Teenoor spottende skeptisisme, roep die Skrif op tot gelowige verwagting van die wederkoms

Teks: 
II Petrus 3 : 1-13
Datum: 
2017-06-11
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 11 Junie 2017 AD, 10:15

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 9:4-7

Wet

Ps 76:1,2

Gebed

Skriflesing:
2 Petrus 3

Ps 90:2,3

Teks: 2
Petrus 3:1-13

Preek

Ps 9:8-10

Gebed

Kollekte

Ps 36:2,3

Seën

Preek: 2 Petrus 3:1-13

Deur alle
eeue heen het die mense al probeer om die toekoms te voorspel. In ons tyd is
daar organisasies en regerings wat die mense probeer waarsku teen
aardverwarming. Hulle skets ‘n soort doemscenario wat gaan lei tot groot
droogtes op een plek, en groot oorstromings op ‘n ander. Tog is daar baie
onenigheid tussen wetenskaplikes en beleidsmakers wat die oorsaak van die
aardverwarming is. Deur die eeue heen was daar al tye van opwarming en tye van
afkoeling.

Wat mens
egter nie hoor nie, is dat regerings die mense waarsku vir dit wat wel oor die
toekoms bekend is nie. Selfs regerings van voormalig Christelike lande, sal nie
meer hulle bevolkings waarsku vir die oordeelsdag nie. 

Dit lyk of
hierdie inligting vir die wêreld irrelevant geword het. Hoe kyk ons as kerklede
na die toekoms? Is die wete dat Christus gaan terugkom, vir ons net teoretiese
kennis, terwyl vir elke dag se lewe ons nie daarmee rekening hou nie?

Is die wete
dat Christus se wederkoms ‘n ingrypende, ja katastrofale gebeurtenis sal wees
vir die huidige wêreldorde, het dit enige invloed op hoe ons leef, en watter
besluite ons vir die toekoms neem? Niemand van ons kan die toekoms voorspel
nie. Maar wat ons in die Skrif lees, soos hier in 2 Petrus, dit is wel
vasstaande gegewens oor die toekoms. Ons weet nie wanneer presies nie, die
wederkoms sal begin soos ‘n dief in die nag.

Maar dat dit
gaan gebeur, dit staan vas.

Teenoor spottende skeptisisme, roep die Skrif
op tot gelowige verwagting van die wederkoms

1 Die belofte van die wederkoms is volgens
die spotters irrelevant

2 Die belofte van die wederkoms is volgens
die apostel bepalend

 

 

1 Die belofte van die wederkoms is volgens
die spotters irrelevant

Kom ons
verfris eers ons geheue oor die agtergrond van die tweede Brief van Petrus. ‘n
Paar weke gelede het ek ‘n preek gehou oor die eerste twee hoofstukke. Petrus
se primêre rede vir die skryf daarvan was om die die gelowiges teen die
dwaalleraars te waarsku. Petrus maak gebruik van drie voorbeelde uit die Ou
Testament om die valse leraars te waarsku:  Moenie dink God praat net, maar dat niks sal
gebeur nie! Die eerste voorbeeld: dink aan die engele wat gesondig het. Hulle
is nie deur God gespaar nie.

Die tweede
voorbeeld: dink aan hoe God die ou wêreld met die sondvloed gestraf het. Net
Noag en sewe ander is gered.

En die derde
voorbeeld: dink aan hoe God die stede Sodom en Gomorra tot as verbrand het. Hy
het hulle tot ‘n voorbeeld gestel, vir almal wat hulle in die toekoms goddeloos
sou gedra. Net die regverdige Lot is gered.

Die
gevolgtrekking – die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos.

Terselfdertyd
word die onregverdiges vir die dag van oordeel bewaar, om dan gestraf te word. Hierdie
drie voorbeelde uit die Ou Testament beklemtoon dat die bedreiging van oordeel
nie net leë praatjies is nie!

Die valse leraars
en die spotters (2 Petr 3:3) was hulle wat die verwêreldliking goedgekeur en
goedgepraat het. Hulle het geen probleem gehad met die losbandigheid nie. Dat
daar geen verskil meer sigbaar was tussen ‘n gelowige se lewe en ‘n wêreldse
lewe nie. Petrus waarsku teen hulle wat die verwêreldliking gelate, oogluikend
toestaan, ja dit in sommige gevalle selfs met soveel woorde goedpraat. Wat ‘n kompromis aangaan tussen Christen wees, maar
tog nog ‘n wêreldse lewensstyl wil handhaaf.

