Sonder God kan ons nie lewe nie!

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 36
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 36: 10

LITURGIE:
Voorsang: Ps. 42: 1, 5
Ps. 84: 3, 6
Gebed
L. Psalm 36
T. Psalm 36: 10
Ps. 36: 2
Credo
Ps. 36: 3
Huweliksformulier
Ps. 119: 39 (voor die gebed)
Ps. 119: 53 (na die gebed)
Kollekte Ps. 27: 4

Broeders en susters,

Twee jong mense wat trou, het dikwels die vaste voorneme om dit bèter te doen. Hulle het genoeg gesien hoe dit in die lewe en in 'n huwelik nie moet nie, sodat hulle definitief van plan is om self saam nie so te maak nie. Die nuwe lewe wat hulle nou saam begin, sal anders wees!

Maar al kan ons so'n voorneme ook toejuig, hierdie voorneme alleen is nie genoeg nie. Sou amper al diè huwelike waarin later baie probleme en verdriet gekom het, ja, wat in heelwat gevalle op 'n egskeiding uitgeloop het, ook nie eendag met sulke goeie voornemens begin het nie?

'n Nuwe huwelik beteken darem nie sommer vanself 'n beter huwelik nie. Ons weet dit almal maar alte goed. Julle, bruidspaar, moet julle huwelik vandag daarom maar nie net metgoeie voornemens begin nie. Julle moet met God begin. En dit ook volhou om met Hom te bly lewe. Dis die enigste manier om 'n huwelik gelukkig te kan begin en om dit gelukkig te kan laat bly. Julle moet saam die lewe by die HERE soek en bly soek. By Hom, die "Lewensbron", "die bronwel van my lewe", soos ons Hy in Psalm 42, wat ons as voorsang gesing het, genoem word. En soos Dawid die HERE ook bely in die teks uit Psalm 36 wat ons vir hierdie diens gekies het.

Daarom hou ek u, en almal wat hier vanaand saamgekom het, namens die HERE hierdie boodskap voor: SONDER GOD KAN ONS NIE LEWE NIE!

Want:

  1. Hy is die lewensbron;
  2. Hy gee die lewenslig.

Ons praat op 'n feesdag soos hierdie liewers nie oor die ellende en verdriet wat daar as gevolg van die sonde in 'n huwelikslewe ook kan kom nie. Ons wil daar nou nie aan dink nie.

Maar ons teks uit Psalm 36 maak dit onmoontlik om dit weg te moffel. Hierdie Psalm dwing ons amper om veral goed te kyk na hoe dit nie moet nie, sodat ons nog des te meer ons lewensgeluk alleen by die HERE sal soek. Omdat ons besef: sonder God kan ons nie lewe nie. Want in Psalm 36 word die lewe-met-God teenoor die lewe-sonder- God geplaas. En hierdie kontras beheers die hele Psalm.

As Dawid dit in vers 10 uitsing: "Want by U, HERE, is die fontein van die lewe", dat klink hierdie jubel teen die agtergrond van die lewe van die goddelose wat heeltemal doodloop, soos dit eers in die eerste verse van hierdie Psalm uitvoerig geteken is.

Daardie eerste verse is op 'n paar punte maar moeilik vanuit die Hebreeus te vertaal. As u die ou en die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling vergelyk, sal u agterkom dat daar 'n aansienlike verskil is. En dit het in hierdie geval maar nie net as oorsaak dat die nuwe vertaling baie vryer vertaal nie. As ons ook buitelandse vertalings raadpleeg, ontdek ons ook daar die verskille.

Soos vers 2 en 3 in die ou Afrikaanse vertaling weergegee is, is dit amper onbegryplik. In die nuwe vertaling lees ons: "In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord. Die goddelose het geen vrees vir God nie en praat net goed oor homself. Hy is altyd daarop uit om kwaad te doen en om te haat".

En dit gee, al bly daar ook vertaalprobleme, ongetwyfeld die bedoeling van die digter van Psalm 36 baie duideliker weer.

Hy wil ons in die begin van hierdie Psalm die mag van die sonde in 'n menselewe skilder. Hy laat ons sien hoe die lewe heeltemal verstik word as die sonde vat op jou kry.

