Die aktiwiteit van ons Here in die hemel

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 19 H.K.

LITURGIE:
L. Daniël 7: 1-18
ps. 110: 1, 2, 6
Ps. 118: 7, 8
Ps. 2: 1-4
SB. 10: 1, 2
Ps. 21: 1, 2, 4

Broeders en susters,

Toe ons Here Jesus Christus na sy moeilike weg van gehoorsaamheid tot in die hel as Oorwinnaar by sy Vader in die hemel teruggekeer het, het God vir Hom 'n plek ingeruim langs Homself op die troon daarbo. Christus mog gaan sit aan God se regterhand.

So vertel die Bybel dit vir ons met nadruk, veral in die brief aan die Hebreërs.

Die echo daarvan is dan ook nog elke sondag hoorbaar in die geloofsbelydenis van die kerk. Dan voeg ook ons aan die belydenis dat ons Here Jesus opgevaar het na die hemel nog spesiaal toe: "Waar Hy sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader".

So mag ons ons Here en Heiland in die hemel weet: aan God se regterhand, op die hemelse troon.

Dit het tweërlei betekenis dat Christus daar nou mag sit, gemeente.

Enersyds beteken dit dat Hy in 'n mate tot rus mog kom. Hy het met die offer vir ons sondes vir altyd klaargekom. Alle priesters voor Hom kon nooit in die heiligdom gaan sit nie. Hulle het daagliks in hulle diens gestaan, om telkens dieselfde offers te bring wat tog nooit die sondes kon wegneem nie. Nooit het hulle offerdiens gereed gekom nie, nooit het hulle werk tot rus gekom nie.

Maar Christus mog, nadat Hy sy een afdoende offer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit langs God in die hemelse heiligdom. Sy offer was klaar gebring. En dus: op die plek rus!

Maar sy rusplek in die hemel het die plek aan God se regterhand op die troon geword. Na die voorbeeld van Melgisedek is Hy in die hemel ons Priester èn Koning.

En sy sit as Koning beteken allermins dat Hy in rus is. As 'n koning op die troon sit, beteken dit juis aksie! Daar moet geregeer word.

Aan diè aksie van Christus as Koning in die hemel gee Sondag 19 H.K. aandag. Ek bedien u vanaand aan die hand van hierdie belydenis God se Woord oor

DIE AKTIWITEIT VAN ONS HERE IN DIE HEMEL.

Daarby mag ek vir u wys:

  1. HY SIT AS KONING OP DIE TROON
  2. HY REGEER AAN GOD SE REGTERHAND
  3. HY KOM AS REGTER IN DIE GERIG.

1. Die laaste wat die dissipels gesien het toe hulle verbouereerd hulle Here by sy hemelvaart nagestaar het, was 'n wolk, gemeente.

Lukas vertel dit spesiaal daarby in Handelinge 1: "en 'n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem".

Wat is die betekenis van diè spesiale vermelding van daardie wolk? Waarom het Lukas ook diè, skynbaar onbetekenende, besonderheid in sy beskrywing opgeneem?

Was diè wolk soos 'n gordyn wat deur God self toegeskuif is, om vir die dissipels die verdere sig op die verheerliking van hulle Here te beneem? Het die wolkdek voor die oë van hierdie mans die goddelike glans afgeskerm waarmee hulle Here nou bekleed sou word?

Dit lyk daarop dat die aparte vermelding van hierdie wolk darem 'n bietjie meer wil sê. In die letterlike teks in Hand. 1 staan daar nie dat die wolke agter Christus toegeskuif is nie, maar dat 'n wolk onder Christus gekom het en Hom so onder die oë van sy leerlinge vandaag saamgeneem het na omhoog. "Op 'n ligte wolkewa is die Heer van die aard gedra".

Maar waarom dan daardie wolk? Het dit 'n besondere betekenis gehad?

Ons lees in die Bybel wel meer oor 'n wolk: toe die volk Israel na die exodus uit Egipte by die berg Horeb in die Sinai-woestyn gekom het, het die HERE op die berg in 'n wolk tot Moses gekom.

