God gee die armes reg op ‘n bestaan, en God gee die rykes die taak om dit waar te maak

Teks: 
Rut 2
Datum: 
2017-05-04
Preek Inhoud: 

PRETORIA & PRETORIA-MARANATA, 4 Mei 2017
AD, 19:00 (Dankdag)

Votum

Seën

Ps 33:4,10

Gebed

Skriflesing:
Rut 1

Ps 65.4,5,6

Teks: Rut 2

Preek

Ps
104:8-10;17-19

Geloofsbelydenis:
HK Sondag 10

Ps 104:20,21

Gebed

Kollekte

Ps 67:1,2,3

Seën

Preek: Rut 2

Die afgelope
tyd word daar baie gepraat oor die sogenaamde ‘white capital monopoly’. Ongelukkig
is dit ‘n trick van ons sluwe president om aan die mag te bly. Deur die land te
verdeel, probeer hy aan te hou heers, en probeer hy die koers van staatskaping waarin
hy verseild geraak het, vol te hou, om so veel as moontlik kapitaal na homself
en sy maatjies toe te eien.

Nou los van
ons president se onverantwoordelike gedrag, is dit ‘n feit dat daar groot
inkomsteverskille in Suid-Afrika is. Ons is een van die lande met die grootste
inkomsteverskil tussen rykes en armes. Dit is egter ‘n halwe waarheid om te
beweer dat die kloof tussen ryk en arm parallel loop aan die onderskeid tussen blank
en swart.

Dus, los van
die halwe waarhede, wat eintlik ‘n hele leuen is, waarmee ons president homself
buite skoot probeer hou, bly dit vir ons wel ‘n taak om ernstig aandag te skenk
aan hierdie verskynsel in ons land, naamlik die geweldige kloof tussen ryk en
arm, ‘n kloof wat lyk asof dit al hoe groter word.

Hierdie
groot verskille sien ons ook in ons eie kerkverband, en ook in ons eie
gemeentes. Daar is gemeentelede wat elke sent sorgvuldig moet omdraai, daar is
ook gemeentelede wat jaarliks oorsese vakansies kan bekostig. En die vraag is,
hoe gaan ons om met die verskille tussen ryk en arm? Mag die rykes geniet van
dit wat hulle deur hulle – meestal – harde werk verdien het? En ontvang die
armes die versekering dat hulle nie in die toekoms honger sal ly nie, dat daar
in die toekoms ook vir hulle betroubare mediese sorg sal wees?

Nou weet ons
ook dat alles relatief is. Ook die armoede in Suid-Afrika is relatief.

Die arm
mense in ons gemeentes vergelyk nog nie met die vlakke van armoede wat ons in
die res van Afrika aantref nie.

Ons kerke is
onlangs opgeroep om ‘n spesiale kollekte vir die Christene in Suid-Sudan te
hou. Die alledaagse lewensomstandighede daar is amper te treurig vir woorde.

Ons vier
vandag dankdag vir gewas en arbeid. God het vir ons gesorg. Die meeste van ons
het werk en kry ‘n inkomste. En daar is hospitale waarheen ons kan gaan as ons
siek is, privaathospitale en die staatshospitaal hier naby vergelyk baie goed
met die res van die staatshospitale in die land. En ten spyte van die groot
droogte van die afgelope jare, was daar hierdie seisoen tog weer ‘n oes, en kon
ons bly geniet van ons daaglikse voedsel. Die supermarkte staan nog steeds vol.
Laat ons eerlik wees, ten spyte van die sorge wat ons oor die toekoms het, het
ons genoeg op hierdie oomblik. En as daar dan vandag ‘n arme op ons deur klop,
wat ook onder God se vleuels wil kom skuil ... wat doen ons dan?

Tema: God gee die armes reg op ‘n bestaan, en
God gee die rykes die taak om dit waar te maak.

In Rut 1
maak die leser in voëlvlug kennis met die lewensgeskiedenis van Naomi.

Ons teks,
hoofstuk 2, begin waar Naomi terug is waar sy begin het: in Bethlehem.

