Christus maak Sy bruid mooi vir die bruilof

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 32 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 45: 9, 10, 12, 13
Gebed
L. Eseg 16: 1-14 & Efes 5: 25-27 & Openb 19: 5- 9
SB 29: 8, 9
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
SB 23: 2, 4
Seën

Broeders en susters,

Dit het u natuurlik al opgeval dat dit in die liedere wat ons gesing en die gedeeltes wat ons gelees het, telkens oor 'n bruilofsfees gegaan het.

Telkens was daar sprake van 'n bruid wat die mooiste bruidrok mag aantrek om haar bruidegom mee te verras. Soos Ps 45:

Veelkleur'ge kleed, daarin word sy,
die skone, na haar Vors gelei;
'n stoet van maagde agteraan
wat met haar na die koning gaan.

Dalk wonder u hoekom ek juis die bruilof en die bruidsrok so 'n sentrale plek in ons erediens gegee het.

Dit gaan mos vanaand oor Sondag 32 van die Kategismus; en daarin kom tog heeltemal ander sake ter sprake?

In Sondag 32 gaan dit oor die goeie werke wat ons aan God vir ons verlossing verskuldig is.

Ons word gewys op die noodsaak van goeie werke in 'n christenlewe. Daarsonder kan 'n mens die Koninkryk van God nie beërwe nie.

Hoekom sing ons dan vanaand bruilofsliedere?

Sou dit nie beter gewees het om in plaas van oor die feesrok van die bruid, oor die werkpak van die arbeier te sing en te lees nie:

Byvoorbeeld:

Laat ons ons amp en plig, o HEER,
getrou behartig tot u eer.
Sien op ons in genade neer
en maak ons werk voorspoedig weer?

Wil Sondag 32 nie juis vir ons leer dat daar eers gewerk moet word voordat ons kan fees vier nie?

Nee, broeders en susters, dis juis wat Sondag 32 nie vir ons wil leer nie.

En juis om te voorkom dat u dié soort afleidings uit hierdie Kategismussondag oor die noodsaak van ons goeie werke sou maak, het ek vanaand die hele liturgie in die teken van die bruilof geplaas. Want hierdie Sondagsafdeling hét 'n feestelike toon as ons mooi lees. Waaroor gaan dit in Sondag 32?

Kom ek vat dit so vir u saam:

CHRISTUS MAAK SY BRUID MOOI VIR DIE BRUILOF

HY DOEN DIT:

  1. VIR HOMSELF EN SY VADER
  2. VIR DIE WÊRELD
  3. VIR ONS

1. As ons in die Katkisasieklas die bedoeling van Sondag 32 probeer saamvat, formuleer ons dit meestal so: Christus doen as ons Verlosser nie halwe werk nie.

In die Dogmatiek word dit effens moeiliker uitgedruk. Daar klink dit so: Regverdigmaking gaan altyd gepaard met heiligmaking.

Maar dit beteken eintlik ook maar baie eenvoudig: Christus bewerk vir ons nie net die vergewing van ons sondes nie, maar ook die vernuwing van ons lewe.

U ken dié klanke natuurlik uit ons Doopsformulier: in Christus ontvang ons nie net die afwassing van ons sondes nie (m. a. w. die vergewing van die sondes wat ons gedoen hét), maar daarby kom ook die daaglikse vernuwing van ons lewe (sodat ons die sonde al hoe meer begin haat en ontvlug). So sal ons eendag volkome rein 'n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe.

Dit is die doelwit van Christus se verlossingswerk: Hy was na Gogota nie klaar met ons nie. Toe was die vergewing wel verdien. Maar ons was nog steeds vuile en afstootlike mense. Eers as ons volkome rein saam met Hom op 'n nuwe aarde lewe, sal Hy tevrede wees. Hy doen nie halwe werk nie.

Dit is in hoofsaak wat Sondag 32 vir ons uit die Bybel saamgevat het.

'n Mens sou 'n oomblik die indruk kon kry dat dit nou sal gaan oor iets wat ons moet doen na alles wat Christus vir ons gedoen het.

