Spreuke : wees wys met die wyse, en vind so jou weg tussen rykdom en armoede!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-11-04
Teks: 
Spreuke 22:1-16 en Spreuke 30:1-9
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik, kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Biddag vir gewas en arbeid kan baie maklik ontaard in ‘n lysie met dinge wat ons van die Here wil hê – daaglikse werk om te doen, goeie werksomstandighede, ‘n goeie seisoen vir die boere, genoeg kos vir die bevolking. Ja, biddag vir gewas en arbeid word maklik ‘n weerspieëling van hoe ons in ons daaglikse en persoonlike omgang met die Here ook soms bid – naamlik, ‘n lang lys met ons behoeftes. En op sigself is dit natuurlik nie verkeerd nie – die Here wil gebid word, ook vir die gewone, alledaagse dinge soos gewas en arbeid.

En tog, broers en susters, sal ons moet leer om nie in die eerste plek te bid vir wat ons wil hê of wat ons dink ons nodig het nie, maar om in die eerste plek te bid vir wie ons moet wees wanneer dit gaan oor gewas en arbeid! Dit gaan nie in die eerste plek oor hoe my koskas en my bankrekening lyk nie, maar dit gaan in die eerste plek oor hoe ék lyk! Wie is ék in my omgang met rykdom en armoede, en in my houding teenoor arbeid en werkloosheid? Hoe staan ék voor die Here in reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, gesondheid en siekte, rykdom en armoede (soos Sondag 10 van die HK sê)? Dit is net so ‘n belangrike gebedspunt op ‘n dag soos hierdie as die gebed dat die Here arbeid en gewas sal seën. En daarop wil ons tydens hierdie biddag saam fokus.  

Tema: wees wys met die wyse, en vind so jou weg tussen rykdom en armoede!

  1. Die ontmoeting in die realiteit (Spr. 22:2)
  2. Die bede vir die ideaal (Spr. 30:8b-9)

 

1. Die boek Spreuke bevat verskeie sentrale temas wat op ‘n deurlopende basis in die boek terugkeer. Een van die temas wat u telkens weer sal terugvind, is die tema van rykdom en armoede, van die ryke en die arme. Maar – opmerklik! – wanneer ons al die verwysings na hierdie tema bymekaar probeer sit, dan wil dit voorkom asof die Spreuke-digter homself weerspreek, asof daar ‘n innerlike teenstrydigheid in die boek is. Op sommige plekke word daar immers positief gepraat oor rykdom en oor die krag van die ryke, terwyl die arme se swakte aangedui word; op ander plekke weer word daar negatief oor rykdom gepraat, en word armoede as iets positiefs gestel.

Maar, broers en susters, moet jou nie deur die skyn laat bedrieg nie; daar is ‘n goeie rede vir hierdie skynbare teenstrydigheid. En die rede is dat die Spreuke-digter aan die een kant daarop uit is om die realiteit van die lewe aan ons voorhou; hy skets op verskeie plekke eenvoudig hoe rykdom en armoede in die praktyk werk, sonder om noodwendig ‘n beoordeling van hierdie realiteit te gee – en as ons mooi luister sal ons  hierdie realiteit herken. Maar aan die ander kant hou hy ook die ideaal aan ons voor: dít is hoe dit behoort te wees, dít is die wyse manier van omgang met rykdom en armoede. Hou dus in gedagte wanneer jy hierdie boek lees, dat jy die verskillende uitsprake nie teenoor mekaar sal stel nie, maar dat jy sal soek na wat die outeur met ‘n bepaalde uitspraak wil bereik. En dit geld nie slegs vir die tema van rykdom en armoede nie, maar vir verskeie ander temas ook – realiteit en ideaal is deur mekaar verweef. Kom ons begin by die konkrete realiteit, soos wat die digter dit vir ons skets in Spreuke 22:2…

 

