TEKSWOORDE : Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-10-31
Teks: 
Hebreërs 4
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Hebreërs 4:9-11; lees
Hebreërs 4

 

Familie, vriende, broers en susters in die geloof,

“Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God…” – so lees ons
in ons teksgedeelte. En onmiddellik dink ons dan aan oom Bram, wat verlede
Donderdag hierdie rus ingegaan het. Hy het geen sorge meer nie, geen
liggaamlike of geestelike pyn meer nie, geen worsteling meer nie. Hy rus nou
van sy werke. En dit is waar! Maar is dít die kern van die rus – dat ons geen
sorge en pyn en worsteling meer het nie? Wat dan van ons wat agterbly? Wat van
tante Janny wat nou sonder haar man verder moet gaan? Watter rus het sy en ons
vandag as die rus slegs dáároor gaan dat ons verlos is van alle sorge en pyn? Óns
ken immers vandag nog sorge, óns ken vandag nog pyn. Vandag is in talle opsigte
‘n pynlike dag. Maar beteken dit alles dat ons geen rus kan hê nie? Nee, broers
en susters, ons sal tog verder moet delf as ons by die kern van die rus wil
uitkom. En oom Bram self kan ons daarby help, want hy het homself tydens sy
lewe verdiep in die Bybelse betekenis van die rus. Hy het daaroor gepraat en daaroor
geskryf. En volgens hom – en hy spreek daarin die Skrif na – moet ons terug na
die begin. En vanaf die begin werk ons ons pad deur die geskiedenis heen, terug
na vandag toe.

 

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. In ses opeenvolgende
dae – met telkens dieselfde refrein: en dit was aand en dit was môre – het God
alle dinge voorberei vir lewe op aarde. En op die sewende dag het God sy werk
voltooi wat Hy gemaak het (Gen. 2:1-3). Maar, interessant genoeg, lees ons by
die sewende dag niks van ‘n aand en ‘n môre nie; daar word vir ons niks vertel
van die aand van die sewende dag of van die môre van die agste dag nie. En die
rede hiervoor is dat hierdie sewende dag God se rusdag was: “op die sewende dag
het God gerus van al sy werk wat Hy gemaak het” (Gen. 2:2). En dit was nie maar
net ‘n eenmalige rusdag nie; nee, die sewende dag was God se
sabbat-sonder-einde. Ná ses dae se skeppingswerk volg daar ‘n ewige rus. God se
sewende dag, die dag waarop Hy van al sy werke rus, duur vir ewig! Dís waar die
rus begin…

Maar, broers en susters, die sewende dag is nie maar net God se rus
nie, dit is ook die méns se rus! Die mens mag deel in God se ewige rus! En ons
sien dit uit wat ons lees oor God se omgang met die mens. Ons lees naamlik in
Genesis 3 dat God in daardie begintyd die mens besoek het, Hy het saam met Adam
en Eva gewandel in die tuin in die aandwindjie (Gen. 3:8). Waarskynlik was dit
selfs ‘n daaglikse gebeurtenis. Adam en Eva het die geluid van God se koms
geken, hulle het sy stem gehoor, hulle het sy koms verwag. Saam het God en die
eerste mense geniet van die skoonheid van die paradys, saam het hulle gepraat
oor die groot taak wat die mens ontvang het. Die mens het God uitgevra, en God
het die mens onderrig. En op dié manier, in die lewende omgang met die HERE
God, het die mens gedeel in die ewige rus, was hy deel van die sabbat van sy
Skepper. En in daardie rus was daar geen aand en môre nie; geen einde en geen
nuwe begin nie. Nee, altyd was die rus daar, sélfs in die daaglikse arbeid van
Adam en Eva! Want Gód was by die mens, en die mens het met sy God gewandel! Dít
is die kern van die rus, broers en susters: intieme omgang met God, genieting
van God, eenwording met God, Hy in my en ek in Hom. Só het br. Bram dit ook
verstaan en beleef. Hy het baie geworstel, veral in sy laaste dae, maar hy het
altyd weer rus gevind in die omgang met God!

 

Só was dit in die paradys, só was dit in daardie goeie begin…

Maar helaas het die sonde daardie rus kom ontwrig. Die tuin
waarbinne die mens met God kon wandel, het verbode terrein geword. Die mens is
van God se aangesig af verdryf, en van daardie oomblik af was die rus weg, en
het die mens rusteloos rondgeswerwe. Maar gelukkig het God sy rus nie heeltemal
van die mens af teruggetrek nie. Hy het nog steeds met die mens omgang gesoek;
Hy het ‘n plan gehad om die rus weer te herstel. Nee, nie meer deur daagliks en
direk met hom te wandel nie, dis waar. En tog lees ons van mense soos Henog en
Noag dat hulle met God gewandel het. En van Abraham lees ons dat hy ‘n vriend
van God genoem is. Dus, God het steeds met sy rus, met sy teenwoordigheid, na
mense uitgereik.