Die sonde is 'n gevaarlike mag wat 'n menselewe totaal in beslag kan neem. Diep in die hart van die mens kry dan die kwaad die laaste woord. Sodat dit hom of haar totaal gaan beheers.

Van smôrens vroeg tot saans laat. Ja, selfs oornag op sy bed is so'n mens nog besig om kwaad uit te dink.

Woorde, werke en gedagtes het in diens van die kwaad gekom.

As die sonde die pad na die hart oop vind, bly dit nie by 'n misstap af en toe nie. Dit word 'n reël.

Die sonde word 'n lewensgewoonte. Psalm 36: 5 sê: 'n mens kom daardoor op "'n weg wat nie goed is nie".

'n Mens gaan die kwaad goedpraat en op die ou end weet hy ook nie meer van beter nie. En so kom dit van kwaad na erger.

Hy self nie eers meer hoe erg dit is nie. "Daar is geen vrees van God voor sy oë nie" lees ons in vs. 2. En dit beteken hier omtrent: Hy skrik nie eers meer daarvan nie. Hy sien glad nie meer waar die sonde ten slotte op uitloop nie. Hoe dat God 'n lewe in die sonde eenvoudig laat vasloop. Laat doodloop. Op die ewige dood laat uitloop. Hy skroei eenvoudig sy gewete toe.

Al wys die HERE ook op allerhande maniere hoe Hy die lewe van die goddeloses stukkend slaan -om die mens te laat skrik- het die goddelose oogklappe aan. Hy loop met oop oë sy ondergang tegemoet.

En nou moet u teen hièrdie donker kontras van die doodloopstraat van die sonde ons tekswoorde in vs. 10 lees, broeders en susters:

"By U, HERE, is die fontein van die lewe".

Die Psalm sit opsetlik twee wêrelde teenoor mekaar: die lewe in die sonde, en die lewe met God. Om dit nog maar skerper te laat uitkom: sonder God kan ons nie lewe nie.

Die sonde fluister 'n mens eiewysheid en hoogmoed in. Soos die nuwe vertaling vs. 3 weergee: "Hy praat net goed oor homself".

'n Goddelose beplan self sy toekoms en probeer om dit self te reël. Waarby hy in alles homself in die middelpunt sit. Hy is voortdurend besig om homself te handhaaf. En hy skrik nie terug vir leuen en bedrog nie. Maar hy word so wel een en al onverstand! Hy haal homself al hoe meer die kwaad op die hals. En hy verwoes sy eie lewe.

Maar wie die lewe by God soek, mag onder die skaduwee van sy vleuels skuil. Woon in sy huis en daar alles van God ontvang. (vs. 8 en 9). Wie die lewe by die HERE soek probeer nie om sèlf 'n lewe en 'n toekoms op te bou nie, maar hy gee die leiding oor sy lewe in God se hande.

'n Mens wat kind van God wil wees probeer nie eiewys om homself te handhaaf nie, maar hy weet homself swak, klein en afhanklik; en tegelyk veilig en geborge by die groot en almagtige God. Ons hoef nie self ons lewe en ons toekoms reël nie- God sal dit wel doen. As ons Hom maar net gehoorsaam soos kinders hulle Pa.

Die lewe van 'n goddelose vertoon aanvanklik heelwat. Hy is groot en vry en hy kies sy eie pad. Hierdie mens kan sy eie boontjies uitdop. Hy is sterk en jy moet hom fyn dop hou want anders oorheers hy jou.

Maar in werklikheid word die lewe van die goddelose al hoe meer eng en benoud. Hy word vasgevang in die strikke van die duiwel en na die afgrond toe saamgesleep.

'n Mens wat sy lewe by God soek word daar teenoor wel baie klein en nietig, afhanklik, maar tegelyk word sy lewe in 'n onmeetlike ruimte gesit en kry dit 'n onafsienbare perspektief.

Moet in Psalm 36 vanaf vs. 3 maar eens let op die uitbundige uitdrukkings wat ons blik wil verruim, broeders en susters: die goedertierenheid van die HERE "is tot in die hemele". Sy trou "tot in die wolke". "Sy geregtigheid is soos die berge van God. "

Ontsagwekkend.

