Openb 19 : 6b Halleluja, Jesus Christus het die Koningskap aanvaar!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-02-24
Teks: 
Openbaring 19 : 1-20 : 6
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Openbaring 19-20:6

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Die reaksie van die konings en die handelaars en die seelui op die
val van Babilon was hartverskeurend egosentries: “wee, wee, want die bron van ons
rykdom het geval!” (Op. 18). Daarteenoor is die reaksie uit die hemel
hartverwarmend teosentries (Godgesentreerd): “Halleluja, prys die Here!” En ook
die kerk, wanneer sy in vers 5 opgeroep word om God te prys, reageer nie
halfhartig nie. Nee, met die stem van ‘n groot menigte en met die geluid van
baie waters en sterk donderslae (19:6a) roep die kerk dit uit: “Halleluja, want
die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar!” (19:6b). Dit is ‘n
opmerklike uitspraak as ‘n mens daaroor nadink. Want dit wys dat die kerk in
die oordeel oor Babilon, in die val van Jerusalem en die tempel in die jaar 70
nC, die aanvaarding van die koningskap deur Jesus Christus raaksien! Die val
van stad en tempel is dus van groot betekenis vir die vestiging van die
Koninkryk van Jesus Christus. Hoekom sê ek so?

 

Wel, gemeente, kom ons gaan ‘n bietjie terug in die geskiedenis…

Die Nuwe Testament vertel vir ons van die geleidelike vestiging van
die Koninkryk met die koms van Jesus Christus. Eers was daar net die aankondiging
van die koms van die Koninkryk, aanvanklik deur Johannes die Doper, maar daarna
ook deur Jesus self. Beide verkondig woordeliks dieselfde boodskap: “Bekeer
julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mt. 3:2, 4:17). Vervolgens
waarborg
Jesus, deur sy sterwe aan die kruis, die wettigheid van hierdie
Koninkryk, Hy legitimeer die Koninkryk, sodat Paulus in Filippense 2 kan sê:
“Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood
van die kruis. Dáárom het God Hom ook
uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is…”. Jesus ontvang die
Naam “Koning van die konings en Here van die here” (Op. 19:16) op grond van sy
dood aan die kruis. Kruis en Koninkryk het alles met mekaar te make. Maar
watter rol speel die ondergang van 70 nC dan in die vestiging van die
Koninkryk? Ons kan sê dat, in die ondergang van 70 nC, die Koninkryk in
die openbaar
(voor die oë van die hele wêreld!) geregverdig word – dit
is in elk geval hoe die kerk dit in Openbaring 19 ervaar! Die middelmuur van
skeiding (Ef. 2:14), wat wettiglik deur Jesus Christus afgebreek is met sy dood
aan die kruis, word nou ook fisies afgebreek in die verwoesting van Jerusalem
en die tempel. Teenoor die Judaïstiese tendense, wat beweer het dat die heil
slegs vir die Jode was, word die reg van die geloof in Koning Jesus bevestig,
vir die Jood maar ook vir die heiden. Hier word duidelik dat die Koninkryk van
Jesus Christus universele, wêreldwye pretensies het – breek af die mure van
Jerusalem, breek af die tempel, en gaan heen en maak dissipels van álle nasies!

 

En dit is wat die gebeure van 70 nC so belangrik maak, gemeente. Ons
kan nie maar net sê dat die verwoesting van stad en tempel ‘n privaat-Joodse
aangeleentheid is nie, dit is nie maar net ‘n stukkie Joodse geskiedenis nie. Inteendeel,
dit is deel van die heilsgeskiedenis, want hier word Christus se Koningskap gelegitimeer
en bevestig: Hy is werklik die Koning! En as die Jode nie hulle Koning wil
aanvaar, en daarmee ook alle voorafskaduwing van sy koms wil afskaf nie, dan sê
die Koning: “Ek sal dit doen! Ek sal die skaduwees van tempel en tempeldiens afbreek,
want Ek kan nie langer in die skaduwee van hierdie skaduwees lewe nie!” En só
maak Jesus die egskeiding met die hoer finaal, sodat die kerk sy bruid kan
word. Die Christelike geloof, die geloof in Christus as die enigste grondslag
van ons saligheid, vind hier publieke bevestiging. Ons hoef nie Jode te word
nie – nee, solus Christus (Christus alleen!) en sola fide (deur geloof
alleen!). En daarom sing óns vandag saam met die kerk in Openbaring:
“Halleluja, Jesus Christus het die Koningskap aanvaar!” Dit is dan ook die tema vir die
preek” “Halleluja, Jesus Christus het die Koningskap aanvaar!”
Maar
voordat ons daarby kom, wil ons eers die vraag beantwoord:  

