Israel se aanvoerder verkies Gideon tot Israel se bevryder

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Rigters 6
Preek Inhoud: 

PREEK OOR RIGTERS 6: 11-24

LITURGIE:
Ps. 44: 1, 4
Ps. 44: 7
Ps. 139: 8 na die Doop
Ps. 77: 4, 5, 6
Ps. 34: 4
Ps. 65: 2 na die Openbare Belydenis
Ps. 55: 5

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

In ons teks kry Gideon 'n oproep vir die militêre diens van niemand minder nie as die Engel van die HERE.

In my preek van verlede sondag het ek vir u gewys dat hierdie Engel van die HERE nie sommer 'n engel was nie, maar 'n verskyning van God self. In hierdie Engel het God die Seun, ons Here Jesus Christus, voor sy geboorte as mens uit Maria, alreeds na sy volk toe gekom om hulle agter Hom in die stryd teen die sonde, die duiwel en sy ryk saam te neem.

As die goddelike Generaal het Hy sy volk voorgegaan in die stryd en op kritieke oomblikke vir hulle die pad vorentoe weer oopgemaak.

Ons het verlede sondag Rigters 2 gelees. Israel het die beloofde land Kanaän mog binnegaan en die eerste groot oorwinning op die goddelose bewoners daarvan met God se hulp behaal. Maar as in Rigters 2 die Engel van die HERE sy volk op die appèl roep, moet Hy vir hulle verwyt dat hulle daarna die hele stryd laat platval het. Hulle het gedros. Hulle instruksie was om 'n totale oorlog te voer en die bewoners van Kanaän heeltemal uit te roei- omdat hulle hul ongeregtigheid heeltemal volgemaak het en hul goddeloosheid en afgodediens met sy besmettingsgevaar nou heeltemal uitgeroei moes word. Maar Israel het vrede gesluit met die vyand. Hulle het hulle algaande vermeng met die heidense inwoners èn met hulle afgodediens.

Daarom, so het ons in Rigters 2 gelees, het die goddelike Generaal toe gedreig om die leiding neer te lê en Homself aan die stryd te onttrek. As hulle op hul eie gang wou aangaan, moes hulle voortaan maar sonder Hom regkom.

Diè waarskuwing het wel effens resultaat gehad. Effens was daar sprake van skrik, berou, bekering. Hulle het aangrypend gehuil, sodat die plek waar hulle bymekaar was voortaan die naam Bogim, "Weenen" gedra het.

Maar die bekering het nie lank geduur nie.

En so het ons ons lesing van Rigters 6 dan ook met die woorde begin: "die kinders van Israel het -al weer! Ook na Debora en Barak en eerder rigters- gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE... "

Maar dan blyk dit ook dat die waarskuwing van die Engel van die HERE by Bogim meer as maar net 'n waarskuwing was. Hy trèk Hom dan ook met die daad uit die stryd terug. Met as gevolg: "toe het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar lank; en die Midianiete het die oorhand oor Israel gekry".

Israel kan, sonder sy goddelike Aanvoerder, nie baas word oor sy vyande nie. En die hele lewe loop vas.

Maar nou, in ons teks, verskyn die Engel van die HERE dus plotseling weer op die toneel. En Hy gaan Hom weer met die stryd bemoei. Hy benoem Gideon as offisier om die Midianiete te verja.

Hoekom is Hy skielik terug?

Het daar dalk bekering in Israel gekom?

Nee, gemeente, glad nie. Uit ons teks word dit duidelik dat hier 'n wonder gebeur. 'n Wonder van ontferming. Israel se Aanvoerder neem weer die leiding en begin sy leër hergroepeer. Maar nie as gevolg van die bekering van Israel nie. Dit is die gevolg van sy verkiesing van Israel. Dit mag ek vir u preek vanmôre.