Rykes en armes ontmoet mekaar – só sê die eerste deel van Spreuke 22:2. En dit is die realiteit. Elke dag kom rykes en armes mekaar teë. En as burgers van ‘n land soos Suid-Afrika behoort ons, meer as op die meeste ander plekke in die wêreld, hierdie realiteit te ken. Ons hoef nie ver te gaan om die armoede te sien en om die armes teë te kom nie – by talle verkeersligte in ons omgewing sien ons die armes en die werkloses staan met kartonborde: WERKLOOS, 4 KINDERS, ENIGE DONASIE SAL WAARDEER WORD. En dikwels volg daar nog ‘n onderskrif: DIE HERE SEËN JOU! Dit is maar ‘n voorbeeld van die realiteit van die armoede wat ons teëkom, ‘n voorbeeld wat met talle ander vermenigvuldig kan word. Maar ons kan hierdie realiteit nog nader bring. Want ook in ons eie gemeente is daar diegene wat finansieel swaar kry, wat ekstra ondersteuning nodig het, en wat in verhouding tot ander mense in die gemeente arm is.

Aan die ander kant hoef ons ook nie ver te gaan om die rykdom te sien en om die ryke teë te kom nie – baie van ons kan maar net na die inhoud van ons eie huise kyk. En die minder gegoedes onder ons kan maar net na die karre hier buite kyk om die rykdom raak te sien. Ja, broers en susters, rykdom en armoede is nou verweef met mekaar, veral in ‘n land soos Suid-Afrika. Rykes en armes ontmoet mekaar op ‘n daaglikse basis van aangesig tot aangesig, ook hier in die gemeente. Dit is die realiteit! Die Spreuke-digter stel dit as ‘n feit, sonder verdere beoordeling daarvan.

 

Die vraag is egter wel hoe ons met hierdie realiteit omgaan… Wat dink ons van hierdie realiteit? Kyk ek as ryke, dalk onbewustelik, meerderwaardig neer op die arme? Verdruk en verneder ek hom dalk onbewustelik omdat ek met my geld die hef in die hande het? Gee ek as ryke aan die arme sy regmatige posisie in die maatskappy? Of dink ek dalk as arme dat die verskille tussen ryk en arm ‘n skreiende onreg is, wat so gou moontlik en met alle beskikbare middele uit die weg geruim moet word? Gee hierdie verskille dalk in my hart rede tot afsku van die ryke, en is dit dalk ‘n kiem vir konflik en klassestryd? Dus, gemeente, hoe ontmoet die ryke en die arme mekaar in die realiteit van elke dag? Meer nog: hoe ontmoet die gelowige ryke en die gelowige arme mekaar? Hoe ontmoet die gelowige ryke die armes van hierdie wêreld, en hoe ontmoet die gelowige arme die rykes van hierdie wêreld?

Dit is belangrike vrae. Want die gevaar is groot dat ons op ‘n Biddag vir gewas en arbeid kliphard gaan bid vir gewas en arbeid, terwyl ons vergeet dat ons as bidders ook in die realiteit moet gaan lewe en werk. En in die realiteit gaan dit nie slegs oor gewas en arbeid nie, maar gaan dit oor ménse. Dit gaan oor die méns wat van die gewas moet lewe (of hy nou baie het of min het), en dit gaan oor die méns wat sy arbeid moet verrig (of daardie arbeid nou baie oplewer of min oplewer). Hoe ontmoet ek daardie mens, ryk of arm?

 

En dit is op hierdie punt dat die Spreuke-digter aan ons rigting wys in die realiteit van ons daaglikse bestaan. Die tweede deel van Spreuke 22:2 bied naamlik vir ons ‘n riglyn vir die ontmoeting tussen ryk en arm; ons lees in vers 2: “Rykes en armes ontmoet mekaar (realiteit), die HERE het hulle almal gemaak (riglyn).” Die HERE het hulle almal gemaak – in Spreuke 29:13 word dit selfs nog sterker gestel; daar lees ons: “Die arme en die man wat verdruk, ontmoet mekaar, die HERE verlig altwee se oë.” Die lig van die oë – dus, die lewe van álle mense! – kom van die Here af. God gee, volgens Paulus in Handelinge 17:25, aan alle mense lewe en asem en alles; Hy sorg dat alle mense bestaan. Wie dus die naaste – ryk of arm – reg wil takseer, reg met hom wil omgaan, moet hom in sy oë kan kyk, moet verby die huis en die kar en die bankbalans van die mens kan kyk na die Skepper en die Oorsprong van daardie mens! Mense, wat mekaar in hierdie sondige en egoïstiese bestaan dikwels nie die lig gun nie, moet leer om die lewenslig van die Here in mekaar se oë raak te sien.

