Uitsien na die oordeelsdag

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-01-17
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 37
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
17 Januarie 2016 AD, 17:30

Voorsang: Ps 9:1,11-15

Votum

Seën

Ps 47:3

Gebed

Formulier bevestiging ouderlinge

Ps 134:4

Gebed

Skriflesing: Openbaring 20

Sb 8:2

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 37

Preek

Ps 103:5,6

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 103:7

Kollekte

Ps 103:8,9

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 36

Die NGB eindig met ‘n artikel wat handel oor
die toekoms.

Die laaste oordeel, die opstanding en die
ewige lewe.

Hierdie artikel bied nie ‘n afgeronde leer
oor die ‘laaste dinge’, of oor die eindtyd, die sogenaamde eskatologie nie.

Daar is heelwat onderwerpe wat toegevoeg kan
word:

Mens kan dink aan die tyd tussen sterwe en
opstanding.

Mens kan dink aan die sogeneemde
duisendjarige ryk.

Mens kan dink aan die tekens van die tye.

Die NGB is nie ‘n afgeronde dogmatiek nie,
maar ‘n belydenisskrif.

‘n Belydenisskrif wat gebore is in ‘n tyd toe
die kerk ten tye van vervolgings moes opstaan vir die waarheid.

Art. 37 is eintlik ‘n hartekreet, ‘n beroep
op die hemelse Regter om die toekoms nader te bring, om reg te verskaf.

Tema:
Uitsien na die oordeelsdag

  1. Die majesteitlike koms van die
    Regter

  2. Die dagvaardiging van alle mense,
    sowel lewendes as dooies

  3. Die aanklagte wat op tafel kom

  4. Die rehabilitasie van die vromes

  1. Die majesteitlike koms van die
    Regter

    Die Regter sal ons Here Jesus Christus wees.

    Dit blyk uit verskillende Skrifgedeeltes.

    Ek noem slegs een of twee.

    In 2 Timotheüs 4:1 skryf Paulus vir
    Timotheüs: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die
    lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk”.

    Duidelik word Christus hier genoem as die Een
    wat sal oordeel.

    En in Handelinge 17:31 lees ons: God het ‘n
    dag bepaal “waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy
    aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die
    dode op te wek.”

    Ons Here Jesus Christus het Hy
    aangestel om die wêreld in geregtigheid te oordeel.

    In die woordjie ons wat bewus hier staan, hoor mens liefde, verlange, vertroosting.

    As jy kan bely dat jy in lewe en sterwe aan
    jou getroue Heiland, Jesus Christus, behoort, wat jou met sy kosbare bloed
    gekoop het (dink aan die woorde van Sondag 1), dan hoef jy nie bang te wees vir
    hierdie Regter nie.

    Die Regter is vir jou ‘n persoonlik bekende.

    Jy kan juis daarna uitsien om Hom te ontmoet!

    Maar, elkeen wat Jesus verwerp het;

    elkeen wat weier om daagliks tot Hom te bid;

    elkeen wat net sy Naam gebruik as hulle wil
    vloek;

    vir hulle is die vooruitsig van ‘n
    oordeelsdag met Hom as Regter skrikwekkend.

    Soos daar in Openbaring staan:

    “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal
    Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal
    oor Hom rou bedryf” (Openb 1:7)

    Met rou bedryf word hier bedoel, hulle sal kerm
    van angs as hulle Hom inderdaad sien verskyn.

    Wanneer daardie dag aanbreek, is vir alle
    skepsels onbekend.

    Maar feit is dat daar ‘n dag sal kom dat die
    getal van die uitverkorenes vol is.

    Sy koms sal wees, soos die Skrif sê, soos ‘n
    dief in die nag.

    ‘n Dief stuur nie vir jou ‘n beriggie dat hy
    dan en dan gaan inbreek nie.

    ‘n Dief lui nie eers die deurklokkie nie.

    Van die dag en die uur weet niemand nie, ook
    nie die engele nie.

    Deur die eeue is daar al baie gespekuleer oor
    wanneer dit mag wees.

    Een van die rigtings wat hulle daarmee besig
    hou, is die sogenaamde Chiliaste.

    Veral in charismatiese groeperings word die
    chiliasme aangehang.

    Chiliasme gaan oor die duisendjarige ryk.

