Jesus indringende waarskuwing vir selfmisleiding

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 7
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 80: 1-4
Ps 6: 1, 2, 3
Ps 6: 4, 7
Ps 56: 1-4
Ps 84: 3, 4, 6
Lees: Psalm 6
Teks: Matt 7: 21-23

Brs en srs, geliefde gemeente!

Met ons preek van vandag sluit ons aan by verlede week se preek. Ons luister na die Here Jesus in die bergprediking.

Daar was baie belangstelling van die mense vir die prediking van die Here Jesus. Heel Israel het uitgeloop om hierdie prediker uit Nasaret te hoor.

Hy het darem 'n boodskap!

En Hy kan boeiend vertel!

En as jy gelukkig is, kan jy ook nog 'n wonder meemaak!

Die massa was dus diep beindruk deur Jesus' woorde en optrede.

En tog sal die eintlike boodskap van wat Jesus te sê het, nie tot die massa deurdring nie. Hulle sal aanvanklik in groot menigtes kom opdaag, maar sy boodskap is tenslotte beslis nie populêr nie.

Daarom sal steeds meer mense afhaak.

Dit is die rede dat die Here Jesus in die slot van die bergrede 'n aantal indringende waarskuwings gee vir die gelowiges.

Verlede week het ons gesien hoe die Here ernstig waarsku teen die verskynsel van valse profesie. Daar sal wolwe in skaapsklere kom wat sal probeer om die gemeente van sy fondamente af te ruk.

Vandag kry ons 'n ander waarskuwing.

Verlede week se waarskuwing was dat jy jou nie deur 'n ander moet laat mislei nie. Vandag word ons gewaarsku dat 'n mens ook homself kan mislei.

Jy kan namelik meen dat jy die Here ken. Jy kan van jouself dink, jy het klaar die Koninkryk van God binne gegaan en tenslotte word tog nog vir jou gesê: Gaan weg van my Ek het jou nooit geken nie!

Hoe dit kan gebeur, daaroor gaan dit in die prediking van vanoggend.

Jesus indringende waarskuwing vir selfmisleiding

  1. Die pad van selfverlossing loop dood
  2. Die pad van gehoorsaamheid lei na die lewe

Ons het al gesê dat ons teks 'n waarskuwing bevat.

Gaan weg van my julle werkers van ongeregtigheid!

'n Ongelooflik skerp woord.

Dit moet maar vir jou so gesê word. Jy meen jy het heel jou lewe Jesus Christus gedien. En as jy dan dink, jy kan by Hom kom, dan moet jy hoor: Jy is 'n werker van ongeregtigheid.

'n Huiweringwekkende gedagte!

Maar omdat Jesus dit sê is dit wel realiteit.

Daar is dus mense wat hul mond vol het oor Jesus Christus. Hulle roep: Here, Here!;

Hulle verrig in sy Naam tekens en kragte... en tog val die oordeel oor hulle: Werkers van ongeregtigheid.

Kom ons probeer uitvind wat presies hul sonde is.

Werkers van ongeregtigheid.

By daardie ongeregtigheid moet u dink aan oortreding van die wet van God.

So word dit in die Nuwe Vertaling ook weergegee.: julle wat die wet van God oortree. !

Blykbaar is dit die groot sonde van die Here-Here-roepers

Hulle het die wet van God nie gehou nie.

Om hul presiese sonde 'n bietjie skerper in beeld te kry moet ons besef dat die woord waarmee die Here Jeus die Here- Here- roepers wegstuur 'n aanhaling is uit 'n Psalm.

Psalm 6. Die psalm wat ons gelees het. Vers 9.

Ons moet hier die vraag stel, tot wie sê Dawid dit?

Wie bedoel hy met: werkers van ongeregtigheid?

Wel, daarby moet ons dink aan mense in Dawid se direkte omgewing. Sy vriende, sy familie, of sy lotgenote.

Kyk, Psalm 6 is 'n psalm in benoudheid.

'n Boetpsalm in 'n noodsituasie.

'n Psalm waarin Dawid kla oor sy nood. Hy sug en steun onder sy lot. Hy weet nie hoe om verder te gaan nie.

Hy sê: My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teestanders.

Sy klagtes het blykbaar die mense in sy omgewing begin irriteer. Hulle sê: Maar Dawid, nou oordrywe jy met jou gekerm.

