Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here in ons

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-02-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 9 Februarie 2014 AD, 17:30

Voorsang: Ps
17:4,5,6,7

Votum

Seën

Ps 84:3
(welsalig is die mensekind, wat al sy sterkt’ in U mag vind)

Gebed

Skriflesing:
Lukas 15:1-10

Ps 23:1

Skriflesing:
Lukas 17:1-10

Ps 109:10
(in vreugde sal u dienaar leef)

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 24

Preek

Sb 24:2,3
(Hy het ons as sy kinders aangeneem dat ons sou leef voor Hom in liefde lewe)

Gebed

Geloofsbelydenis:
apostoliese (staan)

Sb 24:7 (ons
sal in lewe en in sterwe, Gods eiendom vir altyd wees)

Kollekte

Ps 84:5,6
(veel liewer is ek in u woning & Hy sal aan almal wat opreg Hom dien en
wandel in sy weg, die goeie nimmermeer onthou nie)

Seën

Preek: HK Sondag 24

Daar was
altyd al ‘n diskussie oor wat die eerste kom: werk of eet?

Werk jy om
te eet, of eet jy om te werk?

Werk jy om
geld te verdien sodat jy kos kan koop?

Of koop jy
kos sodat jy kan eet sodat jy genoeg energie het om te kan werk?

Vanuit ‘n
Christelike oogpunt is daar altyd gesê:

Die werk wat
jy doen, doen jy nie primêr om geld te verdien nie, oftewel om te kan eet nie.

Maar jy doen
jou werk met die bedoeling om die Here daarmee te dien.

Dit geld in
prinsipe vir elke beroep.

‘n Mens werk
nie om te eet nie, mens eet om te werk.

Vir sommige
werk op aarde geld dit dat jy ‘n salaris kry.

Maar vir
ander werk – wat net so noodsaaklik is – kry jy geen salaris nie.

Ouers kry
nie ‘n salaris omdat hulle hulle kinders opvoed nie, om maar ‘n voorbeeld te
noem.

En ook as mens
na die kerk kyk, is daar baie mense wat weekliks baie ure se werk verrig in die
gemeente van Christus.

Ouderlinge,
diakens, skribas, kommissielede, jeugleiers, ens.

Alles werk
wat ons vir die Here mag doen.

Soos daar in
Lukas 17 staan: ons doen maar net wat ons verplig was om te doen.

Nou gaan dit
in Sondag 24 oor goeie werke.

Hierdie
Sondag laat sien dat nie net vir die werk wat vir die kerk gedoen word, maar
vir die hele breë lewe geld:

ons doen ons
arbeid trou, omdat God dit aan ons opgedra het;

ons doen
maar net wat ons verplig is om te doen.

En as ons ‘n
beloning ontvang, is dit nie uit verdienste nie, maar uit genade.

Tema: Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here in ons

In die
gedeeltes wat ons uit Lukas gelees het, praat die Here Jesus met sy dissipels.

Hy waarsku
hulle vir die struikelblokke oppad na die koninkryk.

Die pad na
die koninkryk is vol strikke en valkuile.

Die Here
Jesus verwys hier veral na al die teenstand waarmee Hy en sy dissipels te make
gekry het.

Met name van
die kant van die Fariseërs.

Die
Fariseërs was die godsdienstige leiers in daai tyd, en dit het al duideliker
begin word dat hulle nie waardering vir die Here Jesus en dus ook nie vir sy
dissipels gehad het nie.

Hoewel Jesus
‘n leermeester, ‘n rabbi was, het hulle hom nie met die nodige respek behandel
nie.

Hulle het
Hom eerder minderwaardig behandel.

Hy was nie
op dieselfde vlak as hulle nie.

Jesus het ‘n
slegte naam gekry, veral onder die Fariseërs.

Jesus is mos
‘n leermeester wat omgaan met tollenaars en hoere.

Hy laat
Homself selfs finansier deur ‘n tollenaar.

Hoe kan Hy
dan ‘n hoog eerbiedwaardige rabbi wees?