Met hierdie Sondag begin mos die derde deel van die Kategismus wat handel oor die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is. So lui die opskrif!

Beteken dit dat daar nou 'n soort van teëprestasie van ons verwag word? God het in Christus baie vir ons gedoen; nou is ons aan die beurt?

Die vraag wat dan vervolgens gevra word, Vraag 86, kan daardie indruk nog versterk. Daar klink amper 'n bietjie onrus in hierdie vraag: ons het dan geleer dat ons nie deur ons goeie werke, nie deur ons eie prestasies uit ons ellende verlos word nie. Maar sonder enige verdienste van ons kant, slegs uit genade het Christus die lewe weer vir ons oopgemaak.

Hoekom moet ons dan tog nog goeie werke doen? !

Waarom lees nog ons op verskeie plekke in die Skrif oor goeie werke wat God by sy Christene verwag?

Want dat daar in die Bybel gereeld sprake is van goeie werke wat God by ons wil sien, is onmiskenbaar, broeders en susters. Sien byv. Matt 5: 16 waar die Here Jesus self vir sy dissipels sê: "Laat julle lig skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien... "

Maar as Christus Self klaar alles vir ons gedoen het, waarom moet ons dan nog iets doen? ! Het ons nie juis in Sondag 24 geleer dat selfs ons beste werke almal onvolkome en met sonde besmet is nie?

Alle moontlike onduidelikheid en ongerustheid word egter in antwoord 86 direk weggeneem: hierdie laaste deel van die Kategismus haal nie op 'n manier weer 'n streep deur alles wat in die voorgaande Sondae geleer is nie.

Die Evangelie dat Christus alles doen, en dat ons verlossing dus die ene genade is, sonder enige bydrae van onsself, bly ook in hierdie deel volkome gehandhaaf. Selfs die goeie werke wat daar nou in ons lewe weer tevoorskyn moet kom, is nog steeds Christus se werk! Na die vergewing wat Hy deur sy bloed vir ons bewerk het, bewerk Hy deur sy Gees nou ook so 'n vernuwing in ons dat ons lewe weer goed en aangenaam word.

Gemeente, as ons uit ons eie, as 'n teëprestasie, nou iets moois aan God moes wys- as God moes wag vir 'n dankbare reaksie wat spontaan in ons sou opwel, sou Hy tot in ewigheid moes bly wag. Daar sou niks kom nie.

Ons is as kerk naamlik nog steeds soos daardie meisietjie van wie ons gelees het in Eseg 16; die meisietjie waarmee die profeet al in sy dae God se volk moes vergelyk: op sterwens na dood!

'n Ongewenste kind wat nie eers die eerste noodsaaklike versorging gekry het nie, maar op die oop veld weggegooi is om daar dood te bloei. 'n Baba wat self ook nog nie by magte is om iets te doen nie.

So is ons as kerk in God se oë, broeders en susters.

En ons moet ook self altyd bewus bly daarvan. Ons het uit die staanspoor nie lewenskanse gehad nie. Ons kon meteens al in ons geboortebloed versmoor het.

Dát ons vandag daar nog is, en wát ons vandag is, het alleen aan God se genade te danke. Die HERE het Hom liefdevol oor ons ontferm. Hy het ons nie laat doodgaan nie, maar vir ons gesê: "Leef!". Hy het ons vir sy rekening geneem, ons tot sy kinders en erfgename aangeneem.

Meer nog, Hy het die vieslike vondelingetjie bestem om sy bruid te word. Nie net die lewe nie, maar 'n wonderlike toekoms aan sy sy wou God vir sy kerk gee.

Lief en leed wou Hy volkome met haar deel.

Ons weet inmiddels, gemeente, hoedat God deur sy Seun, ons Here Jesus Christus ons van ons geboortebloed skoongewas en vir ons die lewe oopgesluit het, deur Christus in ons plek weg te gooi en te laat sterwe. Ons weet hoedat Christus op Golgota die kerk tot sy bruid gemaak het.

Danksy Christus is ons as God se bruid op pad na die bruilofsfees van die Lam.

Maar hoé sal ons daar eendag verskyn? Sal ons aantreklik genoeg wees?

