2 Tim 2 : 22 daar is plek vir die jeug in die groot huis met die vaste fondament..

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-06-17
Teks: 
II Timótheüs 2 : 14-26 en Num 16 : 1-7 en 16-33
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – 2
Timotheus 2:22; lees 2 Timotheus 2:14-26, Numeri 16:1-7, 16-33

 

Geliefde gemeente
van ons Here, Jesus Christus,

Gister, 16 Junie, was Jeugdag. Dit is ‘n herinnering aan die
Soweto-opstande van 16 Junie 1976. In protes teen ‘n besluit van die destydse regering,
naamlik om Afrikaans een van die amptelike onderrigtale in alle skole te maak,
het duisende swart skoliere daardie dag die strate ingevaar. Die polisie het gewelddadig
en hardhandig gereageer, en tientalle jongmense het op daardie dag gesterf. 16
Junie 1976 het sedertdien ‘n simbool geword van die opstand teen apartheid; dit
het ‘n simbool geword van die bevryding van onderdrukking. Vandag is 16 Junie
‘n openbare vakansiedag. Jeugdag. ‘n Dag waarop die jeug geëer word vir hulle
aandeel in die bevrydingstryd. En tydens jeugdag-toesprake, wat jaarliks landswyd
gehou word, word die jeug opgeroep om steeds die voortou te neem om verandering
te bewerk, steeds te stry, maar nou vir ekonomiese bevryding. Die opstand gaan
voort…

 

In die Bybel vind ons ook ‘n opstand. ‘n Opstand onder leiding van
Korag, Datan en Abiram teen die leiers van die volk Israel, Moses en Aaron. Dit
was ‘n opstand waaraan God ‘n spoedige en gewelddadige einde gemaak het. Die
aarde het naamlik oopgeskeur en die leiers van die opstand, met hulle gesinne,
ingesluk. Só is die opstandelinge uit die gemeenskap van Israel verwyder.  

Nou, gemeente, dit is nie vanmôre my bedoeling om ooreenkomste te
soek tussen die Soweto-opstande van 1976 en die Korag-Datan-en-Abiram-opstand van
Numeri 16 nie. Daarmee sou ons die Woord van die Here nie reg doen nie. En tóg lê
daar ‘n verbinding… via 2 Timotheus 2. Want Paulus gebruik die opstand van
Numeri 16 om aan die jong Timotheus te leer hoe hy hom in sy jonkheid moet
gedra. Paulus verwys naamlik in 2 Timotheus 2:19 na God se vaste fondament
waarop daar twee uitsprake staan (“die Here ken die wat syne is” en “laat
elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid”);
beide hierdie uitsprake het die opstand van Numeri 16 as agtergrond (ek sal
later weer hierna toe terugkom). Dus, waar die een opstand – die een van 1976 –
vandag deur politieke leiers gebruik word om die jeug te eer, daar word die ander opstand – die een van Numeri 16 – deur
Paulus gebruik om die jeug te leer. En
met gister se Jeugdag nog vars in die geheue wil ons vanmôre luister na wat die
Here deur Paulus die jeug wil leer.

Tema: daar is plek vir die jeug in die groot huis met die vaste
fondament…

1.     
Vlug

2.     
Jaag ná

3.     
Doen dit sáám

 

1. Gemeente, daar is plek vir die jeug in die kerk! Ons hoef nie bang
te wees om aan ons jongmense ‘n volwaardige plek in die gemeente te gee nie.
Kom ons wees eerlik, daar is soms ‘n effense vrees om dit te doen, nie waar
nie? Want ons ken die jeugdige voortvarendheid – miskien van die tyd toe ons
self jonk was óf uit iets wat een van ons kinders dalk aangevang het. Ons weet dat
jongmense soms onbesonne dinge sê en doen, dat hulle nog besig is om hulle plek
en identiteit in die lewe te soek. En tog is Paulus nie daaroor bekommerd nie,
want Paulus weet van watter huis die jeug deel is. Hulle is deel van ‘n groot
huis (vers 20); die woord wat Paulus hier gebruik, verwys na ‘n luukse Romeinse
herehuis of villa; daar is genoeg plek in hierdie huis, ook vir die jeug, om ‘n
volwaardige plek in te neem. Ons hoef ons jongmense nie êrens onder in die
kelder te gaan wegsteek nie; nee, hierdie huis is groot genoeg vir hulle om
hulle eie kamer te kry. En verder het hierdie huis ‘n stewige fondament (vers
19) – selfs die jeugdige voortvarendheid en onbesonnenheid gaan nie sommer hierdie
fondament ondermyn nie, daaroor hoef ons nie bekommerd te wees nie. Dus, gee
die jeug maar gerus hulle plek in die kerk.

