulle kyk, dat julle nie dieselfde hoë opvattings het oor hoe ons die HERE moet liefhê en dien nie.

Maar indien dit ín die kerk alreeds so is, hoeveel te meer geld dit buite die kerk: jy kan met 'n seun of dogter wat tot 'n ander kerkgemeenskap behoort nie sommer 'n huweliksverbond sluit nie. Julle sal nooit regtig 'n gelyke span vorm nie, nie regtig een wees in die diens aan die HERE nie. Julle sal nooit eensgesind jul kinders kan grootmaak nie. As jy dit besef is dit beter om betyds hom of haar te los. Liewer die verdriet oor 'n verhouding wat nie kon voortduur nie, as die verdriet om 'n huwelik wat nooit moes gesluit gewees het nie.

Dit kán gebeur dat jy iemand leer ken wat, ten spyte van 'n kerklike geskeidenheid, wel opreg die HERE vrees en belangstel om meer oor die kerk en die verskil tussen die kerke te leer. Moet dan nie te haastig wees nie. Dis hoegenaamd nie genoeg as 'n seun of dogter uit 'n ander kerkgemeenskap bereid is om na die Vrye Gereformeerde Kerk oor te kom nie. Dis in ons land nie so'n groot stap nie. Nee, besin dan eers maar saam deeglik op die kerklike verskille en laat dit al hoe duideliker word dat die ander, ás hy of sy besluit om hom of haar by die Vrye Gereformeerde Kerk te voeg, met sy hele hart gekies het.

Dis dié dat die kerkraad dringend aanbeveel het om in so'n geval nog 'n jaar saam die herhalingskatkisasie te volg. As 'n mooie hulpmiddel om aan 'n duidelike en hegte fondament onder julle verhouding te bou. Terselfdertyd is dit 'n middel om te toets of julle regtig saam aan so'n fondament wíl bou: is julle (ja, ook jy!) wel bereid om nog 'n jaar die katkisasieklas te volg? Is julle trou daarin?

En dan sê ek weereens: moenie te haastig wees nie. Moenie eers verloof raak en vervolgens nog probeer om jul kerklike geskeidenheid te verander nie. Dis nie die regte volgorde nie. As julle verloof raak lê julle die eerste stene vir 'n huwelik. Maar hoe kan jul daardie stene lê as daar nog nie 'n eensgesinde fondament onder lê nie?

Ja, die verlowing vorm die eerste stene vir 'n heilige huwelik. Dis die intensiewe voorbereiding op 'n huwelik. Dit kan 'n pragtige tyd wees. Maar dit sal ook 'n moeilike tyd wees. 'n Tyd waarin geleer moet word om in alles by mekaar aan te pas, om ook mekaar se minder mooie karaktereienskappe in liefde te verdra, om na rusie mekaar wer te soek en mekaar te vergewe. Ook die tyd waarin geleer moet word om die liggaamlike verlange na mekaar suiwer en onder beheer te hou. Waarop altwee vir mekaar wys dat hulle kan wag. Dat hulle geen intimiteite met geweld of met geraffineerde verleiding afdwing nie maar eerder uit liefde vir die ander betyds padgee as om oor die tou te trap.

In die verlowing moet 'n man en 'n vrou leer dat daar 'n ander fondament onder hul verhouding lê as die liggaamlike verlange na mekaar. Die liggaamlike vereniging mag eendag die hoogtepunt wees wat op daardie breë fondament rus. Maar wee die man en vrou wat dit omkeer en wie se hele huwelik net rus op die een hoogtepunt!

3. Ook ten spyte van 'n deeglike voorbereiding op 'n heilige huwelik, kan daar na die troudag heelwat probleme en verdriet ontstaan. Want 'n huwelik vandag word tussen twee sondige mense gesluit. Met partymaal moeilike karakters, snaakse gewoontes. Dit wat jy tydens jul verlowingstyd nie by die ander raakgesien het nie, kan jou in jou huwelik onkant vang.

En dan is daar die onloënbare feit dat die natuurlike remme wat ons teenoor vreemde mense soos vanself het, in jou eie huis en tenoor die met wie jy daagliks verkeer sommer kan wegval.

Hoe moeilik kan dit dan wees om dan aan te gaan! En om die ander in liefde te bly soek.

Maar juis dan moet dit blyk op watter fondament u huwelik gebou is. Dat dit nie net op wedersydse gevoelens vir mekaar gebou is nie, maar op die gemeenskaplike trou aan die HERE.

