Ons moet die woord van God wettiglik gebruik

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 TIMOTHEUS 1: 5-10

LITURGIE:
Ps. 78: 3
Gebed
L. 1 Tim. 1: 1-17
Preek
Ps. 119: 20
Geloofsbelydenis
Ps. 119: 22
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 3, 5, 7

Broeders en susters,

Die Bybel is regdeur die eeue die mees gelese boek in die wêreld.

Dit het reeds in ontelbare hande en op ontelbare tafels gelê. Vertaal in baie tale en versprei in bykans alle lande van die wêreld word God se Woord deur ontelbaar veel mense gelees.

Maar die een Bybel het vreemd genoeg nie al sy lesers verenig nie.

Inteendeel, die talle lesers het die een Bybel ook regdeur die eeue in talle verskillende rigtings gebruik.

Die mees uiteenlopende, en dikwels selfs teenoorgestelde menings is met 'n beroep op die Bybel verdedig.

Is die Bybel dalk 'n boek met baie gebruiksmoontlikhede? Kan jy met die Bybel alle kante toe?

Dit mag dalk so lyk, gemeente, maar dis tog in werklikheid nie so nie. Al beroep almal hulle ook op dieselfde Bybel, die vraag is: gebruik hulle wel almal die Bybel wettiglik? Op die regte manier?

Dis belangrik dat ook ons ons telkens weer rekenskap gee van dié vraag.

Hoe lees ons die Bybel?

Gebruik ons die Bybel volgens sy eie gebruiksaanwysing?

Daarom wil ek in dié diens met u 'n slag na die gebruiksaanwysing by die Bybel kyk. Die apostel Paulus het dit in ons teksverse afgeskryf.

Paulus leer hier vir sy medewerker Timotheüs hoedat "die wet wettiglik gebruik moet word".

Terloops: wanneer die apostel van "die wet" praat, moet u nie net aan die Tien Gebooie, of aan die wette van Moses dink nie. Ons lees die begrip "wet" ook 'n aantal kere in die Evangelie volgens Johannes (10: 34, 12: 34), en dan word duidelik die hele Ou Testament bedoel, die destydse Bybel. Die Jode het hul Bybel "die wet van Moses en die profete en die psalms" genoem. Maar dit is 'n omslagtige aanduiding en daarom het hulle dit dikwels afgekort tot: "die wet van Moses", of net: "die wet".

Dit gaan dus in ons teks oor die Bybel. Hoe gebruik ons dit op die regte manier? Vir wie en waarvoor is die Bybel geskrywe?

Ek vat ons tekswoorde soos volg saam:

ONS MOET DIE WOORD VAN GOD WETTIGLIK GEBRUIK

  1. NIE AS BRON VIR INTERESSANTE BEWERINGS NIE
  2. MAAR AS BRON VIR 'N DAAGLIKSE BEKERING

1. As daar teen 'n verkeerde gebruik van die Bybel gewaarsku word, is ons dadelik geneig om na ánder te kyk pleks van na onsself.

En ons veronderstel dit natuurlik eerder buite die kerk as daarbinne.

Maar die apostel Paulus moes Timotheüs daarop opmerksaam maak dat 'n verkeerde Bybelgebruik ook ín die kerk kan kop uitsteek. Onder mense wat bekend staan weens hul uitstaande insig in die Skrifte.

Dit hét kop uitgesteek in die gemeente te Efese, waar Paulus 'n hele ruk gewerk het; en waar hy Timotheüs agtergelaat het wanneer hy self 'n rondreis langs die kerke in Macedonië, Griekenland, maak.

Ons begryp uit die eerste verse van hierdie brief dat daar mense in Efese se kerk was wat hulleself as leraars van die wet beskou het, maar hulleself en die gemeente met "fabels en eindelose geslagsregisters" besiggehou het.

Heidene is altyd geïnteresseer in mites, sages en fabels. Hulle hoor is daardie tipe van verhale iets oor die vroeëre geskiedenis en oor die sin van die lewe. Daar is talle van sulke verhale bewaar uit die Griekse en Romeinse wêreld van daardie dae.

