Die noodsaak om te breek met 'n ongehoorsame erediens

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 13
Preek Inhoud: 

Ps. 115: 1, 2
Ps. 115: 9
Ps. 84: 1, 2, 3
Ps. 51: 8
Ps. 68: 13
Lees: 1 Kon. 12: 25 - 13: 34
Teks: 1 Kon. 13: 9 en 18 en 23 en 24a

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Ons onthou van vorige week dat die skeuring van Israel definitief geword het. Die Here het Salomo se Ryk verdeel. Sy seun Rehabeam ontvang 'n klein deel naamlik rondom die tempelstad, Jerusalem die provinsie Juda. Maar die grootste deel van Israel volg Jerobeam. Hy word koning van die 10stammeryk.

Maar hierdie Jerobeam is bang, as Israel altyd offers sal bring in Jerusalem, dat hulle dan heimwee sal hê na die tyd dat Israel nog 1 volk was onder die 1 koning van Jerusalem.

En daarom wil Jerobeam vir die volk 'n alternatiewe erediensplek aanbied. Nie in Jerusalem nie, maar in Bet-el en in Dan.

Laat ons goed besef, Jerobeam bedoel nie dat die volk Israel andere gode moet kies nie. Nee, hulle moet die Here bly dien. Maar hulle moet dit nie doen in Jerusalem nie, maar op die plekke wat Jerobeam daarvoor aangewys het.

En so is daar altaars vir die Here opgestel in Bet-el en Dan. In Sy Naam is daar geoffer en gebid.

Jerobeam was baie welwillend selfs. Hy het twee kosbare goue kalwers laat maak, sodat die plek as 'n offerplek heeltemal aanvaarbaar voorgekom het.

Maar die Here soek nie net goeie bedoelings en offervaardigheid nie. Die Here vra in die eerste plek gehoorsaamheid.

Gehoorsaamheid aan Sy gebooie. Ook gehoorsaamheid aan die tweede gebod. Want daar gaan dit hier verkeerd met Jerobeam. Hy het afbeeldings laat maak om God daardeur te dien. Boonop is sy bedoeling nie suiwer nie. Hy gebruik die erediens vir die bereiking van 'n politieke doel. Daarom is hier maar een ding nodig by Jerobeam. Bekering.

Hulle moet onmiddellik breek met hierdie ongehoorsame erediens. Dit is die Woord wat die man van God uit Juda vir Jerobeam en sy volk namens die Here kom sê.

Ek verkondig u vanmiddag God se Woord soos volg:

DIE NOODSAAK OM TE BREEK MET 'N ONGEHOORSAME EREDIENS.

  1. Die noodsaak deur troue prediking aangewys.
  2. Die noodsaak deur valse redenering aangeveg.
  3. Die noodsaak deur strenge bestraffing aangetoon.

Toe kom daar 'n man van God uit Juda, so begin hoofstuk 13. Dis eintlik merkwaardig dat sy naam glad nie genoem word nie. Die enigste wat ons van hom weet is, hy kom uit Juda.

Uit Juda, maar dit is dan ook uiters betekenisvol.

Soos u weet, het die skeuring van Juda en Israel nog maar kortgelede plaasgevind. Toe Rehabeam wou probeer om die skeuring weer met geweld ongedaan te maak, toe het die Here hom dit verbied deur middel van die profeet Semaja. Ons onthou sy boodskap:

Hierdie politieke skeuring is 'n saak van die Here.

Maar waar dit nou om gaan is dit: Die politieke skeur moet nie 'n geestelike of liewers kerklike skeur word nie. Die wettige tempel staan nog steeds in Jerusalem.

Noudat die poging om die Koninkryk van God 'n voorlopige politieke vorm te gee volledig misluk het, wil die Here weer by die begin begin. Naamlik by die geestelike eenheid van die volk, soos gevoed en onderhou deur die erediens in Jerusalem.

Dit is die plek waar die Here Sy volk vergader.

Daar behoort al die broers van die huis Israel saam te kom.