 

Máár daar is natuurlik meer om te sê. Want eintlik is Paulus hier nie
in gesprek met die gemeente wat aan die jeug hulle plek moet géé nie. Nee, hy
is in gesprek met die jeugdige Timotheus wat moet leer hoe hy sy plek in die
gemeente moet innéém. Jongmense, julle hét ‘n plek in die groot huis met die
vaste fondament, máár nou moet julle
ook daardie plek inneem. Dit vra iets van julle. En daarom Paulus se eerste
oproep in ons teks: “vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid”.

Die begeerlikhede van die jonkheid, wat sou dit wees? Wel, dit verwys
na die oormoedigheid en onstuimigheid wat so eie is aan jongmense; dit gaan oor
die gebrek aan besinning by jongmense (“ons praat eers, en ons dink later”,
“ons doen eers, en later sal ons aan die gevolge dink); dit gaan hier ook oor
die beïnvloedbaarheid van die jongmense. En in die spesifieke konteks van ons
Skrifgedeelte (2 Timotheus 2:14-26) kom die begeerlikhede van die jonkheid,
volgens Paulus, tot uiting in ‘n soort jeugdige nuuskierigheid vir nuwe dinge
en nuwe leringe. En dwaalleraars, soos Himeneus en Filétus (waarvan vers 17
praat), speel maar alte graag daarop in, hulle maak gretig misbruik van hierdie
jeugdige nuuskierigheid om daarmee die jongmense te beïnvloed. En ons sien dan
ook dikwels in die kerkgeskiedenis dat dit juis die jeug is wat aan ‘n bepaalde
dwaling sy stukrag verleen. Die jeug dink nie noodwendig die dwaling uit nie,
maar dit is húlle wat met hom hardloop!

En daarom waarsku Paulus vir Timotheus om nie op die onheilige en
onsinnige praatjies van dwaalleraars in te gaan nie (vers 16), en om hulle
dwase en onverstandige strydvrae af te wys (vers 23). Want hierdie dwaalleer is
soos ‘n kanker (vers 17) – letterlik gebruik Paulus die woord ‘gangreen’. Nou,
gangreen is ‘n siekte waarby die weefsel as’t ware wegvrot as gevolg van ‘n
gebrek aan bloedtoevoer. En dit is wat gebeur wanneer ‘n mens jouself
voortdurend met die dwaalleer besig hou. Jou geestelike lewe vrot weg, want jy
kry nie genoeg van die gesonde leer nie. En dit is ook wat Paulus sê aan die
einde van vers 18: hulle keer die geloof van sommige om. Hulle verwoes die
geloof van sommige.

 

Nou, dít is die agtergrond van Paulus se oproep in vers 22 aan die
jeugdige Timotheus: vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid. Hy sê eintlik:
moenie onbesonne wees, soos wat jongmense maar dikwels is nie; dink na voordat
jy jou ore uitleen aan ‘n ander leer, moenie altyd nuuskierig wees na nuwe
dinge nie, moenie jou geloof laat ondermyn deur jou vatbaarheid vir nuwe
leringe nie. En, jongmense, hiermee gee Paulus ‘n belangrike aanwysing vir
julle deel-wees van die kerk van die Here. As julle wil deel wees van die groot
huis van Christus se kerk, dan word julle dáártoe opgeroep. En hoekom is dit so
belangrik? Want, sê Paulus, dit is deel van die fondament van die kerk, wat vir
almal van ons geld! Kyk maar na vers 19: “die fondament van God staan vas met
hierdie seël: die Here ken die wat syne is, en (dan die uitspraak wat op
hierdie punt vir ons van belang is): Laat
elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid
.”