Die weg van
die waarheid – dit is ‘n uitdrukking vir die kerk. As die kerk soos twee
druppels water op die wêreld begin lyk. As daar nie meer ‘n ooglopende, ‘n
opvallende verskil is, tussen hoe die wêreld lewe, en hoe die gelowiges lewe
nie.

Petrus
waarsku teen ‘n wêreldse lewensstyl. Petrus wys ook die regte koers aan.

Om die
vrugte van die Heilige Gees te dra: deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid,
godsvrug, broederliefde, naasteliefde. Hierdie vrugte van Christus se Gees se
werk, skryf Petrus, is nie opsionele ekstras nie. Hulle wat gered is, moet
hulle daarvoor inspan!

Petrus, wat self
Christus se heerlikheid aanskou het, besef des te meer wat ons te wagte staan
by die wederkoms. As Petrus in hoofstuk 1:16 skryf: ons het nie kunstig
verdigte fabels nagevolg, toe ons julle die koms van ons Here Jesus Christus
bekend gemaak het nie, dan dui Petrus hier spesifiek op sy wederkoms!

Dit sal ‘n
kragtige koms wees! As jy dit besef, dat jy oog tot oog te staan gaan kom met
sy majesteit en heerlikheid, dan sal jy twee keer dink om nou in die hede oor
te gaan tot ‘n wêreldse lewenstyl! As sy wederkoms vir jou ‘n realiteit is, sal
dit jou op die regte spoor hou.

 

Nou in
hoofstuk 3 skryf Petrus verder oor die realiteit van die wederkoms.

Dat dit baie
aktueel was, blyk daaruit dat sommiges aan die belofte van die wederkoms begin
twyfel het. Petrus sien dit as sy taak, hy sal nie nalaat om hulle te herinner
nie. Dit is veral pastorale besorgheid, wat hom hiertoe bring.

In hoofstuk
3 noem hy sy lesers vier keer ‘geliefdes’ – daaruit bly sy pastorale
bewoëndheid. Hy waarsku teen mense wat skepties geraak het. Mense wat hulle
afvra wat van God se belofte tereg gekom het. ‘n Belofte wat vir hulle
irrelevant geraak het vir elke dag se lewe. Petrus se antwoord is onomwonde. God
se belofte het nie vertraging opgeloop nie. Maar God wag nog steeds vir mense
om hulle te bekeer. Dus, die belofte van Christus se wederkoms is en bly
betroubaar.

Hierdie is
die primêre rede hoekom Petrus sy tweede brief skryf. Om die gemeentelede
wakker te hou. Wie aan die slaap begin raak, dink nie meer helder nie. Om te
bly wag op die koms van die koninkryk, vereis ‘n suiwer tydsbesef en ‘n
duidelike normbesef.

Petrus bou
sy pleidooi op twee pilare. Die eerste is die woorde van die heilige profete. Ons
dink hier aan die profete van die Ou Testament. Hulle profetiese woord het in
die kerk van die nuwe bedeling blywende gesag. Die tweede pilaar is die
onderwys van die apostels. Dit wat hulle van Christus self geleer het.

Daarom,
omdat dit van Christus self kom, moet elkeen bereid wees om die bevel van die
apostels te gehoorsaam. Omdat hulle praat namens die groot Profeet, die hoogste
Profeet en Leraar, het hulle woorde dieselfde goddelike gesag as die profete
van die Ou Testament. Hierdie twee pilare vorm saam die fondament van apostels
en profete, soos Paulus dit skryf in Efesiërs 2:20, met Jesus Christus as
hoeksteen.

Petrus wys
die gemeentelede daarop dat die laaste fase van die geskiedenis begin het. Wat
Petrus hier skryf, stem ooreen met wat hy by sy leermeester, die Here Jesus,
self geleer het. Dink aan Christus se profetiese rede (Mattheüs 24-25). In die
laaste dae ...

Hierdie
uitdrukking – in die laaste dae – is ‘n vaste term vir die bedeling van die
nuwe verbond. In die laaste dae sal hemel en aarde verbygaan, die sterre sal
van die hemel val (Matt 24:29). “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my
woorde sal nooit verbygaan nie.” (Matt 24:35)

Wat Petrus
hier skryf, stem ook ooreen met die onderwys van die apostel Paulus. Later in
die hoofstuk wys Petrus eksplisiet daarop, en waarsku hy die tweede generasie
gelowiges om goed na Paulus te luister. So skryf Paulus byvoorbeeld in 1 en 2
Thessalonisense oor die wederkoms van Christus.

