Geen verbond sonder wet

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 34a HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 119: 1, 3, 6
Gebed
L. Jerem. 31: 31-34 & Eseg. 36: 26-28
SB 14
Prediking
Ps. 119: 20
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 19: 4, 5
Seën

Broeders en susters,

Elke sondagoggend word die Wet van die 10 gebooie aan u voorgelees.

U weet natuurlik: dié gewoonte het in ander kerke al hoe meer 'n uitsondering geword. Hulle het die weeklikse wetslesing afgeskaf. Omdat hulle dit as OT-ies ervaar. Hulle lees nou gedeeltes uit die NT oor die liefde as die vervulling van die Wet en so meer.

Ons moet vanaf vandag met die Kategismus die Wet gaan bespreek, gebod vir gebod.

Daarby kan 'n mens dieselfde vraag vra: moét dit nou nog?

En: hoekom word eers noú, in die laaste deel van Kategismus, noudat ons klaar gehoor het oor die verlossingswerk van Christus, oor vergewing vir wetsoortreders, oor genade vir sondaars, hoekom word nou nog die Wet ter sprake gebring?

Die Kategismus het mos al in Sondag 2 aandag vir God se Wet gevra. Daar was dit heeltemal vanpas. Toe was die vraag: "Waaruit ken jy jou ellende? "

Waaraan kan 'n mens duideliker jou skuldige posisie teenoor God agterkom as uit die Wet van God? Sondag 2 het ons geplaas voor die samevatting van die Wet, soos Christus dit vir ons geleer het: God vra 'n volkome LIEFDE vir Hom en vir ons naaste.

Maar toe kon ook net so wel elke gebod een-een bespreek gewees het. Dit sou dalk ons ellende nog skrynender aan die lig gebring het.

LUTHER het so die bespreking van die Tien Gebooie 'n plek vooraan in sy Kategismus gegee.

'n Uitvoerige aandag vir die Wet dáár, om ons ellende aan te wys, is heeltemal verstaanbaar.

Maar daarna het Kategismus mos geleer dat Christus ons van ons ellende wat die Wet aan die lig bring, ja van die vloek van die Wet vrygekoop en verlos het deur Self 'n vloek te word?

Het dit dan nou, nou ons in hierdie laaste deel oor ons dankbaarheid vir daardie verlossing wil nadink, nog sin om so in besonderhede na die Wet te gaan kyk?

Die apostel Paulus het in sy brief aan die Romeine geskrywe: "Julle is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade". Ja, hy het daar selfs gesê dat ons danksy Christus "Dóód vir die wet" is!

Wat wil die Kategismus tog?? Wil hy ons onder die Wet terugbring?

Hierdie soort vrae het telkens in Kerkgeskiedenis geklink. Daar was regdeur die eeue 'n hardnekkige stroming wat die Wet uit die NT-iese kerk wou uitban. ANTINOMIANE word daardie mense genoem.

Ons loop hulle vandag nog steeds raak: ons kinders kan in die hoërskool met godsdiensonderwysers te make kry wat so dink.

Een van die konsekwensies van daardie gevoele is al dadelik dat daardie mense geen rede meer sien om die Sondag as 'n spesiale dag vir die HERE te heilig.

Dit sou wetties wees.

Daarom gaan ons vanaand weereens die vraag onder oë neem watter betekenis God se wet vandag steeds vir ons het.

Ek moet u vanuit God se Woord laat sien dat, alhoewel ons danksy Christus nie meer onder die wet is nie, ons darem ook nie nou sonder die wet is nie.

Christus het gekom om die Verbond met God te herstel en vernuwe. Maar die herstel van die verbond bring soos vanself ook weer die verbondswét in ons lewe terug.