En net soos
hulle Leermeester, is die dissipels ook minderwaardig behandel.

 

Hoe reageer
Jesus op hierdie situasie?

Die feit dat
hy op daai stadium nie hoog ge’score’ het in die peilings, by die volk en veral
nie by die Fariseërs nie?

Wel, ons het
genoem dat Hy dit ‘n struikelblok
noem.

Hy het
naamlik raakgesien dat dit sy dissipels omkrap.

Dat sy
dissipels eintlik bietjie belangriker wou gewees het, bietjie meer aansien wou
gehad het.

Hulle, as
Jesus se volgelinge, het gevoel hulle het darem reg op ‘n bietjie meer respek
en waardering.

 

Maar tog
verander die Here nie van koers nie.

Ons sien dat
Hy bly hamer op vergewingsgesindheid – ‘n houding van vergewingsgesindheid
teenoor sondaars soos tollenaars en hoere.

Dit is wat
ons dryfveer moet wees – beklemtoon Hy vir sy dissipels.

Nie ‘n hoër
aansien, meer status in die oë van die Fariseërs of die volk nie.

Dink jou net
in, hoe erg dit sou wees, as as gevolg van jou behoefte aan status, jy ‘n
gebrek aan vergewingsgesinheid sou hê na ‘n sondaar toe.

Dink net wat
dit vir daardie sondaar sou beteken.

Want dit was
die geval by die Fariseërs.

Húlle gebrek
aan vergewingsgesindheid het ‘n struikelblok geword, sodat mense soos
tollenaars en hoere nie in die koninkryk kon ingaan nie.

Jesus sê
hieroor: dit sou beter wees vir so iemand – so ‘n Fariseër dus – as ‘n
meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van
hierdie kleintjies sou laat struikel.

Met die
woord ‘kleintjies’ word eintlik bedoel: minderwaardig, ‘n mens van ‘n laer
status.

Kleintjies
verwys hier dus na die sondaars soos die tollenaars en die hoere.

Die
Fariseërs het immers so oor hulle gedink.

Hulle was
minderwaardig, onverbeterlik, hulle kón die koninkryk nie beërf nie.

 

Hierteenoor
sê Jesus egter:

As jou
broeder sondig, bestraf hom, en as hy berou toon, vergewe hom.

Selfs tot
sewemaal toe.

Ja
inderdaad, hierdie ruimhartige vergewingsgesindheid van Jesus was nogal
omstrede.

Die
Fariseërs het dit Hom kwalik geneem dat Hy met tollenaars en hoere om dieselfde
tafel gesit het.

Die
Fariseërs het die houding gehad van die oudste seun in die gelykenis van die
verlore seun.

Maar die Here
Jesus het vir sy dissipels geleer:

Julle moet
nie soos die oudste seun wees nie.

Wees bereid
om jou broer te vergewe, as hy terugkom na alles wat hy aangevang het.

Dit is die
koers wat ons aanhou – het Jesus vir sy dissipels geleer.

Ons wyk nie
hiervan af nie.

Ook nie as
dit veroorsaak dat ons self ‘n laer status kry, as ons nie hoog ‘score’ in die
opiniepeilings onder die Fariseërs en die volk nie.

 

Gemeente,
dit is dus wat daar aan die hand was.

Die
dissipels was bekommerd oor hulle status.

Hulle het begin
terugsak na die vlak van tollenaars en hoere.

Almal het
steeds meer op hulle begin neerkyk.

Is dit
regtig nodig – het hulle gevra – is dit regtig nodig dat ons ons status so moet
verloor, net om hierdie tollenaars en hoere te red?

Hulle het nog
bietjie moeilik gesluk aan die vergewingsgesindheid van hulle Leermeester.

Daarom dat
hulle vir Jesus vra – vers 5:

Here, gee
ons meer geloof.

Nou is die
manier waarop hierdie sin uit Grieks vertaal is, nogal verwarrend.

In die
oorspronklike teks staan letterlik:

Here, voeg
aan ons geloof toe.

Wat het die
dissipels hiermee bedoel?

