Psalm 24 : 3 Dans voor die Here op die ritme wat Christus verskaf!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-10-14
Teks: 
Psalms 24 en 2 Sam 5 : 4-10 en 6 : 11-19
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Psalm
24:3; lees Psalm 24, 2 Samuel 5:4-10, 6:11-19

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

Die tema vir die Woordverkondiging vanoggend is:

Dans voor die Here op die ritme wat Christus verskaf!

Broers en susters, Psalm 24 – ons teks vir vandag – is ‘n danspsalm;
dit is die danspsalm van koning Dawid toe hy oppad was om die ark van die Here na
sy vasgestelde plek in Jerusalem oor te bring. Voordat ons egter verder na die
psalm luister, kom ons kyk eers na die konteks. Dus, wat het in daardie tyd
gebeur wat aanleiding gegee het tot hierdie danslied?

 

Soos wat ons in 2 Samuel 5 gelees het, het Dawid eers sewe en ‘n
half jaar in Hebron oor die stam Juda regeer. Maar toe hy, ná hierdie tydperk,
koning oor die hele volk geword het, het hy daarmee saam ook begin soek na ‘n
nuwe koningstad vir die verenigde Israel. Om hierdie doel te verwesenlik het hy
saam met sy leër uitgetrek om die stad Jerusalem uit die hande van die
Jebusiete te verower. Ja, gemeente, Jerusalem was nie altyd Israel s’n nie. Vir
eeue lank was dit die Jebusiete se vesting. Die Jebusiete – daardie volk
waarvan die Here in Genesis 15 alreeds aan Abraham belowe het dat hulle een van
die volke is wat plek sal moet maak om die belofte van ‘n eie land aan Abraham
se nageslag te verwesenlik; die Here sê daar vir Abraham: “Aan jou nageslag gee
Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die
Eufraatrivier; die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete
en Refaïete en Amoriete en Kanaaniete en Girgasiete en Jebusiete” (Gen.
15:18-21). En nou, omtrent 800 jaar na daardie belofte en talle probeerslae
later, is dit Dawid wat uiteindelik die Jebusiete verslaan en hulle stad
inneem. Die Here het sy belofte deur al hierdie eeue heen gehou! Jerusalem word
nou die koningstad, die stad van Dawid!

 

Maar Dawid, die gelowige man wat hy was, weet ook dat hy hierdie
oorwinning nie deur eie krag behaal het nie, en hy wil as kind van die Here ook
nie alleen in hierdie stad woon nie. Nee, Dawid wil aan die Here die sentrale
plek in hierdie stad gee. Daarom laat maak hy spesiaal ‘n nuwe tent, en beplan
hy om die ark van die Here – die simbool van God se teenwoordigheid – vanuit Kirjat-Jearim
na Jerusalem oor te bring. U sal onthou dat die ark daar in Kirjat-Jearim
gestaan het nadat die Filistyne dit teruggestuur het.

Die eerste probeerslag om die ark na Jerusalem te vervoer verloop
rampspoedig – Ussa sterf as gevolg van die toorn van die Here. Wanneer Dawid bemerk
waar hy gefouteer het, stel hy alles in werking om die tweede poging presies volgens
die voorskrifte van die Here te laat verloop – u kan daarvan lees in 1 Kronieke
15 en 16. En eers wanneer hy dít gedoen het, word hierdie tweede poging vir
sowel Dawid as die hele volk ‘n heerlike geleentheid, dit word ‘n feesdag vir
Israel. Volgens die voorskrifte wat die Here self gegee het, word die ark
suksesvol en met groot vreugde na Jerusalem vervoer. Dawid en die volk mag weet
dat die Here by hulle is, dat Hy by hulle wil woon. En, gemeente, Psalm 24 het
vorm aangeneem presies tydens hierdie reis vanaf Kirjat-Jearim na Jerusalem. Kom
ons kyk daarna, en probeer vir uself visualiseer wat daar gebeur…

 

Daar staan die hele prosessie dan, gereed om die ongeveer 10 km
vanaf Kirjat-Jearim na Jerusalem af te lê. Wanneer die leviete met die ark in
beweging kom, volg die hele volk agter hulle aan. En dadelik begin Dawid en die
volk uitbundig die lof te besing van God, die Skepper en Onderhouder van die
heelal: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en
die wat daarin woon; want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die
strome” – só sing hulle (Ps. 24:1-2). Dus, die Here is vir hulle die Een wat
die aarde op sy as aan die draai gesit het, wat aan alle dinge op aarde ‘n plek
gegee het, en wat nog steeds oor alles sy oog hou. Met hierdie belydenis van
God se kosmiese heerskappy gaan Dawid en die volk oppad na Jerusalem. Hierdie
optog na Jerusalem is vir hulle dus nie maar net ‘n privaat-Israelitiese
aangeleentheid nie, dit is nie ‘n suiwer interne saak nie. Nee, die God wat by
hulle kom woon, is die Koning van die héle aarde! Dit moes pragtig gewees het –
die singende volk met hulle singende koning vooraan.

Maar dan sien ons voor ons geestesoog hoe die priesters skielik tot stilstand
kom. Hulle het ‘n vraag vir die volk om hulle heen: “Wie mag klim op die berg
van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek?” Dus, nadat die volk sopas
die alomteenwoordigheid van die Skepper-Heer besing het, wil die priesters nou
weet: Maar wie mag in dáárdie teenwoordigheid kom? Want dit is een ding om God
se alomteenwoordigheid te erken, ‘n alomteenwoordigheid waarvan geen mens kan
ontkom nie (dink maar aan Psalm 139); maar dit is iets totaal anders om
vervolgens te kan sê: en ék mag in
daardie teenwoordigheid verkeer… Die priesters wil dus by die volk weet wie by
die Here mag binnekom – terloops, ons hoor hierin byna dieselfde vraag as wat
ons in Psalm 15 ook teëkom.

 

Dit wil voorkom asof die priesters self die antwoord gee in verse 4
en 5: “Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot
nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die HERE en
geregtigheid van die God van sy heil.” Dit is ‘n hoë eis… Wie kan hieraan
voldoen? ‘n Mens sou dink dat hierdie eis die volk sou afskrik, dat hulle deur
hierdie hoë kwalifikasie hulle uitbundige vrolikheid sou verloor: miskien moet
hulle maar liewer oppak en na hulle woonplekke terugkeer. Dit is vir ons gevoel
soos ‘n koue emmer water op ‘n entoesiastiese skare. Maar nee… Hoor hoe reageer
die volk in vers 6 op die eis van die priesters: “Dít is die geslag van hulle
wat na Hom vra, wat u aangesig soek – dit is Jakob.” Is die volk nie effens verwaand
nie? Dink hulle regtig dat húlle aan hierdie eis voldoen, sodat hulle hulself kan
identifiseer as die regverdige geslag – dit is Jakob, dit is Israel?!

Nee, broers en susters. Immers, die volk sê geensins dat hulle aan
hierdie eise voldoen nie, hulle dink nie vir ‘n oomblik dat hulle verdien om in
die teenwoordigheid van die Here te mag kom nie. Hulle woorde in vers 6 is
daarom ook nie ‘n verklaring van hulle morele integriteit nie; nee, dit is eerder
‘n verklaring van hulle begeerte om dit te wees! Dit is ‘n
verklaring van die wíl om die Here te
soek
en na Hom te vra! Die geregtigheid wat geëis word, is dus nie iets wat hulle
het nie, maar dit iets wat hulle begeer om van die Here te ontvang! Húlle het
dit nie, maar hulle soek die Here, sodat Hy dit aan hulle kan gee!

En daarom is dit ook so mooi om in 2 Samuel 6 te lees dat Dawid, met
elke ses treë wat die priesters geloop het, ‘n bees en ‘n vetgemaakte kalf
geoffer het. En toe hulle uiteindelik die ark op sy plek in die tent neergesit
het, het Dawid weereens brandoffers en dankoffers gebring. Dawid en die volk plaas
hulle met hul offers dus voor die aangesig van die HERE om van Hóm te ontvang
wat hulle nodig het om in sy teenwoordigheid te kan verkeer. Dawid en die volk
sing en dans nie omdat hulle in hulself so waardig is nie, maar omdat God, wat hulle
waardig maak, in hulle midde is! Dawid
en die volk sing en dans op die ritme van Gód se genade!

 

Gemeente, so is dit met ons ook! In ons lewe as volk van die Here,
en in besonder wanneer ons net hierna vorentoe kom na die nagmaalstafel, lewe
ons nie uit eie verdienste nie. Uit onsself voldoen ons nie aan die eise van
Psalm 24, sodat ons reg sou hê om in die teenwoordigheid van die Here te kom
nie. Die nagmaalsformulier sê dit ook: “Ons kom tog nie na die nagmaal om
daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie.” Nee,
maar ons begeer dit wel! Dit is wel ons verlange! En daarom vra ons na die
Here, en soek ons sy aangesig om van Hom ons geregtigheid te ontvang. Ons kom verlangend na die
geregtigheid wat deur Christus verdien is! Daarop mag ons die Vader ook wys:
“Vader, kyk na die kruis, kyk na Christus en sy offer!” En die Vader neem daardie
offer aan en reken ons dit toe as ons eie.

Gemeente, dit mag ons glo! Net soos die volk hoef ons onsself nie te
laat afsit deur die skerp vraag van die priesters nie: “Wie mag klim op die
berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek?” Eintlik is dit nie
eens so ‘n skerp vraag nie; dis maar net ‘n vraag wat jou dwing om die antwoord
op die regte plek te gaan soek. Vlug na die Here en sy genade! Geen sonde of
swakheid wat teen ons wil in ons oorgebly het, kan verhinder dat God ons in
genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan hierdie hemelse voedsel en
drank nie. En daarom kom ons met uitbundige vreugde na die nagmaal, al singende
en dansende op die ritme van Christus se verlossende werk. Dít gee werklik rede
vir ‘n vreugdemaaltyd hier om die tafel!

 

En in daardie wete het die volk Israel ook verder getrek…

Die prosessie het intussen die poorte van die nuwe koningstad,
Jerusalem, genader. En met vrymoedigheid roep hulle: “Verhef julle hoofde, o
poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!” Ja, daar
word met vrymoedigheid gevra dat die poorte oopgaan, want die Here mos in hulle
midde.

Maar daar word nie onmiddellik gehoor gegee nie. Eers is daar die
vraag: “Wie is tog die Erekoning?” Die poortwagter kan nie sommer net oopmaak
nie; immers, net gemagtigdes mag die stad binnekom. Of anders gestel: net vir
hulle wat weet wat die wagwoord is, word die poorte oopgemaak. Maar die volk
ken die wagwoord: “Die HERE (Jahwe), sterk en geweldig, die HERE geweldig in
die stryd.” Gemeente, hier sien ons wie die eintlike koning in Jerusalem is; in
die stad van Dawid staan die Here sentraal, Hy regeer van hieruit sy volk. En
die volk weet dit maar al te goed, hulle ken die wagwoord.

Weereens klink die oproep: “Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef
op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!” En net om dubbel seker te maak,
weer die vraag van die poortwagter: “Wie is dan tog die Erekoning?” En die
antwoord: “Die HERE van die leërskare – Hy is die Erekoning.” En dan gaan die
poorte wyd oop, en mag die volk binnegaan om aan die ark – God se troon – sy
plek in Jerusalem te gee. Wat ‘n heerlike dag: die Erekoning het besluit om
hier sy woonplek te maak, God kom woon onder sy volk in die koninklike stad.
God is in Jerusalem, en Hy verskaf die ritme waarop die volk die lied van
verlossing kan sing en dans.

 

Broers en susters, as Nuwe Testamentiese kerk word ons vanoggend hierdie
selfde wagwoord in die mond gelê. Om met die Here te kan verkeer, om in sy
teenwoordigheid te kan kom – hier aan die nagmaal, maar ook in die lewe van
elke dag – kyk ons nie na ons prestasies nie. Ons hoor immers ook nêrens die
volk sê dat die poorte moet oopgaan omdat dit Dawid se stad is, en omdat hy die
oorwinnings behaal het nie, of dat die poorte moet oopgaan omdat hulle so ‘n
besondere volk is nie. Nee, Jahwe, sterk en geweldig – dáárdie Naam laat die
poorte wyd oopgaan.

Gemeente, laat ons met daardie Naam die reis van die lewe voortsit;
laat ons daardie wagwoord gebruik – Jesus Christus. Nie as ‘n towerwoord nie.
Ons is nie soos Ali Baba wat met die towerwoord die grot se deur laat oop- en
toegaan het nie. God laat Hom nie manupileer nie. Maar wanneer ons in geloof
Jesus Christus se Naam gebruik in ons omgang met die Here, dan is dit die
soetste klanke in sy ore. Dan mag ons seker wees dat Hy ons goedgesind is, dat
Hy ons in sy teenwoordigheid sal verwelkom. Gebruik hierdie Naam vandag aan die
nagmaalstafel: Jesus Christus – ek eet Hom, ek drink Hom, Hy is my Verlosser. Gebruik
hierdie wagwoord in u gebede: om Christus ontwil bid ek dit. En gebruik hierdie
Naam elke dag; leef by hierdie Naam, ook wanneer die omgewing u daaroor spot.
En ook al gaan die deure – die geleenthede, die moontlikhede, die kanse –
daardeur hier op aarde vir jou toe, nogtans weet jy: Jesus Christus, my
Erekoning, die Een deur wie die poorte van die hemelryk vir my oopgaan.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • Voorpsalm Ps. 15

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde
gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en
van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue
Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die
aarde. Amen.

Sing Ps. 91:1 en 6

Wetslesing

Sing Ps. 5:3-6

Kort gebed

Lees:    2 Samuel 5:4-10

            2 Samuel 6:11-19

            Psalm 24

Preek

Sing Ps. 68:12 en 13

Nagmaalsformulier en –gebed

  • Terwyl tafel in gereedheid Ps. 24:1
  • Aan tafel:
    • 1ste Ps. 24:2 en 3
    • 2de  Ps. 24:4
    • 3de Ps. 24:5

Voltooi formulier + gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 68:15 en 16

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)