Gemeente, kan ons ons naaste nog só in die oë kyk? Kan ek die arm bedelaar met sy vuil klere en bakhande nog diep in sy oë kyk, en bely: “Die Here het hom gemaak”? Kan ek agter die miljoenêr se rykdom kyk, en eerlik sê: “Die lig in sy oë kom van die Here af”? Kan ek beide my ryk baas en die arm skoonmaakster beskou as wesens wat lewe vanuit die Bron in die hemel? Kan ryk en arm hier in die gemeente mekaar in die oë kyk en hulle gemeenskaplike Maker bely en prys?

 

Die eerlike beantwoording van hierdie is vrae van die grootste belang, broers en susters. Want wanneer ons in geloof die Skepper agter elke mens raaksien, dan hoef die arme die ryke nie meer te beny of te verwens oor sy rykdom nie; en dan sal die ryke besef dat hy niks het om hom teenoor die arme op te beroem nie. Dan hoef ons mekaar in gewas en arbeid nie meer te vertrap om bo uit te kom nie, dan is gewas en arbeid nie meer ‘n stryd teen die naaste nie. Nee, dan word gewas en arbeid met reg ‘n bede tot God as die Gewer en Beskikker van elkeen se deel, en aanvaar ons dankbaar wat Hy oor my lewe bepaal het.

En wie leer dat gewas en arbeid nie ‘n saak van ekonomiese kompetisie is nie, maar eerder ‘n saak van gebed, van opkyk na die Maker van ons almal, daardie persoon kan in liefde met die naaste begin omgaan. Dan kom daar gevolglik ook sorg vir mekaar; dan kan die ryke – soos vers 9 sê – sy brood vir die arme gee, en word hy deur die Here geseën. Ja, dan ontmoet die gelowige ryke die armes van hierdie wêreld as dienskneg, as iemand wat hulle wil dien met wat hy van die Here ontvang het. En dan ontmoet die gelowige arme die rykes van hierdie wêreld as een wat ‘n skat het om weg te gee, die skat van die evangelie. Met so ‘n houding mag u in die komende seisoen u werk gaan doen. Nou word die ontmoeting tussen ryk en arm ‘n ontmoeting waarin die Maker sentraal staan.   

 

Broers en susters, bevind ons onsself in spannende ekonomiese omstandighede? Verseker. Gaan dit nog moeiliker word in ons land? Heel moontlik. Maar gee dit maar vir die gelowiges – die gelowige ryke, maar ook die gelowige arme. Hulle weet – in die Here! – wat om daarmee te maak. Hulle sien die lewenslig in die oë van die naaste, en hulle weet Wie die Maker is van daardie mens. En dít bepaal hulle gebede, maar ook hulle arbeid.

Gemeente, op hierdie Biddag wil ons dus nie in die eerste plek bid vir verbetering van ekonomiese omstandighede nie, maar wil ons begin deur te bid vir krag om ín hierdie realiteit wys te kan lewe. Ons bede op hierdie dag is dat die Here ons wys sal maak wanneer ons môre weer die arme gaan ontmoet, wanneer ons die ryke in sy groot kar sien ry. En dat ons dan in geloof en nederigheid mag sê: die Here het beide gemaak! Mag die Here ons dan seën!

Vervolgens let ons op die bede vir die ideaal.

 

2. Maar, gemeente, beteken dit wat ons hierbo gesê het dat ons maar in die status quo moet berus? Ek is nou eenmaal ‘n arme, dus dit is wat ek sal bly; of, ek het nou eenmaal baie geld, en so is dit vir my bestem? Nee, broers en susters, bogenoemde erkenning van God as Maker van alle mense beteken nie noodwendig die handhawing van my huidige toestand nie. Ek mag bid vir verandering, maar dan moet ek goed weet waarvoor ek bid. Ek moet reg bid, soos wat die Kategismus ons leer. En ook hierin gaan die Spreuke-boek ons voor, wanneer ons luister na die gebed van Agur, die seun van Jake.

