Medestryders bid vir die koms van die koninkryk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-04-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 28 April 2013, 17:30

(Sb
28:1-4)

Votum

Seën

S: Ps 97:1

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 6:19-34

S: Sb 17:1,5

Skriflesing: 1 Korinthiërs
15:20-28

S: Sb 17:6

HK Sondag 48

Preek

S: Ps 143:8,10

Gebed

Geloofsbelydenis: sing

Kollekte

S: Ps 97:1,6

Seën

Preek: HK
Sondag 48

As mens Sondag 48 so lees, is die
terme wat gebruik word nogal opvallend.

Dit laat mens eintlik aan oorlog
dink.

Ek dink aan bv. die volgende
woorde:

Regeer, onderwerp, bewaar,
vermeerder, vernietig, heerskappy, bose planne...

As daar een ding vir ’n oorlog
waar is, is dit dat as jy wil wen, moet jy planne maak.

Voordat die Amerikaners Irak
binnegeval het, het hulle maande lank beplan.

Dieselfde geld vir die historiese
D-day.

Die geallieerde magte wat op
daardie dag begin het om Europe te bevry van die Nazi’s se regime.

Eintlik is veel eerder begin.

Ten minste vir ’n jaar is daar
planne beraam.

En toe die duisende soldate een
vroeë donker oggend losgelaat word op die strande van Frankryk,

toe het hulle nie net voortgestorm
en geveg soos hulle wou nie.

Hulle moes stiptelik volgens ’n
vooraf ingestudeerde plan optree.

En toe hulle eers aan land was,
met al hulle tenks, ammunisie en voorraad,

het hulle nie net sommer in ’n
rigting beweeg nie.

Vooraf was die roete reeds bepaal
– eers na hierdie stad, dan daardie, dan die hoofstad Parys,

en so aan.

En as hulle minder weerstand
teengekom het as verwag,

mog hulle nie net met hulle Jeeps
aanhou voortjaag nie.

Hulle moes hulle aan die
voorafbepaalde plan hou.

Daar was naamlik ’n reële kans
dat die voorhoede afgesny sou kon word van die agterhoede.

Wat sou beteken dat daar vir
hulle nie meer aanvoerlyne sou wees van nuwe ammunisie, kos, medisyne, ens.
nie.

Dis hoekom die geallieerdes dit
so belangrik gevind het om eers ’n stad soos Antwerpen in te neem.

Om ‘n hawestad in beheer te hê op
die Europese vasteland, sodat hulle nuwe voorraad vanuit Engeland kon aanvoer.

Want inderdaad, die offensief het
tonne en tonne wapens, voedsel, medisyne nodig gehad.

Daarsonder sou ’n suksesvolle begin
gou doodgeloop het.

Strategiese oorlogsvoering.

Vir ’n groot deel word die
oorwinning besleg op die tekentafel.

Soos ek gesê het, vind ons in
Sondag 48 woorde wat mens aan oorlog laat dink – strategiese taal.

En, voor jy dink dit gaan oor ’n
oorlog êrens ver weg, nee, lees mens die woordjie ons.

Dit is dus ’n oorlog, waarin ons
– soos ons hier in die kerk bymekaar is – betrokke is.

Tema: Medestryders
bid vir die koms van die koninkryk

Christus het vooral sy strategie
bepaal.

In Sondag 48 word dit uiteengesit
in 7 stappe.

 

-         
Stap 1: Regeer ons so
deur u Woord en u Gees dat ons hoe langer hoe meer ons aan U onderwerp

Hierdie eerste stap gaan nie
soseer oor die oorlog nie.

Eerder oor die mense wat die
oorlog moet voer.

In hierdie verband is daar ’n baie
interessante teks uit Deuteronomium 20 wat ek graag met julle wil deel.

In hierdie hoofstuk vind ons ’n
aantal oorlogswette.

Onder andere die volgende een in
vers 8: “Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis
toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie.”

Voordat die leër sou kontak maak
met die vyand, moes die generaal doodseker maak,

dat daar nie twyfelaars in sy
geledere is nie.

Niks is so gevaarlik in ’n
gevegsituasie as twyfellaars in eie geledere nie.

Hulle fokus nie, hulle is in
gedagte en luister nie na bevele nie.

Hulle stel nie net hulle eie lewe
in gevaar nie, ook die ander s’n.

Twyfelaars, verraaiers, of dalk
net simpelweg bangbroeke.

Mens kan nie ’n oorlog wen as jou
soldate nie oortuig is hulle stryd is noodsaaklik nie.

