Sondag 21 : Die werk van die Seun van God onder die mense

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-01-19
Teks: 
I Korinthiërs Gedeeltes uit Hfste 6, 11, 12 en 14s
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblef vir ds PG Boon.

Kopiereg voorbehou

PRETORIA-MARANATA,
19 Januarie 2014 AD, 17:30
 

 

Liturgie:

Votum

Seën

Ps 84:1

Gebed

Skriflesing:

1 Kor 6:1-11

1 Kor 11:17-22

1 Kor 12:1-7; 12-18

1 Kor 14:26-40

Ps 133:1,2

Teks:             HK
Sondag 21

Preek

Ps 48:1,4

Gebed

Geloofsbelydenis: sing Sb 27:1-5

Kollekte

Sb 45:1,2,3,10

Seën

Preek:
HK sondag 21

Christus is op aarde besig om die kerk te versamel.

Die metode wat Hy gebruik is sy Gees en Woord.

In sondag 20 het dit oor die Heilige Gees gegaan.

Hy lei mense na die kerk toe om daar verlossing te vind.

Daarvoor gebruik Hy twee ‘boeke’.

Die boek van die skepping – metafories bedoel.

En die Bybel.

Uit hierdie laaste boek leer ons Jesus Christus
persoonlik ken.

Ons gaan vanaand in Sondag 21 kyk wat Christus op aarde
doen.

Hy bring mense saam om ‘n kerk te vorm.

Hy maak van hulle ‘n eenheid.

Hy leer hulle om te lewe uit vergewing van sondes – in
hulle persoonlike lewe, en in hulle groepslewe as kerk.

Dit is waaroor Sondag 21 gaan.

Ons het nounet ‘n paar stukkies uit 1 Korinthiërs gelees.

Hieruit kan ons ‘n beeld vorm van die kerk wat Christus
in die Griekse stad Korinthe versamel het.

Hierdie gemeente kan as ‘n goeie illustrasie dien by wat
ons in Sondag 21 leer.

 

Tema:
Die werk van die Seun van God onder die mense

1         Hy roep mense saam in die kerk

2         Hy verbind hierdie mense tot ‘n hegte
eenheid

3         Hy leer hierdie mense om uit die
vergewing van sondes te lewe

 

1         Hy roep mense saam in die kerk

Wat glo jy van die kerk? is ‘n ander vraag as: wat is jou
mening oor die kerk?

Onderaan hierdie Kategismusantwoord kan hy 35 verwysings
na Bybeltekste vind.

Hier word dus nie net ‘n mening van iemand oor die kerk
gegee nie.

Hier word deurgegee wat die Bybel ons openbaar oor die
kerk.

Sê nou maar een of ander statistieke buro sou ‘n
verteenwoordigende meningspeiling doen na wat mense in die algemeen oor die
kerk dink, sou hulle by dieselfde antwoord uitkom as wat hier staan?

Ek dink ons weet almal dat norm en werklikheid dikwels
nogal ver uitmekaar lê.

Watter uitgangspunt kies jy?

Aan watter maatstaf meet jy die groep mense wat in een
kerkgebou bymekaarkom?

Stap 1 is, sê Sondag 21: kyk in die Bybel wat GOD se
bedoeling met die kerk is.

Stap 2 is dan dat jy die werklikheid van hoe ons saam
kerk is, daarmee vergelyk.

En dan moet jy natuurlik die werklikheid eerlik verwoord,
ook as dit vir jou gevoel teleurstel.

Juis met die bedoeling om van daaruit te werk in die
rigting van wat God se bedoeling is.

Soos Hy dit vir ons in die Bybel aanwys.

Kan mens dan in die Bybel ‘n ideaalbeeld vind van ‘n kerk
hoe dit sou moes wees?

Allermins.

Neem byvoorbeeld die kerk in Korinthe.

Eerlik lê die apostel Paulus, in opdrag van die Here, die
vinger by die vrot plekke in hierdie gemeente.

En dit juis met die bedoeling dat hulle deurgroei,
hulleself hervorm volgens die bedoeling van Christus.

Die gemeente in Korinthe was nie uit hulleself ‘n
eenstemmige gemeenskap nie.

Dit blyk nie net uit die feit dat hulle onderlinge
konflikte gehad het nie,

Maar ook uit die manier hoe hulle dit probeer oplos het.

