1 Kor 15 : 1-11 Hou vas aan die heerlike getuienis

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-04-28
Teks: 
Handelinge 13 : 13-16 en 26-41
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
28 April 2013, 10:15

 

(Ps 110:5-8)

Votum

Seën

S: Ps 98:1

Wet

S: Ps 6:1

Gebed

Skriflesing:
Handelinge 13:13-16,26-41.

S: Sb
10:1,2,5,6

Teks: 1
Korinthiërs 15:1-11

Preek

S: Ps 16:4,5

Gebed

Kollekte

S: Ps 2:4,6

Seën

 

 

 

 

Preek: 1 Korinthiërs 15:1-11

 

Ons is nou in die
dae tussen opstanding en hemelvaart (31 Maart – 9 Mei 2013).

Veertig dae.

Dit is meer as
’n maand.

Waar was jy
met Pase?

Dit was nog in
die skoolvakansie.

Wat het jy toe
gedoen?

Daarna het die
skole weer begin.

Ons is alweer
’n paar weke in die nuwe kwartaal in.

 

Wat het Jesus eintlik
in hierdie veertig dae gedoen?

Waar was Hy?

Wat sê die
Bybel oor hierdie tyd?

Dis eintlik
opvallend: baie hoofstukke gaan oor die laaste enkele dae voor sy
kruisiging.

Maar na
sy opstanding, die veertig dae daarna – waar was Hy eintlik?

In ons teks
gaan dit oor hierdie tyd.

En een woord
wat dan uitstaan is: verskyn.

Jesus het
VERSKYN.

 

Tema: Hou
vas aan die heerlike getuienis

-         
Die getuies aan wie Jesus verskyn het

-         
Die belangrikste getuie

 

1          Die getuies aan wie Jesus verskyn het

Kom ons begin
eers by die evangeliste.

Wat vertel
hulle eintlik oor hierdie veertig dae?

Ek gaan nou
nie elke evangelis apart behandel nie.

Dalk is dit
iets om tuis te doen, of op vereniging.

Maak vier
kolomme.

En lees dan
die gedeeltes in Matt, Mar, Luk en Joh wat handel oor die tyd na Jesus se
opstanding.

En vul dan
soos jy lees die kolomme in.

So kry jy ’n totaalprentjie.

 

Om kortliks
saam te vat:

Die dag van sy
opstanding, die Sondag, het Jesus verskyn aan:

Eerstens, die
vroue – Maria Magdalena, en Maria Jakobus se ma, Johanna, en nog ander.

Tweedens, aan
twee op pad die veld in, in ’n ander gedaante – dws hulle het Jesus nie herken
nie. Soms word hierdie twee geïdentifiseer met die Emmaüsgangers, maar die
meeste uitleggers sê dit was twee ander mense.

Derdens het
Jesus aan Simon Petrus of Cefas (vgl Joh 1:43) verskyn. Hy het waarskynlik op
daai stadium êrens in Jerusalem weggekruip.

Vervolgens –
nog steeds dieselfde Sondag – het Jesus aan die twee Emmaüsgangers verskyn. Ons
weet dat een van hulle se naam Kleopas was (Luk 24:18). Hy was waarskynlik ’n
oom van Jesus.

Nog steeds
dieselfde dag, maar nou in die aand, verskyn Jesus dan aan die dissipels, maar
sonder Thomas.

En dan eers agt
dae later verskyn Hy weer aan die apostels, nou saam met Thomas.

 

Hierdie eerste
verskynings het almal in Jerusalem plaasgevind.

En om eerlik
te wees, eintlik moes hierdie eerste verskynings nie nodig gewees het nie.

Want onthou u nog
wat Jesus ’n paar keer vir sy dissipels gesê het?

Op die derde
dag sal Ek opstaan.

En na my
kruisiging sal ek na Galilea gaan, daar sal julle My ontmoet (sien Matt
26:32).

Die dissipels
het egter in hulle ongeloof heeltemal hiervan vergeet.

Toe Jesus
gevange geneem is, het hulle verstrooid geraak.

Elkeen het op
sy eie plek gaan wegkruip.

En toe Jesus
verskyn aan die Maria’s, moes hulle vir die dissipels gaan vertel.

Dit was ’n
hele storie.