’n Weermag kan nie uittrek as sy
eie agterban dink die oorlog is oorbodig nie.

Dit is dus die eerste stap.

Christus wil jou lewe regeer.

Jy moet aan Hom onderwerp.

Jy moet net na Hom luister – sy
Woord en Gees.

As Hy – die Opperaanvoerder – dit
nodig vind dat daar gestry word, dan moet jy ook daarvan oortuig wees.

Laat u koninkryk kom. Dit is wat
Hy wil hê jy moet bid.

En jy gaan dit net bid as jy
werklik oortuig is dat dit absoluut noodsaaklik is.

Dat sy koninkryk vir jou en vir
almal op aarde ’n beter lewe sal beteken.

As jy hierdie woorde in die Onse
Vader slegs uit gewoonte bid,

sonder om daarby na te dink,

sonder om die implikasie daarvan
te besef,

dan vorm jy ’n risiko,

dan mag jy dalk as ’n twyfelaar,
of ’n bangbroek, of dalk nog erger, as ’n verraaier geklassifiseer word.

Ons sit vanaand hier saam in die
kerk, gemeente, nie net uit gewoonte,

ons sit hier om instruksies te
ontvang.

Die Oppergeneraal wil ons spreek.

Hy deel met u vanaand sy planne,
sy strategie.

Hy verduidelik vir jou wat jy
moet gaan doen die komende week, hoe jy moet lewe.

Dit is – in kort – gemeente, wat
die Kategismus bedoel met die woorde:

Regeer ons deur u Woord en Gees.

Dit is waar die koms van die
koninkryk begin:

Die soldate word opgelei,
voorberei vir die stryd,

Hulle word in topkondisie
gebring.

En daarmee is ons ook vanaand in
hierdie erediens besig –

Sy Woord staan sentraal vanaand.

Hy regeer ons met sy Woord en
Gees.

Dis die eerste stap in sy
strategie.

Dat ons – lede van sy gemeente –
die regte houding het.

Soos Jesus ons beveel in Matt 6:
Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.

En soos Ps 143 sê: Laat u goeie
Gees my lei in ’n gelyk land.

 

-         
Stap 2: Bewaar u kerk

Elkeen wat homself ’n bietjie in
die kerkgeskiedenis verdiep, is verbaas dat die kerk nog steeds bestaan.

Hoe is dit moontlik dat ’n
instelling wat sulke opofferings van mense vra,

wat so dikwels mense konfronteer
met die skadukant van die lewe,

dat mense tog lid bly van soiets?

Dit is nie moeilik om deesdae
mense te vind wat voorspel dat die kerk dit nie meer lank sal uithou nie.

Analiste wat voorspel dat die
kerk sal aanhou krimp in die toekoms.

Ek het die laaste jare bietjie
ondersoek gedoen na die sendinggeskiedenis in Suid-Afrika.

En wat my verbaas het was dat
daar tweehonderd jaar gelede ook al analiste was wat dieselfde beweer het.

En om eerlik te wees, was daar
nie in die tyd van die NT ook al sulke analiste nie?

Het Gamaliël nie al gesê: as die
apostels se optrede uit mense is, sal dit vernietig word, maar as dit uit God
is, kan julle dit nie vernietig nie?

Toe Gamaliël dit gesê het, het
hyself waarskynlik verwag dat hierdie beweging nie lank sou uithou nie – net
soos die bewegings van Theudas en van Judas die Galileër – waarna hy verwys
het.

Maar tog, desnietteenstaande, die
kerk is nog daar.

20 eeue later, in die 21e
eeu.

Dit kan slegs aan God se bewaring
toegeskryf word.

En dit gee ons ook vertroue vir
die toekoms.

Dit gee ons die moed om te bid:
Here, asseblief, BEWAAR U KERK.

Net soos U in die verlede gedoen
het.

 

Eintlik kan mens die kerk al ’n
stukkie koninkryk op aarde noem.

Dis soos die geallieerdes van
destyds wat ’n strategiese stad ingeneem het.

Die stad is nou onder hulle
beheer.

Vandaaruit kan hulle die
omliggende gebied, en die volgende stede begin inneem, wat nog onder vyandelike
bestuur is.

So staan die kerk direk onder bewind
van die Oppergeneraal in die hemel.

Maar die kerk word nog omring
deur vyandige gebied.

Juis daarom moet ons bid: bewaar
u kerk.

Moenie dit wat u reeds verower
het, toelaat dat dit weer prysgegee word aan die vyand nie.