Die feit dat
spotters hulle opwagting gemaak het, is ‘n teken van die tye, ‘n bewys dat die
geskiedenis in ‘n gevorderde stadium verkeer. Kenmerkend vir ‘n spotter, as
mens na die Ou Testament kyk, is dat hulle met hulle woorde God se oordeel
openlik in twyfel trek (vgl Jes 28:14-22; Jer 5:11-14; Mal 3:13-15 & 4:1).

En met hulle
dade wandel hulle na hulle eie begeerlikhede, en slaan die apostoliese bevel om
heilig te lewe in die wind (2 Petr 2:18).

Met hulle
woorde vra hulle spottend: waar bly die belofte van sy koms?

Die vaders –
die aartsvaders en al die voorgeslagte in God se volk, en nou ook al die eerste
generasie Christene het reeds gesterf – en alles bly maar net weer dieselfde
soos van ouds. Immers, alles bly maar net soos dit was van die begin van die
skepping af. Daar het nog niks op aarde verander nie.

Die tweede
generasie Christene het skepties geraak. Hulle het nie veel meer van God se
ingrype verwag nie. Hulle het hulle openlik afgevra of Christus nog wel sal
terugkom. Dit was iets wat vir hulle irrelevant geraak het. En, soos Calvyn dit
noem, met hierdie ontwikkeling mik Satan vir die keel van die kerk. Want as Satan
dit regkry om die kerk se geloof in Christus se wederkoms weg neem, dan sny hy
die kerk se keel af. As die kerk nie meer die wederkoms verwag nie – Maranata! –
as die belofte van die wederkoms irrelevant geraak het vir vandag se lewe – dan
gaan die kerk tot niet. Dan assimileer die kerk aan die wêreld, wat dink dat
alles maar net sal voortgaan.

Net soos die
profete in die Ou Testament ook al gekonfronteer is met die feit dat mense nie
meer bang was vir God se oordeel, vir die dag van die HERE, nie.

Petrus
weerlê egter die lewenshouding van hierdie spotters, sien verse 5-7.

Willens en
wetens gaan hulle aan die feite verby. Alles was nie altyd dieselfde nie. Dis
God wat deur sy Woord die aarde uit die waters te voorskyn laat kom het. Dink
aan die tweede en derde skeppingsdae. Op die tweede dag het God skeiding gemaak
tussen die water bo en onder. En op die derde skeppingsdag tussen see en land. So
het die HERE, deur sy wilsbesluit, die aarde te voorskyn geroep. En die hele
balans van water en land is nog steeds in sy hand, dis nie vanself, dis nie ‘n
outomatiese saak nie.

Sodra God
besluit om hierdie balans weer te versteur, dan gebeur daar rampe.

Dan kom sy
oordeel. Dink aan die sondvloed. Van bo af en van onder af het God die aarde
oorspoel met ongekende hoeveelhede water. Die kosmiese skeidings tussen water
en land het Hy toe opgehef, as uitvoering van sy oordeel. En so het die
toenmalige wêreld ten onder gegaan. Dus laat dit duidelik wees – want dis wat
Petrus wil sê – alles was nie altyd al dieselfde nie, en alles sal nie altyd
bly soos dit nou is nie. Deur ‘n woord te spreek kan die HERE weer die
teenswoordige wêreld op sy fondamente laat wankel. God sal nie toelaat dat die
spotters, die goddelose mense, die aarde vergoed in beslag neem nie. Die
huidige wêreld sal in vlamme opgaan. By sy finale oordeel sal Hy die aarbodem
suiwer van alle goddelose mense, en dan sal Hy nuwe hemele en aarde te voorskyn
roep, waarin geregtigheid sal woon. Net soos die generasie voor die sondvloed
blind was vir die naderende oordeel, so is die spotters dit nou ook.

Soos die
sondvloed, die wateroordeel die eerste wêreldperiode tot niet gemaak het, so
sal die vuuroordeel die huidige wêreldkonstalleasie tot ‘n einde bring.

(Teenoor
spottende skeptisisme, roep die Skrif op tot gelowige verwagting van die
wederkoms

 

1 Die
belofte van die wederkoms is volgens die spotters irrelevant)

2 Die belofte van die wederkoms is volgens
die apostel bepalend

Juis daarom,
skryf Petrus, moet die gelowiges nie dink dat God sy oordeel afgestel het nie. Petrus
verwys hier na Psalm 90: duisend jaar is in God se oë soos die dag van gister,
nie meer as ‘n nagwaak nie. Duisend jaar soos een dag.

Een dag soos
duisend jaar. God se kalender lyk anders as die mens s’n.