As ek dit saamvat, hoor ons in ons teks:

ISRAEL SE AANVOERDER VERKIES GIDEON TOT ISRAEL SE BEVRYDER

Ons teks vertel daarby van

  1. DIE GENADE IN GOD SE VERKIESING
  2. DIE GEWOONTE BY GOD SE VERKIESING
  3. DIE GEVOLG VAN GOD SE VERKIESING

1. Ons het, broeders en susters, onwillekeurig 'n tamelik gunstige indruk van Gideon. Dis moontlik 'n gevolg van die kinderbybels en bybelvertellings in die skool. Daarin word meestal die jonge Gideon vir ons as 'n positiewe uitsondering onder die afvallige Israeliete geteken. 'n Seun wat insien hoe diep God se volk geval het en wat homself daaroor diep skaam. Een van die weinige gelowiges wat in Israel oorgebly het.

En vanuit diè beeld wat ons onself oor Gideon gevorm het, gaan dink ons dan soos van self dat die HERE juis daarom Gideon uitgekies het as die man wat Israel van die Midianiete moes bevry. Die Engel van die HERE het aansluiting gesoek by 'n smalle strook van bekering wat daar in Israel darem nog aanwesig was, meen ons.

Maar dit is nie waar nie, gemeente! As ons so dink, maak ons 'n veels te gunstige voorstelling van Gideon. Ons teks is juis vol kleine aanduidings dat die Engel van die HERE heeltemal niks meer waarby Hy kon aansluit gevind het- ook nie by Gideon nie. Dat daar van selfs maar 'n glimp van bekering geen sprake was nie.

En as ons 'n paar hoofstukke verderblaai, lees ons dat Gideon, nadat hy sy instruksies uitgevoer en die bevryding beveg het, ook sommer weer in die afgodediens terugval. Kyk hoofstuk 8: 27.

Wanneer die Engel van die HERE Ofra binnewandel om Gideon te besoek, stap Hy in 'n wêreld vol afgodediens binne, waar ook Gideon mee vertroud geraak het en waarteen hy hom regtig nie met die ywer van 'n reformator verset nie.

Dadelik na ons teksverse, in vs. 25, verneem ons dat daar in Ofra 'n groot altaar vir Baäl gestaan het. Met 'n heilige boomstam daarby. En daardie altaar was -moenie skrik nie- van Gideon se pa, Joas. Vader Joas was daar 'n oudste in Ofra, sêmaar: 'n ouderling, 'n voorganger in die gemeente. Met ander woorde: Gideon het van huis uit by die Baäldiens as 'n variant op die diens aan die HERE grootgeword. Want hulle het ook nog wel in die HERE "geglo"! Natuurlik wel! Maar dan wel op hulle eie manier, in kombinasie met die diens aan die Kanaänietiese gode.

Ons lees ook in Rigters 6, meteen die eerste vers van ons teks, van 'n terpentynboom daar in Ofra, ook al die eiendom van pa Joas. Ons kan daarby natuurlik gewoon aan 'n groot boom met baie skaduwee dink waaronder die Engel van die HERE gaan sit, bietjie beskut teen die brandende son. Maar die aanduiding in vs. 11 is so opvallend dat dit aanneemlik is om aan 'n boom wat eweneens 'n rol in die afgodediens gespeel het, te dink. Ons weet uit die Ou Testament dat daar in Kanaän baie van sulke bome was, veral terpentynbome. U kan maar dink aan die bekende terpentynboom More waaronder Abram sy eerste altaar vir die HERE in Kanaän gebou het. Dit was daar 'n orakelboom, 'n boom waaruit hulle gerdink het om die wil van die gode te kan afluister. Die geritsel van die blare het vir hulle die stem van die gode hoorbaar gemaak. Waarskynlik was dìt ook die geval met die terpentynboom van Ofra. Pure waarseëry dus. Beheer deur Gideon se pa.

Hulle leef daar in Ofra, ook Gideon, nog steeds met die afgodediens as 'n vanselfsprekende saak. Ten spyte van alle waarskuwings wat die HERE inmiddels al almal laat hoor het. Ten spyte selfs van die gevolge wat hulle momenteel pynlik ondervind: die aanhoudende oorvalle deur die Midianiete.

En moet ook veral nie die verse wat in hoofstuk 6 aan ons teks voorafgaan, vergeet nie. Daar staan dat die HERE, toe die volk onder die terroristeaanvalle van die Midianiete gekreun het, 'n profeet deur die hele land laat gaan het om die oë van die mense vir die òòrsaak van hulle ellende oop te maak.: hulle het mos nie na die stem van die HERE geluister nie? Hulle het mos, in weerwil van God se verbod, die gode van die Amoriete begin dien?

