Christus se boodskap vir Sy gemeente te Efese

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Ps. 21: 1, 2, 3
Ps. 21: 4, 5
Ps. 3
SB. 38: 1, 2, 3
Ps. 117
Lees: Hand. 19: 18 - 40
Teks: Openb. 2: 1 - 7

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Soos u sien gaan die preek vanoggend oor Openbaring 2: 1 - 7. Die eerste van die briewe aan die sewe gemeentes. Eintlik het ek nogal geaarsel, of ek ook oor hierdie briewe moet preek. Dit was natuurlik moontlik gewees om hulle sommer oor te slaan, en 'n bietjie verder in die boek in te spring. Dat ek dit tenslotte tog nie doen nie, is omdat ek glo dat die sewe briewe 'n onmisbare deel van die totale boek vorm. As die sewe gemeentes begeleidende briewe kry by die komende openbaring, dan moet ons die briewe maar nie oorslaan, om aan vir ons moontlik meer interessante onderdele te begin nie. Hierdie briewe is geskryf aan gemeentes in 'n konkrete situasie. Die Goeie Herder Self skryf vir hulle 'n brief, en dus kan ons maar verwag dat die briewe van groot pastorale waarde is.

Die briewe bevat vermanings en bemoedigings, met die oog op die tyd wat kom.

Voor die Here Jesus tot verder openbarings oorgaan, roep Hy elk van die gemeentes om voor Hom te verskyn. In ons teks van vandag roep Hy die gemeente van Efese voor Hom. Kom ons stap met hulle saam, en luister wat die Here Jesus te sê het.

CHRISTUS SE BOODSKAP VIR SY GEMEENTE TE EFESE.

Hy het vir hulle

  1. 'n bemoediging in lyde.
  2. 'n aansporing tot liefde.
  3. 'n belofte van lewe.

1. Johannes ontvang die opdrag om 'n briefie aan die gemeente van Efese te stuur. Maar hy moet vir hulle nie 'n eie boodskap oordra nie. Hy moet net so die diktaat opneem van Sy Sender. In die inleiding maak die Sender Homself bekend as Hy wat die sewe sterre in Sy hand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars. So het Johannes Hom reeds gesien, en in die voorgaande hoofstuk beskrywe.

Ongetwyfeld het dit iets te beteken dat Christus Homself op hierdie manier juis aan hierdie gemeente aankondig. Sowel die sterre as die kandelaars is naamlik ligdraers.

Ligdraers in die hand van Christus. Hy is die ligbron op wie hulle teruggaan. God is lig, en in Hom is glad geen duisternis nie. Miskien herken u die woorde. Dis woorde van dieselfde apostel Johannes. Hy skryf dit in sy brief. 1 Johannes 1: 5 - 7.

"En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons, en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar".

Wel, ek dink hierdie Bybelgedeelte gee 'n bietjie lig oor ons teks. God Self, dus ook Christus is die lig. Hy is ook die ligbron wat die sterre (dis die gemeente) en die kandelaars (dis ook die gemeente) hul lig laat versprei. Dit is selfs roeping van die gemeente om ligdraer van Christus te wees, in 'n duister wêreld.

Die gemeente van Efese leef inderdaad in 'n duistere wêreld. Die stad waar hulle bly, was 'n beroemde hawestad in die Ou Wêreld. Die stad het vermoedelik omtrent 'n kwart miljoen inwoners getel. Efese was 'n ryke stad. Dit was 'n handelsentrum met goeie verbindings na die binneland. Koopmanne het daar groot winste gemaak. Die stad was vol van die pragtigste geboue en paleise. In kulturele opsig 'n uiters suksesvolle stad. Die inwoners van Efese was dan ook trots op hul woonplek.