Ek het gesê dat hierdie twee uitsprake, wat God op die fondament van
die kerk geplaas het, terugverwys na die geskiedenis van Numeri 16. Nou, vir
die eerste uitspraak (die Here ken die wat syne is) is dit nie so moeilik om
raak te sien nie. Moses sê immers in Numeri 16:5: “Môre vroeg sal die Here
bekend maak wie Hom toebehoort…” Maar die tweede uitspraak vind ons nie in
Numeri 16 en ook nie in die res van die Skrif nie. En tog kan ons hierdie
uitspraak sien as ‘n soort samevatting van die geskiedenis van Numeri 16.
Wanneer die Here naamlik op die punt staan om Korag, Datan en Abiram te straf,
dan roep Moses die volk op: “Verwyder julle tog van die tente van hierdie
goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie
weens al hulle sondes omkom nie” (vers 26). Met die oog op hierdie uitspraak en
oorvertaal in Nuwe Testamentiese taal, sê Paulus vir die jong Timotheus: “Laat
elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.” Dus,
as jy sê dat jy aan Christus behoort en as jy sy Naam bely, hou jouself dan ver
van enige iets – in leer of in lewenswandel – wat jou van hierdie Christus af kan
wegtrek en jou geloof kan ondermyn. En dit is uiteraard ‘n oproep aan elke
gelowige, maar vir die jeug – op wie die verleidings soveel sterker afkom en
wie soveel meer vatbaar is vir die verleidings – kry hierdie oproep ‘n ekstra
dringendheid.

 

Broers en susters, die opstand en straf van Korag, Datan en Abiram
is – net soos die Soweto-opstande van 1976 – iets om in gedagte te hou. Nie om
dit te veridealiseer en te vereer nie; inteendeel, om daaruit te leer! Hou
jouself weg van sondige leringe en sondige lewenswyses; vlug daarvan weg! Moenie
jouself in gevaar stel deur dit nuuskierig te ondersoek nie. Rus jouself eerder
toe om die woord van die waarheid reg te kan sny (vers 15). Help mekaar daarby
wanneer julle bybelstudie doen – moenie tydens die bybelstudie julleself
vermoei met woordestryd en twisvrae nie, maar bou mekaar op in die
allerheiligste geloof. As julle aan Paulus se oproep om te vlug, gehoor gee, is
dit geen teken van lafhartigheid nie, maar eerder van ‘n Godgegewe
volwassenheid, ver bo julle jare. Mag die Here julle, in julle jonkheid,
hierdie volwassenheid skenk.

In die tweede plek: jaag ná.

 

2. Teenoor die wegvlug van die begeerlikhede van die jonkheid, moedig Paulus
die jong Timotheus vervolgens positief aan om geregtigheid, geloof, liefde en
vrede na te jaag. Vier deugde – nou, Paulus probeer in hierdie lysie geensins
volledig wees nie, want in 1 Timotheus 6:11 lees ons ‘n soortgelyke oproep, maar
met ‘n meer uitgebreide lys; daar sê Paulus vir Timotheus: jaag ná die
geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Maar
hier in ons teks vind ons hierdie vier: geregtigheid, geloof, liefde en vrede. Nou,
om geregtigheid
na te jaag, beteken om te lewe soos wat dit reg is, soos wat dit reg is in Gód
se oë. En hierdie regte lewenswandel vind jy slegs deur geloof in Jesus Christus,
en dit kom tot uiting in ware liefde tot God en jou naaste. Dit
lei vervolgens ook daartoe dat jy, sover dit van jou afhang, in vrede
met alle mense kan lewe.