Ook die band aan die voorouers is vir 'n heiden baie belangrik. Dit is natuurlik pragtig as jy kan aanwys dat daar in jou voorgeslag êrens 'n verbindingslyn met die gode sigbaar is; dat daar halfgode onder jou voorouders is.

Sulke heidene het in Efese hulle van die afgode tot die lewende en waaragtige God bekeer. Hulle het vir Christus leer ken.

Maar daar het in Efese ook Jode tot bekering gekom. Mense wat grootgemaak was by die boeke van Moses en die wysheid van Salomo en 'n ryk oorlewering aan apokriewe verhale. En wat in hul Bybel 'n hele klomp geslagsregisters gehad het, wat tot op die eerste mens, Adam, teruggegaan het.

Daardie christene uit die Jode met hul kennis van die Ou Testament het toe blykbaar op 'n manier aansluiting gevind by die voorliefde vir fabels en geslagsregisters by hul broeders en susters uit die heidene. 'n Mens raak mos jou ou agtergrond nie van die een op die ander dag kwyt nie.

Hulle het nuwe verbindingslyne ontdek, die ou geslagsregisters skielik in 'n nuwe lig gelees, nuwe gevolgtrekkings gemaak.......

En so is die Woord van God gebruik vir spitsvondige berekeninge om allerhande ingewikkelde verwantskappe te kan aanwys. Die Bybelse geskiedenis is gekombineer met fantastiese verhale.......

Ons kan ons dit moeilik voorstel, maar dit was in daardie dae nie so raar om christendom en Jodendom en heidendom te kombineer in 'n snaakse deurmekaarspul nie. Ook Titus het daarmee te make gekry op die eiland Kreta, blyk uit Paulus se brief aan Titus.

En moet maar reken dat sulke kastige Skrifgeleerdes baie indruk gemaak het op die pasbekeerde kerklidmate in Efese. Ons kry die indruk uit hoofstuk 6: 4 en 5 van Paulus se brief aan Timotheüs dat hulle hul selfs vir hul geleerdheid laat betaal het.

Ek het gesê ons kan ons 'n dergelike manier van Bybelgebruik maar moeilik voorstel, maar aan die ander kant, broeders en susters, ons ken mos ook vandag nog wel so'n snaakse misbruik van die Skrif.

Wat van die Mormone wat die Bybel met fabels uit die Amerikaanse staat Utah vermeng het?

En wat van al die berekeninge wat deur sektes gemaak is, en nog gemaak word, om die presiese dag van Christus se wederkoms te kan voorspel? Met behulp van getalle wat in die profesie van Daniël genoem word, gekombineer met die jaartal van Christus se opstanding en hemelvaart en met getalle uit die laaste Bybelboek, is reeds heelwat voorspellings gedoen.

En ken u die "Brits-Israëlbeweging"? Dit is 'n tipiese voorbeeld van 'n moderne gegoël met geslagsregisters uit die Bybel en fabels daaromheen. Die gedagtes van die Brits-Israëlbeweging word hier in Suid-Afrika sterk gepropageer deur ene Mnr. Arie van der Gaag, 'n geïmmigreerde Nederlander wat tot die mees snaakse bewerings kom. Hy het 'n aantal brosjures uitgegee waarin het met 'n beroep om allerhande tekste wat uit hul verband uit gelees word, vertel dat die klip wat Jakob tydens sy vlug vir Esau in Betel as kopkussing gebruik het, vandag nog bestaan. Dit is te sien in die Abdy van Londen in Engeland, waar dit 'n plek gekry het onder kroningsetel. Volgens oorlewering sou dele van die stamme Juda en Dan tydens Israel se verblyf in Egipte via Griekenland en Spanje Ierland toe gegaan het. En hulle sou die Betel-klip saamgevat het.

