Sondag36(1) : Ywer vir die heerlike Naam van die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-01-13
Teks: 
Psalms 139 : 14-24 en Esegiel 43 : 1-12-
Preek Inhoud: 

Sondag36(1)

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK,
Sondag 36, lees: Psalm 139:14-24, Esegiël 43:1-12

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

‘n Naam is belangrik, ‘n goeie naam weeg vir mense baie swaar. En
dit is nie net ons wat dit sê nie, die Bybel sélf leer dit vir ons. Spreuke
22:1: “’n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en goud.” Dus,
daar is in sigself niks mee verkeerd om ‘n goeie naam, ‘n goeie reputasie te
wil hê nie. Nou, as dit die geval by mense is, hoeveel te meer geld dit nie vir
God nie? En in teenstelling tot mense, wat hulle naam dikwels skade berokken
deur dít wat hulle doen of sê, verdien God se Naam alle eer! Want sy Naam
verkondig sy groot dade, sy Naam vertel van skepping en verlossing. Sy Naam is
– in die woorde van artikel 1 van die NGB – “ewig, onbegryplik, onsienlik,
onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die
alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” Dít, en nog baie meer, is wat
ons sê wanneer ons God se Naam op die lippe neem.

 

Maar… durf ons sy Naam dan nog gebruik? Durf ons sy Naam dan nog optel?
– want dit is die letterlike betekenis van die woord wat in die derde gebod
gebruik word. Miskien moet ons uit eerbied eerder nie God se Naam optel nie, maar dit laat lê?
Maar, gemeente, die Here gebied in die derde gebod nie dat ons sy Naam sal laat
lê nie. Inteendeel, Hy het Homself met sy Naam dan juis aan ons verbind, by jou
doop het God sy Naam op jou gelê. Daarmee stel God ons in staat – en gee Hy ons
die reg! – om sy Naam te noem: God, HERE, Almagtige, onse Vader. God wil dus
graag hê dat ons sy Naam sal optel, sal gebruik.

Meer nog, Hy
beveel selfs die priesters deur die seën van Numeri 6 om sy Naam op die kinders
van Israel te lê. Wanneer aan die einde van die diens daardie einste seën oor u
en my uitgespreek word: “Die HERE sal jou seën en jou behoed, die HERE sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die HERE sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou vrede gee”, weet dan dat die Here sy Naam op ons lê. Hy
lê dit op ons sodat ons dit kan gebruik, sodat ons voortdurend sy groot dade
kan gedenk, sodat sy lof altyd op ons lippe kan wees, sodat ons gebede tot Hom
kan opstyg. Gebruik daarom die Naam van die Here. Meer nog, ywer vir daardie
Naam in ‘n wêreld waar die ydelike gebruik steeds meer toeneem, waar mense op
‘n roekelose en onnadenkende manier met die Naam van God omgaan. Dit bring ons dan ook by die tema vir die
preek…

Tema: Ywer vir die heerlike Naam van die Here!

  1. Voeg die daad by die woord
  2. Oppas dat jou dade nie jou woorde weerspreek nie

 

1. Hoeveel is die Naam van die Here vir jou werd? Gemeente, hierdie is
geen teoretiese vraag nie; dit is nie ‘n vraag waarmee ons klaar is wanneer ons
vanaf ‘n afstand baie netjies allerhande verkeerde teologiese denke afwys nie –
wanneer ons onsself verset teen diegene daarbo in die ivoortorings wat byvoorbeeld
die opstanding van Christus verloën of wanneer ons sogenaamde teologiese
professore teenstaan wat, ter wille van die evolusieleer, God as Skepper minag
nie. Natuurlik is elke kettery oortreding van die derde gebod, natuurlik doen
elke kettery afbreuk aan die Naam en die eer van die Here – en ons moet
daarteen opstaan. Maar daarmee is ons nog nie klaar met die derde gebod nie,
daarmee het ons – jy! – nog nie persoonlik die vraag beantwoord hoeveel die
Naam van die Here vir jou werd is nie! Die eer van God se
Naam is nie iets waarvoor jy so nou en dan opkom wanneer iemand iets
godslasterliks in die koerant skryf of wanneer daar weer ‘n ketterse publikasie
verskyn nie; nee, die eer van God moet ingebed wees in die geheel van jou
christelike lewe, dit moet deel wees van jou lewe van elke dag.

