Die profetiese taak van die Kerk in die laaste dae

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 11
Preek Inhoud: 

Ps. 56: 1, 2
Ps. 56: 3, 4
Ps. 130: 1, 2, 3, 4 (eerste ber. )
Ps. 116: 7 - 10
Lees: Sag. 4.
Teks: Openb. 11: 1 - 6.

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Teen hierdie tyd het u almal wel 'n keer gehoor van die 'New Age'- beweging. Dit is 'n wêreldbeskouing met sekere godsdienstige trekke, wat vir 'n moderne mens vandag antwoorde wil verskaf op allerhande lewensvrae. Een van die kenmerke van 'New Age' is dat hulle baie van die antwoorde wil soek in die astrologie. Uit sterre en sterrebeelde wil hulle inligting onttrek, wat vir die mens vandag leiding moet gee in sy lewenskeuses. Een van die groot stellings van 'New Age' in die verband is, dat die tydperk van die jaar 0 - 2000 die sterrebeeld 'Visse' is. En die geval wil nou, dat die Christendom van oudsher die vis as simbool gebruik het. As ons die letters van die griekse woord vir 'vis' op 'n ry sit, kry ons naamlik die beginletters van die volgende spreuk: 'Jesus Christus is die redder van die hele wêreld'.

Volgens die astrologie verander so rond die jaar 2000 die sterrehemel sodanig, dat nie meer die 'visse' die invloedrykste sterrebeeld is nie, maar nou kry die 'waterdraer', Aquarius, die belangrikste posisie. Aquarius op sy beurt, is die sterrebeeld van die toekomsvoorspelling.

Wel, vanuit hierdie astrologiese aannames, kan die konklusie maklik getrek word. Die tydperk van die visse, 2000 jaar Christelike invloed op die samelewing, is amper verby.

Die volgende millennium wat begin met die jaar 2000, is 'n 'New Age'. 'n Nuwe Tydperk. Dan kom die tyd van die waterdraer, die mense sal hulle dan laat lei deur Aquarius, in plaas van deur Jesus Christus.

Gemeente, hoeveel onsin in hierdie astrologiese geskiedenis opvatting ook opgesluit is, in een waarneming is hulle in elk geval reg. Die tyd dat die Christelike geloof die mees invloedryke faktor in die westerse kultuur was, is definitief verby. Dit beteken nie dat daar glad geen plek vir Christus, en die kerk meer sal wees nie, maar wel, dat geloof en kerk steeds meer teruggedwing sal word na die private lewe. Wil jy 'n Christen wees? O.K. maar doen dit binne jou kerkmure, beoefen dit in jou eie huis, maar moenie met Bybelse norme vir die maatskaplike lewe kom aandra nie. Oor hierdie situasie bedien ek u die Woord van die Here, soos gegee in Openb. ll: l-6.

DIE PROFETIESE TAAK VAN DIE KERK IN DIE LAASTE DAE.

Ons sien:

  1. Die kerk word teruggedwing na binne.
  2. Die kerk word uitgestuur na buite.

1. Aan die slot van hoofstuk 10 het ons gelees dat Johannes 'n boekie moet eet. Dit sal vir hom soet proe in die mond, maar agteraf sal dit baie swaar op sy maag lê. Dit gaan oor die roeping van die kerk om die Woord van God bekend te maak, onder alle volke en tale en nasies. Dit is 'n pragtige opdrag dat God mense in diens wil neem, om die Evangelie in die wêreld bekend te maak. Dit is 'n groot voorreg om so in diens te mag staan van die Owerste oor al die konings van die aarde.

Maar die uitvoering van so 'n taak kan bitter swaar wees. Want nie almal ervaar die Evangelie as 'n blye boodskap nie.

En daarom kom daar ook verset teen die Woord van God, en teen die bringer van die Woord van God. Die wêreld wat ontslae wil raak van boetepredikasies, sal maar al te graag die mond van die boetepredikers wil toemaak.

Oor hierdie dinge gaan dit in Openbaring 11. Dus oor die situasie van die kerk wat profeteer in die laaste dae. Die dae wat nog oopstaan, nadat die engel uit Openbaring 10 gesweer het dat die tyd kort sal wees.

Johannes ontvang hier 'n riet soos 'n stok. Blykbaar gaan dit oor 'n meetstok. Van 'n tipe soos in 'n materiaal winkel gebruik word, om die maat vas te stel.

Johannes ontvang die opdrag om die maat te neem van die tempel, en die altaar, en die wat daarin aanbid.

'n Snaakse opdrag lyk dit. Daar is ook 'n deel van die tempel wat hy nie hoef te meet nie. Die voorhof naamlik. Ook wel bekend as die voorhof van die heidene.

Om die betekenis van die simboliek te verstaan, moet ons dink aan die situasie van Jerusalem se tempel. Die sentrale deel van die tempel, die geboue direk rondom die allerheiligste, was uitsluitlik toeganklik vir Jode. Bepaalde poorte het toegang tot die binneste tempelterrein verskaf, maar buite om die tempel was ook nog 'n gebied wat toeganklik was vir nie-Jode. Dit is genoem die voorhof van die heidene. Ook daar het altare gestaan, waar 'n heiden wat meer of minder simpatiek gestaan het teenoor die Joodse geloof 'n offer kon bring.

