God baan die weg na sy vrederyk deur gerig en genade

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
II Samuel 12
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 2 SAMUEL 12: 13, 14 EN 24, 25

LITURGIE:
L. 2 Samuel 12: 1-25
Ps. 32: 1, 2
Ps. 32: 6
Ps. 89: 1, 2,, 12, 13
Ps. 103: 5
Ps. 51: 7, 8

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

In ons teksverse uit 2 Samuel 12 staan dood en lewe wel baie opvallend langs mekaar.

Of liewer: teenoor mekaar, in kontras met mekaar.

Eers moet 'n seun van Dawid sterwe. Dan mag daar tog ook weer 'n seun van Dawid gebore word.

Eers moes daar 'n graffie gegrawe word. En toe mog daar 'n wiegie gereedgemaak word.

Dié kontras is hier in die Bybel opsetlik geteken. Opsetlik is die geboorte van Salomo teen die agtergrond van die sterwe van sy boetie geplaas. Daar het in werklikheid tussen daardie beide gebeurtenisse tenminste een en 'n halwe jaar verloop waarin daar uiteraard nog heel wat gepasseer het. Maar die skrywer van hierdie Bybelboek het opsetlik in hierdie hoofstukke die tydsvolgorde deurbreek om Salomo se wieg in kontras te plaas met die graf van daardie eerder kind van Dawid en Batseba.

Want Salomo sal in die geskiedenis van God se volk 'n hoogetepunt gaan bring. Onder Salomo sal Israel uitgroei tot 'n vrederyk waar die heidene tot ver in die omtrek op sal afkom. Tydens Salomo se regering sal 'n voorspel klink op die toekomsmusiek wat deur die Here Jesus Christus ten uitvoer gebring sal word. Onder Salomo sal God se volk voel hoe groot die vrede is wat God wil gee.

Maar ons sal moet weet dat hierdie hoogtepunt deur God uit die diepte bogehaal moes word. Die vrederyk vir God se volk het nie soos vanself, langs 'n geleidelike ontwikkeling, tot stand gekom nie. Immers, toe prins Salomo gebore mog word, het daar kort tevore nog 'n prins in Israel moet sterwe. Vir straf. Dalk het Salomno se wieg wel in dieselfde kamertjie gestaan waar eerder die bedjie gestaan het waarin sy boetie oorlede is.

God se Woord vra aandag vir daardie kontras, sodat ons sal leer dat sy vrederyk daar slegs kon kom langs 'n weg van gerig en genade. En so vat ek die boodskap uit ons teksverse dan ook vir u saam:

GOD BAAN DIE WEG NA SY VREDERYK DEUR GERIG EN GENADE

  1. EERS MOET 'N SEUN VAN DAWID STERWE DEUR DAWID SE SKULD
  2. DAN MAG 'N SEUN VAN DAWID LEWE IN GOD SE GUNS

1. "En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE!". Eindelik is die hoogste woord uit. En verslae buig die koning sy kop wat hy reeds veels te lank fier gehewe gehou het. Bykans twee jare het hy 'n skynwêreld instandgehou en hom gedra asof hy die ene onskuld was. Vir die mense het hy die vors gebly teen wie hulle hoog opgesien het. Maar diep in sy eie hart het hy lankal geweet dat God met heel ander oë na hom gekyk het. Inwendig was hy nooit rustig nie.

"Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer" het Dawid later eerlik in Psalm 32 beken. Hy het dit wel deeglik gevoel dat die hand van die HERE swaar op hom gedruk het, dag en nag. Maar hy wou sy kop nie buig nie. Hy wou daardie swaar hand van die HERE telkens van hom afskud en maak asof daar niks aan die hand was nie.

Nou is egter die skyn stukkend geprik. Die profeet Natan het hom so pas nie sagsinnig nie in die spieël laat kyk en laat besef hoeseer hy as koning oor God se volk gefaal het.

Nou kán die koning nie meer anders nie as om te bely: "Ek het teen die HERE gesondig".

U weet almal, broeders en susters, wat Dawid in sy affêre met Batseba uitgehaal het. Hoe diep hy geval het.

Nogtans word die omvang van Dawid se sonde meestal veels te beperk gesien. Dan sien ons maar net sy sonde teen die Sewende Gebod: owerspel, en voortvloeiend sy sonde teen die Sesde Gebod: moord. Eers vergryp Dawid hom aan Batseba, daarna vergryp hy hom ook nog aan Batseba se wettige man Uria.