Die Engelse vorstehuis is volgens Mnr. Van der Gaag ook die wettige voortsetting van die koningshuis van Dawid! Want by die verwoesting van Jerusalem deur Nebukadnesar het die profeet Jeremia twee dogters van koning Sedekia uit die hande van die Babiloniërs gered en saamgenee Egipte toe, van waaruit hulle vervolgens ook Ierland toe gereis het. Die een dogter, Tamar, is toe met die Ierse koning, 'n afstammeling dus van Juda, getroud en hiervan stam weer die Engelse koningshuis af.

Van der Gaag doen ook allerhande voorspellings met betrekking tot die toekoms van die Midde-Ooste.

Maar veral -en moenie skrik nie- kom hy tot die bewering, langs allerhande onnavolgbare berekeninge en ompaaie, dat die huidige blanke Boere in Suid-Afrika 'n deel van die oorspronklike huis van Juda is, God se verbondsvolk op aarde. En dan kom natuurlik ook die apartheid in die prentjie: apartheid is die eis van God om sy verbondsvolk onvermeng met die nie-Israelvolke te laat bly....

Hopelik sien die meeste christene nog raak dat ons so'n gegoël met God se heilige Woord gerus "onsinnige praatjies" kan noem van iemand wat die dinge wat hy so beslis beweer, self nie eens verstaan nie.

Maar hoeveel Bybellesers is onder die invloed van chiliastiese dwalinge, wel oortuig daarvan dat ons allerlei ontwikkelinge in die huidige Midde-Ooste rondom die staat Israel regstreeks uit die Ou-Testamentiese profesieë kan aflei? Sodat hulle na Irak se anneksasie van Koeweit weer nuwe stof gevind het om hul Bybels bestudeer?

Daar het dus in vergelyking met Paulus en Timotheüs se dae nog nie so heel veel verandering gekom nie.

Die apostel van Christus was so bang vir 'n derglike manier van Bybellees dat hy in sy instruksiebrief aan Timotheüs allereers dié saak aan die orde stel. En hy gebruik die mees skerpe bewoordings om so'n Bybelgebruik aan die kaak te stel. "Onsinnige praatjies", noem hy dit, "onheilige en oudwyfse fabels, nuttelose stryery van mense wat verdorwe is in hul verstand en van die waarheid beroof". En hy roep Timotheüs op om kragtig daarteen wal te gooi en die mense se oë oop te maak vir die bedrieglikheid daarvan.

Hierdie manier van Bybellees mag dalk interessante gevolgtrekkings en boeiende bewerings oplewer. Maar dit bewerk presies die teenoorgestelde van wat God met sy Woord wil bereik. Dit verenig die mense nie saam op hul knieë voor hul God en Vader nie, maar laat hulle in onderlinge verdeeldheid opstaan teen mekaar. Die een leraar wil nog meer uit die Bybel uithaal as die ander, elkeen beskou sy eie bewering as die enigste wat reg is. Met as gevolg onderlinge getwis, menslike ydelheid, mensverheerliking...

Mens sou amper begin glo dat dit maar beter is om die Bybel dig te laat. Die Bybel bewerk niks goeds nie. Dit veroorsaak net teologiese diskussies en skeuringe.

2. Maar die fout lê nie by die boek nie. Die fout lê by die leser.

Daar 's niks verkeerd met die Bybel nie. Dis 'n wonderlike boek. Met 'n wonderlike werking. As dit maar wettiglik gebruik word!

En daarom skryf Paulus nog maar weereens die regte gebruiksaanwysing vir die Bybel vir ons af in sy brief aan Timotheüs.

Weet u watter fout baie mense met die bybel maak?

Hulle gebruik die Bybel as 'n boek waaruit jy baie interessante feite kan leer, in plaas van as 'n boek waarvolgens jy jou daagliks moet bekeer.

Terwyl die Bybel juis daarvoor aan ons gegee is! Nie as as bron vir interessante bewerings nie, maar as die bron vir 'n daaglikse bekering.

