Openbaring 5 : 7; Die kerk kry versekering vanuit die hemel!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-08-05
Teks: 
Openbaring 4 en 5
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Openbaring 5:7; lees Openbaring 4 en 5

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Belofte en werklikheid – dit lyk dikwels nog maar baie ver van
mekaar verwyder. Dít wat die Here aan my belowe en dít wat ek in my lewe
ervaar, voel soms soos twee totaal verskillende dinge. En só moes dit waarskynlik
ook vir die sewe gemeentes in Asië gevoel het. Enersyds hoor hulle van die
genade en vrede van die Drie-enige God (1:3-5) en van Jesus Christus wat kom om
die Joodse volk, hulle wat Hom deursteek het, te oordeel (1:7), en dat Hy nou
as Priester-Koning nie meer in Jerusalem in die tempel is nie, maar eerder tussen
die sewe kandelare – sy gemeentes – wandel (1:12-13).

Dus, enersyds hoor die sewe gemeentes dat húlle nou die wettige
voortsetting van Israel is, dat húlle die volk is wat Christus met sy bloed gewas
en tot konings en priesters gemaak het (1:5-6). Maar andersyds is daar die
werklikheid dat hulle op ‘n byna daaglikse basis die vervolging en die
verdrukking van die Jode moet verduur; hulle bestaansreg word voortdurend betwis
deur die sogenaamde sinagoge van die Satan (2:9, 3:9) – hierdie stryd met die
ongelowige Jode kom in verskeie van die briewe aan die sewe gemeentes na vore.

Terloops, oor die briewe aan die sewe gemeentes het ek reeds vorige
jaar gepreek, en daarom gaan ons dit nie nou weer behandel nie. Maar gaan lees
gerus weer hierdie hoofstukke deur, sodat jy ‘n gevoel kan kry van die stryd
wat hierdie gemeentes moes voer.

 

Belofte en werklikheid – dit moes vir die sewe gemeentes soos twee
verskillende wêrelde gevoel het. Die belofte was dat hulle die volk van God is,
dat hulle ‘n koninklike priesterdom geword het, maar die werklikheid was dat
hulle steeds gelewe het in die skaduwee van die sinagoge wat in al sewe stede
‘n baie prominente plek ingeneem het; die Jode was in daardie dae ‘n
invloedryke minderheidsgroep in Klein-Asië.

Nou, om sy kerk met hierdie worsteling te help en om haar in hierdie
worsteling te bemoedig, maak Jesus Christus vir Johannes – en daardeur vir sy
kerk – ‘n deur oop na die hemel (4:1), sodat sy kan sien wat die egte werklikheid
is, wat die ware toedrag van sake is! Johannes mag hierdie hemelse werklikheid
aanskou en hy moet dit neerskryf, sodat die kerk oortuig kan wees van haar nuwe
identiteit in Christus. En só word die jong en skugter bruid bevestig in haar
Bruidegom se liefde vir haar!

Tema: Die kerk kry versekering vanuit die hemel!

  1. Die skeibrief van die Leeu
  2. Die koopakte van die Lam

 

1. In sy visioen in Esegiël 1 en 2, waarmee Johannes se visioen groot
ooreenkomste vertoon, beweeg Esegiël se beskrywing vanaf die omtrek na die
middelpunt, vanaf die dekor na die fokuspunt – God op sy heilige troon.
Johannes, egter, werk andersom. Wanneer hy in die Gees na die hemel gevat word,
dan is die heel eerste wat hy sien: die troon, met Een wat daarop sit. Helaas
kan hy ‘die Een’ nie beskryf nie – woorde skiet eenvoudig te kort om God te
beskryf. Maar Johannes beskryf, met behulp van die beeld van pragtige edelstene,
wel iets van die glans van God se hemelse majesteit. En een van die aspekte van
God se majesteit wat hy raaksien, is ‘n reënboog. Ja, ‘n reënboog – ons kinders
behoort te weet wat die reënboog beteken! Dit is mos die simbool van God se
trou (in die konteks van die sondvloed dui dit spesifiek op sy trou aan die
belofte dat Hy die aarde nie weer sal laat oorstroom nie, maar hier in
Openbaring 4 dui dit op die betroubaarheid van God as een van die kenmerke van
sy hemelse regering)! Daardeur mag die sewe gemeentes van die begin af weet:
die Here is getrou, Hy doen altyd wat Hy belowe! Die kerk mag getroos wees in
die absolute sekerheid: die Here hou altyd sy woord!