Mens moet
dit sien teen die agtergrond van die vrees van die dissipels, dat die Fariseërs
en die samelewing hulle begin verag het.

Hulle word
nie meer ernstig opgevat nie.

En in
hierdie verband vra hulle nou aan Jesus:

Here, ons
stem wel saam met u leer.

Dat u so
hamer op vergewingsgesindheid,

MAAR: voeg
tog asseblief ook ‘n bietjie geloofwaardigheid daaraan toe.

Bedoelende:
daar is niemand wat ons ernstig neem nie.

Kan U nie sorg
dat ons – u volgelinge – ‘n bietjie meer waardering en status ontvang nie?

Dat ons
beter vaar in die opiniepeiling, in die oë van die volk?

Dat die
Fariseërs ons begin behandel as die volgelinge van ‘n baie eerbiedwaardige
rabbi, wat U tog is, of nie?

Dink U nie
dis ‘n goeie idee nie?

Pla dit U
nie, dat niemand ons ernstig vat nie?

Ons het ‘n
baie sterk boodskap, maar dit ontbreek ons aan status, aan geloofwaardigheid,
aan invloedrykheid.

Here, gee
ons meer geloof – dws Here, gee ons meer geloofwaardigheid, meer status.

Dat ander
mense regtig vir ons luister, dat hulle vir ons uit die pad gaan.

 

Jesus se
antwoord op die vraag van die dissipels, dat Hy hulle geloofwaardigheid moes
ophef, is nogal ontnugterend.

Jesus sê: As
julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom
sê:

Word
ontwortel en in die see geplant, en hy sou julle gehoorsaam wees.

‘n
Moerbeiboom het bekend gestaan as ‘n boom wat stewig in die aarde staan, wat
nie met die eerste beste storm omwaai nie.

Maar wat bedoel
Jesus hiermee?

Hy bedoel:
my liewe dissipels, ook al kry jy nul in die opiniepeilings, ook al heg niemand
geloof aan wat jy sê nie, ook al is jou geloofwaardigheid so klein soos ‘n
mosterdsaadjie, dan nog steeds kan jy baie kragtig en invloedryk wees!

Julle moenie
so agter die eer en status aan wees nie!

En in
hierdie verband vertel Jesus dan nog ‘n gelykenis.

In hierdie
gelykenis vergelyk hy sy dissipels met slawe.

‘n Slaaf
moet sy werk doen – ploeg, of die vee oppas.

Hy moet sy
werk doen omdat dit sy plig is.

Nie omdat
daar ‘n groot beloning vir hom wag nie.

Na ‘n dag se
werk moet ‘n slaaf nie reken dat ‘n feesmaal op hom wag nie.

Die normale
gang van sake is, as ‘n slaaf by die huis kom, dat hy moet gaan kos kook en sy
baas bedien.

En eers
daarna kan hy self eet en tot rus kom.

‘n Slaaf
moenie verwag dat sy baas hom gaan bedank asof hy ‘n groot guns aan hom gedoen
het, deur hom te bedien nie.

Dit is
gewoon deel van sy dagtaak.

 

En só, sê
Jesus vir sy dissipels, is dit ook met julle.

Julle moet
net julle arbeid trou verrig.

Julle
geloofwaardigheid is miskien nie veel in die oë van die wêreld nie, maar nog
steeds moet julle julle taak trou doen.

Moenie die
verwagting koester dat julle geëer gaan word nie.

‘n Slaaf
word nie geëer nie.

Solank hy
maar sy plig teenoor sy heer vervul.

So moet die
dissipels nie hoë verwagtings koester nie.

As hulle
geminag word deur die Fariseërs, deur die volk,

as hulle
beskou word as ‘n onaansienlike groepie uit Nasaret,

dan moet
hulle daarmee tevrede wees.

Dis nie
nodig dat almal hulle eer nie.

Laat hulle
ook nie skaam wees vir die feit dat hulle die eiendom van die Here Jesus is
nie.

Ook al
bespot die wêreld hulle, al wat vir hulle moet saakmaak is of hulle hul Heer
tevrede gestel het.