Dit gaan hier natuurlik nie oor
die kerkgebou nie.

As ’n bom die kerkgebou tref, is
dit ’n finansiële terugslag.

Maar dit raak nie die wese van
die kerk nie.

Die kerk is u, die lede.

Julle moet bewaar word – by sy Woord.

Dit is daarom nodig dat jy
jouself afvra: leef ek volgens sy Woord?

As buite die kerk mense leef soos
hulle self wil, as dit gaan oor huwelik en kuisheid of juis nie huwelik en
kuisheid nie, geldbesteding en selfsugtigheid, Sondagsheiliging of juis
ontheiliging, lieg en bedrieg,

is jou lewe ’n slap aftreksel van
daardie lewenstyl van die vyandelike gebied wat nog nie wil onderwerp aan
Christus se koninkryk nie?

Of bewaar jy jou lewe rein en
heilig, stel jy dit in diens van sy koninkryk, omdat jy aan sy kerk mag
behoort?

So bid ons dus: bewaar u kerk –
en as jy so bid – dan bid jy dus vir jouself – en vir die persoon wat nou langs
jou daar in die bank sit.

 

-         
Stap 3: Vermeerder u
kerk.

Wie na die kerkgeskiedenis kyk,
kry ook hier ’n duidelike antwoord.

Ondanks al die teenslae wat die
kerk getref het, is Christus nog steeds besig om sy kerk te vermeerder.

Vanweë afval in die Westerse
wêreld krimp die kerk daar, maar wêreldwyd sien mens ’n ander prentjie.

Die vyandelike gebied word al
kleiner.

Die wat hulle teen Christus
verhef, het nie ’n blywende stad op aarde nie.

Hulle nageslag verdwyn.

Ongeloof is onvrugbaar.

Maar, soos die Psalms sê, die
nageslag van die gelowiges sal groot wees op aarde.

In hierdie konteks wil ek u ook
oproep, gemeente, om spesifiek ook vir die sending te bid.

Vir hulle wat kerke plant, juis
in vyandige gebied – om vir ’n oomblik nog hierdie beeld te gebruik.

Met vyandige gebied moet u goed
verstaan wat ek bedoel.

Dis nie in die eerste plek
gevaarlik in liggaamlike sin van die woord nie.

Eerder in geestelike opsig.

Sendelinge moet soms diep deur
die modder loop – geestelik gesproke.

Daar is baie versoekings wat aan
hulle knaag.

Bid asseblief dat hulle staan
bly.

Hulle het nog nie altyd ’n
kerkraad, of ’n groot groep toegewyde gelowiges om hulle heen nie.

U kan verstaan dat die duiwel so
iemand graag sou wou laat struikel.

 

-         
Stap 4: Vernietig die
werke van die duiwel

En dit bring ons dan by die 4e
stap: Vernietig die werke van die duiwel.

Ek dink ons bid veels te min
hiervoor.

Ons is dalk hier te
wêreldgelykvormig.

Tipies van de wêreld om ons heen
deesdae is om te aan te neem die duiwel bestaan nie.

Die duiwel sou ’n middeleeuse
spookbeeld wees.

Die hel sou al heeltemal
ouderwets wees.

Ek dink ons sidder te min vir die
hel.

Dink u soms daaraan dat daar ’n
kans is dat jy in die hel gaan tereg kom?

Is dit ’n gedagte wat jou
bangmaak?

Moderne sielkundiges sal
verskriklik omgekrap wees met die vrae wat ek nou vra.

Tog vra ek hulle.

Want die Bybel vra hulle.

“Moenie vrees vir die wat die
liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat
die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt 10:28)

Dit is die Here Jesus se eie
woorde.

Dit is belangrik om elke dag te
bid: Here, wil u asseblief keer dat die duiwel ’n voet in die deur kry.

Here, vernietig die werke van die
duiwel.

Wil u my oë oopmaak vir sy
gevaar.

Die duiwel se strategie is
dikwels dat hy begin met iets wat mooi is.

Iets wat deur God geskape is, op
sig niks mee verkeerd nie.

Dit kan alkohol wees,
seksualiteit, geld, ’n stokperdjie –

maar hy maak jou so daaraan geheg
dat dit jou begin beheers.

So werk die duiwel, hy begin met
iets onskuldigs, maar sy strik is gespan,

en sy doel aan die einde is
dodelik.

Sorg dat jy persoonlik ’n warm en
toewyde verhouding met jou Heiland het.

Want dit maak dat jy sy gawes
verantwoordelik kan gebruik, met die regte maat.