Want, en nou vat ek die inhoud van my preek van vanaand vir u saam:

GEEN VERBOND SONDER WET

VERBONDSWET

  1. SOOS GOD ONS VADER DIE VIR ONS GEGEE HET
  2. SOOS GOD ONS VERLOSSER DIE VIR ONS VERVUL HET
  3. SOOS GOD ONS HEILIGMAKER DIE ONS WEER EIE MAAK

1. Die misverstande begin al dadelik as ons die woordjie "wet" nie reg verstaan nie, broeders en susters.

"Wet" het in baie ore 'n ongunstige klank. Ons dink by "wet" maar alte gou aan allerlei polisiebepalings: dit mag nie en dit mag nie, dit moet sus en dit moet so..... 'n Inperking van jou vryheid. Jy mag nie jou eie gang gaan nie, maar moet na 'n ander se pype dans.

Maar dié wat 'n bietjie nadink, sal verstaan hoe kortsigtig dit is om jou so oor die onderwerping aan 'n wet te vererg. In ons menslike samelewing is dit alreeds so, dat sónder wet die lewe aan tirannie en willekeur, aan vrybuitery en chaos sou prysgegee wees. Sonder ordentlike verkeersreëls, soos dat jy voor 'n stopstraat en 'n rooi robot moet stop en 'n spoedbeperking moet inagneem, sou dit lewensgevaarlik wees om jou op die pad te begewe. Sonder beskermende wette m. b. t. ons eiendom sou enigiemand ons goed sommer kon vat.

Sonder wet is daar geen vryheid meer nie.

Indien dit alreeds geld van die wette in ons menslike samelewing, hoeveel te meer geld dit dan van God se goeie Wet.

Immers: Wie is dit wat die Wet van die Tien Gebooie aan ons gegee het: nie 'n grillerige tiran of strenge polisieman nie, maar 'n liefdevolle Vader. So mag ons ons God tog noem: Vàder. Diè naam het Hyself ons in die mond gelê. En uit die staanspoor uit het Hy die mense as sy kinders beskou. Daarin het die laaste skepsel radikaal van alle ander skepsele verskil. Hy mog kind van God die Vader wees.

En wanneer ons praat oor God se verbond met ons, dan bedoel ons hierdie verhouding tussen die Almagtige Skepper van die hemel en die aarde en ons, nietige mensies: daardie groot God wil ons Vader wees en ons mag sy kinders wees.

Ons word nog by elke doopsbediening daaraan herinner: As ons in die naam van die Vader gedoop word, betuig en verseël God die Vader aan ons dat Hy 'n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem..... In die verbond mag ons lewe soos kinders van Vader in die hemel.

Maar elke verbond het twee dele. 'n Belofte èn 'n eis. Ons word deur God nou ook geroep en verplig tot gehoorsaamheid. Dit mag Vader in die hemel tog van sy kinders verwag!

Dit beteken, sê die Doopsformulier, dat ons hierdie God moet aanhang, vertrou en liefhê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons kragte.

En u hoor: daar kom die wet na ons toe, in die samevatting soos Christus ons geleer het. Waar God se verbond tot stand kom, kom hierdie verbondswet saam. God se verbond kan nie sonder hierdie wet nie.

Die wet van die Tien Gebooie is in sy samevatting: God liefhê en die naaste liefhê, dan ook al so oud as die wêreld oud is. Ook in die Paradys was die wet al daar!

Dit was vanaf die begin die reël in die verbond: die lewe moet een en al liefde wees.

God het die mens, die kroon op sy skepping, midde-in sy wye wêreldhuis geplaas en het hom alles in die hande en onder die voete gegee. Die hele skepping het vir die mens oopgelê, en in daardie skepping het God se hart vir die mens oopgegaan: 'n hart vol liefde en sorg.

Net een eis het God daarby gestel: dat die mens nou ook in liefde sy hart vir Gòd sou oopmaak en oophou. Nie meer nie.

Maar daardie een eis wou mos nie die lewe aan bande lê nie. Juis nie!

Hierdie verbondseis moes juis die egte lewe moontlik maak. Leefbaar hou.