Dit blyk ook uit die feit dat elkeen tydens die gesamentlike
byeenkomste, die eredienste, sy eie styl soos hy dit van huis uit gewoond was,
gewoon wou voortsit,

Sonder om die moeite te doen om bietjie meer met ander te
integreer nie.

Groepsvorming, noem ons dit.

Uit wat ons in hfst 11 gelees het, blyk dat dit in
Korinthe ook ‘n probleem was.

Ja, dit is dus die realiteit in die kerk van Christus.

Hierdie sin klink nogal teleurstellend.

Tog kan mens, gemeente, hierdie sin ook uit ‘n ander hoek
benader.

Die kerk, hoewel onvolmaak, is TOG ‘n realiteit in
hierdie gebroke wêreld!

Die feit DAT daar ‘n kerk is, is al ‘n wonder op sig!

Die Heid Kategismus sê daarom heel bewus: die Seun van
God vergader.

HY sorg dat dit van die grond af kom.

Al bly dit gebroke werk agv die onvolkomenheid van
mense...

Dit is dus ‘n feit dat daar in die kerk ‘n groep mense
bymekaarkom, met elkeen sy eie aard, sy eie wense en voorkeure.

Hoe hanteer mens dit in die kerk?

Watter wense en voorkeure mag die botoon voer?

Mens sien in die politiek dat mense beswaarlik
eenstemmigheid kan bereik.

Meestal word dit dan opgelos deur te stem – demokrasie is
mos die oplossing van alle probleme.

Maar die uiteinde is dat die meerderheid dan die botoon
voer en sy wense op die minderhede oplê.

Is dit ook – afgesien van die vraag of demokrasie in die
politiek die oplossing van alle probleme is – is dit ook die manier hoe
meningsverskille in die kerk besleg moet word?

As daar nou in die kerk ‘n meningsverskil bestaan oor die
liturgie, of oor gesange, of dalk net oor die inrigting van die kerk, hoe los
mens dit op?

Deur die eeue was daar altyd weer onderwerpe waaroor
kerklede verskillend gedink het.

En dan het ons nog maar net gepraat oor dinge wat in die
erediens aangaan.

Maar daar kan ook tussen gemeentelede ander
meningsverskille wees.

Familiegeskille, burerusies, geskille tussen werknemers
en werkgewers, ensovoorts.

Hoe los jy dit op?

En as jy saam lid is van die kerk, watter invloed het dit
op onenigheid en die manier waarop jy dit oplos?

In 1 Korinthiers 6 lees ons hoe gemeentelede hulle
onderlinge geskille voor die wêreldlike regter gebring het.

Mens kan hieruit opmaak dat gemeentelede voor alles hulle
eie gelyk wou handhaaf.

Maar nie saak hoe lank jy aanhou, jy stap desnoods na die
regter, as jy maar bevestig word in jou gelyk.

Dit was die werklike stand van sake in Christus se kerk
in Korinthe.

Dit is diep beskamend.

Het iemand wat tot geloof en bekering gekom het, dan nie
juis van Christus die vaardigheid ontvang om elke geskil in liefde op te los
nie?

Seker as dit maar net oor alledaagse dinge gaan...

Het ‘n gelowige wat vergifnis vir al sy skulde ontvang
het, omdat Christus in ons plek gesterf het, dan nie van Christus geleer om ook
die minste te wees nie, en desnoods onreg te dra nie?

Gemeente, mens sien hoe in hierdie brief aan die
Korintiers die Heilige Gees besig is om die vinger by die seer plek te lê,

met die doel om die gemeente verder te bring.

Ook vandag kan ons dit ter harte neem.

As dit in die kerk al hoe meer begin voorkom dat daar ‘n
behoefte is aan uitsprake deur derdes – en dan dink ek nie net aan die regter
nie, maar ook aan klassisse, sinodes ens., kan dit ‘n teken aan die muur wees,
dat ons die kern van die evangelie, naamlik die kuns van vergewing vra en
vergewing skenk, verleer het.

Die realiteit, nie net van die kerk in Korinte, maar ook
van miskien elke kerklike gemeenskap, is dikwels teleurstellend.

Maar juis daarom roep Sondag 21 ons op om nie in die
eerste plek op eie ervarings met die kerk te fokus nie, maar op dit wat die
Bybel leer oor die kerk.

Dit is Jesus, die Seun van God, wat vir Hom ‘n kerk uit
die HELE menslike geslag vergader, beskerm en onderhou.

