Aanbid die Heilige Gees, want Hy is God

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-04-12
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 11
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
12 April 2015 AD, 17:30 (nagmaal)

Voorsang: Sb 7:1,2,8,9,10

Votum

Seën

Ps 33:2,3

Nagmaalsformulier (p.23)

Gebed

Sing: Onse Vader

Aan tafel: Skriflesing: Galasiërs
5; Ps 33:10

Lofverheffing

Gebed

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 11

Preek

Ps 139:3,8

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

Sb 38:3

Kollekte

Ps 104:17,18,20

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 11

Ons mog vandag nagmaal vier.

Die Heilige Gees is direk by die
nagmaal betrokke.

Ons bely dat Jesus Christus
aanwesig is by die nagmaal deur sy Heilige Gees.

Die Seun van God regeer nou in
die hemel.

Maar, soos ons met die
Heidelbergse Kategismus bely, deur sy Gees en Woord verlaat Hy ons nooit meer
nie.

Christus is nie liggaamlik by die
nagmaal aanwesig nie, maar met sy Heilige Gees.

Sy Heilige Gees sorg vir die
eenheid aan tafel.

Hoewel ons baie uiteenlopende
mense is, woon een en dieselfde Gees in ons almal.

Artikel 11 van die Nederlandse
Geloofsbelydenis fokus op die Heilige Gees.

Tema: Aanbid
die Heilige Gees, want Hy is God

Toe ons, na aanleiding van die
vorige artikel van die NGB, gekyk het na die godheid van Christus, het ons
aandag geskenk aan hoe die Skrif sy godheid aan ons openbaar.

Naamlik dat Christus ten eerste
Goddelike name in die Skrif ontvang.

Ten tweede, dat aan Hom Goddelike
eienskappe toegeskryf word.

Ten derde, dat Hy Goddelike werke verrig.

En ten vierde, dat Hy Goddelike eer ontvang.

Dieselfde geld ook vir die
Heilige Gees.

Ons sal dan nou ook aandag skenk
aan hoe die Skrif die godheid van die Gees aan ons nader bekend maak.

1          Die Heilige Gees ontvang Goddelike
name

Neem as voorbeeld Handelinge
5:3-4: “Toe sê Petrus: Ananias, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die
Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie
verkoop was nie, het die nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie
in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het?
Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”

Hierdie het gebeur redelik kort
nadat die Heilige Gees uitgestort is.

Almal was onder die indruk van
die werk van die Gees in die eerste gemeente.

Die gemeente was ‘n hegte
eenheid, en het sterk gegroei.

Die gemeente was in aansien onder
die volk.

En nou kom ‘n egpaar soos Ananias
en Safira en veroorsaak ‘n vuil vlek op die gemeente se naam, en nie net
beskadig hulle die gemeente nie, maar ook die Heilige Gees wat so aktief daarin
besig is.

Die Heilige Gees is dus God en
word ook so in die Bybel genoem.

Deur die eeue was daar mense wat
beweer het dat die Gees net ‘n krag of ‘n eienskap van God is.

In die sin dat mens kan praat oor
God se heerlikheid – dit is ‘n eienskap van Hom.

En jy kan praat oor God se almag
– nog ‘n eienskap.

En so kan jy ook praat oor God se
gees – nog ‘n eienskap.

Hierdie opvatting hou egter nie
genoeg rekening met hoe die Bybel self oor die Gees praat nie.

Want in die Bybel kom die Heilige
Gees tog as ‘n selfstandige Persoon na vore, nie net as ‘n karaktereienskap van
God nie.

Die Heilige Gees word as Persoon
aangespreek, en Hy word God genoem.

 

Die godheid van die Gees blyk dus
uit hoe Hy aangespreek word, uit die Goddelike name wat Hy ontvang.

 

In die tweede plek kyk ons nou na
die Goddelike eienskappe wat aan Hom toegeken word.

 

2          Die Heilige Gees het Goddelike
eienskappe

‘n Baie duidelike Goddelike
eienskap is wat ons in Psalm 139 lees.

Vers 7 en verder: “Waar sou ek
heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U
is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van
die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my
lei en u regterhand my vashou. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my
oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U
nie donker nie...”

Wat baie duidelik uit hierdie
verse na vore kom is dat die Heilige Gees alomteenwoordig is.

