Christus se boodskap vir Sy gemeente te Laodicea

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 3
Preek Inhoud: 

Ps 95: 1, 2, 3
Ps 95: 4
Ps 16: 1 - 5
SB 44: 1, 2, 3
SB 44: 4, 5
Lees: Kol. 1: 1 - 23
Teks: Openb. 3: 14 - 22

Broeders en susters,

Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Met hierdie vermaning sluit elk van die sewe briewe uit Openbaring af. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Dat hierdie vermaning nodig is word ongetwyfeld veroorsaak deur die feit dat mense horende doof en siende blind kan wees.

Veral met betrekking tot die waarheid van die Bybel blyk dit geldig te wees. Kennelik kan jy vir jare na die prediking luister en tog nie die wesentlike (die kern) daarvan vat nie, omdat jy in jou luisteraktiwiteit tog slegs opvang wat jy wil hoor. Wat jy nie wil hoor nie, hoor jy ook nie. Jou ore is daarvoor bewustelik of onbewustelik toe.

Daarom laat ons goed luister na wat die Gees tot die gemeentes sê. Ook tot ons gemeente.

Van die sewe briewe uit Openbaring 2 en 3 was geeneen spesifiek tot die gemeente van Kaapstad gerig nie. Van geen van die briewe kon ons sê: Dis nou presies soos dit by ons gemeente in Kaapstad is nie. Ons is nie presies soos Sardis of soos Filadelfia of soos Laodicea nie. En tog het ons in elk van die briewe iets van ons eie gemeentelike lewe, iets van ons eie situasie herken. Tenminste vir sover ons ons ore gebruik het om te hoor.

As ons meen dat ons alles al weet, as ons glo met ons is alles reg, ja dan het ons onbereikbaar geword. Dan is ons ore toe. Dan hoor ons nog wel woorde, maar ons hoor nie meer wat die Heilige Gees vir ons wil sê nie.

Dus laat ons die slotwaarskuwing van elke brief maar in ag neem. Wie 'n oor het laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

CHRISTUS BOODSKAP VIR SY GEMEENTE TE LAODICEA.

Ons let op:

  1. Die armoede van 'n loue christendom
  2. Die rykdom van 'n lewende christendom

Laodicea. In sy dae was dit 'n beroemde stad. Die stad was baie gunstig geleê op 'n kruispunt van die Romeinse grootpaaie. Al wat in Klein-Asië langs die pad vervoer word, en alle mense wat reis, kom deur Laodicea. Ideaal vir 'n handelsentrum. Laodicea was ook bekend as 'n finansiële sentrum. Die bankbedryf het gebloei.

Verder was Laodicea bekend vir sy pragtige wolprodukte. En vir die beste medisyne teen allerhande kwale moet jy in Laodicea wees. Al die bewoners van die stad het gedeel in die welvaart wat beskikbaar was. Almal het lekker geleef daar, en inmiddels hard gewerk aan die opbou van suksesvolle ondernemings.

Jy is bevoorreg as jy 'n Laodicenser is. Omdat dit met almal goedgegaan het was die atmosfeer in die stad taamlik ontspanne. Mense met wie dit self goedgaan, gun ook welvaart en geleenthede aan 'n ander.

En daarom het ook die gemeente van Christus in Laodicea nie swaar gekry nie. Hulle is nie vervolg nie, hulle het 'n kerk gehad om sondags eredienste te hou en mekaar te ontmoet. Pragtig, wat wil 'n mens nog meer?

Maar die Here Jesus sê van die gemeente van Laodicea: "Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. "

Jy is lou. Ek wil jou wel uit my mond uitspoeg.

Oor die algemeen bedoel ons met iets wat lou is, nie iets wat besig is om warm te word nie, maar eerder iets wat eers warm was, maar gaandeweg sy warmte verloor het en nou lou is.

Dit het dus duidelik 'n negatiewe klank hier. Watter louheid is hier bedoel?

