NGB Art 33 Twee betekenisse van 'n ingeburgerde begrip wys vir ons die rykdom van doop en nagmaal

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-01-29
Teks: 
Kolossense 1 : 24-2 : 7
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB,
artikel 33; lees Kolossense 1:24-2:7

 

Geliefde gemeente,

Etimologie – weer so ‘n moeilike woord, net soos die moeilike woord (taksonomie)
wat ons verlede week gehad het! Maar wat beteken ‘etimologie’? Wel, broers en
susters, ‘etimologie’ is die studie van die oorsprong en geskiedenis van
woorde. Ja, woorde en hulle betekenisse is nie staties nie, betekenisse bly nie
altyd dieselfde nie, maar deurloop ‘n geskiedenis. Betekenisse en gebruike van
woorde verander met verloop van tyd. Nou, om artikel 33 van die NGB beter te
verstaan, sal ons onsself vandag vir ‘n oomblik moet besig hou met die etimologie
– spesifiek met die geskiedenis en die gebruik van die woord ‘sakrament’.  

Sakrament – waar kom dié woord ook al weer in die Skrif voor? Kan jy
onthou – Ou Testament, Nuwe Testament? Nee, gemeente, u kan die soek-enjin maar
afskakel, want die woord ‘sakrament’ sal jy nêrens in die Bybel teëkom nie. Hierdie
begrip, wat vir ons ‘n soort versamelnaam vir doop en nagmaal geword het, vind
jy nêrens in die Skrif nie. En tog is dit vir eeue lank alreeds ‘n ingeburgerde
begrip in die christelike kerk, en die meeste van ons weet wat ons daaronder verstaan.
Dit is amper soos die begrip ‘Drie-eenheid’ – nêrens gaan jy hierdie woord in
die Skrif teëkom nie, maar almal gebruik dit en almal verstaan wat daarmee
bedoel word.

Maar wat beteken die begrip ‘sakrament’ dan presies? Wel, gemeente,
dit bring ons by die tema vir die preek van vandag:

Tema: twee betekenisse van ‘n ingeburgerde begrip wys vir ons die
rykdom van doop en nagmaal!

  1. Verborgenhede vanuit die hemel
  2. Toewyding vanaf die aarde

 

1. Die woord ‘sakrament’ – in Latyn ‘sacramentum’ – het in die verloop
van die kerkgeskiedenis begin funksioneer as Latynse vertaling van die Griekse
woord ‘misterie’ (musterion). Terloops,
dis nou waar die etimologie ter sprake kom – ons wil nagaan wat is die
geskiedenis van die gebruik van die woord ‘sakrament’… Met ander woorde, as ‘n
vertaler of skrywer die Griekse woord musterion
in Latyn wou vertaal, dan het hy die woord sacramentum daarvoor gebruik. Dus, as ons die betekenis van die
woord ‘sacramentum’ wil agterhaal,
dan moet ons verstaan wat die betekenis van die woord ‘musterion’ is. Nou, musterion
is ‘n Bybelse begrip, wat in ons Afrikaanse vertaling konsekwent met
‘verborgenheid’ vertaal word. Ons het onder andere daarvan gelees in Kolossense
1:26: “… die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was”, asook
in Kolossense 2:2: “… om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en
van Christus.” En daar is ook nog talle ander plekke… Dus, wanneer iemand
hierdie woordjie musterion in Latyn
wou vertaal, dan het hy daarvoor die woord sacramentum
gebruik – en dan het dit die betekenis gehad van ‘n geheim, of ‘n
verborgenheid. En presies dáár moet ons die eerste en belangrikste betekenis
van die sakramente soek. Die sakramente – doop en nagmaal – het te make met
verborgenhede, met geheime…

 