Ons verstaan dit is vir Jerobeam baie moeilik om hom by die vergadering te voeg. Maar dit is tog nodig. Ons sou kon sê, dit is in daardie situasie nou eis van kerklike gehoorsaamheid.

En dit wat Jerobeam daar in Bet-el op eie houtjie begin het, dit is heeltemal verkeerd. Dit is 'n ongehoorsame erediens. Of ook wel 'n eiewillige godsdiens.

En daarom stuur die Here iemand uit Juda om Jerobeam te vermaan.

Hy arriveer op 'n kritieke oomblik by Bet-el se altaar.

Die amptelike ingebruikneming is reeds in volle gang.

Koning Jerobeam tree vir hierdie geleentheid self as 'n hoëpriester op.

Hy staan reeds met die vuur in sy hand om die eerste offer aan die brand te steek. Die mense wat almal bymekaar is, staan en kyk vol spanning as Jerobeam die treë van die altaar uitklim. Hy stoot met 'n plegtige gesig sy vuurpan vorentoe... maar skielik word die stilte versteur deur 'n stem: Altaar, altaar!

Daar is 'n man wat hom deur die samegedronge mense massa heengeworstel het, hy staan met flikkerende oë vlak voor die altaar: 'Altaar, so spreek die Here. Dawid se seun Josia sal op jou die prieters slag wat hier geoffer het. Mens bene sal op jou verbrand word'. Skerper as dit kan hierdie erediens skaars veroordeel word nie. Dit is die grootste ontheiliging wat vir 'n altaar denkbaar is.

Mensbeendere verbrand op 'n altaar. As ons bedink watter streng voorskrifte die Here gegee het met betrekking tot die kontak van priesters met die dood, dan besef ons wat 'n geweldige ontwyding dit moet wees. In Israel is alles wat met mensebene te doen het onrein. So 'n ontwyding van sy altaar sal die Here nooit toelaat nie, maar dit beteken as die Here dit laat aankondig, dat Hy hierdie altaar glad nie as Sy eie beskou nie.

Op 'n altaar behoort diere geoffer te word, om mense te red.

Maar hierdie altaar sal die dood van mense bewerk.

Vlymskerp word so Jerobeam se erediens ontmasker.

Dit is 'n valse erediens.

U moet goed op let gemeente, dat hierdie profesie hom rig teen die altaar. Dis nie Jerobeam wat gevloek word nie. Dit is ook nie die volk wat daar bymekaar is wat valse gelowiges genoem word nie. Nee, die fout is by die altaar. Dit is 'n valse erediens.

En so is hierdie vloek profesie tog ook genade prediking. Want hierdie prediking laat mense nadink. Moet ons hier bly, by hierdie altaar, by hierdie erediens?

Keer u af van hierdie altaar, roep die man van God.

Die wettige kerk is daar, in Jerusalem. Daar wil die Here gedien word. Daar wil Hy ook vir julle ontmoet, Israel.

Hierdie genade prediking geld selfs vir Jerobeam. Hy wil hom verset teen hierdie prediking en roep: Gryp hom! Maar sy hand verstyf op daardie oomblik. Maar as die man van God bid, kan hy hom weer terugtrek.

Ook hierin sien ons: die Here wil graag Jerobeam moet gered word. God wys vir hom Sy mag, deurdat die altaar skeur, deurdat sy hand verstyf en daarna weer genees word. Dit is alles oproep tot geloof en bekering.

Maar Jerobeam het dit nie verstaan nie. Of hy wou dit nie verstaan nie. In elk geval hy voel hy is belaglik daar op die geskeurde altaar, hy probeer homself uit hierdie pynlike situasie te red deur daarvan 'n grap te maak. Hy probeer lag en nooi die profeet uit vir 'n ete. Laat ons 'n glas wyn drink, nou dit alles goed afgeloop het!

Maar die profeet weier baie beslis. As hy naamlik op hierdie uitnodiging ingaan, dan ontneem hy aan sy profetiese woord alle krag.