 

En ons sien iets daarvan in Psalm 139 wat ons saam gelees het. Psalm
139 is waarskynlik een van die mees geliefde psalms onder gelowiges. Dit vertel
op pragtige wyse vir ons van die alwetendheid en die alomteenwoordigheid en die
almag van God; die digter bely dat God hom wonderlik gemaak het en dat hy
nêrens heen kan gaan sonder dat God ook daar is nie; die digter vertel vir ons
hoe God hom ken en altyd by hom is. Maar, broers en susters, so geliefd soos
wat Psalm 139 is, net soveel moeite is daar ook met die laaste gedeelte van
hierdie psalm. Want nadat die digter eers in beeldende taal vertel het van die
verhouding tussen God en homself, gaan hy skielik oor in, ja, dit voel amper
vir ons soos haatspraak: “… as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle,
manne van bloed, gaan van my af weg! Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande
is hulle vir my!” Ons sukkel om hierdie twee dele van Psalm 139 met mekaar te
versoen, vir ons gevoel pas dit net nie bymekaar nie. En dít is daarom ook die
rede dat talle gelowiges vandag sê dat die laaste gedeelte (verse 19-24) nie
deel is van hierdie psalm nie, dat dit ‘n latere byvoeging is wat eintlik nie
daar hoort nie.

Maar, gemeente, as ons mooi hieroor nadink, dan is die kombinasie
van hierdie twee dele nie so vreemd as wat dit met die eerste oogopslag lyk nie,
dan pas hierdie twee dele eintlik baie goed bymekaar. Want wie die heerlikheid
van die Here besing, wie sy alwetendheid en sy almag bely, wie aan die Naam van
die Here die hoë posisie gee wat dit toekom, daardie persoon sál vervolgens mos
ook opkom vir daardie Naam! Hy sal mos opstaan teen diegene wat die Naam van
die Here ydellik gebruik (vers 20). As ‘n christen groot gewig heg aan die Naam
van die Here, dan is dit mos pynlik om te sien dat ander – selfs binne die kerk
– daardie Naam aftrek van sy hoë posisie? Ja, selfs binne die kerk – ons moenie
dink dat die goddeloses van Psalm 139 noodwendig net buite die kerk was nie. Die
psalms is immers verbondsliedere, dit is liedere vir God se volk, en binne
daardie volk was daar ook ontroues, mense wat wel uit die volk Israel was,
maar nie werklik van Israel was nie. Die digter, wat die Here liefhet, verset
hom met groot ywer teen hierdie mense; met groot ywer en met baie sterk taal:
“Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!”

 

Nou, gemeente, hierdie taal vind ons nie slegs in Psalm 139 nie;
nee, ons vind dit op verskeie ander plekke in die Skrif weer terug. Dink maar net
aan die sogenaamde wraakpsalms, waarvan Psalm 137 waarskynlik die mees bekende is
(ons het vanoggend ook daarna verwys). En daar lees ons: “Gelukkig is hy wat
jou kinders gryp en verpletter teen die rots.” Dit is taal wat ons maar moeilik
sluk. Maar ons vind hierdie selfde soort taal ook weer in die Nuwe Testament. Dink
aan wat Paulus sê in 1 Korinthiërs 16:22: “As iemand die Here Jesus nie liefhet
nie, laat hom ‘n vervloeking wees.” En wat van Galasiërs 1:8 en 9: “Maar al sou
ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat
ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

Hoekom gebruik Paulus sulke sterk taal? Is hy vervul met haat teen
mense? Is Paulus ‘n onverdraagsame fundamentalis? Nee, geensins nie, want
dieselfde apostel kan in Romeine 12:14 sê: “seën die wat julle vervolg, seën en
moenie
vervloek
nie.” Dus, gemeente, solank as wat dit oor óns naam en oor óns eer gaan, vra Paulus dat ons baie verdraagsaam sal wees, dan mag ons selfs nie vervloek nie. Maar die
situasie verander wanneer dit gaan oor die eer van God en oor die eer van Jesus
Christus! Hiervoor kan Paulus so sterk ywer dat hy met radikale woorde elkeen
veroordeel wat hierdie eer aantas. Paulus raak kwaad as dit gebeur, dan wil hy
veg vir die eer van die Here. En kom ons leer by Paulus, broers en susters –
Paulus weet wat liefde vir die naaste is, dit is nie die probleem nie. Maar sy
naasteliefde gaan nooit ten koste van die eer van God se Naam nie; hy stel
nooit sy begrip vir sy medemens bo die hoë posisie van God se Naam nie. Die eer
van God is geen bysaak in die geloof nie, dit is nie maar net iets wat ons
beoefen in die privaatheid van ons eie geloofslewe nie. Nee, die eer van God se
Naam is die eerste taak in die lewe van die christen. Om op te kom vir die Naam
van God is die kern van ons geloof in elke sfeer van die lewe – by die werk, in
die winkel, op die sportveld en ook… in die kerk.  “Want – so bely ons in antwoord 100 – geen
sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie.” Niks is
vir God so belangrik soos sy eer nie – Hy soek sy eer! Hy verdien sy eer! En
ons mag en ons moet daadwerklik vir daardie eer veg!