    Die Griekse woord ‘chilios’ betekend duisend.

    Die woord millenialisme word ook gebruik, wat
    weer van die woord ‘millenium’ afkom wat ook duisend beteken.

    Die idee van chiliasme kom oorspronklik van
    die Joodse rabbyne af.

    Naamlik dat daar ‘n Messiaans tyd sal
    aanbreek waarin Israel politieke heerskappy oor alle volke sal hê, ‘n tyd van
    groot voorspoed, waarna eers die oordeelsdag sal kom.

    Veral groeperings in Amerika het hierdie
    gedagtes oorgeneem.

    Christus sal terugkom, en dan sal daar ‘n
    duisendjarige vrederyk op aarde wees.

    Letterlik vanuit die stad Jerusalem sal
    Christus regeer.

    Ander groepe, soos die Mormone, beweer dat
    Christus vanuit Amerika sal regeer.

    Dit is die sogenaamde pre-millenialiste.

    Pre- beteken voor.

    Christus sou terugkom voor die duisendjarige ryk.

    En aan die einde van hierdie duisend jare
    gaan Christus dan weer na die hemel en word die satan ontbind.

    Daar sal dan‘n verskriklike tyd wees, en
    wanneer die nood op sy hoogste is, sal Christus vir die tweede maal kom.

    Dan is dit die oordeelsdag.

    Aan die ander kant is daar ook chiliaste wat
    sê:

    eers sal daar ‘n duisendjarige vrederyk wees,
    en daarna, as die kerk ‘n ryk van duisendjarige vrede op aarde verwerklik het,
    eers daarna sal Christus terugkom.

    Hulle is die sogenaamde post-millenialiste.

    Post- beteken na.

    Nou skenk art. 37 skenk nie eksplisiet aandag
    aan die sogenaamde duisendjarige ryk nie.

    Daar word slegs beklemtoon dat sy wederkoms
    onverwags sal wees.

    Die duisendjarige ryk waaroor ons in
    Openbaring 20 lees, slaan inderwaarheid op die hele Nuwe-Testamentiese tyd.

    Die hele
    nuwe bedeling is die laaste dae, waarin Christus haas maak om terug te kom.

    In Openbaring 20 staan nie dat die satan vir
    duisend jaar op aarde gebind sal wees in die sin dat hy heeltemal mageloos sal
    wees nie.

    Daar staan dat hy die volke nie sal kan
    verlei nie.

    Dit het hy sedert Christus se hemelvaart nie
    meer kon doen nie.

    Want Christus se hemelvaart markeer ‘n
    wending in die wêreldgeskiedenis.

    Na Hemelvaart en Pinkster het die apostels
    uitgegaan na alle volke om die evangelie te verkondig.

    Uit alle volke en stamme en tale word
    Christus se kerk in die nuwe bedeling versamel.

    Elke volk is ewe bevoorreg soos wat die
    Joodse volk in die ou bedeling was.

    Hierdie nuwe bedeling is ‘n periode van 1000
    jaar.

    Dit is ‘n simboliese getal, 10 x 10 x 10.

    Net soos die getal 144 000 ook ‘n
    simboliese getal in die boek Openbaring is:

    12 x 12 x 1000.

    1000 jaar staan vir ‘n lang periode, wat nie
    halfpad afgebreek sal word nie, maar wat voltooi sal word en waarin alles bereik
    sal word wat Christus wil bereik.

    Soos art. 37 skryf: tot die getal van die
    uitverkorenes volledig is uit elke volk en stam en taal.

    Die Skrif praat ook oor die tekens van die
    tye, die tekens van die eindtyd.

    Tekens wat op die naderende koms van Christus
    wys.

    Byvoorbeeld: die goddeloosheid sal toeneem
    (Matth 24:12).

    En, die openbaring van die antichris (2 Thess
    2:1-12).

    Oorloë en gerugte van oorloë (Mark 13:7,8).

    Aardbewings (Luk 21:25-27).

    Vervolging van die kerk (Matth 24:9-12).

    Prediking van die evangelie aan alle volke
    (Matth 24:14).

    Ook hierdie tekens moet ons nie as ‘n soort
    almanak gebruik, om die tydstip van sy koms te probeer bepaal nie.