Dan is die erns van sy prediking nie meer duidelik nie.

Die volk wat daar by was sou dan dink: Ag nee, sy woord was wel ernstig, maar dit word nie so ernstig bedoel nie.

Die Here se instruksies was op die punt baie presies. Die Here het gesê: Moet daar nie brood eet of water drink nie, en keer langs 'n ander pad terug. Vertel jou boodskap en loop!

Ook sy onmiddellike verdwyning behoort by sy prediking.

Hy moet elke vorm van gemeenskap weier met hierdie sektariese gedoente in Bet-el.

Met hierdie plek kan ek geen gemeenskap hê nie.

Dit is nie die man van God wat deur te loop, broederlike gemeenskap verbreek nie. Nee, die eintlike skeurmaker is Jerobeam met sy alternatiewe erediens. Hy het gebreek met die wettige erediens in Jerusalem.

En die pad na herstel van die geestelike eenheid kan maar net loop via die ondubbelsinnige nee van die man van God, teen Jerobeam se ongehoorsame erediens!

2. Die noodsaak van bekering deur 'n valse redenering aangeveg.

Daar mag met hierdie ongehoorsame erediens nie 'n kompromie gesluit word nie. Dit is wat die profeet uit Juda gepredik het.

Die ander profeet uit ons teks het dit ongetwyfeld wel gevoel. En met hulle natuurlik talle ander mense in Israel.

Duisende Israeliete het lankal verstaan dat dit nie reg was met Jerobeam se erediens nie. Hulle het besware gehad en glad nie saamgestem met wat daar aangaan in Bet-el nie.

Hulle het mos heel anders geleer. Ongetwyfeld het van hulle ook geprotesteer daarteen.

Maar ag, hulle het tog maar gebly waar hulle was.

So was dit ook met die ou profeet uit Be-tel. Hy het altyd in diens van die Here gestaan. Hy het een van die profete skole besoek en daarom staan hy nog steeds bekend as 'n profeet.

Maar eintlik was hy glad nie meer 'n profeet van die Here nie.

Dit blyk uit sy slapheid teenoor Jerobeam se valse erediens.

Die profeet het baie goed geweet, dit is nie reg nie. Maar sy enigste protes is, hy doen self nie saam nie.

As Jerobeam sy nuwe altaar inwy, bly hy by die huis.

Maar van hom geen openbare protes nie.

Hy was seker maar te oud om nou nog 'n daad te stel. Boonop al sy familie en bekendes het gekies vir die dienste in Bet-el.

Hy het besware gehad, maar sy gehoorsaamheid het weggebly.

En die gevolge word vinnig sigbaar. Hy weet dit gaan verkeerd in Bet-el. Maar sy seuns, ja hulle staan vooraan by Jerobeam se altaar. Hulle het alles meegemaak. Hulle kom by die huis met die verhaal van die profeet uit Juda wat teen die nuwe altaar geprofeteer het. Vir hulle was dit alles baie interessant, selfs sensasioneel, maar dat hulle self mee skuldig is, daarvan het die seuns in elk geval niks meer verstaan nie.

Maar hul vader herken in die woorde van die ou profeet onmiddellik die ware prediking. Dit maak hom wakker.

Op daardie oomblik skaam hy hom vanweë sy eie slapheid.

En wat maak hy? Hy reis die man van God agterna!

Dit was reg. Maar wat moes hy verder gedoen het?

Hy moes gesê het: Broer jy het 'n regte woord gespreek.

Jy het my versuim goedgemaak. Ek is baie skaam teenoor jou en teenoor die Here, dat ekself steeds geswyg het. Ek sal met jou saamreis na Jerusalem. Ek sal breek met die ongeregtigheid van Jerobeam.

Maar dis nie wat hy sê nie. Hy verhard hom in sy sonde. Immers hy probeer die profeet terug te lok na Bet-el. As hy daarin sal slaag, dan sal hy hom ook nie langer sleg voel nie. Hulle is dan kollega-profete onder mekaar. Die feit dat hy self geswyg het, word goedgemaak deurdat hy die profeet wat wel gespreek het in sy huis opneem.

