Deur sy hemelvaart vestig Christus u geloof op die omvang van sy koninkryk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-05-14
Teks: 
Handelinge 1 : 1-11
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA
& PRETORIA, 14 Mei 2015 AD, 19:00 (Hemelvaart)

Voorsang: Sb 14:1,2

Votum

Seën

Ps 110:1,2,3

Gebed

Skriflesing: Lukas 17:20-37 &
Mattheüs 26:62-66

Ps 110:4,5,6

Teks: Handelinge 1:1-11

Preek

Sb 11:4,5,6

Gebed

Geloofsbelydenis: Nicea

Sb 27:4,5

Kollekte

Psalm 150:1,2,3

Seën

 

 

 

Preek:
Handelinge 1:1-11

Vandag is dit byna twee duisend
jaar gelede wat die Here Jesus na die hemel gegaan het.

Dit was helder oordag.

Die son het geskyn en daar was
wolke in die lug.

Die Here Jesus het saam met sy
dissipels op die Olyfberg geklim.

Dit was by Jerusalem.

Die Olyfberg is nie baie hoog
nie, ongeveer vergelykbaar met as mens hieragter op die Magaliesberg sou klim.

Van daar het Jesus toe opgevaar.

Die dissipels het Hom nog ‘n
rukkie gesien, totdat Hy agter ‘n wolk verdwyn het.

God die Vader het Hom in die
hemel opgeneem.

Toe het daar ineens twee engele
gestaan.

Hulle het vertel dat die Here
Jesus ook weer so sal terugkom.

Dit het tot dusver nog nie gebeur
nie.

Dus ons maak ‘n kans om dit te
beleef.

Miskien kom Hy binnekort terug.

Sê nou maar Hy kom binnekort
terug, wat sou jy dan vir die Here Jesus wou vra?

Wat is die eerste vraag wat u vir
Hom sou wou vra?

Miskien sou sommiges van ons wou
vra:

Here Jesus, hoekom het U eintlik
so lank weggebly?

Hoekom het u nie eerder teruggekom
nie?

 

Tema: Deur
sy hemelvaart vestig Christus u geloof op die omvang van sy koninkryk

 

Die boek Handelinge is geskryf
deur Lukas, wat ook die Lukasevangelie geskryf het.

Dit is ook aan Teofilus opgedra.

In Handelinge is geskiedenis
opgeteken.

Van ‘n antieke geskiedskrywer is
in die Romeinse Ryk verwag om ‘n betroubare verhaal te skryf.

‘Ore is minder betroubaar as oë.’

So klink ‘n bekende Latynse
spreekwoord uit die oudheid.

‘n Bekende skrywer uit die
oudheid, Lucianus, het gesê, verwysend na hierdie spreekwoord: ‘Ore is minder
betroubaar as oë. Ek skryf wat ek self gesien het, nie wat ek gehoor het nie’.

 

Uit die manier hoe Lukas die
geskiedenis in Handelinge beskryf, is dit duidelik dat hy hiermee rekening
gehou het.

Dit begin al in hoofstuk 1: die
verslag van die ooggetuies van Jesus
se hemelvaart.

Wat hulle gesien het, kan nie
afgeskryf word as blote wensdenkery nie.

Want as daar een ding was wat die
dissipels nie wou gehad het nie, dan was dit dat die Here Jesus na die hemel
sou gaan.

Dit blyk uit hulle vraag in vers
6.

“Here, gaan U in hierdie tyd die
koninkryk vir Israel weer oprig?”

Na Jesus se opstanding uit die
graf het die dissipels se ou verwagtings weer begin opleef.

Heel konkreet, dat Jesus nou die
koninkryk onder die heerskappy van die huis van Dawid gaan herstel.

‘n Ryk met minstens net sulke
groot grense as wat die land ten tye van koning Salomo gehad het.

So het hulle die profete gelees,
die Oudtestamentiese voorspellings van ‘n magtige vrederyk.

Vandaar dat die dissipels die
hemelvaart van Jesus waarskynlik as ‘n teleurstelling ervaar het.

En nie besef het dit was ‘n groot
oorwinning vir hulle Heiland nie.

Hulle het gevoel of hulle in die
steek gelaat is.

