Sondag 39 : deur middel van die vyfde gebod wil God ons wys maak tot die lewe.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-02-03
Teks: 
Spreuke 23 : 12-25
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK
Sondag 39; lees Spreuke 23:12-25

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Nie almal van ons se verhouding met ons ouers is ewe goed nie, en
nie almal van ons het altyd ‘n ewe goeie band met ons kinders nie. Verskillende
faktore kan daartoe bydra dat die verhouding tussen ouers en kinders nie altyd
is wat dit behoort te wees nie. Karakters kan meebring dat ‘n ma en haar dogter
voortdurend in mekaar se hare is, of dat ‘n pa en sy seun sukkel om mekaar te
vind. Verder kan omstandighede – soos finansiële moeites, onenigheid in die
huwelik, of druk by die werk – meebring dat daar spanning tussen ouers en
kinders is. Of ouderdom kan veroorsaak dat kinders moeite het om ‘n bejaarde pa
of ma goed te hanteer. Genoeg redes waarom die ouer-kind verhouding nie altyd
glad verloop nie…

 

En tog was, en is dit steeds, God se bedoeling dat daar mooi en
gesonde verhoudings tussen ouers en kinders sal bestaan. Só is dit immers binne
die Drie-eenheid tussen die Vader en die Seun. Hierdie twee leef in volmaakte
harmonie, ‘n pragtige verhouding waarin die Vader kan verklaar: “Dit is my
geliefde Seun…”, en waarin die Seun kan uitroep: “Ek loof U, Vader, Here van
die hemel en die aarde…”  Nou, gemeente,
hierdie verhouding tussen die Vader en die Seun mag en moet ook weerspieël word
in my verhouding met my pa en ma, en in my verhouding met my seun en dogter. Die
liefde tussen die Vader en die Seun in die goddelike Drie-eenheid mag ook ons
s’n wees wanneer pa’s en ma’s met liefde en deernis na hulle kinders kyk, en
wanneer seuns en dogters met respek en waardering na hulle ouers kyk.

Maar, broers en susters, in ons sondige bestaan vra dit wysheid. Dit
vra insig, dit vra dat ons sal kan onderskei waarop dit aankom. Elke ouer wat
die opvoeding van die kinders ernstig opneem, weet hoeveel wysheid dit vra om
goed met die kinders te kan omgaan. En elke ouer wat sy eie foute raaksien,
verstaan dat ook ons kinders wysheid nodig het om goed met hulle ouers te kan
omgaan. Wysheid – dít vind ons slegs in die vrees vir die Here. Slegs wanneer
ons God liefhet en wanneer ons sien hoe die verhouding tussen die Vader en die
Seun funksioneer, en wanneer ons glo dat Christus gekom het om dit vir ons ook
te verwesenlik, slegs dan word ons wys.

 

En so beland ons sonder enige moeite in die boek Spreuke. Die boek
van die wysheid in die weg van die Godsvrees. En dit is nie verbasend dat die
boek Spreuke hierdie onderwerp van die verhouding tussen ouers en kinders
uitgebreid hanteer nie. Telkens hoor ons in Spreuke die oproep aan kinders om na
hulle ouers te luister; dink maar net aan hoofstuk 1:8: “My seun, luister na
die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.” Verskeie
kere vind ons in hierdie boek die opdrag aan ouers om die tugtiging nie van
hulle kinders te weerhou nie; dink aan hoofstuk 13:24: “hy wat sy seun liefhet,
besoek hom met tugtiging.” En die gevolg hiervan is ‘n wyse kind, waaroor pa en
ma hulle kan verheug, soos wat ons lees in hoofstuk 23: “My seun, as jou hart
wys word, dan sal my hart hom ook verheug. En my niere sal jubel as jou lippe
spreek wat reg is… Die vader van ‘n regverdige juig baie; en as iemand ‘n wyse
verwek het, dan is hy bly oor hom.” Gemeente, die Spreuke-boek is in feite een
lang uitwerking van die vyfde gebod: “eer jou vader en jou moeder”…