Daardie twee vergrype is natuurlik ook wel die hoofmomente in hierdie vreeslike geskiedenis, maar wanneer ons luister na die bestraffing wat die profeet Natan namens die HERE kom bring het, tref dit ons dat Natan tog skaars praat van moord en owerspel. Ja, hy noem die feite, maar die lig waarin hy dit plaas, dwing ons om die swaartepunt by Dawid se sonde êrens anders te lê.

Natan het begin met die verhaaltjie van 'n ryk man wat hom op 'n hele trop kleinvee en beeste kon beroem en nogtans die een ooilam van sy buurman vat om daarvan 'n maaltyd vir sy onverwagse gaste te berei.

So het ook Dawid hom gedra.

Soos iemand wat reken hy kan maak soos hy wil. Wat reken hy mag vat wat hy wil hê. Wat uit die weg ruim die wat in sy pad staan. Kortom, Dawid het 'n koning geword wat homself tot wet geword het, wat aan niemand rekenskap hoef af te lê nie noudat hy homself tot die top opgewerk het, die absolute seggenskap oor al sy onderdane.

Dawid het die styl van 'n Oosterse despoot aangeneem, van 'n tiran soos ook die ander volkere dié geken het: 'n koning wat eers met moeite die mag verower, maar daarna die mag tot sy eie genoeë misbruik.

Dáárop lê Natan alle nadruk as hy in opdrag van die HERE Dawid moet ontmasker.

Dawid het blykbaar heeltemal vergeet dat sy mag juis nie 'n moeisaam verowerde mag is nie, maar 'n mag wat God aan hom geskenk het. Die HERE verwyt Dawid by monde van Natan: "Ek het jou as koning gesalf oor Israel, en Ek het jou gered uit die hand van Saul. Ek het die huis van jou heer aan jou gegee en die vroue van jou heer in jou skoot. Ek het die huis van Israel en die huis van Juda aan jou gegee- en as dit te min was, sou ek aan jou nog meer sulke dinge bygevoeg het".

Dít het Dawid uit die oog verloor. Hy het nie meer geleef en geregeer in die wetenskap dat hy alleen uit genáde koning oor God se volk geword het nie. En dat hy nou ook alleen maar by die grasie Gods koning oor God se volk mog wees.

In die begin het Dawid dit wel erken. Toe het hy besef hoe swaar die verantwoordelikheid was wat op sy skouers kom te rus het. In daardie tyd het ook alles goed gegaan. Toe het Dawid algaande in grootheid toegeneem, want die HERE van die leërskare was met hom. Die volk het hierdie koning op die hande gedra. Saam was hulle sterk in die Naam van die HERE. Hulle het alle vyande die een na die ander oor die grense verja. En eindelik het Israel rus gevind.

Maar toe het dit darem skeefgeloop. Want toe alle vyande uit die land uitgeja was, het dit geblyk dat die grootste en gevaarlikste vyand nog binnekant die vesting was. In die paleis. In die hart van die koning. Die sonde van die hoogmoed.

Dawid gaan rus op sy louere. Daar kom 'n gevoel van selfvoldaanheid oor hom. Hy vind dit nie langer nodig om self met sy weermag uit te trek in die stryd nie. Daardie een geval wat hulle nog met die Ammoniete het, kan Joab ook sonder hom wel hanteer. Hy bly lekker by die huis om sy welverdiende rus te geniet.

En dan, broeders en susters, verloor Dawid sy God wat hom tot hierdie hoogte gebring het, uit die oog. En dus verloor hy ook God se volk uit die oog. En hy hou op die ou end net homself oor.

Sterk bene kan alleen die weelde dra. Dawid beswyk daaronder. Sy mag bring hom tot magswellus. Hy verword tot 'n heerser wat meen dat hy homself alles kan veroorloof. Hy is nie langer 'n Messiaanse koning wat die beste vir God se volk soek nie- hy soek net nog die beste vir homself.

As sy oog op 'n aantreklike vrou val- wel, dat vat hy haar mos! Al het hy ook 'n harem vol aantreklike vrouens. En al is dit ook die vrou van een van sy trouste offisiere, Uria. Hy begeer haar, en dus moet sy haar maar onderwerp.

En as Batseba na die ontmoeting met die koning 'n kind van hom blyk te verwag, neem Dawid koelbloedig sy maatreëls. As dit nie anders kan nie, moet Uria maar uit die weg geruim word. Dawid gaan desnoods oor lyke.