Want kyk vir watter mense is die Bybel geskrywe, sê Paulus in vs. 9:

  • wettelose en tugtelose mense (anargiste, ordeverstoorders);
  • goddelose en sondaars (mense wat van God nóg sy gebod wil weet nie);
  • onheiliges en ongewydes (mense wat vir niks en niemand respek het nie);
  • vadermoorders en moedermoorders (mense wat hulle geen sier van hulle ouers aantrek nie, en hulle, as hulle in hul ouderdom te lastig word, doodmaak met die mooie naam genadedood);
  • moordenaars (terroriste);
  • hoereerders (mense wat hulle aan seksuele uitspattigheide te buite gaan);
  • sodomiete (mense wat hul homofiele verlangens openlik uitleef);
  • mensediewe (ontvoerders);
  • leuenaars en meinediges (mense vir wie leuen en bedrog, selfs in die hofsaal, die gewoonste saak van die wêreld geword het;
  • ens. ens. ("en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is").

Vir daardie tipe mense is die Bybel gegee. U skrik dalk van hierdie opsomming, broeders en susters.

Dit lyk wel 'n lys soos wat in 'n polisiestasie hang; 'n lys van misdadigers wat gesoek word.

Moet ons onsself ook tot daardie afstootlike lys reken?

Ja, u het nie 'n keuse nie, broeders en susters.

Want durf u u self dan sommer 'n regverdige, 'n mens sonder sonde, te noem? Paulus maak in vs. 9 duidelik dat dit een van daardie twee is: of u is regverdig, en dan benodig u nie 'n Bybel nie, want die Bybel is nie gegee vir die regverdige nie; of u het die Bybel wel nodig- maar dit impliseer dat u deel uit maak van daardie afstootlike lys van sondaars en misdadigers. Daar is geen tussenweg nie. Daar bestaan geen derde groep nie.

Paulus voeg hom self ook eerlik by daardie lys van misdadigers. Kyk vs. 15: Hy sê dat hy "die vernaamste van die sondaars is".

Maar het Paulus hom dan nie bekeer en 'n getroue apostel van Jesus Christus geword nie? Ja, hy het, maar sal nooit vergeet wat hy vroeër was en van nature is nie. Kyk vs. 13: "'n lasteraar en 'n vervolger en 'n geweldenaar". Dit is bloot God se genade (sien vs. 14) dat God hom nie in die sonde laat lê het nie.

Die HERE het in sy genade ook u en my uit die wêreld van die sonde weggeroep, gemeente. Ons is begenadigde sondaars.

U en ek, ons behoort oorspronklik ook tot daardie lys van misdadigers. Slegs danksy Jesus Christus is daar aan ons genade bewys.

Maar 'n verstokte misdadiger wat begenadig word, het sy sondige natuur nie van die een dag op die ander verloor nie. Hy is nog dieselfde mens. Hy sal heeltemal moet reklasseer. Hy sal hom daagliks moet bekeer.

Nou maar goed, daarvoor het God aan ons die Bybel gegee. As die boek wat ons leer om van genade te lewe en tegelyk as die boek wat ons moet leer hoe om te reklasseer en ons te bekeer.

En so moet die Bybel dus ook gebruik word!

Hier lê dan ook die eerste en diepste oorsaak van soveel verkeerde Bybelgebruik: ons ken onsself nie. Ons het vergeet wat ons is: begenadigde sondaars.

Ek het in die begin van hierdie preek gesê: As daar teen 'n verkeerde gebruik van die Bybel gewaarsku word, is ons dadelik geneig om na ánder te kyk pleks van na onsself.

En ons veronderstel dit natuurlik eerder buite die kerk as daarbinne.

Maar kom ons kyk nou ook maar na onsself. Al is ons ook nie Mormone nie, al verwerp ons ook hartgrondig 'n gegoël met God se Woord soos van die Brits- Israelbeweging of van allerhande chiliasiese strominge - ook ons kan die Bybel so lees, ons kan so na die sondagse preke luister, ons kan in die Bybelstudievereniginge so'n bespreking van 'n Skrifgedeelte voer, dat ons self heeltemal buite skot bly.

