Die vervuller van die sesde gebod maak ruimte vir die lewe van my broer en suster

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-01-29
Teks: 
Matthéüs 5 : 17-48 en Jes 52 : 13-53 : 5
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Mattheus 5:21-26; lees
Mattheus 5:17-48, Jesaja 52:13-53:5

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Jesus maak aan die begin van ons Skrifgedeelte, Mattheus 5:17-20, aan
die skare duidelik dat Hy nie gekom het om die wet of die profete te ontbind
nie (af te skaf nie), maar dat Hy gekom het om die wet van God volmaak te vervul.
Hy het immers die breedte en diepte van elkeen van die gebooie verstaan; Hy het
insig gehad in die werklike bedoeling van God met elke gebod, en as volmaakte
mens het Hy ook elkeen van God se gebooie tot in die fynste besonderhede
gehoorsaam nagekom. En daarom kan juis Hy die Wetgewer van die
koninkryk van die hemel wees, daarom kan juis Hy met soveel gesag die
radikale wet van die koninkryk aan sy volgelinge en aan die skare voorhou, want
Hy is self die Vervuller van daardie wet! Hy het die reg verdien om die skare
voor Hom, maar ook ons vandag, op te roep tot die weg van gehoorsaamheid agter
Hom aan.

 

Vervolgens gee Jesus verskeie voorbeelde van die wette van die
Koninkryk. En elkeen van hierdie voorbeelde word op dieselfde manier ingelui:
“Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is… Maar Ek sê vir
julle…” – kyk maar na verse 21, 27, 33, 38 en 43. Waarna verwys Christus
wanneer Hy sê: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is…”? Wel,
gemeente, dit gaan hier oor wat God in die Ou Testament as wette aan sy volk
bekend gemaak het. “Die mense van die ou tyd” verwys na die volk by die Sinai
waar God self met hulle gespreek en aan hulle sy wette gegee het. Soos wat God
by die berg Sinai al sprekende aan sy volk die gebooie gegee het, so gee
Christus nou by ‘sy’ berg al sprekende die wette van die koninkryk. “Julle het
gehoor dat gesê is” – Sinai-berg. “Maar Ek sê vir julle…” – Jesus-berg.

 

Maar … beteken dit dan dat Christus sy wette vir die koninkryk téénoor
God se wet plaas? Is Hy dan nie tog besig om die wet en die profete te ontbind
nie: God het vir die mense van die ou tyd gesê…, maar Ek sê vir julle…”? Nee,
broers en susters, hier is nie sprake van enige ‘teenoorstelling’ nie; dit gaan
hier eerder oor ‘n minder-meer-verhouding. God het in die Ou Testament sy wette
vir die volk gegee, maar die breedte en die diepte van daardie gebooie was nog
nie sigbaar nie; dít het eers in die lewe en werk van Christus werklik sigbaar
geword. Dus, God het vir die mense van die ou tyd sy gebooie gegee, maar Jesus
gee nou vir die skare – en vir ons vandag – die volle omvang van daardie selfde
gebooie, Hy wys vir ons waaroor dit ten diepste in elkeen van daardie
gebooie gaan. Hy gee vir ons die radikale wet van die Koninkryk wat volledig in
lyn staan met die wette van die Ou Testament. Dus, nie ontbinding nie, maar
vervulling van die gebooie; van minder na meer deur die werk van Christus
Jesus, ons Here! En dit bring ons dan by ons teks vir vandag, waar Christus die
eerste uitgewerkte  voorbeeld vir sy
luisteraars gee van die méér van die Ou Testamentiese gebooie.

Tema: die Vervuller van die sesde gebod maak ruimte vir die lewe van
my broer en suster; ons let op:

  1. Moordenaars sonder messe
  2. God kan eers wag
  3. Wees vriendelik oppad

 

