God se liefdebewyse bring tot bekering

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Miga 6
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 127
Ps122: 1, 2
Ps 65: 2
Ps 51: 1, 2, 6, 8
Ps 95: 1-4
Lees: Miga 6
Teks: Miga 6: 6-8

Geliefde gemeente,

Ken u die gevoel dat jy sommer op 'n laat aand 'n onbedaarlike trek in 'n gebraaide tjop kry?

Ek wel. Maar stel nou dat die gevoel ons oorval en ons besluit om aan die gevoel toe te gee dan sit ons altyd met die probleem dat die ding diep bevrore in die vrieser le. As jy hom uithaal lyk hy nog na 'n tjop, 'n mooi kleur, 'n aantreklike voorkoms, maar dit is nogal bedrieglik want na 'n paar minute slaan die ding wit uit en besef jy dat jy met 'n klomp ys te doen het.

En wat jy die tjops ook al te lyf gaan met messe, met 'n skroe-wedraaier of selfs met 'n byl, dit alles help niks nie, jy breek net jou mes, jy beskadig jouself en van die pragtige tjops maak jy 'n klomp gemors.

Die les wat ek daaruit geleer het is gee net tyd en warmte, dit is die enigste middele wat help om 'n klomp ys te ontdooi. Oefen jouself in geduld en leer jou ongeduld bedwing.

Die les kan ons ook gebruik as dit gaan oor menslike verhou-dings. Jy kry mense wat hulself so onbenaderbaar gemaak het soos 'n klomp ys. En wat jy ook al probeer om die ys te breek dit werk net nie. Met skerp woorde en vermanings kan jy miskien 'n paar yssplinters wegkap maar die klomp as geheel bly onaan-getas.

Die ysvorming neem moontlik nog selfs toe.

Daar is maar een ding wat dan kan help. Dit is warmte. Warmte en geduld om die warmte sy werk te laat doen. Alleen so is mense bereikbaar en kom daar 'n dag dat hulle hulself kan gee.

In die verhouding van God tot sy volk werk dit net so.

As die Here sy volk aanspreek doen Hy dit met soveel liefde en warmte dat die ysklompe wat ons van nature teenoor God almal is langsamerhand begin ontdooi. Deur sy warmte en liefde smelt ons natuurlike verset teen Hom weg.

En soos ons weet het ysklompe tyd nodig om te smelt, en warmte en geduld.

Dit alles het die Here. En Hy gee dit. Onbeperk.

Dit wil ons vanoggend sien in die preek uit Miga 6.

God se liefdebewyse bring tot bekering

  1. Hy soek nie ons offers nie
  2. Hy vra net ons liefde

In die eerste 5 hoofstukke van die boek Miga word indringend die leiers van die stede Jerusalem en Samaria aangespreek.

Miga kom teenoor hulle met 'n skerp oordeelsaankondiging: Julle sal sekerlik uit julle posisies uitgewerp en deur die Here uit die beloofde land verwyder word.

Vanwee jul volgehoue sondes staan die oordeel vas. 'n Balling-skap het onvermydelik geword.

Maar ons het ook gehoor hoe die leiers van die volk hulle onttrek aan Miga se oordeelsprediking. Hulle haal profesiee van her en der aan om te bewys dat Jerusalem nooit verlore kan gaan nie, want se hulle, God het homself aan Jerusalem verbind. Oor Sion kan net heil verwag word.

In die volgende hoofstukke ontmoet ons 'n totaal ander atmosfeer. Moontlik is hierdie profesiee in 'n ander tyd en situasie uitgespreek.

Hier spreek Miga namens die Here die volk Israel as geheel aan. En dan kom hy tot 'n magtige genadeprediking.

In sy prediking hoor ons die ou bekende klanke waarmee die Here vanouds sy volk benader het.

My volk, hoor ons die Here se in vers 3, antwoord my!

En in vers 5 weer: My volk, luister!

In die woorde proe ons die warme betrokkenheid van die Here. Ons hoor die hartlikheid van die aanspraak.

My volk, Ek die Here is julle God.

Ek is die God wat julle uit die slawehuis bevry het.

Ek het julle die moeilike tog deur die woestyn altyd beskerm en bewaar. Ek het vir julle tenslotte die beloofde land gegee. Die land wat oorvloei van melk en heuning.

Die land wat julle so liefhet en wat so goed vir julle was.