Maar, gemeente, hierdie trou van die Here werk uiteraard na twee
kante toe – dit geld nie slegs sy genadige beloftes nie; nee, die Here is óók
trou in sy oordeel (onthou: Openbaring is ‘n verbondsboek, met die oordeel oor
Israel as die sentrale fokus!). En dit is dan ook die ander aspek wat Johannes
daar by die troon sien: hy sien weerligte en donderslae en stemme wat uit die
troon uitgaan. Johannes kombineer hier elemente uit Exodus 19:16 (God se
verskyning op die Sinai met donderslae en blitse) en Esegiël 1:13 (Esegiël se
troonvisioen wat ook met weerlig en bliksemstrale gepaardgegaan het). En
hiermee wys God dat Hy vanuit die hemel regeer, en dat Hy ‘n arsenaal van
vernietigende kragte tot sy beskikking het. By God se troon is daar
hoogspanning, dit is lewensgevaarlik daar! En dit word bevestig met die beeld
van die sewe vuurfakkels (wat die sewe Geeste van God is) – God is ‘n
verterende vuur! Sy Gees ook. Hou daarom afstand… net soos die volk by die berg
Sinai (Ex. 20:16).

 

Dus, gemeente, agter Jesus Christus se koms op die wolke, om te
oordeel hulle wat Hom deursteek het (dit is die tema wat ons verlede week
vanuit hoofstuk 1:7 geïdentifiseer het), sien ons die hemelse werklikheid van Gód
se oordeel. Christus se oordeel oor die Joodse volk is nie sy eie, persoonlike
vendetta nie; nee, dit is ‘n direkte opdrag vanuit die sentrum van die
Koninkryk – vanuit die paleis, vanaf die troon. En verder is hierdie oordeel
nie maar net leë dreigemente nie; nee, want ons sien in hoofstuk 5:1 God se
regterhand in aksie kom. Nou, God se regterhand is dwarsdeur die Skrif die simbool
van God se daadwerklike optrede, sy daadkrag. God praat nie maar net nie, Hy
voeg ook die daad by die woord. Dink maar aan Psalm 118:15: “Die regterhand van
die Here doen kragtige dinge.” En dink ook aan Habakuk 2:16, waar God se
regterhand spesifiek met sy oordeel verbind word: “Na jou toe sal die beker van
die regterhand van die Here omgaan, en skande tref jou eer.” Ook hier in
Openbaring 5 is God se regterhand die bewys dat Hy op die punt staan om op te
tree; God se oordeel is op hande!

Maar dan sien ons saam met Johannes in God se regterhand ‘n boek. Opmerklik,
want dit is presies dieselfde wat Esegiël in sy visioen ook gesien het, en
daarby is die konteks van Esegiël se visioen dieselfde as dié van Johannes –
beide sien ‘n troon-toneel. En verder is in beide gevalle die boekrol op die
voor- en die agterkant beskrywe. Dit is dus baie duidelik dat Johannes besig is
om die patroon van Esegiël se visioen te gebruik om sy eie visioen te beskryf. Maar
dan moet daar sekerlik ook ‘n verbinding wees tussen die inhoud van die twee
boekrolle. Nou, die inhoud van die Johannes se boekrol is nie onmiddellik
duidelik nie, maar in Esegiël 2:10 lees ons: “en dit was beskrywe op die voor-
en agterkant, en daarop was geskrywe klaagliedere en gesug en wee.” Klaagliedere
en gesug en wee – oor wie? Dit lees ons net daarvoor in Esegiël 2:3: “Hy sê toe
vir my: Mensekind, Ek stuur jou na die kinders van Israel, na die opstandige nasie
wat teen My opgestaan het; hulle en hul vaders het teen My oortree tot hierdie
selfde dag toe.” Esegiël se boekrol gee dus ‘n beskrywing van God se straf oor
Israel. Nou, as ons Openbaring verder bestudeer, dan sal ons sien dat dit
presies die inhoud van Johannes se boekrol is. En so is ons terug by die tema
van die boek Openbaring: God se oordeel oor sy afvallige en ongehoorsame
verbondsvolk.