Tema: deur middel van die vyfde gebod wil God ons wys maak tot die
lewe.
Ons let op die volgende aspekte van die vyfde
gebod:

  1. Onderrig en tug
  2. Vryheid en toekoms
  3. Geduld en liefde

 

1. Een van die bekendste en belangrikste beloftes wat ouers by die
doop van hulle kinders maak, is dat hulle onderneem om hulle kinders in die
leer van die Christelike geloof te onderrig. Natuurlik volg daar ook nog die “láát onderrig”, maar dit begin heel
eerste by die eie onderrig, tuis, in die gesin. Dáár lê christelike ouers die
fondament vir die lewens van hulle kinders – die fondament van die geloof, maar
ook alles wat uit die geloof voortspruit: respek, goeie maniere, taalgebruik,
etiket en gehoorsaamheid. ‘n Geweldige groot en verantwoordelike taak, een
waarvan ons die gewig en erns maar al te dikwels op ons skouers voel druk.

Maar, broers en susters, lê ons onsself nie ‘n te swaar taak op nie?
Of anders gestel: dra ons nie te swaar aan hierdie taak nie? Immers, die
doopbelofte word in vandag se wêreld nie meer deur baie erken nie. Nee, in ons
tyd het die gedagte van die vrye opvoeding die plek van die doopbelofte
ingeneem. Die vrye opvoeding leer vir ons dat ons kinders van jongs af
selfstandig moet word; dit leer vir ons dat ons nie ons kinders se vermoë om
hulleself uit te druk, aan bande mag lê nie, selfs nie wanneer dit tot groot
emosionele uitbarstings in die openbaar lei nie; dit leer vir ons dat ons hulle
nie die antwoorde moet gee nie, maar dat hulle die antwoorde self moet ontdek.
Ons moet ons kinders vrylaat! Is dit nie die rigting waarin ons ook moet beweeg
nie? Wie weet, dalk doen ons dit al…

 

En tog, gemeente, praat die bybel anders oor ouerskap. Wie in
bybelse sin oor ouerskap praat, praat in dieselfde asem ook altyd
oor onderrig en tug – dié twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Ouers is
geroep om hulle kinders te leer, aan hulle onderrig te gee. Dink maar net aan
wat ons lees in Deuteronomium 6:6-7: “… hierdie woorde wat ek jou vandag
beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor
spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy
opstaan.” In hierdie opdrag van die Here is daar nie sprake daarvan om jou kind
sy eie besluite te laat neem nie, hier is nie sprake van ‘n ruimhartige “kies
maar self” nie. Nee, hier lê die volle gewig van die onderrig, as ‘n bybelse opdrag,
by die ouers – en daardie gewig rus op jou as jy rustig by die huis verkeer, maar
ook as jy in jou kar ry, en as jy saans gaan slaap, en soggens vroeg wanneer jy
opstaan. Dit is ‘n voort-durende verantwoordelikheid!

Ja, broers en susters, in die vormende jare van ons kinders is ons,
as ouers, daarvoor verantwoordelik om groot besluite van lewensbelang vir
ons kinders te neem. Ons kry die taak
om hulle sodanig te lei dat hulle harte wys kan word (Spr. 23:15), dat hulle
lippe kan spreek wat reg is (vers 16), en dat hulle kan wandel in die vrees van
die Here (vers 17). Só belangrik is die onderrig van ons kinders, veral in die
eerste lewensjare waarin ouers meestal nog die enigste opvoeders is. Só
belangrik is die onderrig in die bybelverhale, in die sing van die psalms, in
die gebede; só belangrik is die skoolkeuse wat ouers vir hulle kinders maak; só
belangrik is die christelike sfeer wat kinders by die huis mag inasem. Wat
kinders vanaf hulle ouers saamgekry het aan kennis en liefde vir die Here, sal
hulle hul lewe lank bybly; dit maak hulle wys tot die lewe!