Dit het na julle toegekom as 'n geskenk uit my hand.

My volk, het julle daarin nie my liefde geproe nie? Ek as God is nie daaropuit om julle te kneg nie. Ek wil julle die lewe nie verhinder nie maar juis die omgekeerde. Ek wil vir julle die vryheid gee. By alles wat Ek gedoen het en wat Ek doen het ek julle heil in gedagte.

Vers 5 wys nogmaals nadruklik op die regverdige dade van die Here. Daardie dade moet jy ken. Jy moet daarvan weet anders ken jy nie vir die Here nie, en kan jy nie weet wat hy van jou verwag nie.

Hierdie heel positiewe benadering van die kant van die Here tref doel. Die ys begin smelt.

Die volk kom tot inkeer deurdat hulle begin nadink oor wat die Here hier se. Hulle besef skielik die Here het die volste reg om toornig te wees. Ons het inderdaad volkome afgedwaal van die verbond wat Hy eenmaal begin het.

En daarmee kom by hulle ook die vrae op van vers 6. Wat kan ons doen? Hoe moet ons versoening vind by God?

Teenoor sy dade by intog en uittog staan ons inderdaad met lee hande, ons het nie ooreenkomstig die Verbond geleef nie.

Waarmee sal ek die Here tegemoet gaan en my buig voor die hoe God?

In die woorde 'buig voor die hoe God' hoor ons dat hulle tot boetedoening bereid is. Hulle besef hul nietigheid vir die Here en besef dat iets moet gebeur om sy toorn af te wend.

Sal ek Hom tegemoet gaan met brandoffers? Met jaaroud kalwers?

Dit is dus die eerste waaraan hulle dink. Ons moet die Here offers bring. Eintlik nie geheel onlogies nie.

Immers die offerdiens was deel van die Verbond, elke Israeliet het hom gereeld by die heiligdom gemeld met sy offers vir sy sondes.

Dus daar is 'n sekere logika in die gedagte: vir ons gewone daaglikse sondes moet ons ons daagliks offers bring, dus nou daar groot sonde in ons lewe is nou verwag die Here natuurlik groot offers van ons.

En tog is die gedagte nie suiwer nie.

Dit word duideliker namate die offerbereidheid van die boete-doener toeneem.

Wat wil die Here he van ons?

Sal die Here 'n welbehae he in duisende ramme en tienduisende strome van olie?

Hy wil nog wel 'n stap verder gaan: Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?

Uit hierdie aanbod om sy eersgeborene te offer, blyk dat die sondaar inderdaad baie bewus is van sy skuld en dat hy alles wel wil doen om die verhouding met God te herstel.

Maar daar blyk ook iets anders uit nl dit dat die heidense manier van dink diep in sy lewe ingewortel is.

Want dit is nou tipies heidens om op die manier die guns van die gode af te smeek. Hulle wil in hul angste wel alles gee om hulself te vrywaar van die toorn van die gode.

Hulle wil self betaal vir dinge wat hul verkeerd gedoen het.

Selfs die liefste wat hulle het is hulle bereid te gee: Hul eergeborenes. Dit is die offer wat die Kanaanietiese gode van die inwoners van die land geeis het, maar die Here het vanaf die allereerste begin so'n offer as 'n gruwel gebrandmerk. Daarmee mog Israel nooit by Hom aankom nie. Want Hy soek mos nie die dood van sy kinders nie maar juis hul lewe.

En daarby is die hele gedagte van 'n offer as 'n ruilmiddel om sondes en straf af die koop 'n groot misverstand.

Eintlik is dit die kernsonde van die mensheid, want die offer wat jy aan God gee is eintlik 'n bewys van jou selfhandhawing teenoor God.

Vir jou skulde wat jy gemaak het wil jy self betaal. Dit is die eer van elke mens. Die eer wil hy ook handhaaf teenoor God. Self betaal.

Waarom wil jy dit so graag?

Daar is maar een rede voor. Selfhandhawing.

Immers wie self betaal hoef nie as 'n smekeling te kom nie.

Jy hoef nie om genade te vra nie. Jy betaal mos self?

Verstaan u hoekom die boeteling van vers 6 en 7 so gretig is met sy aanbiedings aan God?

Dis tipies eie geregtigheid soek. Die oersonde wat so diep in ons almal sit.