Hiermee word bedoel: mense uit alle volke, alle
verskillende tale, rasse, ens.

Maar nog nader aan huis: hiermee word ook bedoel dat
Christus ook mense vir sy kerk vergader uit daardie deel van jou familie
waaraan jy ‘n hekel het.

Skynbaar het Christus nie ‘n hekel aan hulle nie.

En Christus werf ook mense vir sy kerk, by wie jy dalk ‘n
onbehaaglike gevoel kry.

Ook met hulle is Christus besig.

Christus het in sy kerk mense wat ryk is, en wat arm is.

Christus het in sy kerk mense uit die stad, en van die
platteland.

Christus het in sy kerk mense wat van karakter baie
vernuwend is, en mense wat liefs altyd wil vashou aan wat oud en vertroud is.

En of hierdie mense nou van mekaar hou of nie, is nie ter
sake nie.

Christus is skynbaar in staat om oor mure wat mense gebou
het, heen te beweeg.

In sy seleksieprosedure hou Hy nie rekening met die
voorkeure van mense nie:

By voorkeur net blankes, of by voorkeur bietjie ryker
mense, of by voorkeur vooruitstrewende, of dalk konserwatiewe mense...

Vir Christus is hierdie sake irrelevant.

Christus gooi hulle as’t ware op een hoop in dieselfde
kerk, die finansiele adviseur langs die petroljoggie, die IT deskundige langs
die sekuriteitswag, die tiener langs die bejaarde, die getroude langs die
ongetroue, die kinderlose langs die ma van 6; en Hy sê vir ons:

Sorg dat julle ‘n eenheid WORD.

En besef goed: Ek het julle aan mekaar verbind, Ek het
hierdie groep saamgestel, dus is daar nie ‘n ander opsie as om na eenheid toe
te werk nie.

Lewer jou eie voorkeure maar in.

Jullie gaan saam verder, bestudeer my Woord, leer daarin
om kerk van My te wees.

En as gemeentelede mekaar in die hare vlieg, dan los
julle dit in gebed voor my aangesig op.

My Gees doen wonders met mense, stel jou hart daarvoor
oop.

Ek stuur my Gees na wie Ek wil.

Hy is in staat om in al die verskillende mense DIESELFDE
geloof te werk.

Jesus versamel vir HOMSELF, deur sy Gees en Woord – EEN
kerk uit die HELE menselike geslag.

So red Christus baie mense uit alle volke en tale wat
anders vir ewig verlore sou gegaan het.

In die kerk word die goud van die Evangelie uitgedeel.

Die kerk is heilig.

Hierdie woord gee die funksie van die kerk treffend weer.

Die kerk is ‘n suiwerende liggaam in die samelewing.

In die kerk mag niemand bly lewe in sonde nie.

‘n Kerklid is sondig, ons almal is.

Maar ‘n kerklid kan nooit ‘n gewoonte van ‘n sonde maak
nie.

Wie in sonde bly lewe, en self nie uit die moeras kom
nie, sal ervaar dat sy broers en susters in die kerk hulle met hom begin
bemoei.

In die goeie sin van die woord.

Wie self nie aan die sonde kan ontsnap nie, word deur sy
mede broers en susters uit die moeras getrek.

Ons is saam een liggaam.

As een lid ly of siek is, voel die hele liggaam sleg.

2         Hy verbind hierdie mense tot ‘n hegte
eenheid

Ons behoort vandag tot dieselfde wêreldwye kerk vna
Chritus as die mense in Korea en Cameroen, Argentinie en Australie, Slovakye,
Spanje, Slovenie of waar ook al op aarde.

En elke gelowige het PERSOONLIK deel aan die skatte van
die Here Christus.

As gelowige het jy ‘n persoonlike verhouding met die Here
Jesus.

Al het jy die Here Jesus leer ken deur jou ouers, of jou
dominee in die kerk, is dit nie so dat jy net deur hulle met Jesus kontak kan
maak nie.

Die pad na Jesus loop nie deur die dominee, of jou ouers,
of die maagd Maria, of wie ook al nie.

Jy het hom dalk deur hulle leer ken, maar vervolgens het
jy direkte persoonlike kontak met Jesus.

Daarom is daar in die kerk van Christus ook nie lede wat
belangriker is as ander nie.

Daarom het Jesus sy dissipels bestraf, toe hulle die
kinders by Jesus vandaan wou hou.