Maar wag nou, as die sakramente met geheime te make het, kan ons dan
nog die betekenis daarvan agterhaal? ‘n Geheim is mos iets waarvan ons niks
weet nie!? ‘n Verborgenheid is mos presies wat die woord sê: dit is verborge!? Wat
help dit ons ontvang die sakramente, terwyl die betekenis daarvan vir ons
duister bly? Ja, maar onthou nou: die verborgenheid is intussen geopenbaar, God
het dit intussen bekend gemaak! Maar dan is dit mos nie meer ‘n verborgenheid
nie? Wat is nou nog die geheim? Gemeente, ons moet goed verstaan: sodra ménse
hulle geheime aan die wêreld bekend maak, is dit inderdaad nie meer ‘n geheim
nie – dan is dit algemene kennis. As ‘n bekende filmster vir die media vertel
dat sy vrou ‘n baba verwag, dan is die tyd van geheimhouding verby – dan weet
almal daarvan. Maar met die goddelike geheime is dit anders; die goddelike
geheime behou altyd iets onpeilbaars. Ook al hoor jy elke Sondag in die
prediking hoe die geheime verkondig en uitgelê word, dan nog steeds bly dit diep
en ondeurgrondelik. Dit is presies die rede vir Paulus se verwondering in
Romeine 11 wanneer hy sê: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van
God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!”

Die goddelike verborgenhede bly altyd verborgenhede, selfs al verkondig
ons dit van die dakke af en selfs al basuin ons dit uit aan die wêreld – juis
omdat dit ‘n hemelse oorsprong en ‘n hemelse inhoud het! Soos wat Paulus sê in
1 Korinthiërs 2 vanaf vers 7: “Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan
in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot
ons heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie
– want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie
gekruisig het nie – maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor
nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het
vir die wat Hom liefhet.”

 

Gemeente, die goddelike verborgenhede (die goddelike misteries) kom
uit die hemel, en dit vertel aan ons die wonderlike nuus van God se genade in
Christus Jesus. Dit vertel vir ons van God wat mens geword het, sodat mense
weer met God gemeenskap kan hê. Dit vertel van God se ewige plan om mense te
verlos van die bande van sonde en dood. En hierdie geheime plan het God deur
die loop van die Ou Testament stukkie vir stukkie bekend gemaak, deur middel
van sy profete. Maar dit is uiteindelik ten volle geopenbaar in die geboorte, optrede,
sterwe en opstanding van Jesus Christus. Ja, Christus is die
openbaarmaking van die geheim! Dit is ook presies hoe Paulus in Kolossense 1 en
2 die verborgenheid omskryf. In Kolossense 1:26 praat hy van die verborgenheid
wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is. En dan,
na ‘n kort onderbreking in verse 27 en 28, sê hy uiteindelik aan die einde van
vers 28 wat hierdie verborgenheid is: “dit is Christus onder julle, die hoop
van die heerlikheid.” En in Kolossense 2:2 sê hy dit sommer onmiddellik, sonder
enige onderbreking: “om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en
van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” Die
verborgenheid is Jesus Christus!

Maar onthou baie goed: ook al lees en hoor ons elke dag van hierdie verborgenheid,
ook al lees en hoor ons elke dag van Jesus Christus, ook al glo ons van harte
in Hom, dan nóg bly dit ‘n verborgenheid. ‘n Geopenbaarde verborgenheid, dis heeltemal waar, maar nogtans ‘n
verborgenheid – iets wat vir ons eenvoudig te hoog is, onpeilbaar in die wonder
daarvan, onbegryplik in die liefde wat daarin tot ons kom. Die misterie sal in
hierdie bedeling altyd ‘n misterie bly, want die verlossing kom van bo-af, uit
die hemel! Sodat ons maar net saam met Paulus kan uitroep: “Want uit Hom en
deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen” (Rom. 11:36).