Wat die water vir die visse en die lug vir die voëls, hul element, dit is God se verbondswet vir sy kinders. Hierdie wet hou die leefklimaat gesond. Daarsonder gaan die lewe dood.

Jakobus noem in sy brief God se Wet "die wet van die vryheid". God se Wet wil nie ons vryheid inperk nie, maar ons juis by die vryheid bewaar.

Hierdie betekenis van God se Wet het Adam en Maninne egter uit die oog verloor, broeders en susters. Hulle het vergeet dat hul hele lewe aan die groot leefreël van hul hemelse Vader gehang het.

Wat is die sondeval anders as dat die mens die wet vir die lewe wat God gegee het, eenkant toe geskuif het? "Sonde is wetteloosheid" sê die apostel Johannes in sy eerste sendbrief.

Hulle het aan God die liefde van die hele hart onthou en toe ook alle liefde vir mekaar verloor om voortaan net nog deur selfliefde, egoïsme gedryf te word. Die selfsugtige mens is geneig om God en die naaste te haat.

En so het die wêreld deur die sonde, dit is dus: deur die wetteloosheid, in die greep van die dood gekom. Deur die sonde is dit hier geen lewe meer op aarde nie. Die mense is God en mekaar kwyt en daardeur is daar geen ander uitsig nie as die ewige dood.

Dit is dan ook genade dat God Hom van hierdie wettelose wêreld toe nie totaal afgekeer het nie. Dit is wel 'n beskamende liefde dat ons hemelse Vader sy liefdelose kinders nie vir goed gelos het nie. God het sy kinders weer teruggesoek en die uitsig op die lewe opnuut vir hulle oopgemaak.

Maar toe kòn dit nie anders nie of toe het ook die wet in hul lewe teruggekom. Sonder daardie wet is daar mos geen lewe moontlik nie!

Toe die HERE Israel tot sy volk gekies het en Moses tot hierdie volk mog sê: "Julle is kinders van die HERE, julle God" (u lees diè woorde o. m. in Deut. 14: 1), moes Moses aan hierdie volk ook God se wet weer as die leefreël in die verbond met God voorhou en inprent. Alleen deur na hierdie wet te lewe, kon hulle kinders van God bly. Alleen onder God se wet kon die lewe weer gesond word.

Israel is, na die verlossing uit die slawehuis, weer onder die aloue wet van die vryheid geplaas: God liefhê bo alles en die naaste liefhê soos jouself.

Nou was dit noodsaaklik dat die HERE hierdie eenvoudige leefreël in tien afsonderlike gebooie moes uitlê. Nou moes nader verklaar word hoe jy die HERE moet liefhê bo alles, en hoe jy jou naaste moet liefhê soos jouself, maar ons kan sommer in daardie Tien Gebooie nog die een oorspronklike eis terugvind: die eerste gebooie maak dit konkreet hoedat ons die HERE ons God moet liefhê met ons hele hart en met ons hele siel, met ons hele verstand en met al ons kragte; die tweede deel van die wet verduidelik hoedat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.

Die twee kliptafels waarop die HERE eiehandig sy Wet ingegrif het, moes deur Moses gebêre word in die goue verbondskis, die draagstoel van God waarop Hy as 't ware met hulle saam wou gaan deur die woestyn, sy troon waarop Hy gesit het as sy tent in die midde van Israel se laer opgeslaan is. God wou daarmee maar sê: slegs op basis van hierdie liefdeswet kan en wil Ek by julle woon en met julle saamgaan. Alleen deur hierdie wet kan die lewe met My en by julle onder mekaar leefbaar wees.

Alleen deur hierdie wet sou God se volk vry kan bly en nie in die slawerny terugval nie.

2. Maar, gemeente, (en nou maak ek die oorgang na my tweede punt) dit het onder die Ou Verbond darem nooit regtig goed geword nie, ten spyte van hierdie wet. Die egte lewe, soos dit in die paradys was, het nie weergekeer nie.