    Maar hierdie tekens geld in die nuwe bedeling
    as ‘n gedurige klop op die deur, wat die mensheid waarsku: wees daarvan bewus,
    Hy kom!

    Is dit nie baie waar nie, gemeente?

    Selfs vir ongelowiges.

    As daar byvoorbeeld oorloë en gerugte van
    oorloë is.

    Neem toe daardie verskriklike aanslag op New
    York gepleeg is in 2001.

    Deur baie mense se koppe het die gedagte
    geflits: nou is dit die jongste dag.

    Of wanneer daar ‘n aardbewing plaasvind.

    Dit is soos ‘n klop op die deur: daar kom ‘n
    einde aan hierdie ou wêreld.

    Ja selfs vir ongelowiges is dit ‘n klop op
    die deur.

    Hulle wat normaalweg nie bereid is om na God
    se Woord te luister nie.

    Op so ‘n oomblik word hulle ook deur die nood
    daarby bepaal.

    Nood leer bid.

    Vir die gelowiges is daar meer tekens.

    As die afval hand oor hand toeneem, dan roep
    die gelowiges des te harder tot hulle Heiland:

    Kom terug Here Jesus, Maranata!

    As dit lyk of die antichris vrye teuels op
    aarde het.

    Die Reformatore, ons kan ook aan Guido de
    Brès dink wat hierdie artikel geskryf het, hulle het die pous in Rome die
    antichris genoem.

    In daardie tyd was sy mag omtrent onbeperk.

    Hy het die vromes vervolg en bloedig vermoor.

    Dit het die gelowiges na die hemel laat roep:
    kom terug, hoe lank nog, Here Jesus!

    Ja die tekens is ‘n gedurige klop op die
    deur.

    Christus hou ons wakker, Hy sorg dat ons nie
    inslaap nie.

    Dat ons lampe brandende bly.

    Dat ons bly uitsien na die majesteitlike koms
    van die Regter.

  2. Die dagvaardiging van alle mense,
    sowel lewendes as dooies

    Alle mense, nie een uitgesonder, sal voor die
    Regter geroep word deur ‘n stem, wat tot almal sal deurdring en hulle sal dwing
    om te verskyn.

    1 Thessalonisense 4:16: “Want die Here self
    sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met
    geklank van die basuin van God.”

    Hy kom as Regter oor die lewendes en dooies.

    Ja ook alle dooies sal uit die aarde opstaan.

    Hierdie stem sal selfs tot in die grafte
    deur.

    Tot in die diep oseane, tot in donker grotte.

    Die stem sal klink oor die velde waar die gekremeerdes
    se as verstrooi is.

    Liggaam en siel sal weer saamgevoeg word.

    Mense, met hulle eie identiteit sal weer tot
    lewe kom.

    Terselfdertyd sal dit anders wees.

    1 Korinthiërs 15 noem ‘n aantal verskille
    tussen die huidige liggaam en hoe dit dan sal wees.

    Verderflik teenoor onverderflik.

    Sterflik teenoor onsterflik.

    Oneer teenoor heerlikheid.

    Swakheid teenoor krag.

    Die liggaam sal opstaan, maar tog anders.

    Van die opstanding van die goddelose sê die
    Skrif dat hulle sal ontwaak tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik (Dan 12:2).

    Dit sal ‘n opstanding tot veroordeling wees,
    sê Jesus in Johannes 5:29.

    Hulle staan op om die ewige straf te ontvang.

    En hulle wat nie gesterf het nie, sal in ‘n
    oogwink verander.

    En dan kom die aanklagte op tafel.

  3. Die aanklagte wat op tafel kom

    Die materiaal, die prosesstukke wat voor die
    Regter se aandag gebring gaan word, is omvangryk.

    Alle dade, alle woorde, selfs alle gedagtes
    van die mense.

    In Openbaring 20:12 skryf die apostel
    Johannes: “ek het die dode, klein en groot voor God sien staan, en die boeke is
    geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is
    geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.”

    En 2 Korinthiërs 5:10: “Want ons moet almal
    voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur
    die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

    Alle mense, mans vrouens en kinders sal
    persoonlik voor die groot Regter verskyn (1 Thess 4:16).

    Die boeke – die gewetens – sal geopen word,
    almal sal geoordeel word volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, goed
    of sleg.