En as u my vergun om van Abraham af ‘n paar groot spronge vooruit in
die geskiedenis te maak… Want in Abraham begin God naamlik om ‘n nuwe volk vir
Hom te berei, ‘n volk so talryk soos die sterre aan die hemel en soos die sand
van die see, ‘n volk wat Hy uiteindelik met ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte
arm uit die slawehuis van Egipte uitgelei het. En wanneer Hy hulle kort ná hierdie
uittog by die berg Sinai bring, dan kondig Hy sy wet vir hulle af. En as deel
van daardie wet – hoor mooi! – lui die vierde gebod soos volg: “Gedenk die
sabbatdag dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar
die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God, dan mag jy géén werk doen
nie.” Ná duisende jare, waarin ons van die rus van die sewende dag eintlik niks
hoor nie, betrek God sy volk weer by sy rusdag! God lei sy volk uit die
slawehuis van Egipte sodat hulle weer kan deel in die sewende dag waarop Hy
ewig rus. En as ons vervolgens weer vooruit spring en dit in Nuwe Testamentiese
taal omsit, dan kan ons sê: deur Jesus Christus lei God sy volk uit die
slawebande van die sonde en die dood, sodat hulle kan deel in sy ewige rus. Dit
is presies die uitnodiging wat die Here Jesus na die volk en na ons toe rig:
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus
gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van
hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Mt. 11:28-30). En van daardie rus is
die sabbat, of die Sondag soos ons dit vandag ken, ‘n teken (ja, so noem die Here dit in Exodus 31:13), ‘n teken van die
ewige rus wat die Here uit genade weer herstel.

En dan gaan dit nie maar net oor daardie sewende dag (of oor die
eerste dag, wanneer ons Nuwe Testamenties daarna kyk) nie. Nee, dan gaan dit
oor die herstel van God se ewige rusdag vir die hele lewe. Dan gaan dit oor die
herstel van die totale vrede met God! Dit gaan dus nie net oor die rus op
daardie dag nie, dit gaan oor die vrede met God in my hele lewe. Daarom dat ons
in Sondag 38 van die Heidelbergse Kategismus in verband met die vierde gebod
bely: “Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus en die
Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in
hierdie lewe.” Elke Sondag is ‘n teken van die rus wat Christus vir ons verdien
het – rus van die sonde, rus van die bande van die duiwel en die dood. Die
ewige sabbat is nie eendag nie, nee, dit begin vandag alreeds. Daarom stel br.
Bram ook tereg in een van sy skrywes die vraag hoe die Sondag deurwerk in die
res van ons lewens, want hy het verstaan dat dit gaan oor ‘n alles omvattende,
ewige rus. Vrede met God, op Sondag, maar ook op Maandag en Dinsdag.

 

Máár, sê die Hebreërskrywer dan vir ons in hoofstuk 4 van sy brief, aan
daardie rus kry ons slegs deel deur die geloof. Die belofte staan nog (Heb.
4:1), maar die belofte moet met geloof beantwoord word. Dit was, volgens vers
2, die probleem van Israel in die woestyn. Hulle kon die rus van die Beloofde
land nie ingaan nie, omdat hulle nie geglo het nie, omdat hulle die beloofde
rus nie in geloof en gehoorsaamheid wou aanneem nie. En daarom het God in sy
toorn gesweer: hulle sal in my rus nie ingaan nie (Heb. 4:3). En hulle het ook
nie; hulle het in die woestyn gesterwe, hulle het Kanaan nie gesien nie. Maar,
sê die Hebreërskrywer vervolgens, onthou nou: Kanaan was nog nie die ware rus
nie, Kanaan was nie die finale ruspunt nie; daar is nog ‘n ander rus wat vir
gelowiges vandag uiters relevant is. Want, lees ons in vers 8, as Josua – wat
Isreal in Kanaan ingelei het – as hy aan hulle die ware rus gegee het, dan sou
die Here mos nie daarná van nog ‘n ander rus gespreek het nie?! Dus, daar is nog
‘n ander rus. Waar moet ons dit soek? En wanneer kan ons dit vind? En dadelik
dink ons dan weer aan oom Bram waar hy nou in die hemelse rus is – dit is
sekerlik die rus waarvan die Here hier praat. Maar wees versigtig, broers en
susters! Want die Hebreërskrywer sê in vers 7: die Here bepaal weer ‘n sekere
dag, naamlik vandag! Vandag
as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Nie môre of in die ewigheid
nie; nee, vandag!