1. “Julle het gehoor dat aan die
mense van die ou tyd gesê: Jy mag nie doodslaan nie…” – hier hoor ons duidelik
die sesde gebod soos wat God dit by die Sinai afgekondig het, en soos wat ons
sopas nog daarna geluister het. Hierdie gebod impliseer dat ‘n moordenaar
skuldig staan, want – sê Jesus – “elkeen wat doodslaan, moet verantwoording
doen voor die gereg.” Dit is nie ‘n baie eervolle gebod vir ons, mense, nie.
Immers, volmaakte mense hoef mos nie verbied te word om mekaar dood te slaan
nie?! Maar vir óns is so ‘n gebod skynbaar nodig. En ons sien dit alreeds reg
aan die begin by Kaïn wat sy broer, Abel, doodgeslaan het. En by Kaïn word dit
ook duidelik dat die sondige geaardheid van elke mens die mees bedreigende is
vir diegene wat die naaste aan hom is. En hoe dikwels sien ons dit nie in die
praktyk nie: mense maak diegene die seerste wat die naaste aan hulle is – man
of vrou, pa of ma, broers of susters in een familie, broers of susters in die
gemeente.

En daarom gee God hierdie gebod juis ook binne die
broederskap van die volk Israel. Want ons naaste, in besonder ons naaste
naaste, is klaarblyklik nie veilig by ons nie. God het ons naaste daarom ook
nie aan óns sorg oorgelaat nie. Nee, Hy het die naaste onder die beskerming van
sy wet geplaas: Jy mag nie doodslaan nie. Die kroon van God se skepping, die
mens, word in hierdie gebod uitgeroep tot beskermde spesie. God gaan staan
tussen ons en ons naaste en gebied ons om ons hande tuis te hou. Let wel, God
verbied hier nie die regspraak en die doodstraf as strafmiddel nie; nee, die
Hebreeuse werkwoord wat in die sesde gebod gebruik word, dui baie duidelik op
moord en doodslag. Die primitiewe bloedwraak en drif van mense teenoor hulle
medemense – dít is wat in hierdie gebod verbied word.

 

Maar gemeente, die Here Jesus, wanneer Hy vanaf die berg die volk
toespreek, wys dat die sesde gebod nog meer inhou. Hy sê dat selfs
elkeen wat sonder rede vir sy broeder kwaad is, tereg moet staan. En dit is nie
sommer ‘n algemene uitspraak nie; nee, ons sien dat Jesus dit vervolgens
toespits met twee voorbeelde. Wie in toorn vir sy broer sê: “Raka” (leeghoof),
hy moet teregstaan voor die Groot Raad. Vir die Jode moes dit ‘n verregaande
uitspraak gewees het. Immers, die Sanhedrin, die hoogste geregshof in Israel,
kon selfs moordsake oorlaat aan kleiner, plaaslike regbanke. Hoe absurd is dit
dan dat ‘n mens vir ‘n eenvoudige skelwoord by die hoogste hof in Jerusalem sou
beland!? En die tweede voorbeeld is net so vreemd. Wie sy broer ‘n domkop noem,
verdien die helse vuur. Ja, moordenaars in Israel het deur middel van steniging
die aardse dood verdien. Maar moet ‘n mens dan nou vir ‘n eenvoudige skelwoord
die ewige dood ontvang?

Met behulp van hierdie skokkende uitsprake laat Jesus die mense voel
hoe swaar liefdelose gedrag teenoor die naaste vir God weeg. Dikwels dink ons
dat dit nie so erg is as jy die ander net so ‘n bietjie seermaak, net so effens
beskadig, nie: dit is ten minste darem nog nie moord nie, net ‘n ou grappie… Hoe
maklik maak ons nie onvanpaste opmerkings teenoor mekaar nie? Maar Jesus leer
ons om anders na die saak te kyk: die vraag is nie of ons ons naaste die ergste
bespaar nie; nee, die vraag is of ons hom die beste gun! Die sesde gebod
vra om positief ingevul te word: jy is verplig om aan jou naaste slegs goed te
doen.

 

Dit is opvallend dat die twee voorbeelde wat Jesus hier noem,
betrekking het op mense met minder vermoëns, mense wat miskien minder verstand
het as ons of minder sterk is as ons. Die leeghoofde en die domkoppe. Dít is immers
die mense wat ons die maklikste onder die duim kan hou, nie waar nie? Ja,
gemeente, diep in ons hart leef die hoogmoed en die trots. Hierdie trots maak
dat volke mekaar ‘onderontwikkeld’ noem, en dit maak dat mense mekaar ‘’n laer
opleiding’ of ‘’n laer sosiale status’ toeskryf. Hierdie, dikwels onbewuste,
onderdrukking van mekaar is ‘n bron van groot leed en stryd. En Jesus leer ons
daarom ‘n ander houding; uitskel maak seer. Hy leer ons liefde en respek vir
ons naaste, óók vir die leeghoof en die domkop. Egte liefde onderdruk nie die
naaste nie, maar gaan staan langs die naaste.