 

En teen hierdie agtergrond, gemeente, en in besonder ook teen die
agtergrond van die res van die boek Openbaring – waarin ons verskeie kere temas
sal teëkom soos die hoer en die bruid, die straf oor owerspel, die neem van ‘n
nuwe bruid, die nuwe Jerusalem, die bruilof van die Lam – as ons hierdie totale
verbondskonteks in gedagte hou, dan kom ons tot die konklusie dat die verseëlde
boekrol van Openbaring 5 niks anders is nie as God se skeibrief aan sy Ou
Testamentiese vrou vanweë haar geestelike owerspel.

Ja, gemeente, ons weet vanuit die Skrifte dat God in die Ou
Testament met Israel ‘getrou’ het; Hy het haar as sy vrou geneem. Dink aan
Esegiël 16:8: “En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was
die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei… Ja, Ek het vir jou
gesweer en met jou ‘n verbond aangegaan, spreek die Here HERE, en jy het myne
geword” (en nog talle ander plekke). Maar wat het Israel gedoen? “o Die vrou
wat owerspel bedrywe. Terwyl sy onder haar man staan, het sy vreemdes
aangeneem” (Es. 16:32). En dan dreig die Here op verskeie plekke in die Ou
Testament met ‘n egskeiding (Jes. 50:1, Jer. 3:8), een of twee keer staan Hy op
die punt om die skeibrief te oorhandig, maar dit kom nooit tot daardie finale
stap nie. Steeds is die Here weer genadig. Maar nou sê die Here: “Dit is sover!
Hier het jy die skeibrief met my oordele.” Die Here se maat is vol!

Gemeente, die verbond wat die Here met Israel aangegaan het, het
ryke seëninge bevat op voorwaarde dat hulle in sy weë sou wandel. Maar dit het
ook ernstige oordele bevat vir die geval dat hulle ongehoorsaam sou wees. Dink
spesifiek aan wat ons lees in Levitikus 26, daardie bekende hoofstuk oor die
seën en die vloek van die Here; dan lees ons in vers 18 van daardie hoofstuk:
“En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle
sewevoudig weens julle sondes te tugtig.” Sewevoudig – is dit nie presies wat
ons in Openbaring terugvind nie: die skeibrief bevat sewe seëls, en wanneer dit
oopgemaak is, loop dit oor in sewe basuine, en die sewe basuine mond ten slotte
uit in sewe skale met die sewe laaste plae. Die boek in God se regterhand is sy
skeibrief met sy finale en beslissende oordeel oor die hoervrou wat haar
Messias verwerp en vermoor het. Die skeibrief is geskryf en verseël. Nou moet
dit nog net die uitgevoer word…

 

Maar dit is nou die probleem, want wie kan hierdie oordeel voltrek?
Wie is waardig om dit te doen? Wel, dit moet iemand wees wat nie self onder die
oordeel staan nie. Is daar so iemand in Israel? Nee, tot Johannes se groot
verdriet is daar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde wat die
boek kon oopmaak of daarin kon kyk nie (5:4). Is God dan tog ontrou? Is sy
regterhand tog onmagtig? Maar dan word Johannes getroos – want daar is tog
iemand, en daardie Iemand kom selfs uit Israel. Uit daardie hoervrou het daar
tog Een voortgekom wat waardig is om die boek oop te maak en die egskeiding te
voltrek – die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid het oorwin om
die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek (5:5).