 

En, gemeente, daarom is onderrig en tugtiging ons taak, u en my taak.
Ons kan dit nie afskuif nie, ons kan onsself nie daarvan verskoon nie. Óns moet
leer, óns moet tugtig. Ja, veral ook tugtig… Dit kans is
goed dat ons binne die afsienbare toekoms wetgewing gaan hê wat ouers verbied
om hulle kinders lyfstraf toe te dien. Dit is ‘n hartseer ontwikkeling,
alhoewel nie heeltemal onbegryplik nie. Immers, hoeveel voorbeelde is daar nie
van gevalle waar kinders mishandel is deur die woede-uitbarsting van ‘n pa of
‘n ma nie?

Maar laat ons onsself, ten spyte van die wetgewing en die uitwasse,
nie daarvan weerhou om ons kinders met die roede te tugtig nie. Die
Spreuke-digter leer ons in hoofstuk 23:13 en 14: “Hou die tug nie terug van die
seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterf nie. Jy sal hom wel
met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” Tug is dus
lewensreddend. Van ‘n pakslae gaan ‘n kind nie dood nie; ons slaan hom, ja, maar
ons red sy lewe van die doderyk! Laat ons as ouers daarom die daad by die woord
voeg. Ons kan groot woorde gebruik: “moenie dit waag nie!”, of “as jy dit doen,
gaan jy met my te doen kry!”, maar hierdie woorde word leë krete as dit nie deur
die tug – ook fisiese tug – ondersteun word nie. En ons vind ‘n duidelike
voorbeeld hiervan by die priester Eli… Eli was skuldig omdat hy sy seuns, wat
goddeloos gelewe het, nie gestraf het nie. Ja, hy het hulle wel aangespreek,
maar hy kon homself nie sover kry om hulle te straf met die middele wat hy as
pa, as priester en as leier van die volk tot sy beskikking gehad het nie. En
dit het verreikende gevolge gehad – vir Eli, vir sy seuns, maar ook vir die
volk.

Straf is, op die oomblik dat dit toegepas moet word, nie aangenaam
nie, maar ons sal uiteindelik die vrugte daarvan pluk. Die roede slaan seer,
maar die Here wil hierdie roede gebruik om ons kinders te hou op die pad van
die lewe.

 

Kinders, luister daarom na die onderrig van pa en ma. Les nommer 1
in die wysheidsboek van die Spreuke is: maak in jou jeug alreeds ‘n gewoonte
daarvan om na jou gelowige ouers te luister. Hou altyd vas aan wat pa en ma jou
geleer het, en eer hulle vir die weg wat hulle aan jou voorgehou het.

Dit is immers wat Salomo, die digter van die meeste van die spreuke
in hierdie boek, self ook gedoen het. Terwyl hy alreeds koning was, het hy sy
ma met die grootste respek behandel; hy het vir haar opgestaan en voor haar
neergebuig, en hy het haar ‘n plek aan sy regterhand aangebied – lees maar 1
Konings 2:19. Het Salomo daarmee nie gewys dat hy besef wat hy as koning aan sy
ma verskuldig was nie? En wat van die Here Jesus self, die Seun van God? Ook Hy
was aan sy ouers onderdanig; ons lees daarvan in Lukas 2:51. En net die vers
daarna lees ons: “En Jesus het toegeneem in wysheid…” Onderdanigheid aan sy
ouers bring ook die Redder van die wêreld tot meerdere wysheid.

 

Vandaar die baie belangrike les van die Spreuke-boek: “Bring jou
hart na die tug en jou oor na woorde van kennis” (Spr. 23:12). Neem die
onderrig en tugtiging van pa en ma ter harte! Veral as ons op die pad is na
volwassenheid is dít wat pa en ma sê nie altyd wat ons wil hoor nie; jongmense
in hulle tienerjare dink dikwels dat wat pa en ma sê oudtyds en stowwerig is. Maar
sien raak, jongmense, dat agter pa en ma die Here besig is om jou te onderrig.
Laat dit daarom vir jou baie werd wees om jou ouers se kennis en wysheid te
hoor en jou eie te maak. Vra vir die Here dat Hy jou sal help om verby jou eie
weerstand te kyk na wat pa en ma regtig vir jou probeer sê. Soos wat die
Spreuke-digter in hoofstuk 23:23 sê: “Koop waarheid en verkoop dit nie, ook
wysheid en tug en verstand.” Ja, wie iets koop, het iets daarvoor oor, is
bereid om daarvoor te betaal. Wees só bereid om iets daarvoor oor te hê om
wysheid en tug en verstand te verwerf, naamlik ‘n oop hart en ‘n luisterende
oor vir die ouers wat die Here oor jou gestel het. Bewys aan hulle alle eer,
liefde en trou. Onderwerp jou met die verskuldigde gehoorsaamheid aan hulle
goeie leer en tug, want daardeur is die Here besig om jou lewe van die ewige
dood te red. Deur middel van hulle onderrig en tug lei hulle jou op die smal
pad wat na die lewe lei, en bly jy weg van die breë pad wat na die verderf lei.