Diè profeet het dit baie mooi duidelik gemaak: julle kan nie die HERE die skuld van hierdie besettingstyd gee nie. Dis julle eie skuld. Dis die gevolg van julle afgodediens en verbondsontrou.

Ek reken dat hierdie profeet by sy rondreis deur die land ook wel in Ofra was. Maar wat het dit gehelp? Die altaar vir Baäl het gewoon bly staan, die heilige boomstam ook. En die orakelboom is ook nie afgekap nie. Nie deur ouderling Joas nie. Maar ook nie deur sy seun Gideon nie.

En as dan in ons teks die Engel van die HERE Gideon met die dubbelsinnige woorde begroet: "Die HERE is met jou", weet Gideon alleen maar om te kla dat hy maar min daarvan agterkom dat die HERE met hulle is. Ja, vroeër, toe het hulle ander tye beleef, roemryke tye. Hy het hele verhale daaroor gehoor, oor die wonders by die uittog uit Egipte en so meer. Maar teenswoordig laat die HERE hulle lelik in die steek.

"Meneer praat mooi", sê Gideon, "dat God met ons is. Maar waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? "

Hoor u, gemeente, dat Gideon nòg durf te vra hoekom die tye teenswoordig so moeilik is? Dat hy nog altyd nie verstaan wat die rede daarvan kan wees nie.......

Ons verneem by Gideon hoegenaamd geen berou of bekering. Hy kom met 'n opstandige klaagsang waarin geen enkele veroormoediging klink nie. Feitlik gee hy die skuld maar net aan die HERE wat sy volk sommer aan sy lot oorlaat.

In diè situasie kom Israel se Aanvoerder ingryp en 'n bevryder vir Israel aanstel.

Maar dan verstaan u wel dat dit enkel genade is dat die HERE nog na sy volk omsien! Die Engel van die HERE het nie gekom omdat daar 'n begin van bekering merkbaar geword het nie. Hy het enkel en alleen gekom omdat die HERE, ten spyte van alles, aan sy verkiesing van Israel trou gebly het.

Dit is nou genade!

Israel het die verbond verbreek, verag, alle waarskuwings brutaal geignoreer. Die ouderlinge het voorop geloop in die afgodediens. God het dus alle rede gehad om sy hande vir altyd van hierdie volk af te trek. Maar in plaas daarvan soek God sy volk tòg weer op en sê: "Die HERE is met jou!". En hy meen dit!

Dit is die genade van God se verkiesing ten voete uit, wat ons belydenis in die Dordtse Leerreëls dan ook noem: "die genade van die onverdiende uitverkiesing; aangesien die kerk nie beter as die ander mense is nie en ewemin enige reg op God se liefde het. "

Alleen danksy daardie onverdiende genade van God se verkiesing bestaan daar nog altyd 'n volk van God op aarde, broeders en susters. Sonder daardie genade was God se volk lankal aan die sonde ten onder gegaan.

Want die dae van Gideon was tog geen droewige uitsondering in die geskiedenis van God se volk? 'n Swart bladsy in 'n origens pragtige boek? Nee, sulke tye van afval, ontrou, ongehoorsaamheid en hardkoppigheid was daar in die kerk tot op die dag van vandag. En as God sou gedoen het waarvolgens ons verdien, dan sou ons hier vanmôre nie gesit het nie! Besef u dit?

Sharleen, jy word vandag nie lidmaat van 'n geselskap pragtige voorbeeldige mense nie. Jy voeg jou by 'n versameling sondaars, en jy is self een daarvan. Maar vanmôre, by die begin van die diens, het die groet van die HERE tot ons almal, ook tot jou gekom: "Genade en vrede vir julle!" En Hy meen dit!

Hoekom? Omdat ons so goed Gereformeerd is? As Vrye Gereformeerdes nog beter as die ander Gereformeerdes? Omdat ons soveel ywer in die diens van God se Koninkryk betoon het? Omdat ons in ons lewens sulke voorbeeldige christene is?