In 'n wolk het die HERE met sy volk saamgegaan op die reis deur die woestyn. 'n Wolk het die tabernakel waarin die HERE onder sy volk gewoon het, bedek. Dieselfde wolk was opnuut daar toe die tempel wat Salomo gebou het, ingewy is, sodat die priester nie in die tempel kon ingaan om vir hulle diens aan te tree nie.

Ook in die laaste periode van Christus se publieke optrede in Israel het die wolk hom nog vertoon: op die berg wat Christus met Petrus, Johannes en Jakobus uitgeklim het en waar hy met Moses en Elia oor sy a. s. lyde gesels het. Uit diè wolk het toe God se stem geklink: "Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!".

'n Wolk was dus telkens die sigbare blyk van God se heerlike aanwesigheid. Deur die wolk is die glans van sy aanwesigheid omhul. In die wolk was God.

Diè spesiale vermelding van daardie wolk by Christus se hemelvaart sou dus kan beteken dat God self voor die oë van sy dissipels sy Seun kom haal. U onthou dalk dat ek by Sondag 18 daarop gewys het dat in die oudste tekste van die Kategismus eerste gevra word wat dit beteken dat Christus opgevaar het; maar dat vervolgens in die antwoord gesê word dat Hy voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem is. Christus het opgevaar. Maar terselfdertyd het die Vader Hom opgeneem. Hy is met oop arms ingehaal.

Tog het die twee engele wat direk na Christus se opvaart na die hemel by die leerlinge op aarde staan, ons gedagtes op nog 'n ander spoor gesit. Hulle het mos aangekondig: "Jesus sal net so weerkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het".

Soos Jesus uit die oog verdwyn het op 'n wolk, so mag ons Hom ook terug verwag op 'n wolk.

Die apostel Johannes wat daarby gestaan het toe die engele dit aangekondig het, het diè boodskap tot die tema van die laaste Bybelboek wat hy moes skrywe, gemaak, die boek Openbaring.

"Kyk, Hy kom met die wolke!" lees ons in die eerste hoofstuk.

Maar met hierdie woordkeus lei Johannes ons gedagtes nog verder terug as die aankondiging deur die twee engele na Christus se hemelvaart. Hy sit ons op die spoor van die hoofstuk uit die Ou Testament wat ons vanaand saam gelees het: Daniël 7.

In Daniël se dae was God se volk verkleineer tot 'n onbetekenende bevolkingsgroep in die immense ryk van Babel. Dit het gelyk asof die kerk tot niet gegaan het.

In daardie situasie gee die HERE dan vir Daniël 'n ver-gesig op die toekoms. In simboliese beelde: visioene.

Daniël sien hoedat vier groot diere uit die see opkom, die een nog meer skrikaanjaend as die ander een.

Op sy vraag word vir Daniël verklaar dat hierdie vier diere 4 konings, vier koninkryke is wat die wêreldmag aan hulle sal trek. Dit lyk asof die politieke grootmagte die wêreldgebeure ook in die toekoms sal bly bepaal. Die een ryk brokkel af, die ander een meld hom al weer. Die een ryk van die mens na die ander verower die wêreldheerskappy.

Maar daarmee is Daniël se droom nie uit nie. Dit was nog maar net die inleiding.

Want as Daniël bly toekyk, sien hy skielik 'n hemelse troon word reggesit en 'n Oue van Dae gaan sit daarop, omring deur 'n massale leërmag: duisend maal duisende het Hom gedien en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan. 'n Ontelbare menigte.

En Wie, broeders en susters, is so oud van dae as die HERE God? Voordat die eerste dag daar was, was Hy al daar! Daniël verstaan dit oombliklik: God heers as hoogste Heer, en elkeen moet Hom eer... God ontneem soewerein aan die vier diere, die vier koninkryke weer hulle mag. Hulle verdwyn weer uit die gesig.

Dit wat dan in die gesigsveld verskyn, verdien vervolgens alle aandag. Want nou sien Daniël hoedat daar met die wolke Een soos die seun van 'n mens aankom, wat padlangs tot voor die Oue van dae, God self, nader en wat sommer by God op die troon mag gaan sit. En aan Hom word gegee, heerskappy en eer en koninklike mag, ja, 'n ewige heerskappy wat nooit meer sal vergaan nie; sy koninkryk sal nooit vernietig word nie.