In ons samelewing is dit gewoonlik so dat 'n bruidegom van te vore nie mag weet hoe sy bruid op die troudag sal lyk nie. Haar trourok, haar hare- sy wil hom daarmee verras.

Wat het ons egter om ons Bruidegom mee te kan verras? Mos niks nie! Ons kan onsself nie vir die troudag mooi maak nie. Ons sal, as ons onsself moet mooi maak, 'n skrille teëstelling met ons pragtige Bruidegom vorm. Hy sou Hom vir ons moet skaam.

Daarom sal Hy ons mooi maak!

Christus doen wat ons in beeldspraak ook in Eseg 16 gelees het.

Toe daardie meisietjie grootgeword het en deur God tot sy bruid gemaak is, het sy niks gehad om aan te trek nie. God moes Self die bruidklere vir haar voorsien. Maar God het! Klere, skoene, sierade, alles het Hy aan haar gegee. God het van daardie onaantreklike wesentjie 'n oogverblindende skoonheid gemaak.

So doen God vandag steeds met sy kerk. Deur Christus. Christus maak Self sy bruid mooi vir die bruilof. Hy wil hê, soos ons in Efes 5 gelees het, sy moet sonder vlek of rimpel of iets dergeliks wees, maar heilig en sonder gebrek, stralend.

En as dan eendag die bruilof van die Lam aanbreek, ja, dan sal dit wees soos Johannes dit gesien het in sy visioene: aan die bruid "is gegee om bekleed te wees met rein en fyn linne"; maar Christus kan darem vol trots met ons voor sy Vader verskyn.

Nou ja, gemeente, dis wat ook Sondag 32 vir ons uit die Skrif saamvat.

Nadat Christus ons vir God van die dood vrygekoop en vir God skoongewas het, maak Hy ons, deur sy Heilige Gees, mooi vir die bruilof. Hy versier 'n kerk wat wel tot God se bruid verkies is, maar nog steeds bra onaantreklik, ja, afstootlik lyk, "tot sy ewebeeld". En daardie woorde in die Kategismus beteken natuurlik maar net: Hy maak ons so dat ons heeltemal by Hom pas; dat Hy Hom vir ons aan sy sy nie hoef te skaam nie, maar dat ons 'n waardige bruid vir Hom geword het.

U het natuurlik ook lank al verstaan dat die bruidsklere waarmee Christus ons mooi maak, slegs beeldspraak is. Die buitekant is nie die belangrikste nie. Ons binnekant is die probleem. Ons het 'n onaantreklike, lelike karakter. Ons is so selfsugtig en eersugtig, ydel en eiewys, onverdraagsaam en haatdraend; ons is so ontrou en owerspelig.

Dít moet verander, anders kan ons nie Christus se bruid wees nie. Hy is mos die teenoorgestelde!

Die "klere" wat ons van Christus ontvang, is daarom "reine en regte dade", soos ons met die woorde van SB 29 gesing het, en soos dit staan in Openb 19.

Dit is, in die taal van Sondag 32: goeie werke!

Ons moet goeie werke doen. Ons moet so verander dat ons 'n waardige bruid vir Christus sal wees.

Ons kry dit egter self nie reg nie.

Christus kry egter ook dit reg. Hy verander ons karakter, ons sondige, selfsugtige geaardheid. Hy maak ons 'n liefhebbende, troue, toegewyde bruid, wat nie haarself wil behaag nie, maar haar goddelike Bruidegom.

Daarmee is ons hemelse Bruidegom vandag besig, broeders en susters. In u en my lewe, in ons lewe as gemeente. Hy doen dit "deur sy Heilige Gees" sê Sondag 32. En u weet: die Heilige Gees werk deur middel van God se Woord in die Skrif.

Daarom kon Paulus in Efes 5 ook sê dat die waterbad waarmee Christus sy bruid reinig en heilig "die Woord" is.

Telkens as ons die Skrifte oopmaak en eerbiedig daarna luister, gebruik Christus dit om ons nog mooier te maak vir sy bruilof.

Die weeklikse prediking, die katkisasies en huisbesoeke- Christus gebruik dit om ons al hoe meer by Hom aan te pas.