 

En dan is dit opmerklik om te sien hoe ons die dinge dikwels omdraai,
nie waar nie? Wanneer dit gaan oor die Naam van God dan is ons soms opmerklik
stil. Ons is dikwels banger vir die irritasie van ons naaste wanneer ons vir
God se Naam sou opkom, as vir die toorn van God wanneer ons daaroor sou swyg. Ja,
ons is soms maar skrikkerig vir wat die mense gaan sê wanneer ons opkom vir God
se Naam, of wanneer ons hulle vra om nie sy Naam ydellik te gebruik nie, of wanneer
ons iemand oproep om aan God die eer te gee. Ons bly maar stil in ons hoekie
sit wanneer op die televisie die Naam van die Here ydellik gebruik word. Maar
moenie dat hulle aan ons raak nie, moenie dat hulle ons naam aantas nie – dan
is dit groot woorde van naamskending en laster en hofsake, dan staan ons reg om
te veg. Gemeente, waar is daardie selfde ywer vir die Naam van die Here, jou
God?

Nou sê ek nie dat ons altyd
iets moet sê nie. Om te spreek is silwer, maar om te swyg is – ook in hierdie
geval – soms goud. Daar kan tye wees
wanneer ons vir die eer van God opkom juis deur te swyg. As die noem van God se
Naam vir ander ‘n handvatsel word om Hom en sy diens bespotlik te maak, dan sal
ons stilswye sprekend wees. Inderdaad, as ons vir die varke pêrels gooi, dan sál hulle hul neuse daarvoor optrek,
want hulle kan dit nie eet nie. Hulle sal hulleself werp op die mense wat vir
hulle sulke kos gegee het. Dus, gemeente, die boodskap wat ons bring en die
Naam wat ons mag uitdra, is kosbaar. Om die Naam van God te bely, moet altyd
ons opregte begeerte wees. Ons moet altyd bereid wees om daardie Naam uit te
dra, of dit onsself pas of nie. Maar soms moet ons onsself afvra of dit nie
dalk skadelik vir die woord self is wanneer ons sou spreek nie. En dan gaan dit
nie daaroor of dit vir ons of vir ‘n ander ongeleë is nie, maar dan gaan dit
daaroor of dit op daardie oomblik vir God geleë is as ons spreek.

 

Dus, meestal moet ons spreek, maar soms moet ons swyg. En laat ons in
wysheid betrag wanneer dit tyd is om te spreek en wanneer dit tyd is om te
swyg. Maar in alle gevalle soek ons die eer van God. Gemeente, laat dít ons
grootste ywer wees. Laat dit vir ons ‘n hartsaak wees om God se Naam hoog te
hou – sy Naam as Skepper en as Verlosser. Daardie Naam het Hy op ons kom lê,
ons is sy Naamdraers. Wie sou dan nie veg vir daardie Naam nie? Ja, dan sal ons
selfs bereid wees om te sterf vir daardie Naam, dan sal ons soos Luther voor
die inkwisisie van die Roomse kerk sê: Hier staan ek, ek kan nie anders nie. As
jy God bely met die woord, voeg dan ook die daad by die woord en wys dat niks
vir jou belangriker is as die eer van God nie. [kom ons sing nou eers uit Ps. 139:10-12]; vervolgens: oppas dat jou dade nie jou woorde weerspreek nie.