Ons wil self met God klaarkom.

Bv deur 'n sekere lewensstyl. Of deur middel bv van 'n sekere kerklike betrokkenheid. Of deur die hoogte van ons bydraes.

Dis nie dat dit alles verkeerd of onnodig is nie, maar waak altyd daarvoor dat hulle nooit as 'n kussing van rus sal gaan dien nie.

Onthou dit, ons het aan God niks aan te bied nie.

Geen offers, geen goeie werke, niks van dit al.

Ons kan net by God kom as smekelinge en vra om genade. Sinds ons die N.T. het kan ons iets meer daarvan se, ons kom by God as smekelinge met een Naam op die lippe die naam van Ons Middelaar Jesus Christus.

Dit is al wat ons het. Maar meer is ook nie nodig nie. Want so gou as wat jy met meer kom as dit, stuur God jou terug.

Want dan het jy Jesus Christus nog nie as die enigste middelaar aanvaar nie.

2. God vra net ons liefde

Hy het jou bekend gemaak wat goed is;

Met hierdie woorde van vers 8 is 'n implisiete antwoord gegee op die vrae van vers 6 en 7. Die antwoord is dus: nee! Dit is nie wat die Here soek nie.

Maar wat vra die Here dan?

Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is.

Met die aanspraak 'o mens' word die mens in sy nietigheid voor God geteken. En daarmee word eintlik meteen die hele aanbod van groot offergawes aan die Here as 'n groot dwaasheid in die lig gestel. Wat sou die mens, die nietige skepsel aan die Almagtige Skepper aan offergawes kan aanbied?

Die Skepper kan spreek en dit is daar. Sou Hy sit en wag op die aanbod van 'n klomp offerdiere?

Dit is 'n al te dwase veronderstelling.

Ook in sy bevel om in Israel 'n daaglikse offerdiens te onder-hou het Hy nooit bedoel dat Hy dit nodig sou he nie. Nee, daardie offers het enkel gedien as 'n middel vir die offeraar om sy dankbaarheid te toon. Dit het die Here by elke offer uitsluitlik gegaan om die gesindheid van die hart.

Die offer op sig beteken vir Hom niks nie. 'n Offer sonder dankbaarheid kan die Here nooit behaag nie, seker nie as die offeraar self meen dat hy deur middel van so'n offer die Here kan dwing om die dinge te doen wat die offeraar van Hom verlang. So laat die heilige God nie met Hom omgaan nie.

Maar wat verwag God dan?

Wel, dit het Hy lankal bekend gemaak. Almal kan weet wat goed is.

Dit is eintlik 'n mooi uitdrukking, wat goed is. Juis deur sy onbepaaldheid. Want dan kom die vraag op: vir wie is dit goed?

En dan is die antwoord: Vir God en vir die mens.

Nl om te doen wat goed is in die oe van God is tegelykertyd goed vir die mens self.

Daarom roep God sy volk ter verantwoording.

Want in hul afdwaling van die verbond is sy eie eer in geding, sy naam as die God van die verbond. Want as die volk van Israel Hom nie meer dien na sy woord nie, dan ontvang Hy nie die eer van sy naam nie.

Maar tegelykertyd is ook die heil van die volk self in geding.

En daarom is dit liefde van God as Hy hom hier direk tot sy volk rig.

Want wie homself oorgee aan die diens van die afgode onder-teken daarmee sy eie doodvonnis. Want 'n afgod is nie uit op die lewe en die heil van die mens nie maar 'n afgod is altyd uit op die ondergang van die mens.

En daarom roep God sy volk in ons teks dringend terug na die evangelie. Na die evangelie van sy liefde.

In ons hoofstuk tree God nie op as 'n toornige regter wat slegs die sondes aanwys en verwyt nie, maar tree God eerder op as 'n liefdevolle vader wat met die liefde van sy vaderhart sy volk aanspreek.

En slegs daardie liefde kan die ys laat smelt.

Immers eers in die lig van God se genade kan jy jou eie ongelyk leer insien en bely.

Juis deur God se oorweldigende genadebetoon kan jy tot besef van jou skuld kom.

Dit is wat in ons teks ook met Israel gebeur.

Maar dan word ons tegelykertyd gewaarsku. Namelik dat ons die verleiding moet weerstaan om ons skuldbesef teenoor die Here op te los met die aanbieding van allerhande vorme van goeie werke.