Daarop let ons dan ook vervolgens:
vryheid en toekoms.

 

2. Ek het hierbo reeds vlugtig verwys na die sogenaamde ‘vrye
opvoeding’ wat in ons tyd soveel aanhangers het. Die vryheid van die kind staan
in hierdie manier van opvoeding hoog op die prioriteitslys. Skynbaar is kinders
in die verlede te veel ingeperk, skynbaar het streng opvoedingsmetodes kinders
te veel aan bande gelê. En daarom het hulle nou nodig om in vryheid hulleself te
ontdek en hulle eie lewenspaadjie te ontplooi. Dit klink natuurlik baie mooi;
dit klink baie ruimhartig. Maar in wese is dit naïef, in wese doen ons met
hierdie ideologie ons kinders ‘n groot onreg aan. Want watter vryheid is daar
werklik in hierdie benadering? Watter voordeel bring dit vir ons kinders? Niks
nie! Inteendeel, met so ‘n benadering stuur ons eerder ons kinders oop oë in
die afgrond in. Dink daaraan: onervare, onwyse kinders word aan hulleself
oorgelaat om die beslissende keuses van die lewe te maak!? Dit is soos om ‘n
vierjarige kind agter die stuur van ‘n motor te laat sit, en aan hom die
vryheid te gee om self te ry waarheen hy wil…

 

Nee, gemeente, egte vryheid vir ons kinders vind ons nie in totale loslating
nie. Natuurlik – en dit is ‘n belangrike les vir ouers – soos wat jou kinders
ouer word, gaan jy hulle meer en meer moet loslaat; dit spreek vanself dat ‘n
mens ‘n vyftienjarige meer vryheid gaan gee as ‘n sewe-jarige. Maar daar is min
vryheid in ‘n opvoedingstyl waar kinders van jongsaf alles sélf kan en moet bepaal…

Nee, broers en susters, egte vryheid vir ons kinders vind ons slegs in
die gebod van die Here, die vyfde gebod. Immers, die vyfde gebod is deel van
die wet van God, waarvan die aanhef lui: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit
Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.” Dit is vryheid – die
genadige verlossing deur die Here! En hoe behou kinders nou dáárdie vryheid? Deur
die vyfde gebod te gehoorsaam: “Eer jou vader en jou moeder.” Vir die kinders
van Israel sou die vryheid van die beloofde land voortduur solank as wat hulle
aan hul ouers gehoorsaam sou wees.

En, gemeente, in daardie lig moet ons nou ook die belofte lees wat
aan die vyfde gebod verbonde is: “Eer jou vader en jou moeder, sodat jou dae
verleng mag word, en dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here, jou
God, aan jou gee.” Gehoorsaamheid aan die ouers word dus beloon: kinders sal
gelukkig wees en ‘n lang lewe hê in die land wat die Here aan hulle gegee het. Nou
woon ons natuurlik nie meer in die beloofde land nie, en tog geld hierdie belofte
ook nog vir die Nuwe Testamentiese gelowiges, soos wat blyk uit die feit dat Paulus
hierdie belofte in Efesiërs 5:2 herhaal.

