'n Christen-vreemdeling is seker, as hy Jesus Christus volg

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Hebreërs 13
Preek Inhoud: 

09-02-91

HEBREERS 13 : 12-14

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 34 : 1, 2
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 34 : 3, 4
Skriflesing: Hebreërs 3:1-9, 13:1-16
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 39 : 3, 5, 6, 7 [gebed van die "vreemdeling"]
Tekslesing: Hebreërs 13:12-14
Prediking
Sing: SB. 10 : 3-6
Dankgebed
Sing: SB. 24 : 6
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

ook hierdie preek gaan oor die vraag: hoe om as christen 'n vreemdeling te wees, soos die Bybel dit bedoel. En dus, soos die Here dit ook van jou, van sy hele volk vra. 'n Vreemdeling is 'n mens uit 'n vreemde land, met 'n ander kultuur. Maar: wat van jou eie land? Wie kan so 'n vreemdeling wees ... omring deur sy eie mense?

Vir die heidene wat deur die wonder van bekering christene geword het, het dit vinnig duidelik geword. Bekering is omkeer: 'n groot verandering van jou hele lewe, van jou persoon! Die mens wat almal vir 'n lang tyd geken het, word skielik anders. Dit val op. Maar die Hebreërs was nie heidene nie, maar Jode wat die Here Jesus as die Messias aanvaar het. Vir hulle was dit regtig moeiliker om soos 'n vreemde, om 'n vreemdeling te midde van hul eie mense te word. Want 'n Jood wat bekeer is, hoef sy verlede nie te verloën nie. Hy mag in die geloof in Jesus die vervulling van sy hele verlede, sy hele menswees sien. Hy word nie tot in sy diepste self verander nie, maar die ou geloof, die gewortelde geloof word verdiep. Vir hulle was nou die vraag: hoe om as Jood anders te wees as die ander Jode, die mense wat jou so goed ken.

Dit is die agtergrond van ons teks. Die situasie waarin die woorde geskryf is, is hierdie: daar was die gevaar dat die Jode wat christen geword het, nog nie heeltemal op God se genade vertrou het nie. Hulle was al soveel jare gewoond aan die offers. Die offers het mos versoening van jou sondes bewerk: jy moet jou offers bring. Die Jode in die verstrooiing het te ver van die tempel gewoon om nog offers te kan bring. Dus het die offermaaltye, die feestelike ete wat na die bring van die offer plaasgevind het, belangriker geword. In die feesete was die christen-jode nog een met hulle volk. Waarin moes hulle nou anders wees? Hoe is jy anders as jou eie mense is die vraag wat u in u agterkop moet hou. Ek bring vir u die Woord van die Here:

'N CHRISTEN-VREEMDELING IS SEKER, AS HY JESUS CHRISTUS VOLG

  1. so is jy veilig - soos in die woestyn,
  2. ook al word jy bespot - soos 'n uitgestotene
  3. want jy is vry - soos in 'n tent.

1. SO IS JY VEILIG

Die Here Jesus, sê ons teks, het "buitekant die poort" gely. Op die woorde volg die oproep: "laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer". By die woorde "buitekant die poort" kan jy nog dink aan die poorte van Jerusalem. Golgotha, die berg van die kruisiging, was mos buite die stad. Maar "die poort" was ook die ingang van die tentekamp vir Israël, toe hulle getrek het. En wat moet ek dink van die woorde "buitekant die laer"? Daar was in die dae van Jesus se lewe nie meer so 'n ding soos 'n tentekamp nie. Ja, die Here Jesus is uitgestoot. Die feit dat 'n kruisiging buite die mure van Jerusalem plaasgevind het, was 'n oordeel: die godslasteraar moet sigbaar en voelbaar uit die samelewing van God se volk uitgestoot word. Aan die vreeslike werklikheid word ons in die Bybel nou herinner.

Tog is dit snaaks. U het dalk al gedink: maar dit is 'n baie moeilike Skrifgedeelte. Dit is wat u dikwels vir mekaar sê: hierdie of daardie teks is moeilik, ne?! Maar is dit werklik moeilik? Of lees ons net oppervlakkig en versuim jy om jou te laat verbaas deur 'n teks soos hierdie? As ons in die Bybel lees, laat jy dan die Heilige Gees toe om 'n beroep te doen op jou Skrifkennis? Moenie te vinnig sê dat iets moeilik is om te verstaan nie. Vra maar vir mekaar: hoekom praat my Bybel, hoekom praat die Here hier soos ek dit nou hier lees?