Want God se kinders het die Wet wel in die verbondsark saamgedra. Maar hulle het die wet nie in hul harte saamgedra nie. En daarom het die geskiedenis van God se volk ook na die bevryding uit Egipte een lange sondegeskiedenis geword, totdat die HERE op die ou end sy woning in Israel tot die grond toe moes afbreek.

Dit het nie aan die wet gelê nie. Dit het aan die mens gelê. Die sonde het soseer op die hart van die mens beslag gelê dat hy God se wet nie in die hart kon dra nie. Die liefde van die hele hart- die onmisbare voorwaarde vir die lewe, was eenvoudig net nie meer daar nie.

En so het die wet 'n drukkende las geword wat God se kinders onophoudelik aan hul ellende ontdek het. Die wet het geëis: jy moet liefhê. En die mens het gevoel: ek is van nature geneig om God en my naaste te haat. Ik kan nie as 'n kind van God lewe nie. Die wet het gesê: doen dit en jy sal lewe. Maar die mens het agtergekom: ek kan dit nie doen nie en dus is daar vir my geen lewe nie.

Dis diè dat Paulus die wet "die wet van die dood" genoem het (Rom. 8: 2). Hierdie volmaakte wet het mos aanhoudend daaraan herinner dat God se kinders die dood verdien het. Weereens: dit het nie aan die wet gelê nie; die wet was heilig en goed, die leefreël van die Paradys. Maar dit was sondige, magtelose mense aan wie God se wet opgelê is. En die wet kan vir sulke mense nie anders as met die dood dreig nie: "Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen nie".

Die wet kon God se kinders nie uit die greep van die dood losruk nie. Want die wet wys wel die regte pad, maar gee nie die krag om daardie pad nou ook te loop nie.

Dit het al hoe duideliker geword dat 'n samelewing in liefde van God en die mense volslae onmoontlik geword het, tensy Iemand vir eens en vir altyd vir almal die Wet van die HERE in ere sou herstel.

Daarom het die wet God se kinders maar net aam hul ellende ontdek en leer uitsien na 'n meer as menslike Middelaar wat in hul plek aan die eis van die wet kon voldoen. Die wet het na Christus leer verlang.

Die dag moes kom dat God in sy genade sy kinders langs 'n ander, 'n wonderlike weg weer tot sy kinders sou maak en weer sy woning onder ons in ere kon herstel.

Daardie dag hét inmiddels gekom, gemeente. God het sy Seun gegee as ons Verlosser. Christus het gekom om die verbond van God met ons te herstel.

Hy het "in alle gehoorsaamheid aan die Goddelike Wet die geregtigheid vir ons almal volbring", soos ons Nagmaalsformulier dit uitdruk.

Tydens sy 33-jarige léwe op aarde het Hy Hom totaal deur God se liefdeswet laat beheers. Nie net in sy dood nie, maar ook tydens sy lewe kon Hy sê met Psalm 40: "Diep in my ingewand, waar liefde en ywer brand, dra Ek u heilige Wet".

Hy het sy hemelse Vader liefgehad met sy hele hart, en met sy hele siel, met sy hele verstand en met al sy kragte. Hy het sy naaste liefgehad soos Homself.

Nooit het Hy God se heilige Naam oneerbiedig of onnadenkend in die mond geneem nie.

Hy het Josef en Maria geëer as sy aardse vader en moeder en was as 'n gehoorsame kind aan hulle onderdanig.

Nooit het Hy in drif of met haatgevoelens teenoor 'n medemens gestaan nie.

Nooit het daar in sy hart verkeerde seksuele verlangens geleef en nooit het Hy met onreine blikke na 'n vrou gekyk nie.

Nooit het Hy onwaarheid gepraat nie.

Moenie dink dat dit vir Hom maklik was en geen stryd gekos het soos by ons nie. U weet tog dat die duiwel Hom meer as enige mens versoek het ok Hom tot ongehoorsaamheid aan God se verbondwet te verlei, en dat Hy is alles soos ons versoek gewees is?