 

En nou, gemeente: presies daar het jy die eerste en belangrikste
betekenis van die sakramente. Doop en nagmaal beeld iets uit van die hemelse
verborgenheid tot ons verlossing; doop en nagmaal is prentjies van God se
geheime plan vir hierdie sondige wêreld. Die sakramente is hémelse prentjies,
en dit beeld hémelse dinge uit. En hoekom is dit so belangrik dat ons dit beklemtoon
en verstaan? Dit is belangrik, gemeente, sodat ons nie, soos wat ons gewoonte
as mense maar is, die dinge omdraai en beweer dat die sakramente eintlik iets
oor óns sê nie. Die sakramente is nie handelinge wat van óns kant af kom nie.

En ‘n mens hoor dit soms as jy ‘n besoek bring by ouers wat hulle
kinders wil laat doop. As jy dan uitvra oor hoe hulle die doop verstaan, dan kry
jy te hore dat hulle hul kind wil laat doop omdat hulle graag die belofte wil
maak dat hulle hierdie kind in die vrees van die Here wil grootmaak. Nou,
natuurlik maak ouers ‘n belofte by die doop; natuurlik sê hulle ‘ja’ op die
gestelde vrae en dan word daar ook van hulle verwag om daarmee die grootste
erns te maak. Maar is dit die eerste by die doop? Staan dit sentraal wanneer
ons ons kindertjies doop? Nee, gemeente, daardie water waarmee ons die
kindertjies doop, getuig nie van aardse dinge nie, maar dit getuig van hemelse
dinge. Daardie water getuig van die afwassing van die sondes deur Jesus
Christus, en van die vernuwende werk van die Heilige Gees – soos wat v/a 70 van
die Kategismus daaroor praat. Dit is hemelse dinge, onnaspeurlike dinge wat in
die doop vir ons uitgebeeld word.

En dieselfde geld vir die nagmaal… Ek kom nie na die nagmaalstafel
omdat ek iets vir God te bied het – my goeie werke of my liefdesdiens – nie. Nagmaalsviering
is nie my offer aan God nie. Nee, ek kom na die nagmaal omdat ek my saligheid
buite myself in Christus soek! Sy offer
kom na my toe! Aan die nagmaalstafel kom ontvang ek hemelse verborgenhede,
omdat ek weet dat slegs daarin my verlossing lê!

 

Broers en susters, sonder om in onnodige herhaling te verval, wil ek
nogmaals beklemtoon: die sakramente is nie my daad nie, dit kom nie van
onder-af nie. Nee, God gee dit vanuit die hemel, en dit getuig van sy verborgenhede.
In die woorde van NGB artikel 33: “Ons glo dat ons goeie God … die sakramente
vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy
goedheid en genade teenoor ons te wees…” Die sakramente is dus deel van God se
openbaring aan ons, die sakramente is instrumente wat Hy gebruik om sy verborgenhede
aan ons bekend te maak. En daarom moet ons dit ook altyd saam met die Skrif
gebruik, aangesien die Skrif by uitstek God se openbaring aan ons is. Dit lees
ons dan ook in die vervolg van artikel 33: “Hy het dit (die sakramente) by die
Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor
te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons
hart doen.” Die Woord is die belangrikste middel waardeur God Homself aan ons bekend
maak, maar ter wille van ons gee Hy ook nog sakramente. Ja, dis waar, eintlik
behoort die sakramente nie nodig te wees nie, want God se Woord is op sigself
alreeds voldoende. Dit is my en jou stomsinnigheid en swakheid (artikel 33) wat
gemaak het dat God, soos ‘n kinderboek-kunstenaar, ook nog prentjies by die
woorde kom teken het. Maar dankie tog vir hierdie prentjies, want sodoende kan
ek die boodskap van die goddelike verborgenheid nog beter verstaan. Die
boodskap dat ek ‘n kind van die Vader mag wees, omdat Jesus Christus sy lewe
vir my kom gee het – ek sien dit, ek voel dit, ek proe dit.

As jy daarom die sakramente ontvang – hetsy by die doop van een van
ons kindertjies, hetsy in die nagmaal – moenie in die eerste plek na jouself
kyk nie. Hef jou oë op na die hemel en aanskou in geloof en met diepe
verwondering die gawes wat van bo-af aan jou gegee word. Geniet daarvan!