Ek dink dit: Aanvanklik het vir die mense van Laodicea Jesus Christus alles beteken. Toe hulle vir hom leer ken het, het hulle hul hele lewe op Hom betrek. Hulle het hul lewe aan Hom toevertrou. Hy is hul eienaar. Hy kan oor hulle besluit. Hulle staan klaar om hul Heer te dien.

Maar met die verloop van tyd het hul entoesiasme bekoel. Langsamerhand het die wêreld weer van hulle besit geneem. Met 'n wat outydse woord: daar het 'n stuk wêreldgelykvormigheid in hul lewe ingesluip. En dan bedoel ek nie die wêreldgelykvormigheid soos dit vroeër en vandag nog wel by sekere mense 'n begrip was nie. Daarmee bedoel hulle dan, dat ook Christene wel eens 'n slag 'n film gaan kyk, of 'n toneelstuk sien, of 'n glas bier buitenshuis drink.

Nee, om dit wêreldgelykvormig te noem, of in elk geval dit daartoe te beperk, is vir my veels te uiterlik, te oppervlakkig. Nee, wêreldgelykvormigheid in sy gevaarlikste vorm is die waar die uiterlike lewe 'n min of meer Christelike vorm gekry het, maar waar die innerlike lewe suiwer wêrelds is.

Ek bedoel dit: 'n mens kan 'n netjiese Christelike lewe lei. Jy gaan Sondae kerk toe, jy vloek nie, jy gee 'n aanvaarbare kerklike bydrae, maar jy laat nie toe dat die geloof in Christus jou lewe en jou lewensuitkyk verander nie.

As jy besigheid doen, dan doen jy besigheid, en dan moet daar wins gemaak word. En inmiddels vra jy jouself nooit af of jy in jou betaling reg doen aan jou mense nie. 'n Christelike besigheids etiek? Nooit van gehoor nie.

As dit oor politiek gaan, neem jy 'n standpunt in by die realiteite, soos jy dit sien, of soos dit jou die beste pas, maar aan die vraag: watter plek Christus daarin het, kom jy nie eers toe nie.

Gemeente, die vraag waar alles om gaan is dit: In hoeverre is onder die oppervlak van 'n Christelike lewensstyl, ons eintlike strewe dalk net so wêreldsgerig as by 'n ongelowige? Doen jy in die kerk meer, as dat jy die wêreld op gepaste afstand volg?

Ek stel die vraag maar by wyse van selfbeproewing. Want dit is die louheid van Laodicea. 'n Louheid waarvan Christus walg. Hy wil dit maar net uitspoeg. Dan maar liewers koud, soos die heidene. Die heidene is moontlik nog bereikbaar met die Evangelie van Jesus Christus. Met die vuur van die Heilige Gees! Maar met Christene wat hul hart aan hierdie wêreld verpand het onder 'n uiterlike christelike lewensstyl, kan jy geen kant op nie. Hulle het onbereikbaar geword.

Waar is die warmte vir die waarheid? Waar is die entoesiasme om 'n nuwe ding te begin in jou lewe? Waar is die geloof dat jy met Christus iets aandurf in jou lewe?

Christus verwys in hierdie brief na Homself as die Amen, die getroue en waaragtige Getuie.

Amen, getrou, waaragtig, getuie. Al die woorde wys in dieselfde rigting, nl. op betroubaarheid, waarheid. Christus getuig van Homself: Ek is die weg, die waarheid en die lewe!

En wat is dus buite Hom? Die leuen en die dood.

Die wêreld buite Christus is die wêreld van die skyn. Dit lyk alles pragtig en kan mense betower. Hulle glo daarin. Hulle glo die leuens van die reklame: As jy ons produkte koop, dan is jy 'n gelukkige mens! Hulle glo die leuens van die politici: As jy ons navolg, dan is jou gelukkige toekoms verseker. Hulle glo die leuen dat geld gelukkig maak. En dat meer geld dus nog gelukkiger maak.

Hulle glo die leuen dat 'n mens wat hom nie aan die gebod van God hoef te steur nie, 'n vrye en frustasielose mens word. Mense is mense en hulle wil nou maar bedrieg word. Christene is ook mense - Hoe hard is hulle besig met die skyn? Reken maar, ons het almal die neiging om die geloof in Jesus Christus om te bou tot 'n aantal uiterlike vorme, en vervolgens ons eie pad te gaan, ons eie lewensideale na te jaag. Maar laat ons goed besef wat ons dan doen.