Of sou dit eerder wees, ten spyte van ons gemaksug in die diens van die HERE? Ten spyte daarvan dat ons onsself wel Gereformeerd noem maar so min regtig reformerend besig is? Sou dit nie eerder wees ten spyte van ons toenemende wêreldgelykvormigheid en ten spyte daarvan dat ook onder ons die afgode opruk?

Met ander woorde: dus nie omdatr ons so trou is nie, maar ondanks ons ontrou? Alleen danksy die verkiesende genade van God?

Ons verdien dit dat die HERE ons wegvaag. Maar pleks daarvan het ons vanmôre weer gehoor: "Genade vir julle en vrde van God onse Vader en van die Here Jesus Christus".

2. Die Engel van die HERE het dus nie Gideon kom mobiliseer omdat Gideon daarvoor by uitstek in aanmerking gekom het nie.

Inteendeel, ons moet selfs sê hierdie Gideon was juis glad nie 'n keuse wat voor die hand gelê het nie. Nie alleen vanweë sy ongeloof. Maar vervolgens ook nog oor 'n aantal ander redes.

Dis ook Gideon se eie mening, wanneer die vreemde besoeker onder die boom vir hom sê: "Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie? ".

"In hierdie krag van jou"- sê die man. Maar Gideon reageer verskrik: "Ag meneer", (die woordjie "Here" in vs. 15 beteken hier maar net "Meneer". Gideon weet nog altyd nie wie hier met hom praat nie; hy sien maar net 'n onbekende meneer) "Ag meneer, hoe sou ek Israel verlos? En waarmèè? Ek is die jongste by die huis- wat moet hulle dink as ek met diè storie huis toe kom? Boonop, ons geslag is die swakste in Manasse- waarvandaan moet ek die mense en die wapens kry om die sterk Midianiete te kan verja? Nee wat, u moet nie by my wees nie. Ek is daarvoor baie beslis nie die geskikte persoon nie".

Maar dog u, gemeente, dat die Engel van die HERE nie geweet het watter persoon Gideon was nie? Daar het bietjie heimelike spot in sy woorde geklink toe Hy vir Gideon gegroet het as: "dapper held!". Want so dapper was Gideon op daardie oomblik glad nie besig nie. Hy was mos besig om koring uit te slaan in die parskuip. Hy was nie normaal op die dorsvloer besig om met die dorsslee die koring wat ingeoes was, te verwerk nie. Hy was veels te bang dat dan die Midianiete dit sou kom weghaal. Daarom het Gideon stiekem in die wynparskuip gestaan, om met 'n stok (dit het minder lawaai gemaak) die oes uit te slaan. En onderwyl het hy telkens bang om hom heen gekyk of die vyand nie êrens in die buurt was nie. Nie so heel dapper nie dus.

Dieselfde spot as in "Dapper held" klink ook in daardie opvallende sinnetjie van die Engel van die HERE: "Gaan in hierdie krag van jou... ". Daar is baie uitleggers wat dit veels te mooi wil verklaar en dink dat die HERE bedoel: die krag van Gideon se geloof waarmee hy darem aan God se wonderwerke in die verlede vasgehou het.

Maar die Engel van die HERE het eenvoudig bedoel, bietjie spottend, die "krag" tussen aanhalingstekens, waarvan juis maar min by Gideon te sien was. Gaan, sê Israel se Aanvoerder, so soos jy hier nou voor my staan: 'n bang mannetjie wat van homself hoegenaamd geen indruk maak nie. Jy moet Israel verlos, so, soos jy is. So'n onbeduidende persoon het ek presies nodig.

Ons stuit hier op die gewoonte wat die HERE steeds by sy verkiesing hanteer, broeders en susters. God se verkiesing begin met onverdiende genade, soos ons gesien het. Maar dan roep God in sy onverdiende genade vervolgens ook nog 'n keer mense wat, as ons dit met menseoë bekyk, heeltemal onbruikbaar is. Wat geen enkele indruk maak nie.

Was dit nie so by Abram nie- 'n kinderlose skapeboer?

Was dit nie so by Josef nie- een van die jongstes by die huis?

Was dit nie so by Moses nie- 'n skaapherder wat 'n bietjie eenselwig geword het en 'n spraakgebrek gehad het, wat dit nie gedurf het om alleen voor Farao te verskyn nie?