Dat jou gebruik nie ’n misbruik
word nie.

Net Hy kan jou hierby help.

Ons lees in 1 Joh 3:8 “Vir die
doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.”

Seun van God: Vernietig die werke
van die duiwel, sorg dat hy nie ’n vat kry op my lewe nie.

 

-         
Stap 5: Vernietig ook
alle heerskappy wat hom teen U verhef

Vernietig ook alle heerskappy wat
hom teen U verhef.

Dit is die volgende stap, die 5e,
vir die koms van die koninkryk.

Dit het uiteraard begin met satan
se opstand teen sy Skepper, lank gelede.

Sedertdien probeer hy soveel
moontlik aan sy kant te kry.

“hy wat die sonde doen, is uit
die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af.” (1 Joh 3:8)

Dink aan Adam en Eva, die
sondeval.

Satan het hulle omgepraat.

Hulle het geval, in sonde.

Deur die eeue volg satan
dieselfde taktiek.

In elke nuwe generasie behaal hy
sukses.

Die teenstelling tussen lig en
duisternis steek in elke nuwe generasie weer die kop op.

As jou ouers of oupa en ouma in
’n vorige generasie reg gekies het,

beteken dit nie outomaties jy is
nou ook reg nie.

Self moet jy ook persoonlik die
keuse maak.

Is jy bereid om jou lewe onder
die gesag van God se Woord te plaas?

Al probeer die duiwel en sy
trawante jou wys maak dis ouderwets, of wat ook al?

Laat ons op hierdie punt vir
mekaar bid.

Om ons heen is daar heerskappye
wat hulle teen Christus verhef,

soms baie openlik, soms meer
subtiel.

Ons kan dink aan ander
godsdienste – ons kan dink aan Islam, of die voorvaderverering.

Of die moderne godsdiens van die
ateïsme.

Dit is heerskappye wat hulle teen
Christus verhef.

Baie openlik.

Hulle is gevaarlik, aan die een
kant, maar omdat hulle so openlik is, is hulle ook maklik herkenbaar.

Christene kan makliker ’n front
teen hulle vorm.

Lastiger is die meer subtiele
metodes.

Dinge waar op eerste gesig nie
iets mee fout is nie, maar tog gaan daar ’n werking van uit wat jou geloofslewe
kan afbreek.

Ek sit laas êrens in ’n wagkamer,
en voor my op die tafel lê ’n stapel Huisgenote.

Soos ek deur die goed blaai en na
die prentjies kyk, en van die artikels deurscan,

bekruip ’n soort gevoel my: is al
hierdie goed wel opbouend vir my geloofslewe?

Geld, roem, skinder, seks, celebrities
met hulle suksesse en skandes.

Ja, maar daar word mos ook soms
gelowige goed gesê in die Huisgenoot?

Gemeente begryp u wat ek bedoel
met: subtiel.

’n Goeie manier om satan se
subtiele aanvalle te vermy, is om bewus te fokus op die positiewe,

op die diens aan die Here.

Lees jou Bybel, lees goeie boeke,
lees goeie tydskrifte, kyk goeie films,

wees betrokke by die kerk en by
goeie inisiatiewe.

Dan het jy nie meer tyd vir die
Huisgenoot en die televisie ens nie.

Dan kry jy hoe langer hoe meer
ook ’n weersin in dinge wat nie eksplisiet in diens staan van God se koninkryk
nie, of wat heeltyd op die randjie wil balanseer.

 

Oor satan se subtiele strategie
gespraat, die volgende stap het ook alles daarmee te make.

 

-         
Stap 6: Vernietig alle
bose planne wat teen u heilige Woord bedink word

Dis miskien wel die mees pynlike
om oor te praat.

Want hier gaan dit oor hoe die
satan dit regkry om tot binne in die kerk te infiltreer,

nie net aan die rand nie, maar
tot in die hart.

Dat die Woord van die
Bevelhebber, Christus, nie meer helder klink nie.

Nie verniet het die skrywers van
die Heidelbergse Kategismus hierdie sinnetjie toegevoeg nie.

Toe die Heidelbergse Kategismus
geskryf is, in die 16e eeu,

het die kerk naamlik hiermee te
make gehad.

Bose planne teen die heilige
Woord.

Laat ek twee voorbeelde noem.

Aan die een kant het die pous en
kardinale in die Roomse kerk gesê:

Dis beter as die Bybel nie in die
volkstaal vertaal word nie, dit moet Latyn bly.