 

Hoe lyk hierdie Koning? Wel, broers en susters, ons mag saam met Johannes in die oop hemel
inkyk [hou maar Openbaring 19:11-16 byderhand, want daar vind ons die
beskrywing van ons Koning]. Vers 11: Ons sien ‘n wit perd. Wit –
die kleur van oorwinning. En die ruiter op hierdie wit perd word genoem Getrou
en Waaragtig. Hy is immers die Amen, die getroue en waaragtige Getuie van
Openbaring 3:14 – jy kan op Hom staatmaak, sy woord word altyd waar, sowel sy
beloftes as sy dreigemente word sonder twyfel uitgevoer. Vervolgens word gesê
dat Hy oordeel en oorlog voer in geregtigheid. Ja, hierdie Koning stry die
regte stryd teen sy vyande, wat ook die kerk se vyande is, in die oorlog wat
sedert Genesis 3:15 woed. Vers 12: Sy oë is soos ‘n vuurvlam –
sy skerp blik sien alles raak (ons sien dieselfde in Op. 1:14, en ons vind ‘n
soortgelyke beeld in hoofstuk 5:6, waar gesê word dat die Lam sewe oë het). Op
sy hoof is daar baie krone – Hy is immers die draer van ‘n wêreld-omspannende
heerskappy, Hy het alle mag in die hemel en op die aarde (Mt. 28:18). Hy wat
die kroon, wat die satan tydens die versoeking in die woestyn vir Hom aangebied
het, afgewys het en wat daarna die doringkroon van lyding moes dra, Hy is nou
gekroon met heerlikheid en eer. Hy is bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy
en elke naam wat genoem, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die
toekomstige (Ef. 1:20-21); Hy sit aan die regterhand van God terwyl engele en
magte en kragte aan Hom onderwerp is (1 Petr. 3:22). En van God ontvang Hy ‘n
naam wat bo elke naam is, sodat elke knie voor Hom sou buig (Fil. 2:9-11). Vers
13:
Sy kleed is in bloed gedoop. Dit herinner ons aan Jesaja 63, waar
ons lees: “Waarom is u gewaad so rooi…? Ek het die pers alleen getrap… en Ek
het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle
lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het.” Hierdie Koning
voer persoonlik die stryd teen sy vyande! Sy Naam word vervolgens genoem “die
Woord van God” – nou, ons weet dat Christus in Johannes se evangelie genoem
word ‘die Woord wat vlees geword het’. Hierdie Woord is die skerp swaard wat,
volgens vers 15, uit sy mond uitgaan. Daarmee slaan Hy die nasies! En die
ysterstaf van vers 15 herinner aan Psalm 2, waarmee die nasies soos ‘n erdepot
stukkend geslaan word. Christus, die Woord, voer dus nie oorlog met bomme en
gewere nie, maar met die Woord wat uit sy mond uitgaan! Vers 14: Hierdie Koning
word gevolg deur die leërs van die hemel – waarskynlik moet ons hier aan die
engele dink. Hulle volg Jesus Christus in die heilige oorlog. Hulle wit klere
wys weereens op oorwinning, maar daarbenewens wys dit ook dat die Koning die
stryd alleen voer – sy klere is vol bloed,
maar húlle klere is spierwit.
Christus oorwin sonder enige hulp – aan Hom alleen die eer! Vers
16:
En ten slotte lees ons dat daar op sy kleed die Naam geskrywe
staan: Koning van die konings en Here van die here. Hy het absolute volmag,
onbeperkte heerskappy. Almal – die groot stad Babilon, maar ook die draak en
die dier – moet voor Hom swig. Dit is ons Koning, gemeente. Hy het volledige
heerskappy, Hy onderwerp sy én ons vyande, en Hy doen dit deur sy Woord! [sing
Skr. 31]