Daarom het die engele aan hulle
verskyn.

Om hulle teleurstelling aan te
spreek, hulle gedagtes op te hef, hulle harte te verhef tot die vlak van Jesus
se hemelse kroning.

Eers later sou die disspels
werklik besef wat daar plaasgevind het.

 

Ons as mense vra onsself soms af
hoekom die Here Jesus na die hemel gegaan het.

Hoekom ons Hom nie meer met ons
oë kan sien nie.

Soos toe Hy op aarde rondgeloop
het, genesings verrig het, wonders gedoen het.

Kon die Here Jesus dan nie ‘n
ander plan, ‘n ander konstruksie, uitdink nie – om dit bietjie oneerbiedig te
sê.

Dat Hy wel op aarde kon bly.

Dat Hy gewoon kon aangaan met die
pragtige werk wat Hy hier verrig het.

Dit sou mos baie meer effektief
gewees het?

‘n Jesus wat oor die wêreld reis.

Wat ook Suid-Afrika besoek, en
deur die land sou toer.

Wonders verrig, massa’s mense
lok, groot saamtrekdae organiseer in die sportstadions...

Het die dissipels nie dalk tog ‘n
goeie idee gehad nie?

Jesus het sy dissipels die opdrag
gegee om die evangelie te versprei, in Judea, na Samaria, en tot aan die
uiteindes van die aarde.

Maar sou dit nie veel beter
gewees het as Jesus saam met hulle gereis het nie?

Hoekom moes Hy nou al hemel toe
gaan?

 

Gemeente, Jesus het juis na die
hemel gegaan om ons gedagtes op ‘n hoër vlak te bring.

Sodat ons oor sy hemelse
majesteit nie aards sou bly dink nie.

Want dit was wat die dissipels
nog steeds gepootjie het.

Hulle aardse verwagtings.

Of anders gesê: hulle het te min van hulle Messias verwag.

Sê nou maar die Here Jesus sou op
aarde gebly het, sou hulle dan ooit hulle verwagtings bygestel het?

Sou hulle dan ooit op ‘n hoër
vlak begin dink het?

Drie jaar lank het hulle
rondgetrek saam met Hom, intensief onderwys van Hom ontvang.

Hulle het alles meegemaak.

Tot en met die feit dat Hy op die
derde dag uit die graf opgestaan het.

Maar ten spyte van dit alles, het
hulle hul verwagtings nie opgegradeer nie.

“Here, gaan U in hierdie tyd die
koninkryk vir Israel weer oprig?”

 

Gelukkig, eintlik, dat die Here
Jesus na die hemel gegaan het.

Hy is daar sy dissipels ten
goede.

Daardeur leer Hy sy dissipels om
nie aards te bly dink nie.

Hy het sy Heilige Gees gestuur.

Aan die Gees as Persoon kon die
dissipels hulle nie heg, soos aan die Persoon Jesus nie.

Die Heilige Gees is vir ons
menseoog onsigbaar.

Maar die Heilige Gees was beter.

Hy sou hulle begin leer om op die
hemelse vlak te dink.

Dit doen die Heilige Gees ook met
u.

Sê nou maar die Here Jesus sou op
die aarde gebly het, dan was dit nie beter vir ons nie.

Hoewel ons dalk geneig is om so
te dink.

Inteendeel.

Net soos by die dissipels sou dit
by ons tot gevolg hê, dat ons onsself heg aan die onvolmaakte.

Dat ons onsself inspan vir vrede
hier en nou, terwyl die wortel van die sonde, die angel van die kwaad, nie
weggeneem is nie.

As Jesus op aarde sou bly, sou
ons eintlik te ryk wees, met Jesus liggaamlik in ons midde.

Op ‘n verkeerde manier te ryk.

Ryk mense is dikwels konserwatief
ingestel.

Ryk mense probeer meestel om die
status quo te handhaaf.

Hulle het nie behoefte aan
verandering nie.

Hulle wil hulle rykdom en
welvaart konsolideer.

Verandering, strukturele
verbetering, is nie werklik ‘n behoefte nie.

Dieselfde het mens by die
dissipels gesien.