Pragtig! Voor ons oë sien ons al die kragtige leeu, die koning van
die diere. Natuurlik, wie is beter om die oordeel te voltrek as Hy?! Maar…
wanneer Johannes verder kyk, dan sien hy in die middel van die troon…. ‘n Lam.
Johannes verwag die krag van die leeu om die oordeel te voltrek, maar hy mag
hom verwonder oor die liefde van die Lam wat bereid was om geslag te word. Die
Leeu het ‘n Lam geword! En let daarop, broers en susters, op dié manier – as
Lam – is Hy geskik om God se oordeel oor sy afvallige verbondsvolk uit te voer.
Want só het Hy die Paaslam geword waardeur Israel van die swaard van die
verderwer verlos word. Maar wanneer Hy nie aanvaar word nie, wanneer Israel nie
bereid is om te vertrou op die bloedstorting van die Lam en nie bereid is om sy
bloed op die deurposte van haar lewe te smeer nie, dan val sy saam met Egipte
onder God se oordeel. Dan val sy onder die verderf, en die Lam self word dan
die Regter, Hy is dan die Engel van die verderf wat die oordeel voltrek. En dit
is presies wat met die grootste deel van die volk Israel gebeur het – sy wou
haar Redder nie aanvaar nie, en haar Redder het haar Regter geword.

 

En op dié manier, deur hierdie kykie in die hemel, word sewe jong
kerke bemoedig – hulle mag weet dat die egskeiding finaal is, en dat daar
Iemand is om die oordeel te voltrek. Die Lam met die sewe horings (wat dui op sy
sewevoudige stootkrag) en die sewe oë (wat die sewe Geeste van God is wat alles
raaksien), Hy sal God se regterhandswerk tot uitvoering bring. En dan gaan dit nie
daaroor dat die kerk die ondergang van die Joodse volk soek nie; inteendeel, die
kerk moet die redding van die Jode soek! Maar dit gaan daaroor dat die kerk
verseker word dat geloof in Jesus Christus beslissend is vir toetrede tot die
nuwe Israel. Die jong gelowiges mag weet: hulle hoef nie besny te word om deel
van God se volk te wees nie, hulle hoef nie al die seremoniële wette te
onderhou om deel van Israel te wees nie, hulle hoef nie minderwaardig te voel
teenoor die sinagoge en die magtige tempel in Jerusalem nie. Nee, geloof in
Jesus Christus – daar val die beslissing! En daarom, Efese / Smirna / Pergamus
/ Thiatire / Sardis / Filadelfia / Laodicea, staan vas! Julle kry ‘n kykie in
die hemel om julle daarvan te verseker dat die oordeel naby is. Julle lewe nou miskien
nog in die skaduwee van die tempel in Jerusalem, maar binnekort sal daar van
Jerusalem en die tempel niks meer oor wees nie. Julle Bruidegom is getrou, Hy
sal sy woord gestand doen. En so word die kerk van alle eeue bemoediging en
opgeroep: glo in die Lam! Dáár lê jou verlossing! En wanneer die teenstand kom
– en dit gaan kom! – weet dan: die Lam is reeds besig om die finale oordeel oor
al God se vyande te voltrek. As bruid is ons veilig in die beloftes van ons
hemelse Bruidegom!