Dus: geregtigheid, geloof, liefde en vrede. Dit is die dinge waartoe
Paulus die jong Timotheus oproep om na te jaag. Maar onthou, broers en susters,
as Paulus hier die woord ‘najaag’ gebruik, dan is dit nie ‘n najaag waarin ek
die held en die oorwinnaar is nie. Die najaag van geregtigheid en geloof en
liefde en vrede is nie my aktiewe verdienste nie; nee, dit is ‘n vlug na Jesus Christus toe! ‘n Vlug weg van die
ongeregtigheid (ons eerste gedagte), is altyd ‘n vlug na die geregtigheid in
Christus. Want geregtigheid en geloof en liefde en vrede is gawes wat ons slegs
in Christus ontvang; dit is gawes wat diegene ontvang wat die Naam van Christus
noem (vers 19). En as jongmens, met baie energie en baie ideale (net soos
Timotheus), moet jy dít leer. Want die gevaar van ‘n doperse aktivisme is baie
groot: ek vlug weg van die ongeregtigheid, en nou moet ek – in eie krag –
allerhande goeie dinge gaan doen. Nee! Onthou, die jonges word moeg en mat, en
die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag (Jes.
40)! Vind geregtigheid, geloof, liefde en vrede by Jesus Christus; ontvang dit
as genadegeskenke uit sy hand.

 

En weet jy wat is nou so wonderlik? Volgens Paulus is dit juis hierdie
dinge wat aan jou eer verskaf! Nee, nie in die wêreld nie – jy word nie ‘n
sportster of ‘n popster of ‘n bekende persoonlikheid as jy geregtigheid,
geloof, liefde en vrede ontvang het nie. En dit is ook nie belangrik nie, want
– só lui die ander opskrif op die fondament van die kerk (vers 19) – die Here
ken die wat syne is! Dus, geen wêreldse roem nie, maar jy kry eer in die groot huis
van die hemelse God! Dit is wat Paulus in verse 20 en 21 sê. Paulus brei in
vers 20 naamlik uit op die beeld van die groot huis. Hy vertel vir Timotheus presies
watter voorwerpe daar in hierdie huis gevind kan word. Uiteraard is daar in ‘n
luukse Romeinse herehuis voorwerpe van goud en silwer – dit kan ‘n mens verwag,
nie waar nie? Maar dit is nie alles goud en silwer wat daar blink nie. In so ‘n
luukse huis is daar ook voorwerpe van hout en erdewerk.

En tog verstaan ons almal dat daar ‘n verskil is tussen hierdie onderskeie
voorwerpe, ‘n verskil wat te make het met die funksie wat elkeen vervul.
Skottels en borde van goud en silwer is bestem om as tafelgerei gebruik te word
by spesiale geleenthede, soos by ‘n feestelike maal waar belangrike gaste
teenwoordig is. Dit strek sulke voorwerpe tot eer! Maar die potte en panne uit
die kombuis, wat gewoonlik van hout of erdewerk gemaak was, het – ook in ‘n
belangrike herehuis! – gewone, alledaagse funksies. En soms is daardie funksies
tot oneer, soos wanneer dit moet diens doen om kombuis-afval op te vang, of
selfs wanneer dit as toiletbak moet diens doen en daarna saam met die inhoud
weggegooi word.

 

En Paulus se vraag aan die jongman, Timotheus, is eintlik: watter
soort voorwerp sal jy graag wil wees? Daar is mos niemand wat graag ‘n eerlose
bestaan wil voer nie? Nee, natuurlik wil elkeen van ons ‘n waardevolle voorwerp
wees, ‘n voorwerp wat in God se huishouding ‘n eervolle bestemming ontvang.
Nou, sê Paulus, daarvoor is dit nodig dat jy jouself sal reinig van die
verkeerde. Want reinheid strek enige mens tot eer. Wie homself reinig, wie
geregtigheid, geloof, liefde en vrede najaag, word bruikbaar in God se
huishouding. Jy word ‘n geheiligde voorwerp, gewy aan die Eienaar van die huis.
En jy kan aan hierdie Eienaar baie nuttige diens bewys. En wie wil nie so ‘n
voorwerp in God se hand wees nie? Wie wil nie graag bruikbaar wees aan Hom wat
in die kerkhuis die Heer en die Meester is nie?