Want onthou, op
daai stadium was die dissipels nie meer as ‘n groep saam nie.

Die vroue moes
van die een adres na die ander soek om die dissipels te vertel.

En eers nadat
Jesus aan Petrus verskyn het, die leier van die twaalf, lyk dit of hy hulle
weer bymekaar gebring het, sodat hulle daardie Sondagaand vir die eerste keer
weer as ’n groep bymekaar was.

Maar nog
steeds met die deure toegesluit, hulle was bitter beangs vir die Jode.

En eers nadat
Jesus twee keer aan hulle verskyn het – die tweede keer was Thomas ook daarby –
eers daarna het hulle koers gevat na die noorde van die land, na Galilea.

 

Dit is in
hierdie lig te begrype dat Jesus direk hulle hulle ongeloof verwyt het.

Hulle het net
mooi niks gedoen van wat Jesus hulle beveel het nie.

Eerstens moes
hulle bymekaar bly en nie elkeen op sy eie plekkie gaan wegkruip nie.

Tweedens moes
hulle na die kruisiging na Galilea gaan – dit het hulle ook nie gedoen nie.

’n Week na die
opstanding het hulle nog steeds in Jerusalem rondgehang.

En
uiteindelik, toe Thomas ook oortuig was, het hulle koers gekies na Galilea.

 

En dit is daar
waar die volgende verskynings toe plaasgevind het.

Die evangelis Johannes
vertel oor die verskyning by die see van Tiberias.

’n Derde
verskyning aan die twaalf.

Daarna het
Jesus weer met hulle op die berg saamgekom – soos ons in Matt 28 lees.

Dit is
waarskynlik dieselfde berg as waar Jesus begin het om sy dissipels te onderrig.

Die berg van
die Bergrede.

 

Daarna – na ’n
paar weke – reis die dissipels weer suid rigting Jerusalem.

En dan vir ’n
laaste keer, by Betanië en die Olyfberg, verskyn Jesus aan hulle.

En vandaar vaar
Hy op na die hemel.

 

Om saam te
vat: al vier evangeliste skryf dat Jesus verskyn het na sy opstanding.

Dis opvallend
dat ‘n aantal verskynings wat hulle noem, met mekaar ooreenstem,

maar elke
evangelis noem ook weer verskynings wat nie by die ander voorkom nie.

Die
evangeliste het nie probeer om ’n volledige lysie te maak nie.

Waarskynlik
was daar dus nog meer verskynings as wat hulle noem.

 

Nou die vraag:
is daar nog ander plekke in die NT wat oor hierdie 40 dae tydperk praat?

Ja, ons kan
dink aan Handelinge 1.

Daar brei die
evangelis Lukas verder uit oor daardie laaste ontmoeting van Jesus met sy
dissipels.

In die
omgewing van Jerusalem.

Daar vanaf die
Olyfberg – ’n sabbatsreis buite Jerusalem, het Jesus toe opgevaar,

 

Tot sover
alles wat die NT ons vertel oor hierdie 40 dae, behalwe dan vir ons teks.

Kom ons kyk
nou bietjie na die teks,

en hoe ons
teks verband hou met was ons tot dusver gevind het.

Dus by die
vier kolomme van die evangeliste, nou ’n vyfde kolom –

dit wat Paulus
in ons teks skryf.

 

Paulus skryf
teen die agtergrond dat daar sommige mense in die kerk van Korinthe begin
twyfel het aan Jesus se opstanding.

Om oor sy
opstanding te twyfel, is nie ’n ongewone ding nie.

Daar is baie
mense wat dit doen, ook vandag.

Al is die
redes hoekom mense twyfel, nie altyd dieselfde nie.

Twyfel het
baie keer te make met – kom ons noem dit – wêreldgelykvormigheid.

As jy op ’n
manier soos die wêreld begin dink, dan begin jy dalk twyfel.

So was daar
ook in Korinthe mense wat soos die wêreld om hulle heen begin dink het.

Hoe het die
wêreld om hulle heen gedink?

Dit was die
gangbare opinie in daardie tyd dat na die dood jou siel bly bestaan, maar dat
jou liggaam vergoed verby is.

Dat ’n dooie
liggaam sou opstaan – dit was vir hulle eintlik ’n belaglike gedagte.