 

Gemeente,
dit is dus die posisie van Jesus se volgelinge.

Hulle moenie
verwag om dank en eerbetoon van die wêreld te ontvang nie.

As jy dáárop
uit is, sal die christenlewe vir jou ‘n teleurstelling wees.

Al wat vir
jou moet saakmaak, is wat die Here oor jou dink.

En as die
Here nog boonop besluit om jou ‘n beloning vir jou werk te gee, is daardie
beloning puur ‘n kwessie van genade.

 

Die
Heidelbergse Kategismus betrek hierdie Bybelteks wat ons hierbo behandel het,
op goeie werke in die algemeen.

Die teks kry
so ‘n breëre strekking.

Eers word
daar in v/a 62 verduidelik dat ons goeie werke nie voldoen aan die eise van God
se geregtigheid nie.

Ons goeie
werke kan nie ‘n bydrae lewer aan ons redding nie.

In Sondag 4
& 5 het die Kategismus verduidelik dat ons werke volmaak behoort te wees,
in alle opsigte in ooreenstemming met die wet van God.

Eers dan sal
hulle moontlik in aanmerking geneem kan word.

Maar, soos
antw. 62 sê: selfs ons beste werke is met sonde bevlek.

Ons goeie
werke help dus niks om onsself te red nie.

Dis eerder andersom.

Soos die
tema sê: Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here in ons.

 

Die
Heidelbergse Kategismus bespreek die aard van goeie werke hier teen die Roomse
agtergrond.

Die Roomse
opvatting byvoorbeeld dat daar mense op aarde geleef het wat so baie goeie
werke gedoen het, dat hulle nie net self in die hemel gekom het nie, maar dat
hulle ook nog ‘n oorskot aan goeie werke agtergelaat het as ‘n erfenis.

En die
Roomse kerk is die instansie wat hierdie erfenis beheer as ‘n soort
kredietbank.

Teen die
agtergrond hiervan sê die Kategismus nou:

Selfs ons
beste werke is in hierdie lewe almal onvolkome en met sondes bevlek.

Daarom kan
jy jou goeie werke – selfs jou beste werke – nie by God as ‘n krediet opvoer
nie.

Dit beteken
nie dat daar geen goeie werke hoegenaamd bestaan nie.

Die feit dat
jy op Sondag twee keer kerk toe gaan.

Dat jy
Bybelstudie toe gaan.

Dat jy
eensame mense opsoek.

Dat jy jou
beroep eerlik en pligsgetrou uitoefen.

Dat jy baie
moeite doen om jou kinders Godvresend op te voed.

Dit alles
mag jy gerus jou beste werke noem.

Dis net dat
ons ons nie voor God daarop kan beroem nie.

Want as jy
eerlik is, moet jy self toegee:

hierdie
goeie werke doen ek nie uit myself nie.

Maar ek doen
dit met die hulp van die Heilige Gees, wat in my woon.

Hierdie
goeie werke getuig van die groot werk van die Here in my.

As die Here
my nie gekoop het nie, as ek nie sy eiendom – sy slaaf met die woorde van Lukas
17 – geword het nie, as Hy my nie opgehef het nie, dan sou ek niks hiervan kon
presteer nie.

My goeie
werke is heeltemal te danke aan die goeie omstandighede waarin Hy my geplaas
het.

 

Tereg stel
die Kategismus dan die volgende vraag:

Verdien ons
goeie werke dan heeltemal niks nie?

Die antwoord
is: Nee.

Nie omdat
hulle nie goed is nie.

God self noem
hulle ook goed.

Die antwoord
is nee, eenvoudigweg omdat daar niks meer is om te verdien nie.

Ons het
alles reeds ontvang: die saligheid in Christus.

Wat wil ons
nog meer?

Die betaling
is reeds gedoen.

Daardie boek
is nou toegemaak, hy hoef nie weer opgemaak te word nie.

Goeie werke
wat ons doen word nie genoteer in daardie boek nie.