Maar nou
sonder haar man en twee seuns. Hulle het in die vreemde land Moab gesterf. Wel
het Naomi Rut aan daardie land oorgehou. En dit was eintlik baie besonder. Ons
lees meestal hierdie geskiedenis met die gedagte dat Orpa abnormaal was, dat sy
haar sommer haar skoonma in die steek gelaat het.

En dit is
waar, want net Rut het haar trou gebly. Maar ons moet wel besef dat Rut se
optrede eintlik abnormaal was. Wat Orpa gedoen het, was volgens die gewoonte
van daardie tyd nie vreemd nie. Naamlik dat ‘n weduwee teruggekeer het na die
familie waaruit sy afkomstig was. Naomi kon haar geen inkomste bied nie. Naomi
het ook self teurggekeer na haar familiekring. Wanneer armoede toeslaan,
wanneer daar geen broodwinner is nie, dan is mens op die familie aangewese. Dat
Rut bewus daarvoor gekies het om saam met haar skoonma te gaan, is daarom des
te meer bewonderenswaardig.

U volk is my volk en u God is my God.

Dit is
daarom ook logies dat Rut in Betlehem dadelik opgeval is. ‘n Vrou wat nie
gebonde was aan haar man of familie nie, was in sekere sin voëlvry. Manne kon
met haar doen wat hulle wou. Sy hoef nog nie ‘n prostituut te wees  nie om tog daardie risiko te loop nie. Ja Rut
het ‘n groot kans gevat.

Normaal sou
wees, as ‘n vrou alleen te staan gekom het deur die afsterwe van haar man, dat
sy die beskerming van haar familie weer gaan opsoek het.

Maar Rut het
dit nie gedoen nie. Sy het saam met haar skoonmoeder, wat ‘n ou en arm weduwee
was, ‘n onsekere toekoms tegemoet gegaan.

Ons moet ook
nie al te positief oor die mense in Betlehem dink nie. Toe Rut daar aankom en
begin are optel in die landerye, terwyl die oes aan die gang was, reken maar
dat sy geteister is, in elk geval met woorde en skewe opmerkings.

En as Boas,
wat nie aan die vuil grappe deelgeneem het nie, as hy haar nie enigsins in
beskerming sou geneem het nie, weet ek nie wat Rut alles sou oorgekom het nie. Boas
het sy knegte egter uitdruklik beveel om haar nie lastig te val nie. Mens kan
hieruit aflei dat dit nie sommer net was dat Boas hierdie bevel gegee het nie,
en dat as dit nie hiervoor was, Rut inderdaad lastig geval sou geword het deur
teistering van verskillende aard. Maar gelukkig, Boas het haar in beskerming
geneem. As iemand haar sou aanraak, sou hulle met hom te make kry. Die
diensknegte moes besef, as hulle die baas se bevel minag en Rut teister, sou hy
hulle wegstuur. En geen werk, geen inkomste meer.

Nogmaals, al
was die mense van Betlehem en omstreke deel van God se volk, ons sou vandag sê:
kerkmense, maar sonder sonde was hulle allermins.

Dit was die
Rigtertyd. ‘n Tyd waarin baie in sonde geleef
het. ‘n Tyd waarin elkeen gedoen het wat goed was in sy eie oë. U ken dalk die
geskiedenis wat gebeur het in Betlehem, waaroor ons in Rigters 19 lees. Dit
staan ‘n paar bladsye terug in u Bybel. Oor die verskriklike lot wat ‘n meisie
uit Betlehem getref het toe sy in ‘n dorpie bietjie verderop was, in Gibea. Sy
is ‘n hele nag lank verkrag deur die manne van die dorp. Dit was hulle
nagtelike pret. Dit het ongeveer in dieselfde tyd gebeur as hierdie geskiedenis
van Rut. Reken maar daarop dat soiets ook Rut se voorland kon wees, as Boas
hierdie weduwee nie in beskerming geneem het nie.

So sien mens
twee uiteenlopende lewensstyle in dieselfde volk van God.

Verregaande
afval, maar ook ‘n man soos Boas wat nie net na God se gebooie geluister het
nie, maar dit ook in praktyk gebring het. Boas het die geloofsdaad van Rut
bewonder en gerespekteer. Dat sy met haar skoonma saamgegaan het na ‘n vir haar
onbekende en onveilige land. Ja dit was ‘n geloofsdaad!