Ons lees naamlik in Spreuke 30:7 die woorde van Agur: “Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie…” Die eerste waarvoor hy vra is dat die Here valsheid en leuentaal ver van hom af sal hou. Maar hierdie eerste bede laat ons eers vir wat dit is. Dit is die tweede ding wat Agur vra wat vir ons tans belangrik is. Hy vra: “Gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is…” Agur vra dus om bewaar te word van uiterstes – die uiterstes van rykdom en armoede – omdat hy weet dat aan beide uiterstes gevare verbonde is.

 

Armoede is die eerste uiterste waarvan Agur gespaar wil word. Armoede kan naamlik rampspoedig wees, dit kan die arme bring tot diefstal. Die arme kan in so ‘n ellendige situasie kom dat hy geen ander uitweg sien nie as om hom te vergryp aan die besittings van ‘n ander.  Maar die vergryp aan ‘n ander se besittings is eintlik nog nie eens Agur se grootste vrees nie; sy grootste vrees is dat hy hom deur sy gedwonge optrede as armoedige aan die Naam van die Here sal vergryp. Hy is bang dat hy eendag in ‘n toestand sal kom waarin hy van sy kant die innige band met sy God sou verbreek deur die Naam van daardie God aan te tas. Gemeente, die nood van die armoede leer nie altyd bid nie; inteendeel, soms bring dit mense tot ‘n vloek. As jy jouself van die môre vroeg tot die aand laat moet afsloof om dan nog steeds in bitter armoede te moet lewe, dan kan die versoeking baie groot wees dat jy die Here en sy diens vaarwel sal toeroep.

En laat ons nie dink dat dit vir ons onmoontlik is nie. Laat ons nie dink dat ons as welgestelde Suid-Afrikaners nooit in daardie situasie sal kom nie. Moenie dink dat Klaagliedere 4:4 nie in ons tyd werklikheid kan word nie, waar ons lees: “Die tong van die suigling kleef aan sy verhemelte van dors, kindertjies vra brood, niemand breek dit vir hulle nie.” Sou ons in so ‘n situasie die Naam van God wél heilig hou? Broer en suster, vra jouself hierdie vraag. Talle ekonomiese en wêreldleiers meen dat ‘n volgende ekonomiese krisis op hande is. Veronderstel hulle is reg en die armoede tref ons, hoe sal jy teenoor die Here reageer? Hoe sal jy reageer op ‘n te kort op jou bankrekening, wanneer jy jou lewe lank daaraan gewoond was om goed te lewe en oorvloed te geniet? Mag die Here ons bewaar van die armoede, ter wille van die eer van sy Naam!

 

Maar vir die rykdom was Agur net so bang, want daaraan is ook groot versoekings verbonde. Baie subtiel, baie ongemerk kan ons slawe word van ons besittings, in plaas daarvan dat ons oor ons besittings heers. Agur was bevrees dat hy nie meer nederig van God afhanklik sou wees nie, maar dat hy versadig sou word – sélfversadig, sélfvoldaan! En dit ís ook moeilik om van God afhanklik te bly as jy alles kan koop en kan kry wat jou hart begeer. Paulus sê nie verniet in 1 Timotheus 6:9 nie: “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels…” En Jesus se woorde oor die kameel en die oog van die naald is vandag nog net so relevant as in sy eie tyd. Waar die Here ons lewensgrond behoort te wees, kan jou rykdom, jou beleggings, jou bates, so maklik daardie rol begin vervul. En dan kom die vraag maklik: “Maar wie is die Here nou werklik?”

 

En, gemeente, dit is vanweë die gevare van hierdie twee uiterstes van rykdom en armoede dat Agur bid vir die ideaal van die goue middeweg: laat my geniet die brood wat vir my bestem is; laat my my bestemde porsie geniet. Hoor u dit? Agur bid hier eenvoudig die vierde bede van die Onse Vader: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Hy bid nie vir só min dat hy skaars kan lewe nie; ook nie vir só baie dat die koskaste oorloop nie. Nee, my daaglikse porsie – die middeweg tussen rykdom en armoede. En wat hierdie middeweg konkreet beteken, hang uiteraard af van die tyd en die plek waarin ons onsself bevind. Die middeweg is vandag anders as in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog, en die middeweg is in Suid-Afrika anders as in ander Afrika-lande. Dit gaan hier dus oor behoorlike lewensonderhoud volgens die maatstawwe van die tyd en die plek waarin God ons laat lewe.