Goeie werke
word opgeskryf in ‘n ander boek:

die boek van
die dankbaarheid.

Dit is waar
God hulle opskryf.

My genade is
vir jou genoeg.

Dit staan in
die betalingsboek.

Maar in die
boek van die dankbaarheid staan:

Deur God se
genade is hierdie persoon besig om te groei,

en
stelselmatig al hoe beter werke te verrig.

 

Geliefde
gemeente, kom ons hou hierdie twee sake, hierdie twee boeke, duidelik
uitmekaar.

Moenie
probeer om jou goeie werke in die boekhouding in te smokkel nie.

In die
boekhouding van jou lewe vind jy net Christus se naam.

En jou goeie
werke hoort tuis in ‘n ander boek: die boek van die dankbaarheid.

Ons is maar
net onverdienstelike diensknegte, ons het maar net gedoen wat ons verplig was
om te doen.

As die Here
besluit om ons te beloon, ons ‘n ekstraatjie te gee, is dit nie uit verdienste,
maar uit genade.

 

En dan kom
die laaste vraag uit Sondag 24.

Maar maak
hierdie leer nie mense sorgeloos, goddeloos, onverskillig nie?

Die antwoord
op hierdie vraag is ontwapenend.

Dit kom uit
‘n heel ander hoek as wat die mense toe – met die Roomse konteks waarin hulle
gelewe het – verwag het.

Dit is
onmoontlik dat iemand wat aan Christus behoort, geen vrugte van dankbaarheid sou
dra nie.

Sê Jesus nie
self: “’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen
goeie vrugte nie.” (Matt 7:18)

Vyf eeue
gelede, toe Luther die Evangelie van genade begin preek het, het – eerlik gesê
– die mense hulle hart vasgehou.

Veral die
leiers in die Roomse kerk.

Met so ‘n
leer, dat jy slegs op Christus hoef te vertrou, kry mens met so ‘n leer nie
chaos in die kerk nie?

Met so ‘n
leer kweek jy mos onverskillige mense!

As jy die
mense in hierdie lewe al sekerheid gee van die ewige lewe, watter moeite gaan
hulle dan nog doen?

Dan gaan
hulle mos agteroor sit? Geestelik lui word. Hulle afvee aan die pleidooie van
die priesters om beter te lewe.

Met so ‘n
leer – dit was die konsensus oor Luther se opvattings – daarmee kweek jy
goddelose mense.

Maar
gemeente, hoe het die geskiedenis daarna verloop?

Inderdaad,
dit het geblyk dat dit nie waar was nie.

Uit die
Reformasie het ‘n kerk tevoorskyn gekom, wat gemotiveerd was en volledig aan
God toegewy.

Geen
sorgeloosheid en goddeloosheid nie, dit het uitgekom dat die Protestante nog
veel heiliger geleef het as hulle wat in die Roomse kerk gebly het en moes
swoeg en sug om ook bietjie aan hulle saligheid by te dra.

 

Waar lê die
geheim?

Dit lê
daarin dat jy ingeplant word in Christus.

Hy is die
wynstok, julle die lote. Wie in Hom bly, dra veel vrug.

Maar sonder
Hom kan julle niks doen nie. (Joh 15:5)

Vrugte van
dankbaarheid, omdat ons op Christus ingeplant is.

As ons
volgende week nagmaal vier, gedenk ons wat Christus vir ons gedoen het.

Die boek van
geregtigheid het Hy toegemaak.

Dink bietjie
in die week wat kom bietjie oor jou geloofslewe, jou kerklike lewe.

Is jy
betrokke omdat jy nog steeds bietjie bang is of God jou wel goed genoeg sal
vind?

As dit die
geval is, gooi die roer om.

Daar is
volledig betaal.

Begin nou
lewe uit dankbaarheid.

Dank Hom dat
Hy jou ingeplant het, soos ‘n loot is jy verbonde aan die wynstok.

Dit bring
ons terug by ons tema, waarmee ek wil afsluit:

Ons goeie
werke getuig van die groot werk van die Here in ons.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)