En tog, hoe kultureel gevorder ook, die stad was 'n duistere plek. Immers die kultuur was deur en deur heidens bepaal. Die erediens aan die keiser van Rome het geweldige vorme aangeneem. Allerhande feeste is georganiseer, ter ere van die keiser. Groot sportmanifestasies is gehou, die pragtigste optogte het met die reëlmaat van die klok, deur die stad getrek. Maar alles was tot meerdere eer en glorie van die keiser. Hy is deur die mense aanbid. Voor sy beeltenis het hulle wierook geoffer. Want al hulle welvaart dank hulle aan die seëninge van die keiser. Alle eer en heerlikheid aan die Keiser! Sy naam moet geprys word! Dit was die atmosfeer van die godsdiens van Efese.

En daar kom nog iets by. Die Efesiërs het daarby nog 'n eie stadsgodin gehad. Diana. Ons ken haar uit Handelinge 19. Daardie Diana speel die hoofrol in die massa demonstrasie onder leiding van Demetrius.

Waaroor het hulle tog so opgewonde geraak? Wel, 'n mens hoef maar een keer 'n prent te sien van Diana, en jy verstaan die agtergrond van hul entoesiasme.

In vandag se terme: Diana was 'n sekssimbool. Sy was die godin van die vrugbaarheid. Hierdie laaste klink miskien 'n bietjie onskuldiger, maar maak nie 'n fout nie. Rondom die diens van Diana, het 'n hele kultus van vrye seks ontstaan. Die dogters van Efese funksioneer as priesteresse. In 'n hawestad soos Efese is dit ongetwyfeld 'n suksesresep.

Algemene ontug met 'n religieuse lagie verf. Dit werk altyd. Dink maar aan die vandag opkomende satanisme. Daar soek hulle dit ook.

Wel, aan hierdie tipe godsdienstigheid het Demetrius en sy kollegas 'n goed stuk brood verdien. Hulle verkoop silwer beeldjies van

Diana, en silwer Artemis tempeltjies, aan matrose en toeriste. Big business, natuurlik.

Wel, in hierdie stad het Paulus die Evangelie van Jesus Christus kom verkondig. Al met al het Paulus daar meer as drie jaar gewerk. Daar was baie om te doen. En die gemeente van Efese het sy kant gebring. Onvermoeibaar het hulle getuig en gewerk. Hulle het die lig van Jesus Christus in die duisternis van die stadslewe van Efese verkondig. En daarvoor ontvang hulle tans erkenning van Christus Self. Hy bemoedig hulle: Ek ken jou werke en jou arbeid en jou volharding.

Want reken maar, dis nie maklik om in so 'n stad, gemeente van Jesus Christus te wees nie. Almal het groot geword in daardie kultuur, en is deel van daardie samelewing. En om dan reguit 'nee' te sê teen die Diana-besigheid, en die keiserverering, dit is maar baie moeilik. Dit vra 'n geweldige inspanning. Maar dit het inderdaad tot 'n duidelike breuk met die heidendom gekom. As die gemeente tot geloof kom, kyk almal hul boekrakke na, en verwyder alles wat nie pas by hul nuwe lewe nie. Die boeke word publiek verbrand. Weg daarmee. Die waardeskatting was: 50. 000 silwerstukke. 'n Silwerstuk: die dagloon van 'n arbeider. In ons verhouding R20 per stuk. Dus 50. 000 maak 'n waarde van R1 miljoen. Daar kan jy 'n mooie kerk van bou. Maar nee, as hulle dit verkoop het, sou dit sy demonstratiewe krag verloor het. En daarom: "in die vuur die towerboeke!" Nie net die kerk, maar heel die stad moet sonder towery regkom!

Die Evangelie van Christus is mos vir almal!

Dit is 'n bevrydende boodskap vir heel die stad!

Ons sal kan verstaan dat hierdie entoesiasme van die volgelinge van Jesus nie by die hele stad welkom was nie. As hulle nie meer wil saamdoen met die keiserverering nie, maar dan is hulle mos revolusionêre! Staatsgevaarlik! Opstandelinge teen die keiser!