En dit is uit en uit ‘n goddelike
eienskap.

‘n Skepsel kan net op een plek
tegelyk wees.

‘n Skepsel kan nie op dieselfde
oomblik woon en werk in miljoene mense se lewens nie.

Die Heilige Gees is almagtig, die
Heilige Gees is alwetend, die Heilige Gees is alomteenwoordig.

Hierdie is maar ‘n paar Goddelike
eienskappe wat die Skrif aan die Gees toeskryf.

 

In die derde plek openbaar die
Skrif aan ons die Goddelike werke van die Heilige Gees.

 

3          Die Heilige Gees verrig Goddelike
werke

Die Skrif vertel ons inderdaad baie oor al die werke van die Gees.

Soos ons in eerdere artikels van
die NGB gesien het, openbaar God Drieënig Homself in die Skrif spesifiek in die
konteks van wat die Vader, Seun en Gees vir ons doen.

So ook leer die Skrif ons oor die
werk van die Heilige Gees.

In die eerste plek kan ons dink aan
hoe die Heilige Gees aktief was by die skepping.

In Genesis 1:2 word daar na die
Gees verwys.

 “In die begin het God die hemel en die aarde
geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed,
en die Gees van God het gesweef op die waters.”

Hierdie eerste twee verse van Genesis
vorm ‘n inleiding op die skeppingsgeskiedenis wat in die daaropvolgende twee
hoofstukke beskryf word.

Mens kan nie hierdie twee verse
gebruik om te spekuleer dat die aarde as sulks op ‘n vroeër stadium tot stand
gekom het nie.

Vir so ‘n teorie gee hierdie
verse te min inligting, en dit is ook nie die bedoeling van hierdie verse nie.

Soos gesê, hulle vorm ‘n
inleiding, ‘n oorsig, van die skeppingswerk wat God in ses dae verrig het.

En die Gees van God het gesweef
oor die waters.

Ons kan dan dink aan die eienskap
en die werk van die Gees, naamlik dat Hy lewe gee, die lewensasem, dat Hy die
gelaat van die aarde nuut maak.

Die Gees wat op die waters sweef
verwys na sy skeppende aktiwiteit, wat hier begin het en in ses dae iets
ongeloofliks tot stand gebring het.

Soos aan die einde van Genesis 1
staan: dit alles was BAIE GOED.

 

In Psalm 33 word daar ook verwys
na die skeppende aktiwiteit van die Gees:

Vers 6: “Deur die Woord van die
HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.”

Die Woord van die HERE, en die
Gees van sy mond mag hier klink na onpersoonlike eienskappe van God die Vader.

Maar omdat ons nog beter ingelig
is vanuit die res van die Skrif, besef ons dat hierdie vers spreek oor die ander
twee Persone in die Drieëenheid, die Seun en die Heilige Gees.

 

Vervolgens, sedert daardie eerste
ses dae is die Heilige Gees elke dag aktief in die skepping.

In Psalm 104: 30 staan: “U stuur
u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.”

Elke nuwe babatjie wat gebore
word, is ‘n skepping waarby die Heilige Gees betrokke is.

Hy gee die lewensasem aan elke
nuwe wese op aarde.

Elke babatjie wat gebore word,
van ‘n mens, van elke dier, van elke voëltjie wat uit sy eier uitkom, van elke
insek.

En as in die lente nuwe blare aan
die bome verskyn, en ‘n menigte blomme, dan is dit ook die Heilige Gees se
werk, wat die gelaat van die aarde nuut maak.

Dit is by uitstek die werk van
die Gees, soos ons Hom in die Skrif leer ken.

Hy is die Een van nuut maak.

Hy skenk nuwe lewe.

 

Dit geld nie net vir wat ons tot
dusver genoem het, naamlik die skepping en onderhouding van alle dinge nie,

maar hierdie nuut maak geld ook
vir alles wat deur die sonde aangetas is.

Die Gees as Reiniger, Vernuwer en
Heiligmaker.

Daaroor openbaar die Skrif ons ook
baie.

Die Heilige Gees voltooi die werk
van Christus.

Christus het ons geregverdig.

Aan die kruis het Hy voldoening
gedoen.

Hy het vir ons verdien dat ons
weer volwaardig kinders van God mag wees.

Dat die verbond met ons hemelse
Vader herstel is.