Maar gemeent,e die volgende is net so waar:

Jou geloof bestaan nie net uit ‘n persoonlike verhouding
met Jesus nie.

Naas hierdie vertikale band bestaan die geloof ook uit
horisontale bande.

Antw. 55 sê: elkeen is verplig om sy gawes tot nut en
saligheid van die ander lede aan te wend.

En dit met ‘n blye hart.

En dan gaan dit nie net oor geestelike gawes nie...

Juis ook dinge soos tyd, aandag, geld, besit – roerend of
onroerend – alle gawes wend gewillig en met vreugde aan.

Tot verdere opbou en uitbou van die gemeenskap.

As gepensioneerde maak dit nie sin om op jou geld te sit
en broei nie.

Daar is niks beters as om in te belê as in die kerk van
Christus nie.

Opbrengste in die verlede is ‘n waarborg vir die toekoms.

En dan dink ek nie net aan ons gemeente, of aan die VGK
in SA nie, maar ook aan die kerk in Korea, Cameroen of Ukraïne, Slowakye,
Spanje of Slowenie, of waar ook al ter wêreld.

Toe Paulus op sy sendingsreise in Klein-Asie en
Griekeland kerke geplant het – hierdie was destyds baie welvarende gebiede –
het hy die gegoede Christene by herhaling opgeroep om te kollekteer vir die
gemeente in Jerusalem, ‘n baie armer gemeente, ook vanwee die vervolging wat
hulle moes deurstaan.

Die oog kan nie vir die hand sê: ek het jou nie nodig
nie, of die kop vir die voete: ek het julle nie nodig nie (1 Kor 12:21).

Baie konkreet adviseer Paulus die Korintiers:

“Op elke eerste dag van die week van die week moet elkeen
van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die
insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie. En wanneer ek aangekom het, sal
ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem
te bring.” (1 Kor 16:2-3)

So roep God u op om van u materiele tegoede aan te wend
vir sy kerk op ander plekke, en misskien roep God die kerk in ander land op om
van hulle gawes, aan te wend vir u as gemeente.

Dat Jesus mense tot ‘n hegte eenheid verbind, is iets
waarin elke gemeente moet groei.

Dit het ons gesien tav Korinthe.

Die heilige Gees lê die vinger by die swak plekke.

Dit het in Korinte veral uitgekom tydens die
nagmaalsviering.

Dit was ‘n gesamentlike maaltyd, waarby elkeen saamgevat
het wat hy tuis gehad het.

Om dit konkreet te skets:

Al die kos en koeldrank is nie vervolgens op een tafel
gesit – deurmekaar – sodat elke gemeentelid vervolgens kon opskep en inskink
wat hy wou nie,

Waardeur elkeen dus dieselfde gekry het en ook genoeg,
net soos elkeen behoefte gehad het nie,

Nee, hoewel hulle in dieselfde kerk was, het hulle soos
los sand aanmekaar gesit.

Daar is nie gedeel nie.

Hooguit binne jou eie groep.

Met die gevolg dat die een honger huis toe gegaan het,
terwyl ‘n ander beskonke was.

In hierdie verband sê antw. 55: elkeen van ons deel in
die skatte en gawes van die Here Christus.

Elkeen van ons is ook verplig om hierdie gawes tot nut en
heil van die ander lede gewillig en met vreugde te gebruik.

In die kerk kan jy nie jou huisstyl voortsit nie.

Ons sal rekening met mekaar moet hou.

Ag die ander uitnemender as jouself.

Verskil van mening sal daar altyd wees.

Maar hoe leef ons dan saam?

Saam gaan ons op soek na Christus se wil in die Bybel.

Daarin vind ons mekaar.

As dit die blikrigting in die kerk is, dan sal daar nie
aan die een kant mense is wat honger ly, en ander die ander kant mense wat
kapitale spandeer in eksotiese restourante,

Of aan die een kant mense wat vernuwings in die kerk wil
invoer oor die rug van ander heen,

Of aan die ander kant mense wat alle veranderinge dwarsboom
en by voorbaat verdag maak, en so sommiges tot moedeloosheid dryf.

Ons fokus op die Seun van God, wat deur alle tye en
generasies heen sy gemeente bymekaar roep.

Saam bestudeer ons sy Woord,

Saam buig ons die hoofde en bid om wysheid en onderskeidingsvermoë,
sodat ons kant weet wat moet verander en wat moet bly.