Hulle het hulleself skatryk
gevoel toe Jesus weer by hulle was.

Hulle wou wel dat dit altyd so
sou bly!

Die lewe was vir hulle nou
volmaak, met Jesus weer in hulle midde.

Maar, vir die Heiland was hierdie
situasie nie genoeg nie.

Daar was nog baie strukturele
verbeteringe wat moes plaasvind.

Die totale herskepping van alle
dinge.

Die koningskap oor hemel en
aarde.

En om die geloof van sy
dissispels op te tel na daardie vlak, het Hy opgevaar na die hemel.

Hy sou nie in Jerusalem plaasneem
op die troon nie, maar in die hemel.

Aan die een kant verlaat Hy sy
dissipels, maar Hy laat hulle nooit alleen nie.

Tien dae later sou Hy sy Gees
stuur, as onderpand.

 

Dit is die Heilige Gees wat die
geloof van die dissipels na die regte vlak oplig.

En ook u geloof, gemeente.

Ons leer om op lang termyn te
dink.

Om nie net uit te gaan van ons
eiebelang vir vandag nie, maar die belang van die hele wêreld, die hele
skepping.

Aangevuur deur die Gees mag ons
ons daarvoor inspan, beseffende dat ons gelei word deur Jesus Christus op die
hemelse troon.

Ons gaan nie agteroor sit en
ontspan, omdat Jesus in lewende lywe by ons is, en ons lewe dus volmaak is nie.

Nee, ons trek ons wapenrusting
aan – dink aan Efesiërs 6 – en ons word medestryders vir die koms van die
volmaakte koninkryk.

Die ryk wat alles sal omvat.

Met daardie opdrag het Jesus sy
dissipels agtergelaat:

“julle sal krag ontvang wanneer
die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel
as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (vers
8)

 

En oor die oomblik waarop die
koningskap herstel sal word, daaroor hoef die dissipels nie bekommerd te wees
nie.

Daaroor is die Here Jesus ook nie
bekommerd nie.

Daardie oomblik het die Vader in
sy eie mag bepaal.

Dit sal op die regte oomblik
gebeur.

God die Vader bepaal die
tydperke, die beslissende oomblikke in die wêreldgeskiedenis.

En wanneer dit sover is, sal dit
nie net die koningskap oor Israel inhou nie.

Dit sal internasionaal wees.

Die koningskap oor alle volke.

Dit is presies waaroor dit in die
boek Handelinge handel.

Hoe die heil, onder aanvuring van
die Heilige Gees, sy weg begin te vind na alle volke toe.

Israel sal uitreik na die volke.

Dit is die Heilige Gees self wat
hierdie beweging aan die gang sit en voort stu.

Hierin sou die dissipels ‘n
belangrike rol speel.

 

Hulle sal die getuies wees.

Die woord ‘getuie’ het ‘n vaste
plek gekry in die Christelike spraakgebruik.

Getuie wees is meer as net ‘n
verhaal vertel.

Dit is in die eerste plek om te
vertel wat hulle gesien het.

Hulle het met hulle eie oë Jesus
se optrede, sy dood, opstanding en opname gesien.

Hulle was ooggetuies.

Voortaan sal hulle die wêreld
intrek, om te getuig van Jeus.

Die woord ‘getuie’ herinner aan
die regspraak.

As getuies sal hulle optree in
die regsgeding wat Christus met die wêreld voer.

Jerusalem, Judea, Samaria en tot
die uiterste van die aarde.

Hierdie beweging is eintlik die
program van die vervolg van die boek Handelinge.

Jerusalem, dink aan die
uitstorting van die Gees in Handelinge 2.

En dan in hoofstuk 8:1 word die
oorgang van Jerusalem via Judea na Samaria gemaak.

Die evangelie in Samaria.

In die tweede helfte van hoofstuk
8 kom vervolgens die eerste verteenwoordiger van die volkerewêreld in beeld.

Die Ethiopiese minister, en
daarna die hoofman Cornelius.

So gaan dit verder...

 

Met hierdie opdrag het Jesus sy
dissipels agtergelaat.

Hy is in die hemel opgeneem,
terwyl hulle dit gesien het.

Ooggetuies dus.

Elf ooggetuies het dit sien
gebeur.