Onderneem 'n bietjie aksie. Moenie afwag of die Here iets gaan doen aan verbetering van jou omstandighede nie. Moenie alleen op verlossing wag nie. Doen self iets daaraan.

Ons ken wel 'n hele paar situasies uit Dawid se lewe waarin soiets pas.

As hy deur Saul vervolg word, Saul wat hom wil doodmaak, kry Dawid op 'n sekere oomblik 'n kans om van Saul ontslae te raak. Abisai moedig hom daarin aan.

Dit is jou kans, Dawid!

Al ons probleme as vlugtelinge in een keer opgelos.

In so 'n situasie sê die vrome Dawid: Jy werker van ongeregtigheid. Gaan weg van my. Bly stil jy seun van Seruja!

Ek soek nie om my self te verlos nie. Ek wil op die Here wag. Hy het beloftes gedoen. Daaraan wil ek vashou. Hy hoor die stem van my smekinge. Hy neem my gebed aan.

Dawid wil nie self gryp na sy verlossing nie. Hy wil op die Here wag. Hy mag Saul nie doodmaak nie. Ook al lyk dit heeltemal geregverdig en is dit 'n goue geleentheid.

Dus die werkers van ongeregtigheid is mense wat met die beste bedoelings, 'n pad van selfverlossing wil gaan.

Onthou die woord: selfverlossing.

Nou keer ons eers weer terug na die bergrede.

In sy prediking maak die Here Jesus die mense baie klein.

Hy het alle menslike godsdienstige vertoon aan die kaak gestel.

Hy het die eis van God se wette so skerp aan die mense voorgehou, dat jy alleen nog maar kan reageer: O God, wees my sondaar genadig.

Red my, want ek kan myself voor u aangesig op geen enkele manier staande hou nie.

Gemeente, hier kom ons by die kern van die punt. God die Here is so groot so heilig, as mense kan ons alleen maar verteer word deur sy toorn. Al wat jy by God kan doen is smeek om genade.

Dit is die deurgaande boodskap van heel die Bybel. Jy kan slegs uit genade gered word. Verder niks. Genade. Genade van God is vir jou genoeg.

Maar die probleem is, niemand gaan van so'n boodskap hou nie.

Immers as dit so is, dan staan jy heeltemal kaal voor God.

Jy is enkel 'n smekeling om genade.

'n Mens se natuurlike neiging is dan om die totale verdorwenheid van jouself te ontken. En in elk geval sal jy probeer om te wys dat dit in jou lewe daarom nog nie so sleg gaan nie.

Wat jy dan gaan doen is dat jy probeer om die skerpte van die eis van God se wet af te slyp deur aanpassings te maak. Jy maak van die wet 'n wet waaraan jy tog kan voldoen.

As die Here Jesus in die bergrede sê: Jy moet jou vyande liefhê, dan sê jy, goed, maar tot 'n mate natuurlik.

Waar bly jy in hierdie wêreld as jy dit werklik gaan doen?

Of as die Here Jesus sê: Moenie skatte op aarde versamel nie, dan sê jy goed, maar dit is tog belangrik om goeie voorsienings vir die toekoms te maak.

Dit is nou aanpasssings maak van die wet. Dit is die wet van sy skerpte beroof!

Sê dan eerder: Here, ek weet, ek mag nie skatte op aarde versamel nie, maar ek kan nie sonder klaarkom nie. Ek weet ek is ook in die opsig 'n sondaar. Here wees my genadig. Ek het deur u wet myself leer ken as 'n sondaar. Here red my tog. Vergewe waar ek verkeerd doen.

Dan bly jy klein en ootmoedig voor die Here!

Maar die meeste mense pas maar liewers die wet aan sodat dit vir hulle pas. Dikwels met daarby 'n groot vertoon van godsdienstigheid. Hulle roep Here Here.

Maar hulle dink: Ek, Ek!

Want dit is die punt: Here, Here! roep, en Ek, Ek! doen.

Jy doen tenslotte jou eie sin.

Jy vra nie wat die Here wil nie. Jy doen soos dit vir jou aangenaam is. Jy het jouself en jou godsdienstige belewing in die middelpunt gestel.

Die mees opvallende is dat die Here-Here-roepers in ons teks teen hul afwysing deur die Here protesteer. Hulle het hulself so mislei dat hulle in hul eie godsdienstigheid begin glo het.