Kom ons gaan nou terug na die tema…

Tema: Halleluja, Jesus Christus het die Koningskap aanvaar! Dit lei tot:

  1. Die gevangeneming van die dier
  2. Die binding van satan
  3. Die regering saam met Christus

 

1. Die Koning van die konings en die Here van die here, die
ridder-op-die-wit-perd, Jesus Christus, kom aan die einde van hoofstuk 19 in ‘n
oorlog te staan teen die dier en teen die konings van die aarde en hulle leërs (19:19).
Die dier en die konings van die aarde wil teen Jesus Christus oorlog maak. Nou,
gemeente, hierdie dier het ons in hoofstuk 13 alreeds as die Romeinse Ryk
geïdentifiseer; die Romeinse Ryk in die persoon van keiser Nero. En wat
interessant is, is dat in hoofstuk 13:7 ook alreeds vir ons vertel word dat hierdie
dier oorlog voer. Teen wie? Teen die heiliges! Dit gaan dan oor die
christen-vervolging van daardie dae waarvan ons weet dat dit besonder wreed was.
Maar wanneer Nero die christene so wreed vervolg, dan bring hy daarmee, sonder
dat hy dit besef, hulle Koning in beweging. Christen-vervolging is in wese
Christus-vervolging! Dit is presies wat die verhoogde Christus in Handelinge 9
vir Saulus sê wanneer hy oppad is na Damaskus om daar die christene te vervolg:
“Ek is Jesus wat jy vervolg!” (Hand. 9:5). En net soos Saulus op die pad na
Damaskus, kom ook die dier hier oog in oog met Koning Jesus. Die dier maak
oorlog teen die gelowiges, maar uiteindelik is dit ‘n oorlog teen Jesus
Christus.

Maar dit kom nie tot oorlog nie, die stryd word beslis nog voordat
dit begin het. Die dier en die valse profeet word sonder teenstand gevange
geneem en in die vuurpoel gewerp (19:20). Hulle wat die uitvoerders, die
eksekuteurs, van God se oordeel oor die hoer Babilon was, hulle word nou self ook
gestraf. Hoe dikwels sien ons dit nie in die Ou Testament nie – God wat gebruik
maak van konings en nasies om sy straf oor sy verbondsvolk te voltrek, maar
wanneer hierdie instrumente volgens die verleende mag opgetree het, dan word
hulle vervolgens self ook uitgeskakel. Dink aan wat ons lees in Jesaja 10, waar
Assur in vers 5 die roede en die stok van God se toorn genoem word om sy volk mee
te straf. Maar net ‘n paar verse later vra die Here: “Kan die byl hom beroem
teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof ‘n staf
húlle swaai wat hom ophef, asof ‘n stok hóm ophef wat nie hout is nie!” (Jes.
10:15). Rome was in hierdie geval die byl waarmee God sy volk gekap het, Nero
was die saag waarmee God sy volk gesaag het, maar nadat die instrument sy taak
nagekom het, word hy self gestraf vir die feit dat hy sy mag oorskrei het; in
plaas daarvan om die ontroue verbondsvolk te straf, het hy homself ook vergryp
aan die heiliges.