Hy moes selfs so ver gaan dat Hy Homself in totale liefde vir God en sy naaste in die dood wou opoffer om vir almal die oortreding van die Wet te boet.

"Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskrywe is in die boek van die Wet om dit te doen nie" het God gesê. Daarom moes Hy daardie vloek in ons plek dra. Aan die vloekhout van die kruis.

Maar daarom mag ons nou, met al ons sondes wat nog oorgebly het, dus met ons hele wetteloosheid, tog weer ten volle God se kinders wees. En God wil weer ons genadige Vader wees wat ons ons sondes nooit meer toereken nie.

Dit het Paulus bedoel toe hy geskryf het: "Julle is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade". Hy wou daarmee sê: God eis van julle nie meer: doen dit wat Ek in my wet vra en julle sal lewe, nie. My Seun het dit klaar vir julle gedoen. Dus: glo in Hom en julle sal lewe.

God het die drukkende las van die wet van ons skouers afgeneem en die ligte las van die geloof in Jesus Christus in die plek daarvan gegee. Sy genade is nou genoeg. Die lewe lê vir ons weer oop, nie vanweë ons wetsvolbringing nie, maar vanweë die gehoorsaamheid tot in die dood van ons Middelaar.

3. Maar (en nou kom ek by my laaste punt) het ons nou heeltemal van die wet ontslae geraak, broeders en susters?

Het deur Christus die wet van God nou uit die lewe van God se kinders verdwyn? Ons is nou dus nie meer onder die wet nie; maar is ons daarom voortaan sonder wet? Noudat die wet danksy Christus geen "wet van die dood" meer vir ons is nie, is daar daarom vir die wet nou ook geen plek meer in ons lewe nie?

Het God se genade God se wet tot niet gemaak?

Glad nie!

Wat is mos God se verbond met ons sonder sy verbondswet? Wat het Christus anders kom doen as om daardie wet weer in ere te herstel?

Dit moet tussen God en ons weer word soos dit was: 'n samelewe in liefde.

Dit is vir God nie genoeg dat ons deur die geloof weer sy kinders genoem kan word nie. Ons sal ons ook weer heeltemal as kinders van Hom moet gedra. Dit is nie voldoende dat Chrístus in ons plek aan die wet van die lewe gehoorsaam was nie. Òns moet ook weer daaraan van harte gehoorsaam word. Ons is deur Christus vrygemaak van die slawerny aan die sonde. Maar nou moet ons ook by diè vryheid bly. Nou moet die wet van die vryheid ons lewe weer regeer.

Daarom is, noudat Christus die nuwe verbond vir ewig regskrag verleen het, die wet nie uit ons lewe wèg nie, maar kom dit juis met die volle gewig in ons lewe terug.

Met die gewig van die Heilige Gees van God! Die Gees van die vryheid sal ons by die vryheid wat Christus vir ons terug verdien het, bewaar deur die wet van die vryheid ons nou op die hart te skrywe.

So het God dit al tydens die Ou Verbond d. m. v. Jeremia en Esegiël beloof. In diè gedeeltes wat ons in hierdie diens gelees het: "Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; Ek sal my Gees in jul binneste gee en máák dat julle in my insettinge wandel en my gebooie onderhou en doen".

"Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit, sê die HERE: Ek gee my wet in hul binneste en skrywe dit op hulle hart".

Dit wat ons uit onsself nooit meer kan regkry nie, dit sal God deur die Heilige Gees Self bewerk.

By ons staan, soos Jeremia dit in hoofstuk 17 van sy profesieë uitdruk: die sonde met 'n ystergriffel, ja, met 'n diamantpunt op die tafel van ons hart geskrywe. Maar Christus se Gees het besiggegaan om in plaas van die sonde die wet, die goeie leefreël van die begin wat ons uit ons hart uitgeban het en sindsdien nooit meer van harte kon nalewe nie, ons weer op die hart te skryf; ja, in ons hart met onuitwisbare letters in te brand. Die Heilige Gees sal ons van harte gewillig en bereid maak om voortaan tog weer vir God, ons Vader te lewe.

