Sondag 10(2) : Vader voorsien in Christus en deur die Gees, te midde van verdrukkinge…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-06-10
Teks: 
Romeine 5 : 1-11 en Jak 1 : 2-4
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK
Sondag 10, lees Romeine 5:1-11, Jakobus 1:2-4

 

Geliefde gemeente
van ons Here, Jesus Christus,

Die voorsienigheid van God – dikwels ‘n kontroversiële onderwerp.
Dikwels ‘n onderwerp wat bestry word deur mense wat maar net nie kan glo dat ‘n
goeie God die soort verskriklike dinge kan toelaat wat ons in ons wêreld sien
gebeur nie; hulle kan nie aanvaar dat God aan die stuur staan van hongersnood
in Afrika, die verwoestende Vigs-pandemie, aardbewings en ander rampe nie. Aan
die ander kant sien ons dat gelowiges, wat die leer van die voorsienigheid aanhang,
hierdie leer  dikwels op ‘n onsensitiewe
wyse gebruik. Sonder om mense se hartseer en vrae in ag te neem, word God se
voorsienigheid as rasionele verklaring van gebeure aangevoer, en dit moet
sonder enige twyfel of bevraagtekening aanvaar word. Saaklik is dit natuurlik
heeltemal waar, maar pastoraal nie altyd ewe wys nie.  

 

Hoe dit ook al sy, ‘voorsienigheid’ ontaard dikwels in ‘n
geskilpunt. So dikwels is God se voorsienigheid aanleiding vir stryd en twyfel.
En dan is dit so wonderlik om te sien dat ons belydenis nie in hierdie stryd gevange raak nie; die Kategismus soek op
hierdie punt nie die polemiek op nie, maar stel eenvoudig die voorsienigheid as
God se onderhouding en regering van lower en gras, reën en droogte, vrugbare en
onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede.
Eintlik stel ek dit verkeerd. Want ons belydenis praat nog baie mooier daaroor:
ons belydenis praat van die voorsienigheid as onderhouding en regering, nie
soseer deur God nie, maar deur die
Vaderhand
! Ja, die Kategismus stel ‘n onlosmaaklike verbintenis tussen
‘voorsienigheid’ en God se Vaderhand. As ons oor voorsienigheid praat, sê die
Kategismus, moet ons altyd praat oor die Vader wat persoonlik en konkreet in
ons lewens betrokke is. En as ons oor die Vader praat, dan kom ons noodwendig ook
uit by die Seun en die Gees. Sondag 8 staan nie ver van Sondag 10 af nie.

Tema: Die Vader
voorsien in Christus en deur die Gees, te midde van verdrukkinge…

  1. Vrede in die hemel
  2. Liefde in ons harte
  3. Groei hier op aarde

 

1. Gemeente, ek sien die volgende by ons manier van dink oor God se
voorsienigheid: God se voorsienigheid het vir ons dikwels uitsluitlik te make
met die konkrete gebeure en omstandighede in ons lewens. God se voorsienigheid
is vir ons dikwels ‘n iets. Iets wat Hy vir my gee – kos, klere, ‘n
huis, ‘n gesin, ‘n werk, ‘n nuwe liefde in my lewe. Of God se voorsienigheid is
iets wat Hy met my laat gebeur – ‘n
ongeluk of bewaring van ‘n ongeluk, siekte of gesondheid, werkloosheid of
werksvoorsiening. En as hierdie ‘iets’ positief is, dan dank ek die Here
daarvoor… Dit is nou as ek onthou! En as hierdie ‘iets’ negatief of hartseer
is, dan bid ek vir krag. En so word God se voorsienigheid ‘n aaneen-geskakelde
reeks van ‘ietse’ wat Hy vir my gee óf nie gee nie, of ‘dinge’ wat Hy met my
laat gebeur óf nie gebeur nie.