 

Maar, opmerklik gemeente, is dat die dier en die valse profeet nie
doodgemaak word soos die hoer Babilon nie. Hulle word gevange geneem, ja, maar
nog nie doodgemaak nie. Rome word aan bande gelê, maar nog nie vernietig nie.
En die geskiedenis bewys dit. Nero, die dier in eie persoon, pleeg selfmoord in
die jaar 68 nC, reg in die drie-en-‘n-halfjaar tydperk van God se oordeel oor
Israel. Meer nog, hy sterf ten tyde van die verwoestende burgeroorlog wat Rome in
68 en 69 nC getref het, waardeur die Romeinse Ryk amper vernietig is. Amper
vernietig, amper dood, maar uiteindelik slegs gevange geneem. Want ná hierdie
burgeroorlog kry Rome twee keisers waaronder die ryk weer opgeleef het, maar
ook twee keisers wat die christene nie vervolg het nie.

So sorg die Koning van die konings vir sy onderdane, gemeente.
Wanneer Hy sy ontroue verbondsvolk vir haar hoerery straf, dan kom Hy
tegelykertyd op vir die beskerming van sy volgelinge en vir die voortgang van
sy Woord. Ná ‘n tyd van bloedige vervolging onder keiser Nero kom daar ‘n tyd
van vrede en voortgang vir die kerk in die toenmalige bewoonde wêreld. Halleluja,
Christus het die koningskap aanvaar, en sy koningskap strek ook oor die nasies
en magte van hierdie wêreld. Of in die woorde van Efesiërs 1: “En Hy het alle
dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee…” Christus is Koning
oor die hele wêreld, ter wille van sy kerk! Christus se heerskappy laat Hom nie
van ons, sy kerk, vergeet nie; inteendeel, Hy regeer vir óns! Dit was so in die
eerste eeu, dit is vandag nog net so…

Ons let vervolgens op die
binding van die Satan.

 

2. Dit is duidelik dat, ná die konkrete gevangenisneming van die dier
soos dit gerealiseer is in die eerste eeu, Johannes se perspektief in hoofstuk
20 skielik heelwat verder in die toekoms gerig word. Daarmee sê ons nie dat hy
nie oog het vir die hede van sy dag nie, maar die duisend jaar waarvan hy praat
en wat in sy eie dae alreeds begin het, strek nou baie verder vorentoe. Sy
blik, wat tot dusver baie sterk gerig was op die realiteit van sy dae, gaan nou
skielik oop na die toekoms. Ons sien naamlik dat die draak – die slang, die
duiwel, die Satan (20:2) – gegryp en vervolgens duisend jaar lank gebind word. En
dit is belangrik dat ons sal sien, gemeente, dat hierdie binding alreeds in die
dae van Jesus se bediening op aarde plaasgevind het. In antwoord op die aanklag
dat Hy duiwels deur die krag van die Satan uitdryf, sê die Here Jesus in
Mattheus 12: “… as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die
koninkryk van God by julle gekom. Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk
man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan
sal hy sy huis beroof” (Mt. 12:28-29). En dit is presies wat Jesus sedert
daardie tyd besig is om te doen: Hy het die sterk man, die duiwel, gebind, en
deur die verkondiging van die evangelie is Hy besig om sy goed te roof. Hy red
manne en vroue uit die mag van die Satan, Hy verlos hulle uit die mag van die
duisternis en bring hulle oor in sy koninkryk (Kol. 1:13; sien ook Hand.
26:17-18).

Maar ons lees vervolgens dat Christus die Satan met ‘n baie
spesifieke doel gebind het: “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die
duisend jaar voleindig is nie” (20:3). Ons weet, broers en susters, dat in die
Ou Testament slegs Israel die ware God geken het. Dink aan Psalm 147:19-20: “Hy
maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge.
So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie…” Maar met Christus se koms het dit
verander, en het die evangelie na alle nasies begin vloei. En vir hierdie doel
het Christus die Satan gebind sodat sy verleidende krag sou afneem terwyl die
evangelie deur die hele wêreld sou versprei. Ten spyte van die mag wat die
Satan voor Jesus se koms hier op aarde gehad het, verklaar Jesus nou: “Aan my
is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan heen en maak dissipels
van alle nasies!” En dit is presies die opdrag wat Paulus van Christus ontvang:
“Ek stuur jou na die heidene om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis
tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God…” (Hand. 26:17-18).