Want vir die gewone mense is dit
te moeilik.

Die priesters en biskoppe sal die
Woord vir die gewone mense verduidelik.

Die pous het dieselfde gesag gekry
as die Bybel.

Wat hy uitspreek, is onfeilbaar.

Kerklede mog nie – met ’n beroep
op die Bybel – hom bekritiseer nie.

Dit noem die Kategismus dus: ’n
bose plan teen u heilige Woord.

Want dan is die Bybel nie meer
die einde van alle teenspraak nie, maar dis die mening van die pous, of van die
kerk.

Nog ’n bose plan was die denkwyse
wat die hervormers teengekom het by die wederdopers.

Hulle het beweer dat die Heilige
Gees vir jou ook direkte boodskappe van God kon gee, buite die Bybel om.

As jy werklik bekeer is, staan jy
in direkte kontak met die Gees.

Tereg is ook dit onderken as ’n
aanval teen God se Woord.

Die heilige Gees kan jy nie
loskoppel van die heilige Woord nie.

Hierdie waarheid bring ons direk
terug in die 21e eeu.

Hoe kan dit dat daar so baie christen
Afrikaners is, wat egskei, wat hertrou,

en hulle sal jou vertel dat die
Gees aan hulle duidelik gemaak het dat God verstaan?

Ook DIT is ’n bose plan teen die
heilige Woord, waarin iets anders staan.

En dus praat God, praat die
heilige Gees ook anders.

Gemeente, ek kan u maar net
oproep: gaan voort om self u Bybel te lees.

As jy jou Bybel lees, spreek die
Heilige Gees direk tot jou.

Moenie afhanklik raak van teoloë
nie, dat hulle vir jou moet bepaal wat in die Bybel staan.

Dan word die teoloë die nuwe pous
wat uitmaak hoe jy die Bybel moet interpreteer.

Lees jou Bybel, bid elke dag, kom
self tot die gevolgtrekking wat God se wil is.

 

Ons kom nou by die laaste stap.
Nr. 7.

 

-         
Stap 7: Totdat die
volkomheid van u ryk kom

Hierdie laaste stap gaan oor die
oorwinning.

Elke goeie atleet of sportman sal
vir jou sê:

Jy kan net wen as jy vooraf
besluit het om te wen.

Jou ingesteldheid, mindset, moet
van die begin af reg wees.

As jy ’n oorlog begin sonder om
hieroor te besin, dan gaan jy heel moontlik verloor.

Met hierdie laaste stap kry
Christus ons ingesteldheid reg.

Totdat die volkomenheid van u ryk
kom.

Dis nie: ons sal nog maar moet
sien of dit kom nie.

Nee: totdat dit kom.

DIT GAAN KOM.

U SAL alles in almal wees.

Dis wonderlik om so die stryd in
te gaan, as ’n grondsoldaat, met die besef:

my generaal het sy planne gemaak,
sy planne is so onwrikbaar,

ek weet ons gaan wen.

Ek is lus om te gaan stry.

Hierdie versekerdheid lees ons
bv. in Rom 16:20.

Daar wys Paulus die gemeente in
Rome ook hierop, aan die einde van sy brief.

“En die God van vrede sal die
Satan spoedig onder julle voete verbrysel.”

Satan het nie ’n plek in God se
vrede nie.

God se vrede behels oorlog teen
satan.

Maar die oorlog sal nie altyd
duur nie.

Ons sien uit, met reikhalsende
verlange, na die tyd dat U alles sal wees in almal.

U sal alles wees in almal.

Hierdie sinsnede kom uit 1 Kor
15, dieselfde hoofstuk as waaroor die preek vanoggend gegaan het.

Christus het die dood oorwin, as
oppergeneraal het Hy die vyand verslaan.

En sy sukses lê Hy nou aan die
voete van Hom wat oor alles is.

Vers 28: wanneer alles aan Hom
onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan
Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Ons sien uit na daardie oomblik.
Dit is werklik. Dit kom.

Wanneer Hy die koninkryk aan God
die Vader oorgee, as Hy alle heeerskappy en alle gesag en mag vernietig het
(vers 24).

 

As medestryders bid ons vir die
koms van die koninkryk.

Sewe stappe is daar – Christus se
strategiese plan.

Dis mooi hoe die Kategismus dit
in Sondag 48 verhelder.

En as jy hierdie week weer die
Onse Vader gaan bid, Laat u koninkryk kom...

Dink aan hierdie sewe stappe,

reflekteer daaroor hoe hulle in
jou lewe hande en voete kry.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)