Máár, broers en susters, sewe jong kerke word nie slegs bemoedig
nie, hulle word ook gewaarsku – onthou, God se verbond word voortgesit met
elkeen wat glo in die geslagte Lam. Julle is nou die ware Israel, julle is die
volk uit Abraham gebore. En dit behels dat julle die seën van die verbond mag
opeis (“open julle mond, eis van my vrymoedig”), maar dit behels óók dat die
verbondsvloek julle opgelê word. Ja, die kerk van die Nuwe Testament is, selfs sterker
nog as Israel, onder die eis en die vloek van God se verbond. Soos die
Hebreërskrywer dit vir ons stel: “… as húlle nie ontvlug het nie wat Hom
afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder ons
wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek (Hebr. 12:25). Moet Hom
wat uit die hemele spreek nie afwys nie, broers en susters. Die skeibrief van
Openbaring 4 is nie nét vir die Jode nie; Levitikus 26 is nie Ou Testamenties,
en daarom verby nie. Nee, ons sing immers in die lig van die koms van Christus
Psalm 105:5 by die doop van ons kinders: “Verbond met Abraham, sy vrind,
bevestig Hy van kind tot kind.” Gelowiges en hulle kinders mag deel in die verbond
met Abraham, maar moenie vergeet met watter bloed daardie verbond verseël is
nie. Die bloed van die Lam! Slegs geloof in Jesus Christus beskerm ons van die
finale oordeel wat oppad is. Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val
nie. Wie meen dat hy deel is van die nuwe Israel, moet erns maak met die
skeibrief.  

Ons let in die tweede plek
op die koopakte van die Lam.

 

2. U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak – só begin
die nuwe lied wat die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge in
Openbaring 5:9 aan die Lam opdra [terloops, ek het nog niks gesê oor die
vier-en-twingtig ouderlinge en die vier lewende wesens rondom die troon nie;
nie omdat dit onbelangrik sou wees nie, maar omdat dit nie die fokus van die
preek is nie. U moet maar bietjie by die huis gaan oplees wat hiermee bedoel
word]. Hoe dit ook al sy, die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende
wesens besing die waardigheid van die Lam. Maar wat presies gee aan die Lam sy
waardigheid, gemeente? Wat maak Hom geskik? Wel, die sangers gee vir ons die
rede (vers 9): “want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke
stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God
gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Dit is opmerklik, nie waar
nie? In reaksie op die Lam wat die boek – die skeibrief met die oordeel oor die
Joodse volk – uit die hand van God gevat het, word daar nie in die eerste plek oor
die oordeel gesing nie, hoewel dit verseker ‘n realiteit is. Die Lam se
waardigheid word nie in die eerste plek bepaal deur sy bevoegdheid om te
oordeel nie. Nee, wanneer die Lam die boek vat, dan word daar van sy verlossing
gesing! En nie sommer net verlossing nie, nee, verlossing uit elke stam en taal
en volk en nasie. Dít is die waardigheid van die Lam!

Die oordeel is ‘n realiteit, dis waar, maar dit is as’t ware die
skadukant van die werk van die Lam; sy egte werk, die ligkant van sy werk is
die verlossing van mense uit die hele wêreld. In die oordeel oor Israel lê die
boodskap van hoop vir die nasies. Onthou u nog Romeine 11 met die beeld van die
olyfboom? Wel, wanneer die egte takke afgesny word vanweë hulle ongeloof, dan
kom daar ruimte vir die wilde takke om op die olyfboom ingeënt te word. Dit is
die wonder van Pinkster, broers en susters: gaan dan heen, maak dissipels van
alle nasies! En daarom dat ons ook twee maal in hoofstuk 4 en 5 die Gees teëkom
– eers as die sewe vuurfakkels (4:5) en vervolgens ook as die sewe oë (5:6). Ja,
die Gees van God is uitgestuur oor die hele aarde, en Hy speur oral met sy
alsiende oë om mense te trek en aan te steek met die vlam van die geloof. Uit
elke stam en taal en volk en nasie – en dan moet ons nie dink aan die arme
drommels in donker Afrika of in die bosse van Suid-Amerika nie. Nee, dan gaan
dit oor óns! Ons is die heidene wat
in duisternis gewandel het. Ons is die wilde takke wat deur geloof in Christus
plek kry op die olyfboom van Israel. Die verharding het ten dele oor Israel
gekom, sodat die volheid van die heidene kan ingaan – só sê Paulus in Romeine
11:25. Daarin lê ons redding!