Christus gebruik spesiaal ook die ampsdraers daarvoor om u op die bruilofsfees voor te berei. Kyk maar wat die apostel Paulus geskryf het in 2 Kor 11: 2: "Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom. Want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek nou vlekkeloos na Hom toe wil bring. Die man is Christus. "

Soms moet u ampsdraers skerp vermaan en waarsku.

Moenie u daaroor verger nie, maar besef dat ook dit die liefde van Christus is wat hulle dring, soos Paulus in daardie selfde brief geskryf het. Alle foute en gebreke wat by ons nog oorgebly het, moet onomwonde aangewys word. Want hulle moet weggedoen word voordat die dag van die bruilof aanbreek.

2. Dit is natuurlik vanselfsprekend dat Christus besig is om ons mooi te maak, allereers vir Homself en sy Vader. Christus wil Hom in 'n stralende en aantreklike bruid kan verheug. Hy wil 'n liewe vrou aan sy Vader kan wys.

Christus wil egter ook met 'n mooie bruid kan spog voor die wêreld.

Dis in antw 86 die derde en laaste punt wat genoem word, maar ek het dit tot my tweede punt gemaak.

Kom ons kyk nog 'n keer na Eseg 16.

Toe die HERE die optelkind tot 'n aantreklike bruid vir Homself gemaak het, kon hy sê: "Daar het 'n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my versiersels wat Ek op jou aangebring het. "

Daar klink 'n duidelike voldoening in hierdie woorde. Dis presies soos die HERE dit wou gehad het. Almal moet beïndruk wees as hulle die HERE se bruid sien.

Hulle moet met bewondering van haar praat.

Want dan sal hulle met bewondering van die HERE praat! Sy is mos sy bruid.

Hy en sy behoort bymekaar. Ja, Hy het haar tot so 'n skoonheid gemaak. Sy het haar bates aan Hom te danke.

So is dit vandag nog presies dieselfde. Ook vandag soek Christus dat almal met respek van sy kerk praat. Hy begeer 'n aantreklike kerk, ook vir die wêreld.

Hoe vreeslik is dit mos wanneer ons as kerk aan die wêreld rede gee om sleg te praat van Christus se bruid! Dan gee ons vir hulle rede om Chrístus, ons Bruidegom, te bespot.

Besef ons dit wel altyd voldoende, gemeente? Besef ons wel altyd dat die sondes van die kerk sensasie vir die wêreld beteken?

Besef ons wel hoe ons hemelse Bruidegom seergemaak word as sy Naam om ons ontwil nie geëer en geprys nie, maar gelaster word?

'n Kerk vol onplesierige, selfingenome mense, 'n kerk waar daar geen liefde heers nie, waar mense mekaar seermaak met hul geskinder en partygees, 'n kerk waar altyd gestry en gebaklei word oor in wese onbelangrike dinge, 'n kerk waar die werke nie met die woorde in ooreenstemming is nie- so 'n kerk het uiteraard hoegenaamd nie aantrekkingskrag nie. Al is die prediking ook hoe Skriftuurlik.

Want so 'n kerk wys 'n in die praktyk skewe beeld van hoe Christus is!

Maar 'n kerk vol sagmoedige en verdraagsame mense, wat liefdevol omsien na mekaar en na hul medemense, 'n kerk waar nie net mooi gepraat word nie, maar ook mooi geleef- so 'n kerk het 'n positiewe uitstraling. So 'n kerk het werwingskrag vir Christus.

Hy wil hê Hy kan trots wees op sy bruid.

En ook oor dié rede is Hy Self besig om haar mooi te maak.

Ons moet deur ons innemende lewenstyl almal se aandag trek. Ja, ons moet so aantreklik wees dat mense regtig daardeur aangetrek word en met ons wil saamgaan. Ons lewe moet in so 'n mate deur Christus beheers word, dat al hoe meer mense ook aan Hom wil behoort.

Daar is natuurlik altyd sake by ons as Christus se bruid, waaroor die wêreld sal spot, broeders en susters. Dit is onvermydelik. Daar is dinge in ons lewensstyl wat die wêreld nie verstaan nie of waaroor hulle hul selfs bloedig vererg. Waaroor ons gehaat word.