Was dit nie so by Dawid nie- die jongste boetie wat deur elkeen oor die hoof gesien is?

En was dit nie so by Jeremia nie- bang, geen prater en nog bloedjonk?

En ek kan aangaan: Paulus, in die oë van baie mense 'n onaansienlike persoon wat op 'n afstand wel gewigtig en kragtig kon lyk, maar wat in die persoonlike teenwoordigheid maar mak en onbetekenend wass. Luther- 'n onbeskaafde boereseun. Calvyn, 'n jonkman van pas in die twintig met 'n swak gesondheid en 'n rustelose natuur. Hendrik de Cock van Ulrum in Nederland, waarvan die jeug leer in die katkisasieklas: 'n eenvoudige dorpsleraar wat teen die geleerdes lank nie opgewasse was nie.

En u kan self nog maar aanvul.

Sulke mense verkies God steeds om sy kerk in stand te hou en om sy Koninkryk uit te brei. Nie by voorkeur wyse, magtige, aansienlike, invloedryke mense nie, maar, inteendeel: wat dwaas is by die wêreld, en swak en onaansienlik- daardie tipe mense kies God gewoonlik uit. Wat niks is!

En u weet mos hoekom?

Sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Sodat geen mens in eiewysheid sou kan sê nie: dit is ook aan my te danke dat die kerk nog bestaan.

God is gewoon om mense te kies wat heeltemal onbruikbaar lyk, sodat des te meer duidelik sal word dat dit net aan Hom te danke is daar daar nog 'n volk van God in die wêreld te vinde is. Die bewaring van die kerk en die koms van God se Koninkryk bly, as ons na die mens kyk, altyd 'n wonder van God.

So moet Gideon net-nou ook die stryd voer: nie met 'n indrukwekkende leër nie, maar met 'n handjievol volk. Dit word geen oorwinning deur 'n oormag aan wapens nie, maar deur paniek wat God self saai. Die Engel van die HERE self verdryf die vyand voor sy volk uit en die verlossing is tenslotte alleen aan Hom te danke. 'n Swak, bange Gideon moes dit maar net onderstreep.

Moet u nooit aan die kleine krag van die kerk verkyk nie, gemeente. En moenie dat u u verkyk aan die maar min imponerende voorgangers wat daar meestal in die kerk maar is. Wie maar net kyk na wat voor oë is, sal homself dikwels vertwyfeld afvra watter toekoms die kerk kan hê. Diè sal homself ook afvra hoe dat daar deur so'n kerk nou die verlossing van die hele wêreld moet kom. Wat is ons met mekaar mos? Watter invloed kan ons uitoefen? Oor watter mag beskik ons?

Maar ons moet God se gewoonte nie uit die oog verloor nie. Juis as ons swak is, is ons magtig in sy diens. Vir aarselende ampsdraers, eenvoudige lidmate, gewoon huismoeders, vir swak seniorburgers en vir die jonge jeug sê die HERE vandag nog: "Gaan in hierdie krag van jou, so simpel en onooglik as jy van jouself is. Ek is mos met jou, dààrom kan jy, al is jy ook swak en alleen, duisende duiwels baas word".

So sê die HERE vandag ook vir jou, Sharleen: jy voel jouself dalk nog so onseker, jy het in vergelyking met die ander katkisante nog so min kennis van die Woord van die HERE en van die geskiedenis van sy kerk, jy ag jouself wellig lank nog nie bruikbaar vir die opbouing van God se gemeente- maar moet maar gaan en jouself gee so, soos jy van jouself is. Moenie sê nie: ek het veels te min geleer, of; ek is daarvoor nie geskik nie. God sê: Werp jouself in die stryd vir my Koninkryk, my eer, my verbond. Moet dit ook veral nie van jouself verwag nie. Is dit nie Ek wat jou geroep het en stuur nie?

Ek sal vir jou die krag gee wat jy self nie besit nie.

3. Toe die Engel van die HERE so Gideon tot die stryd geroep het, het dit nie sonder gevolge gebly nie.

Toe het daar sommer iets by hom begin verander. Hy het nie bly sê: nonsens, Meneer, u moet nie by my wees nie. Nee, daar is iets in hom losgemaak. Sou die HERE hom inderdaad deur hierdie man roep om bevryder van Israel te word? Sou daar dan tog nog wonders kan gebeur? Of sou hierdie man hom maar iets wysmaak?