Dit is baie opvallend: die woorde van ons teks (eintlik van vs. 9-16) is alles woorde uit die Ou Testament, terwyl dit tog die tyd van die Nuwe verbond is. En nie net dit nie, maar dit is ook alles woorde uit die Ou Testament vóórdat Israël die beloofde land gekry het. Ons teks praat asof die volk van die Here nog altyd in die woestyn bly! Kyk maar in vers 10: daar word van "die tabernakel" gepraat. Maar daar het mos lankal 'n tempel gekom? En lees in vers 11, soos in vers 13, oor "die laer", die tente van Israël. Maar intussen is Jerusalem al 'n ou stád?! Dit gaan ook oor offers: die wetgewing van die boek Levitikus word aangehaal. Asof daar nog altyd geoffer word soos in die woestyntyd. Ja, die skrywer van hierdie Nu-testamentiese Bybelboek praat van de tabernakel (die tent van God op reis), van die laer (die volk van God op reis) en van die offers (die erediens vir God op pad). Die ou geskiedenis word in u geheue wakker geroep! Dit lyk asof die volk Israël nooit in die beloofde land aangekom het nie. Dit is asof die tempel nooit gebou is nie. Dit is asof God se volk nooit verder as die woestyn gekom het.

Ons het ook uit hoofstuk 3 gelees. Dus: hierdie brief het jou al vroeër aan die ou geskiedenis laat dink. Toe is oor Moses gepraat, die man wat God se volk dwarsdeur die woestyn gelei het. En ook Josua word genoem, die opvolger van Moses wat die volk in die land binnegelei het. Israël mog sowel in die woestyn as in die land nie eiesinnig wees nie, sê die hoofstukke. In hoofstuk 11 is ons nog verder teruggeneem: na die ou vaders van die volk wat "vreemdelinge in die beloofde land" was. Totdat na eeue ook die belofte vervul is en die volk die sekerheid van 'n eie land gekry het. Maar waar is in ons hoofstuk nou die vervulling van die belofte: van die eie land?

Ja, maar dit is nou die bedoeling! Die gaping in die geskiedenis tussen die volk van God op reis in die woestyn én, jare en jare, eeue en eeue later, die kerk op pad in die wêreld word gesluit. Asof die woestyn opgeruk en die land, die stad en die tempel verswelg het! Want die volk van God het heeltmal in die sand van eie sekerhede vasgeraak. Steen vir steen word met die woordkeuse van ons teks daardie sekerheid van die volk afgebreek. Ja, jy moet die woestyn rondom jou gaan voel! Die vraag kruip in jou gedagtes op, as jy dit lees: hoe seker sou ek wees, as ek uit die stad uit en die woestyn ingestuur word?

Was jy al 'n keer in 'n regtige woestyn? Afrika is 'n mooi wêrelddeel om dit te leer ken: die Karoo, die Kalahari is naby. In die woestyn is geen moontlikhede vir die mens nie. Die son en die sand en die rotse maak dit 'n onherbergsame plek. Deur die woestyn trek 'n mens net, hy woon daar nie as daar nie water is nie. Jy sou doodgaan van dors.

Maar die ou volk Israël het 'n ander ondervinding! Veertig jare lank het die HERE sy volk daar versorg en beskerm. Hulle was juis veilig in die woestyn. Die vraag wat die Bybel nou vir ons vra is: waarin het jy jou sekerheid? Vertrou jy die Here dat dit vir jou voldoende veiligheid gee, as Hy jou losmaak van alle andere sekerhede? Die gevoel van sekerheid by die HERE alleen mag u nou terugkry. Selfs buite die laer was dit veilig. Die melaatses wat buite moes bly, is tog op voorskrif van die HERE deur die priester versorg.

Noudat ons die spesiale kleur, die sandkleur, van die woorde van ons Skrifgedeelte proe, kan ons die teks beter verstaan. Die woorde mag al die sekerheid oproep: jy is veilig, as jy as christen jou Here volg. Die tweede is: 'n christen-vreemdeling is seker, as hy Christus volg ...