Juis dan is dit baie belangrik hoe ons ons gedra. Juis dan moet die wêreld dit geleidelik kan agterkom dat ons gedrag, ons keuses nie so snaaks en sleg is as hulle aanvanklik gedink het nie.

Petrus skryf in sy eerste brief (u kry dit in hoofstuk 2: 12): "Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik dié dag wat God in sy ontferming ook die lig by hulle laat deurbreek. "

Juis as mense ons opstelling nie verstaan nie, moet 'n snaakse kerk al hoe meer 'n aantreklike kerk word.

Ook daarom werk Christus daagliks daaraan dat ons 'n mooie, aantreklike bruid sal wees.

3. Hy doen dit tenslotte ook vir ons self.

Dit die derde ding waarop ek vanaand nog moet wys.

Sondag 32 noem dit in antw 86 as tweede. Dis daardie sinnetjie: "Ons kan vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kry. "

Dit is bietjie 'n moeilike sin, maar kom ek probeer die bedoeling duidelik maak deur nog 'n keer die beeldspraak van die bruilof waarnatoe Christus met ons op pad is, te gebruik:

Ons mag weet dat ons Christus se bruid is. Daaraan mag ons nooit twyfel nie. Hy sê dit mos elke keer in sy Woord, Hy verseker dit met die doopwater en aan die Nagmaalstafel.

Nogtans kan die twyfel ons soms tog bekruip. Ons kan af en toe vasloop in ons kortsigtigheid. Want Christus lyk so ver weg te wees. En die kerkgeskiedenis duur al so lank. En daar is nog soveel gebreke en ellendighede in die kerk. Kul ons nie onsself met die geloof dat ons na 'n bruiloffees op pad is nie? !

Is daar wel 'n hemel? Wag Christus daar regtig vir ons? Het die kerk 'n toekoms?

Juis in sulke oomblikke van neerslagtigheid en kleingeloof mag ons onsself laat vertroos en bemoedig deur die veranderinge wat Christus tog vandag al in ons lewe besig is om tot stand te bring. Daar is mos iets in ons lewe aan die verander. Daar groei goeie werke, tot God se eer en tot heil van ons naaste.

Nee, dit is nie meteens groot dade van gehoorsaamheid en ywer vir God nie. Maar nogtans, ons merk dit tog dat die begeerte by ons groei om nie meer vir onsself nie, maar vir ons God te lewe? Ons lewe het mos sy leegheid en oppervlakkigheid verloor en die liefde vir God en Christus het daarvoor in die plek gekom.

Ja, daardie moedeloosheid en ongeduld af en toe- waaruit kom dit voort? Is dit nie juis uit 'n liefde vir en 'n verlange na Christus en na 'n ander, beter lewe as vandag s'n nie?

Ons kom tog ook agter dat ons in die daaglikse lewe besig is om ander mense te word: ons belangstelling het anders geword as by baie ander mense, ons gesprekke het meer inhoud gekry, in ons omgang met mekaar is ons verdraagsamer, milder, versigtiger...

Nou ja, in daardie vir ons gevoel nog maar klein veranderinge mag ons Christus se voorbereidende werk vir die bruilof opmerk. Hy is klaar besig om ons mooi te maak! En met daardie veranderinge wat daar klaar gekom het, bemoedig ons hemelse Bruidegom ons in ons verlange na die dag van die bruilof.

Hy oorwin daarmee ons twyfels en kleingeloof, en stimuleer ons om nog mooier vir Hom te wil wees en eendag heeltemal aan Hom te mag behoort.

Nou verstaan u dus waarom God wil hê dat daar goeie werke in ons lewe moet kom. Die goeie werke dien 'n goeie doel.

U verstaan nou ongetwyfeld ook waarom ons by hierdie Sondagsafdelimng oor die goeie werke bruilofsliedere kan sing.

Want so dikwels as wat ons oor ons goeie werke praat, begin ons mos soos vanself oor ons goeie Bruidegom sing!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)