    Mense sal moet rekenskap gee van elke
    ligsinnige woord (Matt 12:36 – verwysing na Jesus se opmerking dat ‘n mens aan
    sy vrugte ‘n boom ken: “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die
    mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.”

    Dit is ‘n realiteit!

    Al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel
    en tydverdryf – naamlik om ‘n vroom lewe te wy en jou tyd te bestee aan
    Godsdiens.

    Om ‘n kerklid te wees, om elke Sondag kerk
    toe te gaan, om elke dag te bid.

    Al beskou die wêreld dit as onnodig, die realiteit
    is dat op daardie dag alle geheime bedrog en huigelary oopgevlek sal word.

    Hoe lank sal hierdie regsaak eintlik duur?

    Hier in Suid-Afrika is ons gewoond aan
    regsake wat soms maande lank kan voortsleep, soms selfs jare.

    Hoe lank sal hierdie grootste regsitting van
    alle tye duur?

    Die Skrif praat oor die oordeelsdag – een dag.

    Al weet ons dat vir God een dag soos ‘n
    duisend jaar kan wees, en ‘n duisend jaar soos een dag.

    Nog ‘n vraag is wat die verband is tussen die
    finale oordeelsdag en die dag as jy ontslaap.

    Want die dag as jy sterf verskyn jou siel mos
    ook voor God se troon.

    Oor die toekomstige lewe moet ons versigtig
    wees om dinge te sê.

    Want dit gaan oor ‘n dimensie wat ons
    verstand te bowe gaan, wat geen oog gesien het, geen oor gehoor het.

    Ons kan net afgaan op wat in die Skrif
    daaroor staan.

    By sy sterwe ontvang elke mens ‘n, wat mens
    kan noem, voorlopige oordeel.

    Die defnitiewe regspraak volg op die jongste
    dag.

    Dalk bietjie vergelykbaar met dat daar in ons
    wêreld ook verskillende regsittings kan wees, sittings van skuldigbevinding, en
    van vonnis en strafoplegging, ensovoorts.

    Nou sou jy jou kon afvra: hoe kan iemand,
    selfs ‘n opregte gelowige, eintlik nog uitsien na die oordeelsdag, as elke
    verkeerde woord, daad en selfs gedagte daar op tafel gaan kom?

    Jy sal jou mos in die grond in skaam?

    Gemeente, hier moet ons die onderrig van
    Skrif ernstig neem, as dit oor skuldvergewing gaan.

    Want die Skrif leer ons dat wie opreg
    vergewing van sondes vra in die Naam van die Here Jesus Christus, dat daardie
    persoon se sondes vergewee word en ook letterlik vergeet word.

    Soos Psalm 103 sing: so ver die ooste
    verwyderd is is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

    Werklik vergewe beteken ook vergeet.

    En die wonderlike gevolg hiervan is dat ons
    inderdaad na die oordeelsdag kan uitsien.

    Danksy Christus kan ons reingewas voor die
    regterstoel verskyn.

    Want Christus is ons geregtigheid.

    Sy Middelaarswerk het tot gevolg dat ons
    sondes vergewe en vergeet is!

    In die boek van die lewe staan die gelowiges
    se name, sonder enige aanklag!

    Maar hulle wat nie daagliks bid om vergewing
    van sondes in sy Naam nie, hulle moet opsien teen daardie dag.

    Dan sal al hulle geheime bedrog en huigelary
    oopgevlek word, soos art. 37 skryf.

    Daarom is net die gedagte aan so ‘n oordeelsdag
    vir oortreders en goddeloses met reg skrikwekkend.

    Daarenteen is dit vir die vromes begeerlik en
    troosryk.

    Dan sal hulle onskuld deur almal erken word.

    Dan sal hulle die verskriklike wraak sien teen
    die goddeloses wat in hierdie wêreld die vromes verdruk en gekwel het.

    Die goddeloses sal deur die getuienis van
    hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word.

    Nou kry hulle dit reg om hulle gewete tydelik
    dig te skroei, die swye op te lê.

    Dan, voor die troon van die Regter, sal hulle
    dit nie meer regkry nie.

    Dan wag hulle straf.

    Naamlik dat hulle in die ewige vuur wat vir
    die duiwel en sy engele voorberei is, gegooi sal word.