En so kon jy vanuit die tempel 'n aantal kringe onderskei. Die allerheiligste, waar alleen die priesters mog kom.

Die heilige wat toeganklik was vir alle Israeliete.

Die voorhof waar ook heidene welkom was om te offer.

En dan die stad self, waar die stadslewe aangegaan het.

Daar is gewerk, daar is handel gedrywe, daar was administratiewe sentrums, ensovoort. Maar heel die gebied het behoort tot die Heilige Stad. Aan Jerusalem het die Here besondere seën verbind.

Hy bewaar en beskerm die stad, solank Israel net op Hom vertrou.

Dus vanuit die heilige tempel het sy besondere seën uitgegaan oor die hele stad. Die Heilige Stad.

Maar nou moet Johannes net die tempel, die altaar en die aanbidders daar afmeet. Net die allerbinneste deel.

En die res, die voorhof waar heidene kan aanbid, die stad waarin die gewone lewe afspeel, dit alles word prysgegee. Prysgegee aan die heidene! Hulle kan die Heilige Stad maar vertrap. 42 Maande lank.

Verstaan u watter dreigende profesie dit is, gemeente?

Van oudsher is Jerusalem geprys om Sions wil!

Vanuit die tempel, die woonplek van die Here, het seën uitgegaan. Seën vir Sy volk. Maar seën ook na heidene wat 'n welwillendheidsoffer in Jerusalem gebring het. Seën vir die hele stad. Seën vir die hele land. Seën vir die hele wêreld. Maar nou trek God dit alles terug.

Seker die tempel bly daar. Die altaar word beveilig.

Die aanbidding in die tempel kan voortgaan, maar onmiddellik daarbuite is alles prysgegee aan heidene, om te vertrap. En nou verstaan u moontlik hoekom ek in die inleiding gepraat het van 2000 jaar westerse kultuur, waarin 'n sterk invloed van Christendom aan wysbaar is. Vanuit die Kerk, vanuit die kruis van Christus is invloed geoefen op die kultuur, op die maatskaplike en sosiale lewe. Daar was tye waarin die Christendom geweldig vinnig uitgebrei het. Baie mense het belanggestel in die Bybel as reël vir geloof en lewe.

Op belangrike plekke in die samelewing het Christene gestaan en invloed geoefen. Maar dit is vrywel verby. (Iemand soos ons huidige Staatspresident is in hierdie tyd 'n unieke figuur, 'n vreemde eend in die dam van die wêreldpolitiek).

Die invloed van die kerk op die maatskaplike lewe, loop ten einde. Die kerk sal al hoe meer teruggedwing word binne haar eie mure.

Binne haar mure kan sy glo wat sy wil, maar daarbuite, staan die heidene klaar om te vertrap.

Die Bybel? 'n Outydse boek vir dom mense.

Norme van God? Ag wat, laat elkeen self besluit wat goed is. Na die kerk gaan? Ek kan my tyd beter gebruik! So raak die kerk in 'n isolement.

Steeds minder mag die Naam van Christus gebruik word in die openbare lewe. Die verset teen die Bybel en Sy boodskap sal toeneem.

Dit alles gebeur as die stad en die voorhof prysgegee word aan die heidene. 42 Maande lank. 'n Lang periode. Maar tog slegs 'n periode, met 'n begin en 'n einde. Want die einde van die periode sal die seën van die Here terugbring.

Die seën wat uitgaan vanuit die tempel, oor die stad, ja oor heel die wêreld, want tenslotte behoort die aarde aan God en aan Sy Seun Jesus Christus.

2. Die Kerk word uitgestuur na buite.

Onthou hoe Johannes die opdrag ontvang het om te profeteer. Hy moet getuie wees van Jesus Christus in die wêreld.

Maar dis nie Johannes se persoonlike taak nie, dis eerder die taak van die kerk as geheel. Ons het wel gesien hoe die kerk steeds meer uit die openbare lewe weggedruk word. Sy sal tenslotte net toegelaat word om binne die kerkmure te aanbid, maar dit beteken nie dat daarmee die opdrag om na buite toe te profeteer, verval nie.

Ons teks sê dat die Here aan Sy twee getuies opdrag en krag gee, om te profeteer.

Hulle tree op met sakke bekleed, dit beteken, hulle kom as boetepredikers. Hulle roep op tot bekering en waarsku vir 'n oordeel wat kom.

1, 260 dae lank profeteer hulle. Met ander woorde. Hulle profeteer net so lank as wat die heidene kans kry om die voorhof te vertrap. 42 Maande is 1, 260 dae.

Hul getuienis word in dae getel. Miskien 'n aanduiding daarvan dat hulle telkens weer moet gaan. Ondanks die verset teen hulle boodskap, moet hulle 1, 260 keer hul roeping volbring, en uitgaan uit die tempel, om in die stad tot bekering op te roep. Maar hulle gaan! God roep hulle!

Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.