Dit is die hoogtepunt waarmee Daniël se visioen eindig. 'n Seun van 'n mens, 'n menslike wese, wat met die wolke voor God se troon verskyn, mag gaan sit op diè troon aan God se regterhand om tot in alle ewigheid koning te word.

Ons Here Jesus Christus het herhaaldelik aan hierdie profesie uit Daniël 7 herinner, gemeente. Het Hy Homself nie dikwels nadruklik "Die Seun van die mens" genoem nie? Met hierdie opvallende benaming waarmee Hy oor Homself gepraat het, het Hy sy hoorders gedwing om Hom in verband te bring met Daniël 7. Hy het as 't ware gesê: Ek is die Seun van 'n mens, wat Daniël gesien het- die groot en ewige Koning wat God vir sy volk in die vooruitsig gestel het.

Wanneer Hy op die ou end gevange geneem is en voor die Sanhedrin moet verskyn, beroep Hy Hom baie reguit op Daniël 7. As hulle reguit vra of Hy die Christus is, die Verlosser-Koning wat God vir sy volk beloof het (alhoewel dit by voorbaat duidelik is dat hulle Hom tog nie sal glo nie; hulle soek maar net 'n rede om Hom te kan veroordeel en dood te maak), antwoord Christus: "Ek sê vir julle: Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel". M.a. w.: hier voor u staan inderdaad die Seun van die mens uit Daniël 7. U sal My die dood inja, maar u rol is byna klaargespeel, terwyl Ek nou in die hemel die troon sal bestyg. Julle wil My nie glo nie. Maar van nou af sla dit darem gebeur.

Toe die Here diè woorde gesê het, was Johannes 'n bang toeskouer en toehoorder op 'n afstand. Maar 'n klein rukkie later het vir hom duidelik geword hoe waar daardie woord van sy Here gewees het. Sy Here wàs die Seun van die mens! Dood en graf het Hom nie kan vashou nie. Selfs die aarde kon Hom nie vashou nie. Want dwars teen die swaartekrag van die aarde in het die Here moeiteloos na omhoog opgestyg, rigting hemel. En 'n wolk het Hom saamgeneem!! Daniël 7 het letterlik sy vervulling gaan kry: met die wolke van die hemel het die Seun van die mens voor die Oue van dae, sy Vader in die hemel, verskyn.

Christus het in die 40 dae tussen sy opstanding en hemelvaart ongetwyfeld ook Daniël 7 met sy dissipels opgeslaan en bespreek.

Lukas vertel mos in Hand. 1 dat Hy met hulle gepraat het "oor die dinge van die koninkryk van God".

Ek dink hulle verwagtings was in dié dae hoog gespanne. Dit blyk wel uit hulle vraag: "Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? ". Christus het op diè vraag nie reguit 'n antwoord gegee nie. Dit was nie vir hulle om die tye en geleenthede te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.

Maar tog het die dissipels 'n antwoord op hul brandende vraag gekry: by die hemelvaart van hulle Here. Want die laaste wat hulle te sien gekry het was 'n wolk. En diè een wolk het vir die wat die Skrifte geken het, boekdele gespreek. Heel Daniël 7 is deur daardie een wolk voor die aandag geplaas. Hul Here het nou as die Seun van 'n mens God toe gegaan en al kon hulle deur die wolk nou ook nie verder kyk nie, hul Bybel het vir hulle vertel wat daar vervolgens agter die wolke gebeur het: Jesus mog gaan sit op die troon, as Koning van die volk van die heiliges van die Allerhoogste, om die heerskappy tot in alle ewighede te ontvang oor alle volke, nasies en tale. Die Koninkryk is vir God se volk dus tog weer opgerig, herstel. Al het die troon dan vereers nog in die hemel gestaan, agter die wolke, hulle Koning het aan sy regering begin. Aan Hom is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.

Dit vertel die wolk van toe ook vir ons vandag nog, gemeente. Ons Koning het deur sy hemelvaart wel uit die gesig verdwyn en al meer as 18 eeue het ons Hom nie meer teruggesien nie, maar Daniël 7 help ons om deur die wolkdek regstreeks in die hemel te kyk. En daar sit Christus op die troon. Dit is nie die maghebbers van hier benede wat die geskiedenis beslis nie. As ek nie van beter sou weet nie, sou ek my aan hulle verkyk. Maar ek weet wel van beter: Jesus Christus sit op die troon. Hy regeer die wêreld en beslis die geskiedenis. En ek kan my op sy regering volkome verlaat.