 

Die binding van die Satan, waarvan Johannes in Openbaring 20 praat,
het reeds in die eerste eeu begin. Christus het alreeds daarmee begin tydens sy
bediening op aarde – dink aan al die demone en bose geeste wat Hy uitgedryf het.
Hy het dit vervolgens verseker deur sy dood en opstanding; dink aan wat ons
lees in Johannes 12:31-32: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal
die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die
aarde verhoog word (daarmee bedoel Jesus sy kruisiging – sien vers 33), sal
almal na My toe trek.” En in die ondergang van die kerk se eerste vyand, die
Jodendom, bewys Jesus dat die Satan gebind is. Sodanig dat Christus in
Openbaring 3:9 vir die gemeente van Filadelfia kan sê: “Kyk, Ek gee jou uit die
sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie,
maar lieg – Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat
Ek jou liefgehad het.” Want Satan is gebind!

Gemeente, in hierdie wêreld kan daar net een koning wees – Christus
en Satan kan nie saam regeer nie. Een van die twee moet die ander een oorwin. Daarom,
wanneer Openbaring 20 vir ons vertel dat Christus die Satan gebind het, dan
impliseer dit tegelykertyd die aanbreek van sy koningskap. Sy Koninkryk is nie nét iets van die toekoms nie, sy Koninkryk
is nie een of ander toekomstige ideaal nie. Nee, sy koninkryk bestaan nou
alreeds. Immers, sê Paulus in Kolossense 1:13, ons is verlos uit die mag van
die duisternis en oorgebring in die koninkryk van die Seun. Dit skryf Paulus
aan die gemeente van Kolosse – tóé alreeds het Christus se Koninkryk bestaan.
En as hierdie realiteit die vroeë christene se belydenis was, soos wat ons kan
aflei uit die beskuldiging van die Jode teen die christene in Thessalonika
(Hand. 17:7), dan mag dit verseker ook ons belydenis wees. Ons moet geweldig
oppas om weg te raak in een of ander toekomstige koninkryk. Nee, daardie
toekomstige koninkryk bestaan vandag reeds! Christus is reeds
Koning, aan Hom is reeds alle mag gegee in die hemel en op aarde. Dat almal dit
nog nie erken nie, is waar. Dat elke mens nog nie voor hierdie Koning buig nie,
is ‘n realiteit. En dit maak die opdrag om dissipels te maak nog soveel
dringender.

Maar ons mag die werklikheid van Christus se heerskappy oor elke
owerheid en mag en krag, vandag en in die toekoms, nie ontken nie. Want dan
ontkrag ons die hele christelike lewe, en ons ontkrag die boodskap van die
kerk! Die vroeë christene het nie maar in hulle hoekie gaan wegkruip en gewag
tot eendag die Koninkryk sou kom nie – inteendeel, hulle was oortuig van die
binding van die Satan, hulle het geglo in die Koningskap van Jesus Christus, en
hulle uitgegaan na alle nasies en die evangelie gepreek – ook al is hulle
daarvoor doodgemaak. Dieselfde mag ons doen. En onthou: die satan het geen mag
oor die nasies nie. Massa-verleiding is nie meer in sy mag nie. Die mag oor die
nasies behoort aan Jesus Christus, en – dit is ons laaste gedagte – ook aan
ons!

Kom ons kyk na die regering
saam met Christus
.

 

3. Gemeente, ons het reeds in Openbaring 1:6 gehoor dat Christus van
ons konings en priesters vir sy God
en Vader gemaak het. En dit is presies wat Openbaring 20 vir ons vertel van die
Koninkryk van die duisend jaar. Ons vind daar twee groepe wat saam met Christus
regeer – daar is enersyds die siele van die wat onthoof is oor die getuienis
van Jesus en oor die woord van God. Dit is die siele van die heiliges wat reeds
gesterf het in diens van Christus. Maar dan is daar ook diegene wat die dier en
sy beeld nie aanbid het nie en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie
ontvang het nie – dit is die lewende heiliges wat op aarde vir Christus lewe. Beide
hierdie groepe het deel aan die eerste opstanding, dit is die wedergeboorte en
die verlossing deur Jesus Christus. Dit gaan hier dus oor die gelowiges – die
gelowiges wat reeds gesterf het, en die gelowiges wat nog lewe. En húlle regeer
saam met Christus die duisend jaar lank.