Daar was hoegenaamd geen Messiaanse styl meer by Dawid nie. Hy het in sy koningskap nie langer getoon dat die koning oor God se volk radikaal verskil van alle wêreldse vorste, omdat God se Wet die grondwet vir sy ryk is nie.

En so het dit by Dawid op 'n treurige manier duidelik geword dat selfs die allerbeste koning oor God se volk, die man na God se hart, nie in staat was om God se volk blywend volgens God se wil te regeer nie.

Hoe groot was Dawid vir Israel! Wie verder lees in die Skrif, sal opmerk dat alle latere konings telkens na die voorbeeld van Dawid gemeet word. Maar dat feitlik niemand hom kan ewenaar nie.

God se volk het onder koning Dawid opgebloei. Eindelik het hulle iets daarvan begin ervaar hoe eendag die lewe volmaak tot rus sou kon kom onder die heerskappy van die komende Messias. Hulle het eindelik smaak gekry vir die vrede wat die komende vrederyk sou bring.

Maar dan moet hulle meemaak dat self by Dawid die vrede nie in veilige hande is nie. Ook Dawid blyk 'n sondige mens te wees wat op 'n afskuwelike manier faal. 'n Koning wat nie God se seën uitdeel nie, maar wat God se toorn oproep. Dawid het nie net op 'n enkel punt 'n fout gemaak nie. Dawid is heeltemal die regte spoor byster.

Met dié boodskap kom die profeet Natan dan ook in die troonsaal ingestap. Die HERE laat Natan die vinger presies op die wond lê. Dawid het hom nie net aan twee mense vergryp nie- hy het teen die HERE gesondig.

Ja, en dan lees ons in ons teks, gemeente, dat Dawid diep, baie diep moet buig. God spaar hom nie. Dawid het self sy vonnis gevel toe Natan so pas die gelykenis aan hom vertel het oor daardie meedoënlose buurman: "Die man wat dit gedoen het moet sterwe", het Dawid vol verontwaardiging uitgeroep. Maar dan moet hy nou ook die konsekwensie van daardie vonnis aanvaar. "U is die man!", het Natan mos gesê. Hy self verdien die dood. Hy het alle regte om verder koning te wees vergooi. Hy moet sy kop buig onder die vonnis wat hy self uitgespreek het en God se gerig oor hom laat kom.

Nogtans voltrek God die vonnis nie so soos Dawid dit gevel het nie. Dawid kry nie wat hy verdien het nie. Hy mag bly lewe. God wil sy sondes vergewe. Maar daarmee is glad nie gesê dat God dus blykbaar die sonde nie so swaar opvat nie. O nee, God gaan leer vir Dawid hoe hoog Hy die sonde opneem. Want Dawid mag wel bly lewe. Maar Dawid se seun, gebore uit die owerspel met Batseba, moet sterwe.

Met dié boodskap verlaat Natan die paleis. Loodswaar het dié woorde op Dawid se siel bly lê, toe hy alleen in die troonsaal agtergebly het. En hulle begin nog veel swaarder op hom druk as kort daarna Batseba vir hom die berig stuur: "Ons seuntjie het skielik lewensgevaarlik siek geword. "

Nou bring die HERE Dawid in 'n swaar krisis. By die bedjie van die doodsieke kind maak Hy Dawid klein. Alle hoogmoed en selfingenomenheid word verbrysel in daardie sewe dae wat dit nog duur voordat die kind sterf. En Dawid moet worstel met die HERE, met God se reg. Dawid het sy skuld bely. Maar nou moet hy tot op die bodem van sy hart gaan voel hoé swaar sy skuld is. Oor sy skuld moet sy seun sterwe!

God het vir Dawid vergewe. Dawid mag verder lewe. Hy mag as God se koning Israel verder regeer. Maar dit gaan blykbaar nie sommerso nie. God se genade is nie goedkoop nie. Daar moet wel 'n hele hoë prys betaal word. Dit kos nie minder nie as die dood van Dawid se seun.

So swaar het Dawid dus gesondig: so swaar, dat God se toorn oor daardie sonde so groot is dat Hy (liewer as om dit ongestraf te laat bly) Dawid se seun daaroor sal straf met die dood. Want Dawid bid wel 7 dae aanmekaar of God nie só genadig kan wees dat ook die kind mag bly lewe nie, maar daardie gebed bly onverhoord. Die seun moet sterwe. Want God wil dit in Dawid se siel inbrand dat Hy nog slegs só in genade met Dawid vorentoe kan gaan. Voortaan sal daar oor die lewe en werke van koning Dawid altyd die herinnering hang aan hierdie sterwe. Sodat

Dawid voortaan altyd klein sal bly.