2. Maar wat maak Christus daar dan op diè troon? , vra u miskien. Dit mag dan so wees dat Hy alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het- maar wat verneem ons hier op aarde dan daarvan? Is dit tog nie die grotes van hier benede wat alle drade stewig in hande hou nie?

Die kerk is mos aanhoudend in 'n hoekie. En ons lewe word deur vyande belaag.

Maar dan moet u eens ekstra aandag daaraan gee, broeders en susters, op watter plek Christus mog gaan sit op die troon in die hemel: aan die regterhand van God, die Almagtige Vader.

Waarom dui die Bybel diè plek so noukeurig aan?

Meestal word daarvan maar net gesê dat dit 'n ereplek is. Soos ons iemand wat ons hoogag, regs van ons laat loop en regs van ons laat sit.

Maar die Bybel leer vir ons om hierdie spesiale plaasaanduiding as baie ryker te sien.

In die Ou Testament word naamlik veelvuldig oor die regterhand van God gepraat. Maar dan altyd als 'n omskrywing dat God in aksie kom. Dit is sy regterhand waarmee Hy regeer, ingryp, sy kinders te hulp kom en sy vyande vernietig.

So sing die Israeliete na die wonderlike deurtog deur die Roorsee, waarin die Farao met sy hele leërmag verdrink het: "U regterhand, o HERE, is verheerlik deur krag; u regterhand het die vyand verpletter" (Exod. 15: 6).

En in die dae van Israel se gevangenskap in Babel bemoedig God sy volk met die woorde (Jes. 41: 10): "Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, Ek ondersteun jou met my reddende regterhand".

Dawid het daarvan gesing in die boek van die Psalms. Psalm 138: "As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande en u regterhand verlos my".

Dalk vind ons nêrens die betekenis meer treffend aangedui as in die beryming van Psalm 118, die 8ste vers:

Gods regterhand is hoog verhewe
sy regterhand is groot van daad
dit laat van skrik die wêreld bewe
maar hef sy volk uit lyde en smaad.

So regeer God met sy regterhand, gemeente. Hy laat die wêreld bewe deur sy gerigte, maar hef sy volk uit lyde en smaad in sy genade. In daardie regterhand konsentreer hom God se voorsienigheid waarvan in Sondag 10 H.K. belydenis gedoen het. Hy regeer met vaste hand, ja, Hy het in alles die hand, sy reddende regterhand.

Maar as God dan self meermale vir ons laat weet dat Hy ons Here Jesus Christus vanaf sy hemelvaart aan sy regterhand laat sit het- wat kan dit dan ander beteken as dat God nou nooit meer in aksie kom buite Christus om nie! Voortaan regeer die Vader alles alleen nog maar deur Christus. Christus regeer nou aan God se regterhand. Christus laat daardie hand nou in aksie kom. As God nou die wêreld van skrik laat bewe, gebeur dit: om Christus ontwil. As God se hand baie persoonlik my met tere sorg omring, of deur allerhande beproewings louter, gaan dit nooit buite my Heiland om nie. Hy sê: Toe maar, Vader, slaan hulle maar in u toorn, daardie vyande van My en van my kerk! Hy sê ook: hoeseer U my broeders en susters ook al beproef, Vader- moet hulle wel vashou en hulle veilig daar deurheen haal.

Hierdie troos lê daar in die nadruklike plaasaanduiding, gemeente!

Ons kan in hierdie wêreld dalk nog baie swaarkry. In ons persoonlike lewe, as gemeente van Christus.

Die hemel bo ons lyk partymaal maar potdig. En die magte van benede oppermagtig.

Die apostel Johannes het dit in die openbaring wat hy ontvang het, sien aankom. Hy het ook die vier diere uit Daniël 7 teruggesien, diè wêreldmagte van benede. Maar nou alvier verenig in een angswekkende dier uit die see waaraan die satan, die draak, sy mag gee (Openb. 13). Een enorme antichristelike wêreldryk waarin vir God en Christus geen plek meer is nie. Dit staan die kerk te wagte in die tyd tussen Christus se hemelvaart en sy terugkoms.