En dit is die positiewe roeping aan die jong Timotheus, aan die jeug
van die kerk. Jaag Jesus Christus na, soek Hom elke keer op – in Bybelstudie en
in gebed. En vind in Hom alle goeie gawes, alles wat jy nodig het om van jou ‘n
eervolle voorwerp in God se huishouding te maak. En onthou: eervolle voorwerpe
is nie noodwendig diegene wat belangrike en openbare posisies in die kerk
beklee nie. Nee, eervolle voorwerpe is gelowiges wat hulleself deur geloof in
Christus laat toerus vir diensbaarheid, tot eer van God en tot heil van hulle
naaste, ook al is dit op ‘n plek of in ‘n posisie waar niemand dit raaksien nie.
Eervolle voorwerpe is húlle wat hulleself nie besig hou met allerhande
strydvrae nie, maar positief opbou aan die gemeente van Jesus Christus.

En as jongmens mag jy dit nóú al begin oefen! Die kerk is immers ‘n
groot huis, hier is genoeg oefenruimte; hier is ook genoeg ruimte om foute te
maak. Soek dus nie na eer en aansien in die samelewing nie, moenie ‘cool’ wil
wees in jou omgewing nie. Soek daarna om ‘n eervolle voorwerp te wees in die
huishouding van die Here. Dit is so belangrik dat jongmense hulleself van
jongsaf in diens laat neem deur die Heer en Meester van die kerkhuis. Hier vind jy Jesus Christus in die
verkondiging van die evangelie, hier
vind jy geregtigheid, geloof, liefde en vrede. En elkeen wat dít najaag, word
‘n eervolle voorwerp in God se huishouding. Jongmense, maak dit vir julleself ‘n
prioriteit – oefen jouself om jou plek in die kerk van die Here Jesus te kan
inneem. En ontvang daarvoor eer – nie voor die mense nie, maar voor die Vader
in die hemel!

Ten slotte: doen dit sáám.

 

3. Paulus sluit ons teks af deur die individuele oproep aan die jong
Timotheus te plaas binne die bedding van die gemeente: “vlug vir die
begeerlikhede van die jonkheid, jaag ná geregtigheid, geloof, liefde en vrede, en doen dit saam met die wat die Here uit ‘n
rein hart aanroep
. Timotheus staan dus nie op sy eie nie. Net so het die
gelowiges van Numeri 16 ook nie op hulle eie gestaan nie. Nee, as ons na Numeri
16 kyk, dan sien ons aan die een kant die opstandelinge – Korag, Datan en
Abiram, en hulle gesinne. En as jy mooi gelees het, dan sien jy aan die ander
kant nie ‘n klomp los individue nie, maar dan sien jy die ‘vergadering’ van
Israel. Die vergadering (in Hebreeus: kahal)
– dit is die geloofsgemeenskap. In hulle wegvlug van die opstandelinge en hulle
soeke na die genade van die Here, soek hierdie Israeliete mekaar op, vorm hulle
‘n eenheid voor die Here.

En net so word Timotheus opgeroep om die eenheid te soek met hulle
wat die Here uit ‘n rein hart aanroep. Die wat die Here aanroep – dit vat ons
terug na vers 19: “elkeen wat die Naam van Christus noem”. En die rein hart
verwys na die reiniging van vers 21 waartoe elke christen opgeroep word. Ons
het hier dus te make met alle christene wat met ‘n rein gewete saamkom vir
gebed en lofprysing. Nou, Timotheus word opgeroep om homself by hierdie geselskap
van mede-christene te gaan voeg. Waar hy enersyds opgeroep word om die
dwaalleraars en hulle valse leer en lewenswyse te vermy, geld andersyds dat
geregtigheid, geloof, liefde en vrede nêrens beter nagejaag kan word nie as
juis binne die kerkgemeenskap! Om christelik te lewe is ‘n gesámentlike strewe.
Dit is om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte
en diepte en hoogte van God se liefde in Christus is.