Die beeld is 'n duidelike verwysing na Sagaria 4.

Sagaria sien in sy droom 'n soortgelyke gesig. Hy moet met die gesig, Serubbabel, die leier van die in Jerusalem teruggekeerde ballinge bemoedig. Daar sê die Here, nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees.

Serubbabel sien blykbaar vanwee hul getal nie kans vir die herbou van die tempel, en die stad nie. Daarby is daar sprake van verset van heidene, wat wil keer dat daar opnuut 'n tempel in Jerusalem gebou word. As die mense, wat dit tog graag wil, dan moedeloos begin raak, sê die Here: "Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees".

"Julle getal of julle kragte is nie deurslaggewend nie, maar die Heilige Gees sal My planne met julle uitvoer. En daarom kan julle maar voortgaan met jul taak".

Wel, so word ook die getuies in Openbaring 11 uitgestuur.

Hulle is olyfboom en kandelaar tegelyk. Dit is nou 'n pragtige beeld.

Kyk, die kandelaars versprei lig. Hulle brand in die duisternis om die donker op te klaar. Nou gebruik gewoonlik enige ligbron energie. Dus ook die kandelaar. Maar hierdie kandelaar is tegelyk olyfboom. Die olyfolie hou die lamp brandende. Hierdie lamp hou homself gaande deur te brand.

God hou die energie toevoer Self gaande.

Die energiebron kan nie opdroog nie.

Die mooie van die beeld is hierin, dat so wonderlik duidelik word, dat daar 'n verband is tussen, die Evangelie verkondig, en self daarmee gevoed word. As die kerk ondanks toenemende verset teen sy boodskap, die Evangelie bly verkondig, raak sy energie nie op nie, maar eerder die omgekeerde, dan bly die olyfboom aan die lewe!

Die kerk wat sy plek reg sien, is kandelaar en olyfboom tegelyk! Om die Evangelie uit te dra, is om gevoed te word met die Evangelie. Ek dink gemeente, hier kan ons nog baie leer. As gemeente, en as individuele lidmate.

Is ons as gemeente nie veels teveel geneig om ons in onsself op te sluit nie? As ons vir onsself en ons kinders die Evangelie maar kan leer, dan is dit vir ons mooi genoeg. Maar hoe is ons dan nog 'n kandelaar? Gaan ons nie dan 'n essensiële onderdeel vir versterking van ons geloof mis nie?

Immers, om as kandelaar te brand, is tegelyk om gevoed te word!

Dit is die geheim van 'n ware Christelike geloof.

Hoe meer jy daarvan uitdeel, hoe ryker jy word.

Maar as jy dit net vir jouself probeer hou, staan jy op 'n sekere oomblik sommer met leë hande.

Kom ons kyk weer na ons teks.

Die getuies word uitgestuur in 'n vyandige wêreld.

Daar is vyande wat vir hulle wil beskadig.

Maar tegelykertyd staan vas, dat niemand hulle skade kan doen nie. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat dit nie reën nie.

Hier vind ons 'n duidelike verwysing na Elia, die Ou Testamentiese Profeet. Hulle het ook mag om water in bloed te verander.

Dit slaan onmiskenbaar op Moses wat van God mag ontvang het, om die volk Israel uit Egipte te lei.

En so staan die twee mees bekende profete uit die Ou Testament, model vir die getuies wat God uitstuur, vanuit die kerk van die Nuwe Testament. Dit beteken natuurlik nie, dat elkeen wat maar uitgaan om die Evangelie te verkondig, die mag en die bevoegdheid het om al hierdie dinge te doen nie.

Moses en Elia was in die Ou Testament ook al baie uitsonderlike profete. Deur hulle het die Here in krisis situasies groot dinge gedoen.

Deur hier na hulle te verwys, gee die Here 'n bemoediging vir Sy Kerk. Doen net julle opdrag, al is julle net so onseker soos Moses of net so bang soos Elia. Maar as julle jul opdrag vervul, sal Ek julle beskerm, en indien nodig groot tekens laat verrig. Vertrou maar rustig daarop. Wees net gehoorsaam.

En dus gemeente, waar is ons geloof?

Kan ons teenoor 'n wêreld wat hom steeds meer van God af weg beweeg, bly swyg oor 'n oordeel wat kom?

Dit kan mos nie. Nie as ons die Woord van God ernstig neem nie.

En daarom moet ons onsself daarin oefen, om 'n getuie van Jesus Christus te wees.

Probeer maar 'n slag vir jouself, om met 'n paar woorde te omskryf, wat die geloof in Jesus Christus vir jou beteken. Probeer voorstel hoe jy dit aan 'n ander sou wil vertel. Probeer heel kort die rykdom van die Evangelie onder woorde te bring. As jy daarin jouself geoefen het, dan vind jy vanself die geleentheid om dit aan 'n ander te vertel. En jy sal sien wat 'n verrykende geloofservaring dit is. Probeer net.

En besef, dit is waarvoor Christus jou die lewe gegee het.

Dit is waarvoor Hy jou gedoop het.

Dit is waarvoor Hy jou die teken van brood en wyn, steeds weer uitdeel.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)