 

En dit is die waardigheid van die Lam! Hy word nie in die eerste
plek geprys vir die uitvoering van die oordeel nie, maar vir die feit dat Hy
sondaars met sy bloed gekoop het. Die boek in God se regterhand is dus nie
slegs ‘n skeibrief nie, maar dit is veral ook ‘n koopakte, verseë met die bloed
van Jesus Christus! In die oordeel oor die afvallige Israel lê die redding vir
die nuwe Israel! Christus het vir hierdie Israel betaal met sy bloed. En só is
ons vandag konings en priesters. Ek het verlede week reeds gewys dat dít God se
doel was met die volk wat Hy uit Egipteland gelei het: “Julle sal vir my ‘n
koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees” (Ex. 19:6). Nou, dit is wat
ons vandag is…

Ons is konings wat vandag reeds op aarde mag regeer. Ons mag in die
Naam van die Lam heers oor die sonde en die duiwel. Ons mag deur die geloof menseharte
opeis vir Jesus Christus. Daardie koningsmag word aan ons verleen – nie deur
krag of deur geweld nie, maar deur die Gees en die Woord. Daarom, om koning in
diens van Christus te wees, beteken tegelykertyd om priester te wees. Jou
koningskap kan jy slegs goed uitvoer in diensbaarheid aan God en aan jou
naaste. In ons priesterdiens wys ons vir mense die liefde van Christus, ons
dien hulle ook al vervolg hulle ons, ons seën ook al word ons vervloek. As ons
vyande honger het, dan gee ons vir hulle iets om te eet; as hulle dors het, gee
ons vir hulle iets om te drink. Dít is ons koninklike priesterskap!

Ek weet, dit lyk soms so onbenullig. Dit voel asof ons so min in
hierdie wêreld beteken. Maar onthou, gemeente: ‘n dienskneg is nie groter as sy
heer nie. Johannes het ‘n Leeu gesien, en wat het geblyk? Die Leeu was ‘n Lam, ‘n
geslagte Lam. Laat ons daarin ons Here navolg. Hy was bereid om sy bloed te
stort om ons te koop. Laat ons ook vir ander alles wees, sodat ons hulle vir
Christus kan wen.

 

Gemeente, as dit die Here se wil is, gaan ons in die komende tyd
begin om saam met Johannes die opening van die boekrol te bestudeer. Dit gaan
‘n spannende en pynlike proses wees. Dit gaan ons bring by oorlog en dood, en
bo alles: God se verskriklike oordeel. Laat ons daardeur nie pessimisties en
sinies word nie, maar eerder bemoedig word om steeds weer die oë op te hef na
die hemel. Daar by die troon van God, in die sentrum van die Koninkryk van
hemel en aarde, vind ons ons Verlosser. Ook vandag nog. Want – sê Psalm 9 – bo wat
wissel en vergaan, bly ewig God se rykstroon staan! Hy vel sy vonnis uit die
wolke, regverdig oordeel Hy die volke. Maar die hart van hul wat U bely, sal in
u Naam standvastig bly. Dié wat U soek in stil vertroue, is by U veilig en
behoue. Dan vind my tong weer nuwe stof, in Sions poort meld ek u lof. Dan sing
ek bly van u genade, so groot in nuwe reddingsdade!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 9:1, 13-15

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was
en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 17:1, 3 en 6

Wetslesing

Sing Ps. 50:2, 7 en 11

Kollekte (offer dank; orrel speel)

Lees:    Openbaring 4 en 5

            Esegiël 2:1-3, 9-10

Sing Ps. 63:2 en 3

Teks: Openbaring 5:7

Gebed

Preek

Amenlied Skr. 8:4 en 5

Gebed

Slotsang Ps. 63:4-6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)