En hierdie manier van dink oor die voorsienigheid is natuurlik nie
heeltemal onwaar nie. Máár die probleem is, dat God se voorsiening van ‘ietse’
en ‘dinge’ vir baie ons die raamwerk word vir ons geloof in Jesus Christus en ons
lewe deur die Gees. Hierdie ‘ietse’ en ‘dinge’ word dikwels die bepalende element
vir hoe dit met my geloof gaan. Die vlak van my geestelike lewe is dikwels direk
terug-herleibaar na die vlak van God se voorsiening van ‘ietse’ en ‘dinge’ in
my lewe. Eenvoudig gestel: die omstandighede bepaal dikwels my geloof.

 

En dan sê Paulus vir ons in Filippense 4: “Maar… ek het geleer om
heeltemal anders na dinge te kyk. Maak nie saak wat my omstandighede is nie, ek
is vergenoeg daarmee. Hoekom? Want ek is tot alles in staat deur Jesus Christus
wat my die krag gee.” Sien jy, hier is die omstandighede nie die raamwerk vir
my geloofslewe nie, maar hier het die geloof die raamwerk geword vir my
omstandighede.

Nou, op presies dieselfde manier redeneer Paulus ook in Romeine 5.
In hierdie gedeelte praat Paulus verseker van verdrukkinge – moeilike omstandighede
wat God gee in die lewens van sy kinders in die stad Rome. Maar hierdie
verdrukkinge is nie vir Paulus die bepalende element nie. Hierdie omstandighede,
hoe moeilik ook al, neem nie oor nie. Want Paulus sorg daarvoor dat die
verdrukkinge in die regte perspektief geplaas word. En hy doen dit deur die
verdrukkinge (waarvan hy in verse 3-4 praat) as’t ware te verpak tussen, aan
die een kant, die werklikheid van ons verhouding met die Seun, Jesus Christus
(verse 1-2), en aan die ander kant die inwoning van die Heilige Gees in ons
harte (vers 5). Paulus verpak die verdrukkinge tussen die Seun en die Gees. En
dit, broers en susters, is óók deel van God se voorsienigheid! Meer nog: dit is
die hart van God se voorsienigheid!

 

Voorsienigheid is nie in die eerste plek dat God dinge in ons lewens
laat gebeur volgens sy raadsplan nie. Dit natuurlik ook! Maar voorsienigheid is
heel eerste dat God iets gedoen het waardeur ons vrede met Hóm het! Ons het
vrede met God deur onse Here Jesus Christus (vers 1). En dit beteken dat God sy
houding teenoor ons verander het. Waar ons in Romeine 1:18 lees van God se
toorn wat van die hemel af geopenbaar word, mag die gelowiges deur Jesus
Christus vrede met God hê. Nee, nie maar net ‘n tydelike wapenstilstand wat
enige oomblik en eensydig van God se kant af beëindig kan word nie, maar ware
vrede, ‘n sekerheid in en deur Jesus Christus.

Deur sy dood en opstanding, en deur sy middelaarskap in die hemel,
het Christus bewerk dat ons toegang tot hierdie situasie van vrede ontvang het
(vers 2). Met vryheid en vrymoedigheid, sonder angs en vrees, mag ons voor God
staan. Ons het bestaansreg voor God! En ons mag weet dat sondaars wat bestaansreg
ontvang het, eendag ook weer volledig herstel sal word. Ons sal deel kry aan
God se komende heerlikheid. Ons verwag sáám met die regverdiging ook die
verheerliking (einde van vers 2). Ja, wie vrede by God het, mag werklik hoop op
die paradys, God se nabyheid! En ons roem in daardie hoop – dit is ons trots,
dit is ons lewensverwagting, en dit straal ons uit.  

 

Gemeente, wat is dit anders as voorsienigheid? Wat is dit anders as
God se grootste en wonderlikste daad van voorsiening? Ons was eintlik veronderstel
om onder God se toorn te sterf, net soos alle ander mense, maar God het die
geskiedenis so gelei dat ons mag lewe. Hy het voorsien! Dit is presies hoe
Abraham daarna gekyk het in Genesis 22, en dit is opmerklik genoeg ook die
enigste plek in die Skrif waar die woord ‘voorsien’ vir God gebruik word.
Wanneer Abraham op die punt staan om sy seun te offer, omdat God dit van hom
geëis het, dan gryp God in en voorsien. Hy verskaf die offerdier wat in Isak se
plek geslag moet word. Net so het God die Lam voorsien wat die sonde van
hierdie wêreld wegneem. God het die offer voorsien wat vir my sondes geslag is.
Hier lê die hart van God se voorsienigheid.