En tog- Johannes het boontoe bly kyk, deur die wolke heen, na die troon waarop Christus sit en regeer aan God se regterhand. Diè hand hou tenslotte alles in die hand. Bestuur deur Christus, die Koning van sy kerk.

Diè regterhand hou baie beheers alle drade van benede vas en lei trefseker die wêreldgeskiedenis na die teiken wat lank al bepaal is: die verplaasing van die hemeltroon aarde toe en die hardhandige bestraffing van al die vyande van Christus en sy kerk.

Ja, want as Christus die geskiedenis beheers en die wêreld regeer, moet dit mos wel beteken dat alle geskiedenis op aarde feitlik draai om die bewaring van die kerk en om die koms van God se koninkryk in volkomenheid. Het u so al die koerante gelees en die nuus op die televisie gevolg, broeders en susters? Alle geskiedenis is kerkgeskiedenis. Die beëdiging van 'n nuwe president in Amerika, die siekte van staatspresident Botha, die aardbewing in Armenie, die veranderde beleid van Gorbatsjof in Rusland- Christus het in dit alles die hand. En dit alles gebeur om u ontwil! Dit moet daaraan meewerk dat eendag sy voltooide kerk op 'n weer volmaakte aarde mag lewe.

Ons mag, gemeente, in alle droefheid en vervolging met opgehewe hoofde ons Here as Koning in die hemel weet. Hy regeer aan God se regterhand. Alles sal reg kom.

Want die dag is naby waarop ons Koning in die hemel as Regter uit die hemel kom. Om die lewendes en die dooies te oordeel.

3. Eeue lank al werk Christus aan diè teiken. Die hemelvaart moet sy voltooiing kry in die wederkoms. Daniël 7 moet vollèdig vervul word. Soos Christus met die wolke van die aarde hemel toe gegaan het, so sal Hy eendag ook met die wolke vanuit die hemel na die aarde terug kom. En dan is die bevrydingsdag daar!

Kyk, Hy kom met die wolke!

Nie elkeen sal Hom met gejuig begroet nie. Johannes het in Openb. 1: 7 direk daarby gesê: "en elke oog sal Hom sien- ook hulle wat Hom deursteek het". Ook die wat Hom verwerp het, word dan met Hom gekonfronteer en kan Hom nie langer ignoreer nie. En dan word al Christus se vyande soos 'n voetbank vir sy voete. Dan wag vir hulle die ewige verdoemenis.

Maar ons dan, broeders en susters? Hoef ons vir daardie dag nie te vrees nie? Kan ons sommer voor ons Here uit die hemel verskyn? Is u so veel beter as die ander mense?? Ons lewe is mos ook 'n opeenstapeling van sondes!

Kan ons sy toorn vryspring?

Ja, ons kan. En daar is by u doop alreeds oor gebid: of u op die laaste dag met vrymoedigheid, sonder verskrikking, voor die regterstoel van Christus sou mag verskyn -deur Hom, ons Here Jesus Christus self naamlik!

Daar is maar een moontlikheid om op die dag van Christus se terugkoms na die aarde sonder verskrikking voor sy regterstoel te verskyn: as u uself bly vasklamp aan dit wat God alreeds in die doop aan u beloof het. Dan alleen kan u met 'n opgehewe hoof, in gespanne verwagting, sonder enige angs, die Here as Regter in die gerig sien kom.

Want wie is mos hierdie Regter?

Dit staan daar so mooi in Sondag 19: dit is juis Hy wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneen het. Die a. s. Regter was vroeër self die beklaagde. Of liewer: ek was die beklaagde, maar Hy het my eenkant toe geskuif en my plek in die beklaagdebank ingeneem. En Hy het die straf wat ek verdien het, vir my gedra: die ewige verdoemenis. Dit leer en waarborg my doop vir my. Sy bloed het my sondes weggewas.

Hoe sou ek hierdie Regter dan ooit nog hoef te vrees?

Sy koms word juis my volkome verlossing. Want dan sal Hy eindelik my met al die uitverkorenes na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid neem. My vir goed bo alle sonde uittil.

Daarom verwag òns hierdie groot dag van sy wederkoms sonder verskrikking, ja, met sterk verlange.

AMEN.

(Pretoria, 22 Januarie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)