Nee, daardie seuntjie het nie in Dawid se plek gesterf nie. Hy het nie die straf gedra wat Dawid feitlik moes gekry het nie. Want die seun kan nie die ongeregtigheid van die vader dra nie, en die HERE straf geen kinders in die plek van hul vaders nie.

Later, veel later, het 'n ánder seun van Dawid die skuld van sy voorvader en van ons almal op Hom geneem en in ons plek gesterf. Dié seun van Dawid wat tegelyk die Seun van God was. Hy kon dit. En Hy moes dit. Ons Here Jesus Christus.

Maar die HERE het by die sterfbedjie van daardie seuntjie van Dawid en Batseba wel alreeds Dawid se gedagtes na die dood van Dawid se groot Seun wil heenlei, broeders en susters. Dawid moes leer dat die loon op die sonde die dood is. En dat daar alleen versoening deur voldoening kan wees. Daar moes vir die vergewing van die sondes 'n hoë prys betaal word. Eers moes daar 'n Seun van Dawid wat ook die Seun van God was sterwe oor ons skuld. Slegs langs die weg kon God met sy vrederyk vorentoe.

Of Dawid dit so skerp gesien het as wat ons dit vandag kan weet, wie sal dit sê?

Maar ons vandag behoort te weet dat óns skuld dus so swaar was, en die genade so duur. Dit het nie minder nie as die dood van die Seun van God gekos. Alleen so kon daar vir u nog vrede wees, gemeente.

Toe dit tot Dawid deurgedring het dat deur sy skuld sy seun moet sterwe, het hy as 'n geslae man op die grond gelê. Hy wou nie eet en nie drink nie en hy het nie om sy uiterlik omgegee nie. Maar hy het God gesoek met 'n hart vol skaamte. Die swaarte van die straf het die swaarte van sy skuld eers reg duidelik aan hom gemaak. Hy het begin verstaan hoe 'n diep wortel die sonde in sy lewe het. Toe het die woorde losgekom wat ons in Pslam 51 lees: "Ek ken my oortredinge, my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig, nie net teen Batseba en Uria nie, en gedoen wat verkeerd is in u oë". Dawid het begin insien dat dit ook nie net 'n aantal insidentele flaters in sy lewe was nie, maar dat sy hele lewe, alreeds van die moederskoot af, bedorwe was: "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, in sonde het my moeder my ontvang". Dit sou dan ook nooit weer kon regkom met hom nie, tensy God self hom radikaal sou verander: "Skep vir my 'n rein hart, o God, en vernuwe in my binneste 'n vaste gees. Neem u Heilige Gees nie van my weg nie".

Tot daardie insig het Dawid gekom by die bedjie van sy sterwende seun.

Maar moet u en ek, broeders en susters, as ons na God se sterwende Seun kyk en bedink dat só swaar die straf op ons skuld was- moet ons onsself dan nie nog veel meer klein maak voor God nie? Nog veel meer skuldbewus? Omdat ons weet dat ons alle regte op genade en vrede verspeel het?

2. Alleen dan sal ons ook werklik verwonderd wees dat God nogtans sy genade en vrede aan ons wil skenk.

Want God se gerig breek die weg vir God se genade nie op nie. Inteendeel: by God kan gerig en genade saamgaan. Die gerig skep juis die ruimte vir genade.

Dit het Dawid aan die einde van die dag wel verstaan. Dawid het dit veel beter as sy paleispersoneel verstaan. Hulle het dit maar snaaks gevind dat die koning alreeds rou bedryf het toe die klein prinsie nog geleef het en daar dus nog hoop was, maar dat hy opgehou het en rouklaag toe die kind eenkeer gesterf het. Dit was mos die omgekeerde wêreld!