Oor oom Bram hoef ons ons nie meer te bekommer nie. Hy het in die
hede van sy lewe, toe dit nog vir hom ‘vandag’ was, geglo en met vrymoedigheid
na die troon van die genade gegaan (Heb. 4:16). Hy het vrylik daaroor gepraat
en openlik daarvan getuig. Hy het die rus geken, nie eers in sy sterwe nie,
maar alreeds tydens sy lewe. Dit gaan hier dus nie oor hom nie. Terloops,
miskien kan ek u ‘n klein geheim vertel: oom Bram het self hierdie teks vir die
preek gekies, en ek is seker hy het dit nie gedoen om daarmee oor hóm te praat
nie. Hierdie teks spreek nie heel eerste oor die gestorwenes nie, maar dit
spreek heel eers tot die lewendes!
Dit gaan hier heel eerste oor óns; óns wat vandag nog lewe. Óns word opgeroep
om onsself te beywer om in die rus in te gaan; óns word gewaarsku met die
voorbeeld van ongehoorsaamheid van die volk Israel, óns word hier aangespreek (Heb.
4:11). Oom Bram se lewensloop is voltooi. Hy het sy studie van die rus begin by
die begin; wel, vandag is hy by die
begin, in die paradys van God, in die ewige rus, waar hy saam met God van sy
werke mag rus. Maar ons moet nog verder. Ons moet onsself nog beywer om na die
stem van die Here te luister wanneer Hy ons roep; ons moet fyn luister na die
lewende, kragtige, tweesnydende Woord van God (Heb. 4:12).

 

En vir elkeen wat dit doen, wat na die Woord van God luister, wat
toelaat dat daardie Woord in sy lewe sny, wat in daardie Woord Jesus Christus,
die Verlosser, ontdek – vir elkeen wat dít doen, is daar vandag alreeds rus. Vandag
as julle sy stem hoor… - wel, elkeen wat dit doen, sal vandag reeds rus hê, sal vandag
reeds die vrede ontvang wat alle verstand te bowe gaan (Fil. 4). En dit is die
antwoord op ons beginvraag: kan ons vandag alreeds rus hê, ook op ‘n pynlike
dag soos vandag? En die antwoord is: ja! Natuurlik, die rus wat br. Bram vandag
het, die rus van die siel by die Here, is nog veel mooier; dit is inderdaad
sonder pyn en sorge en trane. Maar daardie rus is in feite slegs ‘n hemelse
voortsetting van die rus wat ons vandag op aarde alreeds mag beleef. En dit
alles ontvang ons deur die Immanuel – God met ons, vandag, nou! Dit alles ontvang
ons deur die goeie Herder – na waters waar rus
is, lei Hy my heen (Ps. 23). Ja, broers en susters, in en deur Jesus
Christus mag ons weer met God wandel, en deur sy Gees kom maak God woning in
ons harte, Hy in ons en ons in Hom. Dít is die rus wat ons vandag reeds mag ken.
Die pyn is daar, verseker. Daar gaan nog baie trane vloei, verseker. Maar deur
die geloof ontvang ons rus, hier en nou!

“Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God…” – só het ek
die preek begin. Daardie rus vra nie vervulling êrens ver in die toekoms nie;
nee, daardie rus vra ons geloof vandag. Geloof in Jesus Christus en sy werk. En
dan mag ons oom Bram navolg in die ewige heerlikheid. Hoop op God, in Hom weer
rustig! In sy lof sal ek my verlustig.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Begrafnisbyeenkoms – br. Bram vd
Kraan

 

·       
Seënbede: Broers en susters, ons hulp is in die
Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het – dit is ons belydenis. En
omdat die Here die Skepper van hemel en aarde is, die Almagtige, wat in
Christus ons Vader geword het… watter beter plek is daar om in tye van nood te
gaan skuil? Kom ons sing nou saam van hierdie God, uit Psalm 42:3, 5 en 6.

·       
Sing Ps 42:3, 5 en 6

·       
Gebed

·       
Skriflesing Hebreërs 4

·       
Sing Ps. 42:1

·       
Teks Hebreërs 4:9-11

·       
Oordenking

·       
Sing Ps. 42:7

·       
Gebed

·       

Sing Ps. 108:1

 

By
die graf:

·       
Geloofsbelydenis

  • Onse Vader
Liturgie: 

(kyk in preek)