En as hulle nee sê vir die Diana-diens, dan ondermyn hulle die ekonomie van die stad. Hulle is besig om aan die fondamente van hulle welvaart te skud. En dit is vir die meeste mense totaal onaanvaarbaar. "Snoer hulle onmiddellik die mond, daardie Christene. Sit hulle in die tronk. Dan sal hulle hierdie tipe demonstrasie wel afleer!" Dit was die atmosfeer in die stad Efese.

Kan u voorstel dat gemeentelede begin sê: "Ag, hierdie oormag is te groot. Dit help tog niks om van Christus te getuig nie". Of dat mense voel: Die offer is nou te swaar.

In so 'n situasie is die bemoediging van vers 3 hard nodig: Ek weet dat julle verdra het, en volharding besit. Julle het jul bly inspan vir My Naam. Onvermoeibaar.

Christus sien dit en prys dit in hulle. Hulle was inderdaad soos ligtende sterre, aan 'n donkere hemel. Hulle het die lig van Christus laat skyn in donker Efese.

En daarby het hulle onderling nog swaar gekry ook. Want in die gemeente het valse apostels opgestaan. Hulle het gepoog om die gemeente van Christus en Sy Woord af weg te lei. Moontlik is die valse apostels dieselfde as die Nikolaïete wat in vers 6 genoem word. Waarskynlik was die Nikolaïete deel van die stroming, wat in daardie tyd geweldig opgekom het, naamlik die gnostiek. Dit was 'n heidense filosofie wat die Christendom baie kwaad berokken het, deurdat dit ook vir Christene nogal aantreklike kante gehad het.

Hul het naamlik in hul denke 'n geweldige teëstelling gemaak tussen die gees van 'n mens en sy liggaam (Dualisme).

Daarby is dan die gees (siel) die belangrikste. Die liggaam is nie so belangrik nie. 'n Lewensgevaarlike leer! Veral in Efese. Immers die splitsing tussen gees en liggaam, kan jy sommer deurvoer in 'n splitsing tussen geestelike lewe en lewe in die wêreld. Sondags behoort jy met jou gees aan Jesus Christus! Maar Maandag presenteer jy jou by die Diana-tempel. Ag, dis mos maar 'n saak van die liggaam!

Sondag luister jy na die wet van God. Maar Maandag verkoop jy Diana-beeldjies. Sondags prys jy Jesus Christus as enigste Heer. Maar die keiser moet tog ook eerbied betoon word.

Voel u wel, die Nikolaïete is die profete van die kompromie met die wêreld.

Maar die gemeente van Efese het dit goed gesien. Dit is onmoontlik. Jy kan nie Jesus en Diana dien nie. Jy kan nie Christus en die keiser vereer nie. En daarom het hulle onverbiddelik 'nee' gesê. Hierdie manier van redeneer was vir hulle onverdraaglik.

Hulle het die lig van Christus nie laat verdof nie.

En daarom prys Christus hulle. Hulle word bemoedig om te volhard. Hulle staan nie alleen nie. Christus sien hulle en weet van die moeite wat hulle hul getroos. Hou vol! Laat julle lig skyn onder die mense!

2. Christus het vir hulle 'n aansporing tot liefde.

Hoe positief Christus die gemeente ook aanspreek, tog is daar ook 'n punt waar Hy kritiek moet oefen.

Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Die gemeente bruis nog van aktiwiteite, hulle is onvermoeibaar in die verdediging van die een van die Naam van Christus, en tog... hulle kort liefde.

Ywer is daar genoeg. Geen inspanning is teveel nie, maar die fondament waarop dit alles moet staan, het bros geword. Die liefde is nie meer die bron waaruit hul aktiwiteite voortkom nie. En dan word ywer sommer fanatisme.

Hulle werk nog steeds hard, maar eerder uit die gevoel dat dit so behoort as uit liefde tot Jesus Christus.