Juis dan moet dit blyk dat ons regtig trou wil wees. Trou aan die ander, omdat ons trou aan die HERE is. Want die HERE het trou aan ons gebly in weerwil van al ons lelike karaktereienskappe, in weerwil van so veel sondes, soveel liefdeloosheid en ontrou van ons kant. Hy vergeef ons aanhoudend en hou die pad van bekering telkens oop.

Moet ons dan ook nie met mekaar geduld hê nie? Mekaar vergewe? Vir mekaar die pad van bekering oophou?

Dit is egte liefde, broeders en susters. Liefde is meer as 'n aangename en opgewonde gevoel ten opsigte van die ander. Liefde is 'n opdrag. Om die ander by die HERE vas te hou. Liefde bly die ander soek, ook as jy in jou gevoelens baie seergemaak is. Daarom kan die HERE ons selfs opdra om, ongeag ons gevoelens, ons vyande lief te hê.

En as daar in 'n situasie van spanning en stryery in 'n huwelik skielik 'n ander man of vrou in jou lewe kom, wat begrip vir jou probleme toon, wat nuwe gevoelens by jou losmaak- besef dan dat daardie man of vrou jou geen egte liefde bied nie. En dat jou gevoelens vir hom of haar geen egte liefde is nie. Egte liefde dring hom nie tussen 'n getroude man en vrou nie, veral nie as daar in hul huwelik moeilikheid is nie. Egte liefde hou 'n ander man of vrou op afstand en ontvlug sy of haat sjarmes, sowel terwille van hom of haar self as terwille van die metgesel van jou jeug met wie jy beloof het om nie net mooie dae nie, maar ook moeilike dae te deel. Aan wie jy trou tot die dood beloof het. Aan wie se liggaam jy jou dikwels verlustig het. Julle het een vlees geword. Wie een vlees uitmekaar skeur, maak 'n skepping van God dood. Die praktyk het dan ook lankal geleer dat egskeiding nie rêrig 'n oplossing vir huweliksellende bring nie. Die ellende word maar net verskuif en 'n nuwe ellende word veroorsaak.

Die ellende verdwyn alleen as daar bekering kom. As die Gees van Christus die harte na mekaar terugbuig nadat die harte weer saam voor God leer buig het.

Dan kan selfs na owerspel 'n vrou haar man weer aanvaar en 'n nuwe begin met hom maak. Of andersom.

Die weg is nie altyd maklik nie Daar word dikwels veel geduld gevra. Geduld met die ander as sy of haar hart nie reg teenoor die HERE, en dus ook nie teenoor jou is nie. Maar ook dan mag jy nie egskeiding as die uitweg kies nie. Egskeiding beteken om die ander aan sy sondige weg prys te gee en die weg van bekering af te sny.

Beter is dit in so'n situasie om in jou eie vlees te sny. Dit het ons Heiland bedoel toe Hy in Matth. 19 vir sy dissipels gepraat het van mense wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die Koninkryk van die hemele. "Onbekwaam"- letterlik vertaal staan daar: "gesny, ontman, gekastreer". Daar is mense wat vanweë 'n aangebore onbekwaamheid die huweliksgeluk nooit sal kan smaak nie. Daar is ook mense wat deur ander van die moontlikheid om die volle huweliksgemeenskap te belewe, beroof is: soos die ontmande dienare in 'n Oosterse harem.

Maar daar is ook mense wat geen liggaamlike afwyking het nie, maar nogtans 'n huwelik sonder die volle huweliksgeluk aanvaar. Hulle is aanvanklik normaal en gelukkig getroud maar later het daar baie spanning en verdriet in hul verhouding gekom. Hulle kies nou egter nie vir die oplossing van 'n egskeiding nie, maar sny hulle liewer in hul eie vlees. Omdat hulle kinders van die Koninkryk van die hemele is. Want die HERE haat die egskeiding.

Om so ver te kom -en nou is ek terug by die begin van hierdie preek, gemeente- niemand kan dit uit homself nie. Dit moet aan 'n mens gegee word.

Maar God kan en wil dit gee. Aan elkeen wat dit van Hom vra.

En die wat so in sy eie vlees sny en die kortpad van 'n egskeiding verwerp, vir hom of haar lê daar dalk 'n lank woestynreis voor, met nog heelwat verdriet en eensaamheid. Maar aan die einde wag die Beloofde Land, die Koninkryk van die hemele. 'n Huwelikslewe waarin jy nie jouself, maar jou God bly soek het, is nooit uitsigsloos nie!

AMEN.

(Pretoria, 2 September)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)