En so sê hy: Broer kom saam met my na Bet-el.

O ja, ek weet, dit is nie reg daar in Bet-el nie. Ek stem ook glad nie saam met wat daar gebeur het nie. Maar dit is darem nou ook nie heeltemal verkeerd nie.

Ek is mos 'n profeet soos jy.

Dit is waar. Hy was 'n profeet. Maar dit is ook nie waar nie. Want hy was nie 'n profeet soos die man van God uit Juda nie.

Want die laaste het geprofeteer teen die afgodsaltaar. En hy het in die openbaar alle gemeenskap met daardie erediens geweier.

Maar die man van Bet-el het geswyg. Hy was nie 'n wagter op die Muur van Sion nie.

Hy kon 'n reformasie bewerk het, deur te breek met die sonde van Jerobeam en die kerklike eenheid met Jerusalem gesoek het.

Maar hy doen die omgekeerde.

Ag, broer, dit is darem nie so sleg in Bet-el nie. Kom eet by my.

Nog 'n leuen daarby dat hy 'n ware woord van God ontvang het, en die profeet uit Juda gaan met hom saam. Terug na Bet-el.

Maar daarmee het hy sy prediking ontkrag!

Hy het gepredik teen die altaar! Hy het getoorn in die Naam van die Here teen die valse erediens!

Hy het sy woorde onderstreep deur gemeenskap te weier. Ek kan nie anders nie! Ek mag nie hier bly nie!

Maar nou, deur tog terug te gaan, sluk hy sy preek weer in.

Die vloekwoord van die Here, was vir hom tog te swaar.

Op die ou end soek hy tog maar 'n kompromie.

Maar daarmee is hy ongehoorsaam aan die Woord van Sy Sender.

Hy roep die profeet van Bet-el nie op om hom te ontrek aan die valse erediens in Bet-el nie, maar hy gaan saam met hom. Hy gaan met hom eet en drink. Hy oefen met hom gemeenskap, asof daar niks aan die hand is nie. As broeders onder mekaar.

En dit mag hy op hierdie oomblik nie doen nie. Want met sy optrede verdoesel hy so die kwessie waar dit om gaan, naamlik: hoe oordeel die Here oor die erediens in Bet-el.

Dat die broers saam die eenheid soek is 'n goeie ding, maar dan moet dit 'n eenheid in die waarheid wees.

As hulle broederlik saam weg van Bet-el na Jerusalem gegaan het, dan was die prediking teen die altaar versterk gewees.

Maar nou hulle saam eet in Bet-el, nou is die prediking van sy krag berowe. Eenheid in die leuen breek die Woord van die Here af.

3. Die noodsaak van bekering deur 'n streng bestraffing aangetoon.

Wanneer die twee ongehoorsame profete broederlik saam eet, moet skielik die ou profeet 'n woord van die Here spreek. Dit is eintlik baie merkwaardig. Ons sou sê: Ja maar daardie ou profeet is mos lankal ongeskik vir sy diens vanweë sy ongehoorsaamheid.

Maar die Here werk tog anders as wat ons sou gedink het. Die Gees kan mos orals spreek. Ook waar 'n mens dit nie verwag nie. Selfs deur die diens van ongehoorsame mense. Ons moet byvoorbeeld nie dink dat byvoorbeeld in 'n sekte die Woord van God nooit meer iets kan doen nie. Die Gees kan daar werksaam wees, en ook werklike bekering tot stand bring.

Tussen hakies, dit beteken vanselfsprekend nie dat dit glad nie verskil maak waar 'n mens kerk toe gaan nie. Die Gees kan allerhande middele gebruik op allerhande plekke, maar daarom gaan dit nie. Dit gaan altyd om ons gehoorsaamheid. Ons moet daar wees waar die Woord van God getrou verkondig word. Ons is geroep tot gehoorsaamheid.