 

Dus, gemeente, as ons oor die sakramente praat, dan moet ons die
rigting suiwer hou. So dikwels in die kerk se geskiedenis en vandag nog, word
die rigting omgedraai en kry ons ‘n verkeerde kyk op die aard en die betekenis
van die sakramente. Die rigting van die sakramente is: van bo na onder, van God
na die mens, vanuit die hemel kom skatte en beloftes na die aarde. “Gods werk,
eers eind’loos hoog verhewe, daal op ‘n aarde in sonde oud…” – dit is ons
eerste gedagte. En dán eers, daaropvolgend, ons tweede gedagte: “sodat nou uit
ons donker lewe, sy lof kan opstyg duisendvoud.”

Dit is ons tweede gedagte:
toewyding op die aarde.

 

2. Gemeente, die Latynse woord sacramentum
het ook nog ‘n ander betekenis – in die bybelse konteks is hierdie tweede
betekenis sekondêr tot die eerste een waarvan ons hierbo gehoor het, maar
daarom nog nie minder belangrik nie. Sacramentum
was naamlik in die algemene spreektaal ‘n aanduiding van toewyding. Wanneer ‘n
soldaat, byvoorbeeld, ‘n krygseed afgelê het, dan is dit ‘n sakrament genoem.
Daarmee het die soldaat openlik daarvoor uitgekom dat hy in die leër wou dien en
dat hy daaraan trou sou wees. En dit is dan ook presies waartoe die sakramente
ons oproep. Want as ons in geloof die verborgenhede, wat in die sakramente vir
ons aangebied word, ontvang – of anders gestel: as ons in geloof Christus
ontvang – dan word ons ook geroep tot ‘n lewe van toewyding aan Hom, dan word
ons geroep om getrou in Christus se leër te dien.  

Dit is ook Paulus se oproep in Kolossense 2. Nadat hy die
verborgenheid van God, naamlik Jesus Christus, aan die Kolossense verkondig het
en die bede uitgespreek het dat hulle hierdie verborgenheid hoe langer hoe meer
sal leer ken, roep Paulus hulle vervolgens in hoofstuk 2:6 op: “Soos julle dan
Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou
in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin
oorvloedig is in danksegging.” Ja, die Kolossense het Jesus Christus as hulle
Heer aanvaar – hulle was nou ‘in Christus’, in ‘n innige verhouding met Hom
gewortel; Hy het die beslissende element in hulle lewens geword, Hy was die nuwe
sfeer waarbinne die Kolossense gelewe en asemgehaal het, Hy het alles vir hulle geword!

Nou, daarin moet hulle dan ook wandel, sê Paulus – dit wil sê, hulle
moet hulle lewenswandel laat bepaal deur die genade waaraan hulle in Christus deelgekry
het. By elke lewenstree moet die gelowiges besef dat dit ‘n tree is in ‘n
ruimte wat beheers word deur God se genade. En daardie genade bepaal die
gelowige se volledige doen en late, sowel teenoor God as teenoor sy naaste. Ja,
daardie genade moet die gelowige bring tot oorvloedige dankbaarheid (soos wat
die laaste woorde van vers 7 ons leer). Met sy dankbaarheid wys die gelowige
dat hy daarvan bewus is dat hy ‘in Christus’ is en van sy genade lewe.

 