Dus, die Koningskap van Jesus Christus impliseer óns priester- en
koningskap! Wanneer ons vandag alreeds bely dat Jesus Christus ons Koning is,
dan sê ons daarmee saam ook iets van die christene. Hulle is ook konings. Of in
die woorde van Paulus in Efesiërs 2:6: “God het ons saam met Christus opgewek
en ons saam laat sit in die hemele in Christus Jesus.” Dit is werklikheid
vandag alreeds. En dit is ook wat ons bely in Sondag 12 van die Heidelbergse
Kategismus: ek is deur die geloof ‘n lid van Christus en daarom het ek deel aan
sy salwing, met die gevolg dat ek as koning in hierdie lewe met ‘n vrye gewete
teen die sonde en die duiwel kan stry. Koning-wees saam met Christus behels om
heerskappy te voer. Dit behels dat die ek die vyande van die Koninkryk beveg!
En natuurlik sê die Kategismus ook nog meer (nl. dat ek hierna met Christus in
ewigheid oor alle skepsels kan regeer), natuurlik is daar ‘n ‘nog nie’ in my
koningskap as christen, natuurlik moet ons nie maak asof die volmaaktheid al
bereik is nie. Maar ons moet erken dit wat wél bereik is. Ek is reeds koning,
ek regeer vandag alreeds saam met Christus.

 

En dan is die verskoning dat ek ook maar ‘n sondaar is, nie goed genoeg nie! Dit is nie goed
genoeg om maar agter jou sondige karakter weg te skuil nie. Want in Christus
het jy en ek méér ontvang. As ons gaan skuil agter ons sondige karakter, dan
ontken ons Sondag 1 van die Kategismus: my enigste troos na liggaam en siel, in
lewe en in sterwe, is dat ek uit die heerskappy van die duiwel verlos is en nou
aan my Verlosser, Jesus Christus, behoort! Hy maak my van harte gewillig en
bereid om vir Hom te lewe. Aanvaar
daardie koningskap, broers en susters!
Nee, dit is nie jou koningskap nie,
dit is nie jou krag nie. Dit is die krag van Jesus Christus in
jou
! As jy die hele tyd agter jou sondige natuur skuil, dan ontken jy
sy krag, en jy lê jou amp as christen neer. Jy doen afstand van die troon wat
Koning Jesus jou gegee het! Net nie dit nie.

Wat bedoel jy wanneer jy bid: laat u Koninkryk kom? Is dit maar net iets
van eendag? Weereens, die Kategismus leer ons anders in Sondag 48. Regeer ons
so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Bewaar
u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen
U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat…
Totdat die volkomenheid van u ryk kom waarin U alles in almal sal wees. Die
‘totdat’ sal kom, verseker, en ons sien uit daarna, ons wag daarop met
reikhalsende verlange, want die volmaaktheid het ons nog nie! Maar intussen mag
ons al heers, intussen mag ek elke deel van my lewe, mag ons elke deel van
hierdie wêreld opeis vir Koning Christus. Ons mag elke gedagte gevange neem tot
gehoorsaamheid aan Jesus Christus (2 Kor. 10:5), ons mag elke mens opeis met
die oproep: “Laat jou met God versoen! (2 Kor. 5). Want Christus het die
Koningskap aanvaar, en ons met Hom!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 74:2,
    11-13, 15 en 16

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van
die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 125:2, 3 en 7

Wetslesing + genadeverkondiging

Sing Ps. 130:2 en 4

Gebed

Lees: Openbaring 19:1-20:6

Sing Ps. 2:4-6

Teks: Openbaring 19:6b

Preek

  • Ná die inleiding sing Skr. 31
  • Amenlied Ps. 99:1-3

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 97:1 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)