Die liggaam is
in elk geval beskou as ’n kooi wat die siel gevange hou.

Hierdie denkwyse
is genoem die gnostiek.

Miskien onthou
u, maar die Sadduseërs het ook so gedink.

Hulle het ook
nie in die opstanding van die liggaam geglo nie.

Hulle was in hierdie
opsig wêreldgelykvormig.

Deesdae in die
sekulêre Westerse wêreld is daar ook baie mense wat nie in die opstanding glo
nie.

Baie mense glo
dat as jy sterf, is dit verby.

As ons na
Afrika kyk, dan glo die meeste swartmense weer anders.

Eintlik baie
soos die mense in Korinthe geglo het.

Die meeste
swartmense glo dat as jy sterf – jou siel – hulle noem dit jou moya –

na die
voorvaders gaan – of as jy ’n christen is – dat jou siel na God gaan.

Daar is egter
bitter weinig swartmense wat in die opstanding van die liggaam glo.

In my
sendingswerk het ek dit al dikwels meegemaak.

Mense beskou
hulleself as christene, hulle dink hulle ken hulle Bybel,

maar as jy
vertel dat hulle liggaam eendag uit die graf sal opstaan,

dan rek hulle
oë so groot soos pierings.

Dit vorm net
nie deel van hulle denkraamwerk nie.

Tog is dit
presies wat Paulus hier skryf.

En, sê Paulus,
daar IS getuies.

Nie net een
nie, maar ’n hele klomp.

Jy kan nie net
hulle getuienis ignoreer nie.

Dis hoekom –
sê Paulus – ek juis hierdie boodskap – hierdie evangelie – aan julle verkondig
het.

Ek het dit aan
julle oorgelewer, omdat ek dit ook self so ontvang het.

Ontvang het
van wie?

In die eerste
plek van Jesus self (hfst 11:23), en van die getuies!

En so kom
Paulus dan sover om ’n lysie op te stel van getuies,

mense wat met
hulle eie oë die Here Jesus NA sy opstanding gesien het.

 

Kom ons kyk nou
na Paulus se lysie:

-         
Hy
het aan Cefas verskyn. Dis Simon Petrus.

-         
Daarna
aan die twaalf. Eintlik was dit tien of elf op daardie stadium. Die woord
‘twaalf’ het egter ’n begrip geword.

-         
Daarna
het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou
nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Vyfhonderd broeders beteken nie dat
daar nie ook susters of kinders by kon gewees het nie. Dit was die manier hoe
daar in daardie tyd getel is. As jy vinnig ’n groep wou tel, dan tel jy die
mans. As daar soveel mans is, kan jy ’n skatting maak hoeveel vroue of kinders
daar ook sou wees. Dink aan die keer toe die Here Jesus ’n skare met vyf brode
en twee vissies gevoed het. Daar word dan gesê: Dit was omtrent vyfduisend
manne wat geëet het, buien die vroue en kinders. Natuurlik word hier nie bedoel
presies vyfduisend, en nie dalk 5001 of 4999 nie. Daar is ’n vinnige telling
gehou. Die mans is getel, vervolgens kan jy aflei hoeveel daar in totaal was – dalk
15 000 of 20 000 in totaal.

Wat ons dus in ons teks lees – vyfhonderd broeders
– dui op ’n groot groep, waar waarskynlik vroue en kinders ook by was. ’n Massa
byeenkoms dus.

En, voeg Paulus toe – die meeste van hulle lewe
nog. Kom ons dink gou op watter tydstip hierdie was: Paulus skryf hierdie brief
aan Korinthe tydens sy tweede sendingsreis.

Hy skryf dit vanuit die stad Efese ongeveer in die
jaar 55.

Dit is dus ongeveer TWINTIG JAAR na Jesus se
hemelvaart.

Dus, sê nou maar jy was een van hierdie groot
groep aan wie Jesus verskyn het,

en sê nou maar jy was op daardie stadium 10 jaar
oud, dan sou jy nou 30 wees.

Of sê nou maar jy was op daardie stadium al 40
jaar oud, dan sou jy nou al 60 wees.