Verstaan dit daarom baie goed: God se voorsienigheid moet heel
eerste Christologies, vanuit Christus, verstaan word. God se voorsienigheid is
nie in die eerste plek ‘ietse’ wat God gee en ‘dinge’ wat Hy laat gebeur nie. God
se voorsienigheid is nie in die eerste plek kos op die tafel, of gesondheid, of
bewaring, óf die afwesigheid van enige van hierdie dinge nie. Nee, God se
voorsienigheid is heel eerste Iemand! Iemand wat vir my gesterf het sodat ek
toegang het tot die genade en die vrede met God. En daarom, broers en susters,
moenie God se voorsienigheid van hierdie Iemand losmaak nie. Sodra jy dit doen,
word die leer van die voorsienigheid verlaag tot materiële voorspoed of teëspoed, fisiese geluk of ongeluk, aardse
rykdom of armoede. Maar Jesus Christus, die geslagte Lam, is God se grootste
daad van voorsiening, sodat Isak én ek in vrede met God mag lewe, wat ook al
gebeur.

In die tweede plek: liefde in ons harte.

 

2. Paulus eindig vers 2 met die hoop op die heerlikheid wat ons as
gelowiges mag hê. In verse 3 en 4 onderbreek hy dan vir ‘n oomblik die saak van
die hoop, net om in vers 5 weer die draad op te tel. Ons roem in die hoop op
die heerlikheid van God (vers 2), en dié hoop beskaam nie (vers 5). Dus, die
hoop, wat jy en ek as gelowiges mag hê, om deel te kry aan God se toekomstige heerlikheid,
dit is ‘n seker hoop. Hierdie hoop het ‘n stewige fondament!

Hoe weet ons dit, gemeente? Wat maak ons so seker daarvan? Wel, sê
Paulus, ons is seker daarvan want God se liefde is in ons harte uitgestort deur
die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Dus, Paulus leer sy lesers dat, hoewel God
se heerlike en persoonlike nabyheid nog toekomsmusiek is, en hoewel ons vandag nie
so baie daarvan sien nie omdat ons nog onder allerhande verdrukkinge moet lewe,
nogtans is daar vandag alreeds ‘n begin van God se heerlike nabyheid.

 

Ja, ons sien dit in die Ou Testament alreeds: daar sien ons God se
heerlikheid neerdaal op die tabernakel, en later op die tempel van Salomo.
Jesaja mag die tempel vervul sien met die heerlikheid van die HERE. En die
herders in die ope velde word deur God se heerlikheid omstraal toe die engel
die geboorte van Christus kom verkondig het. Maar vandag het God besonder naby
gekom deur sy Gees wat in die harte van die gelowiges uitgestort is. Deur sy
Gees is God se liefde nou alreeds in ons harte – daardie liefde wat voortvloei
uit die vrede wat Hy met ons het deur Jesus Christus, die liefde wat God vir
ons bewys het daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was
(vers 8). Hierdie liefde is nie ver nie, broers en susters, maar het tasbaar en
naby gekom.

Paulus sê dat hierdie liefde in ons harte ‘uitgestort’ is – die
werkwoord wat hy hier gebruik, herinner ons aan die uitstorting van die Heilige
Gees. En daarmee wys Paulus dat die Gees sélf die bewys van God se liefde vir
ons is. Met die Gees in ons harte het God se liefde by ons kom inwoon. En wie
dit ervaar, weet verseker dat die heerlikheid van God oppad is. Binnekort sal
ons dit sien van aangesig tot aangesig! Wanneer ek die liefde van God in my
hart voel roer, mag ek verseker wees dat geen verdrukking of benoudheid of
vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard my van daardie liefde sal
skei nie (Rom. 8:35).