Terug na die twee profete. Dat die Gees begin praat deur die ou profeet, beteken natuurlik glad nie dat sy vroeëre handeling nou goedgekeur is nie. Dit beteken ook nie dat hy van nou af weer 'n ware profeet is nie.

Want of iemand 'n ware of valse profeet is, hang nie van sy persoon af nie, maar hang af of hy die Woord van God deurgee, soos hy dit ontvang het. God se Woord is nie afhanklik van die betroubaarheid van die dienaar nie. Hy moet die straf van God aankondig oor hierdie man van God uit Juda. Omdat jy wederstrewig was toe die bevel van die Here, deurdat jy teruggehou het en geëet en gedrink het - daarom sal jou lyk nie in die graf van die vaders kom nie.

Jy was wederstrewig teen die bevel van die Here.

Wederstrewig - dit is 'n skerpe woord. Hy het hom verset teen God se Woord. En dit word veral aan 'n ampsdraer (dit is tog wat hy was) swaar aangereken.

So geduldig die Here was met Jerobeam (hy kry 'n ware kans deurdat sy hand weer genees word) so hard gaan die Here om met Sy profeet.

Waarom so 'n groot verskil? Wat is objektief gesien nou erger: Jerobeam se kalwerdiens, of hierdie profeet se maaltyd?

Die Here oordeel die laaste is die mees ernstige.

Want daar is die heiligheid van Sy Woord in geding.

Met die heiligheid, met die onaantasbaarheid van die Woord van God, het die profeet gespreek. Dit is die ernstigste wat 'n ampsdraer kan doen. Want hier is baie groot dinge op die spel!

Dit gaan die Here nie slegs om daardie 1 profeet nie, dit gaan Hom selfs nie slegs om Jerobeam nie, maar die Here soek die behoud van Israel as geheel. Daarvoor het Hy die Godsman gestuur.

Maar op die beslissende oomblik het die profeet Sy Woord en Sy predikende daad van weiering van gemeenskap teruggetrek.

En daarom het hy heel sy optrede ontkrag.

Daarmee is tewens die geestelike belang van die volk skade toegebring. Hy het die Here en Sy Woord nie geheilig voor die oë van die volk nie. En dit neem die Here baie ernstig.

As hy na die ete vertrek, word hy op pad gegryp deur 'n leeu. Die leeu maak hom dood, maar eet nie van sy lyk nie, ewemin van die esel. 'n Merkwaardige geskiedenis.

Heel Bet-el praat daaroor. Wat het gebeur? Maar dit was die man wat hierdie oggend teen die altaar geprofeteer het!

Hulle verstaan dit is nie toeval nie. Hy het nie sommer 'n hongerige leeu ontmoet nie, maar hier het die Here opgetree.

Die Here straf Sy profeet. Waarom vra almal? En dan word bekend hoe hierdie profeet uiteindelik tog ongehoorsaam was.

So kan die Here selfs uit 'n dooie profeet nog preekstof haal. Die prediking van die dooie profeet het nog meer ontsetting teweeg gebring as sy optrede as lewende profeet.

Hulle het almal agtergekom dat die Here dit baie ernstig neem met Sy Woord. 'n Eiewillige godsdiens bly nooit ongestraf nie.

As ons die Here wil dien op 'n manier soos dit vir ons pas, en dit vir ons gerieflik is, maar ondertussen weier om gehoorsaam te wees, dan kan ons nie seën van die Here verwag nie.

Dit gaan om ernstige sake. Om die heiligheid van God se Woord. As jy dit vir jou self maklik neem met die eise van God se Verbond, dan ontneem jy jou die reg om jou op die beloftes van die Verbond te beroep.

Die Here wil mos met 'n halwe gehoorsaamheid nie genoeë neem nie.

Die dooie profeet uit Juda is daarvan die lewende bewys.

Niemand kan die Woord van God ongestraf langs hom neerlê nie.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)