Of sê nou maar jy was al 60 toe Jesus aan hierdie
groep verskyn het,

dan sou jy nou al 80 wees, of dalk sou jy al
ontslaap het, soos Paulus hier sê.

In elk geval, die meeste van hierdie groep het nog
gelewe.

Dus, as die Korinthiërs nie wou glo wat Paulus
skryf nie,

dan moes hulle vir een van hierdie baie mense gaan
vra.

 

-         
Ons gaan
verder met Paulus se lysie. Jesus het aan Jakobus verskyn. In die vroeë kerk
was daar verskillende Jakobusse. Ons ken die Jakobus wat ’n apostel was, seun
van Sebedeüs en broer van Johannes. Hy’t ’n belangrike leiersfiguur in die kerk
in Jerusalem geword. In Handelinge 12 staan dat Herodus hom gevange geneem en
met die swaard omgebring het. Dus die oomblik wat Paulus ons teks skryf, het
die apostel Jakobus nie meer geleef nie. In ons teks word ’n ander Jakobus
bedoel. Die Jakobus wat die brief geskryf het wat ons nou in die Bybel het. Hy
was een van Jesus se broers, in letterlike sin – ook ’n kind van Maria. Die
Bybel sê dat Jesus se broers nie in Hom geglo het nie, tot die dag van die
kruisiging toe. Hierdie verskyning van Jesus het sy lewe dus waarskynlik totaal
omgekeer. Van ongelowige tot gelowige!

-         
Volgende
op Paulus se lysie is: al die apostels. Moontlik verwys hy hier na Jesus se
finale verskyning op die Olyfberg.

-         
En
dan laaste op die lysie is hyself. Paulus noem homself ’n ontydig geborene. Die
betekenis van hierdie woord in die grondtekst is eintlik: ’n miskraam. Oftewel:
’n kind wat een of ander gebrek het en dus nie lewensvatbaar is nie. So beskryf
Paulus homself. Vergeleke met die ander apostels is hy ’n gebreklike miskraam. Hy
het selfs die gemeente van Christus vervolg, hy is te sleg om met hulle
vergelyk te word. Maar tog, desnieteenstaande, danksy God se genade mag hy nou
wees wat hy is. ’n GETUIE!

 

Tot sover die
lys van getuies aan wie Jesus verskyn het. Die lys van die evangeliste,
aangevul met die van Paulus in ons teks.

 

2       
Die belangrikste getuie

Maar nou is
daar nog een getuie in ons teks wat ek tot dusver oorgeslaan het.

Het u ’n idee
watter een?

’n Getuie wat Paulus
heel eerste noem.

Kom ons kyk
weer in die teks:

V3: Want in
die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat
Christus vir ons sondes gesterf het VOLGENS DIE SKRIFTE, en dat Hy op die derde
dag opgewek is VOLGENS DIE SKRIFTE.

Inderdaad, dis
die EERSTE getuie wat Paulus noem.

Die SKRIFTE
getuig van Jesus se opstanding, selfs nog voordat Hy opgestaan het!

Aan watter
Skrifte moet ons dan dink?

Paulus bedoel:
die boeke van die Ou Testament.

Dit was tot
dan toe die Bybel, die Skrif.

Al die boekrolle
– die Skrifte – meervoud – van die Ou Testament.

Is daar dan ‘n
teks uit die OT wat as getuige kan optree – getuie van sy opstanding?

Ons het
vanoggend ’n gedeelte uit Handelinge 13 gelees.

Handelinge is
deur Lukas geskryf, maar in hierdie hoofstuk gee Lukas ’n samevatting van ’n
preek wat Paulus gehou het.

In die
sinagoge van Antiochië verduidelik Paulus vir die Jode,

hy verduidelik
dat die OT al voorspel het dat Jesus sou opstaan.

Psalm 2: U is
my Seun, vandag het Ek u gegenereer.

En Psalm 16: U
sal u Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie.

Dawid – sê
Paulus – het ontslaap en wel verderwing gesien.

Maar Hy wat
deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie.

Gemeente,
verstaan u nou – die allereerste getuie, die belangrikste getuie –

dat God se eie
Woord is?

God se eie
woord in Psalms 2 en 16.

Maar ook God
se eie woord in Jesus se woorde, toe Hy alreeds voor sy kruisiging aangekondig
het dat Hy sou opstaan.