Daarom protesteer hulle.

Here, in u Naam het ons mos geprofeteer!
in u Naam het os duiwels uitgedrywe!
in u Naam het ons baie kragte gedoen!

Sien julle, tot drie keer word die uitdrukking, 'in U Naam' gebruik. Die Here-Here-roepers loop heel duidelik te koop met daardie Naam.

Hulle gebruik die Naam vir tal van doeleindes.

Maar vir een doel gebruik hulle die Naam nie.

Namelik om hulself as ellendige sondaars deur daardie Naam te laat verlos.

Want dit is waarop dit neerkom.

Jy kry ook vandag baie mense wat die hele dag loop en praat oor Jesus en God en die Bybel.

Dit kan baie indrukwekkend voorkom. En tog as 'n mens nader kennisneem van wat hulle nou eintlik glo, dan is dit 'n aan die mens aangepaste boodskap.

Die evangelie 'van genade alleen' verdwyn by hulle agter die horison. En as dit verdwyn word al die indrukwekkende godsdienstige vertoon net leeg. Dan is dit slegs 'n versteekte humanisme wat agter vroom woorde verskuil word.

Vir hulle geld die woord: Gaan weg van my werkers van ongeregtigheid! Ek het julle nie geken nie. Want dit het julle tenslotte nie om my gegaan nie maar om julle self en jul eie godsdienstige ervarings.

Dieselfde kry 'n mens ook in 'n ander hoek. Jy kry vandag ook mense wat in die Naam van Christus 'n totale revolusie preek.

Ook hulle sal sê: Here, Here, in U Naam het ons geprofeteer!

Maar ook vir hulle sal Jesus sê: Gaan weg van My, ek het jou nie geken nie. Jy het My Naam alleen maar gebruik om jou eie politieke doeleindes te bereik.

Jy kry mense wat vandag die Naam van Jesus steel om met veel vertoon genesings te doen en duiwels uit te drywe.

Ook daar het jy te doen met 'n leer van selfverlossing. Gebruik die Naam van Jesus en jy word verlos van al jou kwale.

Gemeente, pasop dat julle jul nie deur so'n selfverlossings-religie laat mislei nie.

Moet ook nie vertrou op jou eie leefstyl of jou eie kerklidmaatskap, as 'n voldoende waarborg dat al hierdie waarskuwings vir jou nie geld nie en dat jy in elk geval wel gered sal word. Ook dan mislei jy jouself.

'n Gelowige wat nie meer van harte psalm 6. 'n boetepsalm kan sing nie, moet hom afvra of hy werklik nog besef wat sy posisie teenoor die Here is.

Dawid het in hom in sy lewe dikwels verkeerd gedra. Daarin was hy nie die man na God se hart nie. Maar Dawid het geweet van ernstige boetedoenings. En daarin het hy hom keer op keer bewys as die man na God se hart.

2. Die pad van gehoorsaamheid lei tot die lewe.

Maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, hy sal die Koninkryk van God binnegaan.

Duidelik is dat nie almal wat die naam van die Here Jesus op die lippe neem, die Koninkryk van God sal binnegaan nie. Daar is nog iets nodig. Namelik gehoorsaamheid aan die Vader in die hemel.

U sal hopelik kan verstaan dat die Here Jesus nie bedoel dat jy met gehoorsaamheid aan die wet vir jou 'n plek in die hemal kan verdien nie. Immers geen mens kan aan die wet van God in sy volle eis voldoen nie.

In die eerste punt het ons gepraat van die mense wat die pad opgaan van selfverlossing. Hulle praat nie meer van genade alleen nie, maar het hul eie manier om hul plek in die hemel veilig te stel. Elke groep en sekte het maar so sy eie manier. Vir die een groep is dit om te spreek in tonge. As jy dit doen dan is jy gered.

By 'n ander is dit dat jy jou moet laat herdoop. Dan is jy veilig.

By weer ander is dit dat jy 'n diepe ervaring van weder-geboorte moet ondervind. As jy dit het, dan is jy in die Koninkryk.

Maar dit is alles ten diepste vorme van selfverlossing.

In die verband is daar 'n reël wat u moet onthou wat altyd opgaan.