Gemeente, dit is die noodwendige gevolg waartoe die sakramente ons
oproep – ‘n lewe van dankbaarheid en toewyding voor die Here. Die sakramente is
uitbeeldings van die geheime gawes wat van bo kom, maar daarmee saam is dit
geen vryblywende gawes nie. En sowel in ons doopsformulier as in ons
nagmaalsformulier word dit in duidelike taal vir ons uitgespel. In ons
doopsformulier lees ons immers: “Omdat alle verbonde uit twee dele bestaan,
naamlik ‘n belofte en ‘n eis, daarom word ons ook weer deur die doop geroep en
verplig tot ‘n nuwe gehoorsaamheid.” En in die nagmaalsformulier lees ons onder
andere: “die selfbeproewing eis dat elkeen homself sal ondersoek of hy van
voorneme is om van nou af met sy hele lewe uit ware dankbaarheid God te dien en
opreg voor Hom te wandel. Hy moet ook homself ondersoek of hy ernstig van
voorneme is om eerlik alle vyandskap, haat en nyd te laat vaar en voortaan in
liefde en vrede met sy naaste te lewe.” Dit is die onvermydelike konsekwensie,
broers en susters: wie in die sakramente die genade, wat van bo kom, ontvang, kan
nie anders nie as om van onder-af sy lewe aan die Here te wy.

 

En dit is iets waaraan ons baie ernstig aandag moet skenk. Ons word
daarvan beskuldig dat ons ‘n kerk is waar religie beoefen word, maar waar die
krag van Christus nie erken word nie. Ons word daarvan beskuldig dat ons
louheid toelaat. En dít terwyl ons almal die doop ontvang het, en ons elke twee
maande saam die nagmaal vier. Is hierdie beskuldiging waar, gemeente? Laat ons
louheid toe? En afgesien nog daarvan of ons louheid by mekaar toelaat, laat jy
dit by jouself toe? Erken jy die krag van Christus, die verborgenheid wat van
bo kom, soos dit in die doop en die nagmaal uitgebeeld word? Sien jy die krag
van die doop en die nagmaal in jou lewe, en werk dit ook iets uit? Bemerk jy ook
dat jou lewe hoe langer hoe meer na die beeld van Christus vernuwe word?

En ons kan dit vir onsself maar baie konkreet maak. Die krag van
Christus in jou lewe het te make met jou persoonlike gebed en bybelstudie – hoe
lyk dit op hierdie stadium? Dit het te make met jou deelname in die
gemeentelike bybelstudie – is jy enigsins daarby betrokke? Dit het te make met
die manier waarop jy vader in die huis is, of die manier waarop jy ‘n moeder
vir jou kinders is. Dit het te make met jou taalgebruik op Facebook. Die krag
van Christus kom na vore in jou Vrydag- en Saterdagaand vryetydsbesteding. Dit
kom na vore in jou betrokkenheid by ander mense, in dít wat jy kyk en lees, in
jou drankgebruik. Trouens, Paulus is net hierna, in Kolossense 3, net so
konkreet en duidelik hieroor: “maak dood dan julle lede wat op die aarde is,
naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid… En nou
moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster,
skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie…” (Kol. 3:5-9).

 

Ons mag nie toelaat dat die tekens van water, brood en wyn onder ons
betekenisloos raak omdat die ware geloof in Jesus Christus verlore gegaan het
nie. Gaan daarom, gemeente, en gaan bestudeer opnuut die wonder van God se
geheim in Jesus Christus. Kom opnuut onder die indruk van die rykdom wat in die
sakramente na ons toe kom – onpeilbare genade! Dooies word lewend gemaak! En
laat toe dat dit jou lewe in alle aspekte verander. Mag die sakramente onder
ons die lewensveranderende krag uitoefen wat dit in Christus besit. Mag dit
diep in die verborgene van ons harte werk, sodat dit in die openbaar van die
daaglikse lewe sigbaar word. God se liefde in Christus is inderdaad ‘n
misterie, ‘n verborgenheid, maar die uitwerking daarvan is oop en bloot vir
almal om te sien: hy is anders, sy is nuut; hy lewe nie meer soos vroeër nie,
sy doen nie meer wat sy altyd gedoen het nie. Ken jy daardie geheim? Amen.

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 48:1, 4 en 5

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel
en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat
kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die
getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings
van die aarde. Amen.

Sing Geloofsbelydenis

Gebed

Lees: Kolossense 1:24-2:7

Sing Skr. 35

Teks: NGB, art. 33

Preek

Amenlied Skr. 18:1-5 en 8

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 24:4 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)