Betroubare getuies.

Hoekom betroubaar?

In die eerste plek omdat elf van
hulle dieselfde vertel het.

In die tweede plek omdat nie een
van hulle direkte persoonlike belang daarby gehad het nie.

Soos ek al eerder genoem het, dit
was die laaste wat hulle sou wou hê moes gebeur.

Die liefste sou hulle wou hê dat
Jesus by hulle gebly het.

En ook as mens die gevolge van sy
hemelvaart in ag neem, die gevolge vir hulle persoonlike lewens...

Hulle moes naamlik vanaf
Pinksterdag die wêreld intrek.

Vir hulle het daar ‘n swaar lewe
van baie ontberings voor die boeg gestaan.

Selfs spot, lyding en vervolging!

Die feit dat hulle ooggetuies was,
het nie vir hulle rykdom of rus gebring nie.

Inteendeel.

Al met al dus ‘n betroubare
getuienis.

En hulle het dit deurvertel.

Die groot nuus van Jesus se
hemelvaart.

Dat Hy deur God opgeneem is in
die hemel.

Dat ‘n wolk Hom aan hulle oog
onttrek het.

Dat dit op klaarligte dag gebeur
het, nie in die donker nie.

Ooggetuies dus.

Betroubare ooggetuies.

 

In ons teks lees ons oor die
verskyning van twee engele.

Net soos toe by Jesus se
opstanding uit die graf, is hulle nou weer aanwesig.

Op hierdie wesentlike oomblik.

Weer eens was die dissipels
getuie van iets wat hulle glad nie verwag het nie.

Maar wat tog gebeur het.

Telkens oorstyg die Messias hulle
verwagtinge.

Terwyl Jesus opvaar, stuur Hy
twee boodskappers ondertoe.

Om die gedagtes van die dissipels
in die regte bane te lei.

In onbekende gebiede het mens ‘n
gids nodig, om jou die pad te wys.

Die dissipels het op hierdie
oomblik ‘n nuwe, ‘n vir hulle tot nog toe onbekende gebied, dimensie, betree.

Maar moenie vrees nie!

“Hierdie Jesus wat van julle
opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien
wegvaar het.” (vers 11)

Die tyd wat Jesus sigbaar,
liggaamlik, aanwesig was, is nou verby.

Maar Hy sal op dieselfde manier
terugkom.

In ‘n wolk, met veel krag en
heerlikheid.

Soos Jesus dit self aangekondig
het in Lukas 21 (vers 27).

Die engele het eintlik maar net
hierdie boodskap herhaal.

Maar nou het dit des te meer tot
die dissipels deurgedring, veel meer as destyds toe Jesus dit self gesê het,
want nou het hulle Jesus met hulle eie oë sien opstyg.

En tot daardie dag, dat Hy op die
wolke terugkom, moet ons Hom verwag.

Verhef jou gedagtes, verhef jou
hart tot die hemelse werklikheid.

Want van daaruit regeer Hy.

Aangevuur deur hierdie besef kon
die dissipels hulle opdrag ter hand neem.

Eers nog wag op die Heilige Gees
in Jerusalem.

En daarna die wêreld in, in alle
windrigtings!

 

Gemeente, God is groot, altyd
groter as wat jy dink!

Dit is wat die dissipels leer
besef het.

Die beeld wat hulle oor hulle
Heiland gehad het, moes telkens aangepas word.

Na die opstanding uit die graf
het hulle gedink hulle weet nou wie Hy is.

My Here en my God, het Thomas
gesê.

Maar dus nie.

God is altyd groter.

Dit het opnuut geblyk toe Hy teen
hulle verwagtings in opgestyg het na die hemel.

Deur hierdie heilsfeit het Jeus
hulle geloof weer op ‘n hoër vlak getel.

Hulle was veral gerig, gefikseer,
op die persoon van die Here Jesus.

Maar Hy het nou uit die blikveld
verdwyn.

Die engele moes vir hulle sê:

Moenie langer na die hemel bly en
staar nie.

Moenie op Hom bly fokus as die
Seun van die mens nie.

Gaan terug na Jerusalem.

Rig jou blik weer op hierdie
wêreld.