 

Jongmense, Timotheus was nog jonk toe Paulus hierdie brief vir hom
geskryf het. Maar hy was ook nog iets anders, waarvan ek julle nog nie vertel
het nie (dis ‘n geheim wat ek vir hierdie oomblik gehou het) – hy was die
dominee van die gemeente. Die dominee!? Maar hoekom moet Paulus dan nog hierdie
dinge vir hom skrywe? Hoekom is dit nodig dat Paulus hom oproep om sy geloof
saam met die ander gelowiges te beoefen? Dit kom mos vanself as jy die dominee
is!? Wel… want Timotheus was ook jonk! En jonkheid maak soms dat mense hulle
eie kop wil volg; jongmense skop soms teen die bestaande instellings, ook teen
God se instellings. Ook jong dominees doen dit. Dáárom Paulus se oproep! En
besonder in ons tyd van individualisme, waar dit is as ‘n deug beskou word om
jouself nie te laat inperk nie én waar jy eintlik aangemoedig word om die
bestaande orde omver te gooi, moet julle én ek fyn op hierdie oproep ag gee. Ons
wil miskien gelowiges wees, ons wil graag die Here dien, maar ons verstaan
eenvoudig nie hoekom dit nou so nodig is om die jeugvereniging by te woon nie.
En hoekom moet ek ‘n gemeentevergadering bywoon – wat beteken dit nou vir my
saligheid? En elke erediens – dit is mos nie doodsake as ek ‘n slag ‘n erediens
mis nie, want ek dien mos die Here!? Of hoekom vra die ouderling sulke lastige
vrae oor my betrokkenheid by ander gemeentelede – ek is heeltemal gelukkig met
my persoonlike geloof.  

En dan sê Paulus vir die jong dominee Timotheus: nee, jy kan dit nie
op jou eie doen nie. Hiervoor het jy die gemeenskap van die gelowiges nodig! Om
die begeerlikhede van die jonkheid te ontvlug, en geregtigheid, geloof, liefde
en vrede na te jaag, is nie ‘n saak van jeugdige energie en voortvarendheid
nie. Dít doen ek slegs saam met diegene wat my reeds voorgegaan het. Die
uitdaging vir jou en my is nie om te kyk in hoeverre ons onsself van hierdie
gemeente kan losmaak en stééds gelowiges kan bly nie. Nee, die oproep is om
jouself deur hierdie gemeenskap te laat omarm en te laat toevou, sodat my
persoonlike geloof beveilig kan word. En dit plaas uiteraard ‘n groot
verantwoordelikheid op die gemeente, veral die ouer generasie, om inderdaad te
omarm en toe te vou. En nie om dood
te druk en weg te stoot nie. Maar laat ons, die jonger generasie, nie van
hierdie gemeenskap wegvlug nie. Beoefen jou baie-persoonlike
geloof binne die grense van Gód se vergadering. Want dit is wat die gemeente in
wese is – God se vergadering.

 

Jeugdag. 1976. Jongmense word vereer. Daar word van hulle helde
gemaak. Die Bybel doen dit nie van die jongmense in die kerk nie. Hulle word
nie vereer nie; daar word nie van hulle helde gemaak nie. Maar hulle kry wel ‘n
volwaardige plek in die groot huis met die vaste fondament. Daarvoor eer ons
nie die jongmense nie, maar daarvoor prys ons die Here! Loof Hom wat, volgens
Petrus se Pinkstertoespraak, ook oor jongmense sy Gees uitgestort het, wat
julle seuns en dogters laat profeteer, en julle jongelinge gesigte laat sien. Dit
is hierdie Pinkstergees wat jongmense voorberei tot ‘n lewe vir die Here en in
sy gemeente. Dalk is dit die oorweging werd om Jeugdag in hierdie lig te vier…
Amen.

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Skr. 13:4-7

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 25:3 en 4 (vervolg op die seëngroet volgens Openbaring 1)

Wetslesing + HK, Sondag 44

Sing Ps. 86:2, 3 en 6

Gebed

Lees:    2 Timotheus 2:14-26

            Numeri 16:1-7,
16-33

Sing Ps. 106:7

Kollekte

Teks: 2 Timotheus 2:22

Preek

Amenlied Ps. 119:4 en 5

Gebed

Slotsang Ps. 25:2 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)