Toe Hy reeds
voor sy opstanding met sy dissipels ’n afspraak gemaak het:

Gaan na Galilea,
want daar SAL JULLE MY SIEN.

 

Kom ons
probeer dit wat ons tot dusver gehoor het bietjie saamvat.

Wat het die
Here Jesus gedoen in die veertig dae tussen opstanding in hemelvaart?

Die NT
konsentreer eintlik veral op een ding:

Hy het aan
mense verskyn, vernaamlik sy dissipels aan wie hy in elk geval vier keer
verskyn het.

Hy het nie net
verskyn nie, Hy het ook met hulle gepraat.

Hy het hulle
oortuig dat dit werklik Hy is.

En dat Hy ook
LIGGAAMLIK opgestaan het.

Thomas moes sy
vingers in sy wonde steek, dat hy kon VOEL.

En in hierdie
verband sê die NT ook meer as een keer dat Jesus geëet het.

Jy kan net eet
as jy ’n liggaam het.

Hy het
gebraaide vis en heuningkoek geëet.

Hy’t vir sy
dissipels gesê: voel aan My en kyk, want ’n gees het nie vlees en bene soos
julle sien dat Ek het nie.

Langs die see
van Tiberias het Hy die een oggend vroeg by ’n vuurtjie gesit.

Saam met die
dissipels het hy weer geëet, gebraaide vis en brood.

Dis wat Hy
gedoen het, daardie veertig dae.

Verskyn,
gepraat, gepreek, geëet.

 

Maar tog, tog
was alles nie meer dieselfde as voor sy opstanding nie.

En ek dink die
dissipels het dit goed besef.

Iets het aan
Jesus verander.

Ja, Hy het nog
’n liggaam gehad, maar tog was dit anders.

Hy kon skielik
in hulle midde verskyn, terwyl die deure gesluit was.

Ook lees ons
nie meer dat Hy – soos voor sy kruisiging –

die hele tyd –
dag en nag – saam met sy dissipels was nie.

Of dat Hy moeg
geword het nie.

Dat Hy geslaap
het nie.

Nee, Hy het
verskyn, en dan was Hy weer weg.

As ons al sy
verskynings wat in die NT genoem word optel,

en kom ons
neem aan elke verskyning het nie langer as ’n dag geduur nie,

dan praat ons
oor 7 of 8 dae.

Jy kan jouself
afvra: wat het hy die ander 32 dae gedoen?

’n Volle
maand?

Het Hy nog aan
ander mense verskyn, wat nie in die NT opgeskryf is nie?

Waarskynlik
wel.

Hy was in elk
geval nie die hele tyd saam met die twaalf nie.

 

Dit is belangrik
dat ons besef dat Jesus na sy opstanding ’n ander mens was.

Anders nie in
die sin dat sy dissipels Hom nie kon herken nie.

Maar wel ’n
ander mens in die sin dat Hy verskyn het met ’n verheerlikte liggaam.

Nie meer
onderworpe aan siekte en aftakeling en dood nie.

’n Liggaam wat
in ’n ander dimensie funksioneer.

’n Liggaam wat
ewig is.

Tyd is sowieso
’n ander begrip in die nuwe bedeling.

Vir God is
duisend jaar soos een dag, en een dag soos duisend jaar.

Kortom – in
daardie veertig dae tussen Pase en hemelvaart ontmoet die dissipels hulle
Heiland in ’n toestand wat hulle nie kan verklaar nie.

Hulle maak
kontak met ’n nuwe dimensie.

Selfs die
wonders wat die Here Jesus voor sy kruisiging gedoen het, was anders.

Jesus het
dooies opgewek, dink aan Lasarus.

Tog is Lasarus
nie met ’n verheerlikte liggaam opgewek nie.

Lazarus het
later weer gesterf, vir ’n tweede keer.

Maar nie Jesus
nie.

Sy verheerlikte
liggaam leef tot vandag.

In die hemel
is Hy nou opgeneem.

Hy sit daar op
die troon.

Hy regeer die
heelal.

Vanuit die
diepste vernedering van kruis en graf is Hy verhoog tot die hoogste posisie
denkbaar.