En gemeente, as daar een iemand is wat dit vir ons kán en mág
leer, dan is dit Jesus Christus. Want Hy self het hierdie gebod tot in sy
diepte vervul. Hy kom ontbind nie die sesde gebod nie, Hy kom maak die sesde
gebod nie ongedaan nie; nee, Hy wys waaroor dit werklik in die sesde gebod
gaan. Ons het daarvan gelees in Jesaja 53. Hy wat hoog en verhewe is, ja, baie
hoog – die Seun van God – Hy was eens verag en deur die mense verlaat. Ons het
Hom verag, ons het ons gelaat vir Hom verberg. In ons sondige oë was Hy iemand
van mindere vermoëns, iemand wat ons onder die duim kon hou. Ons het Hom gehou
vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. En Hy? Wel, gaan lees
maar 1 Petrus 2:23: “Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen
bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie;
toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat
regverdig oordeel…”

Hy het te midde van sondaars kom woon; Hy wat sterk was, het swak
geword. Hy skaam Hom selfs nie om ons, sondaarmense, sy ‘broers’ te noem nie
(Hebr. 2:11). Sien u die kontras? Ons beskadig en beseer bróérs en sústers in
die geloof, ons is so dikwels hulle moordenaars sonder dat ons daarvoor messe
of pistole gebruik, ons vermoor mekaar met ons ondeurdagte woorde; maar Hy, Hy
noem sondaars (moordenaars) sy broers en susters. Dit is die liefde wat Hy aan
ons bewys het! En meer nog: Hy was selfs bereid om vir ons moorddadigheid te
sterf; Hy was nie net beter as ons nie, Hy was ook nog bereid om óns slegtheid
te dra; Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons
ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was
op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

 

Broers en susters, Christus het die sesde gebod volmaak vervul;
daarby het Hy ook nog óns oortreding van die sesde gebod gedra. Dáárom het Hy
die reg om aan alle mense, in besonder sy volgelinge, sy liefde
as voorbeeld en gebod voor te skryf. Met minder as hierdie liefde, kán en mág
ons daarom nie ons naaste benader nie. Hier in die kerk, waar Christus besig is
om sy koninkryk te bou, mag ons nie anders met mekaar omgaan nie, as volgens
die patroon van Christus! Ons geregtigheid in hierdie verband moet oorvloediger
wees as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Soek dit daarom in
Christus, die vervloekte, die geskelde, die Een wat stil gebly het soos ‘n
skaap voor sy skeerders, maar wat op dié manier die reg verwerf het om aan ons,
sy broers en susters, die koninkrykswet vir die onderlinge omgang te gee. Sien
sy liefde vir moordenaars, en gaan en doen net soos Hy…

Ons let vervolgens daarop dat God kan wag.

 

2. In verse 23 en 24 volg ‘n
positiewe konklusie uit die voorafgaande: maak vinnig om jou met jou broeder te
versoen, want hy het – moontlik tereg – iets teen jou; jy het hom miskien ‘n
leeghoof of ‘n domkop genoem; jy het hom miskien met jou woorde seer gemaak…
Die wet van die koninkryk vereis dan skuldbesef en versoening, in die eerste
plek teenoor daardie betrokke persoon. Ons mense is dikwels tevrede om hierdie
soort van dinge onder die mat in te vee: “kom ons vergeet daarvan, dit was
darem ook nie so erg nie, jy moet my maar nie te ernstig opneem nie.” Maar God
eis van ons werklike versoening; vir Hom weeg hierdie saak baie swaar, selfs
nog swaarder as ‘n offer in die tempel…

 

Gemeente, Jesus leer hier dat, sonder versoening met jou broer of
jou suster, die weg na die altaar nie oop is nie. Hy sê dit eintlik baie sterk:
jy kan eerder die priester – en God! –in die tempel laat wag by die altaar, as
wat jy jou naaste laat wag vir jou skulderkenning. Want sonder skuldbelydenis
teenoor jou broer of suster is jou gebed om vergifnis tot God in elk geval van
geen waarde nie. Vir die skare, wat gewoond was aan die heiligheid van die
offer, moes die idee om jou offerhandeling te onderbreek amper heiligskennis
gewees het. Maar Jesus leer dat, om onversoen met jou broer te bly, terwyl jy
weet dat hy deur jou toedoen iets teen jou het, in God se oë nog groter
heiligskennis is.