 

Maar hoe moet ons hierdie belofte vir vandag dan konkreet maak? Wat
beteken hierdie belofte vir gehoorsame kinders van vandag? Wel, in die eerste
plek kan ons sê dat ons hier nie met ‘n reël sonder uitsonderings te make het nie.
Dink enersyds maar net aan Abia, die siek seun van Jerobeam, wat jonk gesterf
het, ook al was hy die enigste een in die huis van Jerobeam in wie iets goeds
gevind is. En andersyds kan ons dink aan Job se vrae oor hoekom die goddelose mense
lank bly lewe en vredig in die doderyk neerdaal? Ja, daar bly baie wat ons met
betrekking tot hierdie belofte nie
kan verklaar nie.

Maar wat ons wel kan sê, in die lig van die Nuwe Testament, is dat
ons burgers is van ‘n hemelse koninkryk, en nie van ‘n aardse Kanaan nie. En in
daardie lig moet ons die belofte by die vyfde gebod verstaan. Dan kan ons saam
met die Spreuke-digter in hoofstuk 23:18 sê: “Waarlik, daar is ‘n toekoms, en
jou hoop sal nie verydel word nie.” Daar is dus ‘n toekoms vir die gelowige wat
sy ouers gehoorsaam is. Want in Christus kan ons ons oë rig op die koninkryk
van die hemele, waar die belofte van die ewige lewe in die hemel en op die nuwe
aarde vir ons wag. Wees dus verseker dat die belofte by die vyfde gebod steeds
onverkort in sy Nuwe Testamentiese betekenis geld vir elke gelowige kind wat
vader en moeder wil gehoorsaam.

 

Maar daarmee hoef ons nog nie te dink dat die belofte geen betekenis
vir die lewe hier het nie. Nee, dit het beslis betekenis vir hierdie lewe. Maar
hoe dan? Wel, ons kan onsself dit baie konkreet soos volg voorstel: Kinders is
onervare en begaan maklik foute en ongelukke, nie slegs as hulle klein is nie,
maar ook wanneer hulle al oppad is na die volwassenheid. En daarom het hulle
die praktiese wysheid van hulle ouers nodig. Hulle het nodig om baie konkreet te
hoor wat die gevare van die lewe is. Soos byvoorbeeld wat ons lees in Spreuke
23:17, 20 en 21: “Laat jou hart die sondaars nie beny nie… Wees nie onder die
wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. Want ‘n drinker en ‘n
vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.”

Jongmense het nodig om deur hulle ouers gewaarsku te word teen
slegte vriende, die gebruik van dwelms, die misbruik van seks, of die gevare
van ‘n verkeerde lewensmaat. Dit is die praktiese wysheid wat jongmense van
hulle ouers moet ontvang. En gehoorsaamheid aan hierdie wysheid waarborg vir
jou behoud van die lewe, want daardeur sorg jy dat jy wegbly van die gevare van
die lewe en sorg jy dat jy met die Here bly wandel. Laat ons daarom na ons
ouers luister. In hulle wil die Here vir ons die weg van die lewe wys. In hulle
wil Hy vir ons ‘n toekoms gee!

Ten slotte: geduld en
liefde

 

3. Ons het nou heelwat gesê oor die wysheid en kennis van die ouers,
aan wie die kinders eer, liefde en trou behoort te bewys. Maar dit is goed om,
in lyn met die Kategismus, ook daarop te wys dat ons gelowige ouers nie sonder gebreke
is nie. Hulle kan soms groot foute maak – oordeelsfoute, soos wanneer hulle die
verkeerde rigting vir hulle kinders aantoon, of wanneer hulle ten onregte een
van die kinders straf. Verder kan ons ouers, húlle wat voorheen die steunpilare
in ons lewens was, finansiële verpligtinge en emosionele moeites meebring wanneer
hulle oud en afhanklik word. Daar kan ‘n punt kom wanneer ons ouers, wat altyd
vir ons gedra het, nou deur ons gedra moet word – soms selfs letterlik. Dus,
sowel in sondes as in ouderdom sien ons dat ons ouers nie volmaak is nie, dat
hulle sterflik is. Maar wat dan van die vyfde gebod wanneer ons met die
negatiewe gevolge van sondes of ouderdom by ons ouers te make kry?