Spring aan die werk, sodra julle
die Gees ontvang het.

 

God is altyd groter.

God Drieënig, Vader, Seun en Heilige
Gees.

Al het Hy ons verlaat, Hy laat
ons nooit alleen.

Sy godheid kan deur niks
ingesluit word nie en is orals teenwoordig.

Na sy menslike natuur is Hy nie
meer op aarde nie.

Maar na sy godheid, majesteit,
genade en Gees verlaat Hy ons nooit meer nie.

Spring met daardie besef aan die
werk.

Die besef dat jy vervul is van sy
Heilige Gees, dat sy alomteenwoordigheid jou omring.

Dat Hy terugkom in die toekoms.

Hede, verlede, toekoms, hoogte,
diepte, verdrukking of benoudheid, vervolging of honger, of naaktheid, of
gevaar, niks kan ons skei van die liefde van God, wat daar in Christus Jesus,
ons Here, is nie (Romeinde 8).

 

Hoekom het die Here Jesus na die
hemel opgevaar?

Hoekom bly Hy vir ons gevoel so
lank weg?

Hierdie vrae het ons aan die
begin van die preek gevra.

Vir die antwoord daarop hoef ons
nie te wag totdat Hy terugkom, om Hom te vra nie.

Die antwoord vind ons in sy
Woord.

Soos die tema dit verwoord: Deur sy hemelvaart vestig Christus u geloof
op die omvang van sy koninkryk.

Heel die aarde, alle volke en
nasies sal deel daarvan uitmaak.

Nie net ‘n koningskap oor Israel,
soos die dissipels gedink het nie.

Ook die Grieke, Romeine en
Egiptenare.

Ook die Franse, Duitsers, Britte
en Hollanders.

Ook die Zoeloes, Xhosas, Sothos
en Afrikaners.

Dit is die antwoord.

En selfs dan is daar nog meer.

Want in sy koninkryk is daar nie
net onderdane uit die eerste eeu nie, maar uit elke eeu.

Ook onderane uit die 21e eeu.

En hoeveel eeue die
wêreldgeskiedenis nog sal omvat, weet ons nie.

Ook Jesus nie.

Hoe lank daar nog nuwe burgers
aan die koninkryk toegevoeg sal word, dit weet die Vader alleen.

En ook dan het ons nog nie die
volledige antwoord nie.

Want met ons gewone oë sien ons
die Here Jesus nie.

Maar Hy is aanwesig.

Na sy godheid en majesteit is Hy
by ons.

Sy Gees woon in ons.

En miskien juis danksy die feit
dat jy en ek Hom nie met ons oë sien nie, juis daarom tel Hy ons geloof op ‘n
hoër vlak, die vlak van sy koninkryk.

Net soos dit by die dissipels
gebeur het.

As die Here Jesus altyd by hulle
sou gebly het, sou hulle ooit uitgestyg het bo die ek-gerigtheid van hulle
geloof?

Sou hulle ooit die bereidheid
gehad het om die evangelie ook te deel met die Samaritane, Romeine, Ethiopiërs
ensovoorts?

Maar juis deur hierdie heilsfeit,
sy hemelvaart, het die Messias hulle gedwing om daardie stap te neem.

Om op pad te gaan, van Jerusalem,
via Judea en Samaria na die einde van die aarde.

 

Gemeente, sê nou maar Jesus kom
môre terug.

Sê nou maar, kinders, julle staan
môre tydens pouse op die grasveld, en julle sien die Here Jesus terugkom, in al
sy majesteit.

Dan hoef ons dus nie meer vir Hom
die vraag te vra: Here Jesus, hoekom het u so lank weggebly nie.

Want Hy wag bloot vir die wenk
van sy Vader, as die regte tyd gekom het.

As Hy dan terugkom, dan kan ons,
pleks van hierdie vraag te vra, Hom met ‘n loflied, ja met gejuig, begroet.

En ook vanaand kan ons Hom loof,
vir die gawe van sy Gees.

Hy vestig my geloofsoë op sy
almag, op sy hemelse troon, op die omvang, die ontsagwekkende dimensies van sy
koninkryk.

Ja laat alles wat asem het, die
HERE loof!

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)