En Boas voel
hom geroepe om vir haar op te kom. Dis nie dat hy haar ‘n guns gedoen het nie. Nee,
iemand wat God se wette ernstig neem, besef dat Rut reg daarop gehad het. En
Boas respekteer haar regte.

Dink aan wat
die HERE in sy wet bepaal het, byvoorbeeld Levitikus 19:

“En as julle die opbrings van julle land oes,
moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie
versamel nie. Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies
wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet
jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.” (vers 9-10)
En
Deuteronomium 24:

“Jy mag die reg van vreemdeling en wees nie
verdraai nie en die kleed van 'n weduwee nie as pand neem nie. Maar jy
moet daaraan dink dat jy 'n slaaf was in Egipte en die HERE jou God jou daaruit
verlos het; daarom beveel ek jou om hierdie saak te doen. As jy jou oes op
jou land insamel en 'n gerf op die land vergeet, mag jy nie omdraai om dit te
gaan haal nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees, dat
die HERE jou God jou kan seën in al die werk van jou hande. As jy jou
olywe afslaan, moet jy nie agter jou in die takke rond soek nie; vir die
vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees. As jy jou wingerd oes,
moet jy agter jou nie skoon afoes nie; vir die vreemdeling, die wees en die
weduwee moet dit wees. En jy moet daaraan dink dat jy 'n slaaf was in Egipteland;
daarom beveel ek jou om hierdie saak te doen.” (vers 17-22)

Selfs blyk
in die manier hoe Boas vir Rut in beskerming neem, dat hy bo die letter van God
se wet uitstyg. Hy verstaan ook die gees van die wet.

So sien ons
dat God, te midde van groot afval onder sy volk, weer nuwe perspektiewe skep. Ons
weet dat hierdie hele geskiedenis staan in die lig van wat later sou kom. God
het ‘n vrou uit ‘n heidense omgewing gaan haal om ‘n moeder te word in die
geslagslyn na koning Dawid toe, ja self na die Messias, Jesus Christus, toe. Dit
gee aan hierdie geskiedenis ekstra glans, ja ‘n ewige glans.

Maar Boas en
Rut was op daardie stadium nie hiervan bewus nie. Hulle het slegs geleef by die
belofte dat God redding sou bewerk vir sy kinders in die toekoms.

Hulle het
geleef in gehoorsaamheid aan God se gebooie in die hede.

Konkreet kom
dit in ons teks na vore in hoe Boas aan ‘n arm weerlose vrou beskerming
verleen.

Hoekom het
Boas dit eintlik gedoen? Nêrens in die boek Rut staan daar iets wat ons
aanleiding sou kon gee om te dink dat daar van verliefdheid sprake was nie.

Of dit die
geval was, bly onbekend. Die kans is dalk groter dat dit nie so was nie, as
mens die kultuur en omstandighede van daardie tyd in rekening bring.

Waar ons
teks egter wel duidelik oor is, is dat Boas eerbied gehad het vir God se
gebooie. God gee naamlik ook vir die arme ‘n reg op bestaan. En God gee aan die
ryke die taak om dit waar te maak. En daarom kom Boas in aksie.

Boas, ‘n ryk
man, is vrygewig, en kom sy sosiale pligte na. Of om dit in vandag se terme te
sê: ‘n arm weduwee merk dat haar medegemeentelede bereid is om rojaal haar te
laat deel, sonder om van die hulp iets te probeer afknyp. Boer Boas gee sy
knegte opdrag om selfs ekstra are op die grond te laat val. Hy gee haar ook
toestemming om water te drink uit die kanne wat vir die dienaars reggesit is. Reken
maar dat mens gou dors geraak het in die brandende son tydens die oestyd. So
vervul Boas die taak wat God aan elkeen gee wat Hy met besit seën.

Boas sien
die arme raak. Die arme waarvan God sê dat hy reg het op brood.