 

Nou, gemeente, ek vra weer: wat is dit anders as voorsienigheid? Het
ons hier nie te make met die hart van God se voorsienigheid nie? Want nadat God
die Lam voorsien het wat ons sondes kom wegdra het en vrede met Hom kom bewerk
het, voorsien Hy nou ook nog die Gees om in ons harte te woon. Deur daardie
Gees verseker God ons van sy liefde. Die Heilige Gees is God se voorsiening aan
die gelowiges om hulle te laat volhard in die geloof, totdat sy heerlikheid in volle glorie aangebreek het. God weet dat,
alhoewel daar vrede gekom het tussen ons en Hom, is ons steeds swak twyfelaars.
Ons gaan soms agteruit in die geloof, ons struikel soms in hierdie lewe, ons
begin soms wonder hoekom dit so lank vat voor die Here Jesus terugkom, ons
wonder soms of alles wat ons glo die moeite werd. En dan voorsien God aan ons sy
Gees, sodat ek God se liefde binne-in my – eerstehands! – kan ervaar. Hy
voorsien sy Gees, sodat jy en ek kan bely: ek glo die volharding van die
heiliges.

En daarom moet ons ook hierdie punt goed verstaan: God se
voorsienigheid moet heel eerste Christologies, vanuit Christus verstaan word.
Maar vervolgens moet God se voorsienigheid ook Pneumatologies, vanuit die
Heilige Gees, verstaan word. Saam is Christus en die Gees God se grootste daad
van voorsienigheid; saam vorm Christus en die Gees die hartklop van God se
belofte om vir ons alles te voorsien wat ons nodig is vir ons saligheid. Weereens:
voorsienigheid is nie in die eerste plek aardse dinge – ‘n gelukkige huwelik of
‘n gesonde liggaam of ‘n goeie werk nie. Voorsienigheid is heel eerste: om Christus
as Middelaar en Voorspraak in die hemel te hê en om die Gees as Trooster in my
hart te kan hê, sodat ek na liggaam en siel, in lewe en in sterwe, kan weet dat
ek vrede met God het. Niks sal my van die Drie-enige God kan skei nie! Hy het
voorsien.

Ten slotte: groei hier op aarde.

 

3. Ja maar… Is dít nie maar dikwels ons weerwoord teen alles wat ons tot
dusver gehoor het nie? Ja maar, wat van my pyn en hartseer? Ja maar, wat van
die siekte en die operasies waardeur ek moet gaan? Wat van die gebroke
verhoudings en gemis van geliefdes wat ek deurmaak? Hoe moet ek God se
voorsienigheid in al hierdie hartseer verstaan? En wie sal hierdie teëwerping
nie begryp nie? En natuurlik is dit waar, jou pyn ís vir die Here belangrik – Hy bedoel dit baie ernstig wanneer Hy
sê dat Hy ons trane in sy kruik hou (Ps. 56). En die Here Jesus verstaan
werklik waardeur jy gaan – Hy word immers ‘n Hoëpriester genoem wat met ons
medelye kan hê omdat Hy net soos ons was (Hebr. 4). Niemand van ons mag die
ander een se pyn en seer minag nie.

En tog, nadat Paulus die vrede met God deur Jesus Christus en die
inwoning van God se liefde deur die Heilige Gees vir ons uitgelê het, reageer
hy ánders op die verdrukkinge. Paulus sê nie: “Goed, ek het dit nou alles mooi
uitgelê, maar…” nie. Nee, Paulus sê in vers 3: “En nie alleen dit nie, maar ons
roem
ook in die verdrukkinge.” Hoe is dit moontlik? Hoe kan iemand in die
verdrukking roem? Slaan Paulus nou
nie ‘n bietjie deur na die teenoorgestelde kant toe nie? Is hy nie dalk besig
met sielkundige speletjies om sy lesers positief te maak te midde van alle
ellende nie? Nee, gemeente, Paulus is baie goed bewus van die wêreld waarin die
gelowiges van sy tyd gelewe het. Ook christene ly onder ellende en dood; ook
christene se lewens is hieraan onderworpe. Maar
wat nuut is, is hulle houding te midde van die ellende. Hulle ag hulleself
gelukkig, nie vanweë die ellende nie,
maar wel te midde van die ellende. Hulle
is nie bly met die verdrukkinge wat hulle oorkom nie, maar hulle is wel bly met
wat dit uitwerk!