Mense kan ook vandag nog baie ver daarin kom. 'n Mens hoor soms van staaltjies van ongelooflike selfverloening. Mense gee goeie posisies op in die maatskaplik llewe om erens op die wereld die evangelie te gaan verkondig. Hulle doen dit in die oortuiging dat hulle daarmee die Here dien. Met alle respek vir so 'n besluit maar tog mag ons die vraag vra: hoeveel verborge eiegeregtigheid sit soms in so'n besluit? Is dit werklik altyd die leiding van die Here dat jy jou gewone werk moet opgee en sommer erens evangelis moet word? Sou jy dan eers werklik vir die Here iets kan beteken, as jy groot offers bring?

Die Here vra van ons werklik nie die allerliefste en allerbeste van wat ons besit nie, en Hy vra dit seker nie by wyse van versoening van ons sondes nie.

Immers Hy bring self versoening.

Seker Hy wil ons heeltemal maar Hy wil ons nie as slagoffer nie, Hy soek ons as partner, as deelgenoot in die Verbond.

En in die Verbond vra Hy niks anders as net om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig met God te wandel.

Dit is al wat Hy vra.

En waarom vra Hy juis dit?

Omdat Hyself ook so gedoen het.

Die kenmerkende van die optrede van die Here in die verbond is dat Hy altyd liefde en trou betrag het.

En daardie liefde vra Hy ook van ons. So gaan dit mos in 'n maatskap soos die verbond.

Daar moet 'n gesindheid van liefde heers. As antwoord op God se liefde. As antwoord, nie as teeprestasie nie.

Dit vra Hy van ons dat ons die heilsdade wat Hy aan ons betoon het ook uitstraal na 'n ander.

Dan moet jy jou naaste reg doen, dit beteken jy moet hom tot sy reg laat kom. Jy moet jou naaste die geleentheid gee om hom te ontwikkel. Om as 'n medesskepsel van God sy plek in die samelewing in te neem.

Dink daarom, dit is nie iets wat ons uit onsself vanself sal doen nie. Inteendeel, die naaste tot sy reg laat kom? Ons sal eerder onsself omhoogwerk ten koste van die naaste. Dit is ons natuur, of beter so het ons natuur geword.

Ons selfsug laat ons aan die naaste verby kyk.

Ons hebsug laat ons die naaste skade ly.

Ons werk ons vorentoe ten koste van ons naaste in plaas daarvan dat ons vra wat baat die naaste die meeste.

Dit is wat ons teks bedoel met die Here vra jou om goed te doen. Nou weet ek wel van goeddoen word 'n mens nie ryk nie. Om veel om te gee vir die belange van jou naaste is in ons maatskaplik bestel al ewe min gebruiklik. Dit klink selfs wereldvreemnd as jy goeddoen en liefde betrag so sterk benadruk, veral as jy vra om dit ook prakties toe te pas in jou lewe. Maar die evangelie is nou maar wereldvreemd.

Net so goed as die opofferende liefde van God vir sy volk wereldvreemd is.

Maar op grond van die opofferende liefde wat God betoon het en wat in die offer van sy eniggebore Seun aan die kruis tot 'n absolute hoogtepunt gekom het, vra God van ons die enigste antwoord wat daarby pas, die wederliefde van ons hart.

En as ons dan verder vra, maar Here hoe moet ons die wederliefde dan vorm gee, dan se God: Kyk maar na jou naaste, en doen teenoor hom so soos Ek met jou gedoen het. Bewys hom liefde en trou.

En hou dit lank vol. Dan sal daar moontlik nog 'n ysige hart smelt en oopgaan vir die boodskap van die Bybel.

Dus wat vra die Here van ons almal?

Heel eenvoudig dit, om goed te doen.

En wat is goed?

Kyk daarvoor na die Here self.

Let op sy genade vir jou. Dan weet jy hoe om teenoor 'n ander te maak.

Let op Sy geduld met jou, en wees self meer geduldig.

Let op Sy liefde, en besef dat jy nooit verder as 'n begin met liefde kan maak.

Of wel leer wat dit is om ootmoedig te wees.

Loop nie so hard om jouself te verdedig of jouself te verskoon nie, maar begin maar om klein te wees teenoor God

Dan raak jy vanself mild teenoor jou naaste.

En daar mee is die Koninkryk van God gedien.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)