Die wet moet nie uit ons lewe weg nie.

Alle afgode, alle selfsug, die sonde moet weg! Ons hart moet weer vol van liefde vir alleen God en die naaste word. God wil weer alles in almal word. Die wet van God moet ons weer op die lyf geskrywe staan.

Nie net Christus nie, maar ook óns moet kan sing: "diep in my ingewand, waar liefde en ywer brand, dra ek u heil'ge wet".

Eers dan is die nuwe verbond regtig nuut. Eers dan sal dit weer wees soos dit was en soos God dit altyd wou hê. Eers as ons lewe brand van liefde vir Hom, tot in die kleinste besonderhede van die lewe van elke dag.

Daarom het God die Heilige Gees aan ons gegee. Ook dit behoort tot die gevolge van Pinkster, broeders en susters. Juis sektes wat hulleself Pinkstergroepe noem en baie nadruk lê op die werk van die Heilige Gees, soos die AGS, meen dat die Wet sy tyd gehad het.

Hulle ignoreer egter heeltemal dat Christus se Gees juis ook gekom het om God se oue en steeds goeie wet weer op ons hart te skrywe; om gestalte te gee aan 'n verbondslewe met God soos dit in die paradys was, deur die verbondswet van die paradys in ons lewe terug te bring.

Hoe doen die Heilige Gees dit?

God se Gees skryf God se wet op u hart so dikwels Hy met God se Woord in u lewe binnedring. Dit is dus: so dikwels u u Bybel oopmaak, lees, bestudeer en die onderwysing daaruit ter harte neem.

Dit is dus: so dikwels ons seuns en dogters in die skool en in die katkisasieklas met die wil van Vader in die hemel gekonfronteer word.

Dit is dus: so dikwels die ampsdraers u by die huis kom besoek en u lewe met die wet van u God konfronteer.

Dit is dus ook: wanneer ons in die weke wat voorlê uitvoerig, van gebod tot gebod, ons aan die hand van die Kategismus in die wet van die verbond gaan verdiep.

Hy neem ons in al daardie dinge as 't ware aan die hand saam en wys vir ons aan hoedat Vader in die hemel die lewe oorspronklik bedoel het. Hy hou gebod vir gebod aan ons voor en laat ons sien hoe goed elke gebod vir ons is. Hy hou ons Heiland aan ons voor in sy totale en alles opofferende liefde vir die Vader en vir ons, en so oortuig Hy ons des te meer daarvan dat 'n lewe volgens God se Wet regtig bevrydend is.

Die mense sê dikwels: nood breek wet. Maar die Heilige Gees leer ons dat God se wet juis die nood breek en dat alle nood veroorsaak word deur oortreding van die wet.

Dit sal elke keer baie onthullend en beskamend vir ons wees! Want hoe duideliker die goeie gebod aan ons gewys word, des te duideliker kom ook die slegte gedrag wat daar by óns dikwels nog is, aan die lig. Maar dit moet ook so wees. Want daardeur sal by ons die begeerte maar net toeneem om te verander, om te verbeter, om al hoe meer net soos Christus te word. Daarom is wetsprediking sinvol en heilsaam, gemeente.

Besigwees met God se wet is sinvol en noodsaaklik.

Ja, dit is nodig dat ons die Gees sy vrymakende werk in ons laat doen. M.a. w. dat ons as ampsdraers die gebooie skerp en onverkort aan u voorhou, al sny dit dalk ook diep in u sondige en eiewyse vlees.

En dat u u ore en u hart wyd oopmaak, so dikwels die wet aan u voorgehou word.

Want die wat 'n verloste kind van God wil wees, sal moet besef dat hy dit nie sonder die wet kan wees nie. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)