Daar is geen ingang tot die Vader sonder versoening met die broer
nie. Die ingang word versper, broers en susters; dit word versper deur die
einste Persoon wat die ingang tot die Vader weer vir ons oopgemaak het. Jesus
Christus het deur sy vervulling van die wet en die profete die toegang tot God
weer moontlik gemaak; Hy tree by die Vader in vir elkeen wat werklik in geloof
sy volgeling wil wees. Maar vir elkeen wat doelbewus sy koninkrykswet verontagsaam,
sluit Hy die toegang!

 

Broers en susters, as Jesus Hom nie skaam om ons sy broers te noem
nie, as Hy bereid was om, onskuldig, versoening te bring tussen
God en mens, hoeveel te meer moet ons nie versoening soek wanneer ons teenoor
ons broer of suster oortree het nie? Laat die liefde van Christus ons dring om
nie te talm nie, maar so gou as moontlik die saak op te los. Ek kan nie hier in
die kerk kom sit, en my offers bring (my gebede en my lof en my geldelike gawes),
ek kan nie oor twee weke hier voor aan die nagmaalstafel kom sit, en dan verwag
dat die Here my gunstig sal aansien wanneer my broer of my suster twee rye
agter my sit, seergemaak deur my kwetsende woorde of opmerkings nie. Daar bly
‘n blokkade tussen my en God totdat die blokkade tussen my en my broer uit die
weg geruim word. Tot op daardie oomblik kan ek geen seën verwag oor my offer
hier in die kerk of in my persoonlike geloofslewe nie. God wag vir jou totdat
jy jou met jou broer of suster gaan versoen het.

En dán gaan bring jy jou offer – ja,
dit moet nog volg. Ons kan nie die versoening met God laat opgaan in die
versoening met die naaste nie. Nee, ná die versoening met die naaste volg ook
nog die offer aan God. Die beskamende skulderkenning teenoor my naaste word
voltooi deur die beskamende skuldgebed teenoor die Here. So leer ons om met
mekaar om te gaan voor die aangesig van God. En dan is die toegang tot God wyd
oop; dan – en hoe mooi sal dit nie wees nie – dan sal jou broer teen wie jy
gesondig het selfs saam met jou na die altaar gaan en die saak met die Here
regmaak, dan kan julle moontlik selfs saam in gebed voor julle Vader gaan.

Hoe goed en hoe heilsaam sal dit hier in die kerk wees as Jesus se
koninkrykswet vir die omgang met die naaste voluit funksioneer. Gemeente, vind
in sy vervulling van die wet en die profete die aansporing om Hom as Wetgewer
te gehoorsaam. Dan staan die poorte van die koninkryk vir jou wyd oop.

Ons let ten slotte op die oproep om vriendelik oppad te wees.

 

3. Net soos verse 23 en 24 by die
verse daarvoor aangesluit het, so sluit verse 25 en 26 by verse 23 en 24 aan.
Sodra ons dit uitmekaar haal en apart lees, dan word dit moeilik om die
betekenis van hierdie verse reg te verstaan. Want die teëparty waarvan vers 25
praat, is dieselfde persoon as die broeder wat in verse 23 en 24 iets teen jou
gehad het. Waar verse 23 en 24 meer gefokus het op die plig wat elkeen
van ons het om ons met ons broer of suster, wat deur ons seergemaak is, te
versoen, fokus verse 25 en 26 meer op die noodsaak om jou te versoen.
Dit is noodsaaklik dat jy hierdie broeder of suster, wat deur jou kwetsende
opmerking jou teëstander geword het, goedgesind sal wees. En moenie daarmee wag
nie, doen dit gou! Want as jy hom nie gou goedgesind is nie, kan hy jou dalk
net oorlewer aan die regter.