Hulle beywer hulle vir baie sake, maar hul straal nie meer liefde uit na ander mense nie. As hulle 'n ongelowige ontmoet, dan kan hulle sommer sê wat is verkeerd met hom, maar hulle is eerder veroordelend as werwend besig. En daardie houding gaan hulle langsamerhand ook teenoor mekaar aanneem. Daar hoef niks te gebeur of hulle is kwaad vir mekaar. Onderlinge verskille word bronne van groot spanning, ens. Blykbaar is so 'n atmosfeer besig om te ontstaan.

Niemand soek dit nie, maar dit gebeur nou maar.

Die eerste liefde is verlaat. Soos dit ook maar in 'n huwelik kan gebeur. In die begin kan die liefde alles oorwin. Jy sien wel mekaar se gebreke en tekortkomings, maar in die vuur van die eerste liefde maak jy daarvan nie 'n probleem nie. Waar wrywing is, ontstaan warmte, sê ons dan. Pragtig, maar later... Dan kan aanvanklik klein ergernisse uitgroei tot groot probleme. Want die liefde is dan nie meer in staat om dit op te vang nie.

Wel dit kan ook in 'n gemeente gebeur. As mense hulle nie meer deur die liefde tot Christus laat lei nie, dan begin die liefde tot mekaar ook haper. En dit is die begin van die einde. Dan lyk alles vir die oog nog reg, maar tog...

En daarom waarsku Christus die gemeente. Hou jul kandelaar brandende. Laat julle voed deur my liefde.

Laat nie toe dat die liefde verkil nie, want anders gaan julle dood deur onderkoeling. As julle kandelaar nie brand nie, maar alleen nog maar daar staan, dan kom ek en sal die kandelaar verwyder. Want wat is 'n kandelaar sonder brandende vlam?

Dit beteken net so min iets, as geloof sonder liefde, of kennis sonder liefde, of ywer sonder liefde. Dit alles sou net klinkende metaal wees om met Paulus in 1 Korinte 13 te spreek.

Inderdaad:

Al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.
(1Kor. 13: 3)

3. Christus het 'n belofte van lewe.

Christus kom tot 'n afsluiting van sy brief. Daarom ook ons slotpunt van die preek.

Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die Lewe, wat binne-in die paradys van God is.

Aan hom wat oorwin - Blykbaar is daar 'n stryd wat gevoer moet word, deur die gemeente. Uit hierdie brief word duidelik wat die stryd is. Dit is nie 'n stryd teen die wêreld nie, maar dit is in die eerste plek 'n stryd om self die eerste liefde vas te hou, en uit die eerste liefde te lewe.

Wel, in daardie stryd skenk Christus 'n belofte: Jy mag eet van die boom van die Lewe in die Paradys. Ons onthou die boom wel uit Gen. 3. Dit is die boom waarnatoe die toegang afgesluit is, na die sondeval. Hierdie boom het gedien as 'n soort sakrament. 'n Teken en seël van die belofte van Ewig Lewe. Solank die mens gehoorsaam is aan die Here, kan hy maar eet van die boom van die Lewe, maar as hy ongehoorsaam is, dan is die boom nie meer toeganklik nie. En so is Adam en Eva uit die Paradys geekskommuniseer na die sondeval.

En geen mens kan op eie krag nog by die boom van die Lewe uitkom nie. Die boom word eers weer toeganklik in die nuwe Paradys. Dit is 'n belofte wat vorentoe oopstaan.

En daarheen verwys Christus Sy gemeente. Julle staan nou nog in die stryd. Hou vol. Want eendag kom die rus na die stryd. Die oorwinningsfees. En dan sal ons gemeenskap weer volkome wees. Dan is die stryd verby.

Dan begin die rus vir die volk van God!

Dus hou goeie moed! Ek is by julle. Ek weet hoe dit by julle gaan. Julle kry swaar, maar moenie moed verloor nie. Leef uit die liefde. Wees bly met mekaar en met My.

En Ek sal julle nog verder bring.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)