Tydens die reis van die geloof is God se straf 'n werklikheid!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-04-15
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 4
Verwysing: 
HK 4-2
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 4

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Jou tuinman is ‘n goeie tuinman; hy weet presies wanneer om wat te snoei en waar om wat te plant en hoeveel water om aan watter plante te gee. As jy nou op ‘n dag van hom sou eis om jou besigheid se boekhouding te doen, dan verstaan ons almal dat dit ‘n onredelike eis is. Hierdie goeie tuinman is nie opgelei of toegerus vir so ‘n taak nie; hy het nie die gawes daarvoor nie. In so ‘n geval kan jy hom ook nie later verwyt omdat die boeke van die besigheid in ‘n chaotiese toestand is nie. Almal van ons verstaan dit. Die saak is egter heeltemal anders as die tuinman dronk by jou huis sou aankom, en gevolglik die bossies skeef snoei en gate in die gras sny en water gooi waar hy nie moet gooi nie. Dan kan jy hom wel kwalik neem, want nou is dit sy eie skuld. Hy is ‘n goeie tuinman, maar as gevolg van sy gedrinkery het hy dit vir homself onmoontlik gemaak om sy werk na behore te doen.

Nou, met presies dieselfde redenasie weerlê die Kategismus die suggestiewe vraag of God nie dalk onregverdig is om van ons te eis wat ons tog nie kan doen nie. Want is ons dan nie soos die tuinman wat gevra word om die boekhouding te doen nie? Stel God nie dalk eise waarvoor ons nie die gawes het nie? En dan sê die Kategismus: “Nee, want ons is soos die goeie tuinman wat homself dronk gedrink het.” God het ons goed gemaak, maar deur die aanhitsing van die duiwel en deur ons eie moedswillige ongehoorsaamheid, het ons onsself van hierdie goeie gawes beroof. God is daarom nie onregverdig as Hy in sy wet van ons eis om Hom en ons naaste lief te hê nie, want so is ons gemáák! En net soos wat jy, volgens wet, die reg het om die tuinman oor sy dronkenskap te dissiplineer, so moet ons erken dat God die reg het om ons te straf – tydelik en ewig! En daarop wil ons vanaand fokus.

Tema: Tydens die reis van die geloof is God se straf ‘n werklikheid!

  1. Die tydelike straf
  2. Die ewige straf

 

1. Broers en susters, dit is altyd weer ‘n vraag wat na vore kom onder gelowiges: “Straf God ook vandag nog soos wat Hy in die Ou Testament gestraf het? Is daar ook vandag nog iets soos God se direkte, tydelike straf?” Want dit is die eerste soort straf waarna die Kategismus in antwoord 10 verwys: “Hy wil dit tydelik en ewig met ‘n regverdige oordeel straf.” Was my motor-ongeluk ‘n straf van God? Is my siekte God se straf oor ‘n sekere sonde in my lewe? Kan ons siekte en dood in die gemeente terug-herlei na ‘n sondige lewenstyl onder lidmate? Is my egskeiding of die opbreek van ons verhouding dalk die straf op ‘n sonde in my lewe? Hou ons finansiële moeites moontlik verband met ‘n straf van God?

Te maklik reken Nuwe Testamentiese gelowiges dat God se direkte straf op ‘n spesifieke sonde iets van die Ou Testament is, en dat die soort gebeure wat ek sopas genoem het, slegs beproewings is – “God wil daardeur my geloof versterk, maar dit kan mos nie ‘n refleksie op iets in my lewe wees nie?” En sonder om verder daarby na te dink, maak ek die gebeure in my lewe los van my lewe self, asof daar nooit ‘n verband tussen dié twee is of kan wees nie. Ja, by die laaste oordeel is die verband vir almal duidelik – wie nie in geloof in Christus en in gehoorsaamheid aan sy wil gelewe het nie, sal die ewige straf ontvang. Maar kan ons in dít wat vandag in ons lewens gebeur ‘n direkte verband raaksien tussen sonde en straf?