 

En die Gees werk dit nou in ons
uit.

Die Skrif noem dit: ons
heiligmaking.

Hy ontsteek in ons die geloof
deur die verkondiging van die Evangelie.

Hy gee ons deel aan Christus en
sy weldade.

Hy vernuwe ons.

Hy maak ons sterk in die stryd
teen die sonde.

Hy oortuig ons van wat sonde is,
dat ons dit ook erken in ons persoonlike lewe.

Dat ons dit nie ignoreer nie.

Dat ons dit nie wegredeneer nie.

Maar dat ons ons sonde bely, en
werk maak om daarvan ontslae te raak.

Hy slyp ons gewete.

Progressief reinig Hy ons.

Sodat ons as tempels van die
Heilige Gees hoe langer hoe meer aan God toegewyd is.

 

Ons lees in Johannes 16, waar
Christus die koms van die Gees aankondig:

“Hy sal die wêreld oortuig van
sonde en van geregtigheid en van oordeel.” (Joh 16:8)

Dit is ‘n aspek van die Gees se
werk wat soms onderbelig bly.

As ons praat oor die werk van die
Gees, en oor die gawes van die Gees, dan dink ons dikwels aan ander dinge.

Soos die feit dat die Gees ons
troos – ons kom nounou daarby – of die feit dat die Gees spesiale gawes in die
lewens van gelowiges skenk.

Maar hierdie aspek van die Gees
se werk gaan daaraan vooraf, naamlik dat die Gees eers ons – opstandige mense –
moet oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel.

Hy slyp ons gewete, Hy sien toe
dat ons die sonde begin raaksien, ‘n afkeer daarvan kry, en ons begin inspan om
ontslae te raak van sondige gewoontes.

 

Hoe voel jy die werk van die
Heilige Gees?

Dis ‘n vraag wat dikwels gevra
word.

Die eerste en miskien wel
noodsaaklikste gevoel wat die Gees jou gee is: pyn, skuldbesef.

Dat jou gewete jou pla.

Dis nie vanselfsprekend dat jou
gewete jou pla nie.

Daar is baie mense op aarde wie
se gewetens hulle glad nie pla nie.

Dit is ‘n vrug van die werk van
die Heilige Gees.

Dit is die Heilige Gees se werk
as Reiniger, as Heiligmaker.

Moenie jouself laat aanpraat dat
ons as Gereformeerdes te min voel van die werk van die Heilige Gees nie.

Ten minste, hierdie bitter
noodsaaklike werking van die Gees in ons lewens, wat dikwels ‘n gevoel van pyn
en verootmoediging tot gevolg het, dit is uit en uit die werk van die Heilige
Gees.

Wie skuldig voel oor sy sondes,
wie dikwels deur sy gewete gepla word, is iemand wat vervul is van die Heilige
Gees.

 

En dan is daar ook die werk van die
Gees as Trooster.

Hy troos ons.

Hy sorg dat ons in aanvegting
altyd weer opkyk na die beloftes van die Here.

Hy sal ewig by ons bly.

Hy sal sy werk nie halfpad laat
lê nie.

Hy gaan voort totdat ons
‘eindelik ‘n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes, in die ewige
lewe, waar ons onbevlek voor God gestel sal word’ – om die doopsformulier aan
te haal.

As Hy ons oortuig van sonde en
skuld, as Hy dit vir ons pynlik duidelik maak hoe onrein ons is deur ons eie
sondes, dan los Hy ons nie daar nie, maar Hy vat ons aan die hand en lei ons na
die heerlike beloftes van die Here.

Hy is by ons, en sal altyd by ons
bly.

Hy leer ons opkyk na die hemel
waar Christus is.

Hy leer ons Christus met ‘n
brandende verlange verwag, Hy leer ons uitsien na sy wederkoms.

Hy leer ons roep: Maranata. Kom,
Here Jesus.

 

En dan is daar ook die werk van
die Gees as Vernuwer.

Soos wat Hy sorg dat ons lewens
ontslae raak van die sonde, plant Hy nuwe toewyding, en nuwe gawes in ons lewe.

Die vrugte van die Gees, soos die
Skrif dit noem.

Pleks van die werke van die
vlees, laat die Heilige Gees sy vrugte in ons lewe ryp word.

Dit is sy werk.

Gemeente, broer, suster.