 

Dit is eintlik ‘n vreemde gedagtegang van die Here Jesus in hierdie
verse: immers, hoe sou iemand jou, weens ‘n gebrek aan goedgesindheid, voor die
regter kon sleep? En inderdaad, dit is volgens die wet van Moses ook nie
moontlik nie. Maar wel volgens die wet van Jesus, wat Hy in vers
22 uitgevaardig het. Jesus sny enige gedagte af dat niemand jou iets kan
aandoen as jy minder vriendelik met sekere mense is nie. En hoe dikwels dink
ons nie so nie, gemeente? Ons eien onsself die reg toe om – ook, of dalk juis,
hier in die gemeente – minder van sekere mense te hou. En ons is dikwels ook
nie skaam om ons afkeur van sekere mense te laat blyk nie – “hy’s nie my tipe
nie”. En wanneer ons daaroor aangespreek word dan pleit ons onskuldig, want ek
kan tog niks daaraan doen nie. Gemeente, hoeveel breek ons nie af hier in die
kerk deur ons hoogmoed en liefdeloosheid nie. Hoeveel mense word deur ons nie
uitgeskuif na die rand van die gemeente omdat ons hulle minder goedgesind is as
ander, waarvan ons meer hou nie? En dan gebruik ons die term ‘randgevalle’.
Randgevalle, omdat hulle hulself op die rand plaas – ja, dit is moontlik… Maar
randgevalle omdat hulle deur ons na die rand geskuif word – dit mág nie
voorkom nie!

 

Gemeente, hierdie gebrek aan goedgunstigheid teenoor dié wat deur óns
skuld ons teëparty geword het, kán ons in aanraking met die
regter bring. Natuurlik, die huidige aardse regter sal, net so min as die
regbanke in Israel, iemand vervolg weens ‘n gebrek aan goedgunstigheid en
vriendelikheid. En tog staan ons hierin skuldig. Ons omgang met mekaar speel
naamlik af in die openbaar, in die openbaar voor Gód se aangesig.
Wanneer ek daarom my broers en susters, of enige ander naaste, minag, dan skryf
hy of sy as’t ware my dagvaardiging uit vir die laaste oordeel. Wanneer ek geen
vriendelikheid en goedgunstigheid wil bewys aan die geringstes nie, word ek in
feite deur hulle aan die regterlike uitspraak van Jesus Christus oorgegee. En
Jesus is die Een wat beslis oor die vrylating: wie geen welwillendheid aan sy
teëparty wil bewys nie, kan ook geen welwillendheid van Jesus verwag nie. Jy
sal betaal, tot die laaste sent toe…

 

Laat ons daarom op tyd, solank ons wat ons hier op aarde nog met
mekaar oppad is, ons met mekaar versoen en vriendelik wees, in plaas van om te
skel. Anders word ons medemens ons aanklaer. En die regter waaraan hy ons
oorgee, is die Wetgewer van die sesde gebod. Hy handhaaf op die jongste dag
hierdie gebod tot naasteliefde tot in die fynste besonderhede. Daarom is
versoening met ons naaste van lewensbelang.

Gemeente, daar is geloofsarbeid wat wag om gedoen te word. Daar is
sake wat uitgesorteer moet word tussen broers en susters. Daar is tans skuld
wat bely moet word. Moenie wag nie, gaan doen dit. Gaan doen dit in geloof en
in nederigheid. Jou God roep jou. En weet dan: salig is die sagmoediges, want
hulle sal die aarde beërwe.

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie
(oggend)

 

  • Voorpsalm Ps. 5:5, 6, 8-10

Votum Ps. 121:1

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde
gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus
Christus. Amen.

Sing Ps. 93:1-4

Wetslesing + aandag op 2de gebod (HK, Sondag 35)

Sing Ps. 40:3 en 4

Gebed

Kollekte (net orrelbegeleiding)

Lees:    Mattheus 5:17-26

            Jesaja 53:1-5

Sing Ps. 22:3, 8 en 10

Teks: Mattheus 5:21-26

Preek

Amenlied Skr. 21:1-3

Gebed

Slotsang Skr. 21:4-6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)