 

Wel, gemeente, dit wil voorkom asof die Hebreërskrywer inderdaad so ‘n verband lê, asof hy wil sê dat God ook vandag nog in die tyd straf. Vanaf hoofstuk 10:19 is die Hebreërskrywer besig om sy lesers op te roep om te volhard in die geloofsreis waarmee hulle besig is. Ja, saam met baie generasies van gelowiges wat ons voorgegaan het – en waarvan die bekende hoofstuk 11 ons vertel – is ons oppad na die hemelse Jerusalem. En omring deur hierdie menigte geloofsgetuies word ons opgeroep om met volharding die wedloop te loop (12:1) – dit is asof hierdie geloofsgetuies op die pawiljoene van die atletiekbaan sit en ons aanmoedig om vol te hou; dit is die beeld wat die Hebreërskrywer hier gebruik.

Maar, gemeente, hierdie wedloop na die hemelse heiligdom en na die stad wat nie deur mensehande gebou is nie, vra ons insette. Dit vra, volgens vers 1, dat ons alle laste van ons sal afwerp, in besonder die las van die sonde wat ons afrem en laat struikel. Die gevaar is immers reëel dat ons tydens die wedloop onbewustelik die sonde saam met ons sleep. ‘n Atleet sal nooit daaraan dink om ‘n betonblok saam met hom te sleep tydens die wedloop nie, maar so maklik sleep ons die sonde saam met ons op ons geestelike wedloop. En daarom die oproep in vers 1 om die sonde af te lê. En hierdie oproep is dringend omdat die Hebreërs, volgens die skrywer in vers 4, nog nie ten bloede toe weerstand gebied het in hulle stryd teen die sonde nie. Dit wil voorkom asof die Hebreërs die stryd teen die sonde halfhartig gevoer het, asof hulle terug gedeins het vir ‘n stryd wat hulle te veel gaan kos.

 

En dit is in daardie lig dat die Hebreërskrywer dan in verse 5 en 6 vir sy lesers aanhaal uit Spreuke 3, om daardeur vir hulle te wys dat hulle halfhartigheid die rede is waarom hulle deur die Here getugtig en bestraf word. Daar is sondes in hulle lewens waarteen hulle nie bereid is om die stryd aan te gaan nie. En daarom straf die Here hulle, Hy tugtig hulle. Máár – let wel! – Hy straf hulle as sy kinders. Tugtiging en straf in die gelowiges se lewens, is altyd die bewys van ‘n Vader-kind verhouding! Want, sê vers 8, sonder tugtiging is julle onegte kinders en nie seuns nie. God se straf en tugtiging is dus die bewys van die Hebreërs se kindskap!

Aardse vaders doen dit mos ook – hulle straf ook uit liefde hulle kinders. In die geval van aardse vaders, soos u en ek, is dit tydelik en gebrekkig. Aardse vaders het grense; hulle tyd en hulle insig is beperk, hulle doen hulle werk van opvoeding en tugtiging so goed as wat hulle kan (“na hulle beste wete”, soos wat vers 10 dit stel). Maar die hemelse Vader doen dit nie na sy beste wete nie, maar tot ons beswil! Die almagtige en alwetende God sorg daarvoor dat sy leiding van ons lewens, ook wanneer Hy ons straf, altyd ten goede is. En natuurlik, hierdie straf en tugtiging voel nie altyd lekker nie, ons hou nie altyd daarvan nie – die Hebreërskrywer verstaan dit (vers 11). Maar uiteindelik bring dit vrede en geregtigheid voort, en laat dit ons deel in die heiligheid van God.  

 

Dus, broers en susters, hierdie hele uitwyding van die Hebreërskrywer oor die tugtiging en straf van die Here, waarmee hy die Hebreërs opnuut wil aanspoor tot volharding in die wedloop, dit bewys vir ons dat God nie slegs ewig straf nie, maar ook tydelik; Hy straf nie slegs eendag nie, maar ook vandag alreeds. Want daar is sekere dinge in die gelowiges se lewens wat nog nie reg is nie, daar is steeds sondes in ons lewens. Knaende sondes, sondes wat ons van die Here aftrek, sondes wat ons laat verslap in ons geloofsreis, sondes waarteen ons later nie eens meer wil stry nie. En God kán in sy volmaakte wysheid besluit om sy straf oor daardie sondes in ons lewens te laat kom, sy tugtiging. God kán besluit om die kinders wat Hy liefhet baie hard te slaan. Dit is ‘n werklikheid wat ons nie kan ontken nie.