Maar Dawid weet van beter. Hy het God gevra, sonder om nog régte te hê. En noudat die kind gesterf het, besef hy nog des te meer hoe groot die genade van God is dat hy wat Dawid is nog leef. Ook hy moes gesterf het. Maar hy mag van God nog vorentoe. Ja, die pad vorentoe lê vir hom weer oop. Natan het vir hom gesê: "Die HERE het u sonde vergewe". Dawid aanvaar in geloof dat die pad vorentoe vir hom tot in die hemel deurloop. Sy kind sal na hom nie terugkeer nie. Maar hy mag eendag wel na hom gaan, om ook by die HERE in die hemelse heerlikheid te wees. Vandag voer sy pad nog oor die aarde. En dus moet hy hier weer aangaan. Uit sy verdriet opstaan. Hy kan nie bly lê en weeklaag nie. Vergewing en bekering beteken vir hom dat hy sy amp as koning, waarin hy nie net die afgelope sewe dae nie, maar reeds meer as een en 'n halwe jaar tekortgeskiet het, weer moet opneem. Hy moet weer regeer by die grasie Gods.

En toe het God al gou bewys dat Hy inderdaad weer met hierdie Dawid in genade wou vorentoe gaan. Want Batseba, wat in vs. 24 van ons teks eindelik nie meer "die vrou van Uria" genoem word nie maar Dawid se vrou, mag opnuut 'n kind verwag. En dan stuur die HERE die profeet Natan weereens paleis toe, maar dié keer met 'n boodskap wat van God se guns getuig. Die HERE kies self die naam vir hierdie nuwe seun van Dawid: Salomo. U kan dit lees in 1 Kron. 22: 9. Salomo noem die HERE die kind wat gaan kom: Vredevors, 'n naam wat aandui dat God nog steeds deur Dawid vrede vir sy volk soek. Vredevors- 'n naam wat God later deur die profeet Jesaja ook aan die groot Seun van Dawid gaan gee, sy eie Seun Jesus Christus: sien Jesaja 9: 5.

Die HERE verbind aan hierdie naam Salomo dan ook die belofte vir 'n ver toekoms: deur Dawid se geslag sal God die vrede vir die hele wêreld gaan bewerk- vir ewig.

En as spoedig daarna Dawid se nuwe seun Salomo gebore word, verskyn Natan opnuut in die paleis, om die genade van die HERE nog 'n keer ekstra te onderstreep. Die HERE voeg vir hierdie kind nog 'n naam toe: Jedidja- wat beteken: "die geliefde van die HERE", opnuut 'n naam wat God later aan sy eie Seun sal gee: "Dit is my Seun, my geliefde in Wie Ek 'n welbehae het". God het dit gedoen sodat Dawid en Batseba baie seker sal weet dat God op sy beloftes nie meer terugkom nie. Hulle twee, Dawid en Batseba, maag saambou aan God se komende vrederyk.

In weerwil van alles.

Alleen "ter wille van die HERE".

Want ons moet aan daardie laaste woorde in ons teks, vs. 25, nie verbylees nie. Dit was nie oor Dawid en Batseba dat God hulle seun Salomo gunstig gesind was nie. Dit was bloot "ter wille van die HERE"

Dawid het dit baie mooi verstaan. Hoor hoe bid hy wanneer Natan God se beloftes aangaande Salomo vir hom kom bring het. Ons lees dit in hoofstuk 7: 18 e. v.:

"Wie is ek, Here HERE, en wat is my huis, dat u my tot hiertoe gebring het? En dit was nog te gering in u oë, Here HERE, sodat U ook aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek het.
En wat sal Dawid nog verder met U spreek? Want U ken u kneg, Here HERE. Ter wille van u Woord en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen en dit aan u kneg bekend gemaak. Daarom is U groot, HERE, God!"

Ons het alle rede om dit Dawid na te sê, gemeente. Want na vredevorst Salomo het God aan sy volk Vredevorst Jesus gegee. Nie net seun van Dawid nie, maar ook God se Seun. En Hy is dié bewys dat God met ons in genade vorentoe wil gaan. Voortaan waarborg hierdie Dawidseun ons die vrede. Want Hy is self sonder sonde en Hy het al ons sondes van ons weggeneem. En daarom sal dit vrede wees in 'n ryk sonder einde.

Deur hom kom die nuwe aarde in sig.

Maar as ons die skitterende toekoms van die lewe met Hom bly sien teen die donker agtergrond van sy sterwe vir ons eers, op Golgota - as ons 'n oog hou vir dié kontras, moet ons dit Dawid dan nie nasê nie:

"Wie is ons Here HERE? U ken ons. Dit is deur U, deur U alleen, deur u eew'ge welbehae. Daarom is U groot HERE, God! Daar is niemand soos U en daar is geen God behalwe U nie volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. "

AMEN.

(Pretoria, 9 Desember 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)