 

Die verdrukkinge bewerk naamlik lydsaamheid. Lydsaamheid – dit
beteken volharding, om vol te hou in die geloof. En die volharding bewerk
beproefdheid – jy word ‘n christen wat, deur die Here se genade, die beproewing
deurstaan het en wat steeds sterker en sterker word in die geloof. En hierdie
beproefdheid gee hoop, uitsig – die volhardende christen word die lewende bewys
van die hoop dat die ellende eendag werklik tot ‘n einde gaan kom. Want hoekom
sou iemand volhard in die geloof wanneer hy weet dat ellende uiteindelik tog
die laaste woord sal hê? Nee, die persoon wat volhard, het skynbaar uitsig uit
die ellende! Dus, die verdrukkinge van die christen maak hom sterk sodat hy die
oog gerig kan hou op die heerlike toekoms, sonder pyn en trane.

Maar let wel, gemeente, dit is nie outomaties nie. Hierdie
uitwerking (nl. verdrukking wat lydsaamheid werk, en lydsaamheid wat beproefdheid
werk, en beproefdheid wat hoop werk), hierdie uitwerking is nie noodwendig nie.
Want in Romeine 1:32 het Paulus nog duidelik gesê dat selfs die dood die
mensdom nie tot bekering bring nie. En in Romeine 2:5 skryf hy oor mense wat
hardleers is en nie tot bekering wil kom nie. Dus, geen outomatisme nie. Máár dit is wel die uitwerking by
diegene wat die verdrukking – die hartseer en die moeite wat God oor hulle lewe
bepaal – laat verpak tussen Christus en sy Gees. Waar Christus en die Gees die
verpakking is vir die verdrukkinge, daar word die verdrukkinge nie meer
bepalend vir die geloof nie, maar daar word die geloof bepalend vir die
verdrukkinge.

 

En dan is daar nog steeds trane, verseker. Die gelowige christen
word nie skielik hierdie koue Stoisyn wat alles in sy lewe emosieloos hanteer
nie. Natuurlik huil ons nog, natuurlik word ons nog kwaad oor die onreg,
natuurlik kan daar selfs nog vrae wees. Maar in dit alles weet ons onsself
veilig in die liefdevolle hand van Vader. In dit alles weet ons dat niks ons
van sy liefde sal kan skei nie.

Lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel
en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede – dit is alles dinge wat die
Kategismus in Sondag 10 opnoem as deel van God se onderhouding en regering. Maar
Paulus leer ons: al hierdie dinge – positief en negatief – kan ons slegs
verstaan in ‘n vredevolle verhouding met God deur Jesus Christus en deur die
inwoning van die Gees in ons harte. Goeie Vrydag en Paasfees, hemelvaart en
Pinkster – daar sien ons God se grootste dade van voorsienigheid. Hou daaraan
vas – jy het dit nie per toeval ontvang nie. Dit kom uit die vaderhand na jou
toe. En wie daaraan vashou, leer anders omgaan met reën en droogte, met
gesondheid en siekte, met rykdom en armoede. Dan kan ek selfs roem in my
verdrukkinge – aan God die eer wat my lewe lei!

Amen

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 31:3-5, 12, 17 en 19

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en
aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here
Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 45:1, 4-6

Lees kort nagmaalsformulier

  • Terwyl tafel in gereedheid
    sing Ps. 130:2 en 3
  • Lees aan tafel Genesis
    22:6-14
  • Voltooi formulier aan tafel
  • Sing Ps. 130:4

Lees:    Romeine 5:1-5

Teks: HK, Sondag 10

Preek

Amenlied Ps. 131

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 36:2 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)