Dis ook nie verniet dat Christus Homself in hierdie brief aankondig as die begin van die skepping van God nie. Hy is die begin van die Skepping van God. Dit beteken Hy is die basis daarvan. Die fondament waarop die Skepping rus. Die fondament waarop die lewe in hierdie wêreld berus.

Wie nou probeer om 'n lewe sonder Christus op te bou, wie probeer om die skepping met al wat daarin is, los te maak van Christus, is besig om 'n skyngebou op te rig. Die buitekant lyk pragtig, maar daar kort 'n deeglike fondament. Dan kan die instorting enige tyd verwag word. Want jy het nie gebou op waarheid nie. Op Jesus Christus, Die Amen, die getroue en waaragtige getuie.

En dan is jou rykdom maar skyn. Want eendag kan jou Christelike buitekant jou geestelike armoede nie meer verberg nie. Dus laat jou voor die tyd deur die Here Jesus waarsku.

2. DIE RYKDOM VAN 'N LEWENDE CHRISTENDOM

Die Laodisense prys hulself: Ons is ryk. Ons het lekker ryk geword. Ons het aan niks gebrek nie. En vorentoe lyk die toekoms goed. Het die gemeente nou skoon van Jesus Christus en Sy kerk vergeet? O nee, definitief nie. Hulle is mos nie koud nie. Hulle is nie ongelowiges nie. Inteendeel. Hulle is selfs bereid om Christus vir hul welvaart dankie te sê.

En tog leef hulle nie werklik uit die geloof nie. Tog staan Christus en Sy Ryk nie sentraal in hul lewe nie. Hulle meen dat die geloof in Christus tot die verfraaiing van hul lewe behoort. en daarom is die oordeel van Christus so skerp: Jy is ellendig en beklaenswaardig, jy is arm en blink en naak. En die ergste is: Julle weet dit self nie.

Julle meen julle is ryk en kom niks kort nie. En daarmee het julle feitlik onbereikbaar geword.

'n Heiden wat vasgeloop het in sy sondige lewe, wat besef: ek kan myself nie red nie, is moontlik bereikbaar met 'n uitgestoke hand, met 'n bemoedigende woord, met die uitsig wat die Evangelie open.

Maar iemand wat hoogs tevrede met sy eie lewe is, wat trots is op wat hy tot nou toe in die lewe bereik het, kan nie gehelp word nie. So was dit in die gemeente van Laodicea. Hulle was heel tevrede met hulleself. Hulle was trots op hul standaard van Christelikheid. Dit was nou maar dieselfde situasie waarvan 'n profeet in die Ou Testament gesê het: Julle hart het vet geword. Julle het jul hart met 'n ondeurdringbare laag omring.

En tog gee Christus dit nie op nie. Nog nie.

Hy gaan optree soos 'n koopman. Soos 'n goudhandelaar. Goudhandelaars ken hulle in Laodicea. Baie mense uit die gemeente het ook beleggings gemaak in goud van Laodicea.

Maar nou sê die Here Jesus: As julle goud wil koop, koop by My. As julle beleggings vir die toekoms wil maak, wat werklik wins oplewer dan moet julle hier kom! Die sekuriteit wat goudaandele bied is tenslotte maar net skynsekuriteit. Dit kan jou enige tyd ontval, en dan het jy niks nie. En as die dood jou kom haal, neem hy jou sommer kaal en arm soos jy is, saam.

En die pragtige klere waarin julle rondstap daar in Laodicea, ag dit kan nie werklik julle skande voor my oë bedek nie. Met die mooiste klere van die wêreld kan jy nie een klein sondetjie bedek nie.