2. OOK AL WORD JY BESPOT

Want in daardie taal sê die Bybel: "Jesus het, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely". Dit roep die hele vreeslike lyding van ons Here in ons herinnering. Hy is letterlik en figuurlik uit die volk uitgewerp. Buite die poorte van die heilige stad was die heuwel Golgotha, die plek waar misdadigers tereggestel is. Die kruis is sinnebeeld van die vloek: jy is deur God én mense vervloek en dus moet jy tussen hemel en aarde hang. Maar daarvoor kom eers dit: jy word uit die stad uitgesmyt. Die hele pad het die Here sy eie kruis gedra. Hy moes uit die stad uitlóóp, uitkruip. Weg met Hom. Uit die samelewing van sy eie mense. Daar lê die punt van vergelyking: die Jode-christene moes hul verhouding tot hul eie mense bepaal.

Aan die begin van die preek het ek gesê: die skrywer van ons brief wou oor die offers praat. Veral oor die offermaaltyd wat in die verstrooiing vir die Joodse volk oorgebly het. Nou kom die skrywer vanuit die gedagte aan die feesetes op 'n vreeslike vergelyking. Want in vers 11 sê hy: onthou mooi, daar was in die Ou verbond een offer waarvan niks oorgebly het nie. Daar het ook vir die priesters niks oorgebly om van te eet nie, alhoewel juis die priester altyd vleis van die brandoffers gekry het. Daar was net een offer wat heeltemal verbrand is: die brandoffer van die Groot Versoendag. "Want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoêpriester in die heiligdom ingedra word - hulle liggame word buitekant die laer verbrand". Net die bloed van die offerdier was van belang op die Groot versoendag. Die kadawer is heeltemal verbrand. Dis gekremeer, soos iets wat vernietig moet word. En dan volg vers 12: "Dáárom het Jesus buitekant die poort gely". Soos die offerdier van die Groot versoendag verbrand is, so is die Here op Goeie Vrydag - die een groot Versoendag - buitekant die stad vernietig.

En dan sê God se Woord: "Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra" (vs. 13). Asof ons Golgotha kan besoek om ons by Jesus te voeg, terwyl Hy daar bespot word. Asof ons in die woestyn is en die laer kan verlaat om buite die die offer vir ons sondes te gaan staan. Maar ek kan nie op Goeie Vrydag op Golgotha uitkom nie, ek kan nie soos Israël deur die woestyn trek nie. Hoe moet jy dit vandag doen? Word ons as christene eintlik wel bespot om Jesus ontwil?

Uitstoting uit hul eie volk was vir die Jodechristene wat hierdie brief gekry het: glad nie meer deur jou eie mense aanvaar word nie, omdat jy nie hulle styl wil volg nie. Maar wat van vandag? Jy word nie bespot, omdat jy 'n christen is nie. Jy word eerder met respek "'n groot christen" genoem, as mense hoor dat jy twee keer kerk toe gaan. Jy word nie uitgewerp uit die samelewing nie. Het ek dalk 'n verkeerde teks gekies? Is dit nie baie mooi dat ons in 'n christelike land woon nie?

Moet ons as christene om Jesus ontwil beslis bespot word?

Broers en susters, ek wonder of dit 'n goeie teken is dat ons so aanvaarbaar vir die samelewing is. Nee, ons hoef nie daarna te streef om uitgestoot te word nie. Maar ons mag wel vir mekaar vra: het ons eintlik al in die samelewing ingegaan? Weet die mense rondom jou wie jy is of ontmoet jy hulle nooit? Veg ons eintlik wel vir die waarheid van God se Woord? Ja, ons práát baie daaroor. Maar kan die mense sien dat ons Jesus volg en vir die Evangelie van Christus veg? Die kring van die "eie mense" was vir die Jode wat christene geword het, hul ou volk. Dit lyk vir my dat dit vir ons in die eerste plek die Afrikaner moet wees: die mens wat jou taal praat. Dit is ook hierdie land: in wie se samelewing jy jouself gevoeg het. Dit is die land waarvoor u gekies het. Kom ons soek hoe om die mense wat die meeste ons naaste is, met die Woord van God te bereik. Die mens wat die mees direk jou naaste is: dit is nie net hy wat jy ontmoet nie. Dit is ook die mense wat ons sou moet soek.