 

2 Ons het hierbo gesien hoe belangrik dit is om die daad by die woord
te voeg; dus, as jy sê dat jy die Here liefhet, dan moet jy daadwerklik vir sy
Naam opkom. Maar net so belangrik is ook die teenoorgestelde, naamlik die
gevaar dat jou dade jou woorde sal weerspreek; dus, dat jy sê dat jy die Here
liefhet, maar dat jou dade en jou lewenswandel iets heeltemal anders wys. Dan
doen ons die Naam van die Here ook oneer aan! As die gelowiges, die kerk, nie leef
wat sy leer nie, dan gee ons – net so goed soos in die eerste punt – aan
die ongelowiges geleentheid om te spot; as die kerk in haar leer groot gewig
heg aan die Naam en die eer van die Here, as sy baie vroom kan praat oor die
Naam, maar in haar lewenswandel God se Naam aftrek asof Hy een of ander
liggewig is, dan berokken ons God se Naam onnoemlike skade.

 

Die voorbeeld van die Hindu-leier, Mahatma Ghandi, kan dit baie goed
illustreer. Ghandi het naamlik met groot graagte die Skrif bestudeer; hy was
veral lief vir die Bergrede van die Here Jesus. Hy het dit selfs ernstig
oorweeg om ‘n christen te word. Op ‘n dag het hy besluit om ‘n kerkdiens by te
woon. Toe hy die betrokke Sondag – en onthou: dit was tydens die apartheidsjare
– by die trappe van die kerk opstap om die erediens by te woon, het die
ouderling hom voorgekeer. “Waar dink jy gaan jy?”, het die man gevra (met ‘n
byvoegsel wat hier nie gepas is nie). Ghandi se antwoord was dat hy graag die
erediens sou wou bywoon. Die ouderling se reaksie was: “Hier is nie plek vir
jou in die kerk nie; verwyder jouself of ek kry my assistente om jou van die
trappe af te gooi.” Van daardie oomblik af het Ghandi besluit dat hy wel die
goeie dinge in die christelike geloof sou gebruik, maar dat hy nooit ‘n
christen sal word nie. ‘n Verkeerde besluit van Ghandi, dit is waar! En tog was
dit ‘n verkeerde besluit deur die toedoen van iemand in die kerk! Deur die
optrede van iemand wat homself ‘n kind van die Here genoem het, kan ons sê dat
hierdie siel nie vir Christus gewen is nie.

En ons vind dieselfde ook verskeie kere in die bybel wanneer die
volk so geleef of opgetree het dat die nasies daardeur aanleiding gevind het om
die Naam van die Here te smaad of te spot. Dink byvoorbeeld aan die sonde van
Dawid met Batseba. ‘n Berouvolle Dawid kry van die Here onmiddellik vergewing
van sy sondes, maar – sê die profeet Natan in 2 Samuel 12:14 – “omdat u die
vyande van die HERE deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te
laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe.” Sien u wat ons
doen wanneer ons woorde en ons dade nie met mekaar strook nie? God ly
daaronder! Ons gee die ongelowiges geleentheid om te spot!  

 

Ons moet naamlik verstaan, gemeente: God woon in al sy heerlikheid,
in al sy ‘gewig’, by ons! Soos wat Hy destyds in die Ou Testament in al sy
glorie sy intrek in die tabernakel geneem het (Ex. 40:34), en in al sy glorie
ook weer sy intrek in die tempel van Salomo geneem het (1 Kon. 8:10), so woon
Hy ook in al sy glorie by ons, by sy kerk. Nou, daar waar die heerlikheid van
die Here woon – en dit is ‘n ontsaglike voorreg om God in sy heerlikheid by ons
te hê! – daar pas nie ‘n lewe in die sonde nie, daar pas slegs heiligheid. Dit
is pragtig hoe Esegiël hieroor praat in hoofstuk 43 van sy profesie. Nou, om
goed te verstaan wat Esegiël bedoel, moet ons so ‘n bietjie die agtergrond ken…

Onder koning Salomo en die konings ná hom het die geografiese afstand
tussen die paleis van die koning en die huis van die Here steeds kleiner en
kleiner geword. Om die paleis al hoe groter en mooier te kan maak was soveel
ruimte nodig, dat die paleis al hoe meer in die rigting van die tempel uitgebrei
het. En ten slotte het die tempel eintlik maar ‘n aanhangsel by die
paleiskompleks geword. Op dié manier het drumpel langs drumpel gekom en deurpos
langs deurpos sodat net die muur tussen My en hulle was, soos wat die Here in vers
8 sê.