En natuurlik staan God se tydelike straf oor die lewens van sy kinders altyd binne die groter konteks van die reis na die nuwe Jerusalem (dit is die konteks waarbinne die Hebreërskrywer hierdie strawwe plaas). Natuurlik het God se straffende geregtigheid oor sy kinders nie die bedoeling om ons dood te maak nie, maar om ons voort te help op die pad van die geloofsreis. Vir die gelowiges is God se strawwe oor ons lewe soos oefenmomente – in die wedloop van die lewe is die Here ons Afrigter, en gereeld moet Hy sy atlete dril en aan hulle fiksheid werk. En daarmee wil Hy bereik dat ons die slap hande en die verlamde knieë weer sal oprig (vers 12), en dat ons sal najaag die vrede met almal en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie (vers 14). Máár dit alles in ag genome, moet ons nogtans nie maak asof gelowiges nie onder God se strawwe kan staan nie, asof kinders van die Here nie soms die hitte van sy toorn van baie naby kan ervaar nie. As dít wel so sou wees dat ons vandag nie meer onder God se strawwe kan staan nie, dan moes ons ons kindskap begin bevraagteken het, dan moes ons begin wonder het óf ons nog ‘n liefdevolle Vader het. Want net soos aardse vaders hulle kinders straf omdat hulle só ontsaglik lief is vir hulle (hoewel ons kinders nie oortuig is daarvan nie), net soos wat ons ons kinders op ‘n gesonde manier ‘n pakslae gee (soos wat ek hoop ons nog bereid is om te doen), soveel te meer straf ons hemelse Vader sy kinders uit liefde en ten goede. In hierdie lewe kan daar dus ‘n direkte verband wees tussen ‘n sonde in my lewe en ‘n straf van God daaroor.

 

Maar dan ontstaan vervolgens die vraag: hoe moet ons hiermee omgaan? Hoe moet ek God se straf in my lewe identifiseer? Is elke slegte dinge, elke siekte, elke swaarkry, elke ongeluk, elke dood die straf op ‘n spesifieke sonde? Nee, gemeente, die Bybel praat baie meer genuanseerd daaroor. Ons kan maar net na drie bekende gevalle in die Bybel kyk om te sien dat ons baie versigtig hiermee moet omgaan.

Dink aan Job – daardie ryk man met die baie kinders, wat in een dag al sy goed verloor het. Wat was die rede hiervoor? Was daar ‘n spesifieke sonde in Job se lewe? Nee, gelukkig vertel die Woord self vir ons wat die agtergrond van hierdie swaarkry in Job se lewe was – dit het hier gegaan oor ‘n stryd tussen die Here en die satan. Die Here wou aan die satan bewys dat sy kneg Job in Hom glo, nie omdat hy soveel rykdom en oorvloed besit het nie, maar omdat die Here hom daardie geloof gegee het en hom ook daarin staande sal hou, ook al vat satan alles van hom af weg. Dus, geen spesifieke sonde nie!

Dink vervolgens aan die blindgebore man in Johannes 9 – dit is nie eens vir ons nodig om die vraag te stel of daar ‘n spesifieke sonde in hierdie man se lewe was nie, want die dissipels doen dit sommer namens ons: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” En dan antwoord Jesus: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werk van God moet in hom openbaar word.” Sien u? Weereens is hierdie gebeure nie gekoppel aan ‘n spesifieke sonde nie, maar laat God sekere dinge in hierdie man se lewe toe, sodat Hy daardeur verheerlik kan word. En dit kan vir ons baie moeilik wees om dit te verstaan en te aanvaar, dat God ons deur moeilike tye laat gaan sodat Hy daardeur verheerlik word. En tog is dit wat Jesus ons hier leer.

Maar dink ten slotte ook aan wat ons lees van die nagmaalspraktyke in die gemeente van Korinthe (1 Korinthiërs 11) – daar het die nagmaalsviering lelik skeef geloop en die selfondersoek het agterweë gebly, sodat verskeie lidmate op onwaardige wyse geëet en gedrink het. En dan maak Paulus die gemeente attent op wat daar gevolglik in hulle eie midde gebeur het: “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap” (1 Kor. 11:30). Hier kan dus wél bepaalde gemeentelike sondes aangewys word as direkte oorsaak vir siekte en dood in die gemeente. Selfs in die Nuwe Testament kan God konkrete sondes direk straf.