    Dit sal ‘n ewige straf wees.

    Verwys word hier na Matt 25:41, waar Jesus
    eksplisiet gesê het: “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van
    My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy
    engele.”

    Vandag word die ewige straf dikwels in die
    teologie ontken.

    Dit gebeur duidelik dus nie op Bybelse gronde
    nie.

    Want die woorde van die Here Jesus leer ons
    van ‘n ewige straf.

    Maar daarenteeen sal die gelowiges en
    uitverkorenes met heerlikheid en eer gekroon word.

     

  4. Die rehabilitasie van die vromes

    Hulle wat trou gebly het aan Jesus se oproep
    in Matth 10:32: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely
    voor my Vader wat in die hemele is.”

    God sal dan alle trane van hulle oë afvee –
    Openb 21:4.

    Dan sal aan hulle reg verskaf word.

    Dit sal dan vir almal duidelik wees dat hulle
    saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel
    word, die saak van die Seun van God is.

    By hierdie opmerking kan ons ook dink aan die
    historiese konteks waarin Guido de Brès die NGB geskryf het.

    Daar was wydverbreide vervolgings van die
    Protestante.

    Die Gereformeerde leer is deur die Roomse
    kerk as ketters bestempel, die ban is oor Gereformeerdes uitgespreek.

    Hulle is as goddeloos gebrandmerk.

    Guido de Brès moes self die prys vir sy
    oortuigings betaal, toe hy opgehang is.

    In sy tyd het dit dus gelyk of die Gereformeerdes
    ‘n klomp boewe, ketters en goddeloses was.

    Maar op die oordeelsdag sal blyk dat dit juis
    omgekeerd is!

    Nie hulle nie, maar hulle vervolgers sal deur
    Christus afgewys word.

    Hulle daarenteen sal dan hulle beloning
    ontvang wat hulle in hierdie lewe gemis het.

    Daar staan hier: ‘n beloning uit genade.

    Dit klink nogal teenstrydig...

    Maar hier word nie bedoel dat jy uit jou eie
    goeie werke vrygespreek sal word en salig sal word nie.

    Hier word verwys na hulle wat bereid was om
    hulle kruis agter Christus aan te dra.

    Wat Christus in hierdie lewe bly dien het,
    ook as dit opofferings gevra het, ook as dit hulle lewe hier op aarde
    onaangenaam gemaak het, ook as dit dalk uitsluiting en vervolging tot gevolg
    gehad het.

    Hulle het dit daarvoor oorgehad, omdat hulle
    besef het dat daar ‘n beter vaderland vir hulle wag.

    En dit is wat hulle dan sal ontvang, om in te
    mag gaan in die beter vaderland.

    Omdat hulle aan Christus bly vashou het, ook
    deur moeilike tye heen.

    Ja die verlange na die oordeelsdag is ook
    onderdeel van ons enigste troos in lewe en in sterwe.

    En veral in moeilike tye.

    Veral in tye wat jy as gelowige verneder
    word, aan die kant geskuif word.

    Veral in tye as die kerk belaglik gemaak
    word, irrelevant, of selfs vervolg word.

    Veral in sulke tye bied hierdie onderdeel van
    die toekomsverwagtig vir ons ekstra troos.

    Daar kom
    ‘n dag van rehabilitasie.

    “My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die
    Here” – Hebreërs 10:30.

    Daarom bid die kerk, Christus se bruid: Kom,
    Here Jesus! (Openb 22:20).

    Vandag het die kerk weer ‘n nuwe ouderling
    van Christus ontvang.

    Die ampsdraers se taak is om toe te sien dat
    die gemeente nie aan die slaap raak nie.

    Dat ons ligte brandende bly.

    Dat ons bly uitsien na die koms van die
    bruidegom.

    Ja, broer en suster, as jy Christus se saak
    in hierdie lewe as jou saak kies, dan ken jy hierdie verlange.

    Waar die Maranata-bede verstom, het die
    geloof ingeslaap.

    Waar die geloof lewendig is, sal hierdie bede
    des te vuriger wees, ja kom, Here Jesus!

    Amen.

     

     

     

     

     

     

     

     

     

     

     

     

     

     

Liturgie: 

(kyk in preek)