Dit is 'n mooi teken as u bevraagteken word, omdat die mense agtergekom het dat u met die volg van u Here erns maak. Dit kan baie moeilik wees. Maar dink dan aan jou Heer wat uit sy volk uitgewerp is: om jou ontwil. En besef dan ook hoe bevoorreg jy is:

3. WANT JY IS VRY

Opnuut lees ons, nou in vers 14, die woorde: "Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige". Dit het ons in hoofstuk 11 ook al gehoor. Die vaders Abraham, Isak en Jakob en hul gesinne het in die geloof vreemdelinge gebly, ookal het God hulle die land belowe. Hulle het "die stad verwag waarvan God die boumeester en oprigter is" (11:10). Die stad: dit is die sekerheid wat ons in God Almagtig mag hê. Dit is die koninkryk vanuit die hemele wat God in Jesus begin bou het.

Jesus, sê my Bybel vir my, het "buitekant die poort gely om die volk deur sy eie bloed te heilig". Dit is die groot wonder wat so lewendig in my herinnering kom as ek hoor van die sondoffer, van die spot, van Golgotha. Sy eie bloed, sy lewe het Hy vir die volk gegee: om die volk te heilig. En vers 8 roep uit: "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid". Soos Hy op Golgotha was, so is Hy vandag nog. Hy is nog altyd besig om sy volk te heilig. Daar is nog nie 'n stad waarin jy veilig voel nie, maar daar is al wel 'n volk!! Daar is 'n volk wat daarin vry is dat dit deur die Here heilig gemaak is. Heilig: dit is anders! Soos Jesus anders is. En dit is die groot waarde van 'n christen-vreemdeling wat Jesus wil volg: hy wys wat vryheid in Jesus Christus is.

Wys wat jou vryheid is: dan kan jy net oor Christus en sy werk praat. Dan moet jy oor sy offer praat: hoe Hy uit sy volk uitgewerp is. Dan moet jy valse sekerhede los. "Want ons het hier geen blywende stad nie". Selfs die "laer" kan nie jou sekerheid wees nie. Die "laer" was vir die Jodechristene wat met hul verlede geworstel het, die houvas aan die ou tradisies. Het ons dalk ook tradisies wat net skynbaar 'n houvas is? Ja, dit kan so wees. Dit is as ons van die gemeente ons "laer" maak. As die lewe in die gemeente deur sosiale kodes en vaste kringe bepaal word. As jy jou so gedra soos wat die groep rondom jou verwag. Wat van die sogenaamde vriende wat nooit mekaar in die geloof ontmoet nie, maar net dikwels saam braai en baie drink? Wat van die kringe wat nooit 'n ander gemeentelid sien staan nie? O ja, die sosiale kontrole in die gemeente lyk groot. Dit is nie maklik om jou aan die gemeenskap te onttrek nie. Maar is dit al 'n goeie teken? Gee ons werklik uit die geloof op mekaar ag? Wys jou vryheid in Jesus: in die gesprek van hart tot hart. Want daar is so baie eensame harte in die gemeente van Christus. Wys jou vryheid: dit is vryheid om heilig te wil wees en dus die volk wat die Here gekoop het, te wil dien.

Die Heilige Gees kan net in die kerk en mét die kerk werk waar mense bewus is dat hulle saam 'n roeping in die wêreld het. Om vir Christus 'n volk te wees: dit is om gemeenskap in die geloof te soek! Om mekaar te help hoe om in die samelewing 'n plek te vind en vrymoedig te spreek. Dan het ons eers vir mekaar, die mees nabye naaste nog 'n groot taak. As die gemeente dan eindelik 'n eensgesinde volk is, dan kry ons dalk kragte om die ander nabye naaste te soek en te dien. Byvoorbeeld met die offers waarvan ons hoofstuk praat: die lofoffers van ons lippe en die "goeddoen en mededeelsaamheid". Broers en susters, christen-vreemdelinge is seker, as hulle saam Jesus volg. Dan is julle veilig, ook al sou julle bespot word, want julle is dan vrygekoop. Die Here in die hemel gaan deur sy Gees saam. En, sê vs. 8 tot u bemoediging: "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid"!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)