 

Nou, broers en susters, my en jou taak is nie om die verband tussen sonde en straf in die ander se lewe te gaan soek nie; om te sê: “Kyk wat het gebeur, daar moet darem maar ‘n verskriklike sonde in jou lewe wees.” Want dan klink ons net soos die inboorlinge op die eiland Milete wat onmiddellik, toe die slang Paulus gebyt het, tot die gevolgtrekking gekom het: “Hierdie man is beslis ‘n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie…” (Hand. 28:3-4). Ons mag nie bygelowig omgaan met die verband tussen sonde en straf nie. Uiteraard, ons kan mekaar hierin help, ons kan vir mekaar vrae stel en sê: “Hierdie en daardie het onlangs in jou lewe gebeur, hoe kyk jy daarna? Het dit jou tot selfondersoek gebring? Wat was die uitslag van daardie selfondersoek?” Dit is moontlik. Maar dit is nie die belangrikste nie.

Die belangrikste is dat ek my eie lewe sal ondersoek. Dat ek die gebeure in my lewe nie maar net sal afmaak as ‘die gang van die lewe’ of as ‘bad luck’ nie. Dinge ‘gebeur’ nie maar net in ons lewens nie, broers en susters; die diepste oorsaak vir my motor-ongeluk is nie die ander motoris wat deur die rooi lig gery het nie; die onderliggende rede vir my siekte is nie maar net dat ek dit van my pa oorgeërf het nie. Nee, die Here is in my lewe besig! Laat ons daarom baie bewustelik lewe en erken dat God in my lewe regeer. En as Hy regeer, dan kán daar tye wees dat die Here my straf, en dan is dit moontlik om deur die werk van die Gees daardie verband te lê – die verband tussen ‘n spesifieke gebeurtenis en ‘n spesifieke sonde, of die verband tussen ‘n spesifieke gebeurtenis en die algemene louheid van my geloofslewe. En dan behoort dit my te bring tot verootmoediging en bekering voor die Here.

Antwoord 10 leer ons dat God die erfsonde en die sonde wat ons self doen nie ongestraf laat bly nie. Sy toorn daaroor is verskriklik. Hy straf ons sonde, soms óók tydelik. God is werklik in ons lewens besig – verlossend deur Jesus Christus, maar soms ook straffend. Bid die Here vir geloof en nederigheid om te kan raaksien wanneer Hy jou straf; bid dat die Here jou sal help om die verband raak te sien wanneer Hy jou vir iets spesifieks straf. Want, leer die Hebreërskrywer ons, dit sal jou help om te groei in die geloof; dit sal jou toerus vir die reis na die hemelse Jerusalem.

In die tweede plek let ons ook nog op die ewige straf.

 

2. Ons het dus gesien hoe God tydens die reis van die geloof met sy kinders omgaan – soms straf Hy ons om ons te oefen in die geloof. Maar ons moet ook nog let op die einde van die reis. Wat wag aan die einde vir ons? Nou, broers en susters, om sy lesers iets van die reisdoel te laat beleef, vat die Hebreërskrywer hulle eers saam terug na die Sinai. Hy laat hulle iets proe van die ontsagwekkende teenwoordigheid van God op die Sinai, en van die verskrikking wat die volk daar deurgemaak het – die effek van die brandende vuur en die donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank was dat die volk nie durf nader kom het nie en dat Moses van skrik verstyf het (verse 18-21). Daarteenoor plaas die Hebreërskrywer dan die Sionsberg, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, die feestelike vergadering en die gemeente van die uitverkorenes, en belangrikste van alles: Jesus, die Middelaar van die nuwe testament (verse 22-24). En die punt van vergelyking tussen Sinai en Sion is die toeganklikheid van God se nabyheid – op die Sinai was God se nabyheid eintlik baie ontoeganklik, skrikwekkend, sodat die volk op ‘n afstand bly staan het. Maar die stad Sion, daarenteen, bied ‘n vriendelike welkom te midde van engele en heiliges, danksy Jesus as die middelaar. Daar mag ons met vrymoedigheid naderkom.