Dis hoekom hy die man 'n teken gevra het. Dit wil sê: 'n legitimasiebewys dat hy inderdaad namens die HERE self hierdie dinge mog sê, en dat Gideon op sy woorde kon staatmaak.

En toe die Engel van die HERE vervolgens so'n legitimasie gegee het, deur die maaltyd wat Gideon aangebied het, in een keer in rook te laat opgaan en self in die vuurvlam te verdwyn- en Gideon begin begryp het dat die groot goddelike Generaal self dus by hom op besoek gewees was om hom onder die wapens te roep- toe het daar in Ofra langs die altaar vir Baäl eindelik weer 'n altaar vir die HERE kom te staan. 'n Altaar met die veelbetekenende naam: Die HERE is vrede. M.a. w. alleen deur die HERE kan die lewe weer opbloei. As ons weer in vrede wil lewe, as ons van die vyande ontslae wil raak en in egte rus lewe- dan moet ons na die HERE terugkeer. En ons kàn terugkeer! Want Hy gee nog altyd vrede.

Daardie altaar het dus 'n publieke monument teen die afgodskultus in Gideon se woonplek geword; die eerste reformatoriese daad van hierdie nuwe rigter. En in die vervolg blyk die eers so bange Gideon tot al hoe meer geloofsaktiwiteit in staat te wees. Hy gààn, so swak soos hy is, en hy verslaan onder die opperbevel van Israel se Aanvoerder, die Engel van die HERE, al die Midianiete.

Maar as u maar raaksien, broeders en susters, dat al hierdie ywer skielik nie uit Gideon self voortkom nie. Ook dit is die werk van God- die gevolg wat God self gee wanneer Hy verkies en roep. Hier sien ons by Gideon wat ons in die Dordtse Leerreëls bely (hoofstuk III/IV, art. 11): "Wanneer God sy welbehae in sy uitverkorenes tot uitvoering bring, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens met die kragtige werking van sy Heilige Gees wat die wedergeboorte skenk" (Sien maar in vs. 34, na ons teks: toe het die Gees van die HERE Gideon vervul!) Ja, en dan verander daar iets in 'n mens: God open die geslote hart, Hy maak die onwillige wil gewillig, die ongehoorsame gehoorsaam.

En in art. 16 van daardie hoofstuk in die D.L. bely ons: "Terwyl sondige opstandigheid en verset vroeër volkome oorheers het, begin 'n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand kry".

God self maak oënskynlik onbruikbare instrumente soos Gideon volop bruikbaar. As Hy verkies en mobiliseer vir sy diens, dan bly dit nie sonder gevolg nie.

Die sekerheid mag ons bemoedig, gemeente. As die HERE vandag na ons toe kom, met sy groet van genade en vrede, en daarmee tegelyk ook ons aan die front van die stryd vir sy Koninkryk plaas, sal Hy ons ook, al hoe nietig en onbruikbaar ons onsself ook al voel, bruikbaar maak.

Sharleen, jy sal net-nou verreikende beloftes doen. Jy sal beloof om jou gawes gewillig en met vreugde tot uitbouing van God se Koninkryk aan te wend. As jy maar bly besef dat jy van jouself daartoe glad nie in staat is nie. God moet jou deur sy Heilige Gees van harte gewillig en bereid mààk om voortaan vir Hom te lewe.

Maar Hy sal jou, ten spyte van al jou swakheid, so maak.

As jy, soos ons almal dit moet, maar aan sy verkiesing gehoor gee. Want, om dit nogmaals met die woorde van die D.L. te sê (III/IV, 17): "Hoe gewilliger ons ons roeping volbring, des te heerliker word die weldaad wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier".

'n Swak kerkvolk, wat hulleself deur God se verkiesing oorweldig weet, word van self 'n magtige middel in die hand van die HERE van die leërskare.

Maar daarvoor kom die eer alleen aan God toe, sê die D.L.

AMEN.

(Pretoria, 17 September)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)