In diè ruimte mag 'n mensekind wat by God kom skuil, lewe!

En dan vat Dawid in vs. 10 sy gevolgtrekking nog 'n keer saam in daardie sprekende beeld: "Want by U is die fontein van die lewe". 'n Lewe sonder God mòet wel vasloop. Want alle lewe ontspring by God. Die egte lewe, met die diepe lewensgeluk dat dit ook in moeilike dae uithou, word alleen by God gevind. Want by Hom alleen bloei die lewe op. Ja, dit spuit op soos 'n fontein. Alles wat ons benodig om te kan lewe stroom ons van God se kant tegemoet. En ons hoef dit maar net op te vang en ons daarmee verkwik.

So ek sê tot u, broeders en susters, en spesiaal tot u, br. en sr. Bosman: soek u lewe en u geluk by die Lewensbròn. Sit God in die middelpunt van u lewe, u huwelikslewe, u gesinslewe en drink uit die fontein wat Hy u bied. En dan moet ek vandag, in die nuwe verbond, dit so sê: soek die lewe buite uself in ons Here Jesus Christus. In Hom kom die stroom van lewe van God se kant vandag na ons toe. In Hom wat ons roep met die woorde wat ons lees in Johannes 7: "As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink". Hy het deur sy dood die lewe vir ons verdien.

So drink in geloof die water wat Hy bied.

U sal sien dat dit lèwe gee!

Want sonder Hom kan ons nie lewe nie. Ons sien dit daagliks rondom ons in menselewens waaroor die goddeloosheid baas is.

As ek sê: Plaas God in Christus in die middelpunt van u lewe, dan beteken dit konkreet: sit sy kerk in die middelpunt. Want daar sal ons die lewende water wat God vir ons gee, kan vind. Moet maar kyk: Psalm 36 wys in vs. 9 op die "huis" van die HERE. Vroeër die tempel in Jerusalem, waar by die altaar die lewe losgekoop is. U kan ook maar kyk in Psalm 87, die laaste vers, waar ons die volk van Sion, die tempelstad, vrolik hoor sing: "Al my fonteine is in jou!".

Vandag is die huis van die HERE, sy tempel, die gemeente van sy Seun Jesus Christus, die kerk waar vandag die diens van die versoening verrig word as God se lewendmakende Woord verkondig word en die sakramente bedien word.

God se fonteine spuit op in die kerk, in elke preek, in elke doopsbediening en nagmaalsviering, in elke huisbesoek en katkisasieklas.

Soek u 'n gelukkige lewe, 'n gelukkige huwelik? Kom en luister na die prediking, onderwerp u aan die vermanings van die ampsdraers, gebruik u doop en die gereëlde nagmaalsvierings om u sonde te leer raaksien en u voor God te verootmoedig.

Dan drink u uit die bron van lewende water.

2. Ons hou dit nodig, broeders en susters, dat ons telkens opnuut hierop gewys word, al het ons dit dalk ook alreeds baie kere gehoor.

Want moenie dink dat u dit so langsamerhand "wel weet" nie. Moenie dink, bruidspaar, dat u dit nou eers beter sal doen as egpare voor u nie.

Want dan ken ons onsself nie.

Wanneer Psalm 36 vir ons die verstikkende mag van die sonde in die menselewe teken, het ons ongetwyfeld die voorbeelde by die hand waarin ons dit baie duidelik kan aanwys.

Maar dan dink ons altyd maar aan ànder mense.

Ons sal ook aan onsself moet dink!

Òns is nie sommer vanself bo die sonde verhewe en teen die mag van die sonde gevrywaar nie.

In die Nuwe Testament pasd die apostel Paulus in sy brief aan die Romeine (hhofstuk 3: 18) die begin van Psalm 36 op alle mense toe.

Ook op kerkmense. Sy slotsom na 'n lang betoog is: "Almal is onder die sonde. Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar isd niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie".

En dan volg 'n aanhaling van Psalm 36 die tweede vers: "Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie".