Maar, broers en susters, nie net geografies het paleis en tempel
begin oorvleuel nie, maar ook geestelik; nie slegs het die paleismure die
tempelmure begin oorneem nie, maar ook het die paleisgees die tempelgees
begin oorheers. Esegiël praat in vers 7 van die hoerery van die volk en die
lyke van die konings wat vir die Here ‘n gruwel was. Enersyds was daar dus die
hoerery – dit verwys na die afgodery van die volk; hulle het vreemde gode
gedien. Andersyds was daar die lyke van die konings – die konings is normaalweg
in die Dawidstad begrawe, maar deurdat die Dawidstad so gegroei het dat dit naderhand
presies langs die tempel gestaan het, was die lyke van die koning eintlik in
die onmiddellike nabyheid van die tempel, en dit was vir die Here ‘n gruwel. Dus,
deur hierdie twee gruwels – deur die hoerery van die volk en deur die koningslyke
reg langs die tempel – is die Naam van die Here verontreinig, soos wat Hy self
in vers 8 sê. Met die gevolg dat die Here se heerlikheid ten slotte die tempel
verlaat het (en u kan dit maar gaan lees in hoofstuk 10)!

 

Maar, en dit is nou die wonderlike
boodskap van hoofstuk 43, Esegiël mag nou sien hoe die Here weer na sy huis toe
terugkeer. Hy sien in vers 2 hoe die heerlikheid van die Here van die oostekant
af gekom het, en hoe die aarde geglans het van sy heerlikheid.  En hy mag hoor hoe die Here vir hom sê:
“Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole waar Ek
vir ewig sal woon onder die kinders van Israel…” God wil weer onder sy volk
woon – ‘n heerlike boodskap! Maar dan
bly dieselfde voorwaarde geld as in die verlede: die volk moet hulle hoerery en
die lyke van hulle konings ver van Hom af hou.

Gemeente, so maklik loop ons in dieselfde spore as die volk Israel
deurdat ons die heiligheid van die Here ontreinig; ons bring ons sondes en ons
onreinhede voor sy aangesig, ons bring die wêreld in die kerk in, ons laat toe
dat die gees van die wêreld die gees van die kerk bepaal. Maar daardeur bring
ons die Naam van God af van sy hoë posisie en verlaag ons dit tot die
standaarde van die wêreld. Dáár waar die Here met sy heerlikheid woon, daar is
geen ruimte vir die sonde om ook woning te maak nie, broers en susters. As die
Here by ons is – en Hy het dit aan die begin van die erediens gesê met sy
vriendelike groet – dan vra Hy van ons ‘n lewe lei wat pas by sy skitterende
heerlikheid. Die paleis – ons daaglikse lewens in hierdie wêreld – moenie die
tempel verdring nie; my slegte taalgebruik en my oormatige drankgebruik, my
verkeerde gedagtes en my harde woorde, my liefdelose geskinder en my oordadige
partytjies moenie die Naam van die Here verdring nie. Nee, die teenoorgestelde
moet gebeur! Die tempel moet eerder die paleis binnedring, die kerk moet ons
huise binnedring, Gód moet ons lewens deurdring. Die heiligheid en die
heerlikheid van God moet ons lewens kenmerk, sodat almal kan sien en kan glo en
die Naam van die Here kan grootmaak. En as dit nie die geval is nie, dan doen
ons God se Naam skade aan. As ons mooi praat oor die Naam van die Here, maar
intussen lewe soos wat almal daarbuite doen, dan gee ons rede vir die wêreld om
te spot, en dan gee ons hulle geen rede om hulle heil in Christus te gaan soek
nie.

 

Gemeente, laat ons dus anders wees! Geheel en al anders. Laat God
deur sy Gees en sy Woord ons verander sodat ons lewende advertensieborde,
lewende promosieblaadjies mag wees vir sy Naam wat bo elke Naam is. Laat ons
belydenis gerugsteun word deur ‘n vroom en godvrugtige lewe. Laat, soos Esegiël
in vers 12 sê, die kerk hoogheilig wees. Want kyk, dit is die wet van die huis,
dit is God se wet vir die kerk: wees heilig, want Ek is heilig!

Amen 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 135:1-4, 8

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 106:20 (kom ons sing nou ons amen op hierdie seëngroet uit
Ps. 106:20)

Gebed

Lees:    Psalm 139:14-24

            Esegiël
43:1-12

Sing Ps. 132:9-11

Teks: HK, Sondag 36

Preek

  • Na 1ste punt Ps. 139:10-12
  • Amenlied Ps. 141:3, 4, 9 en
    10

Gebed

Geloofsbelydenis (staande en
singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 138:1, 3 en 4

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)