Uit menslike
oogpunt mag dit lyk of God dinge vertraag. Maar in God se kalender is daar nie
van vertraging sprake nie. Hy wag geduldig op sy kinders, soos die vader op die
verlore seun wat weggeloop het. Hy het ‘n groot geduld.

Dit is ‘n
karaktereienskap van die Ewige. Gelukkig duur dit lank voordat sy toorn
ontbrand (Ex 34:6). Die feit dat die huidige wêreld vol goddelose mense nog
bestaan, is slegs te danke aan sy geduld.

In sy geduld
skep God ruimte in die tyd, waarin mense nog die geleentheid kry om hulle te
bekeer. In die dae van Noag het God ook ‘n afwagtende houding aangeneem. 100
jaar voor die tyd het Hy hulle al gewaarsku. Toe het mense ook gedink God se
waarskuwing was irrelevant. Maar uiteindelik was God se woorde wel bepalend, en
hulle het dit agtergekom ook. Wat dus uit menselike oogpunt op vertraging lyk,
is in werklikheid ‘n bewys van goddelike geduld met mense.

God se
geduld is ‘n voortdurende appèl op mense. Hy is lankmoedig en wil nie dat
sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Hier is nie
sprake van ‘n heilsuniversalisme nie. Soos Calvyn die so raak verwoord, Petrus
wys hier nie op God se verborge wil nie, maar op sy geopenbaarde wil.

Bekering is
iets wat nòg gedwonge nòg outomaties plaasvind. Die Here se geduld bied mense
wel die geleentheid tot omkeer. God se geduld is egter ook nie eindeloos nie. Van
uitstel kom afstel. Daarom, wees gewaarsku, die dag van die Here sal kom, soos
‘n dief in die nag.

En net soos
die sondvloed die aarde se voorkoms permanent verander het, so sal dit ook op
die jongste dag wees. Hierdie dinge – word daar in vers 11 gesê – sal vergaan. Hierdie
dinge dui op die hele huidige opset van hemele en aarde. Dat die meervoud hier
gebruik word, wys daarop dat die mense destyds geweet het dat die wêreld bo ons
koppe uit verskillende lae bestaan. Daar is die hemel van wolke, winde en reën.
Dis die eerste hemel. Daarbo is die ruimte van son, maan en sterre. Dis die
tweede hemel.

En dan is
daar die hemel waar God se troon is. Die derde hemel. Soos aarde en hemele met
die sondvloed drasties verander het – want vir sover ons kan nagaan, het die
seisoene na die sondvloed ‘n werklikheid geword; die seisoene wat veroorsaak
word deur die son en maan, die stand van die aarde ten opsigte van die son, die
lugstrome (‘jetstream’) en die groot strome in die oseane – soos die sondvloed dus
die aansien van die hemele en aarde ingrypend beïnvloed het, so sal dit ook op
die jongste dag wees. As in vers 11 staan – hierdie dinge sal vergaan, kan mens
ook vertaal, hierdie dinge sal verwoes word, of geruïneer word. Petrus lê klem
op die ingrypende, die katastrofale aard van wat gaan gebeur. Juis om daardie
mense op te skrik, wat met die houding leef asof alles altyd dieselfde was en
ook altyd dieselfde gaan bly. Dink terug aan die sondvloed. Dit was tereg
katastrofaal. Die koms van die dag van die Here gaan eweneens katastrofaal
wees! Vuur en vlamme wat hemelhoog gaan wees. Die sterre sal ontwrig word, uit
hulle bane raak, na benede dwarrel soos herfsblare.

Wat die aarde
betref, herinner Petrus aan wat met Sodom en Gomorra gebeur het. God se oordeel
oor die goddelose mense. Dit is soos ‘n huis wat tot die grond afbrand, wat
daarna gesloop moet word, sodat daar iets nuuts gebou kan word.

Die mensdom
se opstand teen God het dus buitengewoon ingrypende gevolge vir hierdie aarde
en sy toekoms.

Die woorde
wat Petrus vir die ingrypende proses op die jongste dag gebruik, is baie
intens. Dit sal nog intenser wees as wanneer edelmetale gesmelt word.

Soos mens
goud smelt om alle vuiligheid, wat nie goud is, te verwyder, as die goud deur
die groot hitte ‘n vloeistof word en alle vuiligheid wat bo kom dryf afgeskep
kan word. Maar die terme wat Petrus hier gebruik, is nog ingrypender as die
begrip louter, soos edelmetale gelouter word deur te smelt. Dit laat mens
terugdink aan die profesie van Maleagi, waar God se oordeel twee maal brand
laat ontstaan. Eers tref die vuur die priesters van die tempel om hulle te
reinig sodat hulle weer in geregtigheid kan offer. Vervolgens kom die tweede
vuur wat alle goddeloses verteer. Die vuur werk suiwerend in louterend in God
se huis.