Mense wat meen dat hulle hulself kan verlos neem dit altyd maklik met die gebooie van God. Hulle weet altyd die gebooie so aan te pas dat dit in hulle straatjie pas.

Mense wat hulself wil red dink altyd oppervlakkig oor die wet van God. In hul lewe kom hulle tot die vreeslikste sondes teen die wet van God en probeer dit regpraat.

Here-Here-roepers. Maar inmiddels werkers van ongeregtigheid.

Kyk in die Bergrede het die H.J. die wet van God buitegewoon skerp gepredik. Hy het geen enkele toegewing aan die praktyk gemaak nie. Hy het in die eis van die wet nie rekening gehou met die sondige natuur van die mens wat dit vir hom onmoontlik maak om aan hierdie wet te voldoen nie.

Hoe kan die Here Jesus dit doen?

Gemeente, dit is hierom: Dit is omdat Hy met die evangelie begin het!

Hy het mos die bergrede met doe saligspekings begin!

In daardie saligsprekings het Hy met alle krag verkondig:

Alle verlossing kom van God!

Dit is die Here self wat julle sal vertroos.

Dit is die Here wat hongeriges en dorstiges na geregtigheid sal versadig met al die nodige.

Salig hulle wat treur, want hulle sal vertroos word.

Salig hulle wat bedroef is oor hul sondes want vir hulle is bevryding!

Wel, almal wat hierdie saligspreking as die reddende evangelie aanvaar, het glad geen behoefte daaraan om die wet wat daarop volg van sy skerpte te berowe nie. Immers hulle het reeds gebuig onder die evangelie 'deur genade alleen'!

Wie hierdie saligspreking met dankbaarheid en met 'n oop hart aanvaar en gesê het: Ja Here, ek moet inderdaad verlos word deur U alleen, hy kan die gebooie maar rustig in hul volle krag laat staan.

Hy kan rustig erken, aan hierdie gebooie kan ek nie voldoen nie. Here red my.

Tegelykertyd wil hy niks anders as hom inspan om te leef soos die Here in sy wet vra.

Want hy het die Here leer liefkry en wil Hom nie boosmaak nie.

Iemand wat weet, hy is verlos deur genade, hy kan homself toestaan om baie oplettend na die gebooie te luister.

Hy sal nie protesteer soos: Maar hierdie genbooie is te streng, wie kan daaraan voldoen?

Nee Hy wil maar net weet, wat vra die Here van my?

En dan begin hy werk aan lewensheiliging.

Inmiddels maak hy hom nie sorge oor sy uiteindelike redding nie. Hy weet immers, hy is klaar gered.

Hy vertrou homself rustig toe aan Jesus Christus. Hy weet my redding is by hom in hande. Ek is veilig.

Al wat ek kan doen is om sorgvuldig te luister na die woord van die Here. Om my geduldig te laat onderwys uit sy wet sodat ek wat wat Hy van my verwag.

Verstaan u broeders en susters, watter rus dit gee in die lewe van 'n gelowige?

Dit stel 'n mens in die ware vryheid van 'n christen.

Dit bevry jou totaal van enige krampagtigheid in die diens van die Here.

Jy weet jy is klaar verlos deur die Here.

En dit maak jou hande vry om jou besig te hou met die gebooie van jou vader in die hemel.

Dit word die eerste prioriteit in jou lewe.

Hoe kan ek die wil van my hemelse Vader doen?

Hoe kan ek Jesus Christus behaag?

Dit is waaaroor dit gaan in die lewe.

Wel as jy dit vra, dan word jy 'n werker van geregtigheid.

Want dan word jou lewe deur Christus beheers.

Laat daarom alle maniere van selfverlossing vaar.

Gee jou net oor aan die saligsprekende, die vrysprekende woord van Christus.

Dan gaan jy vanself leef uit die verlossing wat Christus skenk.

Jy gaan vra na God se gebooie. Jy wil nie anders nie.

Want jy het dan ingegaan in die Koninkryk van die hemele.

Die Koninkryk wat vol is van die doen van die wil van die Vader, maar waar jy tog niks hoef te verdien nie.

Immers die toegang tot daardie Koninkryk is slegs bereikbaar deur die poort van: Alles is genade!

Slegs deur genade kan jy daar binne gaan.

Slegs deur genade kan jy daar bly.

Slegs van genade kan jy daar leef.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)