En dit is
wat al die ooggetuies besef het, al hierdie mense van wie Paulus in ons teks skryf,

toe hulle
gedurende daardie veertig dae oog in oog met die verheerlikte Heiland gestaan
het.

Hier staan Iemand
wat nie meer net ’n gewone mens is nie.

Hy het
absolute ontsag ingeboesem.

Hulle het oog in
oog gestaan met die Heer van die heelal.

’n Liggaam van
anderkant die graf.

Later in die
hoofstuk wei Paulus nog verder uit oor hierdie verheerlikte liggaam:

Moenie dink
dis dieselfde as die krankemikkige liggaam wat jy nou het nie.

So is die
opstanding van die dode. Daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek
in onverganklikheid, daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid,
daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ’n Natuurlike
liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. ’n Aardse
liggaam word gesaai, ’n hemelse liggaam word opgewek.

 

Wat ’n
ervaring moes dit nie gewees het, vir al daardie getuies wat Paulus noem, om
oog in oog te staan met die Eersteling uit die dode, die Verheerlikte!

Iets wat tot
op daardie stadium geen oog gesien, geen oor gehoor, en in geen mensehart
opgekom het nie!

’n Totale
herskepping.

Skitterend.

Oogverblindend.

Ja
oogverblindend, veral vir Paulus.

Die laaste
getuie in ons teks.

Paulus die gebreklike
miskraam.

Wat ’n ervaring
moes dit nie gewees het nie vir al daardie ooggetuies.

Heerlik,
inspirerend, ontsaglik, ja selfs vreesaanjaend – soos by Paulus die geval was.

Maar dan mag
ons direk daaraan toevoeg, dit wat Jesus vir Thomas gesê het:

Omdat jy My
nou gesien het, Thomas, het jy geglo.

Salig is die
wat nie gesien het nie en tog geglo het.

 

Met hierdie
woorde is ons weer terug by onsself, vanoggend hier in die kerk.

Ons is min of
meer in dieselfde posisie as die Korinthiërs aan wie Paulus skryf.

Die
Korinthiërs kon nog met van die oorlewende ooggetuies gaan praat het.

Ons nie meer
nie.

Ons het wel –
in teenstelling tot hulle – die hele NT, die hele Bybel,

waarin die
blye boodskap so duidelik tot ons kom.

En soos die
tweede punt sê: dit is die belangrikste getuie.

Die Skrifte,
tot stand gebring deur God self, geïnspireer deur die Heilige Gees.

Paulus skryf
aan die einde van ons teks:

Of dit nou ek
of hulle is – hy verwys hier na die ander apostels – so preek ons en so het
julle geglo.

Inderdaad – in
die Nuwe Testament vind ons die eendragtige getuienis van al die apostels saam.

So het die
Heilige Gees dit gelei.

Salig is jy as
jy hieraan vashou.

Jy glo nie
tevergeefs nie.

Jesus se
verheerlikte liggaam het op hierdie aarde geloop, vir veertig dae.

So sal jou verheerlikte
liggaam die herskape aarde bewandel.

Daar’s nog so
baie dinge wat ons nie verstaan nie, wat ons laat wonder, wat ons die gevoel
gee ons staar na iets uit ’n ander ver bo ons verhewe dimensie – net soos met
daardie eerste ooggetuies die geval was.

Nietemin, dis
daarom nie minder waar nie.

Dit laat jou
besef hoe klein en nietig jy as mens is, hoe tydelik, hoe gebroke,

en dat daar
dus wel iets is wat oneindig heerliker is.

Die toekoms
van ons Here Jesus Christus wat geopenbaar sal word.

En soos Paulus
die Korinthiërs opgeroep het, mag ek u vandag oproep:

Hou vas aan
wat u oorgelewer is.

Hou vas aan
die heerlike getuienis –
soos ons tema sê.

Hierdie
kosbare Evangelie.

Moenie toelaat
dat dit vervang word met wêreldgelykvormige gedagtes nie.

Kleingelowige
gedagtes nie.

Twyfelagtige
gedagtes nie.

Hou vas aan Hom wat die Alfa en Omega is, die
begin en die einde, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Salig is die wat sy gebooie bewaar sodat hulle reg
kan hê op die boom van die lewe.
(Open 22:13-14)

Die
verheerlikte ewige lewe.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)