Nou staan
hierdie geskiedenis in sekere sin ver van ons af. Al het ons baie sorge, het
ons nie die sorg dat daar regtig gebrek aan brood in ons huise is nie. Eerder
moet ons aandag daaraan skenk dat ons ons kinders opvoed dat hulle nie die
brood wat hulle nie meer eet, of die korsies, in die asblik gooi nie. Tog is
daar wel mense in ons land, en veral op ons kontinent, wat wel met ‘n honger
maag moet gaan slaap. Reik ons blik ver genoeg dat ons hulle ook raaksien? Sien
ons hulle ellende raak? Die diepste ellende van ons naaste, en in die verlengde
daarvan ook hulle materiële ellende? Ons mag ons oë nie daarvoor sluit nie.

Die
geweldige gaping tussen arm en ryk in ons land mag ons nie koud laat nie.

God se Woord
pleit nie daarvoor dat alle mense ewe ryk of arm moet wees nie.

Verskil in
welvaart is nie ‘n sonde nie. Maar God se Woord gee wel die opdrag aan die
rykes om die armes hartelik te help. En as ons dit doen, belowe God dat Hy dit
ook sal seën.

Dink maar
aan Boas. Wie armes hulle brood gun, vind onverwags lewensgeluk.

‘n Brandarm
weduwee, boonop ‘n buitelander, het by Boas om hulp aangeklop.

Boas het sy
Bybelse plig gedoen. En God het dit geseën.

Hy het
onverwags in daardie persoon ‘n lewensmaat ontvang.

Gemeente,
laat ons ook, sonder reserwes, uit dankbaarheid, God se gebooie doen. Sonder om
vooraf te bereken of dit vir ons wins sal oplewer. Belangeloos.

Uit die
besef dat dit wat ons het, van God is. Ons is rentmeesters.

Ons beheer
maar net sy gawes. As Hy ons oor baie besit aangestel het, bring dit ‘n groot
verantwoordelikheid met hom mee. God wil dat ons met ander oë begin kyk. Ons
het dikwels ‘n goeie oog vir winskopies. Die beste prys-kwaliteitverhouding. Ons
is bereid om ver te ry vir ‘n uitverkoping. Maar het ons ook oog vir ons naaste
in nood? Soos die Skrif ons oproep:

“Laat ons
dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die
huisgenote van die geloof.” (Gal 6:10)

Dis presies
wat Boas gedoen het. Boas het vir Rut ‘n Losser geword. Daarin was hy ‘n
voorafskaduwing van wat sy verre nakomeling, Christus, die Messias, vir ons sou
doen. Ja Hy het ons Losser, ons Verlosser geword.

En Hy wil
dit wees vir almal wat in hulle diepste nood hulle tot Hom wend.

Watter
houding het ons, as daar op ons ‘n beroep gedoen word? Het ons ‘n houding van:
moenie te vinnig gee nie, wat as jy eenmaal gegee het, dan sal dit nie ophou
nie. Het Boas ook so geredeneer? As ek hierdie weduwee nou help, wie weet, dalk
staan daar volgende week ‘n dosyn weduwees op my land!

Uiteraard
wil God dat ons ons besit verantwoordelik beheer. Wie al sy geld in een keer
weggee, is ook ‘n dwaas. Dis nie wat God verwag nie. God vra ons hart, dat ons
bereid moet wees om te help. Dat ons mild gee uit ons oorvloed.

Geld, maar
ook aandag, en tyd, en voorbede. God het die milde gewer lief.

Ja ook
hierdie jaar is daar baie om voor te dank. Op hierdie dankdag 2017 mag ons met
dankbaarheid konstateer dat daar genoeg voedsel is, genoeg klere, ‘n dak bo ons
koppe. Dank u Here! Natuurlik is daar ook moeites. Sommiges is dalk werkloos. Ander
se inkomste het afgeneem. Baie van ons het miskien minder om te bestee. Dit mag
ons ook aan die Here voorlê.

Maar tog
oorheers die dankbaarheid.

En vir die
toekoms, laat ons dankbaar voortgaan om in die spoor van sy gebooie te lewe. God
gee die armes ‘n reg op bestaan.

God gee die
rykes die taak om dit waar te maak.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata