Sondag 22(1) ; ‘n alles-beheersende toekomsperspektief… vandag alreeds!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-09-23
Teks: 
Job 19
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK,
Sondag 22; lees Job 19

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ons het gekom by die laaste woorde van ons belydenis. Hiervóór het
ons ons geloof bely in God die Vader, in ons Here Jesus Christus, en in die
Heilige Gees. Daarna het ons bely dat ons glo aan die gemeenskap van die
heiliges en die vergewing van sondes. Ons het dus opgekyk na die Drie-enige
God, ons het teruggekyk na die voltooide werk van Jesus Christus, en ons het om
ons heen gekyk na die kerk wat deur Christus gebou word. En vandag kyk ons
vooruit – na die einde. Die laaste woorde van ons belydenis rig ons aandag op
die toekoms: die opstanding van die liggaam en ‘n ewige lewe.

Dit is die laaste woorde van ons belydenis; dit is trouens ook die
laaste woorde van ons lewe. Op ‘n dag, wanneer ons by die poorte van die dood
kom, sal ons alles agterlaat. En wat lê daar dan vir ons voor? Baie mense
vandag het niks meer te sê oor enige vorm van lewe ná dood nie; by die dood
eindig hulle geloof in die vooruitgang van die mens en in hulle eie goedheid;
die dood is vir hulle soos die punt aan die einde van die sin – daar eindig
alles. Selfs christene, wat nog baie te sê het oor dinge soos christelike
etiek, christelike naasteliefde en omgewingsbewaring, het die opstanding en die
ewige lewe agter hulle gelaat. Dit is immers maar net beeldspraak – hoe sou die
dooies in elk geval kon opstaan? En watter voorstelling moet jy vir jouself
maak van die ewige lewe?

 

Ja, gemeente, die laaste woorde van ons belydenis brokkel al hoe
meer af, dit kry al hoe minder aandag. Kan ons belydenis eintlik maar
daarsonder? Kan ons hierdie woorde maar skrap? Paulus dink nie so nie. Hy skryf
aan die Korinthiërs dat, as hulle nie aan die opstanding glo nie, hulle die
ellendigste van alle mense is; dan moet hulle maar die hele geloof laat vaar.
Nou, óns sal die opstanding en die ewige lewe darem nie sommer ontken nie, maar
dikwels skuif dit tog na die rantjie van ons geestelike voorstelling. Ons is so
besig met die hede dat ons nie tyd het om besig te wees met die inhoud van die
toekoms nie. Maar dan dwing die Kategismus ons vandag tot besinning. Sondag 22 vra
ons uit oor die troos wat daar in die toekoms is – watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou? Watter troos skep jy uit die artikel van die
ewige lewe? Dit is baie persoonlike vrae, op die man af. Dit is vrae wat ons
terugvat na Sondag 1: wat is jou enigste troos in lewe maar ook in sterwe? Die
opstanding en die ewige lewe mag nie op die rand van ons lewens bly staan nie;
inteendeel, dit moet die alles-oorheersende toekomsperspektief word! En daarmee
wil ons onsself vandag besig hou.

Tema: ‘n alles-beheersende toekomsperspektief… vandag alreeds!

 

Ewige lewe – gemeente, wat is dit eintlik? En wáár is dit? Dit is so
onwerklik vir ons. As mense vra ons nie uit onsself na die ewige lewe nie. ‘n
Ongelowige sal regtig nie na jou toe kom en vra: “Kan jy nie miskien vir my die
pad na die ewige lewe wys nie?” Hoekom sou jy vra na iets wat jy glad nie ken
en wat vir jou gevoel ook nie bestaan nie? As die Bybel daarom tog praat van
die ewige lewe, dan word daarmee nie die natuurlike wense van mense vervul nie,
dan bied die Skrif nie ‘n antwoord op ‘n vraag van ons kant af nie, maar dan
word daarmee die sluier gelig oor ‘n werklikheid wat ons nie ken nie. ‘n
Werklikheid wat teen ons eie lewensgevoel indruis. Ja, in ons tyd word daar
baie gepraat oor lewe op ander planete, maar dan is dit altyd lewe binne ons
eie voorstellingsvermoë. Dan is dit iets soortgelyks as die lewe hier, maar net
êrens anders. Dan is dit meer van dieselfde. In die Bybel gaan dit egter nie
oor lewe op ‘n ander planeet nie, maar oor lewe in ewigheid.

Nou, in die Bybel beteken die woord ‘ewig’ iets ander as wat ons
dikwels dink. Ons praat soms oor ‘n ewige jeug, of oor iets wat ‘n ewigheid geduur
het. En dan bedoel ons daarmee iets waaraan daar maar net nie ‘n einde gekom
het nie. Dit hou maar net nie op nie! Maar in die Bybel beteken ‘ewig’ iets
anders: daar gaan dit oor die afwesigheid van die dood. Ewige lewe is ‘n lewe
sonder die beskadiging van die dood. God self is immers ewig – Hy is nie
onderworpe aan die verganklikheid nie. En ewige lewe is lewe in Hom, en daarom
is ons veilig en onaantasbaar. Ewige lewe is die skat van lewe waar die wurm
nie kruip en die bakterie nie toeslaan en die virus nie doodmaak en die pyn ons
nie onderkry nie. Ewige lewe is léwe.
Eenvoudig lewe wat leef! Lewe wat bly leef!

 

Maar wat is die geheim van hierdie ware lewe, gemeente? Hoekom is
dit vandag so onbekend, en hoekom soek mense nie daarna nie? Hoekom dra so baie
mense vandag maar gedienstig en gedweë die lot van ‘n sterfbed sonder om te vra
na die ware lewe? Wel, hierdie vraag bring ons by die kern van ons huidige
mens-wees. Die ware lewe bestaan naamlik wel, maar dit is ‘n verlore
werklikheid, ‘n paradys waaruit ons verdryf is. Slegs in God se nabyheid is
lewe onverganklik, maar buite sy paradys sterf die lewe af. En nou vertel die
Bybel ons dat ons as mense eens op ‘n tyd in die paradys was, maar dat ons
daarna buite God se paradys beland het, en dít deur ons eie skuld. Ons het
gekies vir ‘n selfstandige lewe met eie keuses. Natuurlik het God ons
aanvanklik ook gemaak as selfstandige wesens en het Hy aan ons vryheid gegee,
maar dit was altyd selfstandigheid en vryheid in gebondenheid aan ons Skepper. Slegs
op dié manier sou ons binne sy onverganklike lewe bly. En dit is op hierdie punt
waar ons onsself van God losgemaak het. Adam en Eva het immers van die boom
geëet wat God verbied het – hulle het hulleself as mense van God geëmansipeer,
maar daarmee het hulle ook die werklike, ewige lewe verloor. Want mense kan nie
vir ewig op hulle eie bene bly staan nie. Dit is wat die Bybel ons leer…

Is dit maar net ‘n verhaaltjie uit die outyd? Was die paradys ‘n
mite? Wie om hom heen kyk, weet van beter – want dit is nog steeds die
werklikheid van ons tyd. Die mens vat nog steeds sy lot in sy eie hande, selfs
al vergaan en verkrummel sy lewe. Daar is steeds die sieklike drang om
selfstandig en vry te wil wees. Ons lewe liewer met siekte en vigs en dood as
om die weg terug te gaan na die Skepper van alle lewe. Ons pas liewer betyds
genadedood toe as om na God terug te keer met ‘n gebed om ewige lewe.

Ja, broers en susters, die mensheid lewe in verharding. Ons dink dis
vryheid, maar dit is in werklikheid verharding. Ons buig ons rug onder die
kruis van die dood, en ons dra dit baie moedig: ‘n mens is mos net eenkeer jonk,
lewe daarom voluit! Maar ons kyk nie terug na die begin nie, want dit was tog
maar net ‘n mite. En daarom het ons ook niks om na uit te sien nie, want die
dood is die einde. Dit is nou eenmaal die realiteit! En daarom kan mense ook oor
die ewige lewe spot: “Wil jy dan vir altyd lewe? Wil jy vir duisende jare in ‘n
ouetehuis sit? Nee, aan alle goeie dinge kom ‘n einde. Ewige lewe pas nie in
ons lewe nie.” En tereg – ewige lewe sonder God het inderdaad geen sin nie, wat
moet jy daarmee maak?

 

Gemeente, ons ontdek die geheim van die ewige lewe slegs wanneer ons
ons huidige lewe in die regte lig leer sien, wanneer ons ontdek dat ons met al
ons asemrowende bouwerke en al ons pragtige musiek en al ons wonderlike medisyne
tog in ‘n vervloekte wêreld lewe, verban tot die dood. Die werklikheid van die
ewige lewe begin slegs reliëf kry teen die agtergond van nóú. Die pad na die ewigheid
word dus nie gevind met ‘n verkyker waarmee jy ver in die toekoms inkyk nie.
Nee, die pad na die ewigheid word gevind deur middel van ‘n oog-operasie. Dit
gaan nie oor onsigbare vertes waarvoor jy ‘n sterk teleskoop nodig het nie.
Nee, dit gaan oor ons blindheid vir ons eie, huidige situasie. Dit gaan daaroor
dat ons weer leer sien – ons eie lewe leer sien, en gevolglik ook God leer
sien. Eers dán kry ons ‘n gevoel vir die dimensies – die ewige dimensies – van
die lewe uit Hom en deur Hom en tot Hom.

 

En dit is ook die weg wat Job moes gaan…

Job is in ‘n stryd gewikkel met sy sogenaamde vriende. Sopas het
Bildad die ondergang geteken van ‘n goddelose persoon (u kan dit maar gaan lees
in hoofstuk 18:5-21). En die boodskap van sy verhaal is: so gaan dit met iemand
wat die Here nie erken nie. Die gedagte was baie duidelik dat Job homsélf in
hierdie verhaal moes herken. Die gedagte was dat hy met ‘n skok tot die besef
sou kom: “ek is daardie man, laat ek myself dadelik bekeer.” Maar die verhaal
het ‘n totaal ander uitwerking op Job; die verhaal het hom eerder gekwel en
verbrysel (19:2). Ja, dit sou waar gewees het as hy inderdaad in die geheim ‘n
misdaad begaan en daarmee God se toorn opgewek het. Maar met al sy foute en
gebreke was Job oortuig dat hy ‘n kind van God was. Daarom kan hy, ná Bildad se
verhaal, net een konklusie trek: ek kry inderdaad die straf van ‘n goddelose,
maar dit klop nie. En dit pla Job geweldig dat, as hy netnou dood is, Bildad se
verhaal die wêreld sou ingaan as die waarheid. En dat almal dan tot die
konklusie sou kom: Job het eenvoudig gemaai wat hy gesaai het. Daarteen
protesteer Job, selfs oor die grense van sy eie dood heen. Hy wil hê dat sy
verdediging in ‘n boek opgeskryf moet word. Nee, nog beter: laat dit vir ewig
in ‘n rots gebeitel word (19:23-24). Laat dít as sy grafsteen dien!

 

Dit is, volgens Job, al wat daar nog oor is om te doen. Daar is nie
vir hom ‘n weg vorentoe nie – immers, die Here het sy weg toegemuur, oor sy
paaie het die Here duisternis gesprei (vers 8). Job het nie hoop vir die
toekoms nie – immers, sy verwagting is uitgeruk soos ‘n boom (vers 10). Job is
vasgevang in sy huidige omstandighede; al wat nou nog wag, is die dood. Sy in-klip-gegraveerde
getuienis is al wat hy het… So dink Job. Totdat die besef skielik by hom
deurbreek: “Maar wag: my Verlosser leef!” Skielik onthou Job dat hy ‘n losser
het (want dit is letterlik wat daar in die Hebreeus staan: ‘goël’ = ‘losser’).

Die meeste van ons het waarskynlik ‘n idee van wie ‘n losser in
Israel was, en wat sy taak was. Elke Israeliet het ‘n losser gehad wat deur die
Here aangewys is. En die losser was vir die Israeliet ‘n redder in nood; jy kon
altyd by die losser gaan aanklop, want hy was wetlik verplig om jou te help. So
het ‘n kwesbare weduwee soos Rut gesien hoe al haar sorge verdwyn toe Boas, die
losser, in aksie gekom het. En dit is presies waar Job nou ook sy hulp gaan
soek! Hy besef skielik dat hy ‘n losser het.

 

Maar Job gaan nie na ‘n aardse losser nie; nee, Job vlug na die
goddelike Losser – en in hierdie goddelike Losser kan ons uiteindelik Jesus
Christus sien. En hy verwag van hierdie goddelike Losser iets bo-mensliks; hy
verwag dat sy goddelike Losser selfs nog ná sy dood in aksie sou kom; selfs al
moet hy sterwe, selfs al dink mense dat hy as goddelose gesterf het, sy Losser
sal vir hom opkom. Kyk maar na vers 25: “Hy sal as laaste – nadat almal hulle
oordeel oor hom gegee het – oor die stof opstaan.” Met hierdie stof verwys Job
na homself ná sy dood; daar sou ná sy dood niks meer as stof van hom oorbly
nie. En wat dan? Wel, sê Job, selfs al vergaan ek binnekort tot stof, my Losser
léwe en Hy sal vir my optree. Ja, sê Job, ek het nou ‘n lyf vol met sere, my
vel is afgeskeur, ek is vel en been, my familie dink ek is walglik, my vriende
dink ek is besig om die dood van ‘n goddelose te sterwe, máár “nadat hulle so
my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou.” Uit my vlees – Job
verwag ‘n nuwe en gesonde liggaam, en daarmee sal hy sy God ontmoet. Vol
verbasing roep hy uit: “Hom wat ek sal aanskou my ten goede (hy weet dat God
Hom goedgesind is deur die Losser wat vir hom sal intree), en my oë – en geen
vreemde nie – sal sien!” Job bely hierin die opstanding van die liggaam en die
ewige lewe!

 

Maar, gemeente, dit alles kan Job slegs sê, omdat hy eers bely het:
My Losser leef! Nie: my Losser sal eendag leef nie, sodat ek dan ook sal leef
nie. Nee, my Losser leef nou, vandag! Job kan in sy haglike omstandighede die dimensies van die ewige lewe begin ontdek,
omdat hy nóú alreeds sy lewende
Verlosser ken. Die geheim van die geloof aan die ewige lewe is dat ek, soos
antwoord 58 dit stel, nou alreeds die begin van die ewige
vreugde in my hart ervaar. Enersyds leer sien ek dus myself (sondige mens, wat selfstandig,
los van God wou lewe), en andersyds leer sien ek my Verlosser. En dit laat vandag alreeds die toekomsmusiek van die
ewige vreugde in my hart opkom. Dit is musiek wat jy vandag nog nie op die
strate of op die radio sal hoor nie; jy kan dit nie van die internet aflaai
nie, maar dit klink op in die binneste van elkeen wat Jesus Christus leer ken
het.

En daarom moet ons vir die opstanding en die ewige lewe nie vér in
die toekoms gaan soek nie, broers en susters. Soos ek reeds gesê het: ons het
nie ‘n verkyker of ‘n teleskoop daarvoor nodig nie. Nee, ons moet eenvoudig vandag
leer stilstaan by God, ons Skepper en ons Vader, en by die kruis van Jesus Christus,
en by die krag van die Heilige Gees wat in ons werk. En wanneer jy voor die
aangesig van hierdie God al stamelend en stotterend leer sê “my Here en my
God”, dan groei daar in jou hart die geheime vreugde dat jy aan Hom behoort. En
ja, dan word ons vandag steeds siek, en ons ly steeds pyn, en ons sterf steeds
en ons is daaroor senuweeagtig, omdat ons nie weet wat die dood nou eintlik
inhou nie. En tog voel ons onsself gedra en getroos. Ook al verdwyn alle ander
lewensvreugdes, dan bloei hierdie een, ewige vreugde in ons harte op. Dan
skitter daar ‘n klein pêrel-van-die-lewe in ‘n andersins sterwende liggaam en
lewe. En dit gee hoop: wat ek nou alreeds voel, is so wonderlik; dit kan nie
anders as om verder te groei na ‘n onbeskryflike ewige lewe nie – ‘n lewe wat
geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens opgekom het nie.

 

En dit is die lewe, só sê antwoord 58, waarin ek God ewig sal prys.
Dit is moeilik om dit te verstaan, nie waar nie? Jy kan mos nie ewig bly sing
nie, ‘n mens word mos op ‘n stadium moeg daarvan? Ewige ‘praise & worship’?
Is dit nou so ‘n wonderlike vooruitsig? Ons kan onsself dit moeilik voorstel.
Maar dit is omdat ons so gebrekkig is in ons lof op God, broers en susters.
Elke nou en dan loof ons God, miskien een keer per week, en dan raak ons vir
die res van die week weer besig met ons eie dinge; so nou en dan kom daar ‘n
psalm in ons koppe op, maar vir die grootste deel is ons lof nog onvolledig,
verhinder deur afleidings en sorge en vrese.

God ewig prys – ons begin dit eers verstaan as ons besef wie God
werklik is, wanneer ons begin lewe uit die Lewe self! God ewig prys – ek weet,
dit is nou nog onvoorstelbaar, maar ek voel in my hart alreeds die
aantrekkingskrag daarvan, want ek het God leer ken. En daarom verlang ek na die
ewige saligheid.

 

Maar voordat ons daar kom, moet ons nog een treetjie terug,
gemeente. Want om by daardie ewige vreugde uit te kom, moet ek eers hierdie
liggaam aflê (dit is waaroor vraag en antwoord 57 gaan). En dit is iets
waarteen ons baie kan opsien, naamlik om hierdie lewe te moet aflê omdat dit
aangetas is deur die dood. Ons kan opsien teen die sterwe, ons kan opsien teen die
afskeid van almal wat ons so ongelooflik lief en dierbaar is. Hoekom kan ons
nie sommer net in een flitsbeweging oorgaan na ‘n ewige lewe sonder dood nie? Wel,
broer en susters, omdat jy uit ‘n put ook nie verlos kan word sonder om eers
omhoog getrek te word nie. Uit die put van hierdie sterflike lewe moet ons
opgetrek word. En bo die rand van die put, afgeëts teen die lig van die hemel,
sien ons die hoof van ons Redder. Hy het die toue laat vasmaak onder ons arms.
Hy trek ons op, en dan bly ons ou skoene agter in die modder op die bodem van
die put. Ons siel word opgetrek. En dan word ons, op die jongste dag, beklee met
nuwe klere.

Christus sal die afgebreekte lewe weer herstel in die opstanding. Ons
bereik die ewige lewe slegs via die trapleer van die opneming van ons siele en
die opwekking van ons liggame. Ons kan nie ewig lewe sonder om eers herstel en
vernuwe te word nie. Maar ook hiervoor moet ons by ons Losser wees, ook
hiervoor moet ons na Jesus Christus luister. Jesus fluister die geheim hiervan
in Marta se oor wanneer Hy by die graf van Lasarus kom. Jesus sê: “Marta, Ek is
die Opstanding en die Lewe. Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.” En
dan vra Jesus vir Marta, en vir elkeen van ons: “Glo jy dit?” En dan is dit vir
‘n oomblik stil, voordat Marta antwoord: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus
is.” Sien u wat Marta bely? Ek glo dat U die Christus is! Dit, broers en
susters, is die begin van die ewige vreugde en van die werklike lewe.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 27:1, 3, 4 en 6

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van
die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 113

Gebed

Lees: Job 19

Sing Ps. 18:3, 19 en 20

Teks: HK, Sondag 22

Preek

Amenlied Ps. 16:3-5

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 73:10-12

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)