Daarom neem van My wit klere aan. Laat julle skande, julle sondes deur My wegneem. Koop liewers oësalf by my. Dis weer 'n pragtige, amper ironiese verwysing na Laodicea. Hulle het daar 'n oogsalf gemaak wat dwarsdeur die wêreld beroemd was weens sy genesende effek. Maar koop julle liewers oogsalf van My. Dit sal julle werklik die oë oopmaak. Julle vertrou nou heeltemal op eie insigte. Maar julle is blind vir jul eie situasie. Laat julle die oë oopmaak en sien. Sien dat Ek dit is wat die wêreld regeer. Sien dat Ek die wêreld lei na My doel.

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. Hoor julle nog gemeente van Laodicea? Of is julle ore ook al toe? Hoor ons nog gemeente hoe Christus ook aan ons deur staan en klop? Hy wil toegelaat word in ons lewe. Nie net in ons kerklike lewe nie, maar ook in ons gesinslewe, ons maatskaplike lewe, ons politieke lewe.

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop!

Hoor ons Hom nog gemeente? Ons beleef tans jare van politieke en ekonomiese onsekerheid. Ons beweeg saam in 'n politieke stroomversnelling, waarin dit geweldig gaan spat, en niemand kan voorspel wanneer ons weer in wat kalmer vaarwater sal beland nie.

En dan hou allerhande vrae ons maar besig: Hoe sal dit word? Sal dit beter gaan vorentoe? Wat gaan van die ekonomie word? Hoe sal 'n nuwe Suid-Afrika lyk? Vrae genoeg. Probleme te oorgenoeg. Die geraas van pessimistiese en dan weer optimistiese en dan weer revolusionêre en dan weer beswerende stemme, kan 'n mens die neiging gee om maar liewers sy ore toe te hou.

Maar hoor ons temidde van al die stemgeluide nog wel die geluid van Hom wat aan die deur staan en klop?

Of het ons vanweë al die probleme wat ons tans besig hou, voorlopig nie tyd om die deur oop te maak nie?

Maar laat ons dan tog maar eers die deur oopmaak. Laat Christus binne in jou lewe. In jou persoonlike lewe, maar ook in jou besigheid, in jou stellingname in sosiale vraagstukke, in jou insigte en politieke kwessies.

Laat ons begin om in heel ons lewe, Jesus Christus sentraal te stel. Laat Sy Naam oor al ons besighede geskryf word. Dan sal jy sien, dan word die lewe eers ryk. Dan hou jy nie meer vol angs jou hart vas as jy na die toekoms kyk nie. Maar dan sien jy watter pragtige werk daar te doen is in die Koninkryk van Jesus Christus. Jy sien sommer allerhande nood by 'n ander raak en jy begin werk daaraan. As 'n lewende Christen wat diens wil verrig in Christus se Koninkryk. En dan word die lewe ryk.

Dan sal jy wel nie veel aardse goed kan opgaar nie, maar dit soek jy ook nie. Jy sien 'n ander doel in die lewe naamlik Jesus Christus en Sy Ryk.

En Christus beloof self dat Hy dan ons lewe ryk sal maak. Hy beloof om saam met ons maaltyd te hou. Dit beteken dat Hy met ons gemeenskap wil oefen. Hy wil intensief met ons omgaan in 'n lewende relasie.

Wel, so 'n belofte maak al die rykdom in hierdie wêreld relatief. Om nou gemeenskap met Christus te kan hê is die rykste vorm van lewe wat op aarde moontlik is. En dan gee Christus tenslotte 'n nog groter belofte. Wie oorwin sal met My op die troon sit.

Die gemeente wat onder die skerpste kritiek deurloop kry nota bene die mooiste belofte. Met My op die troon sit.

Laat ons dus vandag maar gou van ons eie troontjies afstap, en ons lewe aan Christus onderwerp. Dan werp ons ons krone aan die voet van die Here Jesus.

Ons trek ons eie pronkgewade uit.

Ons laat ons eie rykdom los.

En dan kan ons ontvang. Genade geskenke: Liefde, vrede, barmhartigheid, gemeenskap, 'n begin van 'n ewige vreugde.

Dit alles is die geskenke van ons Heer en Heiland Jesus Christus.

En ons kan net maar ontvang en dankie sê.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)