Maar afgesien nog van die omstandighede, waarvoor Agur hier ten diepste bid, is vir tevredenheid, vir vergenoegdheid. Dit is presies die woord wat Paulus gebruik in 1 Tim. 6:8: “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” Vergenoegdheid is ‘n vrug van die Gees waarvoor ons onsself voortdurend moet beywer. En die doel daarvan is gerigtheid op die Here. Dit beteken dat jy Hóm daagliks sal vra vir wat jy nodig het, ook al is die koskaste vol; en dat jy Hóm daagliks sal dank vir wat jy kry – ook al is dit soms effens skraps. Broers en susters, vergenoegdheid laat die christen uitstaan in hierdie wêreld. Dit bewaar ons van die ongesonde dryf na meer en meer, dit bewaar ons daarvan om die opposisie in die grond te wil druk, dit bewaar ons van ongesonde werksure omdat die wins nog nie goed genoeg is nie. Vergenoegdheid gee rus, want ons hulp – en dit sluit ons daaglikse brood in! – is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.

Kom ons help mekaar hier in die gemeente met vergenoegdheid. Dit is ‘n lewenswyse wat ons híér moet aanleer – in ons omgang met die Woord van die Here en in ons omgang met mekaar. En dit is ‘n lewenswyse waarvoor daar híér die ruimte behoort te wees. Oppas vir die wêreldse drang na meer; oppas – en dit geld in besonder die jonger egpare en gesinne – om mekaar te wil beïndruk met die uiterlike; oppas dat jy nie ‘n kameel word nie, die oog van die naald is bitter klein…

 

En onthou ten slotte…

Ware rykdom is ‘n gawe van God. En dan praat ons nie van die rykdom soos wat die wêreld daaroor praat en daarna kyk nie; ware rykdom word nie uitgedruk in terme van rand en sent nie. Nee, as ons praat van ware rykdom dan doen ons dit soos wat die Spreuke-digter dit doen in Spreuke 3:16, waar daar van die Wysheid gesê word: “In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer.” Lengte van dae, rykdom en eer is een groot geskenkpak vir diegene wat met die Wysheid omgaaan, vir diegene wat Jesus Christus as hulle persoonlike Verlosser ken. As Skepper van alle dinge beskik Hy oor lewe, rykdom en eer, en Hy deel dit ook graag uit vir dié wat hulle aan Hom toevertrou.

En, gemeente, waar vind ons hierdie geskenk mooier vergestalt as in die paradys, by die eerste mensepaar, Adam en Eva. Toe die band met God in die paradys reg was, en alles in die regte verhouding beskou is, toe was daar werklik lewe en rykdom en eer. Was Adam en Eva arm? Nee, ook al was hulle beide naak. Was hulle ryk? Ja, ook al het Adam nie ‘n duur snyerspak, en Eva nie ‘n duur aandrok gedra nie. Want die paradysmens spog nie, die paradysmens is eg en opreg. Adam en Eva het nie in ‘n duur huis gewoon nie, maar hulle was bewoners van die mooiste tuin denkbaar. Hulle het geen tuinman in diens gehad nie, want Adam was self die tuinman, geroep tot bewoning en bewerking van die tuin van Eden. En op sy getroue arbeid kon hy God se seën verwag, kon hy verwag dat God hom en sy vrou alles sou gee wat hulle nodig gehad het om tot sy eer te lewe.

 

Hier in paradys sien ons vergenoegdheid, gemeente. Doen eenvoudig wat die Here vra in jou daaglikse arbeid; wees deur die krag van die Gees wie jy moet wees volgens die wil van die Here. En verwag dan ook sy seën en sorg, verwag van Hom jou daaglikse porsie. En verwag dan bo alles van die skat wat nie sal vergaan nie. Soek na daardie skat!

Amen

 

 

Liturgie: 

Oggend:
VOORPSALM Ps. 65:6-9
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 148:3-5
Wetslesing
Sing Ps. 4:3 en 4
Gebed
Lees:    Spreuke 22:1-16
            Spreuke 30:1-9
Sing Ps. 49:1, 3 en 6
Teks: Spreuke 22:2 & 30:8b-9
Preek
Amenlied Ps. 37:14-17
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 147:1, 3 en 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.