In hierdie hele proses ag die een die ander uitnemender
as homself.

Net soos Christus ons uitnemender geag het as Homself.

Selfs toe ons nog vyande van Hom was.

3
Hy leer hierdie mense om uit die vergewing van sondes te lewe

Om te lewe uit vergewing.

Dit is die kern van die Christelike geloof.

Elke mens loop die risiko om ‘n ondraaglike skuldelas op
jou skouers te kry.

Jy ry te vinnig in die verkeer, jy maak ‘n botsing en
bring iemand anders lewenslang ‘n letsel toe.

Of dalk nog erger, jy let nie op nie, en jou kind kom om.

Of, hoewel jy regtig jou bes gedoen het in die opvoeding,
kan ‘n kind van jou net nie jou karaktereienskappe hanteer nie, en daar
ontstaan blywende verwydering.

Wie kan sulke laste dra?

Dit kan elkeen van ons oorkom.

En dan het ek nog nie genoem dat elkeen van ons in elk
geval ‘n ondraaglike las het om te dra,

Sondes en gebreke wat dag na dag hoër opstapel.

En ons ervaar almal die pyn van hoe ander dalk teen ons
gesondig het.

Die Bybel maak ons oë oop vir die realiteit dat elkeen
van ons so ‘n skuldelas het, en dat jy ewig daaraan ten onder sal gaan.

En dan is dit die unieke van die Christelike geloof dat
jy mag lewe vanuit die vergewing van sondes.

LEWE ja, want om met so ‘n skuldelas deur die lewe te
gaan, is nie meer ‘n lewe nie.

Dink byvoorbeeld hoe intens iemand soos Marten Luther dit
ervaar het.

Hoe hy gedink het hy kan miskien by God guns ontvang deur
homself te martel en pynig.

Hy het te min geëet, hy het geslaap met te min komberse,
hy het harde ertjies in sy skoene gesit sodat hy met elke stap pynlik aan sy
sonde herinner kon word.

Op ‘n stadium het hy ernstig siek geword, juis omdat hy
homself so verwaarloos het.

Soos hy later erken het: ek was banger vir Christus as
vir die duiwel.

Christus, die streng Regter.

Totdat ‘n ou monnik op ‘n keer sy aandag gevestig het op
hierdie artikel uit die geloofsbelydenis:

Ek glo in die vergifnis van die sondes.

Toe het die unieke van die Christelike geloof eers tot
hom deurgedring.

Wat is vergewing tog ‘n wonder!

Daardeur bloei die lewe weer op in al sy verbande.

Hoe mooi sal dit nie wees nie as alle mense hulle
reserwes om vergewing te vra en vergewing te skenk, ophef,

Hoe ‘n groot positiewe energie sal daar dan nie in die
wêreld ontketen word nie!

Christus neem die leiding, en ons mag Hom volkg in die
wonder van die vergewing.

Dit is ook waartoe die Heilige Gees die gemeente in
Korinthe oproep..

Watter geskil daar ook in die gemeente bestaan, hoe
moeilik ook, hoe kompleks ook, daar bestaan nie ‘n geskil wat NIE oplosbaar is
deur die wonder van vergifnis nie, die wonder waarin Jesus ons die weg wys.

As Jesus my skuld kon vergewe, en my sondige aard, dan
sou ons sonders teenoor mekaar peanuts behoort te wees.

As God ‘n mens vergeef, en selfs NOOIT meer aan sy sondes
terugdink nie, hoe kan ons dieselfde mens dan nog veroordeel?

Laat ons bewus wees van hoe die Heilige Gees in elkeen
van ons werk, hoe verskillend ons ook is.

Daar is verskeidenheid in genadegawes, maar dit is
dieselfde Gees.

Niemand kan sê: Jesus is Here, as deur die Heilige Gees
nie.

Begryp u dit, broers en susters:

Ook as daar iemand in die kerk is, wat jy nie kan
uitstaan nie, vanweë watter rede ook al, u sal wel moet erken dat die Heilige
Gees ook aan daardie persoon geskenk is, net soos aan jouself.

Hoe verskillend ons is, tog werk een en dieselfde Gees in
ons almal.

Sodat ons almal bely: Jesus is Here.

Hy vergader, beskerm en onderhou sy gemeente.

Ten spyte van die feit wie en hoe ons is, kry Hy dit WEL
reg!

Dit is skitterend.

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)