 

Maar, sê die Hebreërskrywer, hierdie vriendelike toeganklikheid deur Jesus Christus is nog geen rede tot onverskilligheid nie; ons het dit nie ewe skielik makliker as die volk by die Sinai nie. Inteendeel, die vrymoedigheid om tot God te nader, maak die oproep des te sterker om dan ook werklik nader te kom, en om Hom wat spreek nie af te wys nie. Ons weet uit die geskiedenis van die volk se reis deur die woestyn wat gebeur het met diegene wat die Here se stem deur Moses afgewys het. Maar vandag spreek God nie meer deur Moses nie, nee, Hy het Homself finaal geopenbaar in en deur Jesus Christus. Dit is steeds dieselfde God, maar Hy klink vandag deur sy Seun. Dit is soveel groter en ernstiger! Destyds het God die Sinai laat bewe, maar daar kom ‘n tyd dat hemel én aarde geskud sal word en die wankelbare deur die onwankelbare vervang sal word. Dan sal wie in Jesus glo die onwankelbare koninkryk met dankbaarheid ontvang. Máár wie die stem van Jesus afgewys het, sal val in die hande van die lewende God, en Hy is verterende vuur (vers 29). Dit is waar, die blokkades van die Sinai het weggeval, maar Jesus se stem dwing ons selfs tot nog meer ontsag en tot groter gehoorsaamheid as by die Sinai. Want Jesus se stem is die enigste manier hoe ons aan die verterende vuur van God se ewige oordeel kan ontkom.

 

Ja, gemeente, dít is die twee moontlikhede wat daar aan die einde van die lewensreis vir alle mense wag – die vriendelik-winkende hemelse Jerusalem, die feestelike vergadering óf die verterende vuur van God se oordeel. Uit onsself verdien elke mens laasgenoemde, verdien elke mens om in die verterende vuur die ewige straf aan liggaam en siel te verduur. Daar is net een uitkoms: Jesus Christus! En daarom die oproep in vers 25: “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie.” Hom wat spreek – dit is Jesus Christus, wat in die prediking van die evangelie na jou toe kom. Elke week preek ons, elke week spreek Jesus. En wat maak ons met sy spreke? Wat doen jy met die preek? Hoe maak jy die boodskap konkreet in jou lewe? Ons is nie meer by die Sinai met vuur en donkerheid en storm nie, dis waar, maar Jesus se stem behoort ons nogtans tot die grootste ontsag te dwing. Hoe jy met die prediking omgaan, is van die grootste belang. Dit behoort ons op ons knieë te dwing. Terdood-veroordeelde sondaars mag luister na die lewende God – hoe klein word ‘n mens dan nie? En dan vra ons saam met die Jode in Handelinge 2: “Wat moet ons doen, broeders?” En dan bring Petrus hulle na Jesus Christus. Hy is ons enigste amnestie, ons enigste vrywaring teen die ewige oordeel wat ons verdien. Sy liggaam en bloed is ons enigste beskerming teen die verterende vuur.

 

Gemeente, salig is elkeen wat onder God se tydelike strawwe gebrei en gevorm word, wat deur sy tydelike strawwe geleentheid gegee word vir bekering en nuwe lewe. Sien dit raak, gryp dit aan. Maar wee elkeen wat blind is vir God se hand in sy lewe, en wat hom nie daardeur tot geloof in Jesus Christus laat bring nie. Vir hom wag die ewige straf, waarvan niemand meer geleentheid kry om terug te keer nie.

Daarom: pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie. Gaan na Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof. Hy is daar om ons te lei tydens die reis, Hy is daar om ons te vervolmaak by die einde. Let op Hom en moenie in julle siele vermoeid word en verslap nie. Hou jou oog op Hom, en loop met volharding die wedloop wat voor jou lê. Rig die slap hande en die verlamde knieë weer op. Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie. Op jou merke, gereed, gaan – deur die genade van Christus en deur die krag van sy Gees! Die Here sal jou seën en jou behoed.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Psalm 82

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Geloofsbelydenis

  • Kort nagmaalsformulier
  • Sing terwyl tafel in gereedheid Ps. 30:2 en 3
  • Voltooi formulier ná viering
  • Sing Ps. 30:7 en 8

Lees: Hebreërs 12

Teks: HK, Sondag 4

Preek

Amenlied Ps. 38:1, 2, 8 en 17

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 31:2 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)