Hoe vorder die Heilige Gees in
jou lewe?

Word jou lewe nog veral bepaal
deur die werke van die vlees?

Of voer die vrugte van die Gees
al die botoon in jou lewe?

Kom ek lees vir u wat die werke
van die vlees is, volgens Galasiërs 5:

“die werke van die vlees is...
owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap,
twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord,
dronkenskap, brassery en dergelike dinge”

Die vrugte van die Gees is:

“liefde, blydskap, vrede,
lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid,
selfbeheersing.”

Ons mog vandag nagmaal vier.

Ons moes onsself beproef het,
voordat ons aan tafel gegaan het.

Is die werke van die vlees nog
invloedryk in my lewe?

Of voer die vrugte van die Gees
al die botoon?

Laat ons, versterk deur die
nagmaalsviering vandag, weer met nuwe moed ons beywer om die vrugte van die
Gees te toon.

Laat Hom toe om jou te vernuwe,
moenie sy werk blus nie.

 

Tot sover die werke van die
Heilige Gees.

Sy Goddelike werke.

Uit dit wat Hy doen, word
duidelik dat Hy God is.

 

Laastens, in die vierde plek, kyk
ons nou nog na die feit dat in die Bybel aan die Heilige Gees Goddelike eer
bewys word.

 

4          Aan die Heilige Gees word Goddelike
eer bewys

‘n Vierde aspek waaruit sy
godheid duidelik blyk.

Dink aan Christus se doopbevel,
Mattheüs 28:19: “doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die
Heilige Gees”.

Dit is ‘n Goddelike eer, wat geen
mens toekom nie.

As in die ZCC, die Zionist
Christian Church, mense gedoop word in die naam van die stigter van die kerk,
en sy opvolgers, Lekganyane, is dit ‘n ernstige sonde waaraan daardie
kerkleiers hulle skuldig maak.

Daardie Goddelike eer kom hulle
nie toe nie.

Christus se bevel was duidelik:
doop hulle in die Naam van God Drieënig.

 

Goddelike eer blyk ook uit die
feit dat ons in die Heilige Gees se Naam geseën word.

“Die genade van die Here Jesus
Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees, sy met
julle almal.” (2 Kor 13:13)

Dit help nie om geseën te word in
die naam van ’n mens nie.

‘n Mens is sterflik, ‘n mens is
nie almagtig nie, ‘n mens is nie alomteenwoordig nie.

Maar die Heilige Gees wel.

 

Daarom, laat ons die Heilige Gees
aanbid.

Laat ons aan Hom die Goddelike
eer bewys wat Hom toekom.

In ons Engelse susterkerke is
daar ‘n mooi gesang wat aan die Heilige Gees Goddelike eer bewys.

Ek lees twee verse daaruit:

 

Hymn 36

“(2) Praise the Spirit who,
proceeding

From the Father and the Son,

In the truth the Church is
leading.

Let us praise Him, everyone!

Him who is both Gift and Giver,

Him the Sender sent to earth,

Holy God and yet poured forth.

Praise, O people, Him forever:

He true life to you imparts,

For He dwells within your
hearts.

 

(3) Praise the Spirit who will
never

Leave the Church by blood once
bought.

He will show His presence ever,

Fierce though be the foe’s
assault.

Fear not, flock which He is
keeping,

Though encircled by the night;

Child of God, recall His might.

Would the Spirit then be
sleeping?

Would He not securely keep

Those whom Christ bought as his
sheep?”

 

 

(2) Loof die Gees, wat van die
Vader

en die Seun het uitgegaan.

Sing almal tot Hom jul psalme,

Roep sy Naam uit, bid Hom aan.

Hy die Gawe maar ook Gewer,

Send en uitgesonde word,

God is, en word uitgestort.

Loof, o volk, die Gees van
lewe,

Hy wat skep maar ook herskep,

ook jou hart tot woning het.

 

(3) Loof die Gees, Hy sal nie
wyk nie

Van die kerk, met bloed gekoop.

Sy nabyheid sal nie kwyn nie

Hoe die vyand ook bly woed.

Vrees nie, o gesogte skape,

Vrees nie, weergevonde siel

Mog die nag jou plots betrap

Sou die Gees van God nie waak
nie?

Selfs waak Hy as almal slaap,

oor die Heer se laaste skaap.”

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)