 

Gemeente, in dit alles geld die vyfde gebod nog onverkort! Sowel in
sondes as in ouderdom geld steeds: eer jou vader en jou moeder.

As ons slegs aan ons ouers eer en gehoorsaamheid sou bewys wanneer
hulle dit verdien, ja dan kom daar vroeër of later ‘n einde aan ons
onderhouding van die vyfde gebod teenoor ons ouers. Want hulle verdien dit nie
altyd nie – soos ek reeds gesê het, hulle maak foute, hulle sê onwyse dinge,
hulle gaan moontlik selfs op ‘n verkeerde pad. En miskien ervaar jy dit, en is
dit vir jou baie moeilik. Maar dan is dit belangrik om te besef dat ons ouers
se gesag nie gegrond is op húlle woorde en dade nie, maar in die instelling van
die Here. En juis daarom moet ons – volgens die Kategismus – met hulle gebreke
geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.

Natuurlik kan daar tye kom dat jy, in jou keuse vir die Here, téén hulle
sal moet kies; daar kan tye wees wanneer jy die Here liewer sal moet hê as vader
en moeder. Maar dit beteken nog nie dat jy met jou ouers hoef af te reken nie. ‘n
Geloofskeuse teen jou ouers beteken nog nie noodwendig ‘n breuk met jou ouers
nie. Paulus ag dit in 1 Korinthiërs 7 selfs moontlik dat in ‘n huwelik die
ongelowige en die gelowige party bymekaar bly. Dan hoef sekerlik nie die
verhouding tussen ongelowige ouers en gelowige kinders noodwendig verbreek te
word nie. In geduld en liefde kan die gelowige kind sy ongelowige ouers bly
eer.  

 

Maar ook in hulle ouderdom is die gevraagde geduld en liefde aan ons
ouers soms ‘n groot opgawe. Bejaarde ouers kan dinge vir die kinders moeilik
maak; hulle begin vergeet of raak dement; en soms begin die remme, wat keer dat
ons verkeerde dinge sê, verslyt. Maar ook dan is die vyfde gebod ‘n opdrag van
die Here.

Hy stel ons ouers oor ons, selfs op hulle sterfbed. Hulle ‘eer’ bly,
ook al het die glans uit hulle lewens verdwyn. Selfs al kan ons ouers nie as
ouers funksioneer nie, dan nog moet hulle hul eer bly ontvang. En dit leer die
Spreuke-digter ons ook in hoofstuk 23:22: “Luister na jou vader wat jou verwek
het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.” Juis in ouderdom sal moet
blyk dat ons ook trou is aan ons ouers deur hulle te versorg en hulle in hul
eensaamheid op te soek.

 

Geduld en liefde – dit is wat van ons gevra word in ons omgang as
kinders met gebrekkige ouers. En dit is soms die hoogste opgawe in ons
onderhouding van die vyfde gebod – om geduldig en liefdevol te bly wanneer
ouers foute maak of wanneer die ouderdom sy rol begin speel. En tog is dít die
weg wat die Here gekies het om ons, as kinders, te regeer.

 

Gemeente, laat die vyfde gebod só deurwerk in ons lewens dat die
kern-eenheid van ons samelewing, die gesin, ‘n nuwe glans in ons gemeente kry.
Laat ouers en kinders leer om, aan die hand van die vyfde gebod, só met mekaar
om te gaan, dat ouers hulle kan verheug oor hulle kinders, en dat kinders trots
kan wees op hulle ouers. Christelike gesinne is ‘n krag in die samelewing. Mag
die Here dit uit genade aan ons skenk!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 128

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat
kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die
getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings
van die aarde. Amen.

Sing Skr. 9:1-3 (kom ons sing saam met die ontelbare skare van
gelowiges op die aarde en in die

 
hemel die “lied van verlossing”)

Gebed

Lees: Spreuke 23:12-25

Sing Ps. 78:1-2

Teks: HK, Sondag 39

Preek

Amenlied Ps. 78:3-4

Gebed

Belydenis van geloof (staande en
singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 34:6-8

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)