Dis die werklikheid waarvoor van nature sondige mense die oë nie mag sluit nie. U, bruidspaar, word met al u goeie voornemens eweseer deur die sonde bedreig as al die bruidspare voor u.

As ons aan ons self oorgelaat word, drink ook ons nie uit die lewensbron nie, maar sal ook ons in die duisternis van die sonde lewe. Dan laat ook ons ons die sonde aanpraat en gaan ons dit vervolgens goedpraat. En dak beland ook ons lewe in 'n doodloopstraat, al kom ons dit self ook nie direk agter nie.

Eers as God se lig in ons lewe na binne breek, leer ons raaksien hoe lelik soos die nag die sonde is en hoe vrolik en lig die lewe by God is. eers dan kom ons agter dat die sonde die lewe sloop en dat net by God die lewe lèwe kan wees en bly.

Alleen in God se lig sien ons die lig, sê die tweede gedeelte van ons teks daarom.

En God hèt sy lig in ons donker lewe laat skyn, broeders en susters. Sy lewenslig het in ons lewe deurgebreek.

Hy het sy Seun in die wêreld gestuur -God uit God, Lig uit Lig-. Hy is die Lig van die wêreld, soos God se Woord Hom oral noem en soos Hy Self gesê het: "Ek is die Lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê" (Joh. 8: 12). En: "Ek het as 'n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie" (Joh. 12: 46).

Hy het die mag van die sonde kom breek, deur die Vors van die duisternis, die duiwel, van die troon te verdryf. Hy het deur sy dood vir ons die lewe verdien.

En sy Woord in die Bybel gee ons sindsdien die lig waardeur ons die lig mag sien. Want God wat gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn, het dit in ons harte laat skyn om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus (2 Korint. 4: 6).

Die lig van die Skrif is vir ons die lig van God waardeur vir ons vandag die wonder van die lewe met God onthul word, teenoor die verwoestende mag van die sonde.

Ons ontdek by die lig van die Skrif veral, hoeseer die lewe vir ons een en al genade is. Daar is niks vanselfsprekends meer by nie.

Psalm 36 vat dit vir ons saam in daardie sterk woord wat in ons vertaling met "goedertierenheid" weergegee is. Hierdie taamlik ouderwetse woord wys op God se verbondstrou wat dit ten spyte van al ons ontrou uitgehou het. Dit is die trouw wat Hy ons op die mooiste bewys het in die geskenk van sy Seun as die versoening vir al ons sondes.

Van daardie trou, wat hemelhoog is (sien vs. 6), leef ons.

Ons leef van die wonder!

Wie dìt by die lig van God se Woord leer sien het, ontvang lewenslig en -uitsig. Hy weet: ek mag wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe (Psalm 56: 14). Die ewige lewe straal my van hierdie genadige God tegemoet.

Selfs wanneer ek deur moeilike en donker peroides in hierdie lewe heen moet, sal hierdie lig nooit meer doof nie.

Broeders en susters, u kan uit die lewensbron drink, omdat u in die lewenslig mag verkeer. Die lig van God het u lewe kom oorstraal.

Dit skyn in die kerk, waar God se Woord gepredik word. Die lig van God se Woord wys God se bron van die lewe.

Maar soos u die lewensbron moet bly soek, so moet u dus ook die lewenslig bly soek. U moet dit steeds opnuut deur God aan u laat gee. U kan dit self nie vashou nie.

En dan sê ek weereens: U moet in die kerk wees. Lees en luister, hoor en veral: gehoorsaam.

Psalm 36 leer ons om daaroor te bid: vers 11 "Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat u ken".

Dit is: U genadige verbondstrou, waardeur ons in die lig mag lewe sodat ons uit die bron kan drink- laat dit tog voortduur, HERE.

Laat die sonde. laat die goddeloses nie oor my kom, my lewe verduister en my sig op die lewensbron my afneem nie.

Sal u so bly bid, broeders en susters?

Ons sal saam so vir die bruidspaar bid.

Sodat hulle die lewe wat hulle vandag begin het tog rêrig goed begin. Ja, sodat hul huwelikslewe darem lèwe sal wees.

AMEN.

(12 Aug. 1988, Pretoria. Bruidspaar Bosman-Van der Sluis)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)