Waarop konsentreer u tydens u persoonlike Bybelstudie: op allerhande boeiende lyne en interessante feite, of op die vergewing van u sondes en die vernuwing van u lewe deur die bloed en die Gees van Jesus Christus?

Waaraan gee u die meeste aandag tydens die bespreking in die Bybelstudievereniging: aan allerlei klein besonderhede en wetenswaardighede of aan die toepassing van daardie Skrifgedeelte op u eie met sonde bevlekte lewe?

Wat verwag u om in die prediking te hoor: telkens nuwe dinge, 'n leersame bespreking van uiteenlopende eksegeses, of kom u allereers om in die spieël van God se Woord te kyk sodat u weer des te beter die wonder van die verlossing van u sondes leer verstaan?

God het die Bybel nie aan ons as 'n studieboek gegee nie, maar as 'n boek om om sondaars weer gesond te maak.

Sy Woord bevat "die gesonde leer", skryf Paulus in vs. 10. En met "gesonde leer" bedoel hy nie net dat daar met die leer van die Bybel niks fout is nie; maar hy bedoel veral dat dié leer 'n mens gesond máák. Ons word beter daarvan! Ons foute word daardeur reggemaak.

Paulus het dit ook alreeds in vs. 5 geskrywe: "die doel van die gebod -en ook nou dink die apostel aan die hele inhoud van die Bybel- is liefde uit 'n rein hart en 'n goeie gewete en 'n ongeveinsde geloof". Daar moet in ons lewe weer liefde kom vir God en ons naaste, in plaas van selfsug, afguns en haat. Ons moet weer word soos ons in die paradys was.

Daarom moet daardie liefde ontspring in 'n rein hart, waar geen spoor van sonde en selfsug en verkeerde begeertes meer oorgebly het nie. Sodat ons 'n goeie gewete voor God kan hê aangesien daar in ons lewe niks meer is waaroor ons ons moet skaam nie. Want ons lewe het weer in alle opsig 'n lewe met en voor God geword, in 'n ongeveinsde geloof, sonder enige gehuigel en skynheiligheid.

Sover wil God ons weer hê.

Met dié doel het sy Seun Christus Jesus in die wêreld gekom om sondaars te red. Met dié doel het Hy ook die Bybel aan ons gegee.

En dus moet ons ook met dié doel die Bybel lees en gebruik.

Want wie van ons durf te sê dat hy of sy dié doel klaar bereik het? Wie van ons is alreeds so volmaak?

Dit kos ons nog 'n daaglikse bekering om so ver te kom. Maar daarvoor het u en ek dus die Bybel ontvang, gemeente.

Nie as 'n 'weetboek' nie, maar as 'n 'werkboek'. Om met behulp daarvan daagliks aan u bekering te werk.

En ons gebruik die Bybel dus alleen wettiglik, op die regte manier, as ons dié doel voor oë hou.

Gebruik dus só voortaan u Bybel, broeders en susters.

Die Bybel is die mees gebruikte boek in die wêreld.

Maar dit is ook die mees mísbruikte boek in die wêreld.

En dis is regtig g'n wonder nie, want die duiwel sal alles probeer om te voorkom dat ons die Bybel gebruik volgens sy eintlike bedoeling. Hy het reeds heelwat kwaadwillige planne teen God se heilige Woord bedink.

Maar u weet nou dus hoe om die Bybel op die regte wyse te gebruik. Met watter doel.

Lees dit voortaan, persoonlik en saam, met die gedagte: wat alles moet daar in my lewe, in ons huwelik, in ons gesin, in ons gemeente, nog verander? Dit mag selfs 'n goeie ding wees om 'n pen en papier by u Bybel te bewaar en op te skrywe op watter punte daar veral by u bekering nodig is.

As God se Woord so gebruik word, as die bron vir 'n deurgaande bekering, sal die Bybel nie langer die mense in 'n aanhoudende stryery verdeel nie. Maar dan sal dit God se kinders verenig in 'n toenemende heiligheid.

AMEN.

(Pretoria 30 September 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)