Na buite toe
werk die vuur egter verterend en vernietigend. Petrus maak duidelik dat ‘n
wêreldwye brand nodig is om definitief alle goddeloosheid te beëindig. Die
apostel kondig ‘n wêreldbrand aan wat alle goddeloosheid sal uitwis. Dis die
manier hoe God ruimte skep vir ‘n nuwe begin, ‘n nuwe wêreld van geregtigheid.

Maar, selfs
as hemel en aarde wankel, bly God se belofte wel regop. Dink aan hoe dit
pragtig verwoord word in Hebreërs 12:

“Nog een
maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie
woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge
as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ‘n
onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik
dien met eerbied en vrees. Want ons God is ‘n veterende vuur.” (vers 26-29)

Wêreldwye
verwoesting maak plek vir ‘n nuwe begin.

Wat daar aan
kontinuïteit is, kom van God af.

Dan in verse
11 -13 bied die apostel ‘n alternatief vir die lewensstyl van die spotters. Hulle
lewe volgens hulle eie begeertes, omdat hulle meen dat daar in die wêreld nooit
iets sal verander nie. Terwyl spotters die koms van God se dag tot hulle eie
verderf ignoreer (Jud 1:21), lewe die gelowiges in blye verwagting.

Die
gelowiges verlang na die koms van God se dag.  Deur hulle Godvrugtige lewe bespoedig, verhaas
hulle juis daardie dag. Dit klink dalk teenstrydig.

Aan die een
kant leer die Skrif dat daardie dag sal kom soos ‘n dief in die nag.

Net die
Vader weet wanneer. Kan gelowiges daardie dag dan bespoedig?

Gemeente,
die Skrif openbaar dat God nie onverbiddelik is nie. Hy luister na ons
smeekbedes. Hy is die God vir wie ‘n duisend jaar is soos ‘n dag, of omgekeerd.

Hy kan Hom
laat verbid. Die goddeloosheid en onreg op aarde tolereer Hy juis omdat Hy
geduldig is en kans gee tot bekering.

Maar daardie
dag sal kom, en dan sal ‘n volledig nuwe wêreldorde aanbreek.

Hemel en
aarde sal opnuut ‘n onlosmaaklike geheel vorm, soos by die allereerste begin
van die skepping. Teenoor die spottende skeptisisme ten aansien van Christus se
wederkoms, stel Petrus die gelowige verwagting. Dit sal ons stoutste
verwagtings oortref. En die kenmerk van die nuwe hemele en nuwe aarde sal wees
dat daarin geregtigheid sal woon. Dit wat gelei het tot die sondvloed, en tot
die verwoesting van Sodom en Gomorra, naamlik die totale afwesigheid van
geregtigheid, sal hierdie keer ook lei tot die groot oordeel. En al wat staande
sal bly tydens hierdie oordeel is God se eie belofte. Geen wêreldvernietiging,
maar wêreldvernuwing is dan die verrassende ontknoping van die belofte.

Is Christus
se wederkoms vir jou ‘n realiteit? Is dit bepalend vir hoe jy lewe?

As ons
volgende week die nagmaal gaan vier, dan gaan ons ook vooruit kyk.

Ons gaan
Christus herinner aan sy belofte, dat Hy die wyn met ons nuut sal drink in die
koninkryk van sy Vader. Verwag jy Christus? Laat jy dit tot jou deurdring, dat
sy wederkoms nie net onopvallend gaan wees nie? Dit wat Petrus hier skryf, is
nie vir misverstand vatbaar nie. Dit gaan katastrofaal wees vir die huidige
wêreldorde. ‘n Sondvloed van vuur.

Hierdie
besef sal keer dat jy wêreldgelykvormig raak. Dit wou Petrus sy hoorders, die
tweede generasie Christene destyds, inprent.

Die Heilige
Gees het gesorg dat sy brief ‘n plek in die Bybel kry.

Sy oproep is
van blywende waarde, vir elke generasie Christene.

Sorg dat
hierdie realiteit bepalend is in jou lewe! Hou vas aan die belofte.

Sien uit na
die belofte! Want hulle wat by Christus skuil, gaan nie net die vernietiging
van die huidige wêreldorde meemaak nie. Maar hulle gaan ook die herskepping van
‘n nuwe wêreld beleef!

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata